Showing posts with label Karina M. Szczurek. Show all posts
Showing posts with label Karina M. Szczurek. Show all posts

Tuesday, August 15, 2017

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink (2017)

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038

Resensent: Joan Hambidge

Daar was mos eers die Weduwee Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.

Die manuskrip het 'n draai gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n katterige obiter dictum nie. Jong skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan lees maar Vlam in die sneeu en kyk wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)

Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien. Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor 'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.

Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak, haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander, die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.

Sy erken haar weerloosheid in die teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60). Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole, Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer, haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige tuin ...

Vriende wat sy gemaak het en die ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.

Daar word geskryf oor liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.

Niemand is meer bedrewe om agter woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van Brink op 'n KLM-vlug.

Dit is 'n teks wat saampraat met Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About that Which Can Never Die, 1996).  Sy skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs wild with snow leopards."

'n Boek van oorgang en liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan die opposisie tussen lewe en dood.

Dit is 'n teks wat 'n mens lees om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme, aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Wednesday, July 16, 2014

Karina M. Szczurek - Invisible others (2014)


Karina M. Szczurek - Invisible othersProtea, 2014. ISBN 978 1 4853 0017 5.
Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad word hierdie roman begelei met die woorde: "Don't we all carry scars which remain invisible to others?" Hierdie roman ondersoek die impak van die Ander in die gedaante van die liefde en skryfwerk op die menslike bestaan. Die storie speel af in Parys, die primordiale stad van Lig, maar ook die stad van romantiese liefde, begoëling - besonder goed opgesom in die rolprent Paris, je t'aime, waarin verskillende filmmakers in klein vinjette die stad interpreteer vir die kyker. Op die binneflap word die roman onder meer aangeprys deur Emma van der Vliet, wat self 'n roman oor hierdie stad geskryf het.
Die roman sit vol netwerke: die skrywer is immers die eggenote van die skrywer André P. Brink, wat self hierdie stad in sowel fiksie ('n mens dink aan Die ambassadeur) as reisverhale onder die loep geneem het.

Die vrou aan die woord is intelligent, 'n skrywer op vlug, en die roman is self-bewus. Daar is verwysings na die gewete van skrywers - soos verwoord deur J.M. Coetzee en Nadine Gordimer - en die ingeboude eensaamheid of isolasie, wat die skryproses inhou.

In dié roman word Triangle, 'n roman deur die skrywende karakter, Cara, 'n vooruitwysing na haar liefdesverhouding wat in 'n werklike tragedie eindig. Cara se roman het tot gevolg dat haar minnaar, die kunstenaar Lucas Stutterheim, se vrou selfdood pleeg.

Ongenuanseerde reaksies het tot gevolg dat sy die skuld dra vir die vrou se dood en dit lei dan tot haar ballingskap in Parys, waar sy 'n Poolse navorser, Konrad ontmoet en weer herontmoet met Lucas, die kunstenaar.

Driehoeksverhoudings (triangles) is 'n belangrike kode in hierdie roman: die rol van die skrywer, teks, leser word geproblematiseer: ons kom immers as lesers ook met ons verwondings na 'n teks wat deur 'n teks oopgemaak word. Hierdie roman lewer kommentaar op liefdesverhoudings as 'n tekstuele ervaring: Žižek wat aan die begin van The pervert's guide to the cinema beweer dat begeerte iets is wat ons uit films leer ...

Konrad is 'n rustige geliefde, terwyl Lucas 'n meer aggressiewe kunstenaar is - en sy dra immers die letsels van die verhouding met hom. In hoofstuk sewentien masturbeer Cara ook voor 'n skildery van die kunstenaar, 'n portret van háár. Sy bely dit dan ook aan die kunstenaar wat dit as 'n enorme kompliment ervaar (125).

Hierdie kunswerk het sy egter verwoes toe sy gehoor het van Dagmar se selfdood, tot stomme verbasing van die kunstenaar. Hierdie is 'n belangrike vinjet vir die begryp van Cara se ervaring van intimiteit én kuns. Sy het ook swanger geraak, maar Lucas was onbewus hiervan. Sy het net 'n sonarfoto om dit te bewys.

Die roman beweeg tussen hede en verlede en die verhouding met die twee mans word afwisselend vertel. Die outeur gebruik onder andere Louis Malle se skitterende rolprent Damage (1992) as 'n interteks om die destruksie van die liefde weer te gee. Verwonde of beskadigde mense is gevaarlik - is die refrein van die film - want hulle oorleef ten spyte van die destruksie wat hulle saai. Jeremy Irons (die kabinetminister, Stephen Fleming) se lewe word verwoes deur die verleidster, Juliette Binoche (Anna) en die tragiese gevolge van hul verhouding is sy seun se dood. Soos in die roman is daar eweneens 'n media-reaksie wat striem en oordeel.


Soms lewer die implisiete outeur te veel kommentaar soos o.a. oor die tyd wat slawe in Suid-Afrika vrygelaat is of oor die figuur Mickiewicz

Ons lees ook oor wat die begrip Franschhoek beteken, usw. Dit het waarskynlik te make met die teikenleser, te wete 'n internasionale leser wat nie so bekend is met die verwysings. 'n Addendum of voetnoot sou waarskynlik 'n beter oplossing gewees het vir die soms steurende tersydes wat die verhaalgang belemmer het vir hierdie leser.

Die roman is sowel moderne liefdesverhaal as 'n analise van die impak van kuns en letterkunde op ons lewens. Beslis onthoubaar is die man wat 'n boekwinkel besoek en telkens wil kyk of vertalings korrek is en dan beweer dit is nie. Wat is sy funksie? Wat probeer hy oordra? Probeer hy sy vrou as vertaler eer? Binne die roman signifieer dit iets van die onvertaalbaarheid van ons binnespraak.

Op 'n besondere wyse word vroulike intimiteit en seksualiteit beskryf teen die fallokratiese gesag soos Hélène Cixous dit noem. Die vroue gee die leiding in die tango-toneel.

Jammer genoeg is daar sekere geykte uitdrukkings (soos "hungry lips") of te soet beskrywings van sekstonele. Maar soos Konrad dink op bladsy 203 oor Freud, wil hierdie roman ook diep insink.

Die roman is 'n metateks en die leser besef teen die slot hoe beleefde en vertelde passasies inmekaar speel: die teks eindig in Berlyn.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)