Showing posts with label Bibi Slippers. Show all posts
Showing posts with label Bibi Slippers. Show all posts

Saturday, September 9, 2017

Resensie | Bibi Slippers & Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6 (2017)

Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6. Tafelberg, 2017. ISBN-13: 9780624082644

Resensent: Joan Hambidge

I

Nuwe stemme is alreeds ’n tradisie binne ons letterkunde en nommer 6 het sopas verskyn onder die redakteurskap van Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé. ’n Mens dink hier aan digters uit hierdie reeks wat tot dusver hul debuut gemaak het: Gilbert Gibson, Kirby van der Merwe, Tom Dreyer, Loftus Marais en Ronelda Kamfer - om enkele name te noem. Tom Dreyer is deesdae eerder prosaskrywer as digter.

Dan is daar digters wat hier gedebuteer het - soos Thérèse Bartman of Renée Marais - wat jammer genoeg nooit weer van hulle laat hoor het nie.

Die rooi voorblad verwys na die voriges: deurgetrek (sous rature/ under erasure) in navolging van die filosoof Jacques Derrida, waar die teken of woord behou word, maar ook uitgewis word.

Ek is gaande oor debuutbundels. Daardie wonderbaarlike “eerste” geluid wat later verder ontwikkel, of dalk nie. Gert Vlok Nel het nooit verder beweeg nie en ’n mens kan in Afrikaans al ’n lang lys maak van o-wat-het-geword-van-daardie-digter.

Nuwe stemme skep ’n geleentheid vir die jong digter wat nog nie genoeg verse het vir ’n solo-bundel nie. Dit mag ook so wees dat die digter se aanslag of styl afwyk of nuut/anders is. Lesers raak dan met Nuwe stemme gewoond aan die styl. Dink maar net hoe vreemd of “anders” was Hilda Smits se eerste gedigte in Nuwe stemme 5.

Maar nuut moet ook nie te maklik verwar word met vernuwend nie. Baie min digters kan werklik die kanon op sy kop keer. Ons dink hier aan die skerp resensie van H.J. Snyman oor hierdie reeks, ’n paar jaar gelede, toe hy krities was oor die ooraanbod van die term “nuutheid”. Jong digters dink dikwels hul truuks is nuut - dan is dit reeds gedoen.


II

As dosent in kreatiewe skryfwerk is dit altyd verblydend om nóg nuwe stemme te ontdek. Nuut dan as nog nooit voorheen gehoor of gelees nie. Van hierdie bundel herken ek byvoorbeeld Marthé McLoud, Anton Döckel en Franco Colin se name.

Watter tendense en temas tref ’n mens in hierdie bundel aan?

Verlange en stilte:

Tematies is daar verlange na die heimat, aangrypend vertolk deur Donnay Torr (“Verlange het nie ’n GPS nie ...”, 46) waar sy vanuit Sydney as vryskut werk. Haar gedigte is vars, omdat sy in die bevryde Australiese wêreld kan terugkyk op Afrikaans. Haar gedig oor die klitoris “’n Halfduim ekstra”, 44) is heerlik speels en lekker. Die klitoris is nie meer 'n klein penis nie, maar eerder ’n omgekeerde V-formasie met twee “arms”. ’n Digter met ’n melancholiese aanslag en skerp beelde.

Marthé McLoud

Die liggaam as teks: betreding

Lyflikheid, liggaamlikheid, betreding kom aan bod in Marthé Mc Loud se pynlik herinneringsverse wat ’n mens juis tref in die onderstelling eerder as te veel uitsegging. In “Biologieklas” (130) word seksuele ontwaking subtiel beskryf met die breek van ’n fles met flitsende tong van ’n slang ...

“Terugblik” (134) waar die moeder haarself as “geknoeide breiwerk sonder ’n patroon” sien bly lank in die gemoed draal.  

Elodi Troskie

Elodi Troskie is net negentien jaar oud, maar sy skryf met ’n vaste hand:

dis 2017 en almal dra chokers 

daar is meisies in my klas wat nog
nooit iemand gesoen het nie en daar is
meisies wat al kinders het en ek ken ouens
met sleeve tattoos en ander ouens wat te bang is
om gaatjies in hul ore te skiet en voor my sit
’n kringleier van die kerk en agter my
sit iemand wat haarself naweke ’n paaldanser
noem (omdat sy wil of omdat
sy moet – dit betaal darem haar huur)
en sy lyk altyd so gelukkig want dis 2017 en
almal dra chokers
alles is okay solank jy dit kan regkry om kuns te maak
uit ’n droë maandagoggend dis 2017
en as iemand oor ’n honderd jaar ’n foto
van ons moet sien sal hulle geen
idee hê waarmee ons besig is nie
en ek wonder of hulle my instagram-foto
van ’n filterkoffie so romanties sal vind soos ek
oor ’n verbleikte foto uit die 1950’s voel
en of hulle net sal weet dat als okay is
want dis maandag en ek dra
my nuwe choker en sit langs
die ou met die spul tattoos en my oor brand want
ek het nog ’n gaatjie laat inskiet

Sy registreer in haar gedigte pyn, verlange en onvervuldheid. Sy is die waarnemer van haar ouers se verhouding met die wete dat die pa wat geld tel, die een is wie se voorletters sy vind in Groot Verseboek, eerder as die kunssinnige moeder.

Wanneer ’n mens hierdie bloemlesing lees, raak ’n mens bewus van ontnugtering op soveel vlakke, van die gesin wat gebroke is, van drome wat aan skerwe lê. Onvervulling/teleurstelling is immers die digkuns se sterkste dryfvere.

Intertekste:
Vele van hierdie digters tree met die kanon in gesprek. Digters soos George Weideman en Riël Franzsen (Narokkong) word by die naam genoem.

Groot Verseboek staan opgeskryf in hierdie antologie.

Trudie Coetzee

Trudie Coetzee se “Ek is” (161)  wals met Antjie Krog en Loftus Marais se woede-verse.

Franco Colin se vers handel oor Jean-Michel Basquiat se Untitled (Skull) van 1981. Amerikaanse punk of anti-kultuur, is deur hierdie graffiti kunstenaar verhef tot ’n erkende kunsvorm. Die hype rondom sy werk het waarskynlik gelei tot sy dwelmoordosis in 1988. In “Kopkring” word die gesprek met Picasso uitgewys en word hy inderdaad gesien as ’n “gekreoliseerde verbeelding”. Die gedig eindig met ’n sterk slot:

Kykleser: hier moet jy kophou
in die oogpoëtiek se kopkring (82).

’n Skildery van hierdie kunstenaar het vir meer as $110 miljoen verkoop.

Die besondere gedig analiseer die harlaboerla of rumoer rondom kuns (van die Venus van Villendorf tot by Picasso en Warhol) wat dikwels niks met die werklikheid te make het nie.

Gedigte en skilderye ontspruit uit ’n “skepkring” van ander kunstenaars en tradisies en die leser moet al hierdie gesprekke raaklees.

Erentia Bedeker

Erentia Bedeker woeker slim met intertekste in die gedig “Hart van Orkenise” (75) waar sy in gesprek tree met Apollinaire. Landskap word oopgemaak om die “fantoompyne van begeerte” aan die leser oor te dra.

Sy skryf:

Vanaand sal ek die aandster
teen my mond smoor
en die tuin alleen natlei (78)

Anton Döckel speel in op Van Wyk Louw se “Ars poetica” in ’n pragvers oor sy ma se vingers (“Ma se vingers”, 30). Inderdaad, van watter Louws was hy, artikuleer die ma se onbegrip oor wat die digter impliseer.

Annami Mailovich

“skaamparadys” (25) van Annami Mailovich aktiveer en ironiseer Jan Rabie se kaalkoppe in ’n aweregse liefdesgedig.

Ekfrastiese verse:
Jaco van der Merwe skryf verse wat inspeel op foto’s (geneem deur Wikus de Wet). Onthutsende gedigte waar die foto ’n disjunksie vorm tussen die praatvers met sy assosiasies van brannas tot ref. En ’n analise van die “sterflikheidsvibe” (107). Van Facebook tot die werklikheid tot die foto en terug. Verse wat vrae vra oor politiek en representasie. Ironies. Snaaks. Vervreemdend. Van oog vir oog tot noot vir noot; ink vir jok, lees ons.

Remona Voges

Remona Voges tree in gesprek met Frida Kahlo wat nuwe wendings gee aan hierdie kunstenaar se werk.

Standaard-Afrikaans en talle ander vorme van Afrikaans soos Kaaps of die insmokkel van Engelse woorde:
Churchill Naudé se “onse vaders” (38) ondermyn standaard-Afrikaans:

onse vaders wat soe syp
oppie hoekkie wat soe syp
oppie boekkie wat wil man raak ...

Churchill Naudé

Die digter is ’n kletsrymer van die Kaapse vlakte en sy debuutalbum heet Kroeskop vol geraas. Hy het ook saam met Anton Goosen ’n nuwe weergawe gemaak van “Boy van die suburbs”.

Die gedigte lewer sosiale kommentaar.

Vrye verse en praatverse:
Ons vind hier ’n aansluiting by die loslitvers, die praatvers, die assosiatiewe vers eerder as die vormvaste gedig. Elmarie Viljoen-Massyn skryf wel haikoes, ofskoon dit nie rasegte Japannese haikoes is nie.

Ryan Pedro se “as kanye ’n digter was” (159) is ’n vers vir die verhoog. Die digter wonder:

die kanon
en waarom die swart afrikaanse digter dit steeds met ’n valhelm moet betree;

Die gedig vra inderdaad vrae oor Kaaps wat “mainstream” geraak het. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, e.a. het die kanon betree en vir ewig verander.

Ryan Pedro spot egter met die idee dat die “bad boy” deel word van die “VIP-section” en so ware impak verloor.

Sosiale media:
Facebook, Instagram en wat nog het deel geword van die digterlike onbewuste. Die “prisonhouse of language” (Fredric Jameson) word oopgeskarnier deur sosiale media.

“Inbraak” (123) van Marcel Spaumer word op ’n ironiese manier ook ’n kommentaar op die taalinbraak. Ingrid Penzhorn bekyk dit in “Antropomorfiseer” (101).

Annie Gallagher se “vlerksleep 2.0” (15) wys hoe emoji’s ons digkuns binnegedring het. Dus begeer ons al hoe meer grafies!

Marcel Spaumer

Politieke kommentaar:
Plaasmoorde en terrorisme aanvalle word gebruik as beelde van die Unheimlichkeit wat die jong mens beleef soos in Marcel Spaumer se “’n nag ontwrig” (121).

’n nag ontwrig

gisteraand sewe gelyktydige
aanvalle noord van my oos van my jy
het my eerste gesoen

vyftien minute se doodskote

omdat ek jou die minste verwag het
die knal: jou hand in myne
jou oë jaag my lyf se inwoners na skuilplek-soek.

’n noodtoestand deur die kop gewek hier teen my
bors ’n handgranaat hartklop
in die donker my ribbes tralie
oop toe oop.

la ville de l’amour is jy nie.
lyfskoot kopskoot doodskoot
oral bloeiselreën skrapnel

die Eiffel staan.

Binne / buite:
Die tradisoneel stemlose het stemhebbend geraak. Yabadaka Shamah skryf vanuit Mamelodi as digter en musikant in ’n amper outydse Afrikaans!

Naudé Kritzinger is ’n predikant, in Pretoria, en hy skryf met ’n “hakkeltong” oor ongeregtighede.

So gelees, is beide hierdie digters outsiders, wat kommentaar lewer op ’n sisteem van onreg.

Johan Jack Smith

Nostalgie en verloopte drome:
Daar is al dikwels opgemerk dat die letterkunde iets van ’n tydsgees verraai, omdat gedigte meer vertolk as wat ons as lesers besef.

Johan Jack Smith kyk helder terug in “Intermission” (114) na die karwrakke vol geeste.

Ingrid Penzhorn se onthutsende “Kougom gekou” (99) vang iets van hierdie displacement op.
Hannes Visser © Marlene Malan

Hannes Visser se gedigte ruk aan die keel. Jeugherinneringe - in ’n soort dagboekvorm aangebied - neem die leser deur die onthou-tog van ’n pynlike jeug; helder vertel in digvorm met die emosies in beheer. Die sirkelgang illustreer die beheer wat die spreker het oor sy jeug: eers kap pa ’n bordjie in; dan ma. Min woorde - trefkrag.

Elna van Niekerk se verse artikuleer eweneens verwonding. Stilte. Ellende.

Die pragtige Sisiphus-vers dra die splinters in die handpalm ... (“klip, 64).

“Melk” (54) van Elmarie Viljoen-Massyn is gelaai met sub-teks. Daar is ’n slim toespeling op die ontvoerde kinders wat Joey Haarhoff en Gert van Rooyen in 1988 ontvoer en vermoor het. Daardie oom wat soos ’n ouderling lyk ...

III

Foute:
Riel (Franzen) word egter sonder die umlaut geskryf in hierdie bundel. En die lettertipe verander skielik op bladsy 156 - 159. Was die gedig te lank? Op bladsy 174 staan Bloemfoentein in plaas van Bloemfontein.

IV

’n Mens sou nou al ’n studie kon onderneem oor die verskillende edisies van Nuwe stemme. Kyk byvoorbeeld na nommer 2 met Petra Müller en Nèlleke de Jager - dan sien ons hoe die tyd verander het.

Hier staan ’n hele paar digters opgeneem met belofte. Maar net die tyd sal leer wie ’n solo-bundel sal publiseer.

Nuwe stemme 6 ontgin tendense en temas verder wat reeds bekend is in Afrikaans.

Daar staan ’n hele paar gedigte wat werklik besonders is.


Sunday, November 13, 2016

Bibi Slippers - Fotostaatmasjien (2016)



Bibi Slippers - Fotostaatmasjien. Tafelberg Uitgewers, 2016. ISBN-13 : 9780624080732

Resensent: Joan Hambidge


Bibi Slippers se gedigte werk met die idee dat daar niks nuuts onder die son is nie. Hierom die titel Fotostaatmasjien. Hoe sal ons hierdie gedigte beskryf? Popverse? Hip-verse?

Dalk anti-poësie? Found poetry? https://en.wikipedia.org/wiki/Found_poetry Besoek 9 November 2016

Found poetry dan in die sin dat 'n bekende teks nuut omraam en in 'n nuwe gedaante betekenis kry.

Dalk post-postmodernisme?

Die geel bundel – modern met ‘n getuigskrif van ‘n Juffrou uit standerd drie (wat weer sterk herinner aan ‘n Jan Wolkers-agterblad) wil debunk. Die vrome skrywer se CV word hier dus uitmekaargetrek. Slippers het ook haar eie TV-program waar sy met boekmense op en buite haar bed gesels. ( http://indiebedmetbibi.com/ In die bed met Bibi. Besoek 9 November 2016)

Hierdie bundel herinner aan die tegnieke wat Dan Roodt gebruik het in Kommas uit ‘n boomzol (1980) toe hy die gek geskeer het met die verskyning van Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979). Veral waar die "meisies en moffies" in die letterkundige laboratorium aan DJO se lippe gehang het.

Maar om die spot te dryf met die ikoon, moet jy die stylfigure van daardie digter goed begryp. (Ons onthou immers die vraelys in Roodt se bundel). J.C. Kannemeyer het indertyd gemeen dat daar nie een goeie gedig in die bundel is nie. Missing the point completely.

Die bundel is heldergeel uitgegee. Over the top. Jou konvensionele digkuns-leser sal waarskynlik ontstig raak oor die aanslag.

Maar om hierdie soort gedig te skryf, moet jy die kanon ken. Die gedig “Antjie Krog wat wag om te gebeur” (31) is ‘n voorbeeld hiervan. Die ironies-siniese einde som dit alles op:

[...] 
die naaste wat ek nog aan die waarheid was
is Antjie Krog in ‘n swart swembroek
op ‘n duikplank wat gereedmaak om te spring
maar die oomblik voor die sprong stop
as sy besef sy’t nog
haar ronderaambril op.

Dit is 'n bundel wat handel oor die digkuns en die betekenis van die digkuns word ook as 'n vermorsing van tyd gesien. Tog word daar in gesprek getree met ander (ouer) digters: C.M. van den Heever, Barend J. Toerien, Adam Small, Breytenbach.

Dis hierdie ambivalensie wat die bundel laat voorstu.

Die gedig as artefak word belig in 'n polkakol-vers (44).

Alles staan in die teken van nabootsing, afkyk (die outentieke nabootsing van 'n Gucci-sak, 72). "Die resiesfiets en die reier" (na Paul Fattaruso, 55) speel met hierdie gegewe van die oorspronklike vers wat in die naskrywing 'n nuwe betekenis kry.

Instagram maak ook hier die buiging, neffens die fotostaatmasjien, selfone, YouTube, emoji's. Ja, ook Google, die grootste, oopwaaierende gedig.

1977

dubbele moordenaar Gary Gilmore se korneas
is na sy teregstelling op twee ontvangers oorgeplant.
sou hulle nog sien na byna veertig jaar? flits daar
ooit voor die oë 'n onbekende beeld verby, 'n bord
vol steak en aartappels, onaangeraak, ingebrand
op DNS, dié polaroid-skoot van 'n laaste maal

Polaroid en Warhol. Vinnige kuns. Maar agter die afdruk, skuil daar baie kennis en navorsing. Daar word geboogie-woogie met Ingrid Jonker en 'n skitterende satire gepleeg oor Thamsanqa Jantjie oor sy "handgebare" (104). In verskillende weergawes - met motto's selfs van Slavoj Žižek, word die bedrogspul van 10 Desember 2013 aan die kaak gestel. Die "tye en swye" verwys weer na 'n ander postmoderne bundel.

"Even if they call me a fake, I am the great fake because I expose what is going on in the goverment and the system". Dus waar die keisers en die kiesers ewe kaal is.

In die afdeling Dubbelfoute word Anne Carson aangehaal: "Metaphors teach the mind to enjoy error. There is an ancient Chinese proverb that says: brush cannot write two characters with the same stroke. And yet that is exactly what the good mistake does." Ons ken ook Roman Jakobson se uitsprake oor metafore en metonimia wat lyk soos die denkwyse van 'n persoon wat ly aan afasia!

Foute, opsetlike spot met plagiaat, pastiches, copy & paste word hier uitstekend aan die kaak gestel. Chester Carlson, en xerografie, kom aan bod in die openingsgedig. (Chester Carlson – Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Chester_Carlson Besoek 9 November 2016)

Die liefdesverse tref in die maag. 'n Bloedhou soos die digter bely. Liefdesverse bly maar halfhartige pogings; dis al soveel keer gedoen!

Die digter, reklameer die publisiteitspamflet, neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan. Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te pleeg. Die gedig word letterlik ook artefak, soms skeefgedruk, soms gekleurd en die duidelikste interteks is Willem Boshoff se KykAfrikaans (1980) met sy visuele en konkrete gedigte.

Kyk byvoorbeeld na sy titels:

 1. Aan 'n Lyntjie
 2. Eenduisend en Een
 3. Gekrap
 4. Getikte Kwashale
 5. Hekelskrif
 6. Pro Patria
 7. Skrifskerwe
 8. Stadsplaas
 9. Verskanste Openbaring
10. Vierletter Woorde
11. Vlegskrif
12. Ydele Herhaling van Woord

Van hierdie gedigte is later uitgestal as silkscreens. Sy bundel was 'n homage en 'n vaarwel aan die tikmasjien. Waarskynlik is Slippers se bundel 'n homage aan die fotostaat (wat soms ook kopiereg-oortredings impliseer). Poetry as garbage (in navolging van Elizabeth Bachinsky), maar ook as artefak dus. Soms is die gedig as fotostaat helder; soms is die ink al op. Soms skeefgedruk.

Opperman was immers ons eerste postmodernis - veral met Kuns-mis, 1964 - en hierna het vele digters dit verder geneem.

Motto's word uit die pop-wêreld en ernstige letterkundige geneem: post-postmodernisme demokratiseer en ver-Trump immers alles. Die geel aanslag is pure Andy Warhol, 'n popkunstenaar bekend vir sy afdrukke, maar ook vir sy roemryke loopbaan met aktrises en die skep van 'n nuwe identiteit. Bibi Slippers se persona op Litnet en in onderhoude is speels, manies – jy kan die gedigte nie loslees van die digter as jongleur nie. Sy debunk dan ook die gedagte van die digter as stil, eensame, misverstane figuur. Diegene wat in die verlede geïrriteerd was met 'n haar openbare persona en uitstal van haar self (soms met haasoortjies, soms op 'n bed) sal moet toegee: hierdie skiewie in die skriptorium weet van dig!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)