Showing posts with label Johann Rossouw. Show all posts
Showing posts with label Johann Rossouw. Show all posts

Tuesday, August 15, 2023

Resensie | Johann Rossouw – Sluitstuk | Umuzi, 2023

Johann Rossouw – Sluitstuk. Umuzi, 2023. ISBN: 9781415210031 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Sluitstuk word beskryf as ‘n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening. Dit handel oor die komplekse verhouding tussen mentor en student. En ‘n biograaf en ‘n skrywer. By die dood van ‘n geliefde – veral as die verhouding kompleks was – word die rouproses immer ingewikkeld.

 

As Jacques Lacan geskryf het dat die rolle tussen analis en analysant voortdurend omgeruil word en nie stabiel is nie, illustreer hierdie teks dit uitstekend. Johann Rossouw is filosoof en priester van die Afrikaanse Ortodokse Kerk. Met die uitbreek van die Oekraïne oorlog het hy ‘n insigryke analise van die Russiese Ortodokse geloof gemaak en vir lesers verduidelik wat hierdie geloof alles behels. Daar is min rubriekskrywers wat ‘n leser só laat nadink oor filosofie, geloof en die Onsienlike. Oor taalpolitiek is hy eweneens ‘n relevante kommentator. 

 

Raak betrokke in ‘n polemiek met hom (byvoorbeeld oor René Noël Théophile Girard, die filosofiese antropoloog) en hy wys vir sy skoorsoeker daar is nie werklik diepgaande gelees nie.

 

Hierdie verhaal navigeer die verbintenis met Karel Schoeman en ‘n biograaf van Nederlandse afkoms wat die verteller uitvra oor Schoeman. Driejaar ná sy dood. In een nag word die biograaf en skrywer van hierdie teks teenoor mekaar geplaas. Wie was die groot skrywer, ‘n kluisenaar, wat ‘n uitsonderlike spel met aanhangers gespeel het, wérklik? Waarom het hy die skrywer van Sluitstuk so diep geraak? Hoekom het hulle vervreem geraak? En tog weer ontmoet op sy sterfbed? Die spreker Markus praat oor Rudolf met die biograaf. Beide had ‘n verbintenis met hom wat onder die loep geneem word. 

 

Vaders kom ter sprake. Was Markus dalk op soek na ‘n vaderfiguur in die skrywer weens sy komplekse verhouding met sy gewelddadige vader? Is sy aangetrokke tot die verhaal oor die skrywer weens háár verwonding deur die skrywer? (Hier wil die resensent nie ‘n spoiler pleeg nie, omdat die spel tussen verhulling en onthulling so delikaat hanteer word.)

 

Wat behels die naam-van-die-vader tog nie alles nie?

 

II

Karel Schoeman is ‘n groot skrywer en sy oeuvre is indrukwekkend. Sy stemme-romans is alreeds bestempel as klassiek in Afrikaans. Vir my is allergunstelinge: Op ‘n eiland (1971), ’n Ander land (1984), Hierdie lewe (1993)  Die uur van die engel (1995) …

 

Schoeman is ‘n meester van implikasie, suggestie én sub-teks. Van stiltes en óntroosbaarheid. Oor verliese het hy veelvlakkig geskryf. En oor onbeantwoorde liefde uitsonderlik. Min skrywers kan atmosfeer skep soos hy. ‘n Gesprek oor ‘n hek tussen twee mans gelaai met verhulde begeerte; ‘n besoek aan ‘n eiland; ‘n eensame sterfbed.

 

Daar is verder historiese romans en biografiese tekste. 

 

Die roman aktiveer Reise met Schoeman (2020) van Ria Winters, ‘n Nederlandse navorser se korrespondensie met die skrywer. 

 

III

Sluitstuk is faksie. Dit speel ‘n bedrewe spel met die leser tussen feit en verdigsel. Romans, so verneem ons van die skrywer, skep vir die skrywer ‘n nuwe werklikheid met karakters wat selfs sy lewe beginne dikteer. 

 

Sluitstuk lewer verder skerpsinnige kommentaar op dit wat ons dink ons weet van Schoeman, kluisenaar én manipuleerder van die resepsie van sy werk (aldus die fiktiewe biograaf hier) en sy romans. Ons onthou immers sy droewige einde. Lewe en tekste word hier slim vervleg.

 

Dit word eweneens ‘n boeiende analise van psigoanalise van die pratende subjek (parlêtres) en die verhoudings binne só ‘n ruimte wat onstabiel is.

 

Meer nog: dit word ‘n verslag van ‘n spirituele reis deur die Zen-Boeddhisme vir die gefiksionaliseerde Markus wat sý gewaarwordinge rondom erbarming en helderte beskryf. Rudolf se sieninge van die Boeddhisme is eweneens verhelderend. Schoeman het immers ‘n Stil gemoed van Rob Nairn in 1997 vertaal, ‘n studie oor Boeddhisme en meditasie uit 1993: Tranquil mind: An introduction to Buddhism and meditation.

 

Dit is verder ‘n klad- of werkboek oor die skryfproses. Die lêer wat Markus uithaal met briewe en aantekeninge en aan die biograaf stuksgewys openbaar, lewer kommentaar op skryf-as-proses. Ervaring moet daar eers wees voordat jy kan skryf; en dan die oorgawe aan die ritme van taal …


En skryf ons dalk om verlies (‘n onafwendbaarheid van die lewe) te probeer hanteer?

 

Alle skrywers, ook Rudolf (Schoeman), is afhanklik van hul lesers. Of dalk veral Schoeman (Rudolf)?

 

Daar is (en was) net een Schoeman. En met hierdie dubbelportret gee Johann Rossouw ‘n binneblik op een van Afrikaans se mees merkwaardige romansiers.

 

Louise Cilliers se pragtige vertaling van Kavafis se “Ithaka” is ook hier opgeneem uit Konstantinos P. Kavafis: Van Alexandrië na Ithaka wat vanjaar by Naledi verskyn het.

 

En dis waarskynlik die belangrikste sleutel vir hierdie boek: die lewe as ‘n reis. ‘n Mens dink na oor die volgende wat by jou spook nadat jy die boek voltooi het:

 

Epifanieë bly onverklaarbaar; die vermorsing van kosbare energie op illusies wat by nabaat so sinneloos lyk; stemme wat stil word en nooit in boeke tot uiting kom nie; die asimmetriese verhouding tussen mentor en dissipel; die self wat gevind word wanneer jy ophou soek; erbarming as die weg van die Boeddha; die skryfproses: eers ervaring, dan die ritme, dan die woorde.


En jong skrywers wat aan “nabootsingskoors” lei op soek na ‘n eie stem, moet baie geestelike afleggings maak. Inwaarts die stilte en Virginia Woolf (eweneens oorlede in selfdood) wat Schoeman bewonder het. Die rol van Maria wat Markus by die skrywer se sterfbed uitbring: Rudolf Eksteen. Ek – steen : want ‘n sluitstuk is ook ‘n steen in ‘n gebou.

 

‘n Besinnende boek vir (her)lees. My eksemplaar sit vol onderstrepings en kommentaar in die kantlyn. (Vir die herdruk: p. 26 moet dokter eerder doktor wees.)

 

In Ewige gedagtenis sluit die teks vir Schoeman. Is daar uiteindelik sluiting in die jonger man se gemoed? Is daar ooit closure of moet ons eerder hier verwys na anti-closure?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge