Showing posts with label Harper Lee. Show all posts
Showing posts with label Harper Lee. Show all posts

Tuesday, March 1, 2016

Joan Hambidge - ‘Mockingbird’ se Lee bewys steeds statuur


Harper Lee is op 19 Februarie oorlede.

Die verloop van tyd het nie die ontslape skrywer Harper Lee se roman To kill a Mockingbird ingehaal nie, skryf Joan Hambidge.

Dit het meer as 40 miljoen eksemplare verkoop en is in meer as 40 tale vertaal.
Die boek het ’n Pulitzer en die Presidential Medal of Freedom verower en kan as ’n moderne klassieke roman beskou word.

Dit is die verhaal van Scout en Jem en hul blik op rassediskriminasie wanneer hul vader, Atticus Finch, ’n swart man, Tom Robinson, op ’n aanklag van verkragting moet verdedig. Die vrou se klag, so argumenteer Atticus, het gespruit uit haar skuldgevoelens omdat sy ’n swart man wou soen.

Hy word egter deur die jurie skuldig bevind, hardloop weg en word per ongeluk doodgeskiet. Die kinders is aanvanklik vreesbevange vir die buurman Boo wat hulle uiteindelik red wanneer Bob Ewell wraak neem en die kinders op Allerheiligeaand (Halloween) probeer beseer.

Die hof beslis dat Ewell deur sy eie mes gedood is, maar die leser besef dat dit waarskynlik Boo was. Alles speel af in die dertigerjare in die verbeelde Maycomb, Alabama.

Die rolprentweergawe (1962) met Gregory Peck is deur Robert Mulligan geregisseer en bly ’n juweel van prent.

Dit begin met ’n simboliese boksie met figuurtjies en ’n horlosie daarin geberg.

Deur die jare moes Lee skinderstories trotseer dat sy nie die skrywer van hierdie roman was nie, maar eerder haar briljante jeugvriend, Truman Capote. (Is die maatjie Dill byvoorbeeld gegrond op ­Capote, of nie?)

Go set a Watchman het ver­lede jaar media-opslae gemaak en onmiddellik is die twee boeke teen mekaar afgespeel.

In my bespreking vir Die ­Burger (8 Augustus 2015) het ek daarop gewys dat ’n mens dit as twee afsonderlike tekste moet benader. Twee tekste, waarvan die een uit ’n jeugperspektief op rassespanninge en haat kommentaar lewer, en die ander uit ’n volwasse blik.

Lee was haar lewe lank die gevangene van die suksesverhaal van haar roman. En haar vriendskap met die komplekse en grensoorskrydende Capote het haar ook in die spervuur laat beland wat oorspronklikheid betref.

Uiteraard het Capote haar heel waarskynlik van raad bedien en voorgestel dat sy die belewenisse van ’n kind ondersoek, soos hy in The Grass Harp (1951) gedoen het.

Capote het dit as sy gunstelingwerk uitgesonder – dit is egter ’n sentimentele werk en ’n mens besef dat Lee haar juis teen sentimentaliteit verweer het.

To kill a Mocking Bird is gegrond op ’n werklike insident, net soos Capote se In Cold Blood ’n werklike moordsaak ondersoek.

Eersgenoemde teks word deur vertelstrategieë briljant in ­bedwang gehou; laasgenoemde teks is “new journalism” en ­gebruik joernalistieke tegnieke om die verhaal te laat voortstu.

Inderdaad was hulle jeugvriende en Capote was openlik homoseksueel, terwyl Lee se gendervoorkeure (Scout) vanselfsprekend is.

Albei ondersoek die komplekse verhouding tussen ’n Alabama-jeug en ’n volwasse lewe in New York – voortdurende spanning dus tussen die Diep Suide en ’n metropool-bestaan van vryheid, wég van die Bybelse voorskrifte van die jeug.

To kill a Mockingbird word elke jaar in Monroeville opgevoer en die hofsaal is as ’n museum vir besoekers bewaar.

Skynbaar was Lee gaande oor die fliek Capote met wyle Philip Seymour Hoffman in die hoofrol en Catherine Keener as Lee, die mede-reisiger wat Truman van raad moet bedien en teen woestelinge moet beskerm.

Wat ’n skrywer is Lee steeds.

Sowat drie jaar gelede was dit ’n susterskind se matriekvoorgeskrewe teks in ’n Johannesburgse privaatskool. Ek lees dit weer en help die jongeling (se ma) met die struktuur van die boek.


Toe vergelyk ek dit met Capote se eerste werke en weet hy het dit (Go set a Watchman) beslis nie geskryf nie.

© Joan Hambidge

Saturday, August 8, 2015

Harper Lee – Go set a Watchman (2015)



Harper Lee – Go set a Watchman. Penguin Random House, 2015. ISBN 978 1 78 515028 9

Resensent: Joan Hambidge

Nog selde was daar soveel publisiteit rondom ‘n boek as met Harper Lee se Go set a Watchman. Die boek se verspreiding was onder embargo geplaas tot een minuut na vyf op die 14e Julie 2015. Daar is ook ‘n Audio-boek wat Reese Witherspoon voorlees.

Dit skep uiteraard ‘n hele verwagtingshorison rondom die roman. Gaan dit so goed wees as To Kill a Mockingbird wat ‘n Pulitzer en die Presidential Medal of Freedom verower het? En die siniese kritikus weet (by voorbaat): die roman sal goed verkoop ónafhanklik van die kritiese resepsie.

To Kill a Mockingbird is Amerika se Die swerfjare van Poppie Nongena.  Dit het meer as 40 miljoen eksemplare verkoop en is in meer as 40 tale vertaal.

Go set a Watchman is 'n roman uit die Diep Suide, meer spesifiek uit die vyftigerjare. Daar is vrouens wat korsette dra. Daar is rassespanninge. Tragedies is "a mighty sad thing". Ons lees van die Ku Klux Klan. Was Atticus hierby betrokke?

Hoe lees ‘n mens Go set a Watchman? Op die voorblad is daar op die agtergrond ‘n afbeelding van To Kill a Mockingsbird, ‘n uiters komplekse en hartgrypende roman wat in 1960 verskyn het. Dit is die verhaal van Scout en Jem en hul blik op rassediskriminasie wanneer hul vader, Atticus Finch ‘n swart man, Tom Robinson, moet verdedig teen ‘n klag van verkragting. Die vrou se klag, so argumenteer Atticus, het gespruit uit haar skuldgevoelens, omdat sy ‘n swart man wou soen. Hy word egter deur die jurie skuldig bevind, hardloop weg en word per ongeluk doodgeskiet.  Die kinders is aanvanklik vreesbevange vir die buurman Boo wat hulle uiteindelik red wanneer Bob Ewell wraak neem en die kinders probeer beseer tydens Halloween. Die sheriff besluit dat Ewell deur sy eie mes gedood is, maar die leser besef dat dit waarskynlik Boo was. Alles speel af in die verbeelde Maycomb, Alabama in die dertigerjare.

Die filmweergawe  (1962) met Gregory Peck is deur Robert Mulligan geregisseer en bly ‘n juweel van film. Dit begin met ‘n simboliese boksie met figuurtjies daarin geberg. En onder andere is daar ‘n horlosie in.

En dit is hoe ‘n mens hierdie twee tekste moet benader: as ‘n boksie wat jy oopmaak. En hoe tyd aanbeweeg het. (Of dalk nie? Ons weet dat daar steeds rassespanninge hier woed.)  Go set a Watchman verskyn in 2015 en is glo eerste geskryf. ‘n Bekwame uitgewer het vir Harper Lee aangeraai om die gegewe vanuit ‘n outentieke kindersperspektief aan te bied. Go set a Watchman word hoofsaaklik vanuit die derpersoonverstelling aangebied en ten spyte van die negatiewe reaksie op hierdie roman, het ek dit baie geniet.

Dit het my teruggeneem na baie kwessies róndom die verhouding tussen eerste teks en tweede teks. En die impak van publisiteit. (En die filmweergawe en die impak van outobiografie op die skryf van ‘n roman.)

Verder was daar ook ‘n skinderstorie in die VSA in omloop dat die eintlike skrywer van To Kill a Mockingbird eintlik Truman Capote was. Dit is egter ‘n omstrede siening veral gedagtig aan die outobiografiese merkers in die teks.

In die film Capote (Bennett Miller, 2005)  vertolk Harper Lee (met Catherine Keener) 'n klein rolletjie as die vriendin van Truman Capote wat sy roman oor die Kansas moordenaars skryf. Philip Seymour Hoffman wórd Capote.

“If they win this appeal,” he tells his friend Harper Lee, “I may have a complete nervous breakdown.” After they are hanged on April 14, 1965, he tells Harper, "There wasn't anything I could have done to save them.” She says: “Maybe, but the fact is you didn't want to.” (Capote Movie Review & Film Summary (2005) | Roger Ebert)

Die verskil is: Capote het bedenklike morele kanse geneem; Lee nie.  Hy het immers bevriend geraak met die moordenaars om hul storie te kry.

Vir sommige lesers verpletter Go set a Watchman die morele posisie van die eerste roman.

Dalk moet ‘n mens eerder die twee tekste as aparte romans lees. Scout is nou immers Jean Louise Finch wat teen die einde van die roman weer Scout word.

Die titels van die twee romans is eweneens relevant: die “mockingbird” mag nie doodgemaak word nie en word ‘n simbool van onskuld wat deur die gewelddadige ervarings wat die kinders meemaak, tog vernietig word.

Go set a Watchman verwys na Jesaja en waarskynlik Ou-Testamentiese vergelding, aldus 'n teoloog.

Jesaja 21:6 (“Gaan heen, sit 'n wag uit en laat hom sien”).

‘n Ouer persoon wat terugkeer na die “scene of the crime” vanuit die gesofistikeerde New York lê aan die basis van hierdie roman.

Behalwe vir die geweldige publisiteit en verkope is hierdie tweede roman waarskynlik, vir die meeste lesers altans, ‘n bewys dat ‘n mens nie moet peuter aan ‘n klassieke teks wat diep in mense se harte ingekruip het nie. Maar dit is ook ‘n mylpaal vir die redigeringswerk van ‘n ingeligte redakteur wat ‘n skrywer kon vra om iets anders te lewer.

Vele skrywers het al gesukkel om ‘n groot roman te troef met ‘n volgende. Maar as ‘n roman jou inspireer om weer To Kill a Mockingbird te lees en die film te kyk en na te dink oor presies wat is ‘n “taffeta dress”, dan het dit meriete. En in beide tekste word daar subtiele genderkommentaar gelewer. Onthou Lee en Capote was groot vriende. Nie net word konvensies rondom ras bevraagteken, maar ook rondom manlik en vroulik. Die jong dogtertjie wil nie rok dra nie.

Is Dill gebaseer op Capote? En die verwysings na hom in die pas gepubliseerde roman dui ook op 'n spanning tussen die outeur en Capote.

Die twee romans het 'n komplekse verhouding met die werklikheid, rassisme en die skryfproses. En hoe outobiografie verander word tot verbeelding.