Showing posts with label M.M. Walters. Show all posts
Showing posts with label M.M. Walters. Show all posts

Friday, March 1, 2013

M.M. Walters - Shih-Ching Liedereboek (2003)



M.M. Walters. Shih-Ching Liedereboek. Protea Boekehuis, 2003. ISBN 9781869190415.

Resensent: Joan Hambidge

Wat lig is, berus op wat swaar is.
Wat woel, berus op wat stil is.

As ‘n verstandige man reis,
hou hy sy swaar bagasie dop.
Dit is net wanneer hy veilig tuis kom
dat hy rus en hom nie bekommer nie.

Hy wat heer is oor tienduisend strydwaens   
kan hom nie lig gedra nie.
Hy wat lig is verloor die fondament;
hy wat woel,
verloor sy heerskappy.

Lao-Tse (vertaling Martin Versfeld)

Die eerste Chinese gedigte is mondeling oorgedra. Ons dink hier onder meer aan die Shih-Ching (oftewel klassieke lied). Dit is eenvoudige gedigte wat met herhaling werk. Latere digters is onder meer bekende figure soos Li Po en Tu Fu. Dit is dan ook mistiese gedigte wat veral kommentaar lewer op die natuur. Dit is dikwels gedigte sonder retorika wat eerder deur middel van implikasie as direkte uitsê.  Gekonsentreerde beelde is kenmerkend van hierdie digkuns (Alex Preminger kan geraadpleeg word in sy Encyclopedia of Poetry and Poetics, Princeton University Press, 1965).

So klink ‘n bekende Chinese vers vry vertaal:

Herfs reën,
herfs reën,
Geen middag, geen nag,
Drup, drup, val, val, val.
Lamp wat doodgegaan het, koue strooibed, broeiende eensaamheid.
Pragtige nooi,
O so treurig!
Die weste wind ruis saggies in die bamboes by die venster,
Stop en begin dan weer;
Op geverfde wange glimmer twee trane soos juwele.
Hoeveel kere het hy belowe: Wanneer die wilde ganse kom…”
Hy het die datum laat verval –
Die ganse het teruggekeer, hy nie

(Preminger, p. 122).

Daar is drie digterfigure wat die Chinese ruimte vir ons na ons digkuns gebring het: D.J.  Opperman, Breyten Breytenbach en Petra Müller. Opperman eers met sy speelse aanwysing van hoe om ‘n Chinese versie te skrywe; dan later skryf hy die magistrale Komas uit ‘n bamboesstok gebaseer op die reise van Marco Polo. Opperman gebruik die reis van 1271 as ‘n metafoor vir sy afdaal in sy onbewuste na sy lewerversaking.

Marco Polo se merkwaardige ervarings in China word by Opperman getransformeer as die wonderbaarlike ervarings van die digter.

In Kuns-mis (1964) staan die speelse vers “Hoe om ‘n bundel Chinese poësie te skryf:

Skryf op snippertjies papier:
Berg, bamboes en blom,
Verder, boom en stroom en droom,
En skommel telkens om.

Sopas het M.M. Walters by Protea Boekehuis vir ons hierdie liedereboek in Afrikaans saamgebring. Walters se werk as redakteur van verskillende vertaalboeke kan nie genoegsaam erken word nie. Kan die Uys Krige-vertalings nie weer uitgegee word nie?

Die volledige afsondering van die Chinese kultuur vir ‘n 1000 jaar en die eiesoortige tradisie maak dat hierdie gedigte vir Westerse lesers ontoeganklik gebly het. Walters erken dat hy via Engelse en Duitse tekste gewerk het in sy insigryke inleiding. Die boek is ook voorsien van kort biografiese opsommings en die verskillende periodes in die Chinese geskiedenis is ook van hulp vir die leser. Hy gee nie voor om ‘n sinoloog te wees nie en hierdie boek is dan ook nie ‘n finale woord nie.

Walters se vertalings en herdigtings is baie goed. Li Po se “Gesprek in die berge” en “In die lente” klink lekker in Afrikaans. Dit is dan ook ‘n boek wat ‘n mens langs Breytenbach se Papierblom moet plaas om daardie gedigte nog meer toeganklik te maak.

So klink Chang Chiu-ling se bekende “Sedert jy weggegaan het”:

Sedert jy weggegaan het, my lief,
het ek nog nie weer teruggekeer na my leë weefraam nie.
Want gedagtig aan jou, is ek soos die volmaan
wat elke nag verbleek en sy helder glans verloor.

Een van my gunsteling verse, is Ch’in Chia se “Aan my vrou (1)” :

‘n Mens se lewe is soos die oggendmis.
In hierdie wêreld het hy ‘n oorvloed aan geluk.
Teëspoed en verdriet kom dikwels vroeg,
verblydende verbintenisse dikwels jammerlik laat.
………
Verdriet kom in ‘n kringloop
en kan nie opgerol word soos ‘n mat nie.

Danksy my reis na China kon ek vele van die kodes in hierdie boek begryp wat op elke poësie-leser se rak moet staan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Monday, February 25, 2013

M.M. Walters - Satan ter sprake (2004)



M.M. Walters. Satan ter sprakeProtea Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 0513.

Resensent: Joan Hambidge

Ons ken Dante se Inferno en Milton het reeds in sy imposante digkuns die geding met Satan gevoer. Ons dink hier aan Paradise lost en Paradise regained. Binne die Afrikaanse letterkunde is daar eintlik ‘n “geding met God” aanwesig: sover terug as Totius tot verby Van Wyk Louw en Sheila Cussons, I.L. de Villiers en T.T. Cloete. Natuurlik, met Cussons ‘n Rooms-Katolieke en dikwels Boeddhistiese stem binne die oorwegend Protestantste opvatting oor die Goddelike.

M.M. Walters is ‘n bestendige digter en ‘n voorste satirikus binne die Afrikaans digkuns en sy jongste bundel, Satan ter sprake, gee dan ook ‘n aweregse blik op die “geding met God”. Want om oor Satan te skryf, beteken dat jy ook óór en mét God praat.

In ‘n sentrale vers soos “Lugbrug” word daar dan standpunt ingeneem teen die religie – in wese alle religieë - : "En elkeen is sy eie lugkasteel vol drome”. Dit is dan verse van die ongeloof (Daniel Hugo) en die meewarigheid van elke religieuse standpunt word ontmasker met hul onverdraagsaamheid en gevoel van ons-is-beter.

In die eerste vers, die programgedig, word Satan aan die woord gestel en word die bundel se toonaard aangekondig: soms tong-in-die-kies, soms erg krities in hierdie metafisiese personderhoud met Satan. Predikante bied volgens hom die beste kabaret “met hul preekstoelpakaters”. Satan maak dan ook beswaar teen sy afwesigheid, teen die feit dat mense hom in mottegif verpak en tot ‘n ongewenste familielid verklaar het. Hy verset hom teen die siening dat hy die “bose reus van die mitemakers” geword het. Immers is die logika van die predikante nie altyd bo verdenking nie. ‘n Sterk, satiriese vers wat op retoriese beginsels werk, ofskoon die gedig vir my smaak skerper, poëties kon wees.

Die bundel ondersoek op ‘n intellektuele wyse alles oor “die bose reus van die mitemakers” en so gelees, wil die digter sterk standpunt inneem teen die metafisika wat ons verblind en verdom, volgens hom. Maar die digter skep ‘n persona telkemale waaragter hy skuilhou. Die gedigte skep dan ook ‘n interessante paradoks: die toegewyde dekonstruksie van die mitologie/metafisika/ geloof bring ‘n nuwe denkwyse na vore. Overgesetsynde, die agnostikus is dikwels minder onrustig as die ateïs wat wil ontken en kritiseer.

In die 34 verse (“Klip in die bos”) word daar ongemaklike teologiese vrae gevra en die onlogika van die geloof uitgewys. Inderdaad. klippe in die bos.

6
Die ganse geslagsregister word gegee van Josef
wat geensins betrokke was by die bevrugtig nie.
Maar dié van Maria, enigste familielid, word verswyg.
Vanwaar dié logika van die evangelies?


23
Toe bekyk God sy twee maaksels
en erken tevrede dat die joppie “goed” was.
Hoe strook dit met die uitjaag agterna –
het hy nie geweet wat sou volg nie?

In “Treursang op die verdwyning van ‘n vorstehuis” word ‘n uiters siniese blik op Jesus gegee wat “helse hit” kon wees met “live show”.

“Resensie” maak onder andere van die Rut-verhaal ‘n hygroman wat in die goddelike bloemlesing opgeneem is. “Enuma elish…” neem weer standpunt in teen God wat sy seun laat kruisig het en in moderne tye na Valkenburg verwys sou word. 

Dit is gedigte wat teen my geloofsiening ingaan en ek beoordeel dit net as gedigte. Soms is dit skerp, navrant in die uitwys van teenstrydighede (geloof helaas berus nie op redelike bewysvoering of logika nie), in skerp metaforiek. Dikwels is die gedig nog té veel betoog en té min vers. Maar vir wat dit wil wees, is dit ‘n bundel wat non-gelowiges sal behaag en waarskynlik menige predikant sal aanstig om hierteen te preek.

‘n Vers soos “Desmond the Great” sal waarskynlik ook nie Tutu behaag nie.

‘n Bundel waar ongeloof ‘n nuwe geloof word. As D.J. Opperman gemeen het dat kuns boos is, dan weet die opgeleide poësieleser ook dat alles sekerlik in die digkuns besê mag word.         
Dalk is die mens se behoefte aan ‘n ander wêreld ‘n droom, ‘n “vlietende vergissing” soos Walters opmerk in “Ken julself 1”, maar dieselfde geld die digkuns! Om egter in ‘n teologiese argument of polemiek betrokke te raak, was nie die opdrag vir die boekresensent nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]