Showing posts with label Ruan Kemp. Show all posts
Showing posts with label Ruan Kemp. Show all posts

Tuesday, February 8, 2022

Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.

 

Saturday, August 10, 2019

Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk (2019)

Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624088578

Resensent: Joan Hambidge

Gedeeltelik bewolk? Elders mooi weer en warm?

Wat ’n asemsnakkende roman is dit nie!  ’n Debuut van ene Ruan Kemp, glo ’n mynbou-analis. En hierdie roman is inderdaad besig om in die skagte van die Afrikaanse letterkunde af te beweeg teen ’n spoed wat die kop laat duisel.

Dit aktiveer die problematiek van die binne-leser versus die buiteleser. Laasgenoemde sal dit as ’n storie lees. Indien jy egter weet wié die D.B. is aan wie die roman opgedra word met die sub-titel “’n Lewensbeskrywing van ’n mal man”, lees jy die boek ánders en as binne-leser. (Ek het hom ontmoet een aand, hierdie briljante man.)

Die regte wêreld impliseer ’n referent, aldus Umberto Eco in The Role of the Reader (Hutchinson, Londen: 222). En hierom narkotiseer of vergroot ons sekere aspekte van ’n roman se wêreld.

Die roman word aangebied in vier afdelings: Restant, Anamnese, Katabasis en Remissie. Met tydsaspekte: 2008 - 2009, 1960 - 1974, 1975 - 1990, 1991 - 2008. En ’n obsessie met tyd is iets wat die verhaal vorentoe dryf.

En hier word diep afgedaal in die hel van ’n man wat in inrigtings beland. Wat veroorsaak sy tuimeling? Die verteller skep ene George Moore, ’n “woordenaar”, wat uit ’n oënskynlik stabiele plaasagtergrond kom en dan huweliksprobleme ervaar. Hy is gebore toe Jan Smuts dood is.

Hy is joernalis, saboteur, skaapsmokkelaar, boemelaar, vader en sosiale kommentator.

Die traumatiese dood van ’n kind is een van die redes vir sy ineenstorting. Maar dis net een merker. Die roman analiseer die impak van apartheid, magstrukture, oorlog en hoe ’n sensitiewe persoon nie opgewasse is vir die ellendes van ’n troebel bestaan nie.

Daar word weggespring met ’n motto uit H.F. Verwoerd en Gray Barker se They Knew Too Much About Flying Saucers ...  

Die hoofkarakter lees Albert Camus se The Fall flenters. Wat die verwysing na eksistensialisme aktiveer. Jy skep jou eie wêreld. En hier is daar ook ’n toespeling verder op Sartre se siening dat die hel ander mense is.

Die intertekste is welig en verwikkeld en snaaks. Raka is eweneens hier.

Die roman herinner aan Saul Bellow se Humboldt's Gift en sy siening van Delmore Schwartz. Hier word Herzoggeaktiveer: daardie pratende karakter wat in gesprek tree met filosowe en met hulle saamstem of verskil.

Met Moses Herzog is dit piekfyn as hy besig is om mal te word; George Moore word verniel deur kopdokters en ontdek hy moet doek dra in die inrigting en hy het probleme met sy toestand. Is die Baader-Meinhof besoek in Duitsland waar, of is dit net deel van sy fantasie? Belangrike gedeeltes kan waar of gelieg wees.

Anna M. Louw se lewensvreemde karakter uit Op die rug van die tier praat iewers saam.

“Niemand weet hy is aan boord nie, want hy lê lepel met ’n torpedo, skryf ’n kortverhaal oor sy wedervaringe met die onsigbare subtitel In the realm of the Fourth Person Narrator. Gerugte van sy dood doen die ronde” (244).

Hy lees woordeboeke en ontdek wat sjok beteken. Hy tel ’n taaipou op in ’n woordeboek. Hy ken verskillende woorde vir wol soos wat ’n Eskimo verskillende woorde vir sneeu kan weergee. Hy het immers op ’n plaas in die Noord-Kaap groot geword. 

Hy is Camus se Sisifus. Hy is ’n Zulu Warrior wat I zicka zimba, zimba.

Ontgroening en wreedhede word ontmasker. En die impak van selfmoord op die agtergeblewenes.

Sy seun Simon is normaal. 

Sy vriend Jan se algemene kennis word getoets. Hy word kwaad oor leuens en besef hy gaan nooit sy boek klaarmaak nie. Sý storie word wél klaargeskryf deur die vertellende instansie.  

Charity boeke wat verkwansel word, maak hom woedend: “Dis soos om handel te dryf in tweedehandse grafstene” (190).

Hy weet die opwipbal van die lewe het hom getref. Hy voel hierom magteloos soos ’n karakter in ’n onbetroubare vertelling of ’n marionet in ’n poppekas (184). En tyd staan stil op die grens (122).

Die gedeelte oor ’n lekeprediker wat in tale praat, is ’n hoogtepunt. Koos Kombuis en Gert Vlok Nel is ook hier. En Koos het deur die jare herkenbares gesteel vir sy stories.
Die uwe is self ’n karakter in een van sy romans.

Gaatjies en kolletjies. 

Die voorblad is alreeds ’n kode vir die binne-leser. ’n Geel omslag met ’n man, sigaret in die hand, en ’n hemp vol tekens. Dit verwys na Marita van der Vyver se geel omslag van Griet skryf ’n sprokie uit 1992 en daardie banale antwoord Mot op Griet.

En George voel sy lewe is gekaap deur Griet wat weer ’n karakter word in ’n roman. Dis nie fiksie nie, maar eerder nader aan “asfiksie” (262).

Die letterkunde sit vol van figure wat as herkenbares deur tekste dwaal. Negatief en positief. Philip Roth se eksvrou Claire Bloom het ’n antwoord geskryf op sy weergawe van hul huwelik in Leaving A Doll's House (1996). Koos Prinsloo het eweneens mense “gekaap” en die posisie van die geskryfde is kompleks.

Johann de Lange het in Vreemder as fiksie gewys hoe skrywers verskillend reageer op ’n insident. Daarom die voorblad waar drie gesigte (Prinsloo, Aucamp, De Lange) oormekaar skuif.

Die lys hier te lande en buitelands is lank. Laurent Binet se The Seventh Function of Language het opslae gemaak in Frankryk en elders in die analise van herkenbare teoretici soos Julia Kristeva en Judith Butler (Woorde Wat Weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language (2017). Besoek 10 Augustus 2019).

Ruan Kemp gaan egter verby die herkenbare. Hy skryf ’n roman wat snaaks, pynlik, verdrietig en veral uitstekend is. Hy blaas lewe in dit wat ons dink ons ken.

Die lys van erkennings is relevant.

Toast Coetzer is reg in sy shout. Hierdie boek het nie ’n bang haar op sy kop nie.
Kemp was immers op sy dag ook ’n hempsmous. En hy is ’n Zulu warrior van ’n skrywer.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)