Showing posts with label Protea Boekehuis. Show all posts
Showing posts with label Protea Boekehuis. Show all posts

Thursday, September 12, 2024

Resensie | Willemien du Preez – Plaas se prys | Protea, 2022

Willemien du Preez - Plaas se prys. Protea, 2022. ISBN 9781485313694, R320.00 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek het reeds in 2022 verskyn, maar sopas op my lessenaar beland. Te midde van soveel plaasromans geskryf deur mans, en ‘n mens dink nou onwilekeurig aan die Die Onsigbare van PJO Jonker wat by Tafelberg verskyn het, is Plaas se prys nie ‘n konvensionele roman nie. Eerder ‘n vroulike aanvulling as memoir.

 

Dii is dan ‘n soort dagboek van ‘n vrou wat die anderkant (donkerkant) van die idille beleef. Daardie ideale ruimte waarna gestreef word en gaan kyk maar na die sinonieme wat hierdie woord het:


• arkadies

• herderlik

• ideaal

• landelik

• ongerep

• onskuldig

• pastoraal

• poëties

• romanties

• rustig

• skilderagtig

• vredig

 

(Besoek 8 September 2024)

 

Die harde werklikheid tref die verteller en haar eggenoot, Liefie. Pas is die koopkontrak geteken of die ellende tref hulle. Van ‘n eiendomsagent wat hulle nie die volle waarheid vertel het nie tot stof wat oor alles draal. Werkers wat die huis moet renoveer (en allemintige kortpaaie neem) tot die dorp wat hulle as “inkommers” beskou.

 

Die leser sien alles voor die oog afspeel. Die werkers se swaar, droewige bestaan. Beskuldigings van diefstal uit die huis, wat ‘n vergissing blyk te wees tot werklike diefstal. Vriende wat onttrek en belangstelling verloor tot kinders wat raadop raak.

 

Die boek raak aan die ewige stryde in hierdie land: ras, klas en gender. En skuld.

 

Van gesondwees tot ‘n stent in die hart.

 

Die hele kwessie van die inkommer is tersaaklik, omdat inkommers altyd die bestaande orde versteur.

 

Of die gemeenskap wat reeds daar is, dwing om hul lewens weer te beskou weens die aanwesigheid van die nuwelinge.


Twee wêrelde beleef ons hier: dit wat hulle graag sou wou beleef en die harde werklikheid van ellendes. Werkers wat wil weet of hulle casual of permanent is. Die stof wat asma tot gevolg het en die hond wat koerantpapier met uitskot vreet. Liefie wat later uit sy gatsak boer en die verteller wat dink: Umsonst.

 

M.E.R. se waarnemings van Swellendam indertyd met die ryk grond wat groente en vrugte gebaar het, teenoor hierdie ruimte.  En arm mense kon eet en lewe in die indertydse Swellendam (141).

 

Ons lees oor dopluise en bolwurms. En blaaspootjie. Met die verhaal wat die verteller oorrompel (135). Deur alles neer- en op te skryf, besef sy hoe erg alles is.

 

Daar is verwysings na Monet en Colette, die Bybel en Halleluja-liedere. En Chess.

 

Van die sterkste beskrywings is oor die ellende soos wanneer die vloedwater hulle tref met ‘n dooie bees in die koringland (132).

 

Uitskotnartjies teenoor vrugte wat uitgevoer word. Die werkers wat leef met min, maar teenstand gelate aanvaar en van voor af begin.

 

Die begraafplaas wat eweneens klasseverskille aandui: nederige houtkruise met die name van die dooies met die hand geskryf. Hierteenoor ‘n Murano-glasbakkie op haar koffietafel.

 

Daar is verwysings na Mandela en politieke kommentaar. Ook daardie droom van heling en genesing en aanvaarding is tans net ‘n illusie, vér in die verskiet.

 

Ons is ons stories. Die stories wat ons vertel en die stories wat ander oor ons vertel. En hoe imkommers deel word van die gemeenskap se stories, word belig.

 

Blokkiesraaisels word ingevul. RSG en Die Burger is hier.

 

Dit lees vlot en is helder en eerlik vertel. Met ‘n motto van Sigrid Undset, veral bekend vir Kristin Lavransdatter. Undset (1882 – 1949), gebore in Denemarke, het grootgeword in Noorweë en is bekend as ‘n Noorweegse skrywer, het die Nobelprys vir letterkunde in 1928 verower. Die roman bekyk alles uit die perspektief van ‘n vrou in 3 volumes.  Sy moes ook vlug uit haar land na die VSA weens die Nazi-besetting.

 

So lui die motto:

Feelings of longing seemed to burst from her heart; they ran in all directions, like streams of blood, seeking out paths to all the places in the wide landscape where she had lived, to all her sons roaming through the world, to all her dead lying under the earth.

Die tydsaanduiding in hierdie teks maak hiervan ‘n joernaal of dagboek.

 

Dit is soos Lanie van Reenen se Net Mooi Fine (Penguin 2019) en C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het, ‘n memoir.

 

Die leser word in ‘n intieme vertelling ingenooi. Deur die oog van vroue met ‘n skerp waarnemingsvermoë. En sonder skroom die mes inlê.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

 

Tuesday, June 6, 2023

Resensie | Jaco Jacobs - Die spaghettiboom | Protea Boekehuis, 2023

Jaco Jacobs - Die spaghettiboom (Illustrasies Pippa Pereira). Protea Boekehuis, 2023. ISBN: 978 4853 1325 0 | R180

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

Lydia Snyman, die uitstekende teoretikus van kinderboeke, het dikwels gesorg vir omstredenheid. Sy het wel sterk idees gehad oor die feit dat ‘n mens die kinderleser nie moet onderskat nie. En meer nog: dat ‘n kinderboek nie sommer ‘n storie is wat jy kan skryf omdat jy kinders het nie. Van haar bekendste werk is:

1968 

Die kind en sy literatuur 

1969 

Basiese kinderboeke: ’n lys vir ’n Suid-Afrikaanse biblioteek 

1975 

Die kinderverhaal as literatuur 

 

Sy was ook vertaler van klassieke kinderboeke soos Die pratende pot: ’n Deense volksverhaal deur Virginia Haviland en Die swaap en die vis: ’n Russiese volksverhaal deur Gennadij Spirin.

 

Die afgelope paar jaar het hierdie leser verskeie kinderboeke begin lees. Die buurkind, Nina se biblioteek is deur my aangevul en selwers is hierdie boeke met groot vreugde deur my gelees.

 

En tekenrolprente soos Toy Story (1995) of Japannese animasierolprente is nie net vir kinders nie.

 

A town called Panic, die 2009 mal film van Stéphane Aubier en Vincent Patar, is uiters bekoorlik. Die Cowboy, Rooihuid en die Perd (die hoofkarakters) en die fout rondom ‘n bestelling met stene is heerlik vermaaklik.

 

Hierteenoor die ernstige werk van Hayao Miyazaki se Spirited Away van 2020. Dit beskryf die fantasie van ‘n dogtertjie wat aan die slaap raak en dan in haar droom iets magistraals en ontstellends beleef. Die tienjaar oue Chihiro Ogino en haar ouers, reis na hul nuwe huis. Haar pa neem ‘n kortpad en beland voor ‘n pretpark wat leeg staan. Die kind wil nie meedoen nie en dan word dit ‘n ervaring in ‘n restaurant waar haar ouers verander in varke. Sy kan nie vlug nie. Sy ontmoet Haku wat haar teen die gevare waarsku …

 

Sy beleef verskeie vreesaanjaende dinge, maar wanneer sy wakker word, kan sy gelukkig niks onthou nie. Sy het wel die wêreld van geeste besoek, oftewel Kami in die Japannese Shinto-kultuur.

 

 

II

 

Ons dra almal ‘n kinderboek of meer in ons. Enid Blyton. Trompie en Saartjie. En later Keurboslaan en Maasdorp. Niks kom waarskynlik by Stories van Rivierplaas uit nie.

 

Die kind se fantasie of verbeeldingswêreld is dikwels ‘n plek van ontvlugting. Veral as die kind afknouery of vermindering beleef.

 

Die spaghettiboom van Jaco Jacobs (met illustrasies deur Pippa Pereira) is ‘n kleuterboek. So lui die blakerteks:

In Mika-hulle se tuin is daar 'n boom. Dit het 'n dik stam vol knoetse en knoppe en dit is die perfekte boom vir boomklim. Maar dit is eintlik nie 'n doodgewone boom nie. Party dae word die boom 'n seerowerskip. Ander dae word dit 'n besige restaurant. Sommige dae dra die boom die vreemdste vrugte, soos verfkwaste, ou sokkies of stringe spaghetti. Die boom is Mika se beste maat, tot daar op 'n dag nuwe bure intrek ... Hierdie is 'n verhaal vol verbeelding met klem op die waarde van vriendskap.

Maar dis meer as dit. Dis ‘n verstommende verhaal van transformasie en verbeelding. Kyk wat gebeur alles in die boom …

 

Margaret Atwood in haar essay “Not so Grimm: The Staying Power of Fairytales” opgeneem in Curious Pursuits (Virago, 2005) wys op die argetipes in feëverhale na aanleiding van Marina Warner se studie From the Beast to the Blonde. Plesier, lag, trane …

 

Mika en Niel. ‘n Boombiblioteek.

 

Soms ‘n seerowerskip, ander keer ‘n verhoog waar die beste sangers optree (voëltjies). Dan weer ‘n woeste, wilde pretpark. Selfs ‘n besige restaurant. Die boom dra ook vreemde vrugte soos ou sokkies, verfkwaste en natuurlik stringe spaghetti.

 

En dis dan die buurseun wat die fantasie breek wanneer hy meen in ‘n boom kan daar nie spaghetti wees nie. Dan die wending: hy word deel van haar fantasie met boeke oor monsters, meerminne, ridders en ruimtevaarders. En uiteindelik verander die boom in ‘n oertydboom …

 

En dan word haar boom ons boom met ‘n pterodaktiel met eiers wat uitbroei. 

 

Die boom is simbolies van die lewe. Dit representeer die hiernamaals. Bome is is ook ‘n konneksie tussen die aarde en die hemel. In die Keltiese kultuur word bome as voorouers gesien en hierom is dit heilig.

 

Hierdie is ‘n boek vir alle kinders en groot kinders. Jaco Jacobs is ‘n besondere talent.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

 

Thursday, April 6, 2023

Resensie | Pieter Marais – Konkel | Protea, 2023

Pieter Marais – Konkel. Protea, 2023. ISBN: 978-1-4853-1447-9

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Konkel van Pieter Marais is satiries in aanbod. En satire is een van die moeilikste genres binne die kunste, omdat die teiken van die satirikus dikwels verdwyn of verouder. Ander kwessies bly egter konstantes. Die selfwaan, -oorskatting en belaglikhede van persone (of gemeenskappe) word ontmasker in oordrywing.

 

Archilochus (700 V.C) was die eerste satyros-skrywer met aanvalle op Lycambes. In Afrikaans is Etienne Leroux die meester.

 

In Konkel vind ons reeds in die name ‘n satiriese blik (Jurida, Giel – ons ken almal die ou grappie –, Laetitia Snoek,  Peester Pienaar, Oom Stywelyne, Goebbels von Messerschmitt, Vrede Volmoed …). Bennie Griessel is hier ‘n karakter, ‘n afgetrede speurder van die Kaap, en só word dus ‘n stekie uitgedeel na ‘n medeskrywer. Boonop is daar ‘n sepie Lawaaiwater, wat veral op manlike kykers gerig is (115).

 

Die ruimte is Joegaai en daar is ‘n verwysing na Lexington-sigarette en ons ken die meme van die meisie wat die sigaret rook (onpoets) en hier sterf ‘n karakter (vrou) onverwags. En daar is verwysings na ‘n dildo. NEST (‘n knipoog na James Bond) en samesweringsteorieë. Paranoia en Elon Musk wat meen dat gevorderde kunsmatige intelligensie gevaarliker as kernwapens kan wees (125). Die leerstellings van die Ma’at teenoor New Age-gelowe. Khoi-Renaissance-olies is ook in die opstuur-mengsel. Soos die leuse IbaLapha en huise in die buitenste ruimte. 

 

Vuige taal en die abjekte kenmerk ook die satire.

 

Douglas Adams lei ook die leser verder nes Aucamp.

 

Die Dwerg is ‘n reus van ‘n man. By Etienne Leroux is dit natuurlik die reus in Een vir Azazel.

 

II

Alles tersaaklik om by die eintlike punt uit te kom: maskuliniteite en die manlike fantasie. Hierdie roman moet saamgelees word met Jaco Alant se Is mos oos; Piet van Rooyen se Antraks en Ruan Kemp se Wit leuen

 

Joegaai by Marais; Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad by Kemp.

 

Piet van Rooyen steek die draak met die krimi-kultuur en Ruan Kemp wys op hoe leuens ons lewe reguleer. En manlikheid word vanuit verskillende hoeke belig in hierdie romans.

 

In die tagtigerjare het verskillende manlike skrywers oor die grensoorlog geskryf. Nou het ons hierdie satiriese aanbod met die suffering joker, soos in Malcolm Bradbury se The History Man (1975), hierdie soort karakters en vertellers tipeer. Bradbury se roman bly ‘n baken in satires oor die kampuslewe.

 

Indien vroueskrywers alles mag oopskryf, is die manlike blik eweneens tersaaklik. Gay en straight.


Al hierdie romans vra vrae oor toksiese manlikheid. By Marais is daar ‘n kritiese blik met satire se handlangers: parodie, sarkasme en ironie.

 

Is hierdie roman ‘n korrektief op dit wat dit kritiseer of satiriseer? Die satirikus hou immers ‘n spieël voor die leser. Agter dit is daar immers die implisiete norm van hoe alles kon wees. En dit wil alles in die bek ruk.

 

En die slot lees: “Hy ry met vlieënde vaandels; galop selfs met die branders se perdjies sodat sy hare in die wind waai en seesproei op sy arms en gesig spat. Hy kyk in die truspieëltjie en sien ’n fees.” Dis Vrede Volmoed se binnespraak.

 

Ten spyte van die feit dat die e-pos aan Bielefeld se munisipaliteit terugkeer.

 

Die werklikheid en die beheptheid met maklik-toeganklike literatuur word opgestuur. En hoe ons steeds deur RP-publikasies (Antraks) en sepies (Konkel) beheer word.

 

III

So tussen die Meisie van Avignon en Assegaai is daar lekker grappies soos “hy voel gestroop. Soos ’n kaalgeëete sosatiestokkie …” in Konkel.

 

Identiteitsverandering is hier die belangrikste sleutel, eweneens ‘n verpesting van ons moderne tyd.

 

Inderdaad lees ons: “Jy leef net twee keer – jou eie lewe en die lewe waarvan jy droom.”

 

Inderdaad. Die Utopia bestaan nie. Dis distopia en die harde werklikheid.

 

Die skerp assegaaipunt van die satirikus begelei die afdelings

 

Is daar ‘n konkel of kinkel in die kabel?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, January 10, 2023

Resensie | Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2023

Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2022 |ISBN 978 1 4853 13, Sagteband 304 pp

 

Resensent : Joan Hambidge

 

Piet van Rooyen se roman Antraks word bemark as ‘n omgewingsvriendelike skop, skiet en donder.

 

Hierdie lokteks op die agterblad het hierdie leser se vermoede bevestig: Piet van Rooyen is besig om die draak te steek met die krimi-kultuur in Afrikaans. Is daar ‘n sub-genre wat meer aandag kry op boekeblaaie tans? Boonop meen ‘n gedugte kollega en teoretikus word hierdie tekste gelees en geresenseer asof dit ernstige literatuur is. 

 

Van Rooyen het etlike romans gepubliseer en pryse verower. Hy is ook ‘n digter. Lesers van sý romans soos Die spoorsnyer (1994), bekroon met ‘n handvol pryse, weet hy is ‘n gedugte navorser oor spoorsnyers en die San. Dieselfde geld die roman Die olifantjagters (1998) met die wêreld van jag op die magtige olifantbul Maxamesi. Ook in Gif (2001) word die komplekse verhouding tussen San en wit mense uitgewerk. In al hierdie romans is daar uitstekende antropologiese navorsing aanwesig in romans met tekstuur.

 

Die strippe-voorblad neem die leser terug na die wêreld van RP-publikasies waar die karakters in clichés praat. Ons dink hier aan Die Ruiter in Swart waar die held altyd oorwin en die boef sterf in dramatiese-geykte taal: soos hy geleef het, sterf hy (sonder genade). Verder verwys die titel Antraks na die sogenaamde Bacillus anthracis …

 

Ons het ‘n vliegtuig met ‘n besending dodelike gif wat neerstort in ‘n oerwoud. Die begin van die roman is ‘n mokerhou:

 

Oral is losgerukte takke en blare gestuif oor wrakstukke en liggame. Confetti by ‘n makabere huweliksvoltrekking voor die poort van die doderyk. 

 

En die slot: Die trop ape wat destyds hier ingetrek het, beskou die plek nou as ‘n permanente tuiste (304).

 

‘n Teks wat tussen twee ellendes vasgeklam word met baie aksie. “Die reis is meer as die eindpunt”, lui een van die hoofstuktitels en “’’n Rooi lig flits skreiend in sy kop” ‘n ander. En “Tarzan tussen die krokodille” wat ‘n jeugherinnering terugbring na ‘n Sondagkoerant se strippe met hierdie held.

 

En die name! 

 

Soekie en Lafras. Markus Jones. Luister mooi na die name. Hoofstuk-afdelings wat die verhaal raam soos “’n Onhoorbare lied van sugte” met verwysings na Tarzan en James Bond. Met pigmees en avonture in die oerwoud geskryf in oordrywing om die satiriese aanslag te beklemtoon. Daar is ‘n duidelike verwysing na die film Live and let die (1973) met Roger Moore as James Bond en Jane Seymour as Solitaire.

 

Voedoe, die okkulte, tarot word die onderbou van hierdie film.

 

En die storie?

 

Daar is slim verwysings in Antraks is wat op die bo-vlak ‘n verhaal vertel van ‘n Boeing 727 wat neerstort in Angola met ‘n gevaarlike besending aan boord. In Lubango (in Angola) oorleef net drie van die 52 passasiers. En ons sien hier ‘n politieke kode en ‘n implisiete verwysing na die Helderberg-ramp.

 

‘n Aktrise, ‘n kleuter en ‘n Angolese vlieënier is die drie oorlewendes.

 

Soekie Verster en Lafras Uys moet die “probleem” oplos. Hoe gaan hulle die gevaarlike antraks “neutraliseer”? So reg uit ‘n James Bond-verhaal waar die held (en hier heldin) die wêreld moet red van ‘n gewisse ondergang.

 

Kannibale – die hoof heet Hihatele – en ene Markus Jones, die hoof van XYZ- sakegroep is ander spelers saam met Prima, leier van die Praeter-groep. Daar is Witko, Veikko Palander, ‘n politiek-korrekte Fin (met sy deurskynende ore), JimBrown en Mongoli (gebore met Down-sindroom) sit jou reg binne ‘n James Bond-film met afwykendes as die teenspelers. Vera en De Freitas.  Normaal en abnormaal. Wit Afrikaners versus albino’s met ‘n uitermate goeie reuksintuig. ‘n Rammelende bussie teenoor ‘n luukse Pajero.

 

Die afwykendes vind ons dikwels in thrillers. Ons dink aan Nick Nak in The man with the golden gun (1974), Scaramanga (self ‘n ‘afwykende’) se handlanger in daardie klassieke Bond-film. Of die reus, Jaws te siene in die films The spy who loved me (1977) en Moonraker (1979).

 

Die vermenging van ‘n vliegongeluk – ‘n ramp – met ‘n soektog in die oerwoud. Google map is vooraf beskou.

 

Daar is verwysings na Die Bybel, Hansie en Grietjie, Kafka, Interpol, populistiese tekste, Heart of darkness, ensomeer. Die disjunksie tussen aanbod en uitwerking, só bekend aan die satire, vind ons hier.

 

“Die satire wil bespot, en deur die spot die versteurde werklikheid belig. In hierdie spot is die groteske (humor) en die absurde belangrike hulpmiddels.” Aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983).

 

Bykans asof hy dit oor Antraks geskryf het vol ironiese wendinge en ‘n korrektief op ‘n wêreld wat heeltemal absurd geraak het.

 

Hierdie distopiese roman is inderdaad polities inkorrek met verwysing na woorde soos pramme en menige woke-leser sal stik in die kamille-tee.

 

Antraks is letterlik ‘n bakterie wat vergiftig. ‘n Hoogs leesbare satire wat my weer laat kyk het na Frank Kermode se belangrike baken uit 1967: The sense of an ending: Studies in the theory of Fiction.

 

‘n Einde voorspel op vele vlakke. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, November 4, 2022

Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

 Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in. Protea, 2022. Tweede uitgawe (eerste druk). ISBN 978 1 4853 1346 5

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

C. Johan Bakkes is ‘n geliefde skrywer van aweregse reisjoernale. Presies twintig jaar ná sy debuut verskyn ‘n bygewerkte, heruitgawe by Protea: Moer toe die vreemde in.

 

En bygewerk beteken hier terugkyk, weer kyk, en weer reis. Met ‘n naskrif telkemale: ironies, speels, melancholies. 

 

Op die agterblad is daar ‘n kwatryn van Hennie Aucamp:

 

Jy stap na Moerland toe en terug

‘n pak herinneringe op jou rug

ná sand en sweet weet jy net hoe

‘n hart kan beur na Timboektoe.

 

Timboektoe is hier dan ‘n werklike plek, maar ook ‘n plek van fantasie en droom soos ‘n groot kortverhaalskrywer dit bestendig het in Afrikaans. Aucamp, self ‘n meesterverteller van die reisverhaal, is familie van Bakkes. Sy moeder, Margaret Bakkes se kleinneef is Aucamp. Van Mevrou Bakkes se verhale is opgeneem in Wys my waar is Timboektoe (Tafelberg, 1997).

 

Bakkes kom uit ‘n skryffamilie van Hennie Aucamp, Margaret Bakkes en sy broer Christiaan skryf ekologiese verhale en stories oor sy belewenisse as indertydse veldwagter.

 

II

 

‘n Goeie reisbeskrywing is altyd gekoppel aan die reisiger se outentieke waarnemings  of indrukke. Paul Theroux se puik The Great Railway Bazaar (1975) het Asië oopgemaak lank voordat hierdie leser daardie ruimte besoek het.

 

‘n Goeie reisbeskrywing gee die negatiewe en positiewe van ‘n land weer. Ontberinge sowel as ontdekkings.

 

En opofferinge is part en deel van hierdie sub-genre. Koors, siektes, diefstalle, misverstande, vlugvertragings en wat nog. Theroux se reis het vier maande lank per trein geduur …

 

Selfs reise in luukse hotelle beskerm die reisiger net solank teen die onverwagse, wat by nabaat die reis in die onthouboek plaas. Daardie aaklige storm by die Iguasso-valle toe die hele hotel se ligte afgaan. Juis dit wat ‘n mens laat swaarkry, onthou jy agterna van ‘n reis na die vreemde. 

 

Bakkes is bekend vir sy lang hare en bangles waarmee hy self die spot dryf. Sy verskillende name som hom op: Sylvester Alone, Moses onder die Witbooise, Induku (kierie), sy safarinaam. Dit verklap dan sy aanpasbaarheid en transformasie by moeilike landskappe of situasies.

 

Ons vind wonderlike beskrywings en woorde soos pampelmoes (pomelo). En vloeibare versnaperinge is ook hier. En pampoenuur.

 

Wanneer laas het u die idioom gehoor “my pis begin bitter raak” vir moerig wees? Of kiekiekakkertjie?

 

“Moedswil” rondom onwettige wildtrofees met ‘n nurkse doeanebeampte is skreeusnaaks. Eerlik en op die man af geskryf. Amper was daar groot moeilikgeit.

 

En die opteken van so ‘n reisboek eis aantekeninge as ‘n tersyde; en dit moet reisgenote verstaan want dink dis nie werklik belangrik nie (72). Die skrywer-as-reisiger beleef dinge anders.

 

Watter plek vang hy die beste op? Vir my gevoel plekke van stilte soos by Naukluft, maar ook gewaande eksotiese ruimtes soos sy raakvat van Timboektoe. En natuurlik Kilimanjaro.

 

Die toonaard van elke reisinskrywing verskil. Hier is humor, verlies, opstand, woede wat die skrywer C. Johan Bakkes knap navigeer.

 

En die tweede reis wys altyd hoe plekke (en mense) verander het. Theroux het hieroor geskryf in sy travelogue Ghost Train to the Eastern Star (2006).

 

Die reis as pelgrimstog, die reis as blaaskans, die reis as ontdekking, die reis as soeke na die self, die reis as aflegging van die self, die reis as wegvlug.

 

Dit alles besê Bakkes.

 

Hier is ook foto’s. In die gevleuelde woorde van Susan Sontag:

The very activity of taking pictures is soothing, and assuages general feelings of disorientation that are likely to be exacerbated by travel. Most tourists feel compelled to put the camera between themselves and whatever is remarkable that they encounter. Unsure of other responses, they take a picture. This gives shape to experience: stop, take a photograph, and move on. The method especially appeals to people handicapped by a ruthless work ethic — Germans, Japanese, and Americans. Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vacation and supposed to be having fun. They have something to do that is like a friendly imitation of work: they can take pictures.

Nooit moet hy ophou nie. Norrevøk, soos hy self geskryf het.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

 

Wednesday, May 25, 2022

Resensie | Johan Myburg – Narreskip | Protea Boekehuis, 2022


Johan Myburg – Narreskip. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1345-8  

Resensent: Joan Hambidge



Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap

 

Narreskip van Johan Myburg se voorblad betrek die derde paneel van die drieluik wat bekend staan as Die tuin van aardse luste van Jheronimus (Jeroen) Bosch, te siene in die Prado-museum, Madrid. Ons sien hier ‘n greep uit die hel en hierdie ryk geskakeerde bundel verwys na die inferno wat die moderne mens ervaar. Ekologiese onsekerhede, geweld, die Corona-19 virus, oorlog, en uiteraard: die kondisie van paranoia.

 

Afdeling I

Die digter gebruik skipbeelde om sy gevoelens te navigeer in ‘n tyd van onrus wat alreeds in die geskiedenis opgeteken is soos die gedig “Politeia” (Boek IV) waarsku. Die digter se opleiding in die klassieke tale én sy kennis van die beeldende kuns word belangrike kodes vir die digbundel as ‘n soort bark. (‘n Kopknik na Lucas Malan se ‘n Bark vir die ontheemdes.)

 

Ons is op ‘n Ship of fools uitgelewer aan stormagtige en onvoorspelbare draaipunte. 

 

Nie een is onderlê in die kuns van laveer

nie, meen dis oorbodig om te buig oor kaart

en bakens op dié vaart, om fyn te navigeer (8).

 

Alles is onvas, onbestendig lees ons in die komplekse vers; ons is op pad na Narragonië, ‘n plek wat op geen kaart voorkom nie.

 

Die digter gee wel vir ons die kaart en transport van die klassieke wêreld waarteen hy die hier-en-nou afspeel.

 

Circe se swyne en Odusseus se lot word skitterend verwoord in “Moralia” (met verwysing na Plutargos):

 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot – 

van die lot een van die flinkste breine.

Circe se beswymelde swyne 

weet presies waar trek mens lyne 

tussen vark en Odusseus die sot. 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot (14).

 

Hierdie knap spel met rympatrone wat verbreek word met lyne / breine beklemtoon die sotheid van alles. In die derde afdeling van die gedig kry dit ‘n wrang toespeling op manlikheid (soos dit nou daar uitsien).

 

Afdeling II

Die gedigte lewer kommentaar op mense se onvermoë om te weet wanneer om stil te bly en die sosiale maskers wat ons dra:

 

Wie kan praat en wie moet swyg; 

wie het en wie kry die mirtetwyg? (21)

 

In “Note to self” (22) maan die digter homself tot (self)vermindering, tot sag praat; vra eerder vrae as wat jy stellings maak. Die satiriese en skerp blik op ander word hier op homself gedraai.

 

In “Wolkstaar” (25) fantaseer die spreker deur verskillende figure in die wolke raak te sien en uiteindelik met die wete dat geskepte Wolkekoekoeland vertroostend oor hom hang. Dit hang saam met die gedig “O dapper” (26) waar die verbeelding vrye teuels gegee word. 

 

Telkens die knusheid van die bekende en die besoeke aan ander plekke, hetsy deur boeke of in die verbeelding. “Les I” (29) is ‘n liefdesvers en die ingeboude verlies so bekend aan hierdie soort gedig wat hierdie leser treffend vind. Die geliefde en liefde word behou deur daaroor te skryf; die verlange na die lyflikheid kan helaas nie deur die gedig opgelos word.

 

In die opvolgvers “Les 2” (30) is die geliefde onbereikbaar:

 

Op dae soos dié wanneer telepatie 

so ontoereikend blyk 

begeer ek die taalreëls van jou nuwe 

onderaardse ryk.

 

In hierdie afdeling is daar selfpraat en ‘n gesprek met die onmoontlike toestande van stilte en die dood.

 

Afdeling III

In hierdie afdeling word die museum van verlore objekte besoek. Die digter se kennis van die klassieke wêreld en die kunsgeskiedenis word goed versoen in netjiese verse. 

 

“Ex ungue leone” (36) praat terug met Louw se belangrike vers en beide digters se kennis van klassieke tale en simbole flits na mekaar. Enige dosent wat intertekstualiteit wil verduidelik vir jong studente sal hierdie gesprek waardevol vind.

 

“Rhinocerus” is ‘n juweel: via Plinius tot by Dürer met die wete dat groot kunswerke jou kan laat voel (39). “Jagger reading room” (42),  wat die brand van die biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad beskryf, sit vol ironie: Léon Gautier se La Chevalerie, ’n boek opgedra aan Miguel de Cervantes Saavedra is nie verwoes nie. Tog word die Ideale van hierdie skrywer gefnuik:

 

Gepluk uit vuur ruik dié edel ideale, en die boek,

buiteblad met goud versier, nou na roet.

 

Afdeling IV

Via Jeroen Bosch se skets word die geweld en wreedhede van ons land helder beskryf. Dit staan reeds opgeteken en die digter het oë en ore wat die nonchalante plundering van mense se organe as ‘n siek heldedaad in ‘n moetiemoord verbeeld. In die hartverskeurende gedig oor ‘n ou vrou wat vee oppas, word die leser blootgestel aan die sinnelose moord; iets wat elke dag rondom ons gebeur. Die gedig is juis so pakkend, omdat dit in ‘n liriese toonaard geskryf is. In die Afdeling VI van hierdie reeks is ons terug by Jeroen Bosch se demoniese hellevaart.

 

Die digter gee die verskillende weergawes van geweld: plaasmoorde en moetiemoorde. Haatlikheid. Onversetlikheid. In die ix-de deel beweeg ons in die fantasie van ‘n vrou wat alles beskryf vanuit die dood.

 

Afdeling V

Hier word gekyk na die impak van die grendeltyd, iets waaroor vele digters bloeiend geskryf het. Bloeiend en boeiend. En die spreker wys op hoe hierdie tyd ongeregtighede duideliker uitgewys het.

 

B(l)oeiend …

 

Afdeling VI

‘n Gedig oor die wildtuin handel oor meer as oor die wildtuin. Hier die besoekers (ryk) wat na die wrede dierelewe kyk (72). Die digter laai dit met kodes uit Dante se Heilige komedie en implisiete bybeltekste. In die gedig “Hel” via Giotto in die Scrovegni-kapel in Padua tot by Goya se Kronos en Bosch eindig die vers met die wete dat die diepste put is “van ewig vreet en ekskreteer in dié helse latrine”. (Julia Kristeva en die abjekte in Powers of horror uit 1980.)

 

“Skemer”(79) is ‘n puik distigon vir Eugène Marais en hesperiese depressie. In min, spaars woorde word Marais se siening van weemoed beskryf en sy eie uitgang beskryf in ‘n skitterende portretvers.

 

“Quinta del Sordo” (82) vir en oor die kunstenaar Diane Victor, wys op ander kant van die melancholiese munt: woede.

 

En die poging om ‘n tuin te maak, geluk nie. Hierom kan daar geen paradys wees nie.

 

Afdeling VII

“Twee ryme in die trant van Sebastian Trant” (91) is gepak met selfspot oor geleerdheid en sy eie Ptolomeus-projek. Die inkyk op sy kennis van Latyn (wat hy ook in klein tawerne-drink-gedigte opstuur) loop uit op die wete:

 

As doktor het ek meer as kalot

’n mus nodig sodat tussen grys 

my eselsore tog net nie wys

 

“Rose Tatane” (92) is ‘n skrynende, skreiende politieke vers oor onreg. Hierdie vers ruk aan die hart (Andries Tatane's Wife Killed In A Car AccidentBesoek 7 Maart 2022).


“Siedaar, die man” (96) speel in op die Ecce Homo van Wilma Stockenström en verder terug in die tyd, op Louw se bekende vers. En die wete dat dit ook die titel was van Nietzsche se teks.

 

“Hymie”(97) vir Etienne Leroux wys op die dwaasheid van alles. Ook hier vind is die satiriese aanslag.

 

“Brueghel se twee ape” (97) en “Dulle Griet” (98) werk met die primordiale. Alles wat gebeur het, word nou in die tyd herhaal. (“About suffering they were never wrong …”, aldus Auden).

 

‘n Sentrale vers is “Hillbrow” waar die digter terugkyk na sy jeug. Hy is agter in die motor van sy vader en die herinnering gebeur agterstevoorom. Toe hy uiteindelik as volwassene die stad betree, onthou hy die toring en die narreskip. Die stukkende stad word so gesien:

 

sy rug gebreek soos ’n boek argeloos hanteer

 

Le Corbusier en ander argitekte word betrek om die landskap van ‘n vervalle stad te beskryf in hierdie verruklike vers.

 

Inderdaad konkludeer die spreker:

 

Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap. (102)

 

Die swart son soos Julia Kristeva dit beskryf in Black Sun: Depression and Melancholia (vertaal deur Leon S. Roudiez) is van belang. Hierin kyk sy na die taal van melancholie in kuns, letterkunde, filosofie, godsdiens en hierdie psigoanalitiese studie is van waarde vir die begryp van Myburg se werkswyse. Die verlies aan identiteit, self, die sentrum wat nie meer bestaan nie, pakkend beskryf in ‘n vers waar Mahler in die agtergrond draal en die sermoen vergete raak … (105)

 

Diegene wat getwyfel het aan Johan Myburg se bekroning met die Hertzogprys sal nou moet toegee: hierdie is ‘n digter wat verskillende vorme en uitinge kan hanteer. Die toonaard wissel van melancholies na satiries, speels en ernstig. Verwysings na die skilderkuns (Bosch, Brueghel en vele ander) en digters (o.a. Dante, Van Wyk Louw,  Wisława Szymborska, TT Cloete) met ‘n blik op ‘n wêreld waar geweld die nuwe aanvaarbare taal geword het.

 

En ja die titel aktiveer ook die film Ship of fools (1965) deur Stanley Kramer, met Vivien Leigh (haar laaste rol), Simone Signoret, Lee Marvin en José Ferrer. Dit is gebaseer op Katherine Anne Porter se gelyknamige roman van 1962.

 

‘n Skeepsvaart van Duitsland na Mexiko in 1933.

 

Dis ‘n boek van verlies wat diep inkyk in die mitologie en primordialiteit:

Visualiseer oopgelate frases, 

die slotsom afwesig, 

en sonder om finaal te konkludeer.

 

*

 

Katabasis en anabasis word in balans gehou. Die afdaal in die hel en die gedig wat die anabasis word in ‘n psigiese opbeweeg uit ellende. Daar is ‘n fyn balans tussen verwysing en emosie in hierdie bundel.

 

In “Out of place”, wat verwys na Edward Said, het die digter ‘n kopskuif gemaak en reeds verkas uit hierdie troostelose toestand “na vistas waar niks ooit onbekender was”. Said se Orientalism en die ewige soeke na die sentrum word so opgeroep. Daardie boek oor grense en grensverskuwings uit 1978 en hoe die Weste die Midde-Ooste verkeerd verstaan of romantiseer.

 

‘n Plakkaat van Said staan in my kantoor toe daar ‘n huldigingsrede aan die UK vir hom gehou is: The Task of the Intellectual.

 

Ek sluit dan af met hierdie veelseggende gedig wat sterk resoneer met die vreemde tye waarbinne ons leef:

 

Out of place

Edward Said

 

Sonder om willens of wetens ’n skuif 

te beplan óf te maak, sonder om voet

uit die land te sit, met ’n laaste wuif 

 

te groet, het ek reeds verkas,

as kopskuif ’n grens oorgesteek na vistas

waar niks ooit onbekender was

(104)

 

Postscriptum:

 

Myburg skryf insiggewend oor die kuns van William Kentridge in Meevoerend elegant en melancholies/ William Kentridge se kortprente – LitNet. Besoek 16 Maart 2022.


Auden se beroemde gedig:

 

Musee des Beaux Arts 

W. H. Auden 

 

About suffering they were never wrong,

The old Masters: how well they understood

Its human position: how it takes place

While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;

How, when the aged are reverently, passionately waiting

For the miraculous birth, there always must be

Children who did not specially want it to happen, skating

On a pond at the edge of the wood:

They never forgot

That even the dreadful martyrdom must run its course

Anyhow in a corner, some untidy spot

Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse

Scratches its innocent behind on a tree.

In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away

Quite leisurely from the disaster; the ploughman may

Have heard the splash, the forsaken cry,

But for him it was not an important failure; the sun shone

As it had to on the white legs disappearing into the green

Water, and the expensive delicate ship that must have seen

Something amazing, a boy falling out of the sky,

Had somewhere to get to and sailed calmly on.  

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van VersIndaba)