Showing posts with label Leon de Kock. Show all posts
Showing posts with label Leon de Kock. Show all posts

Sunday, May 26, 2019

Polemies | Sexton – Brink – De Kock

I

Leon de Kock se biografie van André P. Brink (André P. Brink en die spel van die liefde) aktiveer 'n belangrike debats- en brandpunt. Wát mag in 'n biografie opgeneem word en wát moet liefs verswyg word?

Is dit dalk hierom dat Barthes sy outobiografie in die derdepersoon geskryf het: Roland Barthes par Roland Barthes?

V.S. Naipaul het indertyd opgemerk dat hy nie omgee wat oor sy turbulente lewe geskryf word nie. Kennelik 'n man wat gevoel het dat sy romans steeds sou bly staan.

My life is short. I can't listen to banality.

Daar is ook skrywers wat soos 'n poppemeester beheer word deur die biograaf sodat lesers wat die werklike skrywer geken het dikwels voel dis 'n hagiografie.

Mag 'n ander mens ingesleep word by die skrywer se vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word? Hoe gemaak met 'n kwalik-bedekte skuilnaam, terwyl almal weet wié Mevrou so-en-so presies is?

Die biografie het nou oorgespoel na 'n ander dimensie met die biograaf wat beskuldig word van rassisme, 'n uitgewer wat hulle glo wil distansieer van hom indien dit waar is en verdere berigte oor 'n opname in 'n inrigting.

Ek het reeds in my resensie geskryf dat 'n Janet Malcolm-analise (via haar knap analise van Plath) gemaak sou kon word van die biograaf se belangstelling in die skrywer – 'n insig gepubliseer vóór die hele debakel. De Kock is immers die skrywer van 'n roman met die titel Bad Sex; Brink het bad sex ondersoek in al sy avatare.

Truth is always stranger than fiction.

II

Kom ons beweeg buitedie arena van Suid-Afrikaanse landskap na die VSA om hierdie problematiek beter te begryp.

An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski wat by Routledge in 2012 verskyn het, is 'n relevante toetsgeval. De Kock verwys eweneens na Sexton in sy studie.

Anne Sexton (1928 - 1974) was (en bly) 'n belangrike Amerikaanse digter wat belydenisverse geskryf en uiteindelik selfmoord gepleeg het, onder andere weens bipolariteit. Sy sien 'n terapeut, ene dr Martin Orne, wat haar aanmoedig om gedigte te skryf om die pynlike verhouding met haar vader te verwerk.

Sy was 'n tydgenoot van Robert Lowell en Sylvia Plath, beide troebel figure, maar uitstaande digters.

The Awful Rowing Toward God (1975) is een van haar belangrikste bundels. Uiteindelik vergas sy haarself tuis in haar motor.

Diane Middlebrook, haar biograaf, ontvang bande van dr Orne waarin sy suggereer dat sy haar dogter seksueel aangerand het en dat sy deur haar vader gemolesteer is. (Die dogter het toestemming gegee dat Middlebrook dit mog gebruik en nadoods het die dogter Linda Gray as redakteur van haar versamelde gedigte opgetree). Die biografie verskyn in 1991, uitgegee deur Houghton Mifflin Company.

Problematies dat die terapeut hierdie inligting verklap het. En nog meer problematies: wat is waar? Wat is fantasie?

In 1994 publiseer die dogter haar memoir: Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton. (Little, Brown & Company).

Johann de Lange het haar in een van sy vadergedigte verewig en die uwe het eweneens in gesprek getree met haar.

So lui De Lange se vers:

Pa

Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

Sexton se gedig "All my pretty ones" is 'n klassiek:

So lui die slot:

I hold a five-year diary that my mother kept
for three years, telling all she does not say
of your alcoholic tendency. You overslept,
she writes. My God, father, each Christmas Day
with your blood, will I drink down your glass
of wine? The diary of your hurly-burly years
goes to my shelf to wait for my age to pass.
Only in this hoarded span will love persevere.
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.

III

Karina Szczurek © Conrad Bornman

Mevrou Brink die Vyfde het die joernale aan De Kock gegee. En toe sy besef dat die biografie ontspoor, dit probeer terugeis.

Vir my gevoel is sy verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie – volgens my – vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders.

Hierdie hele onaangename insident bewys opnuut dat dit beter is om net die romans of gedigte te lees en nie kennis te neem van die gebroke / morsige "mens agter die boek" nie.

Joernale mag psigoanalities en teoreties beskou word, maar dan nie met so 'n skinderlistige aanslag nie.

Monday, May 20, 2019

Resensie | Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefde (2019)

Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefde. Jonathan Ball, 2019. ISBN 9781868427949

Resensent: Joan Hambidge

Nommer Asseblief!

Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.

Brink was en bly 'n belangrike teoretikus, 'n uitnemende kritikus, behalwe oor Karel Schoeman se werk of 'n paar opponente soos Pieter van der Lugt wie se digkuns hy verminder het. As hy gedink het Eleanor Baker skryf goed, moes Rita Gilfillan en Jorda Louw uit die pad gevee word.

As 'n romanskrywer het hy etlike bakens geskep: Lobola vir die lewe, Die ambassadeur, Kennis van die aand, Inteendeel, om 'n handvol te noem.

Sy dwarsklap na Nadine Gordimer wys op 'n breuk tussen die openbare beeld en persoonlike siening: applous vir Gordimer in die openbaar; venynig agter die hand. Hy noem haar 'n "colonial Tory" (166).

Die skrywer Wilhelm Liebenberg, wat die voortreflike parodie As die nood hoog is (1993) gepubliseer het, kry wel die kans om sý kant van die saak te stel as voormalige kollega van Brink op Rhodes. 

Brink se werkvermoë en -drif is bekend: kyk gerus na sy bydrae ook as vertaler en mentor vir ander skrywers. Sy politieke profiel en optredes kan eweneens vermeld word, nes sy kritiek op apartheid en sensuur. 'n Ware Don Kiesjot. (En dit is 'n roman wat hy vertaal het en waaroor hy insigryk geskryf het.)

Sy verhouding met Ingrid Jonker is opgeteken in Vlam in die sneeu (2015). In hierdie briefwisseling sien 'n mens Brink in aksie: venynige opmerkings o.a. oor wyle Chris Barnard. Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as 'n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie/Wallace-beurs. Ek bly egter steeds wonder: hy was tog 'n gevestigde skrywer met 'n internasionale aansien. Met twee huise, nie waar nie? Nou blyk die geldnood in die biografie...

'n Vurk in die pad word dan ook bittergou 'n Vark in die pad (soos 'n woedende literator homself weerspreek het). 

Leon de Kock had toegang tot die handgeskrewe joernale geskryf in die “teenwoordige tyd onvoltooid". Die laaste eggenoot, Mevrou Brink die 5e, het dit aan hom oorhandig en subiet was daar in die kusdorpie waar ek woon, bespiegel oor of die ander vroue hiermee gediend sou wees? 

Skuilname word gebruik om mense te "beskerm", maar 'n literêre speurder weet onmiddellik wié Angela is, en in Hoofstuk 8 ("Verootmoediging") word 'n minnares wat met Brink ʼn verbintenis had as ene Yvonne beskryf. Ook hier wis ek van wie gepraat word en 'n mens kan maar net dink wat Yvonne en Xavier hiervan gaan dink. Dieselfde geld die vierde mevrou Brink waaroor ander mense, lewend en dood, negatiewe kommentaar lewer.

Of hierdie boek 'n mens help om die skrywer se liefdesobsessies en ambivalensies beter te verstaan, is wel so. 'n Mens kry bepaald insig in 'n komplekse en gedrewe persoonlikheid. Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor 'n eggenoot van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen.

Na die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: "Dit staan tog in die gedigte opgeteken."

Helaas nie. 'n Gedig is nie op 'n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012). (Daar word na Sexton verwys in 'n voetnoot.)

Dieselfde geld die joernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid, en 'n "naked I", op 'n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in 'n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale (86). Die beheptheid met seks is reeds in die jeug gewortel en die sublimasie van ervarings en teleurstellings word behendig ondersoek. 'n Mens word as leser ontstel oor 'n jeugervaring met die vader, 'n landdros, se optrede teenoor 'n verskoppeling. Hier word Brink se sin vir geregtigheid gebore wat hy in vele politieke romans sal uitspeel. Die verhouding met die ouers (en die invloed op die skrywer se psige) word helder geteken.  Die soeke na die moeder se goedkeuring loop deur sy lewe.

Die kyksug (skopofilie) van die outeur Brink word behandel (178). Buitelandse resensente se negatiewe kommentaar word geanaliseer; nes die Bad Sex in Fiction-toekenning. Ook die skrywer se onsekerheid oor sy eie vermoëns as skrywer.

As jy lus is vir inluister op die plaastelefoon, is dit die boek vir jou. Nommer Asseblief! Drie lang luie en dis jy. De Kock is inderdaad 'n behendige biograaf: gedistansieerd en analities. En pakkend geskryf.  Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van 'n vriendin (241).

Soms is daar 'n voetnoot waar die biograaf sy eie lewe betrek, byvoorbeeld die verwysing na die predikant wat Salomi Louw en Brink in die eg verbind het of in die erkennings.

Die "Brink-tuisargief", soos De Kock dit noem, is deur onderhoude en gesprekke verder geredigeer. Jammer vir onooglike setfoute: finansieël (351, 352, 353), paralelle (176), Andre (177), Eugene (194), potensieël (198), implikase (303) Epos (405), heroïse (426).

As jy glo dat mense die reg tot privaatheid het en daar is iets soos dekorum, lees maar liewers die skrywer se boeke. Want jy gaan 'n hele paar keer stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.

Lewende mense word nou in hierdie kou vasgevang saam met die veelkantige skrywer, Brink. 'n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader (o.a. Bad Sex gepubliseer in 2011). 'n Mens sou dan 'n psigoanalitiese studie, via Janet Malcolm, kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.

Openhartig, onverbloemd en ongehoord. 'n Fuik in die pad? 

Monday, February 25, 2013

Leon de Kock - Gone to the edges (2006)



Leon de Kock. Gone to the edges. Protea Boekehuis, 2006. ISBN 1 86919 132 3.

Resensent: Joan Hambidge

Leon de Kock is ‘n uitmuntende vertaler wat alreeds bekroon is vir sy Triomf-vertaling. Hy is digter, bloemleser en akademikus. Sy The heart in exile – saamgestel saam met Ian Tromp – gee ‘n blik op Suid-Afrikaanse Engelse digkuns (1990 – 1995). In hierdie bloemlesing vind ‘n mens twee besonderse verse oor die einde van ‘n verhouding deur Peter Wilhelm: “On her departure” en “Divorce”.

Wilhelm gebruik die sterk beeld “Love isn’t a hacksaw / to hack up the heart’s dark cage”. En liefdesverse, so weet ons, gaan meer oor die afwesige geliefde as ‘n / die aanwesige beminde. In De Kock se bundel word die programgedig, “I have gone to the edges”,  op die agterblad afgedruk. Die leser word pertinent bewus gemaak dat die einde van ‘n spesifieke verhouding hier onder die loep geneem word ( Afdeling I : “After the death of mariage: 2003 – 2004”) met al die komplekse emosies van verwonding, liefde, haat, opstand, wrewel wat so ‘n skeiding behels. 

Daardie komplekse “odi et amo” waaroor Catullus gedig het en ons almal ken Matthew Arnold se “Dover beach” en Anthony Hecht se woedende, vernietigende parodie:”Dover bitch”.

Wallace Stevens het immers geskryf dat poësie ‘n binneste opstand is wat ons beskerm teen die geweld van buite. En die woede-vers, sal ons Boeddhisties weet, is net die anderkant van die liefdesmunt. Solank as wat jy nog woede ervaar oor die (eks)geliefde, is die persoon nog werksaam in jou gemoed én onbewuste.

‘n Paar gedigte word in sowel Engels as Afrikaans weergegee – met die geslaagder weergawe in die Engels. Daar word vertel dat D.J. Opperman by geleentheid die jong digter gemaan het dat die digter eerste aan die gedig moet dink en dan aan die effek wat dit op die familie sou kon hê. Dit is egter ‘n morele kwessie en in die eerste en laaste geval moet die gedig die toets van die tyd deurstaan. As die woede, ontsteltenis, onsekerheid, ambivalensie of watookal verby is, moet die gedig-as-gedig bly staan. Dan is die werklikheidsaspek of die vermeende (h)erkenning afgehandel. 

Hieroor sou elke leser uiteindelik self moet besluit en geen mens benader ‘n gedig in iedere geval “onskuldig” nie. Stanley Fish se Is there a text in this class? lewer uitgebreid verslag oor wat alles inspeel wanneer ons ‘n teks benader en die sogenaamde “community of readers” lees nie altyd eensgesind nie. Wat my betref mag die digter op gevaarlike plekke gaan, mits die gedig die woede/pyn of aanklag kan dra. En dit is iets wat in die taligheid van die gedig skuilhou, nie in die morele dimensie of valensie van die vers nie. “How to recognize a poem when you see one” is in  elk geval binne die postmoderne tyd al aangepas, verander & gedekonstrueer.

Die digter is bewus van hierdie proses: in “Groundless ground” soek hy na die regte stem en vergewis hy hom oor presies wie sy gehoor mag of sal wees. Die dubbelloop-vers “They dug up your garden” / Hulle’t jou tuin omgedolwe” (pp. 14 – 15) word die “icy beauty” en “line of defence” van die geliefde aan die kaak gestel. (Strykdeur is myns insiens nie die korrekte vertaling vir “right through it” nie.)  ‘n Besondere sterk vers is “Wife, departed” waarin die geliefde eers die verwyt gemaak het dat sy die woordeboek saam geneem het. Dit word ‘n boeiende metafoor waarin die skryfproses dan ‘n soort ontdekking word dat hy steeds woorde oorhet:

You hadn’t taken our tome
our tomb of words,
after all.

Die geliefde daarenteen is terughoudend: swygsaam.

Daar is ‘n voortdurende tuimeling van emosies. In “Non serviam” verset hy hom weer teen die geliefde wat hom kan vernietig:

I will not
Be the pickings
In the gaps
Between your teeth (p. 24).

En in “Lamb to slaughter” eet hy letterlik sy eie hart op, ofskoon die gedig nie genoegsaam die aangebode beelde ontgin nie.

“Why he hates her” – in navolging van Leonard Cohen” – gee ‘n grimmige blik op die vertrekkende geliefde wat vir jare al sy hart gepekel het voordat sy dit opgekerf (“butchered”) het. Hier is die spreker die verwonde slagoffer wat die geliefde aankla van liefdeloosheid, ‘n normale fase in die verwerkingsproses van ‘n bloedige skeiding.

“She who haunts your heart with something lost” (uit die sterk “Daemon”, p. 32) aktiveer eweneens die gedig-as-aanklag, as verset teen die pyn wat die vertrekkende geliefde aangestig het.

Die digter eksperimenteer ook met die sms-vorm as gedigvorm in prettige vorme. In Afdeling II (“From the inside: 1998 – 2002”) wat die leser laat vermoed dat die tweede afdeling as ‘n pendant van die eerste gelees moet word. Hier is groter afstand en daar word aangrypend gedig oor die verhouding tussen vader en seun. 

Een van my gunsteling-verse hier is “Bird, trapped” waarin die digter ironies genoeg juis ‘n vers maak uit die pynlike toestand van die voël wat nie kan vlug nie; net so het hy eweneens uit die liefdesongeluk, waarin hy vasgevang was, gedigte kon maak. “A bend in the river” is oortuigend in die ryk beeldskakering, terwyl die transgressiewe ‘n Lekker klein pakkie” waarskynlik vra vir ‘n Freudiaanse lesing, geaktiveer in “Everything you don’t know yet”. Hier is die Id kennelik ‘n bietjie aan die oorstoot.

Daar verskyn eweneens in hierdie bundel vertalings van “Winternag” en “Diep Rivier” van Eugène N. Marais.

Dit is ‘n bundel waarin die intense pyn afgewissel word met meer metaforiese, gedistansieerde verse. Vir die leser is daar dus ‘n duidelike proses aanwesig tussen die oomblik en die agterna-distillaat, die verwerking of metaforisering van die verse in iets buite die self.

Daar is ‘n handvol versies wat nie heeltemal poëties oortuig nie, soos o.a. “The bridges”, “Stukkend”, “Russian time”, “Empty” (‘n spel met William Carlos Williams se bekende gedig).

Dit is ‘n ongelyke bundel met ‘n paar sterk verse. “The business of poetry” het Wallace Stevens geleer is waneer jy terugkeer na daardie “jar in Tennessee”. Staan hy nog daar? Of het die tyd hom weggevreet?

Anecdote of the Jar
by 
Wallace Stevens

I placed a jar in Tennessee
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.

The wilderness rose upon it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.

It took dominion everywhere.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.


This Is Just to Say
by William Carlos Williams

I have eaten
the plums
that were in
the icebox

and which
you were probably
saving
for breakfast

Forgive me
they were delicious
so sweet
and so cold

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, January 24, 2013

Leon de Kock - Bodyhood (2010)



Leon de Kock Bodyhood. Umuzi Randomhouse, 2010. ISBN 978 1 4152 0099 5.

Resensent: Joan Hambidge

Leon de Kock het reeds as digter Bloodsong en gone to edges gepubliseer. Vir die meeste lesers is hy veral bekend as bekroonde vertaler, onder andere van Marlene van Niekerk se Triomf en nou onlangs van Cas Vos se gedigte. Sy jongste bundel – pragtig uitgegee deur Umuzi in 2010 – heet Bodyhood. Die titel speel in op J.M. Coetzee se Boyhood, maar aktiveer die komplekse gender/seks-debat oor liggaamlikheid. Humberto Maturana is die motto: oor die menslike gedrag as taal of taligheid en hoé alles binne die domein van taal manifesteer. En hierom bestaan of eksisteer ons as sistemiese entiteite binne die dinamiese modulasie van ‘n spesifieke liggaamlikheid.

Ek is weer veral geïnteresseerd in Lacan se siening van liggaamlikheid: hoe die lyf iets kan registreer, vertaal of verraai wat betekenis skep. Siekte wat ‘n domein word van betekenis.  Die woord het vlees geword.

My eerste kennismaking met hierdie sterk, bykans aggressiewe bundel was kort na die publikasie daarvan.
Die bundel het my mateloos geïmponeer en die groei vanaf die vorige bundels was merkwaardig. ‘n Mens beleef ‘n joernaal van die digter en in “journal 1” word ons in “This scent of corruption” ingelei. ‘n Joernaal intimeer iets privaats en jy as leser word dus voyeur of afloerder van die private dimensie. In die openingsgedig, met die slim toespelings op William Blake, word die aftakeling van die liggaamlike aan bod gebring, maar deur ‘n gedig daaroor te skryf, word die proses (tydelik) opgehef of uitgestel. Freud se Fort/Da-proses word ook geaktiveer, want die gedigte speel voortdurend in op die aanwesige/afwesige wat sowel die lewe as die digkuns struktureer.

“It’s this sadness” (10) eindig dan met “Absence and shape / Shape and absence” en vra intense vrae oor “karma, fate and circumstance” of dit wat buite liggaamlikheid bestaan. “Scholars in a Johannesburg garden” (12) voer die digotomie vérder: die kwessie van plesier en hoe liggaamlike plesier (en pyn) buite intellektuele besprekings gehou word. Juis hierom is dit gepas om Roland Barthes se Le plaisir du texte (1973/5) weer te betrek vir die tersaaklike betrekking van lees as ‘n liggaamlike proses, vir die vreeslose besegging van die orgasme in die leesaksie, die jouissance. 

Hierdie teks word ‘n spel van verglyding wat in die volgende gedig “You are in danger, she said” (13) Barthes se scriptible-konsep geaktiveer: die digter as herskrywer van homself en die tradisie van die letterkunde en die leser wat saam-speel en saam-lees. Die digter is eweneens bewus van die “already said” wat soos ‘n swaard oor sy kop hang en die sy is nie ‘n donna angelicata nie, maar ‘n “bitter bitch”. Die lesende figuur is sarkasties en verminderend oor die digproses en hy bedank haar sarkasties vir die waarskuwing dat hy in gevaar staan om niks te word…

In “Sorry for what, she asked” (15) word Harold Bloom se misreading afgestof:

For a reading of a misreading
A parchment roll of selves, self

Still unscrolling, still rolling
Rolling like a rollercoaster ride…

In hierdie knap vers word die woordverwerker, die verskillende lae van die self as ‘n ondeurdringbare of ingewikkelde teks, saamgeplaas. Ook die gedigte het komplekse onderlinge verhoudings met mekaar soos “The email queue calls” (16, 17) uitwys. Nie alleen speel die gedig terug op die voorafgaande verse nie, maar daar word ‘n onrustige siening van e-pos-kommunikasie gegee as ‘n troebel rivier. Ook hier is alles nie helder of duidelik nie en is die verskillende dimensies of konstruksies wat die “ek” kan aanneem in e-pos-kommunikasie die onderwerp van die gedig. Op ‘n aweregse manier word seksuele innuendo’s en ontmoetings via e-posse geaktiveer waar liefde in die moderne wêreld dikwels werkliker in die kuberruim word as in die Werklikheid daarbuite. “He’s come undone” (18, 19) kan gewoon gesien word as ‘n satire van Derrideaanse denke. Hier word fallogosentrisme opgestuur: die double entendre, die aporia (De Man), die hele boksemdaais. Alles word ‘n intellektuele slagyster en die spreker bely:

I thank this Phallus King
The God at the outer
Outer edge of words
The place where you can
Where, at last, you can
You can just take it….

En lees self die woedende, aggressiewe slot!

Die tweede joernaal heet “The boatman” en ons is nou in die domein van die dood. Hier word verskilende “eindes” geaktiveer: die Boeddha wat in Gauteng aankom en deur die geweld oorrompel word sodat ook hý nie meer verder kan nie; Charon wat moeg gevaar is en huis toe verlang; die einde van ‘n liefdesverhouding waar die spreker nadink oor die verskillende verhale of profiele wat oor ‘n dooie verhouding huiwer. Elke het / is ‘n “shard of history”. Uiteindelik die wegbeweeg, die “bodyhood” versplinter, die “body loneliness” en die uiteindelike verlies van oorgawe. 

In die derde joernaal (“Blood and bone”) word die huwelik van die uiterstes bespreek. Hier word die geliefde weer aangespreek: opnuut met komplekse emosies van versugting na wat was en nooit weer kan wees nie. Sowel Apollo as Dionysus word onder die loep geneem in ‘n toestand van ambivalensie oor skryf en die liefde. Die vierde, en laaste afdeling, heet “In loss” en die gelyknamige gedig lewer skerp kommentaar op die skryfproses as een van verlies en onsekerheid. My gunstelingvers in die bundel is “Anti-Oedipus” – met toespelings op Deleuze en Guattari se beroemde skiso-analise en die verwerping van Freudiaanse psigoanalise – waar hy in woede die komplekse triadiese verhouding tussen minnaar/minnares/digter uitwerk. Die nuwe minnaar is beslis nie haar vader nie, sy is nie sy moeder nie en die ongebreidelde verlange na die geliefde is dus hierom aanvaarbaar!


“Emporium of flesh” (47) snoer al die temas oor liggaamlikheid saam: en hoe ons almal vasgevang is in die voorskrifte van die “bodyhood” en die “supermarket of flesh” waar ons begeertes vir ons bestuur word in ‘n kapitalistiese samelewing. In “The Biology of Love” (55) word die mentor, Maturana aangespreek: en hoe ons vasgevang is in “cages /  of  our selves”. 

Dit is ‘n goeie bundel. Dit dekonstrueer liefdespoësie en die skryf van gedigte as ‘n aangename proses. Daar is ‘n woede, ‘n energie wat hierdie bundel vir hierdie leser besonder aantreklik gemaak het. Die slim toespelings en vernuftige gesprekke is boeiend. Van ongelooflike woede tot Boeddhistiese berusting. Van ‘n aanspreek van die geliefde, selfs aanklag oor die ervaring van verlies wat elke vesel in die spreker se liggaam aantas tot aanvaarding dat daar wel iets is, dalk was soos Die Groot Liefde. Dit is kennelik ‘n bundel wat ontstaan het in ‘n periode van groot verdriet, maar dit het ‘n knap bundel tot gevolg gehad. Ek het hierdie bundel weer saam met Carol Ann Duffy se Rapture gelees en die verskillende prosesse van aflegging (en herbelewenis) in die liefde bly maar iets wat digters inspireer.

Eweneens tersaaklik is hoe die manlike bewussyn van die liggaam ervaar word. Die ou geykte opvatting dat mans in liefdesgedigte kyk en vroue voel (“touch”) word eweneens hier geproblematiseer. Wat is begeerte (“desire”)? Ek het die gedigte saam met Žižek se The pervert’s guide to the cinema gelees. Word begeerte vir ons geskep deur films of gedigte of kan ons soos in “Anti-Oedipus” dit ontvlug?

Bronne:

Barthes, Roland.1973/1975.The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

Bloom, Harold. 1975. A map of misreading. New Haven: Yale University Press.
Bloom, Harold. 2000. How to read and why. New York: Scribner.
Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
Bloom, Harold.1982. The breaking of the vessels. Chicago: The University of Chicago Press.

Deleuze, Gilles & Guattari, Félix. 1972/1984. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia. Londen:The Athlone Press.

De Man, Paul. 1971/1983. Blindness and insight. Essays in the Rhetoric of Contemporary Criticism. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Duffy, Carol Ann. 2005. Rapture. Londen: Picador.

Lacan, Jacques. 1966/1977.  Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan.  Londen: Tavistock.

Žižek, Slavoj. 2007. The pervert’s guide to the cinema.  Film.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]

Leon de Kock - Bad Sex (2010)



Leon de Kock. Bad Sex. Umuzi, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

I

Dit is die verhaal van Sammy / Sam / Samuel L. Baptista oftewel Sammy-Boy se soeke na die self. In hierdie uiters onderhoudende roman, wat ‘n soort raamvertelling is, word die wel en wee van Sammy se soeke-na-self in ‘n Philip Roth-agtige Portnoy’s complaint weergegee. Kom ons wees eerlik. As feministiese en gay-skrywers hulle harte kan oopmaak en ontboeseminge publiseer, mag macho-mans dit ook doen. In hierdie vertelling aan die sielkundige, ene Anna Brink word die lewe van die hoofkarakter weergegee. Dit speel af in sy jeugjare in Mayfair, gewone, nee eintlik kommen mense en die pratende ek vertel alles van sy verwondings.

Liebe dein Symptom wie Dich Selbst verwys na Jacques Lacan, die Franse psigoanalis se siening van die wond wat die self bepaal. Dit is ook die titel van Slavoj Žižek se film oor sy eiesinnige interpretasie van Lacan.

Die leser word dus bewus gemaak van die slim toespelings op “talking therapy” (Lacan se parlêtres) dat daar ‘n sogenaamde “clean slate” moet wees sodat transferensie kan plaasvind. Soos in die toneel waar die hoofkarakter broeklosmaak vir die suigende lippe van ‘n prostituut, word die leser ingelyf by al die intieme bedsake van die hoofkarakter, sy broer, sy grensoorskrydende familie en hul besoekers en les bes: ‘n molesterende dokter.
Die verhaal word aan die gang gesit met die einde van ‘n verhouding. Die magtige en dus kastrerende vroulike baas en minnares, ene Sabina Fairbrother (Sabina Spielrein?), woonagtig te Westcliff Ridge, het probleme met sy tafelmaniere. En so word ‘n hele verlede “ontsluit” van boks-insidente, tot ‘n broer se masturbasie-toneel en manewales wat die ek-verteller psigies skend. Dit is ‘n “cocked-jocked”-roman waarin satiriese uitsprake gemaak word oor die akademie (“The Ideology of Bliss”) en feministiese tekste soos The women’s room.

Die vertelling ontstaan wanneer die terapeut opdrag gee dat die verteller ‘n roman moet skryf en die leser kry dus die volle weergawe van ‘n komplekse man se siening van seks. Die magspel, die vrees vir vroue, kastrasie, die mag van die vader, ensomeer. Maar nou alles is nie loodswaar Lacaneske (all puns intended) vertelling nie. Daar is skreeusnaakse weergawes oor die verteller se jeug waar die ma in gesprek tree met ‘n skinderlistige tante wat die jong kind afloer; skerp opmerkings oor rasverskille van doerietyd; die invloed van Springbokradio en vervolgverhale. Die invloed van die broer op sy lewe lewer ook felle kommentaar op Freud se siening van familiestrukture en die “return of the repressed”. Die jong kind se vrese rondom die broer se oortredings en sy eie vergrype soos winkeldiefstal is werklik aangrypend goed weergegee. Wanneer die broer sy jeugliefde betree, is hy in erge konflik…:

“Remember Charmaine Lotter?” he says.
‘ “Yes, of course, man!” I blurt out.
‘ “Well, I just fucked her,” he announces. “Fucked her good and solid. Half an hour ago . . .”
‘I felt an immediate jolt of bitter outrage. Charmaine Lotter! I was in love with her, Anna! But she’d always seemed so out of reach. She was a lanky, barefooted girl . . . a year or two older than me . . . and impossibly pretty, just like her twin sister, Darlene. They were sandy-haired waifs . . . only just “developed”.
But innocent! And now Nev goes and does this . . . this, with that disgusting dick of his!
‘I feel angry and outraged, but I also feel kind’ve jealous . . . and I have to hide all these feelings away, too, otherwise there’d be further complications . . . Basically, I feel useless and left out.
But still, Nev gives me the horrible details. Tells me the story. This is his moment. Telling me is his real moment of glory. Rubbing it in my face. I am his foil. So this is more or less how he tells it”.

Daar is etlike ongelooflike tonele: ‘n bokstoneel wat weens naarheid stop; ‘n molestering van ‘n jong seun in ‘n dokterspreekkamer; ambivalente intimiteit met Sofia van Staden; ‘n homo-toneel in Kaapstad.

Die boek is in lekker spreektaal geskryf. Op ‘n plek verneem ons van die “moedelose anger” van die karakter wat deur sy terapeut bewus gemaak word van sy wonde. Woede en vevreemding. En ‘n herhaaldelike terugkeer na iets of iemand wat sal begryp…

Op bladsy 133 is die pa in Durban:

“Like that old Durban joke photograph my father once showed me, where he’d positioned
himself behind a board with a painted cartoon on the front, resting his neck and head on the cut-out space as the photographer took the snap. The board showed a ridiculous
figure – now transformed into my dad – with just his head sticking out from the inside of a toilet bowl, his hand on the flush handle, ready to pull. The speech bubble read: “Goodbye, cruel world!”
‘It was the reduction of everything to that level, crude clichés of Durban-by-the-sea in the 1960s . . . a world of bluster and corny white jokes . . . a backwater, mealy-mouthed sense of
inferiority before the greater world, those days when people still saw themselves as colonial small fry, and they resorted to cheap shots, in low-slung drawls: “Yous wanner get ya picksures tayken?”, as if they didn’t deserve better and they knew it. This was the world I thought I had outgrown and outlived.”

Ten spyte van  die moedige pogings van die hoofkarakter, wat aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer het en dus die geleerde verwysings aanvaarbaar maak, kan ‘n mens tog nie jou jeug ontglip nie. Dis ‘n roman wat met soveel eerlikheid geskryf is dat ‘n mens net eenvoudig bewondering vir die teks kan uitspreek.

Die aanslag is reg. Die karakters praat soos regte mense. Jy hoor die Mayfair-nommers.
Dis eweneens ‘n belangrike tydsdokument: die apartheidsjare, bediendes in agterkwartiere, ras-kwessies en vooroordele.

Die boek lees vlot. Ten spyte van die pyn (en eerlikheid) word die vertelling afgewissel met humor.

II

Die raamvertelling en die opdrag van die sielkundige maak van die leser ‘n medepligtige. Jy word deel van die verhaal en die genesing van die verteller. Jy koekeloer saam met hom en beleef ook die transgressiewe arenas van die jeug. Daar word uitgepraat uit hierdie spreekkamer en die leser wat aanstoot neem, moet gewoon die roman neersit.
Verder is die roman polities-inkorrek en begin dit ‘n debat wat waarskynlik vir sekere feministe aanstootlik sal wees. Die verteller is egter besig om kommentaar te lewer op maskuliniteite en die manlike kultuur en hoe die sensitiewe man hierdeur geraak word. Dit is juis hierdie “double talk”, in Koestenbaum se terme, wat die roman geslaagd en aangrypend maak.

Die analis/analysand-rolle word gekompliseer met die leser wat analis word en soms gepootjie word en in die analysand-posisie geplaas word wanneer jy die Toweels onthou, Springbokradio, die ou-Suid-Afrika en die verteller se soeke na identiteit is ‘n moeilike dog eerlike reis. Op ‘n manier is dit ‘n antwoord ook op Marlene van Niekerk se Triomf, puik vertaal deur De Kock.

Maar in sy geheel: ‘n ongelooflik komplekse roman wat in gesprek tree met psigoanalitiese sienings oor self en verwonding.

Veral Lacan se siening van die knope in die psige is hier relevant. En vir vroue-lesers dalk ‘n onthulling dat man-wees met baie wroeging en vrese gepaard gaan.

Bronne:

Koestenbaum, Wayne. 1989. Double talk - the erotics of male literary collaboration.Londen: Routledge.

Lacan, Jacques. 1988. "The insistence of the letter in the unconscious" in David Lodge(red.): Modern criticism and theory - a reader. Londen: Longman.

Longhurst, Derek(red.). 1989. Gender, genre & narrative pleasure. Londen: Unwin Hyman.

Malcolm, Janet. 1992. The purloined clinic. Selected writings. Londen: Papermac.

Noyes, John K. 1997. The mastery of submission. Inventions of masochism. Ithaca: Cornell University Press.

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

Singer, June. 1997. Androgyny - Towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Žižek, Slavoj. The pervert’s guide to the cinema. DVD.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]