Showing posts with label Queillerie Uitgewers. Show all posts
Showing posts with label Queillerie Uitgewers. Show all posts

Monday, June 10, 2024

Resensie | Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories | Queillerie, 2024

Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories. Queillerie, 2024. ISBN: 9780795802751 | R320, 00 Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die grootste skrywers het al hul hand gewaag aan reisbeskrywings. Paul Theroux se The Great Railway Bazaar(1975) bly ‘n baken in die ontdekking van vreemde, eksotiese landskappe. Ons is bekend met Graham Greene se Travels with my Aunt, met ene Henry Pulling, ‘n afgetrede bankbestuurder se ervarings saam met sy onkonvensionele Aunt Augusta op die Orient Express. Hy kry ‘n nuwe blik op die lewe (en sy ou self) danksy reis met sy amorele tante.

 

Hier te lande het Elsa Joubert Afrika in haar reisverhale ontgin. Haar soloreise deur Afrika in 1948 deur Uganda, Egipte en Mosambiek is uitstekend. En in 1997 verskyn Gordel van Smarag na Indonesië.

 

Die verskillende skrywers in Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories  vertel van onverwagse én ongewone gebeure. Snaaks, bittersoet of met “heuglike” gevolge, maar immer verrykend. Reis is op alle vlakke verre-gaande. Mary Louise Pratt verwys na die "kunste van die kontaksone" in Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation (1992).

 

Hier is 46 skrywers opgeneem, maar belangrike reisskrywers in Afrikaans staan nie hier nie. Die voorwoord is maar skrams en dit is vir die leser onduidelik hoekom daar op sekere skrywers besluit is. Maar dit bly immer altyd samestellers se prerogatief om te kies.

 

Die verhale word in verskillende afdelings geplaas soos  ‘n Bus vol plesier, Hoe sag wieg ons bootjie, So ry die trein, Laat die wiele rol, Vlieg hoog, vlieg ver, Verblyf, Bagasie, Ontmoetings, Onvoorspelbare weer, Bestemmings, Die tale wat ons praat.

 

Reis werk altyd met dít wat jy dink jy weet van ‘n land, sy mense en kulture en die ontdekking van ‘n wrede werklikheid. Hierom kan ‘n nuwe land jou lie maak of fop.

 

Reis is immers om te navigeer tussen dit wat jy dink jy weet en die ervaring. Dikwels verstaan jy eers die impak van ‘n land en sy mense lank nadat jy teruggekeer het. Fly now, cry later.

 

Elke skets is hoogs onthoubaar en hierdie leser fokus net op ‘n paar kwessies.

 

Sophia Kapp vertel van ‘n verlore rugsak en ‘n stryd met koerierdienste geplaas teen die argetipiese verlore silwerstuk.

 

Of die besef dat die reis belangriker is as die aankoms. Of dat die natuur altyd groter is as die mens: uitmuntend vertolk deur Michèle Meyer oor die Grand Canyon.

 

Reis het met altyd taalmisverstande te make. Of met die afwesigheid van taal. In die afdeling Die tale wat ons praat, is daar ‘n subtiele faux pas, hilaries weergegee deur Renée Rautenbach Conradie met ‘n slim slot. Kort en kragtig met ‘n blomnaam met funeste gevolge: spyker-my-by-die-tuinhekkie. Stywerug en tweezerlip Franse in ‘n diplomatieke wêreld word heerlik opgestuur in hierdie snelfiksie.

 

“Gaan julle, of bly julle?” van Louis Jansen van Vuuren herinner ons aan die waansin van Covid-inperkings en reisbeperkinge. Hier vind ons die blik van buite (Frankryk) teenoor binne (die bekende).

 

‘n Skitterende skets is die een van Gerrit Rautenbach se “Uitkamp in die Fraserburg Hotel”: nostalgies, navrant en hoé die verdwyning van ‘n afgebrande hotel nooit uit die geheue gewis kan word nie.

 

Of as jy dink dat binne ‘n vreemde omgewing word Afrikaanse geskinder nie verstaan nie, soos Anzil Kulsen tereg uitwys, is jy toetentaal verkeerd. Ons ken almal die storie van die twee studente wat ‘n mooi meisie se bates op ‘n bus in Londen in kleur en geur bespreek en haar later die aand by die Suid-Afrikaanse Ambassade raakloop.

 

En hoe mense sonder taal kan kommunikeer, met welwillendheid en liefde, bewys Erika Murray-Theron: daardie gemeenskaplike taal wat mense saamsnoer in die vreemde. Hier speel dit af in Slowakye.

 

Marita van der Vyver beskryf die greyhound-reis en die mense van die VSA perfek. Saam met Jacques Pauw reis jy deur Siberië met vodka. Annemarié van Niekerk gee ‘n raak beskrywing van hoe mens soms toevallig onder die indruk kom van menslikheid, oor aanraking:” … oor die wete dat een mens ‘n ander se weggoibekertjie kan vul met veel meer as munte”(187).

 

Of reis met ‘n ou moeder wat ‘n vriendin uit Pofadder herken wat sy jare laas gesien het, groet in vreugde, maar mekaar nooit weer sien nie. Joan Kruger in “Kakamas>*<Parys> *<Pofadder” wat dit hier raak opsom:”Ons reis in ons eie taalkokon voort” (204).

 

En Kerneels Breytenbach se skitter bydrae waar hy sy storie baseer op ander se verslae en herverpak. Oor Mamma Jane se staning en verskillende kulturele tradisies. Die stem van rede teenoor bacchantiese wellustelinge (32).

 

Humor en misverstand (Martie Retief Meiring). Stinkende reisgenote (Frederik de Jager). Bedrog (Skreeusnaaks beskryf deur Nadia de Kock). Diefstal (Annelize van Rooyen). Verkeerde stasies of treine (Erika Murray-Theron). Of aanwysings wat verlore geraak het in ‘n wonderlike smokkelstorie (Elma Potgieter geplaas teenoor Kas van den Bergh). Of ‘n paspoort wat tuis in ‘n laai vergeet is (Bettie Lambrecht).

 

Of ‘n skets wat ‘n bekende verhaal oproep soos Japie Gouws dit doen in sý weergawe van Positano. Reis dan ook deur boeke. ‘n Goeie reisbeskrywing laat jou daardie plek in al sy fasette voel en ruik.

 

Daar is uiteenlopende en hoogs onthoubare reissketse saamgesnoer in hierdie versameling: Saam na die Noorde, saam met die wa!

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, August 24, 2020

Resensie | Francois Smuts – Slagoffer | Queillerie, 2020

Francois Smuts – Slagoffer. Queillerie, 2020. ISBN: 9780795802201 

Resensent: Joan Hambidge

 

Op die voorblad van hierdie pakkende speur-cum-misdaadroman word die leser gewaarsku: Die liefde is blind. Ėn die reg.  Dit word 'n dekonstruksie van die krimi in die toepaslike aanhaling van Leonardo Sciascia. Die leidrade wat 'n misdaad oplewer is totaal ontoereikend, meen hy (79).

 

Hierdie roman plaas ál die moontlikhede van dié sub-genre voor die leser se oë. Dit word gelaai met verwysings na die kwessie van skuld en boetedoening, die soeke na oplossings (of closure so bekend aan die speurverhaal) én belangrike rituele soos stiergevegte en godsdiens. Boonop word die ritualistiese aard van 'n hofverskyning geanaliseer. Die posisie van die regter, die assessore, die skuldige se plek in die hof word bekyk. In 'n stadium word die aangeklaagde gewaarsku: ons is nie nou besig met 'n James Bond-verhaal nie.

 

Dawid Neethling is 'n psigiater op Stellenbosch. Hy beklee 'n deeltydse pos as dosent aan die universiteit en 'n beeldskone musiekstudent, ene Eva Rodriquez land in sy skoot. Hulle verhouding verander van 'n professionele een na 'n liefdesverhouding.


Sy word vermoor en alle vingers wys na Dawid wat boonop 'n onsimpatieke wederhelf het. En hy het 'n leuen vertel toe hy die eerste keer ondervra is. Sy vriend Barnabas, 'n priester in die Grieks-Ortodokse kerk, gee raad en ondersteuning. 

 

Tot hier dan die verhaal wat 'n fyn netwerk van bedrog


ontmasker: van bendes wat vanuit die tronk dreig en afpers tot 'n swart verlede met 'n moordenaar in die ou-Suid-Afrika wat lid was van MI, tot 'n ambassadeur wie se hande vuil is. Verder word die polisie-ondersoek en swak forensika eweneens uitgelig. En die media se pogings om altyd 'n moordenaar (dikwels eensydig) onder die soeklig te plaas, onafhanklik van die regsprosesse, kom ook onder die soeklig.

 

Die media word in hierdie roman die jurie. En ons weet welke dwaashede is al verkondig tot die chagrin van regsgeleerdes. Tydens die lees van hierdie roman kyk hierdie leser weer na die BBC-reeks Trial and Retribution (1997) en soveel van die kwessies hier aangesny, kom in speurreekse na vore. In die Franse reeks Spiral (Engrenages) in 2005waar die hoof duisel van al die sameswerings en leuens, word ongehoorde verhoudings ondersoek tussen die magistraat en 'n polisievrou; 'n skurk en sy regsverteenwoordiger.

 

Ons betree in die eerste gedeelte Sorteo wat afspeel in Kaïro en die "geheim" van moord word weggegee. Met Abba Johannes wat met wysheid reageer: 'n moordenaar kan 'n priester word. Daar is verwysings na die Bybel: die paradys, Job, die teodisee, o.a. 


Verder raam Ernst Hemingway se sieninge oor stiergevegte (wat hy as 'n tragedie beskou het) die vertelling met Dostojefski en Franz Kafka wat alles verder laai. Daar is toespelings op Dante, Lorca, Rilke, Leda en die swaan, Russiese roulet en die donker ondergrond van die menslike bestaan. Verder word die leser etlike verwysings gegee na duende, na sorteo (die Spaanse woord vir loting) én stiergevegte. Onbewustelik sien ons "By die dood van Roy Campbell" van D.J. Opperman en Almodóvar se pakkende rolprent Matador van 1986.

 

Die dood van die bul word gesien as 'n offer aan die gode en opspraakwekkende moordsake staan ook hier: Oscar Pistorius, Dewani, die De Zalze-bylmoord, e.d.m. Ons lees wat die vermoorde dink (in kursief) en daar is 'n dagboek en 'n getuie van die moord. Hoe dikwels is 'n dagboek nie in hierdie soort storie dít wat alles tot 'n punt bring nie.

 

Daar is spelers en teenspelers: Dawid en sy vroulike advokaat; Bella Croeser en Diedericks, Grootboom. 'n Kwaai regter. 'n Snuffelende joernalis. Ras, klas en gender-kwessies kom hier aan bod.

 

Die supsension of disbelief word soms beproef: sou 'n akademikus "vergeet" het wat hy in 'n artikel geskryf het? Is die kwessie van oorlewingskuld by Ingrid nie oordadig nie? Die beskrywing van die DG is dalk te swaar gelaai met onderduimshede? Verduidelikings werk in hierdie roman, omdat die sub-genre gedekonstrueer word.

 

Die roman sny geweldig baie kwessies aan - soos die Russiese kind wat gesteel word van ouers vlugtend uit 'n Bolsjevistise bestel en wat dan jare later 'n bedelkind op straat sien in Parys (134). Onder die vertelling is dit duidelik dat die skrywer 'n duidelike spirituele boodskap wou oordra oor menswees (en karma). Die spirituele impak van leuens (via Stephen Freeman) word 'n belangrike leidraad en motief: hoe leuens mense kan verwoes.

 

In die erkennings verneem ons dat die skrywer 'n regsagtergrond het, en hy sonder 'n terapeut in Kaapstad uit as die beste kliniese een. 'n Ander een is die beste psigiater in Kaapstad. (Dalk subjektief en oordrewe?) Dit is die soort advertisements for myself wat deur 'n redakteur geskrap moes word. Laat die boek vir homself praat.

 

Iewers tussen 'n analise van die krimi én spiritualiteit lewer dit 'n beduidende bydrae. Hierdie leser voorspel nog 'n roman met sterk maatskaplike analises.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, August 13, 2019

Resensie | Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes (2019)

Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes. Queillerie, 2019. ISBN: 9780795802034

Resensent: Joan Hambidge

Die voorblad van hierdie roman aktiveer die bekende kruik wat 'n mens op voorgraadse Sielkunde-handboeke sien: dit is sowel twee profiele as 'n kruik waarna jy kyk.

Hierdie roman het die derde prys verower in die Groot Romanwedstryd in 2018. 

Loots se debuutroman Split (2015) is bekroon met die ATKV-prys.

Die jongste boek handel oor verhoudings en eindes. Chris se lewe word bedreig deur 'n vrou met wie hy ‘n ligte aanraking gehad het. Sy pers hom af en ons word voorgestel aan verskillende karakters en ons weet wat die sielkundige van hulle dink.

Twee ekse. Een straight en een gay laat die poppe dans. Kentridge se poppespel is ook hier (107) en vrae word gevra oor hoe 'n mens nog oor intieme sake op 'n nuwe manier kan skryf?  Die internet se impak op intimiteit en joernalistiek kom eweneens aan bod.

Die roman analiseer die impak van menslike verhoudings en die ironie dat kortstondige aanrakings of dwase keuses jou lewe vir altyd kan bepaal. Is daar ooit closure?  

Was Willemien net dom of was dit hoe mense opgetree het? Dubbele foute, dus.

Erica Jong se Fear of flying (1973) speel ook in die agtergrond af met die soeke na die "zipless fuck" en 'n bespotting van psigoanalise en die raad wat sielkundiges vir pasiënte gee, terwyl hul eie lewens nie in beheer is nie.

Waar Jong se prosa opstuur en tuimel, is die aanslag hier "fiction domestique", soos die Franse dit tipeer. Hoe mense daagliks leef, dink, doen, kom aan bod.

Die dekor-verwysings gee dalk blyke van 'n leë bestaan. Die kunsverwysings is dalk 'n versugting na 'n beter bestaan waar jy kan ontkom van dwase besluite?

Frank Kermode die gesiene Britse teoretikus se A sense of an ending (1967) het by my opgekom by die lees van die roman, asook Susan Sontag se insigryke essay "At the same time: The novelist and moral reasoning" opgeneem in At the same time (2007). 

Sy beweer dat 'n roman grense skep en dat alles te make het met hierdie grense. Die einde, vir haar, is 'n punt van magiese kwaliteite en samehang. Uiteindelik sien ons hoe uiteenlopende sake saamhang.

Afhangend van waar 'n storie eindig, word die geluk bepaal, waarsku Orson Welles in 'n motto. Hier eindig dit nooit nie ... of dalk?

Oscar en Reeva se verhouding bewys dat 'n gelukkige einde nie vir hulle bestaan het nie.

Die intertekste na Woody Allen, die Coen-broers se Burn after reading en Hitchcock gee eweneens sleutels vir verdere ondersoek.

In die lang galery van vertellers – eat your heart out Faulkner – het Sam ‘n heerlik outentieke stem.

Daar is ook Willemien, Neil, Jenna, Dave, Sigourney, Connie, Priscilla, Simone, John, Bella (o.a.) met Mikey wat alles op sy kop keer.

Terloops, die weergawes van lesbiese seks is stereotiep. Die beskrywing van die abjekte en liggaamlikheid bedui op 'n bestaan wat nie plesierig is nie.

Die geweldstonele waar ‘n vrou ‘n man aanrand, gee 'n nuwe blik op hetero-verhoudings (265). 

Die slot hef die turbulensies op.

Die karakters praat outentiek (shrink, edge, cottage, girl...) en Kaapstad word goed beskryf. Boonop lyk Tafelberg soos 'n groot mynhoop op die Rand.

En die Ford Cortina kom staan mens voor die oog.

In Portrait of a lady – as ons die notas van James lees én Sontag se kommentaar daarop – is die einde anders wat die leser wou hê en dis juis wat die roman so kragtig maak.

Die hoofstuk-indelings (Die begin, die middel, die einde, ná die einde) gee blyke van ‘n ouktoriale vertelinstansie ('n soort poppemeester) wat die gegewe vertel en manipuleer. Kiss kiss, bang bang 'n film uit 2005 (van die regisseur Shane Black) analiseer verhoudings en hoé ‘n mens ‘n storie in film vertel. En dis juis hierdie dimensie van dieper meta-kommentaar wat die roman volgens hierdie leser sterker sou maak. 

Afhangende van hoe jý na die voorblad kyk, sal die roman met jou praat.

Wednesday, October 3, 2018

Resensie | Alettie van den Heever - Stof (2018)

Alettie van den Heever – Stof: 'n kanttekening. Queillerie, 2018. ISBN: 9780795801600

Resensie: Joan Hambidge

I

Hierdie opwindende debuut het my onvermydelik teruggeneem na twee seminale besinnings oor die abjekte, Julia Kristeva se Powers of Horror: An essay on Abjection (Columbia University Press, 1982) en Rosemary Jackson se Fantasy – The Literature of Submission (Methuen, 1981).

Sowel Kristeva as Jackson werk met die idee van subversie. By Alettie van den Heever word dit reeds op ‘n taalvlak uitgespeel.

Ons lees op bladsy 11: “Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas” … “Akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion!”.

Hier is ons dan in die abjekte. Die teenoorgestelde van die konvensionele fantasie. Op die voorblad van Jackson se boek is daar 'n afbeelding van Bosch se Tuin van aardse luste, waar die abjekte en die fantasiewêreld saamgesnoer word.

Jackson – in navolging van Todorov se The Fantastic: A structural approach to a literary genre (1973) kyk na hierdie tekste wat kulturele ongemak veroorsaak. Van den Heever se werk daag immers jou leespatroon uit, en ‘n resensent, Loftus Marais, het reeds daarop gewys dat sy juis vérby die voorspelbare van die Afrikaans roman beweeg (Dié ‘drolryke’ toekomsfiksie is moeilik maar móói . . . | Netwerk24. Besoek 26 September 2018).

Jackson beklemtoon dat Eric Rabkin alreeds geskryf het dat hierdie soort teks die reëls van die konvensionele prosateks op sy kop keer (Jackson, 1981, 21).

Die sogenaamde antinomiese struktuur is relevant, omdat hierdie soort teks met die leser die spel van die onmoontlike speel.

Verder wys Rabkin op die volgende: “By foregrounding its own signifying practice, the fantastic begins to betray its version of the ‘real’ as a relative one, which can only deform an transform experience, so the ‘real’ is exposed as a category, as something articulated by and constructed through the literary or artistic text” (Jackson, 1981, 84).

Woorde word gerekonfigureer en binne nuwe kontekste geplaas.

II

Jackson kritiseer Todorov omdat hy in gebreke bly om sogenaamde unconscious discourse van hierdie genre te ondersoek. Die uncanny of das Unheimliche is uiteraard deel van hierdie soort tekste wat in Frans beskryf word as l’inquiétante étrangeté.

Freud se seminale essay is reeds in 1919 beskryf en die split of breuk in die self. Die projeksie op die omgewing of die Ander word uitgewys deur vele teoretici. 

Liminaliteite, derde ruimtes (of spasies) en ambivalensies gee juis aanleding tot kreatiwiteit – soos Homi Bhabba ook beklemtoon.

Slavoj Žiżek se analise van grieselverhale in The Pervert’s Guide to the Cinema wys ook op hierdie dualisme wanneer hy ‘n film soos Alien bespreek (Alien (film) - Wikipedia. Besoek 18 September 2018).

III

Hierdie roman wat in 2081 afspeel is sowel toekomsfiksie as distopiese roman.

Sade en uitskot. Lewe en dood. 

Amper, heet die karakter (Ampersand) &, dui op en (Ampersand - Wikipedia. Besoek 26 September 2018).

Dit is dan ook 'n logogram. 'n Belangrike kode vir hierdie roman wat jou terugneem na woorde se betekenisse.

Dis eweneens 'n ekologiese roman wat vrae stel oor die lot van die aarde.

Die boek word bemark as toekomsfiksie vir vandag. Ek is 'n liefhebber van wetenskapsfiksie in al sy gedaantes - van Asimov tot Ursula le Guin tot Frank Herbert. Met Patrick Parrinder (Science Fiction: A Critical Guide uitgegee deur Routledge in 1979) as die sinryke gids om hierdie genre te verstaan.

Die roman lewer kommentaar op ekologie. Saad moet bewaar word en Ampersand wonder wat het geword van Wakinyan. Soos in hierdie genre dan bekend is moet sy sorg dat sy die bose teenspelers uitoorlê sodat dit nie deur Meconium, 'n enklawe, se kloue  beland nie. 

Hoe nou met saad en uitskot?

Sekere sade word deur uitskot verder gedra ...

Die hoofstuktitels is rondom stof en saad en skyt – en die misvrede het my beet (264) kry ‘n nuwe betekenis binne die gang van hierdie boek.

Met die slot: Ikabod.

Die studie van Jackson neem ons weer na Foucault opmerking in Madness and Civilization en die analogie tussen waansin en fantasie. 

Ek haal haar endnoot aan uit daardie wonderbaarlike boek: “…by the madness which interrupts it, a work of art opens a void, a moment of silence, a question with answer, provokes a breach without reconciliation where the world is forced to question itself” (190).

En dit is waarmee Alettie van den Heever besig is.

Van utopie na distopie; van ekologiese besinning tot toekomsfiksie. Gender en politiek.

Die motto uit wyle Le Guin is beduidend.

“Still there are seeds to be gathered, and room in the bag of stars.” ‘n Skrywer wat al die aspekte van hierdie wêreld kan saamsnoer.

Dis 'n komplekse, slim roman wat jou laat nadink:

geen ding is duister, maar hy glans
of hou sy skittering ingesluit,
en niks is dood, en alles dans
en reik na naamlose dinge uit.

(Die swart luiperd. NP van Wyk Louw)

Monday, August 20, 2018

Resensie | Rudie van Rensburg – Ys (2018)

Rudie van Rensburg – Ys. Queillerie, 2018. ISBN: 978-079-5801501

Resensent: Joan Hambidge

I

Ys is die sesde roman van Rudie van Rensburg, 'n besondere speurverhaalskrywer.

In die filmweergawe van Agatha Christie – doyenne van die speurverhaal – se Crooked House, merk 'n karakter op dat 'n moordenaar koud- of warmbloedig kan wees, sonder enige empatie of morele kompas. So 'n persoon dink veral dat die wette van 'n gemeenskap nie op hom of haar van toepassing is nie. Ons het hier "the smell of blood" wat in Ys geblaker word as "die bloedspoor is warm ..." (Crooked House (film) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

Die film is geregisseer deur Gilles Paquet-Brennerin 2017.

'n Teefsessie tussen Gillian Anderson en Glenn Close is prima. Bykans so goed as die een tussen Diana Rigg en Maggie Smith in Evil under the Sun

Sulke oomblikke wanneer veteraan-aktrises hulle naels wys in 'n andersins ernstige moordverhaal, is dit om lag te ontlok, wat spanning verlig én die divas toelaat om te wys hulle kán "act". Daar word waarskynlik heerlik geskaterlag agter die skerms, soos in Tomorrow Never Dies wanneer M (Judi Dench) vir James Bond (Pierce Brosnan) opdrag gee om die skobbejak se vrou, en sý voormalige minnares, te pomp vir informasie. (Moontlik ge-ad lib.)

II

Van die vasvang van die Groot Appel in woorde tot die beskrywing van 'n lyk, of hoe dit moet voel as jy agtervolg word en met 'n mes in jou been hardloop, weet die leser dat Ys deur deeglike navorsing onderlê is.

'n Amerikaanse wetenskaplike word in 'n Waterfront-hotel vermoor. Daar is 'n oud-Pollsmoor gevangene. Daar is Kassie en Rooi. En 'n man met 'n kettingsaag.

By elkeen is daar newe-intriges (wat ek nie hier sal verklap nie), maar Kassie se eks daag onverwags op by haar "ou vaalmuis". En Hasie (met sy Tinkie) word onvermydelik deel van die onderwêreld en moet sy gewete sus dat hy dit ter wille van haar moet doen. Hierdie gedeeltes is waarskynlik deur Jeffrey Dahmer geïnspireer.

Met bergies en Willie met Fortuin.

Teenoor Frankie. Pastoor. En Viking, o.a.

Met leuens en vals identiteite.

Ekologie en raspolitiek kom ook aan bod – met Shaheena wat bevele uitdeel (getroud met 'n problematiese Elton). Geweld teen vroue word goed geanaliseer en waarom vroue by sulke mans bly, word hier oortuigend verbeeld.

Kasselman is misdaadtoneelbestuurder (crime scene manager) en ons weet hoe belangrik hierdie taak is. 

Boonop is daar vingerafdrukke gelaat ... (maar hier weet die leser meer as die speurders.)

Met die FBI wat met papierlêers werk, omdat rekenaars altyd 'n digitale spoor laat.

III

Christie is die meesteres van beduimeling en beduiweling. Sy fop jou altyd met vals of te slim leidrade. (Soos 'n Latynse verwysing in 'n Engelse van.) Van Rensburg draai hierdie patroon om. Hy plaas sy leser in 'n oënskynlike posisie van mag. 
  
Ollie Viljoen is hier en die arme Kassie moet sy verslae in Engels skryf. (Nie alleen omdat die FBI dit moet lees nie, maar hier is ook implisiete sosiale kommentaar op die verengelsing van die staats- en polisiediens.)

'n Goed geplaaste interteks is Etienne Leroux se Die derde oogmet die hakkelende kaptein Demosthenes H. de Goede. Anders as die blink Stefaanse van die bedryf, haal Kassie die kromme note. Hoe hy lyk en aantrek, verklap iets van sy karakter.

Nou onlangs was hierdie leser uitermate bekoor met die Maigret-reeks waarin Rowan Atkinson speurder Maigret oortuigend vertolk (Maigret (2016 TV series) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

IV

Van Rensburg skryf vlot en onderhoudend. Die roman is pakkend geskryf. Bliksis!

Lucky Strike en Creme Soda. 'n Seëlversameling wat 'n kode is vir stiplees.

En daardie referaat oor "Ys"?

Rudie van Rensburg se roman klief sneeu oop soos 'n ysbreker.

Met 'n wonderlike epiloog.

Tuesday, April 4, 2017

Nicole Jaekel Strauss – As in die mond (2017)




Nicole Jaekel Strauss – As in die mond. Queillerie, 2017. ISBN: 9780795801358

Resensent: Joan Hambidge

Met haar debuut Maal in 2010 het Nicole Jaekel Strauss die aandag getrek. Sy is bekroon met die UJ-prys en die Eugène Marais vir ‘n eersteling. Die jongste is uitgegee deur Queillerie en word bemark as ‘n eenheidsbundel.

In Afrikaans het Henriette Grové (Jaarringe), Chris Barnard (Duiwel-in-die-bos) en Hennie Aucamp (Volmink) – om drie voorbeelde uit te sonder - eenheidsbundels geskryf.

Hierdie soort bundel gee dus kodes in ‘n verhaal wat in ‘n volgende opgevolg word – soos in die Duisend-en-een-Nagte. Daar is sprake van weefwerk of ‘n tapisserie.

As liefhebber van hierdie stiefkind van die Afrikaanse letterkunde, is 'n mens dankbaar dat NB hierdie bundel gepubliseer het. Alice Munro het die Nobelprys verower en min skrywers kan Borges se Ficciones troef.

“Veral indrukwekkend is Jaekel Strauss se fyn waarnemingsvermoë en aandag aan détail. ’n Mens sou inderdaad, soos De Vries, daarna kon verwys as ’n pointillistiese verteltegniek op grond waarvan groter patrone weldra uit die ‘magdom klein besonderhede’ groei”, was die waarneming van Thys Human oor die debuut. (LitNet| ’n Bundel waarin jy jou tande kan slaan/ Jaekel Strauss se kortverhaaldebuutbied véél om te geniet. Besoek 29 Maart 2017).

Hiermee word akkoord gegaan. Die leser onthou sekere vinjette, soos 'n pienk baadjie wat aangetrek word na 'n brand. Oë wat vloekwoorde verklap …

Die bundel word in ‘n sirkelgang vertel. Die verhaal “Kleinood” (met sy ironiese titel) maak eers volledig sin wanneer jy ‘n verhaal soos “Marika se reis” saamlees. Wat is werklik? Wat is fantasie? Hierdie verhaal is so sterk gevestig in die psige van ‘n getraumatiseerde figuur dat die leser saam met haar die pad van fantasie loop.

‘n Verhaal wat gekanoniseer sal word, is die grieselige “Kleinood”, vanuit die perspektief van die jong kind, en meer spesifiek, ‘n getraumatiseerde kind wat by die ouma tuisgaan. (Later in die bundel verneem ons die verdere besonderhede.) Die redes waarom sy pienk haat, word later verder geamplifiseer en die streng religieuse orde word subtiel geteken. Op ‘n Sondag eet hulle Weet-bix met warm melk, omdat die ouma haat om potte te skuur. 

Die wreedheid van kinders word uitstekend beskryf wanneer hierdie kind, wat hare in ‘n boksie versamel, op ‘n oorslaap-aand ‘n maatjie se hare afsny. Omdat die skêr stomp is, sny sy dan per ongeluk meer af as wat sy bedoel het. Die histeriese reaksie van die maatjies (en Leanie) op haar daad, word gelykgestel aan die kerkklokke op ‘n Sondag – iets wat haar steur. Die subtiele beskrywing van die vriendskap tussen Leanie en Adelia word met implikasie gelaai.

Die kind word uitgeskel vir ‘n dief en freak, wat sy is. Sy het immers haar broer se hare gevat uit die ouma se Bybel en sy is ‘n grens-kind. Sy is eweneens op die grens van seksuele ontwaking (“die molletjies stoot”, 54) en in Alice Miller se terme, ‘n verwonde kind.

Dit is ‘n verhaal wat vra om saamgelees te word met Henriette Grové se klassieke “Liesbet slaap uit”.

Dit is ‘n pynlik-onthutsende boek. Dit gaan op die plekke van die psige wat mense – in Freudiaanse terme – represseer. In ‘n motto op bladsy 218 staan daar uit Freud: “Unexpressed emotions will never die. They are buried alive and will come forth later in uglier ways”.

Die titel aktiveer die kwessie van as (as is verbrande hout), van uitgebrand wees, van die as (indien) waarop verhale inspeel (wat ás ek nie hierdie verhaal reg begryp het nie?) en die asse of koōrdinate van lees …

Die bundel neem ‘n mens ook na Clarissa Pinkola Estés se sieninge van vuur as argetipe, en haar werk: The creative fire. En die soektog na die la chispa. Vir Jung is vuur gelyk aan transformasie en verandering. Die alchemiste moes immers vuur gebruik om metale te probeer verander.

“Fluctuat nec mergitur / getref maar nie gekelder nie” oor Jeanne d’Arc / Johanna van Arkel / La Pucelle d'Orléans (1455) is ‘n pynlike analise van ‘n moeder wie se kind op 19 verdoem is tot die brandstapel, en haar poging om haar kind kwyt te skeld van die verbanning tot heksery.

Is die vinkie ‘n gereïnkarneerde Jeanne?

Die skrywer skep besondere sub-teks in die katedraal waar die genadelose ondersoekspan die moeder se ellende nie wil begryp nie. Eers later word sy vrygespreek (en in 1456 verklaar tot martelaar en in 1920 gekanoniseer). Haar rol in die 100 jarige oorlog is oorbekend en hoé sy uitgelewer is weens ‘n politieke spel en die rol van Pierre Cauchon.

Napoleon het haar in 1803 tot nasionale simbool verklaar.

Jeanne het ook visioene gesien, o.a. van engele en wat in verdere verhale gesinkopeer word met mense wat in trauma ‘n greep op die werklikheid verloor. Hierdie verhaal wil dan ook die wispelturigheid van die geskiedenis uitwys …

Vuur en suiwering. Om skoon gebrand te word. Dit staan opgeteken in die digkuns van Sheila Cussons.

Die bundel ondersoek die aard van liminaliteit (of grense) soos Van Gennep dit formuleer: ongelukke, brand, seksuele ontwaking, leuens, fantasie, trauma …

“Delivery” (107) oor ‘n transseksuele persoon ondersoek die outcast se lot, eweneens ‘n toestand van oorgang; nes die verhaal “Souk” (131) waar twee kulture teen mekaar te stane kom.

Dit is ‘n bundel wat al die applous verdien wat dit mag ontvang.



(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)