Showing posts with label Michiel Heyns. Show all posts
Showing posts with label Michiel Heyns. Show all posts

Tuesday, April 25, 2017

Michiel Heyns – I am Pandarus (2017)



Michiel Heyns – I am Pandarus. Jonathan Ball, 2017. ISBN: 9781868427758

Resensent: Joan Hambidge

Michiel Heyns is bekend as vertaler én as romanskrywer: The Children’s Day, The Reluctant Passenger, The Typewriter’s Tale, Bodies Politic, Lost Ground, Invisible Furies en A Sportful Malice. Hy is al bekroon met die Sunday Times Literary Award in 2012 en die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie in 2015.

Hierdie leser is gaande oor Heyns se romans, omdat hy altyd 'n roman-probleem of literêr-politieke kwessie aanspreek. Dink maar aan sy The Typewriter’s Tale wat een van die mees aangrypende en oortuigende romans is oor die skrywer Henry James.

Hierdie roman begin in 'n kroeg en handel oor die figuur Pandarus, 'n karakter wat opduik in die tekste van Boccacio, Chaucer en Shakespeare, onder andere. In die OED verwys die woord pander ook na wellus. Pandarus self verwys na homself as 'n konstruk, 'n hibried. Is hy 'n blote slagoffer van die verskillende skrywers (wat van mekaar "gesteel" het), of is hy 'n semantiese ongeluk? Wat is dus sy essensie en wat is bloot toevallig? (p. 8-9). Heyns se roman bring die gesiene Shakespeare-kenner, Marjorie Garber se Vested Interests - Cross Dressing and Cultural Anxiety (1997) na vore. Mans in Shakespeare se tyd wat vrouerolle moes vertolk en die betekenis van die drag queen in ons tyd.

Die roman gebruik dieselfde tegnieke as wat Umberto Eco in Baudolino (2002) aangewend het. Dit speel af in die 12e eeu en Eco se roman gebruik Latyn en Middeleeuse Italiaans en ander tale. Eco het sowel werklike as fiksionele karakters in sy verhaal soos Gavagai ('n verwysing na die filosoof Quine se karakter), Deacon John, die heerser van Pndapetzim en etlike historiese figure soos Frederick Barbarossa, Pous Alexander III, Stephen Hagiochristophorites, e.a.

As semiotikus, in sy studie The role of the reader (1980), verwys Eco na beginsels soos narkotiseer of opblaas in die leesaksie. Op jou sogenaamde "inferential walks", lees jy die storie dus op twee vlakke: as werklikheid sowel as fantasie. Die jong Baudolino met sy  verstommende kennis van taal word na Parys gestuur om verder te studeer. Kruistogte én 'n spel tussen fiksie en werklikheid dryf die verhaal voort wat eweneens rondom die Gnostiek wentel. Politieke onrus en Keiser Frederick se pogings om die Noordelike Italië se onafhanklikheid te tem, word afgespeel teen 'n fantasie-wêreld en mites. Baudolino ontmoet eunugs en eenhorings op sy reis.

'n Soort speurverhaal dus, soos Die naam van die roos / Il nome della rosa (1980).

Wie is die modelleser vir Heyns se roman?

'n Leser wat die hervertelling raaksien van Troilus en Chriseyde tydens die Trojaanse oorlog. Pandarus word vermeld in die Iliad, en speel as karakter verskillende, toenemend groter rolle by Boccacio, Chaucer en uiteindelik Shakespeare se Troilus and Cressida. In sy nawoord beklemtoon Heyns dat lesers 'n outentieke representasie verwag. Uiteraard is 'n roman egter fiksie en kan die skrywer sekere aanpassings maak.

Heyns maak van die historiese gegewe 'n klassieke middeleeus-Elizabethaanse amalgaam (240), en as voormalige professor in Engelse letterkunde ken hy al die kodes. Nes Eco as Renaissance-kenner op sy beurt ingelig is oor hoe daardie kodes werk.

Heyns se roman word voorsien van 'n lys karakters (menslik, goddelik en dierlik!).

"No escape for anyone anywhere", is 'n motto uit Milan Kundera se The art of the novel (1988).

Die slot aktiveer 'n soort fantasie wanneer die verteller wegstap uit die kroeg. Dalk terug in die tyd?

Hoe die verskillende weergawes ooreenstem en verskil met Heyns wat hierop voortborduur, is tersaaklik. Chaucer se gedig (in rime royale/ rymende stanzas), met Calchas die waarsêer speel af tydens die Trojaanse oorlog, met Pandarus as tussenganger vir die bemindes, draer van liefdesbriewe en getuie van ‘n tragiese einde. Die dood is 'n verlossing uit die heidendom en besinning van Christelike waardes - vanuit die perspektief van die verteller. By Heyns word paganisme vervang met gay-liefde, en The Pander's Tale is gelaai met ironie.

Heyns se verteller in die roman (Book Three) lewer kommentaar op Hektor en gay-liefde in oorlogstyd (119). Dit word weer in die werklikheid geplaas met die agent wat ‘n moeilike skrywer moet hanteer wat voel sy boek kry nie genoeg publisiteit nie …

Ek het my verkneukel aan die beskrywings van  Kassandra, en die insigte oor die "halcyon period of love" (117 – 118) is skitterend.

Die boek lewer slim kommentaar op die sewe argetipiese intriges wat bestaan in die romankuns versus geluk / waarsêery. Die betekenis van die liefdesring in die Middeleeuse tradisie en moderne tyd word goed vasgeknoop. Nes die tersluikse verwysing na die tarot en die gelukswiel (132).

Die roman is uitstekend geskryf en lewer kommentaar nie net op die gesprek tussen literêre tekste nie, maar ook op die afwesigheid van die numineuse - en hoe mense mekaar nodig het in hierdie tye.

Hierdie leser het lanklaas 'n roman (‘n soort metaroman) se uitdagings so geniet. Dit is goed dat daar romanskrywers is wat hul lesers uitdaag soos Heyns.

My resensie is inderdaad ‘n eulogie (‘n panegyric) vir ‘n fyn stilis en uitmuntende storieverteller.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Sunday, February 17, 2013

Michiel Heyns - The typewriter’s tale (2005)



Michiel Heyns. The typewriter’s tale. Jonathan Ball, 2005. ISBN 1 86842 229 1.

Resensent: Joan Hambidge

The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie beroemde Amerikaanse outeur se verblyf in Rye. Die verhaal, vertel vanuit die blikhoek van sy gefiksionaliseerde tikster, Frieda Wroth weliswaar gebaseer op ‘n werklike mens.

Die roman is ‘n fassinerende spel tussen fiksie en werklikheid en vir James-afficionado’s sal dit alte lekker wees om die oorspronklike briewe en romans te lees ten einde Heyns se afwykinge en aanpassings te sien.  Kenners van sy tekste kan eweneens die gebruik van frases, sinskonstruksies en dies meer in Heyns se roman raaksien.

Die roman – geskryf tydens ‘n Kreatiewe Skryfwerk-projek aan die US onder leiding van Marlene van Niekerk – is ‘n briljante teks. Hoe meer jy jou kennis van James-romans laat inspeel, kennis dra van sy verwikkelde persoonlikheid en neuroses oor intimiteite, des te meer word die roman kompleks. Dit herinner aan die spel wat met die kyker gespeel word in die film Il postino: hoe meer jy van Pablo Neruda ken, des te meer kan jy die fiksionaliserings begryp en waardeer. En ironies, des te meer word die gebeure “waar”! Die mag van fiksie skyn sterker te wees as die werklikheid, by implikasie.

Die roman van Heyns word ‘n ‘paper-chase’ waarin jy saam met die outeur, die fokalisator, en veral die tikmasjien inkyk in die psige van ‘n úiters komplekse mens. En ‘n verbluffende skrywer.

Henry James (1843 – 1916) het 20 romans, 112 verhale, 12 dramas en verskeie letterkundige studies geskryf.

Die Heyns-roman speel in Rye af en ook hier word die gegewens aangepas die storie ontwille. Sy vader was ‘n bekende intellektueel en hulle het dikwels gereis tydens sy jeug wat waarskynlik sy perspeptiewe insigte oor hoe gemeenskappe se sosiale kodes funksioneer, verklaar. James se vrees vir intimiteit en sy siening oor die funksie van briewe, is belangrike kwessies wat in hierdie roman ondersoek word.

Moes Michiel Heyns wel sy nawoord geplaas het? Of moes die leser self soos in David Logde (Author, Author) en Colm Tóibín (The Master) die kreatiewe ontsporings gaan uitsnuffel? Is dit nodig om te weet dat James op daardie datum ophou fietsry het en dat die outeur-Heyns hom vryhede veroorlof ten opsigte van presies wanneer die Lamb-huis verlaat is?

Heyns se roman staan egter nie ‘n duit terug vir hierdie meesters nie. Ons weet dat Henry James wars van Oscar Wilde se ekshibisionisme; dat hy jaloers was op Wilde se sukses as dramaturg; dat hy bevriend was met o.a. Edith Wharton; dat sy romans beroemder en geslaagder was ná sy dood; dat hy nie kon begryp dat die Britte Rudyard Kipling as ‘n groot skrywer beskou het nie; dat hy kuns bó die lewe verkies het weens sy afkeer aan intieme verhoudings (iets wat in Tóibín) ontken en op sy kop gedraai word).

Sy romans is al verfilm, soos byvoorbeeld The Portrait of a lady, Washington Square, The Wings of the dove, wat ek meegemaak het.

As James-afficionado het ek verskeie studies oor hom gelees, ook Leon Edel se groot biografie en vind ek sy romans meesleurend. Gaan lees The typewriter’s tale onder andere vir die verbluffende navorsing, kommentaar op telepatie en tikwerk, en veral om die aweregse James-agtige “verhouding” tussen Frieda en Fullerton. Jare gelede het ek by ‘n tweedehandse winkel (vir R1) Henry James: The Creative Process gekoop van ene Harold T. McCarthy wat nog ander moontlikhede oopmaak vir Heyns se spel met James.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Henry James deur die oë van ander – Deel III

Henry James (c) John Singer Sargent

So twee jaar terug is ‘n kollega aan die UK besig om sy kantoor op te ruim en boeke uit te gooi. Hy het van vakgebied verander en nooi almal uit om boeke te neem waarin hy nie meer belang stel nie. Ek vra of ek die Leon Edel, in twee volumes netjies in ‘n boksie verpak, oor die lewe van Henry James mag kry?

Natuurlik. Hy het die letterkunde vir media-studies verlaat...

Hierdie twee tome en Harold T. McCarthy se The Creative Process (1958) het ‘n beduidende invloed op my begrip van hierdie skrywer gehad en die afgelope paar weke het ons Henry James deur die oë van ander, waargeneem.

In bykans al die romans word ‘n skatpligtigheid aan Edel se biografie genoem. Party skrywers erken verder dat die briewe bestudeer is en werklike Henry James-afficionado’s ken ongelooflike besonderhede oor die skrywer se lewe.

Colm Tóibín illustreer iets hiervan: in The Master weet ons geweldig baie van die skrywer se ervaring van Venesië en die selfmoord van sy skrywersvriendin. Ook in welke mate werklike mense modelle was vir James, blyk uit hierdie skitterende teks.

Henry James se notaboeke is vir die letterkundige speurder ‘n fassinerende en besonder openbarende versameling. Telkemale staan die leser voor die besef dat die skrywer skuldig voel omdat hy nie by mense kan of wil betrokke raak nie. Hy kyk na die “donnée”, oftewel dit wat hy uit die lewe kry ten einde te kan skryf. Tog bly hy deurgaans bewus dat die ervaring nie vanself teks word nie; dit moet deur geweldig baie dinkwerk en gevoelens gaan alvorens dit verhaal word. James gebruik dikwels as kritikus die begrip “feeling” wanneer hy die sukses van ‘n ander skrywer se ‘n verhaal beoordeel.

The Real Thing illustreer waarskynlik James se siening oor die verhouding tussen die lewe en kuns ten beste: ‘n kunstenaar maak sketse van bekende mense en ‘n egpaar, Major en Mrs Monarch bied hulself, weens finansiële nood, as modelle aan. Hulle het die regte kleredrag, gesigte, posture en dies meer, maar die kunstenaar vind dat hy beperk word deur die werklikheid en dat daar min ruimte vir die vlug van die verbeelding bestaan, argumenteer McCarthy. Dit kan volgens hom ook as ‘n kritiek op die Naturalisme gesien word en die beheptheid van hierdie beweging om die werklikheid getrou weer te gee soos onder meer in die romans van Zola. Vir die slordigheid en vormloosheid van die Naturalisme had James geen sin voor nie. Vir hom moes ‘n roman aan vormlike eise voldoen. Tussen die idee en die vorm van die roman is daar dieselfde verhouding as tussen ‘n naald en gare: "I never heard of a guild of tailors who recommended the use of the thread without the needle, or the needle without the thread” (McCarthy, p. 99).

Een van James se belangrikste dictums oor die skrywer was die volgende uitspraak: "For the teller is but a more developed reader” (McCarthy, p. 71). Hierdie uitspraak is gemaak in verdediging teen sy broer, William se reaksie op die einde van The Europeans.

‘n Mens vermoed hier dat die broer reageer op sekere herkenbaarhede en dat Henry James se verweer was dat die skrywer beter weet as leser(s) wat iets wegwens...

In Henry James – The Creative Process word sy vriendskappe met ander skrywers ook toegelig. Onder andere ‘n merkwaardige verbintenis met die Russiese skrywer, Toergenjef en James se huldeblyk ná sy dood, kan van toepassing gemaak word op sy eie sieninge van die skryfkuns. Die sogenaamde “habit of observation” is waarskynlik een van James se bekendste eienskappe. Die vriendskap met hierdie Russiese skrywer het vele van James se aanvanklike skepsis oor sy skryfaanslag verander.

In hierdie studie word James se bewondering vir Flaubert behandel. En die algemene ekstase vir die werk van George Sand in haar tyd!

Die verskillende romans wat ons die afgelope paar weke gelees het, lewer kommentaar op fasette van sowel James se leefwyse as sy artistieke opvattinge. Michiel Heyns se The Typewriter’s Tale lewer by implikasie ‘n meer gedistansieerde bik op James se lewe, maar juis deur die gebruik van ‘n buite-kommentator lewer dit paradoksaal helderder kommentaar op James se afsydige houding en sy vrese vir intimiteit. Lodge se Author, Author is waarskynlik te gedistansieerd in sy blik op die skrywer.

Leon Edel in sy magistrale biografie, noem James “The Observant Stranger” tydens sy Londense periode. Hy kom as ‘n absolute vreemdeling na die stad, maar ken binne ‘n kort ruk te veel mense. Hierom dat hy uitwyk Rye toe.

Buite die gevaarsone van mense wat hom aanhoudend uitnooi vir etes waaraan hy nie erg het nie.

Die lang wandelinge – hierop fokus Tóibín onder andere – word in die Edel-biografie in die grootste besonderhede weergegee. ‘n Mens weet selfs wat die skrywer vir ontbyt genuttig het!

Al die verskillende romanskrywers bely hul erkentlikheid aan Leon Edel se biografie en aan James se romans. Inderdaad kan ‘n mens Edel se invloed sien op al die romansiers. Die ongelooflike besonderhede waarmee alles opgeteken word, is bewonderenswaardig. Onder andere lees ons dat hy op ‘n Kersdag in Rome kalkoen en appelmoes nuttig. Hoe hy wandel, die stadige pas van die lewe in ‘n oop rytuig meemaak en sy besoek aan Rome vergelyk met ‘n vorige uitstappies.

Hoe hy verby die Spaanse trappe weifel, wegdraai in die Via Gregoriana.

Leon Edel se biografie boots bykans die styl van ‘n Henry James-roman na: die kleinste besonderhede, krakies, ligte wat waargeneem word, die vrees vir alleenheid, maar terselfdertyd, die bewuswees dat om by bekendes tuis te gaan, sy wêreld sou verklein en verburgerlik.

Henry James skryf só uitmuntend oor intimiteit en die spanninge tussen mense, omdat hy dit self as problematies ervaar het.

Die verskillende ‘antwoorde’ op Henry James se romans en lewe is soos ‘n ryk tapisserie vir die leser bekend met James se werk.

Daar word nuwe lewe aan James gegee en soos reeds opgemerk, moet hierdie ‘antwoorde’ of ‘homages’ gelees word as ‘n soeke na sin en spirituele diepte binne die roman.

Indien ‘n mens verder sou teruggaan, sou die invloede van Flaubert en Balzac, dalk ook Guy de Maupassant, se beheptheid met die vorm van die prosateks op James se tekste uitgewys kan word. En Toergenjef.

Maar hy het hom buite die letterkundige sirkels gehou; waarskynlik vanweë sy besware oor hul morele waagstukke (McCarthy, p. 20).

Dalk was Henry James in wese die gevangene van sy eie morele waardes.


Bronne:

Edel, Leon: The Life of Henry James I, II. Penguin, Londen. 1953/ 1977.

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Henry James deur die oë van ander – Deel II

Henry James (c) John Singer Sargent

Henry James – The Creative Process van Harold T. McCarthy het in 1958 verskyn. Dit is ‘n fassinerende studie oor die meester wat tans deur verskeie bekende en groot skrywers in biografiese romans of gewoon net in gefiksionaliseerde romans, beskou word. Michel Heyns se The Typewriter’s Tale staan nie ‘n duit terug vir die Britse of Ierse beskouings oor James nie. Inteendeel.

Sy teks is waarskynlik sterker as Lodge se Author, Author.

In dieselfde jaar as Lodge se roman, verskyn die kragtige bydrae van Colm Tóibín.

Die eerste vraag is: het hierdie skrywers van mekaar kennis geneem? En is dit tersaaklik of nie?

Die leser kry telkens ‘n nuwe blik op die figuur Henry James: beskou vanuit die perspektief van ‘n fiksionaliserende outeur.

Selfs al is daar van mekaar se tekste kennis geneem, is dit steeds elke ervare skrywer se blikhoek op die komplekse figuur, Henry James. Lodge byvoorbeeld, wend o.a. James se tegniek van binnestroom aan, terwyl daar by Tóibín eweneens sprake is van die binnespraak.

By Lodge word die jaloerse verhouding met Oscar Wilde uitgewerk, omdat James se drama Guy Domville misluk. (Die drama is op 5 Januarie 1895 opgevoer). Vanweë sy komplekse psige en sy vrees vir intimiteit, vind hy Wilde se gedrag aanstootlik en die openbare hofsaak en verguising van Wilde se homoseksualiteit steurend. Tóbín in The Master egter skep ‘n toneel waar ‘n kortstondige aanraking met ‘n man wel moontlik sou wees. By Heyns is daar ook verwysings na die Wilde-saak in gesprekke tussen karakters.

Al wat hierdie drie romans gemeen het, is dat al drie skrywers hul enorme navorsing en kennis kreatief aanwend om meesleurende romans oor die meester, Henry James te skryf.

(In die nawoord van The Master erken die outeur dat hy kwistig Henry James-uitsprake rondgegooi het en Etienne Britz wys ook in welke mate Michiel Heyns se taal deur James beïnvloed is. Sy resensie, wat ek nie op Die Burger se webruimte kon vind nie, is goedgunstiglik aan my versend deur die boekeredakteur.)

A.N. Wilson se A Jealous Ghost aktiveer nie die lewe van James nie, maar gebruik as interteks The Turn of the Screw. Die hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry James se The Turn of the Screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The Turn of the Screw laai die gegewe oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman, het ek in Mei verlede jaar geargumenteer in my resensie oor hierdie boek.

Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Todorov en Roland Barthes.

By die lees van al die verskillende romans oor James se lewe en werk, vra die leser die volgende vrae:

Is hierdie roman so geslaagd en pakkend as die eerste roman/lewe? Of sou dit nie gewerk het as dit nie vir die eerste teks was nie?

Die tweede vraag is uiteraard vanselfsprekend: indien die leser nie bekend is met Henry James-kodes nie, sou die teks enigsins kon slaag? 

Op hierdie twee vrae sou ‘n mens kon antwoord dat die ‘n bekendheid met James-kodes die teks met meer nuanses en suggestie laai, maar dat die oningeligte leser dit bloot net as ‘n “storie” kan lees.

In Wilson se roman sou ‘n mens derdens moet vra of die teks die volgehoue spanning met die bo-natuurlike so goed volhou as in die oorspronklike teks? Hierop meen ek van ja, want ‘n mens probeer agterna presies uitvind waar het die hoofkarakter, Sallie Declan (decline) ontspoor? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?

Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse, met ‘n aweregse kritiek op die Harry Potter-reekse se populistiese hantering van die bo-natuurlike.

In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die parapsigologiese; by Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word. En so gelees, word die spanning tussen twee tydvakke goed verbeeld.

In Harold T. MacCarthy se studie oor Henry James word ‘n lang hoofstuk afgestaan oor James se werkswyse. Hy skryf: “James preferred, even in short stories, to develop the dramatic oppositions latent in his donnée and produce a work that illustrated something about life as a whole. He wanted to exhibit delicate shadings, to see one thing through another and still another through that, to see all the dimensions of an idea and produce the effect of ‘truth diffused, distributed and as it were atmospheric’.”

En al hierdie verskillende romans doen presies dít waaroor MacCarthy skryf in sy studie, ‘n geskenk aan my jare gelede gedoen deur ‘n bekende romanskrywer.




Bronne:

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Leon Edel: Henry James: The Master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The Creative Process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

A.N. Wilson: A Jealous Ghost. Hutchinson, Londen. 2005.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Henry James deur die oë van ander – Deel I

Henry James (c) John Singer Sargent

Die afgelope paar jaar verskyn daar etlike romans oor Henry James. Uiteenlopende tekste soos A.N. Wilson se A jealous ghost waarin The turn of the screw herskryf word, David Lodge se Author, Author en hier te lande Michiel Heyns se The typewriter’s tale. Verder is daar Colm Tóibín se Master en Allan Hollinghurst se The line of beauty.

Daar is waarskynlik nóg tekste oor hierdie fenomenale skrywer en elkeen van hierdie romansiers se kennis oor sowel James se lewe as skryfwerk spreek duidelik uit hul komplekse tekste waarin biografiese feite en insigte oor die skryfkuns gefiksionaliseer word.

By Tóibín en Lodge word daar op dieselfde problematiek gelet in James se lewe (1843 – 1916), die beroemde Amerikaanse skrywer wat in Engeland gaan woon het.

In James se lewe was daar die ouer, afkerende broer, William, die sielkundige; die invalide suster, Alice en Constance Fenimore Woolson, ‘n skrywer wat waarskynlik selfmoord gepleeg het, omdat haar passie vir James onbeantwoord gebly het.

Waarom interessseer hierdie skrywers mense juis nou? Vanselfsprekend weens sy enorme skryftalent – ons dink hier ook aan die voortreflike verfilming van The Portrait of a Lady met John Malkovich en Nicole Kidman met Jane Campion as regisseur – wat wys hoe relevant die skrywer bly wat sosiale kodes en mores kon belig. Ander tekste is ook verfilm: o.a. deur my gesien is The wings of the dove en Washington Square.

James self is “larger than life” in sy verstommende kreatiwiteit, as dikteerder aan sy sekretaresse en as persoon wat die kuns bó lewe verkies het.

En vermoedelik wil gesiene skrywers soos David Lodge iets probeer vasvang van ‘n grootse skrywer. Waarskynlik beleef ons tans die einde van die postmodernisme wat vir vele lesers ontaard het in ‘n fasiele spel met intertekste. Juis om deur ‘n fenomenale kreatiewe skrywer te werk, word daar uiting gegee aan spiritualiteit.

Lodge se roman handel oor James se drama Guy Domwille se negatiewe ontvangs. Die vriendskap met die skrywer George du Maurier lê aan die basis van die roman. 

Skryfkompetisie en die hantering van sukses en oorspronklikheid kom hier aan bod. Du Maurier se vertelling van dieselfde storie as wat James gebruik maak van ‘n blitsverkoper. Terselfdertyd kan hy nie die roem en blootstelling hanteer nie, terwyl James juis na groter bekendheid smag.

Die Lodge-roman begin met die einde van James se lewe en waar hy in ‘n siekbed briewe ontvang van bekende mede-skrywers soos Rudyard Kipling, Thomas Hardy, George Bernard Shaw, Arnold Bennett, e.a. Dit is egter sy verhouding met ‘n minder bekende skrywer wat die fokus van die roman word: Du Maurier, ‘n persoon waaroor sy broer, William, bedenkinge gehad het.

Lodge lewer kommentaar op James se selibate toestand via ‘n teks van Maupassant wat hy lees oor ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou. James gril gewoon vir die lyflikheid tussen die twee karakters en gru aan die gedagte dat mans ook met mekaar sou kon verkeer.

Paul Zhukovski se attensies laat hom wegdraai van ‘n vriendskap, waarskynlik omdat hy so ‘n diep-gesetelde vrees vir intimiteit gehad het, met sowel mans as met vroue. In hierdie biografiese roman word daar geweldig baie klem gelê op die verhouding met die suster en die jaloerse verbintenis met en bewuswees van ander skrywers.

Sy afkeer van Oscar Wilde se skandalige bestaan en arrogansie word eweneens beskryf deur Lodge. Die ekshibisionistiese kamp-gedrag vir James onaanvaarbaar en wanneer Wilde aan die einde van sy suksesvolle drama die gehoor bedank vir hul skerpsinnigheid, vind hy dit onvanpas. Maar die eintlike afkeer in Wilde is sy homoseksuele dubbelbestaan en uittarting van die morele kodes van die tyd.

The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie boeiende skrywer, maar vanuit die perspektief van sy (gefiksionaliseerde) sekretaresse, Frieda Wroth. Haar verbintenis met Morton Fullerton lewer kommentaar, sydelings, op die soort tekste wat sy moet tik.

Soos in Lodge se teks, is die vrees vir openbaarmaking kenmerkend van James se psige. In ‘n gesprek tussen Frieda en Fullerton word die Oscar Wilde-saak bespreek en geanaliseer. Edith Wharton word ook helder en goed geteken in hierdie aangrypende roman.

In tye van briewe en waar mense mekaar vertrou, word intimiteite openbaar, verduidelik Fullerton aan haar. Gelees in ‘n hof en deur buitestaanders beskou, kry dit ‘n nuwe betekenis en kan sodanige briewe jou ophang.

Biografiese besonderhede verwys ook na James se vernietiging van sy korrespondensie ten einde sodanige blootstelling te voorkom en jou eie privaatheid te beheer.

Heyns se roman in die beskrywing van ‘n sekstoneel is uiters visueel en oortuigend. En uiters ironies wanneer ‘n mens dit teen James se vrees vir intimiteit en seksuele aanraking plaas.

Die periode in Rye (Sussex) word in ‘n spesifieke tyd geplaas en as ‘n James-afficionado erken Heyns in welke mate hy die gegewens gefiksionaliseer het.

Die skrywer erken dat hy gegewens geannekseer, geïnkorporeer en aangepas het vir sy eie doeleindes.

Sy hooffiguur is gebaseer op Theodora Bosanquet wat vanaf 1907 tot en met James se dood sy sekretaresse was. Die gedagtes is Frieda s’n, hoewel daar uiteraard ooreenkomste tussen die twee figure is. Na James se dood in 1916 het sy deur middel van ‘n ‘spirit control’, Johannes, met James kontak gemaak.

Die briewe in die roman is aangepas, maar Heyns lei die leser na die oorspronklikes vir vergelyking.  (Die verbintenis tussen telepatie, tik en outomatiese skryfwerk is ‘n belangrike aspek waaraan Heyns aandag gee en hy verwys die leser na Thurschwell se studie hieroor wat in 2001 verskyn het.)

Die leser word op die koop toe van opsetlike foute bewus gemaak, soos o.a. dat Frieda nie vir meneer James kon sien fietsry nie; hy het reeds in 1901 daarmee opgehou!

James het sy briewe in die herfs van 1909 verbrand; die skrywer skuif hierdie gebeurtenis na laat-Julie. In die roman waarin die steel en verbranding van briewe ‘n belangrike tema is, betrek Heyns by implikasie Edgar Alan Poe se The purloined letter om die spel met privaatheid en openbaarmaking verder uit te brei.

En dan:”As dedicated Jamesians will have noticed, I have found myself at times appropriating phrases from the writings of Henry James. I have retained these borrowings, not as plagiarism, but as homage to the works to which this novel is above all indebted”.

So gelees, is hierdie roman ‘n fassinerende ‘paper chase’ met ‘n verbluffende spel nie alleen met romans van James nie, maar ook met verwysings na die lewe en uitinge van die outeur. Dis ‘n besondere roman juis omdat dit bewys dat ‘n biografiese roman se groot krag in ‘n verwringing en aanpassing lê.

Beide Lodge en Heyns se boeke is ‘homages’ aan James.

Biografiese romans wat die spanning tussen teks en lewe uitstippel en wys hoe elke skrywer by implikasie sy eie interpretasie aan HJ laat inspeel op die gegewens. James is by uitstek geskik vir hierdie soort spel, juis omdat hy ‘n groot skrywer was en is met ‘n komplekse belewenis van intimteite. Juis deur hierdie romans word daar nogmaals erkenning gegee aan een van die grootste storievertellers nog.

Deur hierdie romans kry die lewe en werk van Henry James ‘n tweede lewe. Die skrywer het op ‘n keer bely dat Balzac sy model was:

“A novel is in its broadest sense a personal, a direct impression of life: that, to begin with, constitutes its value, which is greater or less according to the intensity of the impression” – The Art of Fiction, 1885.

Hierdie romans het my teruggeneem na Leon Edel se biografie oor die meester en dan moet dit miskien duidelik geskryf word: Michiel Heyns se boek is ‘n boeiende, puik, oorrompelende roman wat beslis nie terugstaan vir die ander meesters se pogings nie.
Daar is iets metableties (in Van den Berg se terme) af te lees uit verskillende skrywers se blik op ‘n groot skrywer: ‘n versugting weg van postmodernistiese tekste se spirituele leeghede? ‘n Terugkeer na karakters se binnespraak?




Bronne:


Michiel Heyns. The typewriter’s tale – a novel. Jonathan Ball, 2005. ISBN: 1 86842 229 1.

David Lodge. Author, Author. Penguin, 2004/2005. ISBN: 780 141 018225

Colm Tóibín. Master. Picador, 2004. ISBN: 0330 485652.

A.N. Wilson. A jealous ghost. Hutchinson, 2005. ISBN: 0 09 180020.

Allan Hollinghurst. The line of beauty. Picador, 2004. ISBN 0-330-48320-X.

Emma Tenant. The felony. Vintage, 2003. ISBN 0-09-928397-2.

Leon Edel: Henry James: The master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Harold T. McCarthy: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]