Showing posts with label Ian McEwan. Show all posts
Showing posts with label Ian McEwan. Show all posts

Sunday, November 17, 2019

Resensie | Ian McEwan – The cockroach (2019)

Ian McEwan – The cockroach. Jonathan Cape, 2019. ISBN 978 1 529 11 292 4

Resensent: Joan Hambidge

Literêre duimgooiery ('n term van T.T. Cloete) is hoe 'n mens die jongste novelle, The Cockroach van Ian McEwan, ten beste sou kon beskryf. Dit is 'n klein boekie van honderd bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose en al die bekende satirici wat politieke en sosiale omgerymdhede aan die kaak gestel het. Boonop gooi hy duim ook langs die politieke woelinge in die Verenigde Koninkryk.

Hier te lande is Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein van 1976 'n briljante voorbeeld van satire: die skrywer plant 'n teoretikus se siening oor satire in die roman as 'n sleutel.

Satire werk immer met ironie, hiperbool én sarkasme. D.C. Muecke se bekende studie The Compass of Irony (Methuen,1969), en al die merkers van ironie, word ryklik deur McEwan se novelle geaktiveer. Ene Jim Sams word een oggend wakker en besef hy het verander in 'n groot kreatuur. Hierdie metamorfose verwys natuurlik na Kafka. McEwan plaas die gegewe binne die Britse domein: die mees gesiene man in Engeland word nie deur reëls aan bande gelê nie. Nie eens deur sy eie party nie ...

Brexit is kompleks en wat 'n mens waarneem op CNN is net die tippie van die ysberg. Hoe meer 'n mens lees as buitestaander, hoe minder begryp jy al die intriges. Wat ons onmiddellik by die eerste kwessie van hierdie novelle bring: dit is geskryf vir 'n in-leser wat al die nudge-nudge, wink-wink-verwysings sal snap. Die buite-leser geniet wel die besondere styl en aanslag.

Die ooreenkomste tussen lewendes en dooies (so lees ons in die opdrag) is toevallig. Jy kan egter nie die rolspelers met vreemde haarstyle en 'n vreemde gebit miskyk nie. Of die "scorn of derision" (97) nie. Downingstraat is hier, die Division Bell, en ene President Tupper.

In Love Actually, Richard Curtis se briljante film van 2003, vertolk Hugh Grant die eerste minister. Sy ikoniese danstoneel op Jump for my Love laai alles met speelse satire. Hier is daar ‘n banket met ‘n Sinatra-nabootser wat “My Way” sing. Gloria Gaynor se “I Will Survive” laat ‘n tranerige gehoor opstaan.

Die sogenaamde "vices and follies" van die oortreders in enige vorm van satire word aan die kaak gestel met die hoop dat daar 'n beter bestel gevind sal word. Hiermee besef 'n mens dat 'n satirikus in wese iets van 'n romantikus of dromer is om te dink dat sý, of háár boek of traktaat, die magshebbers in hul spore gaan stuit. Waarskynlik waarom satirici so onsteld is wanneer hulle gesensureer word; hulle het immers 'n beter orde in gedagte. (Leroux; Anton Kannemeyer, et al.)

Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes bely in ‘n toespraak.  Die liefde vir die donker - wat net soos by mense - 'n lewenswyse is! En die "repulsive taste for clean water" (98) word uiteraard ironies bedoel. Daar word ook 'n dwarsklap gegee na aardverwarming, oorlog en bedrog in 'n hiperboliese beskrywing wat 'n mens laat skaterlag. (Die kodewoord hier: Reversalism.)

Kafka se boek speel in 1915 af wanneer Gregor Samsa verander in ‘n insek.

In ‘n “ungeheures Ungeziefer” het Nabokof soos volg oor hierdie boek geskryf: The transparency of his style underlines the dark richness of his fantasy world. Contrast and uniformity, style and the depicted, portrayal and fable are seamlessly intertwined" in sy beroemde Lectures on Literature (Weidenfeld and Nicholson, 1980: 260). 

Dit is eweneens van toepassing op McEwan se novelle.

Ungeziefer is ‘n “dung beetle”, maar volgens Nabokof, ‘n lepidopteris, het ons by Kafka eerder ‘n gogga met vlerke. Nabokof was ‘n uiters punteneurige leser wat elke straat of verwysing in ‘n teks nagespeur het soos ons weet uit sy lesings aan Cornell Universiteit.

En hierdie spitsvondige gekibbel wat ‘n mens in sy notas vind, bewys dan dat Kafka se gogga in Ian McEwan se novelle ingevlieg het.

Inderdaad ‘n Verwandlung of metamorfose. Want die politieke agtergrond het nie verander nie.

Op wie slaan Archie Tupper in Washington? En verwarring rondom taal lei tot misverstand. Soos die “scales will drop” wat die vertaler letterlik interpreteer.

‘n Mediastorm rondom Jane Fish is presies hoe dit werk. Sy word “pipe-smoking Jane” in  spotprente, omdat sy eenkeer in Belfast ‘n pyp se rook in ‘n kind se gesig geblaas het om te wys hoe sleg sekondêre rook vir ‘n mens is (71).

Daar is ‘n spel rondom nabootsing en die “blattodean core”. Mense hier is blote afskynsels van mense. Nabokof sou waarskynlik ook die roete van kokkerot gevolg het. Die Samsa-woonstel het hy ‘n skets van gemaak (257).

As jy ‘n smoel vir satire het, is hierdie geel boekie vir jou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Tuesday, February 26, 2013

Ian McEwan - Saturday (2005)



Ian McEwan. SaturdayJonathan Cape, 2005ISBN 0 224 07299 4.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Dag in die lewe van ‘n man is waarskynlik reeds deur James Joyce in Ulysses vermitologiseer en deur Saul Bellow in sy romans, soos The adventures of Augie March of Herzog. En dis nie om dowe neute nie dat Herzog van Saul Bellow hier as motto gebruik word. As doelbewuste rigtingwyser vir die dag, ‘n Saterdag spesifiek, waar ‘n neurochirurg se ervarings weergegee word. In ‘n derdepersoonsperspektief met Henry Perowne, die fokalisator, wat eerstens oorweldig word deur ‘n vuurbol op ‘n vroeë Saterdagoggend, dan besef dis ‘n vliegtuig wat in die moeilikheid is en tog met liefde kyk na sy slapende vrou. 

Op pad om muurbal te gaan speel, raak hy in ‘n klein botsing betrokke en ‘n onderonsie met boewe (so tipies Bellow as wat kan kom: ‘n mens dink hier aan die motor met sy duike in Humboldt’s gift) verander sy dag. Die denkende, sensitiewe mens uitgelewer aan die wêreld van geweld en terrorisme is dus ook hier die onderbou in ‘n herkenbare, moderne Engeland, met Tony Blair as ‘n kortstondige aanwesige. Behalwe dat McEwan se held glo daar is vooruitgang op aarde, omdat hy ‘n wetenskaplike is en kan sien wat hy op ‘n alledaagse vlak vermag. Trouens, sy dogter se siening van die lewe en haar studies in die Geesteswetenskappe, verminder en kritiseer hy. Sy seun, ‘n begaafde jazz-musikus, is ook ‘n ander pendant vir sy uitlatings oor die sin van die lewe.

Op ‘n briljante wyse tree McEwan se hoofkarakter in gesprek met ander skrywers, wat hy onder meer lees op aanbeveling van sy dogter. (Daar is onder meer ‘n hoogs ironiese toneel in die roman wanneer hy haar subtiel daarvan beskuldig dat sy ‘n gedig geplagieer het.) Ook die verhouding met die ouer digter, en sy jaloerse reaksie op ander digters, ene Grammaticus, sy skoonvader  – met verwysing na resente Britse digters soos Hughes en James Fenton – gee ook ‘n raak beskrywing van digterlike wedywering.

McEwan se karakter word ook téén Flaubert geplaas en ons weet uit ‘n onlangse vete wat die werklike skrywer met sy vrou gehad het (en haar grensoorskrydende aantygings op die internet) hoé skrywers put uit lewenservaring en “die werklikheid”. Die roman word by herhalings as realisties gekodeer in die nougesette beskrywing van die stad, ‘n motor en hoe die hoofkarakter onder meer kos berei.

McEwan het veral bekendheid bereik vir sy beskrywings van die donker of skadukant soos in sy roman The comfort of strangers, ‘n reël wat inspeel op Blance Dubois se belydenis teen die slot van A streetcar named desire.

In Atonement  - wat hy ongelukkig bederf het met ‘n maklike “cop-out”-slot - het hy ook sy verbysterende insig in die menslike psige verraai. In Saturday maak hy ook van die digkuns gebruik om ‘n boef te stuit, en meer spesifiek, Matthew Arnold se “Dover beach”. Soos wat Anthony Hecht op hierdie magistrale vers inspeel met sy “armies of the night”, moet vele stellings en uitinge in Saturday gelees word as ‘n antwoord op die briljante Saul Bellow. 

Bellow is nou onlangs oorlede en hierdie roman is ‘n huldeblyk aan die Chicago-boorling. Hoé dokter en boef weer bymekaar uitkom op die operasietafel, is waarskynlik ‘n briljante kommentaar op die volgehoue spel met lig en donker, ego en skadukant, in ‘n roman wat bewondering afdwing. Tereg bedank hy Craig Raine, ‘n voorste digter, vir die verse wat hy aangepas het en vir sy voortydige kommentaar! Die vorige Mevrou McEwan het op die internet gekla dat hulle huwelik verwoes is deur haar man se letterkundige vriendskappe. Die roman gee egter ‘n liefdevolle blik op die intieme verhouding en bystand in ‘n huwelik. Dalk fiksie?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Monday, February 11, 2013

Ian McEwan - On Chesil Beach (2007)



Ian McEwan. On Chesil Beach. Cape, 2007. ISBN 9 780224081184.

Resensent: Joan Hambidge

On Chesil Beach is Ian McEwan se jongste roman. Hierdie outeur is al geruime tyd besig om die landskap van die romankuns te verbreed en toe daar onlangs met sy Atonement ‘n plagiaataanklag was teen hom, het selfs Thomas Pynchon tot sy verdediging gekom. Dit bewys dat sy tydgenote hom as belangrik ag.

Ek het bykans alles van hom gelees en waarskynlik is The comfort of strangers my allergunsteling-roman, met die behendige film van Paul Scrader wat ‘n interessante skaduwee gooi oor die roman.

McEwan ontgin dimensies tussen mense: die onuitspreekbare, die pynlike herinnering, ‘n stuk onverwerkte emosies – sy boeke is op die oog af toeganklik met verwikkelde metaforiek wat betekenisse verruim. Met elke herlees, besef jy hoe fyn hy tekste konstrueer.

Die jongste heet: On Chesil beach – ‘n skamele 166 bladsye wat die eerste huweliksnag tussen ‘n man en vrou ondersoek. Sy uit ‘n ryk, verwende agtergrond en in die musiekwêreld; hy ‘n liefhebber van die kunsgeskiedenis en uit ‘n werkersklas-lewe. Die huweliksnag is ‘n ramp en in besonderhede word die maagdelike belewenisse beskryf – en die effek daarvan op (veral) die jong vrou.

Die roman word geplaas binne die periode van die sestigerjare. In hierdie hotel word daar kommentaar gelewer op die politieke en sosiale ontwikkelinge van die tyd. Die sogenaamde ‘me’-generation, die ontdekking van seksualiteit en ander vryhede is die agtergrond waarteen hierdie gedronge verhaal afspeel. En soos altyd in alle Britse romans: die klassestryd. Edward uit ‘n werkersklas-omgewing, ‘n man wat hou van sy pint en met ‘n vinnige humeur; hierteenoor Florence wat tot die hoër orde behoort.

Hierdie “clashing of armies in the night” (metafories gesproke) is natuurlik McEwan se métier. Hy plaas dikwels karakters in spanningsvolle situasies – ‘n mens dink hier aan The comfort of strangers en die twee inconnués wat uitgelewer word aan ‘n bose spel in Venesië...

Die formasie van die klippe en rotse is die sleutel vir die begryp van die roman. Vistermanne kon altyd bepaal uit die grootte van die klip waar hullle hulself bevind.

Met ‘n tweede lees let ‘n mens op die fyn motiewe in die roman: Edward se verhouding met sy brein-beseerde moeder; die beskrywing van die vuil huis van sy jeug en hoe die hele gesin saamspeel om die moeder se illusie te versterk dat alles fyn is; Edward se humeurigheid en woede uitbarstings; Florence se walging wanneer hulle tongsoen en hy selfs sy tong in ‘n gaatjie plaas waar ‘n tand verwyder is!

Meer gaan ek nie verklap nie; die boek se krag lê in klein simboliese vinjette wat oor die gedoemde verhouding hang. Soos die ete waar Edward bekend gestel word aan vreemde disse en kossoorte: hier word sy werkersklasagtergrond belig en word die leser attent gemaak op die verskille tussen die twee hoofkarakters. In hul musiekkeuse wrd dit ook uitgespeel: sy verkies klassieke musiek; hy luister na “Roll over Beethoven”. Sy is ingehoue; hy het vinnige vuiste. Die verwysing na psigoanalise op bladsy 153 is eweneens ‘n belangrike kode vir die oopmaak an die teks: die sogenaamde Freudiaanse familie-romanse wat hier voltrek word. Die roman maak, terloops ‘n skitterende analise van die Britse sosiale opset van die tyd – veral die MacMillan-era word skerp gekritiseer. Die ontdekking van die self  (met die pil in aantog) word goed belig.

Die slot van die roman is ‘n pynlike wete dat ‘n haastige keuse of oordeel Edward se lewe verander het. Hy het haar nooit kon vergeet nie en selfs verwysings na haar soos ‘n CD-boksie met haar foto, kan hy nie aanskou nie.

In ‘n nawoord maak die outeur die leser daarop attent dat die gegewe fiktief is en dat selfs die hotel waar alles afspeel, nie bestaan nie.

McEwan is in 1998 bekroon met die gesogte Booker-prys vir sy roman Amsterdam.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]