Showing posts with label Random House. Show all posts
Showing posts with label Random House. Show all posts

Thursday, September 12, 2019

Resensie | Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls (2019)

Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls. Penguin Random House, 2019. ISBN 9781485904014

Resensent: Joan Hambidge


In 'n land sonder voëls is die laaste roman van Harry Kalmer, 'n gerekende romanskrywer en dramaturg, wat met die gesogte Barry Ronge-prys bekroon is vir sy roman oor Johannesburg, 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014), in vertaling.

Dit heet A Thousand Tales of Johannesburg. In hierdie verhaal word Totius seTrekkerswee opnuut belig en Kalmer se blik op die geskiedenis is eweneens belangrik, o.a. sy drama oor Bram Fischer.

Kalmer was 'n uiters produktiewe skrywer. 'n Onmiskenbare stem met gestroopte prosa. Soos Ryk Hattingh, is dit vreemd dat hulle nie genoegsame erkenning in hul tyd geniet het nie. En hierom is dit goed om nou, by die lees van die laaste roman, ook te kyk na die bydrae van hierdie skrywer wat waarskynlik in die skadu van Koos Prinsloo gestaan het.

Die laaste roman van 'n skrywer wat jy lees wetend dat hy sopas oorlede is, kan uiteraard nie objektief of gedistansieerd benader word nie. 

As dramaturg, kopieskrywer en romansier het hy 'n merk gelaat. Die laaste teks is 'n distopiese roman. Dit is 'n roman oor inperking met 'n Korporasie. In die vyftiende jaar van die Ekonokrasie. Demokrasie is iets van die verlede. Die natuur is buite beheer.

“Fladdering”, “Vlug” en “Land” heet die drie afdelings. Die vertelling beweeg in ‘n sirkelgang tussen droom en onthou …

Dis 'n distopiese roman en sluit tegnies aan by Alettie van den Heever se Stof en Lien Botha se Wonderboom

Adam ('n simboliese man) se dogter Jemima het weggeraak. Sy vrou Sybille is eweneens weg. Dis 'n roman van versaking en verlatenheid. Die skrywer gebruik ook die troop van die swaksiende man om die inbeweeg in fisiese en psigiese donkerte te karteer.

Hierdie roman bewys volledig dat 'n mens nie hierdie teks kan loslees van die skrywer se dood nie. Daar is vele kodes ingebed oor hoe die werklike outeur worstel met die aanvaarding van sy eie dood. Die transponering van die verlies van sy vrou en kind is in Jungiaanse terme sy anima én verwonde kind.

Dit is ‘n roman waarin die skrywer op 'n sober wyse afskeid neem van sy eie lewe. En steeds kritiese kommentaar lewer op 'n samelewing waar demokrasie al hoe meer 'n abstraksie word. Die eko-politiese kommentaar is eweneens relevant.

Dit is ‘n boek wat as ‘n laaste teks gelees moet word: ““Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.” Dit staan opgeteken in die aangrypende huldeblyk deur Erika Murray-Theron (Harry Kalmer, ’n persoonlike huldigingLitNet. Besoek 10 September 2019).

Binne sy uitgebreide oeuvre is dit ‘n kleiner werk, maar steeds beduidend oor die temas wat dit aansny. 

Die boek is 'n bittersoet elegie en die slot sny pynlike verliese aan. Dit word opgedra aan die skrywer se lesers. Daar is 'n innerlike samehang tussen die kursiewe gedeeltes en die gewone vertelling. Die roman begin omineus – en dit gooi 'n skadu tot die einde in die ekonokrasie en politiek wat geprivatiseer is.

Die boek artikuleer 'n taal van onthou.

Die slot is oop:
Ek leun terug in my stoel en vryf my oë. Staar lank na die swart letters op die skerm. Die einde van een storie is maar net die begin van 'n ander. In die vertrek langsaan begin musiek speel. Dit is die vierde deel van John Coltrane se A Love Supreme. “Psalm.” 31 Desember 2018Sterrewagkoppie
En daardie werk van die jazz saxofonis bly in die gemoed draal.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, August 8, 2015

Harper Lee – Go set a Watchman (2015)



Harper Lee – Go set a Watchman. Penguin Random House, 2015. ISBN 978 1 78 515028 9

Resensent: Joan Hambidge

Nog selde was daar soveel publisiteit rondom ‘n boek as met Harper Lee se Go set a Watchman. Die boek se verspreiding was onder embargo geplaas tot een minuut na vyf op die 14e Julie 2015. Daar is ook ‘n Audio-boek wat Reese Witherspoon voorlees.

Dit skep uiteraard ‘n hele verwagtingshorison rondom die roman. Gaan dit so goed wees as To Kill a Mockingbird wat ‘n Pulitzer en die Presidential Medal of Freedom verower het? En die siniese kritikus weet (by voorbaat): die roman sal goed verkoop ónafhanklik van die kritiese resepsie.

To Kill a Mockingbird is Amerika se Die swerfjare van Poppie Nongena.  Dit het meer as 40 miljoen eksemplare verkoop en is in meer as 40 tale vertaal.

Go set a Watchman is 'n roman uit die Diep Suide, meer spesifiek uit die vyftigerjare. Daar is vrouens wat korsette dra. Daar is rassespanninge. Tragedies is "a mighty sad thing". Ons lees van die Ku Klux Klan. Was Atticus hierby betrokke?

Hoe lees ‘n mens Go set a Watchman? Op die voorblad is daar op die agtergrond ‘n afbeelding van To Kill a Mockingsbird, ‘n uiters komplekse en hartgrypende roman wat in 1960 verskyn het. Dit is die verhaal van Scout en Jem en hul blik op rassediskriminasie wanneer hul vader, Atticus Finch ‘n swart man, Tom Robinson, moet verdedig teen ‘n klag van verkragting. Die vrou se klag, so argumenteer Atticus, het gespruit uit haar skuldgevoelens, omdat sy ‘n swart man wou soen. Hy word egter deur die jurie skuldig bevind, hardloop weg en word per ongeluk doodgeskiet.  Die kinders is aanvanklik vreesbevange vir die buurman Boo wat hulle uiteindelik red wanneer Bob Ewell wraak neem en die kinders probeer beseer tydens Halloween. Die sheriff besluit dat Ewell deur sy eie mes gedood is, maar die leser besef dat dit waarskynlik Boo was. Alles speel af in die verbeelde Maycomb, Alabama in die dertigerjare.

Die filmweergawe  (1962) met Gregory Peck is deur Robert Mulligan geregisseer en bly ‘n juweel van film. Dit begin met ‘n simboliese boksie met figuurtjies daarin geberg. En onder andere is daar ‘n horlosie in.

En dit is hoe ‘n mens hierdie twee tekste moet benader: as ‘n boksie wat jy oopmaak. En hoe tyd aanbeweeg het. (Of dalk nie? Ons weet dat daar steeds rassespanninge hier woed.)  Go set a Watchman verskyn in 2015 en is glo eerste geskryf. ‘n Bekwame uitgewer het vir Harper Lee aangeraai om die gegewe vanuit ‘n outentieke kindersperspektief aan te bied. Go set a Watchman word hoofsaaklik vanuit die derpersoonverstelling aangebied en ten spyte van die negatiewe reaksie op hierdie roman, het ek dit baie geniet.

Dit het my teruggeneem na baie kwessies róndom die verhouding tussen eerste teks en tweede teks. En die impak van publisiteit. (En die filmweergawe en die impak van outobiografie op die skryf van ‘n roman.)

Verder was daar ook ‘n skinderstorie in die VSA in omloop dat die eintlike skrywer van To Kill a Mockingbird eintlik Truman Capote was. Dit is egter ‘n omstrede siening veral gedagtig aan die outobiografiese merkers in die teks.

In die film Capote (Bennett Miller, 2005)  vertolk Harper Lee (met Catherine Keener) 'n klein rolletjie as die vriendin van Truman Capote wat sy roman oor die Kansas moordenaars skryf. Philip Seymour Hoffman wórd Capote.

“If they win this appeal,” he tells his friend Harper Lee, “I may have a complete nervous breakdown.” After they are hanged on April 14, 1965, he tells Harper, "There wasn't anything I could have done to save them.” She says: “Maybe, but the fact is you didn't want to.” (Capote Movie Review & Film Summary (2005) | Roger Ebert)

Die verskil is: Capote het bedenklike morele kanse geneem; Lee nie.  Hy het immers bevriend geraak met die moordenaars om hul storie te kry.

Vir sommige lesers verpletter Go set a Watchman die morele posisie van die eerste roman.

Dalk moet ‘n mens eerder die twee tekste as aparte romans lees. Scout is nou immers Jean Louise Finch wat teen die einde van die roman weer Scout word.

Die titels van die twee romans is eweneens relevant: die “mockingbird” mag nie doodgemaak word nie en word ‘n simbool van onskuld wat deur die gewelddadige ervarings wat die kinders meemaak, tog vernietig word.

Go set a Watchman verwys na Jesaja en waarskynlik Ou-Testamentiese vergelding, aldus 'n teoloog.

Jesaja 21:6 (“Gaan heen, sit 'n wag uit en laat hom sien”).

‘n Ouer persoon wat terugkeer na die “scene of the crime” vanuit die gesofistikeerde New York lê aan die basis van hierdie roman.

Behalwe vir die geweldige publisiteit en verkope is hierdie tweede roman waarskynlik, vir die meeste lesers altans, ‘n bewys dat ‘n mens nie moet peuter aan ‘n klassieke teks wat diep in mense se harte ingekruip het nie. Maar dit is ook ‘n mylpaal vir die redigeringswerk van ‘n ingeligte redakteur wat ‘n skrywer kon vra om iets anders te lewer.

Vele skrywers het al gesukkel om ‘n groot roman te troef met ‘n volgende. Maar as ‘n roman jou inspireer om weer To Kill a Mockingbird te lees en die film te kyk en na te dink oor presies wat is ‘n “taffeta dress”, dan het dit meriete. En in beide tekste word daar subtiele genderkommentaar gelewer. Onthou Lee en Capote was groot vriende. Nie net word konvensies rondom ras bevraagteken, maar ook rondom manlik en vroulik. Die jong dogtertjie wil nie rok dra nie.

Is Dill gebaseer op Capote? En die verwysings na hom in die pas gepubliseerde roman dui ook op 'n spanning tussen die outeur en Capote.

Die twee romans het 'n komplekse verhouding met die werklikheid, rassisme en die skryfproses. En hoe outobiografie verander word tot verbeelding.


Saturday, November 8, 2014

Henning Mankell - An Event in Autumn (2014)


Henning Mankell - An Event in Autumn. Random ­House, 2014. ISBN 9781846558078.
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman vorm deel van ’n BBC-reeks met die Britse akteur Kenneth Branagh in die hoofrol.

Dat ’n gesogte Shakesperiaanse akteur in so ’n reeks optree, bewys teoretici reg: die grense tussen populistiese en ernstige literatuur is besig om te vervaag.

Boonop bevat hierdie novella ’n essay (“How it started, how it finished and what happened in between”) waarin Mankell verduidelik hoe hy die rassisme van sy gemeenskap wou aanspreek en die naam van sy hoofkarakter, Kurt, in ’n telefoongids gevind het – die naam Wallander is “common, nor too uncommon”. Die karakter is ook in sy lewensjaar gebore (1948) wat die leser bewus maak van die spel tussen werklikheid en fiksie. Verder bely hy die invloed van die Griekse dramas op sy skryfwerk.

Ek is gaande oor reekse en die Wallander-reeks is boeiend. Die noir-aanslag en melancholie van sowel die films as die romans, word besonder goed verbeeld.

An Event in Autumn begin met die ontdekking van ’n geraamte in ’n tuin. Wallander, met die hulp van sy dogter, Linda, konfronteer die moordenaar. Geduld blyk die wagwoord te wees van hierdie speurder wat sukkel om ’n rekenaar onder die knie te kry, maar geweldige insig het in die psige van ’n moordenaar.

Dit wentel om huishoudelike geweld, die selfdood van ’n moordenaar, en vadermoord.

Was dit ’n geregverdige daad?

Mag ’n kind sy vader vermoor omdat die moeder verneder en verminder is?

Hieroor tob die leser saam met Wallander en ’n mens lees hierdie roman – wat goed geskryf is – om agter die kap van die byl te kom (by wyse van spreke).

Mankell beskryf sy landskap goed. Die leser kan Skåne altyd in die geestesoog sien en enige landskap maak hy vir jou oop. Onder andere ook Pole ...

Hierdie outeur is nie alleen ’n blitsverkoper nie, maar die Universiteit van St. Andrews het ’n doktorsgraad aan hom toegeken vir sy bydrae tot die letterkunde en tot sosiale bewusmaking en geregtigheid. ’n Mens wonder hoe hulle sou reageer op die troebel psige van ’n Georges Simenon wie se lewe daar anders uitgesien het?

In sy naskrif bely Mankell dat Wallander nou aftree as speurder.

Bepaald jammer, maar gelukkig is daar deesdae so ’n oorvloed van goeie speur- en misdaadverhale dat ’n mens hierdie as ’n tydelike verlies sal ervaar.

Daar is immers Sherlock Holmes (ook in nuwe reekse) en ja, dan altyd die koningin: Agatha Christie.

En terloops, ek koop ook nie die afbreek van grense tussen populistiese fiksie en hoë literatuur nie. Laasgenoemde kan wel hierdie kodes gebruik soos Umberto Eco al vir ons bewys het.

Maar Ruth Rendell of Henning Mankell is beslis nie Nabokof nie.

Henning Mankell 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)

Sunday, October 20, 2013

Henning Mankell - A Treacherous Paradise (2013)



Henning Mankell. A Treacherous Paradise. Random House, 2013. ISBN 9781846556241
Resensent: Joan Hambidge

Henning Mankell moet geloof word om sy uitmuntende Wallander-reeks. ’n Effens verloopte Kenneth Branagh speel die hoofrol in die TV-verwerking. Die skrywer is ook ’n gevierde spanningsverhaalskrywer en sy sogenaamde atmosferiese romans wat hulle dikwels in Afrika afspeel, het hom eweneens gewild gemaak. A Treacherous Paradise is op die werklikheid gegrond.

Dit handel oor ’n verdwene vrou wat ’n bordeel in die ou Lourenço Marques bestuur en volgens argiewe belasting betaal het. Maar sy het verdwyn en om hierdie gegewe bou die skrywer sy verhaal uit.

Die verhaal is inderdaad atmosferies, die pas beweeg flink van hoofstuk na hoofstuk. Die nuttige glossarium agterin verhelder Portugese begrippe.

Hoe mense kan wegraak met net ’n dagboek of bloot ’n belastingopgawe as die enigste bewys van hul lewe, stig hierdie verhaal aan vir die werklike outeur. Vir die leser is dit die besonder aangrypende verhaal van ’n vrou uitgelewer aan die ervarings van ’n skeepsreis, die dood van ’n man en haar besluit om die skip te verlaat en in ’n nuwe ruimte haar voete te vind. Hier word Hanna Lundmark, die voormalige kok op ’n stoomskip, baas van die bordello en ontmoet sy vreemde karakters.

Stereotipes oor rasse word aangebied, maar telkens ondermyn in die snel-bewegende verhaal. Juis omdat Hanna uit ’n armoedige agtergrond kom, kan sy die ellendes van die swart mense begryp in ’n verhaal gesitueer in 1904.

Dit is ’n reis- of peregrinasieverhaal. Die uiterlike reis van die armoedige bestaan in Swede na ’n verblyf op ’n stoomskip tot Lourenço Marques word gesinkopeer met die innerlike reis. Dit is ’n boek oor ongelooflike eensaamheid en verlange na geborgenheid soos wat Hanna dit as arm kind geken het. Sy hou ’n dagboek waarin sy haar ervarings opteken.

Die kern van die verhaal is die binnespraak van Hanna: “Perhaps the big secret was the realization that you never knew what was in store for you? If you made the break and left behind everything that was known and familiar?”

Die Ana Branca en die Ana Negra word goed teenoor mekaar geplaas. Hoe sy as wit vrou verander in die nuwe wêreld en dan verdwyn.

Rassisme, kolonialisme, die geskiedenis van skeepvaart, argivale navorsing, feministiese agentskap, prostitusie – en ook psigoanalise – word goed vermeng in ’n genotvolle verhaal. Jammer die voorblad van die Suid-Afrikaanse uitgawe skep die indruk van ’n vliegtuigroman! 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Tuesday, March 26, 2013

Julian Barnes - England, England (1998)



Julian Barnes. England, England. Random House, 1998. ISBN 0 224 05275 6.

Resensent: Joan Hambidge

In Amerika bestaan die nosie van Great American Novel wat 'n skrywer soos Philip Roth al goed gesatiriseer het. In 'n neutedop behels dit 'n roman wat die psige van die volk en al hul gewoontes sal vasvang. Hierop reageer Julian Barnes vernuftig met sy jongste roman England, England.

Onlangs is sy Metroland verfilm en vir my is Barnes se beste roman Flaubert's parrot, 'n spel oor die onmoontlikheid om 'n dooie skrywer se lewe en werk ooit regtig te kan versoen of begryp. Dan is daar ook onder andere A history of the world in 10 1/2 chapters en 'n bundel kortverhale Cross channel.

England, England handel oor die waansinnige projek van die tycoon Sir Jack Pitman om Engeland in te pas op die Isle of Wight. Hy konstrueer “The Project” waarin alles wat Engels is te siene en te kry sal wees vir die toeris.

Natuurlik begin die projek die regte ding te bedreig en dis hier waar die storie heerlike draaie met die leser loop. Dis 'n roman wat Barnes ses jaar lank aan gewerk het en hy lewer kommentaar op dit wat in die literatuurwetenskap geleerd heet: representasie en fabulasie.

Maar moenie skrik nie. Dit is so onderhoudend geskryf dat alle lesers sal kan saampraat. Dis net dat Barnes se roman – soos die van David Lodge – op vele vlakke funksioneer.

Die karakters pas inmekaar soos 'n legkaart. Elke skakeltjie verteenwoordig iets van die gemeenskaplike projek om Engelsheid te definieer. So word die vyftig kwintessensiële kenmerke gegee, waarvan ek 'n paar noem:

1. Royal family
2. Big Ben/Houses of parliament
3. Manchester United Football Club
4. Class System
5. Pubs
6. A Robin in the Snow
7. Robin Hood and his Merrie Men
8. Cricket
9. White Cliffs of Dover   en natuurlik no. 49. Not Washing/ Bad Underwear.

Die boek gee ook 'n onvergeetlike beskrywing van Gary Desmond se porno-manewales en hoe meisies mislei. Ook die tycoon se infantiele seksuele ervarings is goed weergegee.

Die roman moes ontsettende navorsing geverg het omdat alles wat Brits is so goed op sy kop gekeer word. Geen wonder dit het die kortlys van die Booker-prys gehaal, maar nie gewen nie!

En ja, daar is 'n lag-kurwe ingebou, iets wat ek meen 'n goeie roman moet dra, te wete die ironie. En ons weet hoé “stiff upper lip”-mense op dié aanslag reageer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Philip Roth - I married a communist (1998)



Philip Roth. I married a communist. Random House, 1998. ISBN 0 224 05258 6.

Resensent: Joan Hambidge

Philip Roth het deur die jare bestendige werk as romanskrywer gelewer. Tog sal hy waarskynlik altyd onthou word vir die genoeglike Portnoy's complaint wat die verhaal vertel van 'n jong Joodse seun se ontdekking van seksualiteit en homself.

Sy jongste heet I married a communist, 'n lang uitgerekte roman wat klaarblyklik gelees moet word as 'n antwoord op sy vrou, die aktrise Claire Bloom se memoirs, Leaving a doll's house (1996).

Dit is dan ook 'n bittere stryd tussen die twee figure en toe die memoirs van Bloom indertyd gepubliseer is, het almal hul uitgespreek oor haar dwaasheid om hierdie vuil wasgoed in die openbaar te was.

Dit is ook goed om te weet dat hierdie soort “revenge between covers” nie net eie aan die Afrikaanse letterkunde is nie, maar ook in die Amerikaanse letterkunde afspeel.

Leaving a doll's house vertel van Roth se senuwee-ineenstorting en sy rusies met sy vrou. Dit het hy as verraad in die ergste graad beskou. Bloom onthul die donker en negatiewe kant van Roth se persoonlikheid, natuurlik tot die outeur se chagrin.

Daar is ook insinuasies dat Bloom haar memoirs gepubliseer het om finansiële redes aangesien haar eggenoot enigsins suinig was in sy onderhoud aan haar.

I married a communist – met die opsetlik omgekeerde buiteskut - is 'n fassinerende en hoogs leesbare roman. Dit gaan in op die na-oorlogse Amerika, en meer spesifiek, Newark, New Jersey. Die Levovs en die Ringolds en wat dit alles behels het om in Amerika teen die regering van die dag te wees. Hierom dat Steven Spielberg nie kon hande klap vir Elia Kazan nie.

Dit was harde, verraderlike tye. Of Mevrou Roth hiervan gaan hou? Net sy sal werklik kan bepaal waar en hoe sy seergemaak word, as sy haarself as Eve sien. Roth verdedig homself op bladsy 278:”Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”

As fiksie is dit 'n waardige toevoeging tot Roth se romankuns.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]