Showing posts with label Harold T. McCarthy. Show all posts
Showing posts with label Harold T. McCarthy. Show all posts

Sunday, February 17, 2013

Henry James deur die oë van ander – Deel III

Henry James (c) John Singer Sargent

So twee jaar terug is ‘n kollega aan die UK besig om sy kantoor op te ruim en boeke uit te gooi. Hy het van vakgebied verander en nooi almal uit om boeke te neem waarin hy nie meer belang stel nie. Ek vra of ek die Leon Edel, in twee volumes netjies in ‘n boksie verpak, oor die lewe van Henry James mag kry?

Natuurlik. Hy het die letterkunde vir media-studies verlaat...

Hierdie twee tome en Harold T. McCarthy se The Creative Process (1958) het ‘n beduidende invloed op my begrip van hierdie skrywer gehad en die afgelope paar weke het ons Henry James deur die oë van ander, waargeneem.

In bykans al die romans word ‘n skatpligtigheid aan Edel se biografie genoem. Party skrywers erken verder dat die briewe bestudeer is en werklike Henry James-afficionado’s ken ongelooflike besonderhede oor die skrywer se lewe.

Colm Tóibín illustreer iets hiervan: in The Master weet ons geweldig baie van die skrywer se ervaring van Venesië en die selfmoord van sy skrywersvriendin. Ook in welke mate werklike mense modelle was vir James, blyk uit hierdie skitterende teks.

Henry James se notaboeke is vir die letterkundige speurder ‘n fassinerende en besonder openbarende versameling. Telkemale staan die leser voor die besef dat die skrywer skuldig voel omdat hy nie by mense kan of wil betrokke raak nie. Hy kyk na die “donnée”, oftewel dit wat hy uit die lewe kry ten einde te kan skryf. Tog bly hy deurgaans bewus dat die ervaring nie vanself teks word nie; dit moet deur geweldig baie dinkwerk en gevoelens gaan alvorens dit verhaal word. James gebruik dikwels as kritikus die begrip “feeling” wanneer hy die sukses van ‘n ander skrywer se ‘n verhaal beoordeel.

The Real Thing illustreer waarskynlik James se siening oor die verhouding tussen die lewe en kuns ten beste: ‘n kunstenaar maak sketse van bekende mense en ‘n egpaar, Major en Mrs Monarch bied hulself, weens finansiële nood, as modelle aan. Hulle het die regte kleredrag, gesigte, posture en dies meer, maar die kunstenaar vind dat hy beperk word deur die werklikheid en dat daar min ruimte vir die vlug van die verbeelding bestaan, argumenteer McCarthy. Dit kan volgens hom ook as ‘n kritiek op die Naturalisme gesien word en die beheptheid van hierdie beweging om die werklikheid getrou weer te gee soos onder meer in die romans van Zola. Vir die slordigheid en vormloosheid van die Naturalisme had James geen sin voor nie. Vir hom moes ‘n roman aan vormlike eise voldoen. Tussen die idee en die vorm van die roman is daar dieselfde verhouding as tussen ‘n naald en gare: "I never heard of a guild of tailors who recommended the use of the thread without the needle, or the needle without the thread” (McCarthy, p. 99).

Een van James se belangrikste dictums oor die skrywer was die volgende uitspraak: "For the teller is but a more developed reader” (McCarthy, p. 71). Hierdie uitspraak is gemaak in verdediging teen sy broer, William se reaksie op die einde van The Europeans.

‘n Mens vermoed hier dat die broer reageer op sekere herkenbaarhede en dat Henry James se verweer was dat die skrywer beter weet as leser(s) wat iets wegwens...

In Henry James – The Creative Process word sy vriendskappe met ander skrywers ook toegelig. Onder andere ‘n merkwaardige verbintenis met die Russiese skrywer, Toergenjef en James se huldeblyk ná sy dood, kan van toepassing gemaak word op sy eie sieninge van die skryfkuns. Die sogenaamde “habit of observation” is waarskynlik een van James se bekendste eienskappe. Die vriendskap met hierdie Russiese skrywer het vele van James se aanvanklike skepsis oor sy skryfaanslag verander.

In hierdie studie word James se bewondering vir Flaubert behandel. En die algemene ekstase vir die werk van George Sand in haar tyd!

Die verskillende romans wat ons die afgelope paar weke gelees het, lewer kommentaar op fasette van sowel James se leefwyse as sy artistieke opvattinge. Michiel Heyns se The Typewriter’s Tale lewer by implikasie ‘n meer gedistansieerde bik op James se lewe, maar juis deur die gebruik van ‘n buite-kommentator lewer dit paradoksaal helderder kommentaar op James se afsydige houding en sy vrese vir intimiteit. Lodge se Author, Author is waarskynlik te gedistansieerd in sy blik op die skrywer.

Leon Edel in sy magistrale biografie, noem James “The Observant Stranger” tydens sy Londense periode. Hy kom as ‘n absolute vreemdeling na die stad, maar ken binne ‘n kort ruk te veel mense. Hierom dat hy uitwyk Rye toe.

Buite die gevaarsone van mense wat hom aanhoudend uitnooi vir etes waaraan hy nie erg het nie.

Die lang wandelinge – hierop fokus Tóibín onder andere – word in die Edel-biografie in die grootste besonderhede weergegee. ‘n Mens weet selfs wat die skrywer vir ontbyt genuttig het!

Al die verskillende romanskrywers bely hul erkentlikheid aan Leon Edel se biografie en aan James se romans. Inderdaad kan ‘n mens Edel se invloed sien op al die romansiers. Die ongelooflike besonderhede waarmee alles opgeteken word, is bewonderenswaardig. Onder andere lees ons dat hy op ‘n Kersdag in Rome kalkoen en appelmoes nuttig. Hoe hy wandel, die stadige pas van die lewe in ‘n oop rytuig meemaak en sy besoek aan Rome vergelyk met ‘n vorige uitstappies.

Hoe hy verby die Spaanse trappe weifel, wegdraai in die Via Gregoriana.

Leon Edel se biografie boots bykans die styl van ‘n Henry James-roman na: die kleinste besonderhede, krakies, ligte wat waargeneem word, die vrees vir alleenheid, maar terselfdertyd, die bewuswees dat om by bekendes tuis te gaan, sy wêreld sou verklein en verburgerlik.

Henry James skryf só uitmuntend oor intimiteit en die spanninge tussen mense, omdat hy dit self as problematies ervaar het.

Die verskillende ‘antwoorde’ op Henry James se romans en lewe is soos ‘n ryk tapisserie vir die leser bekend met James se werk.

Daar word nuwe lewe aan James gegee en soos reeds opgemerk, moet hierdie ‘antwoorde’ of ‘homages’ gelees word as ‘n soeke na sin en spirituele diepte binne die roman.

Indien ‘n mens verder sou teruggaan, sou die invloede van Flaubert en Balzac, dalk ook Guy de Maupassant, se beheptheid met die vorm van die prosateks op James se tekste uitgewys kan word. En Toergenjef.

Maar hy het hom buite die letterkundige sirkels gehou; waarskynlik vanweë sy besware oor hul morele waagstukke (McCarthy, p. 20).

Dalk was Henry James in wese die gevangene van sy eie morele waardes.


Bronne:

Edel, Leon: The Life of Henry James I, II. Penguin, Londen. 1953/ 1977.

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Henry James deur die oë van ander – Deel II

Henry James (c) John Singer Sargent

Henry James – The Creative Process van Harold T. McCarthy het in 1958 verskyn. Dit is ‘n fassinerende studie oor die meester wat tans deur verskeie bekende en groot skrywers in biografiese romans of gewoon net in gefiksionaliseerde romans, beskou word. Michel Heyns se The Typewriter’s Tale staan nie ‘n duit terug vir die Britse of Ierse beskouings oor James nie. Inteendeel.

Sy teks is waarskynlik sterker as Lodge se Author, Author.

In dieselfde jaar as Lodge se roman, verskyn die kragtige bydrae van Colm Tóibín.

Die eerste vraag is: het hierdie skrywers van mekaar kennis geneem? En is dit tersaaklik of nie?

Die leser kry telkens ‘n nuwe blik op die figuur Henry James: beskou vanuit die perspektief van ‘n fiksionaliserende outeur.

Selfs al is daar van mekaar se tekste kennis geneem, is dit steeds elke ervare skrywer se blikhoek op die komplekse figuur, Henry James. Lodge byvoorbeeld, wend o.a. James se tegniek van binnestroom aan, terwyl daar by Tóibín eweneens sprake is van die binnespraak.

By Lodge word die jaloerse verhouding met Oscar Wilde uitgewerk, omdat James se drama Guy Domville misluk. (Die drama is op 5 Januarie 1895 opgevoer). Vanweë sy komplekse psige en sy vrees vir intimiteit, vind hy Wilde se gedrag aanstootlik en die openbare hofsaak en verguising van Wilde se homoseksualiteit steurend. Tóbín in The Master egter skep ‘n toneel waar ‘n kortstondige aanraking met ‘n man wel moontlik sou wees. By Heyns is daar ook verwysings na die Wilde-saak in gesprekke tussen karakters.

Al wat hierdie drie romans gemeen het, is dat al drie skrywers hul enorme navorsing en kennis kreatief aanwend om meesleurende romans oor die meester, Henry James te skryf.

(In die nawoord van The Master erken die outeur dat hy kwistig Henry James-uitsprake rondgegooi het en Etienne Britz wys ook in welke mate Michiel Heyns se taal deur James beïnvloed is. Sy resensie, wat ek nie op Die Burger se webruimte kon vind nie, is goedgunstiglik aan my versend deur die boekeredakteur.)

A.N. Wilson se A Jealous Ghost aktiveer nie die lewe van James nie, maar gebruik as interteks The Turn of the Screw. Die hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry James se The Turn of the Screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The Turn of the Screw laai die gegewe oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman, het ek in Mei verlede jaar geargumenteer in my resensie oor hierdie boek.

Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Todorov en Roland Barthes.

By die lees van al die verskillende romans oor James se lewe en werk, vra die leser die volgende vrae:

Is hierdie roman so geslaagd en pakkend as die eerste roman/lewe? Of sou dit nie gewerk het as dit nie vir die eerste teks was nie?

Die tweede vraag is uiteraard vanselfsprekend: indien die leser nie bekend is met Henry James-kodes nie, sou die teks enigsins kon slaag? 

Op hierdie twee vrae sou ‘n mens kon antwoord dat die ‘n bekendheid met James-kodes die teks met meer nuanses en suggestie laai, maar dat die oningeligte leser dit bloot net as ‘n “storie” kan lees.

In Wilson se roman sou ‘n mens derdens moet vra of die teks die volgehoue spanning met die bo-natuurlike so goed volhou as in die oorspronklike teks? Hierop meen ek van ja, want ‘n mens probeer agterna presies uitvind waar het die hoofkarakter, Sallie Declan (decline) ontspoor? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?

Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse, met ‘n aweregse kritiek op die Harry Potter-reekse se populistiese hantering van die bo-natuurlike.

In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die parapsigologiese; by Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word. En so gelees, word die spanning tussen twee tydvakke goed verbeeld.

In Harold T. MacCarthy se studie oor Henry James word ‘n lang hoofstuk afgestaan oor James se werkswyse. Hy skryf: “James preferred, even in short stories, to develop the dramatic oppositions latent in his donnée and produce a work that illustrated something about life as a whole. He wanted to exhibit delicate shadings, to see one thing through another and still another through that, to see all the dimensions of an idea and produce the effect of ‘truth diffused, distributed and as it were atmospheric’.”

En al hierdie verskillende romans doen presies dít waaroor MacCarthy skryf in sy studie, ‘n geskenk aan my jare gelede gedoen deur ‘n bekende romanskrywer.




Bronne:

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Leon Edel: Henry James: The Master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The Creative Process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

A.N. Wilson: A Jealous Ghost. Hutchinson, Londen. 2005.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]