Showing posts with label Graeme Reid. Show all posts
Showing posts with label Graeme Reid. Show all posts

Friday, March 1, 2013

Performing Queer (2005) | Sex & Politics in South Africa (2005) | Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives (2005)



Mikki van Zyl & Melissa Steyn (Reds.). Performing Queer. Shaping Sexualities 1994 – 2004 (Volume 1). Kwela, 2005. ISBN 0 7957 0196 9.


Neville Hoad, Karen Martin & Graeme Reid (Editors). Sex & Politics in South Africa.
Double Storey, 2005. ISBN 1 77013 015 2.


Ruth Morgan & Saskia Wieringa. Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives. Jacana Media, 2005. ISBN 1 77009 093 2.

Daar is deesdae meer boeke oor genderpolitiek, genderidentiteit of enige aspek wat met gender te make as tien jaar gelede. Toe het veral feministiese studies die aandag gekry. Nou verskyn daar al om die hawerklap ‘n studie wat nuwe lig werp op die delikate verhouding tussen biologiese en sosiale aspekte van gender. Die nou onlangs onverkwiklike debakel oor homoseksualiteit het opnuut bewys dat die politieke dimensie in enige genderdiskoers nie verreken is nie. 

Hiervoor was die debat in elk geval gedoem tot misverstand: aan die een kant diegene wat meen Die Bybel verklaar dit tot sonde; aan die ander kant die verworpe gays. Tussenin teoretici wat enersyds meen dis ‘n genetiese feit; ander wat beweer dis ‘n politieke keuse.  Mikki van  Zyl & Melissa Steyn is die redakteurs van Performing Queer, ‘n studie in die reeks Social Identities South Africa (onder leiding van Abebe Zegeye).

‘n Goeie titel met ‘n voorblad wat enige semiotikus lank sal besig hou: beeste in die agtergrond(“rooi Afrikaner osse sien jy om elke draai…), ‘n meisie met ‘n kappie en bootse (“ai meisie, meisie sing die Acapellas verder…), ‘n swart man in safari-pak met ‘n pruik op en Protea in die hand…

Dekonstruksie en parodie, dus.

Beide Van Zyl en Steyn se werk is alombekend. Jane Bennett en Amanda Gouws het die manuskrip uitvoerig gelees; hart- en handversterkend vir enige genderteoretikus.

Tien jaar in die demokrasie in en hoe lyk genderpolitiek? Is daar wel sprake van die “shift” waarvan Van Zyl praat? Inderdaad is gender meer vloeibaar en is identiteit ‘n proses (“always becoming”). Met Laurie Gaum/Moreletapark in die vars geheue besef die leser dat hier gepraat word van mense wat reeds die lig gesien het en nie van beswaardes wat dieselfde seks-verhoudings nog as sonde en uit die bose beskou nie. In welke mate jy egter jou eie ruimte moet vind en die impak van ‘n queer identiteit (terloops, die konsep is die noemer waaronder geteoretiseer word en is nie ‘n neerhalende woord nie) op die ervaring van jou-self. 

In hierdie versameling wat verskeie teoretiese modelle aanbied, is die teoretisering van die self “playing on the pavements of identities” van Bernedette Muthien ‘n uitstaande voorbeeld van enersyds persoonlike belydenis en andersyds teoretisering van gender-kwessies binne ‘n politiek-onregverdige bestel. (Die bydraers gebruik dikwels kleinletters by opskrifte; waarskynlik ook ‘n soort subvertering van die skryfkonvensie.) Sy definieer “queer” as ‘n radikale herdefinisie van seksualiteit wat alle posisies verteenwoordig en juis deur die gebruik van die pejoratief, word ‘n nuwe, radikale posisie geïmpliseer. Dit wil juis wegkom van die hetero-dominansie se opposisie tussen gay & straight. Die “alien”of die “inbetween”.

Mikkie van Zyl skryf in “fat like the sun”, ‘n persoonlike belydenis, oor seksuele identiteit en die ervaring van die liggaamlike. Haar woede teen die hetero-normering en die “othering” omdat jy anders lyk, dink en voel, word via gedigte, e-pos, dagboekinskrywings, teorie vir die leser oopgemaak. Lesers mag gru vir die persoonlike toon van die stuk, maar dis juis waar die krag opgesluit is: in die sê sonder skroom.

Rachelle Chadwick, saam met die gesiene Don Foster, artikuleer “’taking-up’gay?; A Rape Crisis volunteer re(per)forms sexuality”. Hier is ook ‘n gedig, lank en uitgesponne, en kommentaar op sosiale konstruksies. Uiters insiggewend is die bydrae van swart gays en lesbiërs en al die vooropgestelde idees en mites wat rondom hierdie (dikwels onsigbare) groep bestaan. 

Charl Hattingh pak die werkplek in “struggles with authenticity”, ‘n arena waar subtiele en minder ooglopende diskriminasie aan die orde van die dag is. Vandag voel witmans dikwels die swaard van diskriminasie teen hulle, maar veral gay-mense het in die verlede al dikwels voor erge diskriminasie te staan gekom. Gaan lees maar wat Zackie Achmat alles vir ons in ‘n argief bewaar het of begin wonder waarom daar iets soos ‘n Mother City Queer Project is. Of waarom sekere mense weens hul beroepe nie ge-“out” wil wees nie en dan ‘n dubbele bestaan begin voer, wat vir die openlike geliefde dikwels ook uitputtend word en konflik veroorsaak.

En diegene wat meen die diskoers is te hardvogtig en aanvallend moet straks herinner word aan hoé ongenuanseerd daar teen gays opgetree word. Die Laurie Gaum-debakel is immers nog vars in die geheue. Robert Vosloo se analise van die kerk en die vraag wat hy vra word ongelukkig ondermyn deur die onlangse debat. Van die “ethics of hospitality” het daar maar min tereg gekom. William Leap, die bekende Amerikaanse teoretikus se analise van kaarte en hoe ‘n stad gelees kan word, is waarskynlik een van die beste essays in hierdie studie. Hy versoen antropologie en linguistiek om ‘n stad se bedrywighede te lees.

Hoe jammer tog dat vooraanstaande Afrikaanse skrywers wat die queer-belewenis beskryf het, nie hierin opgeneem word nie.

“Wat ‘n ááklige omslag!”, roep my vriendin uit. Op die voorblad van Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives staan twee swart dogters, beide met kaalkoppe en die een boonop met bokshandskoene. Hulle seksuele ambivalensie en opstand straal uit die foto.

“Dis die hele punt,” kap ek terug. “Hoekom moet gay-mense in ‘n keurslyf van hetero-idees oor skoonheid of aanvaarbaarheid pas?”

Sex & Politics in South Africa en die genoemde Tommy Boys is handige studie-materiaal vir al gendernavorsers, -dosente en diegene wat belangstel in die geskiedenis van genderpolitiek en –sieninge in Afrika. In teorie is ons land glo vér voor wat genderteorie betref; in die werklikheid is dit egter nie altyd ‘n mooi prentjie. Daar word steeds subtiel, en minder subtiel teen gay-mense gediskrimineer soos die studie aantoon.

Sex & Politics bevat handige argiefmateriaal vir die navorser, soos onder andere ‘n brief van Ivan Toms aan Edwin Cameron, ‘n seksistiese “cartoon” van ‘n man wat in die bed lê en beweer hy is deur ‘n “poefadder” gepik! (25 Augustus 1985, Rapport). Die vraag is na aanleiding van ‘n vriend se vraag oor hoé Vigs opgedoen is; en die ondersteunende sub-teks beweer dat Mediese Navorsing moontlikhede ondersoek dat insekte of diere Vigs kan oordra...

Tommy Boys ondersoek weer op ‘n akademiese wyse aangetrokkenhede tussen vroue.  Al die onsekerhede, stereotipes, pyn, ellende van gay-wees word in hierdie tekste vir die leser onthul. Die taboe rondom hierdie ervarings word gedekonstrueer en dit is uiters belangrike werk wat hier gedoen word om aan vroue agentskap te gee. Die boek werk met relevante studie-gevalle om die uitsprake te ondersteun.

In hierdie studie word die stilte rondom lesbiese verhoudings opgehef en van die navorsers erken dan prontuit dat dit ‘n eerste ondersoek is. Madelene Isaacks (saam met Ruth Morgan) bevestig ‘n belangrike kwessie: gay-politiek is altyd gekoppel aan die groter politieke prentjie soos daar uitgewys word ten opsigte van die situasie in Namibië. Stonewall, soos ons algar weet, kon net gebeur het omdat gay-mense reeds die steun gehad het van feministiese bewegings in die VSA.

Enige persoon wat tans hom of haar uitlaat oor hierdie onderwerp, moet hierdie drie tekste lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, February 26, 2013

Graeme Reid & Liz Walker (Reds.) - Men behaving differently. South African Men Since 1994 (2005)



Graeme Reid & Liz Walker (Reds.). Men behaving differently. South African Men Since 1994Double Storey Books, 2005. ISBN 1 919930 98 1.

Resensent: Joan Hambidge

Een van die belangrikste verskuiwings in ons samelewing is dat die orde van die patriargie voortdurend onder skoot kom. Die sogenaamde wit man se regte en voorregte het die afgelope paar jaar verdwyn. Die feministiese beweging het in die sestigerjare in die VSA die ruimte geskep vir gay-mense om hul vryhede op te eis en die posisie van die wit man hier te lande het ook dramaties verander. Ek onthou jare gelede toe ons kantore moes skuif, het ‘n manlike kollega sonder ironie opgemerk dat die mans eerste kon kies watter kantore hulle sou wou betrek. Op ‘n ander vlak het ‘n geskeide vriendin vir my vertel hoe ‘n vry man (met die hulp van sy suster), ‘n paar jaar gelede, ‘n geselligheid gereël het om kandidate vir hom byeen te bring sodat hy kon kies en keur uit die gewilliges! In manskoshuise, in my dae, was daar ook lyste op badkamermure waarop damesstudente se bates, gewillighede en dies meer aangebring is deur die brekers.

Aan universiteite veral het gelykgheidsforums geweldig baie vermag om die posisie van die sogenaamde ander of minderheid te versterk en hersien. Die posisie van die wit man is in ons land eweneens kompleks, omdat magsveranderinge ook op ‘n taal- en rasvlak gevoel kan word en nie alleen binne genderdiskoerse opvallend is nie. Maskuliniteite is dan tans ‘n rigting binne genderstudies, net soos gay-regte of feminismes.

Graeme Reid & Liz Walker se studie Men behaving differently is hierom ‘n tydige en uiters belangrike studie omdat die skrywers vanuit sosiale wetenskappe hierdie problematiek aanpak en problematiseer. Die letterkunde op sy beurt, spreek ook hierdie kwessies aan op eerlike manier. Die verskuiwende orde moes bepaald ‘n impak gehad het op manlike gedrag in ‘n samelewing waar die kodes snel verander. Selfs in James Bond-films word 007 deur M, nou ‘n vrou, ter take geneem oor sy seksuele gedrag.

Reid & Walker stel verskeie mense aan die woord, manlik en vroulik, oor sowel wit as swart-persepsies oor manlikheid. Boonop is die navorsers sowel Suid-Afrikaans as buitelands.

Robert Morrell wys tereg op die gevaar van hierdie soort studie: dat dit mans se posisie op ‘n nuwe wyse die oorhand kan laat kry oor vroueregte. Juis hierom word daar uiters versigtig geteoretiseer oor mans en hul verminderende regte binne ‘n wêreld waar Vigs seksualiteit herdefinieer en o.a. verkragting binne die huwelik strafbaar is. Tereg werk almal met maskuliniteite, die konsep in die meervoud, om verskillende posisies en regte aan te spreek tenoor feminismes.

In post-apartheid Suid-Afrika het seksualiteit en al sy misdrywe (o.a. kinderverkragting) meer publiek geword. Die morele krisis is dan vir Deborah Posel ook ‘n krisis in manlikheid: die verkragter is dikwels ‘n bekende of familielid. Niks is meer ‘n geheim nie en die ‘interne struktuur van seksuele geweld’ word openbaar gemaak deur klagtes, uitpraat. Posel noem dit dan tereg die “politiek van belydenis”.

Vervolgens dan enkele punte rondom hierdie studie. “”Baby-rape’: unmaking secrets of sexual violence in post-apartheid South Africa” deur Posel verduidelik iets omtrent die angs, onsekerhede en problematiek in ‘n gemeenskap van transisie.  Waarskynlik is een van die insiggewendste bydraes dié van Isak Niehaus (“Masculine Domination in Sexual Violence”) waarin die outeur in die nawoord beken dat die inligting skokkend en inkriminerend is, maar dat hy dit nodig ag vir publikasie ter wille van akademiese vryheid. 

In sy analise van verkragting binne ‘n tradisionele agtergestelde gemeenskap of die ou tuislande, beklemtoon hy eweneens die belang van ‘n komplekse model. (Hierdie stuk het my werklik ontstig, al het dit ‘n mens se oë oopgemaak. Die vertelling van George en Lindiwe is hartverskeurend.)

Vigs en die sosiale probleme rondom hierdie siekte word geanaliseer in Mark Hunter se “Multiple-Partners in KwaZulu-Natal”. Hunter slaan die spyker op syn kop waneer hy o.a. wys ook op die teenstrydige rol wat die kerk nou vertolk binne sodanige gemeenskappe. Hy help die leser om te begryp wat die isoka (Casanova in isiZulu) behels en in welke mate die ou tradisie en nuwe wêreld met mekaar bots. Mites oor homoseksualiteit binne die swart gemeenskap word ook aangespreek (Marc Epprecht) en swart-gay-lewens onthul in Ermelo (Graeme Reid).

Moontlik is die belangrikste bydrae van hierdie studie dat dit persepsies en wanopvattings histories en polities verduidelik téén die agtergrond van verskuiwende wêreldvisie. Hoe word grense getrek?, vra Liz Walker. En ja, dit is waarskynlik waar dat swart mense eerliker praat met buitelandse navorser.

Een kritiek: die indeks is onvolledig. Die leser moet dan dikwels terugkeer na die afsonderlike artikel om iets van Patrick Harries of Zackie Achmat te kontroleer. Tina Sideris kyk as feminis na mans en sy is hoopvol oor die veranderinge wat alreeds plaasgevind het.

Dit is baie belangrike publikasie wat uiters verhelderend is oor die politieke en sosiale veranderinge in ons gemeenskap en ‘n studie wat hoort op elke genderteoretikus se rak. Méér nog, dit hoort op die boekrak van almal wat iets probeer verstaan van ons diverse kultuur in ‘n tyd van oorgang.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van nnn geplaas.]