Showing posts with label Ken Barris. Show all posts
Showing posts with label Ken Barris. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Ken Barris - Evolution - a novel (1998)



Ken Barris. Evolution - a novel. Zebra Press, 1998. ISBN 1 86872 248 1.

Resensent: Joan Hambidge

Ken Barris se The jailer's book (1997) het verlede jaar tereg die M-N-boekeprys in die Engelse kategorie verower. Vir sy kortverhaalbundel Small change (1988) het hy die Vita-toekenning otvang en as digter die Ingrid Jonker-prys vir An advertisement for air (1993).

Sy jongste roman Evolution - a novel. In die kolofon word vermeld dat Dineke Volschenk die redakteur was van hierdie roman. Sy het al uitstekende werk gedoen veral met André Letoit se romans.

Evolution is 'n interessante roman. Dit werk teen die agtergrond van die leser se kennis van evolusie en : die roman is ook 'n proses van evolusie wat 'n mens meemaak. Jessica Kruger besluit om te skryf oor oupa, Eugene se geheime liefdesverhouding met die “bediende” Jolene Galant. Eugene is 'n dosent aan onderwyskollege in Franschoek.

Die tyd is 1937 en dit aktiveer Afrikaner-Nasionalisme, die Tweede Wêreldoorlog en Afrikaner-mores op sy  ergste. Eugene is nie alleen besig om die kerk en die gemeenskap se religieuse waardes te “ondermyn” nie, maar hy is ook besig om 'n verhouding, en daar is vir hom werklik liefde op die spel, met die bruinvrou, Jolene te hê.

Ook sy vrou Anfra word helder geteken as 'n gerepresseerde Afrikaner-nooi. Die eerste seksuele ervaring met haar warmbloedige eggenoot is 'n teken van Barris se vermoë om suggestief te kan skryf(p. 87).

Ons het in wese drie verhale in hierdie roman wat evoluerend op mekaar inwerk. Die kleindogter Jessica se verhaal (1996). Sy het 'n verhouding met 'n swart man, te wete Teboso Ngqayimbana (haar antropologie dosent). Die ontmoeting tussen hom en haar ouers, 'n klassieke “guess who's coming to dinner” aktiveer 'n steeds voortslepende konserwatisme in hierdie land.

Jessica het 'n ander blik op sake. En dit maak haar dan opgewasse vir die skryftaak en navorsing oor die familiegeheim, te wete die oupa se liefdesvergryp. Op 'n slim manier aktiveer Barris dan ook die historiografie en in welke mate moderne geskiedskrywing sterk oraal gebaseer is en werk met her-skrywing. In die derde en laaste afdeling besoek sy die ou vrou, Jolene en háár perspektief op die gebeurde is weer anders as wat Eugene dit ervaar het of Jessica dit wil neerskryf.

Tussendeur is daar ook die leser wat al-lesende meemaak aan hierdie proses van evolusie. Nie alleenlik is die geskiedenis en sieninge oor evolusie wat verander het nie, maar ook die leser se vashouplek op die storie wat voor hom/haar gekonstrueer word.

Die oupa word ter take geneem deur sy kollege wat hom tug oor sy moderne sieninge. Die leser van nou weet egter dat dit juis die kennis van evolusie is op alle vlakke wat tot gevolg het dat 'n mens hierdie spronge in tyd kan saam-lees. Elke stuk vertelling  verïroniseer of relativeer 'n vorige stuk “geskiedenis”. Elke mens onthou of wil onthou soos wat sy/haar ideologie dikteer.

En die outeur?  Ek meen dat hierdie roman vernuftige kommentaar lewer op die ewolusie-proses in die roman. In die laat-neëntiende eeuse roman is die skrywer aanwesig deur opsommende hoofstuk-titels, klein kommentare. In die laat twintigste-eeuse roman is die skrywer afwesig. Die leser word die skrywer wat die roman moet voltooi of “invul”.

Barris speel vernuftig met die tradisie van die roman. Die romanskrywer is nie meer soos Flaubert soos God orals aanwesig nie. Die moderne roman maak van die leser 'n medespeler en 'n klein godjie.

Moet egter nie bevrees wees nie. Dit is nie 'n geleerde roman wat die leser sal afskrik of vervreem nie. dit bly steeds 'n roman oor die menslike kondisie en daardie ewige emosie, naamlik die liefde, wat betekenis gee aan alles.

Vir my kry die roman werklik vaart vanaf die tweede afdeling. Die eerste gedeelte klink die karakters nog te veel na romankarakters wat “praat” asof hulle in 'n roman is.

Ken Barris is 'n romanskrywer om dop te hou. Hy skryf vir die intelligente én gewone leser. En dit is waarskynlik die werklike kuns van 'n goeie romanskrywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 16, 2013

Ken Barris - African Easter (2005)



Ken Barris. African Easter. Protea Boekehuis, 2005. ISBN 1 86919 123 4.

Resensent: Joan Hambidge

Die mooi klinkende titel African Easter van die bekende romanskrywer Ken Barris roep vanselfsprekend T.S. Eliot se Four quartets (on)bewustelik op by die leser.

Die voorblad met skulpe – dalk ook ‘n heenwys na die ‘periwinkle’ (alikruik oftewel maagdedeblom)van Wallace Stevens? – en die Afrika-masker, vrugte en ander simbole en vrugte wys op die dubbelkantige aard van die bestaan hier in Afrika.

Time present and time past

Are both perhaps present in time future.

And time future contained in time past, dig Eliot in “Burnt Norton”. In die openings- of programgedig, p. 7 verwys Barris na die Amerikaanse en Britse “Imagists” (“they were modern / men and women who knew exactly / how to write poetry”). Digters soos H.D. en Marianne Moore het hiertoe beweeg, saam met die grote Pound.

En soos hulle dus in die omgangstaal sê: ‘n hoë afskop wat die presies-verliteratuurde aard van die bundel wil beklemtoon of op die voorgrond plaas.

In hierdie opsig is Barris dan ‘n Imagist. Sy gedigte is reguit en sonder fieterjasies. Dit is ‘konkrete’ gedigte wat sterk emosies oordra en die leser aktief betrek.

Wat van hierdie bundel ‘n besondere leeservaring maak, is die digter se vermoë om mense raak op te som, hulle letterlik te teken: tantes wat teedrink, terwyl ‘n eensame vroutjie op haar eie sit; herinnering aan sy ma se kos; skuldgevoelens oor aborsie, ensomeer. 

Die gedigte verraai ‘n verwikkelde, ambivalente verhouding met woorde; ‘n mens dink hier aan “Words” (p. 12) en die gedig oor Ezra Pound, ‘n digter bekend om sy moeilike, modernistiese verse. Pound se siening van die digkuns  was dat ‘n gedig suiwer en kompak moet wees, sonder vreemde of poëties-klinkende woorde (Bron: www.Imagists on 
Encyclopedia.com). Kyk ook na die gedig “Ideograms” (p. 36) in hierdie verband.

Pound weer op sy beurt se lewe het egter weens sy politieke uitsprake ‘n ander loop geneem en die digter vra tereg in die slot van “Ezra Pound” (p. 34) of die prys wat hy hiervoor betaal het, die moeite werd was.

In “Words” (p. 12), ‘n klein ars poetica, word die skryfdaad gelyk gestel aan die verloop van ‘n liefdesverhouding. Die digter verbind dus die sogenaamde verwikkelde proses aan iets wat vir die leser herkenbaar en eie is. “The prodigy” (p. 13) gee op sy beurt ‘n skerp blik op die jong godinnetjie wat later juis in ‘n mislukking verval vanweë die druk en verwagtinge van mense om haar.

By Barris is die diguns ‘n dialoog met die self en die wete dat mense maskers dra en in “What poetry is left” (p. 22) vra die post-post moderne digter vrae oor die betekenis en funksie van die digkuns wat gekoppel word aan die alledaagse herhalings, die verloopte liefde, die uitgebakte politieke posisies wat mense inneem. Ironies genoeg staan hierdie gedig langs “Life must have a purpose” (p. 23) met sy Tsjekof-aanslag. Eenvoudig briljant!

“There is a device” (p. 24) vra vir ‘n saamlees met Sklovsky, die bekende Russiese Formalis en kenner van die digkuns, se uitsprake, maar wees asseblief gerus: vir die speurende akademiese leser is hier die plesier van intertekste, gesprekke wat nie beteken dat die gewone leser uitgesluit sal wees van die gedigte as emosionele artefakte nie.

Juis hierom is die bundel so geslaagd; dit funksioneer op albei vlakke van emosioneel en ‘slim’ wees.

Daar is verse waarin die metafisika beskryf word: o.a. “Ghosts” (p. 60)– wat ‘n ‘poetry of differences’ vergestalt” – die aangrypende “The angel visits” (p. 61) wat saampraat met die Duitse filmmaker Wim Wenders se beroemde Wings of desire.

Of ‘n kind wat vlugtig ‘n dooie sien en waar die ouers dit bloot as ‘n ooraktiewe verbeelding afmaak in “A glimpse”(p. 27)...

Eweneens onthoubaar is “The death of Glenn Miller” (p. 37) :

High above a pewter sea
wrestling forever with its own
agony of music and silence,
he marks time ....

Dis waarskynlik een van die grootste prestasies van hierdie bundel waarin hierdie soort opposisies treffend beskryf word.

In “Township air”(p. 30) word die maan ‘n vuil muntstuk, terwyl die indrukwekkende “Moles in the pool”(p. 31) ‘n soort helderheid ten spyte van die verrotting of ondergang probeer beskryf.

Agterin bely die digter dat hy deelgeneem het aan die UCTPoetryWeb, ‘n e-pos-forum waarin gedigte afgerond word. Wat bewys (opnuut) dat die skryf van gedigte ‘n harde en veeleisende taak is. Mazeltov!

En daardie geluk gaan aan sowel die uitgewer, Protea Boekhuis as die digter.

Om op te som: dit is ‘n bundel van ‘n behendige digter wat ‘n veelheid van temas aanspreek, maar in die eerste instansie sy gedigte aanbied as goed-afgewerk, poëtiese artfefakte wat veral vir diegene wat dink ‘n gedig moet die “klip klipperiger maak”, sal imponeer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]