Showing posts with label Realities. Show all posts
Showing posts with label Realities. Show all posts

Monday, March 11, 2013

James Matthews - Flames & Flowers (2000)



James Matthews. Flames & Flowers. Realities, 2000. ISBN: 0 620 2689 9.

Resensent: Joan Hambidge

Diegene wat al vir James Matthews meegemaak het, sal weet: hierdie is 'n "performance" digter uit die boonste rakke. Hy weet hoe om met sy gehoor te speel. daar is ironie en 'n sardoniese aanbod. Pass me a meatball, Jones bewys dit.

Die jongste bundel met die mooi titel, Flames & Flowers, is ook 'n versameling van opstandverse. Hier word die net wyer gegooi as net die Suid-Afrikaanse situasie en daar word onder meer verwys na die geval, Leonard Peltier ('n gedig wat eers in 2000 geskryf word).

Die aanklag is teen die lot van die verdrukte mens (hier 'n 'native american') wat die (Suid)-Afrikaanse leser teen die agtergrond van ons politieke verlede lees.

Matthews se humor skroei alreeds deur op die agterblad wanneer hy beweer: "I wrote. It was not prose. Critics hyena-howled. It was not poetry, they exclaimed. I never said it was. I was writing expressions of feeling." Tog is daar by die nuutste bundel 'n wegwyser "poetry" wat hierdie uitspraak (of verdediging) ongeldig maak.

Hy wil egter as opstandskrywer gelees word:"I would find it extremely difficult writing poems of love or praise of nature. Neither would I produce lines so finely polished or use metaphors and metre - art for art's sake. I would feel like a pimp using words as decorations for my whoring...I am not a poet neither am I a writer in the academic sense". 

Die tegnieke van die orale gedig word hier ingespan: herhaling; die aanspreek van die gehoor; woede/opstand; en 'n aanspraak op 'n menslike begrip wat iewers moet bestaan...

James Matthews se poësie het meer om die lyf as die gewone praatverse. Hy gee ook aandag aan beelde en die gedigte word gekenmerk deur 'n soort self-ironie en bewustelike ondermyning van digvorme soos die ode.

as my mind is cleared of passages
of despair
my fear-filled fancies transformed into
poetical phrases
as i perceive my garden a'swirl with
butterflies frollicking
on its wings inscribed illuminated odes
to love
passages of song i need to learn
to serenade my release from melancholy   

(p. 64)

Dikwels word bekende digterlike simbole (soos die roos) nuut aangewend en van romantiese lading ontkrag. Hierom dan ook die belydenis dat sy liefdesgedigte geaborteer word.

Dis nie Lorca of Neruda nie, maar beslis sterker as die meeste guava juice-opstandverse hier te lande. Dit wys ook hoe maklik die wonde van apartheid nog bloei. En hier is ook bewys dat die digter hom sal laat voorsê dat alles nou reg is nie!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Richard Rive (Ed.) - Quartet (2008)



Richard Rive (Ed.). Quartet. Realities, 2008. ISBN 978 0 620 410 63 2.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Hierdie boek het oorspronklik in 1963 by Crown Publishers in New York verskyn. Dit is later uitgegee deur Heinemann se Africa series van 1965. Twee van die skrywers is nie meer met ons nie: Richard Rive en Alex La Guma. Nou in 2008 verskyn dit by Realities en inmiddels het die politieke en sosiale landskap verander.

Hoe ironies is dat dan nie dat daar in Afrikaans ook ‘n Kwartet bestaan nie, maar met heeltemal ander temas wat daar aangespreek word.

Die versameling tekste moet gelees en benader word as ‘n argief. Dit is presies hoe dit was om in Kaapstad te leef onder die juk van apartheid.

Die struggle word hier beskryf en al die ellendes van menswees soos armoede, sosiale ongelykheid is hier aanwesig.

Die townships van die Kaapse vlakte word in skerpte beskryf. Vir my was dit besonder relevant om hierdie versameling kortverhale te vergelyk met die digkuns Ronelda S. Kamfer waar sy in Noudat slapende honde, haar debuut, die identiteit van die huidige jong bruin geslag verwoord. (Hierdie bundel het verlede jaar by Kwela verskyn.)

“ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.”

“vergewe my maar ek is Afrikaans” (p. 32) . Die nuwe geslag leef in die sogenaamde nuwe-Suid-Afrika, maar ervaar steeds diskriminasie!

In Quartet vind die leser verskillende noemers waaronder die verhale ingedeel word: “Without Justice”, “The Dispossessed”, “The Possessed” en “The Outsider”.
Die versameling bevat ‘n kundige inleiding van Brian O’Connell, vise-kanselier van die UWK.


II.

Enige teks wat die werklikheid sy uitgangspunt maak, stel ongelooflike eise aan sy leser se interpretasie-moontlikhede. Jy wil dus invul, wysig of verander. Of saamstem. Die politieke teks moet nog steeds aan die eise van die letterkunde voldoen.

“Strike” van Richard Rive vang iets van die frenetiese bestaan van die tyd op. Pamflette wat gedruk word by ‘n fotokopieerder, ‘n verwysing na Claremont polisiestasie en die gevare waaraan mense blootgestel was.

Die slot van hierdie verhaal is ironies en meervlakkig, terwyl die vertelling van James Matthews “Azikwelwa” soos in ‘n verhaal van Jeanette Ferreira beklemtoon hoe almal deelgeneem het aan die struggle.

“They were all walking the long walk to Johannesburg”(29). Ook hier is ‘n ingeboude ironie: die verteller het nie nodig om saam met die Africans te loop nie, want hy is ‘n Kleurling. Tog voel hy hom geroepe om deel te neem aan hierdie opstand. In hierdie verhaal kom ‘n mens onder die indruk van die prys wat mense betaal het en die digter Hein Willemse se uitspraak word opnuut relevant: waar was die wit skrywers toe hierdie weerstand plaasgevind het? Hierdie vraag beantwoord Antjie Krog wel vir ons in haar digbundel Lady Anne.


III.

In “Nocturne” word eensaamheid weergegee rondom die belewenis van musiek. Binne die konteks van die res van die bundel word hierdie teks egter met ander betekenisse gelaai.
In “Debut” van Alf Wannenburgh beskryf die “official status barrier” tussen mense en hoe dit verhoudings bederf én verander het.

Hierdie verhaal aktiveer die onderliggende pyn en vooroordele wat in hierdie interaksies ingebou was.

Vir my was dit weer ‘n besondere ervaring om Rive te lees en sy skitterende teks “No room at Solitaire” is gelaai met verwysings na Josef en Maria se nag in die stalle, boonop met die verwysing na ‘n ster op Oukersaand. Vanselfsprekend met ironiese toespelings dan.

Die karakter heet Dawie Volkwyn! Wyn van die wolk, maar ook iemand wat kwyn.

James Matthews beskryf die desperaatheid van ‘n karakter wat hom oorgee aan drank in “The portable radio”.

Hier besef ‘n mens hoe die politieke ongeregtigheid infiltreer op die private sodat mense nie meer kan funksioneer nie.

Ontvlugting bly dan die enigste uitweg van oorlewing.

Elkeen van hierdie kortverhaalskrywers lewer ‘n eiesoortige bydrae, maar ‘n mens kom opnuut onder die indruk van Rive en La Guma se talente.

Rive (1931 – 1989) was ‘n kenner van Olive Schreiner se verhale en hy is wreed vermoor in ‘n oënskynlike rooftog.

La Guma (1925 – 1985) was ‘n exile-skrywer en wenner van die Lotysprys. Hy is oorlede in Kuba.

James Matthews (1929 -) is digter en uitgewer ook van beroep, en Alf Wannenburgh (1936 -) is ook ‘n kopieskrywer.

“He can no longer speak like us. He is no longer one of us” (41) word ironiese woorde en van toepassing op die oorledenes.

Gelukkig kan twee skrywers nog die vreugde van hierdie publikasie ervaar.


IV.

Dis wel jammer dat verkeerde spelwyses van Afrikaanse woorde deurgeglip in hierdie heruitgawe. Of dalk was dit met opset, om juis so die verskillende leefwyses en kulture te beklemtoon?

Ons lees van borrle in plaas van borrel, o.a.

Afrikaanse uitdrukkings word dikwels met Engelse vertalings gevolg wat die lees vergemaklik.

Hoeveel jong lesers sal nog weet wat is guineas? Of ‘n crown?

Bestel gerus jou eksemplaar van die “smokkelteks” wat nou vir die eerste keer vrylik in Suid-Afrika beskikbaar is.

En verder sou hierdie leser wou gesien het dat dit by ‘n mainstream uitgewershuis verskyn het!

”Spirit, art and mood are stronger than the world’s old ideologies”, lees ons in die voorwoord. Die funksie van hierdie boek is om mense te herinner aan hoe dit was in ‘n tyd van “sadness and decay” en die prys wat mense betaal vir bevryding.
Die boek word aan Zeke Mphahlele opgedra.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]