Showing posts with label 2020. Show all posts
Showing posts with label 2020. Show all posts

Thursday, August 5, 2021

Resensie | Alfred Schaffer - Wie was ik. Strafregels | De Bezige Bij, Amsterdam, 2020

Alfred Schaffer – Wie was ik. Strafregels. De Bezige Bij Amsterdam, 2020. ISBN 978403 183 107

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Alfred Schaffer is bekroon met die gesogte PC Hooft-prys. Sedert sy debuut Zijn opkomst in de voorstad (2000) het daar agt ander bundels gevolg. Mens dier ding (2014) het besondere uitdagings aan die leser gestel en dit is ook uitstekend vertaal deur Zandra Bezuidenhout vir Afrikaanse lesers. Hiervoor ontvang hy drie pryse: die Awater-, die Paul Snoek- en Charlotte Köhler-pryse. Die digter Daniel Hugo het eweneens 'n gerf van sy verse vertaal. Verder is sy gedigte beskikbaar in Engels en Frans.

 

Die verhoudings tussen ouers en kinders het al tot fassinerende gedigte aanleiding gegee. In Afrikaans is daar Breytenbach se "'n brief van hul vakansie" waar die ouer en kind in 'n ewige inkarnasie-verhouding tot mekaar staan, soos Henning Snyman uitwys in Mirakel en muse (1983).

 

In Schaffer se jongste bundel gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, en die werk van Susie King Taylor, o.a.

 

Postkolonialisme, "the empire writes back", agentskap en dekolonisasie het belangrike konsepte geword in ons tyd. Die stemlose het stemhebbend geword. In hierdie bundel word die digtende spreker 'n buikspreker vir die geskiedenis van sy ouers en sosiale onreg. Fanon is bekend vir die term "double consciousness". In Les damnés de la terre, 1961 (The wretched of the earth) verdedig hy geweld teen verdrukking. Hierdie boek is in Frankryk verbied en Schaffer speel hierop in:

 

Tijd dag plaats - mensen wat een drama

 

Ik weet wel wat de bromvlieg drijft

Die continu tegen mijn vensterraam blijft vliegen.

––

Zijn geblokte bewegingen.

Een kleine zwarte held die lak heeft aan censuur.

Het is zo lang geleden allemaal.

Ik hoop dat hij snel vrijkomt.  (34)

 

Die digter buikspreek vir die ouer (41) en die stem van die vertellende digter word onderbreek deur prosa-insette of selfs deur 'n dreigende e-pos. Die lewe van die migrant word beskryf as 'n bestaan van 'n muisval met 'n blokkie kaas.

 

Taal en vervreemding word ook aangespreek: die eerste taal is in bruikleen; die tweede een word vir noodgevalle agter die hand bewaar.

 

In die gedig "Wie was ik" (84) vind ons 'n enumerasie van onreg en pyn. Hierdie gedig resoneer met Johann de Lange se gedig "Ek is my" in Die meeste sterre is lankal dood (2020).

 

Dit is 'n melancholiese bundel met verskillende stylsoorte wat die werklike en emosionele grense tussen lig en duisternis ondersoek. Die bundel bestaan uit fragmente, gedigte in kursief, opgebreekte reëls, afwaartse reëls, e-posse, chiasmus en prolepsis, oftewel die vraagstelling en beantwoording van daardie dikwels retoriese vrae. Dit is 'n metamodernistiese bundel wat implisiete vrae vra oor die boomstruktuktuur van ontelbare werklikhede (97)

 

"tegen de patrijspoort / van my isolement" (105) lees ons. Is kleur (huid) 'n seën of vloek? Die bundel sit vol ironieë soos 'n e-pos wat aanbeveel dat 'n mens iets uit 'n krisis moet leer (78).

 

Schaffer is woonagtig in Suid-Afrika en doseer in die Afrikaans en Neerlandistiek departement  aan die Universiteit van Stellenbosch. So bekyk (en versoen) hy dus drie wêrelddele as buitestaander én kritiese waarnemer. Waar Elisabeth Eybers na Suid-Afrika in 'n tussentaal terugbeweeg het, reik Schaffer uit na Nederland en haar kolonies in sy eie taal.

 

Dis 'n uitdagende en ontroerende bundel. Een waarin die kind stem gee aan die moeder wat anders net sou verdwyn het. Aruba en Curaçao word geplaas teenoor die Lae Lande: en mense mag grondwetlik gelyk wees, maar die realiteit wys iets anders op. Alles staan hier in tweevoud: die "double consciousness" van Fanon word poëties ondersoek. Schaffer begryp die "ultrasoniese vibrasies" van sy tyd soos hy dit klinkend stel soos opgestel in die programvers "Mira Akí!".

 

Daar is reëls wat my altyd sal bybly:

 

ik ben als de liefde een veeg uit de pan

een harde emotie (56)

 

blijt ineengezakt achter op de bodem van mijn geest

als een marionet zonder touwtjes (57)

 

'n Bundel van afskeid en vertrek; vertrek en aankoms. Die bundel stel besondere eise aan haar leser, maar aanhouer wen! 

 

Sunday, February 28, 2021

Resensie | Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter | Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020

Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020. ISBN 978 0 620 905022 2

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die skoonheid van wondere is gevind

 

I

De Waal Venter het met sy Pablo Neruda-vertalings Vandag is boordensvol (2019) die gesogte Akademieprys gewen.

http://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.htmlBesoek 24 Desember 2020

Alles keer om is sy vertalings van Tomas Tranströmer se verse wat in 2011 met die Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Gebore 1931 en oorlede in 2015 was Tranströmer digter, vertaler en sielkundige.

 

Modernisme, ekspressionisme, surrealisme – so is hierdie gedigte al tipeer. Hierdie digter – soos vele modernistiese digters – is beskuldig van ‘n a-politiese aanslag.

 

Met die lees van hierdie pragtige antologie het hierdie leser weer teruggekeer na die verse van Wallace Stevens, in lewe ‘n baas van ‘n assuransie-maatskappy in Connecticut en volgens homself glo ‘n Sondagdigter, gebore in 1879 en oorlede in 1955.

 

Opperman was ‘n groot bewonderaar van Stevens se poësie.

 

In “An Ordinary Evening in New Haven” (1950) skryf hy:

 

The poem of pure reality, untouched

By trope or deviation, straight to the word,

Straight to the transfixing object, to the object 

At the exactest point at which it is itself,

Transfixed by being purely what it is.

A view of New Haven, say, through the certain eye,

The eye made clear of uncertainty, with the sight

Of simple seeing, without reflection. We seek

Nothing beyond reality.

 

Stevens is duister, verwikkeld, maar soms ook liries. Soos Tranströmer, waar die lees van sy gedigte ‘n bykans hipnotiese effek het op die leser. Die voorblad gee vir ons ‘n ómgekeerde beeld van ‘n idilliese Sweedse huis met bome …

 

Helaas is alles nie pluis hier nie. Ons verneem van ‘n onstelde meditasie en daar is elegiese verse. Telkens word ‘n mens bewus van ‘n dubbele keuse en tyd is ‘n gevange insek:

 

                                               My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek. (39)


Daar is grimmige ondertone in hierdie verse soos die verwysings na Georges Simenon, die bekende Belgiese speurskrywer en die Bockstenman wie se lyk in 1936 ontdek is in ‘n bog – deurboor & vasgepen met twee houtpenne…

 

Simenon se lewe was ook vol onstuimighede ten spyte van speurder Maigret se beheer oor alles. En Tranströmer skryf oor stilte – nes sy meesterlike landgenoot Ingmar Bergman dit weer op sy beurt uitstekend vertolk in films. Autumn sonata (1978) en The silence(1963) bly gewoon hoogtepunte in die verbeelding van ‘n versmorende stilte wat sy digterkollega eweneens aanspreek.

 

“In klein bleek telegramme van die wêreld” (51, “Lamento”) is die pynlike geskiedenis van die Afrikaanse digter D.P.M. Botes opgesluit.

 

Soos Stevens werk Tranströmer met verwysings, selfs soms met ‘n voetnoot; ander kere moet die leser self die verwysing ontsluit.

 

II

“Oggendvoëls” (65) is betowerend mooi en hierdie ekster gesels met Opperman se narokkong. Die ekster is die hel se voël; by Opperman is die narokkong, via Sangiro se Koors, die draer van slegte nuus. Opperman se “Koggelbos” (Komas uit ‘n bamboesstok)gebruik die narokkong met sy grieselige, eentonige en rou geroep, soos Snyman uitwys in Mirakel en muse (129).

 

Stilte. Eensaamheid. Isolasie. Die soeke na sin en betekenis navigeer hierdie besondere verse vérder. Grimmige humor vind ons ook soos in “Oklahoma” (73) waar die Sweedse besoeker na ‘n Indiaanbyl kyk …

 

In ‘n lewenskets van Grieg (“‘n Kunstenaar in die Noorde”, 79) is die vleuelklavier so beknop ingepas as ‘n swael onder ‘n teëldak. My eksemplaar sit vol uitroepe waar ek so bekoor is deur ‘n mooi beeld.

 

Daar is verse wat kort en kragtig is; selfs ook ‘n villanelle, prosaverse – telkens bly die leser bekoor deur ‘n vers wat jou inkatrol en onkant betrap.

 

Die posseël se vlieënde tapyt

die adres se steierende letters

plus my verseëlde waarheid

swewend nou oor die oseaan. (“Lugpos”, 169)

 

Die digter betrek die geskiedenis, die skilderkuns (o.a. Turner), musiek, en daar is selfs ‘n verwysing na die Transvaal.  Shangai en uit ‘n Afrika-dagboek staan hier.

 

Daar is soos by Wallace Stevens ‘n soeke na die woord wat die regte emosionele lading moet weergee. Soos by Opperman.

 

III

‘n Groot geskenk in hierdie troebel dae hierdie vertalings van De Waal Venter. Hierdie leser ken nie Sweeds nie, maar via die Engelse vertalings imponeer De Waal Venter s’n bepaald.

https://www.poetryfoundation.org/poems/51016/the-indoors-is-endless  Besoek 24 Desember 2020

 

Hy het in Venuti se terme die gedigte huis toe gebring.  In ‘n nawoord gee De Waal Venter redes vir sy keuses en verwys na verskillende vertaalteoretici se sieninge oor vertaling. Sonder vertalings sou ons ervaring van ander letterkundes nie bestaan het nie.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas … (“April en stilte”, 171) 

 

is ‘n melancholiese strofe wat hierdie leser al lankal met haar saamdra, danksy De Waal Venter se bekendstelling van hierdie digter aan ons en een wat ek met sy toestemming as ‘n motto wil gebruik.

 

“Droomseminaar” (148) is ‘n gedig wat sterk resoneer met die tyd waarbinne ons leef …

Die onlogiese, die primitiewe, die droom, stiltes en spiritualiteit word saamgesnoer in wonderbaarlike gedigte met worstelstelsels wat ondergronds práát met ander digters in die “oop en geslote ruimtes” van die digkuns.

 

Daar is soos Neruda mos gewaarsku het: geen digters nie; net een groot digkuns.

 

Bronne:

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

 

Lys van bundels:

  • 17 Poems (17 dikter), Bonniers, 1954.
  • Secrets on the Way (Hemligheter på vägen), Bonnier, 1958.
  • The Half-Finished Heaven (Den halvfärdiga himlen), Bonnier, 1962.
  • Bells and Tracks (Klanger och spår), Bonnier, 1966.
  • Seeing in the Dark (Mörkerseende), Författarförlaget, 1970.
  • Paths (Stigar), Författarförlaget, 1973.
  • Baltics (Östersjöar), Bonnier, 1974.
  • The Truthbarrier (Sanningsbarriären), Bonnier, 1978.
  • The Wild Market Square (Det vilda torget) Bonnier, 1983.
  • For the Living and the Dead (För levande och döda), Bonnier, 1989.
  • The Sorrow Gondola (Sorgegondolen), Bonnier, 1996.
  • Prison (Fängelse), Edition Edda, 2001 (from 1959).
  • The Great Enigma (Den stora gåtan), Bonnier, 2004.

 

 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Monday, February 1, 2021

Resensie | Antjie Krog – Met die oog op môre | Protea: 2019

Antjie Krog – Met die oog op môre. Protea Boekehuis, 2019. ISBN 148531125X

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Met die oog op môre is 'n versdrama van die digter Antjie Krog. Hierdie ervare digter het alreeds haar hand gewaag aan die herdigting van Tom Lanoye se tekste, en veral haar verwerking van Koningin Lear in 2019 (met Marthinus Basson as regisseur) was as teaterervaring, en is as  leesteks vir hierdie kritikus 'n hoogtepunt.

 

Met haar versdrama word die woorde A re shweleng fatshe la rona (Laat ons sterf, die grond is ons s'n) die subteks, wat 'n verbeelde interaksie tussen twee figure weergee. Hierdie mito-poëtiese gesprek waaier uit na ons huidige situasie.

 

Die skering en inslag van hierdie teks is sowel poëties as feitelik. Hier is baie woordhandeling, soos kenners van die versdrama dit beskryf.

 

Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, 'n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. 'n Swart koning word geplaas  teenoor 'n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

 

Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat "heidene" wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus.

 

Is hy nie maar net 'n voorvadergees wat intree nie? 

 

Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer 'n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier 'n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word 'n teenpool.

 

Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger 'n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, 'n profetes en 'n koor. "Die draaiende bal van vuur met 'n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie",  teenoor koning Salomo se wysheid word 'n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

 

Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is 'n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

 

Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. 'n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

 

Die ellendes van misverstand: Basotho's sit opmekaargedruk soos paddavisse in 'n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks.

 

Die leser word van 'n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

 

Een punt van kritiek: die p-woord val vir my buite die toonaard van die koning se manier van praat en sy denke.

 

Krog se Met die oog op môre moet teen die volgende tekste geplaas word, omdat die leser al hierdie intertekste saamdra. Dalk is dit haar antwoord op Louw se Germanicus (1956), daardie uitsonderlike epiese drama? Gaan lees Jo-Marie Claassen, 'n klassikus, se voortreflike analise van hierdie drama op Litnet. Wat histories onwaarskynlik mag wees, is wel dramaties regverdigbaar, sowel by Louw as in Krog se versdrama.

 

Die epos het in Afrikaans hoogtepunte beleef met Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik(1949) en hierdie teks praat implisiet met hierdie twee klassieke werke. 

 

Hierna was daar Lucas Malan se Hongergrond (1994) en meer onlangs Hein Viljoen se Brisant (2019), al beskryf as 'n postmodernistiese epiese gedig, met verskillende betekenislae, wat besondere eise aan die leser stel. 

 

Jolyn Phillips se Bientang'n !naugedig (2020) werk met "stofpadgedigte" van die geskiedenis sowel binnelands as buitelands róndom die figuur Bientang met verskillende metriese patrone.

 

Nogal 'n ryk skat in Afrikaans van 'n besondere moeilike digvorm wat gehoor moet gee aan die eise van die digkuns én die luisteraar moet bevredig indien dit uitgesaai word. En die opvoering eis weer iets anders want hier het jy kyker én toehoorder.

 

Hoeveel weergawes het Raka nie al met sukses beleef nie. Raka is selfs al as 'n ballet verwerk. Die grootsheid van 'n teks word aan sy antwoorde of parodieë herken.


Dink maar aan Tennessee Williams se A streetcar named desire  van 1947 wat Almodóvar so voortreflik ingeweef het in sy film All about my mother (1999). En Williams was ook digter; hierom is die musikaliteit van sy dramas tersaaklik. Elke punt en aandagstreep moet nagekom word.

 

In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.

 

© Joan Hambidge

Wednesday, December 30, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur | 2020

Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur, 2020. ISBN 978-0-620-90396-7 

Resensent: Joan Hambidge  

 

Die mens moet die aarde bewoon:

die helder, onbekende hier.

 

I

 

Johann Lodewyk Marais se gedigte moet gelees word asof die digter werk aan een groot oeuvre. 'n Mens dink hier aan T.T. Cloete se opmerking met Allotroop dat hy 'n katedraal bou en selfs mindere gedigte word binne die katedraalwêreld belangrik.

 

Telkens is daar temas – soos oor insekte byvoorbeeld of oor die ekologie – waarby hy stilstaan. Hy is bekroonde digter, reisbeskrywer, historiese navorser en samesteller: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

 

Sy gedigte is ondersoekend en fenomenologies. Hy staan stil by die "dinge" soos J.H. van den Berg, die metabletikus. Hy is terselfdertyd nostalgies en intellektueel-besinnend. Hy kyk térug na sy plaasagtergrond as 'n ouer, gedistansieerde persoon. 

 

Sy verse werk dikwels met die litotes, dus met die eenvoud of enkelvoudigheid van die understatement.  Vormbeheer is hier (soos "Bobbejaanoor") en sy vers oor Diego Maradona bly 'n wenner. [1]

 

Sy gedigte word gekenmerk deur spaars, min woorde. Soms is dit dalk te min, maar wanneer hy die gedig laat balanseer tussen suggestie en uitvoering, is die gedig 'n klein meesterstuk soos:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

 

In die Atlasberge van Marokko 

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Hoe sou 'n mens sy digkuns opsom? 'n Moderne Leipoldt? 'n Voortsetting van Opperman se Afrika-bemoeienis?

 

Een van die vreugdes van die afgelope semester was om weer Leipoldt te doseer saam met Opperman. Hoe digters by mekaar aansluit en mekaar "voltooi", bly vir hierdie leser 'n invalshoek. Ons dink hier aan Opperman se "Mukene" (uit Dolosse van 1963) met sy slot:

 

Stiltes stippel in dié land

klippe tot voormalige verband.

 

Die metaforiese sintese in hierdie gedig (om Henning Snyman aan te haal uit Mirakel en muse, 107) is eweneens aanwesig in Marais se werkswyse.

 

Ons vind dan by Marais die verkenning van verskillende Afrika-ruimtes via bome o.a. soos hierdie vers oor Namibië:

 

Witgat

Boscia albitrunca

 

Die lokale en gemoedelike 

tussen die verknotte witgatbome

wat vroegaand oor hulle skaduwees hurk,

word versteur wanneer die trop slagbokke

tussen die skewe stamme deur beweeg,

na die laaste blare en takkies reik

en gedwee verby die hekpale tou. 

 

Okahandja, Namibië

 

Die ikonisiteit van die gedig is vernuftig: die vorm van die gedig stel die beweging van die bokke verby die hekpale voor.

 

Die wetenskaplike naam en die volksnaam van die boom bring 'n verdere spanning na vore en die digter verskies ook in sy vers noemname vir bome.

 

Die vader het o.a. 'n peul uit 'n ander landskap, die ou Suidwes, saamgebring en nou is hierdie boom besig om die koue van die Vrystaat in eensaamheid te trotseer:

 

Kameeldoring

Vachellia erioloba 

 

My pa het ’n peul soos ’n bok se oor

uit die kameelveld saamgebring en tuis

oopgebreek om die pitte uit te skud.

Nou trotseer hierdie reus van ou Suidwes

met sy plat kroon en harde, rooibruin hout

en kleure van die diere van dié land

die Vrystaatse winters alleen en koud. 

 

Dikwels is daar personifikasie en in die hand van 'n mindere digter sou dit steurend kon wees, maar die ou reus trotseer die koue winters soos 'n mens.

 

Wanneer Marais dan oor hierdie landskap skryf, tree hy in gesprek met Kobus Lombard en Hendrik J. Botha wat in hul gedigte hierdie wêreld verken. 

 

Landskapdigters skryf uiteraard meer as oor landskap. Dikwels word dit personifikasie of 'n spieël van die innerlike van die digter wat identifiseer met die wêreld om hom.

 

Die hele kwessie van migrasie en die huidige politieke kwessies rondom mense wat nie meer geborge in 'n hul wêreld voel nie, vind ons hier:

 

Peulmahonie

Afzelia quanzensis

 

’n Onwettige immigrant 

van Mosambiek bring die sade

van ’n mahonie oor die grens,

voel met sy vingers in ’n sak

die gladde, blink omhulsels

en gewaar met die terugkyk

in ’n blik deur die taxi-ruit

agter hom op die horison

die dik rook van ’n houtskoolvuur. 

 

Verder is daar verse oor Gaboen en ander onbekende Afrika-streke voorheen nog nie besoek in ons digkuns nie.

 

 

II

 

Hierdie beeldvers oor Pierneef is betowerend mooi.

 

J.H. Pierneef

1886–1957

 

In Afrikakuns ontdek hy 

lyn, sirkel, driehoek en vierkant

en herhaal twee of drie kleure

ritmies in suiwer samehang.

 

Hy teken bome oor en oor: 

getuie van die lewenskrag 

tussen hemel en aarde

net soos die natuur dit beskik.

 

Stroop bome van hulle blare, 

skep soetdoring en maroela

teen die aandrooi spel van wolke

geëts bo die hart van die land.

 

Blaai vinnig na sy ex libris

en sien ’n monnikefiguur

staan by ’n hoë, steil esel

teen ’n duistere kremetart.

 

 

III

 

Dit is 'n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is.

 

Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en 'n mens vind hierdie digter 'n soeke na spirituele sin.

 

Marais is 'n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse bly vir hierdie leser en digter 'n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. [2] Die gesprek met Willem Boshoff registreer ook iets hiervan in die slotvers "Verklaring". 

 

Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en 'n uitgebrande boom, en die gedig  as 'n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse  en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat "digterlike botanie". Hierom dan 'n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers.

 

Die digter as nomaad, maar geborge in sy jeugervarings (bykans 'n idille).  'n Gedig soos "Inkblom" is dan ook 'n ars poetica en "Rooi-ivoor" is beeldend mooi:

 

Rooi-ivoor

Berchemia zeyheri

 

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig 

van ’n lampstaander uit jou hout 

gedraai deur ’n kundige hand 

en soek woorde om jou te eer.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het 

jou gevel, wolframversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgesplyt.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling 

van jou blink, geskulpte blare

stil geword het, klink jou naam op

in ivoordraers se donker bloed.


Imprimatur het met hierdie bundel 'n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. 'n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.

 

 

Nawoord:

 

[1].  Die vers oor Diego Maradona speel met die idee van die vlugvoetigste ... hy wat met passie die nommer 10 dra. Ons vind dieselfde passie en vlugvoetigheid in hierdie bundel.

 

[2]. Hierdie bundel het die volgense vers geïnspireer:

 

Geestelike eskarp 


vir Johann Lodewyk Marais

 

Die landskap 

van my jeug:

'n aalwyn,

bloekoms, wilgers.

 

Aalwyne oorleef,

bloekoms ruik verdrietig,

wilgers treur

in 'n waterspieël.

 

Onvermeld:

die sipresse

langs ons huis

posmeesters van die dood.

 

 

Bibliografie

 

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

Thursday, December 24, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Bethlehem-ster | 2020

As die drie wyse manne vandag

uit die Ooste sou aankom,

sal hulle maskers dra;

 

nes Maria en Josef

in die stal aangetref

met die Jesus-kind.

 

Nie goud, wierook

of mirre sal hulle bring

hierdie keer nie.

 

Saam met geloof, hoop

en liefde waarskynlik

'n antidoot

 

téén die kroon van siektes

wat alle sekerhede

nou óntmasker.


Tuesday, December 22, 2020

Fiksie | Die geskenk | 2020

No such thing as a free lunch 

My vriendin in 'n kusdorpie is die eienaar van 'n gastehuis. 

"Ek kan al 'n boek skryf oor mense en hul gedragspatrone. Die grypsugtigheid. Die vermetelhede ..." Sy bly stil. Sy laat haar selde emosioneel sterk uit oor mense.

"Die ergste keer was daardie mense wat 'n naweek as geskenk ontvang het. Man en vrou. Skaars gegroet met die aankoms en vertrek sonder om te groet. Die muesli-bak geplunder en al die vrugte in die eetkamer saamgeneem."

 

Wat is die onderliggende en dus onsigbare geskenk tussen gee en ontvang?

Gee sonder om iets terug te verwag?

 

So neem ek jou - as gas - om jou te bedank vir alles na 'n 5-ster-hotel op dieselfde kusdorpie.

 

Van meet af aan was alles verkeerd volgens jou. Die kamer verkeerd gedekoreer. Die vloere ongelyk in die kamer. Die TV-kas vibreer wanneer 'n mens verby stap, mor jy. Ook die kos kritiseer jy. As goeie sjef laat ek jou begaan.

 

Net die wyn was nie gekurk nie. Wel buitensporig duur volgens jou.

 

Die aand is ons bed toe. Jy keer jou rug op my nadat jy Visi gelees het.

 

Die volgende oggend met brekfis knor jy oor die koue harde botter.

 

Toe ek die rekening vereffen, loer jy skelm om te sien wat die geskenk gekos het.  Miskien omdat jy as man voel 'n vrou kan nie vir jou betaal nie?

 

Net ás jy vir terapie betaal, werk dit. 'n Ou standpunt toegedig aan Freud.

 

Dieselfde geld geskenke. Het ek en die eienaar van die gastehuis iets anders verwag?

 

Dalk 'n onsigbare koepon van erkenning? Respek?

 

Tans wemel die stad van haweloses en bedelaars wat iets verwag.

 

"Waar is die skoene?", eis die bedelaar toe 'n vrou vir hom brood gee.

 

Altyd is daar 'n korrektief op 'n aanname. 'n Hawelose het vir hom 'n tentjie langs die park in Tamboerskloof opgeslaan. Reg oorkant my venster waar ek skryf. Bedags slaan hy die tentjie op en plaas dit in rolle teen die draad. Hy het 'n ou fietswieletjie as 'n soort tempeltjie opgerig en smiddae vee hy die straat skoon.

 

Soggens praat hy in tale. Volgens 'n taxi-bestuurder is hy 'n bietjie mallerig.

 

Toe ek hom vra wat hy hier maak, bely hy dat hierdie stad 'n geskenk van God is. 

En dat hy elke oggend tweekeer bid om genade. Dat hy soveel genade beleef ver van die Kongo.

 

En ek dink aan my ou vader wat ook die gewoonte had om tweekeer dankie gesê het in gebed:

 

My pa sluit die deur tweekeer

 

Tweekeer altyd

tjekkereer my pa

die voordeur voor

ons na iewers vertrek.

 

Presies tweekeer:

my pa tjekkereer

die slot van die deur

voor ons uitjek.

 

Geen bose magte betree

ons huis omdat my vader

presies ja presies tweekeer

praat met sy hemelse Vader.

 

So verstaan ek geskenke beter nadat ek hierdie geskenk uit die hawelose se hand ontvang het.

 

 

© Joan Hambidge

 

Monday, December 14, 2020

Rubriek | Geloof | 2020

I

Die debat rondom Ben du Toit se God: Is daar 'n ander antwoord? herinner aan die polemiek tussen Terry Eagleton en Richard Dawkins. Eagleton, die bekende Marxis en ateïs, wys daarop dat 'n mens die geskiedenis van die kerk moet ken, alvorens jy uitsprake maak oor godsdiens. Op you tube kan 'n mens Eagleton beluister (Terry Eagleton | Richard Dawkins and The New Atheists – YouTube. Besoek 8 Desember 2020).


Du Toit se boek dra die sub-titel: 'n bevrydende reis, en die paleontoloog Jurie van den Heever verdedig sy boek téén fundamentalistiese besware (Rapport, 6 deser). En: die kerk moes dan eerder gesluit word weens teologiese bontpratery. Die kerk het egter ook 'n sterk sosiale funksie veral in hierdie dae met die verskaffing van kos en slaapplek vir armes tydens die pandemie.

 

Eerder as om al die argumente te herhaal sodat kompleksiteite dalk verlore mag gaan, wil hierdie skrywer eerder 'n addendum skryf. Vir sowel Van den Heever as Johann Rossouw, wat uit 'n ander invalshoek skryf, het ek enorme respek. 



II

 

Hierdie debat bring relevante perspektiewe na vore. Word die basis van die Christendom aangeval of is dit nodig om wetenskaplik en rasioneel na alles te kyk? Is daar dalk iets soos 'n God-geen? The God delusion?

 

Hierdie stryd tussen geloof en wetenskap is alombekend. Die meerderwaardigheid van 'n wedergeborene is net so vervreemdend as die wetenskaplike, rasionele aanslag. Natuurlik is die Ou-Testament van 'n ander tyd en geskryf in 'n ander sleutel met wette en dogmas wat belaglik lyk wanneer 'n mens dit vandag letterlik probeer vertolk.

 

Vir my is geloof en wetenskap verskillende kante van dieselfde munt. Die wetenskap ontdek, dryf voort; geloof staan in verwondering en deemoed. 

 

Die eerste gedigte op aarde was gebede, voer Ottone M. Riccio aan in The intimate art of writing poetry (1978). En indien jy nie die Bybel ken nie, kan jy nie Van Wyk Louw, Opperman, Breytenbach of Antjie Krog (om enkele name in Afrikaans te noem) begryp nie. Nog minder Elisabeth Eybers se stryd met geloof snap. Gaan kyk na Pieter Smit se Visum vir die vreemde (1977). Is NASA se boodskappe na Mars nie 'n tersaaklike voorbeeld van wáár wetenskap en geloof mekaar ontmoet nie?

 

Leonardo da Vinci se Vitruvian man, en Chuck Berry. Die geluid van 'n baba, en moreskodes, o.a. beweeg in die verre ruimte (Who Are We? The Golden Record 2.0 | The Edge of Yesterday. Besoek 8 Desember 2020).


Ek het al die munte van die maanlanding by die plaaslike garage versamel en in 'n boekie wat voorsien is, gehou. En oor Buzz Aldrin gedig jare later.

 

 

III

 

In my lewe had ek die voorreg om Machu Picchu driekeer te besoek (rondom al die mites van Erich von Däniken oor die bestaan van buitenissige wesens) en die piramides in Egipte gesien. Verskeie katedrale, tempels en ruïnes het ek eweneens meegemaak.

 

In my biblioteek staan die werk van groot teoloë soos J. Wentzel van Huyssteen en die spekulatiewe tekste van Colin Wilson wat heet The unexplained. Daar staan oerwyshede in die tarot opgeteken nes in die Kabbala waaroor die groot Amerikaanse kritikus Harold Bloom insigryk skryf.

 

Drie Bybels besit ek: die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953, die Tibettaanse boek van lewe en dood en Tristia.

 

Tussen geloof en sekerheid navigeer ek tans gedigte in 'n bundel wat Sanctum heet. 

Nou reis ons net in herinnering en verbeelding:

 

Apotropaïes

 

Vir Etienne Leroux

 

By watter kerk,

by watter tempel of katedraal

kon ek weer my geloof vind?

 

In watter kerk,

langs watter tempel of katedraal

my oopgemaak vir pleroma?

 

In Tokio by 'n wierookbakkie

roep ek na die kenners

van Gnostiek

soos jy en Harold Bloom

en by die Andes

ver en uitgestrek

wonder ek 

oor jou derdeoog

en jou verskansing

agter 'n donker bril.

 

Met volmaan

spuit die fonteine uit

in die Chileense woestyn 

 

genade 

waar die bythos

 

my dualistiese-twyfelende aard

óphef.

 

 

IV

 

Hierdie debat sal altyd voortwoed. Om gelowig te wees, is 'n genade. Om ateïsties of agnosties te dink, is jou goeie reg. Te veel kerktoe-gaan as kind het Dawkins benadeel, het hy telkemale bely.

 

Maar om geloof wetenskaplik te probeer "bewys", is onmoontlik. Geloof is meer as die kerk of uitgediende reëls of voorskrifte, opgeskryf in die Ou-Testament.

 

Bythos, god van die see-dieptes, beteken dan diepte in die Gnostiek. Terry Eagleton verwys na Dawkins se "mispunching" in hul debat. Eagleton het sokker heel vermaaklik tipeer as die new opium of the people.

 

'n Teoretikus wat hierdie leser met groot plesier lees en een wat o.a. die postmodernisme al skerp gekritiseer het. Waarmee ek nie saamgestem het nie. 

 

In 2008 het in 'n lesing aan Yale Universiteit het hy skerpsinnig opgemerk:

 

"All I can claim in this respect, alas, is that I think I may know just about enough theology to be able to spot when someone like Richard Dawkins or Christopher Hitchens – a couplet I shall henceforth reduce for convenience to the solitary signifier Ditchkins – is talking out of the back of his neck."

 

Reason, Faith, and Revolution: Reflections on the God Debate verskyn in 2009.

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport.)