Showing posts with label Doc Immelman. Show all posts
Showing posts with label Doc Immelman. Show all posts

Thursday, November 28, 2013

Doc Immelman - Baarde, briewe en barmhartigheid (2013)


Doc Immelman. Baarde, briewe en barmhartigheid. Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 4853 0011 3.
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie handvol rubrieke Baarde, briewe en barmhartigheid van Doc Immelman word op die agterblad deur Erns Grundlingh beskryf as “Namibië se eie Hemingway”. Nou ja, as dit so is, kan ‘n mens my die Emily Dickinson van Suid-Afrika noem.

Hemingway was ‘n baie spesifiek gekodeerde skrywer en hierdie enigsins lawwe uitspraak verminder nie heeltemal die bydrae van die stukke nie. Die rubriek is immers altyd róndom ‘n persoonlikheid of persona gebou. Die goeie rubriekskrywer het ‘n handtekening en kan sy leser verras. Dana Snyman se  kenteken is ‘n skeutjie nostalgie plus ‘n opsommende einde. Johan van Zyl wissel weer sy aanslag af: humor, erns, bitsigheid, nostalgie.

Hoe lyk ‘n Immelman-rubriek wanneer ons die twaksakkie oopmaak?

Helder, konkrete beskrywings soos onder meer in die aangrypende bydrae oor die dood van ‘n hond (“Eros”) en enige persoon wat diere liefhet, sal met hierdie stuk kan identifiseer. Dit is geskryf in ‘n onderbeklemtoonde sleutel en sonder fieterjasies met ‘n treffende slot.

In “Raaisels” word daar ‘n bietjie gespot met die menslike kondisie. Wat is die toppunt van eensaamheid? Wanneer jy in die spieël kyk en niemand sien nie.

“Met verkyker en verkyk” word ‘n stoutigheid met die leser gedeel. Iets waarmee hierdie geliefde rubriekskrywer kon wegkom, omdat hy dikwels intieme ervaringe met sy leser deel oor olifantjag en ander jagervarings.

Gebou rondom die ervarings en mymeringe van die storieverteller en jagter, gee die rubrieke ‘n kykie in die lewe van die skrywer. Die rubrieke is gestroop en essensieel. Daar is nie ‘n woord uit sy plek nie, omdat die rubriekskrywer gewoonlik nie meer as 900 woorde het nie.

Intelligent en onderhoudend laat hy hom uit oor die funksie en betekenis van dagboeke en hy moedig lesers aan om elke dag ervarings op te teken sodat hulle ervarings jare later betekenisvol sal wees.

Hierdie bundel is Immelman se tweede versameling rubrieke van die “meesterstorieverteller” en geliefde Namibiese skrywer. Dit vang ‘n bepaalde tydsgees vas en soos met enige rubriekskrywer sal daar bepaald aanhangers wees.  Vir diegene met ‘n knipmes en botteloopmaker. Dis ook vir jagters en sommer net vir diegene wat hou van ‘n netjies geskrewe rubriek oor uiteenlopende onderwerpe. Pretensieloos is dit. Dit volg op die vorige versameling Ruacana tot Rosh Pinah (2011).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Thursday, January 24, 2013

Doc Immelman - Ruacana tot Rosh Pinah (2010)



Doc Immelman. Ruacana tot Rosh Pinah. Protea  Boekehuis, 2010.  ISBN 978 1 86919 436 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Konsertinahek is ‘n smoelslaner. Aan die woord is Doc Immelman (wat al veertig boeke gepubliseer het) en hier in sy rubrieke gesels oor die ou Suidwes, kampvure, jag, rooi duine…

F.A. Venter was indertyd redakteur van Die Suidwes-Afrikaner en later Frans van Zyl, redakteur van Die Suidwester, het Immelman as rubriekskrywer aangestel. Die foto’s op die voorblad en agterste binneflap vertel van ‘n lang lewe.

Die boek bevat ‘n handige lys met woordverklarings. Die rubrieke is leersaam, onder andere oor Cuca-bier wat kinien bevat (33) en nostalgies. ‘n Spanning tussen toe en nou is dikwels hier aanwesig. Name word verander (om skuldiges te beskerm); dus is hier ook sprake van fiksionalisering. Elke rubriekskrywer weet immers dat jy moet aanlas en bylieg om die rubriek te laat werk. ‘n Oop slot vind ons byvoorbeeld in “Die geheim van die swart sak” waar die leser en verteller bly wonder oor wat toé gebeur het. 

Sy bydrae  “’n Rubriek oor rubrieke” analiseer die lot van die rubriekskrywer baie skerpsinnig. Daar sal altyd iemand iewers wees wat jou beskuldig van iets onaangenaams, ‘n les wat die skrywer by W.A. de Klerk geleer het.  Onthou jy nog die uitdrukking “ek was jonk en vol asyn”?

Daar is ‘n huldeblyk aan Langenhoven en ‘n leersame stuk oor mahangu. Sy beskrywing van Windhoek vyf-en-dertig jaar gelede is onthoubaar. Die boek vertel ook van Angola en daar is ook ‘n naba-resep in!

Kwinkslae is daar en ‘n liefde vir landkaarte. (Geweet as jy ‘n plaas se naam verander, roep jy ‘n vloek oor die grond uit?)

Soos daar inderdaad bely word: jy kan die nostalgie afkrap met ‘n mes. As jy die woorde ken van die Suidwes-lied, praat van ‘n Stammtisch of weet wat ‘n agarob is, moet jy beslis die boek aanskaf.

[Hierdie resensie het vantevore in Media24 verskyn.]