Showing posts with label gert vlok nel. Show all posts
Showing posts with label gert vlok nel. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel, Tertius Kapp - uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange (2001)



Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel, Tertius Kapp. uit die stof die see die skald se handevuurvoet  tracks  en  die verstuite trein van wat verlange. Fenomeen publikasies, 2001. ISBN 9780620272834.

Resensent: Joan Hambidge

Kom ons probeer vandag 'n resensie skryf sonder waardeoordele. Is die volgende beeldspraak vir jou mooi?

“die reën se smal motte wat nooit stil is buite wyl
die vloer hou skeef nes 'n kind se vers” (p. 15)
“teen die wind se ergste vleisasem” (p. 17)
“agter leeukoel ure aan”(p. 18)
“en ek het jou sien staan die ryp perske van jou keel” (p. 23)
“my wil het geklap soos 'n enkel” (p. 23)
“selfs jou woede is nou sonder pit” (p. 31)
“soos jou hakke nou wegslym deur die gange” (p. 31)
“ek proe nog jou vrot in my snot” (p. 31)
“ek dra springstof in my ballas rond” (p. 34)
“(bang vir alleenwees
soos 'n digter vir kanker)” (p. 35)

Hou van jy van 'n Allen Ginsberg-nabootsing wat aanrammel oor die see en sy “peril”?

Hoe klink dit?

and for the lovely young taken to the sea for the first time
and for the unlovely unyoung taken to the sea for the last time
and for the unlovely young untaken to the sea
and for the lovely young taken to the unsea (p. 63)

Mag ons hiervoor lag?  Laat weet asseblief:

my father and his brother
took her to the madhouse sy't soos 'n vissie gelê en spartel
agterop die geleende Datsunbakkie (p. 69)

En wat van?

Low phoney to talk about
phoning home from another country. (p. 68)

Vind jy 'n gedig interessant wat na 'n eerste lees gedaan is soos 'n Bottel Klipdrift in 'n hoerhuis met “happy hour”?

Hou jy van 'n boek wat na een aand se lees uitmekaar val?

Vind jy swart-en-wit uit fokus-foto's kosbaar?

Wil jy 'n boek lees waarin Derrida se “sous rature” ook 'n draai gooi?

Wil jy 'n gedig lees wat net stelling bly en nooit vers word? Probeer gerus “intimate distances”.

Dan is dit net die boek vir jou! Bestel onverwyld van Posbus 1300, Stellenbosch,  7599.

Suider Kollege digters, oppas, julle word onttroon! 

Onthou net: die mure het ore! En 'n resensie sonder waardeoordeel deug nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Wednesday, March 20, 2013

Gert Vlok Nel - om beaufort-wes se beautiful woorde te verlaat (1999)




Gert Vlok Nel. om beaufort-wes se beautiful woorde te verlaatQueillerie Uitgewers, 1999. ISBN 0 7958 00053.

Resensent: Joan Hambidge

Die tweede bundel het in die Afrikaanse letterkunde al mitiese status bereik. Hieraan word jou ware poëtiese talent getoets en jou debuutsondes skerp aangespreek. Met sy debuut om te lewe is onnatuurlik het die digter tereg die Ingrid Jonker-prys verower wat die verwagting na die tweede bundel groter maak.

Die kritiek het die gemaklike aanslag geloof, die speelse aanslag wat maak asof daar nie intertekste en verwysings is nie; maar met 'n dieper kyk is onder meer Van Wyk Louw daar. Die digter is 'n knap formalis wat gedigte in 'n gemaklike praattrant aanbied. Die gebruik van die “i” in plaas van 'n is ook 'n embleem van hierdie digterskap. Daar is iets van 'n e.e. cummings-aanslag. Ook gebruik beide digters kleinletters en word gedigte met 'n tweede, derde lees 'n verrassing vol verwysings.

Toe word die digter showman en hy begin op die verhoog te tokkel met 'n ghitaar. Hy word gewild en die metafore word op die verhoog uitgestal en uitgesing.

Die tweede bundel is as 'n mens dit poëties beoordeel 'n enorme teleurstelling. Dit wil kennelik 'n songbook wees, maar van poësie is hier bittermin sprake. Die gevaar van die speel vir die verhoog het die poëtiese ruimte bedreig. Nel ontwrig sy eie diskoers en die gedigte word uitgepraat en uitgesing en niks van die vroeëre hou-in-die-maag is meer aanwesig nie. om beaufort-wes se beautiful woorde te verlaat bevat woorde, foto's en songs. En iets soos die volgende (p. 49) sal my beswaar illustreer:

jy was nie daar nie maar in die
warm overpriced flat vind ek jou
by die bay window met jou
hande buitentoe
catching the rain ek het jou gesien uithardloop sê jy & smile
bring jy goeie nuus
vir my het hulle uiteindelik my lyk gekry? doen my 'n guns &
balsem my in
TIMOTEI SJAMPOE
Oh, the poetry lies in shampoo, no longer in the pity!
 
Maar as 'n mens dit net as blote songbook beoordeel, sal dit sekerlik vir die aanhangers gewild wees. Die foto's? Pragtig. Vir die tweede poësiebundel sal die kritiek nog moet wag. En waarskynlik nog lank.

Dit is natuurlik die reg van die digter om te kies om kultusfiguur te word. Dit was dan ook so met Pavarotti, Domingo en Careras. Maar die kuns gedoog nie altyd hierdie dwaasheid nie.

Hierdie resensie is juis geskryf deur 'n leser wat so diep onder die indruk van sy gevoelige talent was en die hoop uitspreek dat daar 'n mooi bundel sal kom.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 8, 2013

gert vlok nel - om te lewe is onnatuurlik (1993/2006)



gert vlok nel. om te lewe is onnatuurlikTafelberg Uitgewers, 1993/2006. ISBN 0 O624 04505-6.

Resensent: Joan Hambidge

gert vlok nel (sy naam is in kleinletter soos fanie olivier en ee.cummings) het met een digbundel kultusstatus bereik. om te lewe is onnatuurlik is in 1995 bekroon met die Ingrid Jonker-prys en na sy debuut het gert vlok nel, ‘n troebadoer, eerder bekendheid verwerf as sanger.

Poetry International, rock-feeste, konserte, ‘n film oor sy lewe en die mitologie van die sekuriteitsbeampte wat digter geword het, het deel van sy lewe geword. Hy het die “beautiful” woorde van Beaufort-Wes die wêreld ingedra en die eenvoudige spoorwegbestaan vir mense oopgemaak.  

Hy het waarskynlik nie die digkuns verlaat nie, maar eerder van die bedompige verseboeke beweeg na die verhoog. Vir party kritici is dit ‘n teleurstelling dat hy verhoog verkies bó die “koue, hoë eensame modernistiese paaie”. Vir ander dui dit egter op die verandering van die digterlike diskoers wat in ‘n postmodernistiese tydperk o.a. die parlando verkies. Jong mense bely dat dit ‘n aand by ‘n “show” meer beteken as om voor ‘n boek te sit. Oh dear reader(s), we are a dying breed!

Persoonlik wag ek op die tweede digbundel; nie ‘n “song”-boek nie, maar ‘n bundel waarin die belofte van die eerste boek vérder gevoer word. Vir my is die openbare optredes die “maklike uitweg” veral vir ‘n skrywer wat soveel belofte getoon het.

Die eerste is immers geloof om die gesprek met Van Wyk Louw, die e.e. cummings spel met taal, die ongewone gebruik van die ‘n wat hier foneties “i” geword en die genadelose uitstalling van die naakte “ek”. Verder is / was die gebruik van sketse eweneens ‘n aanduiding dat hierdie bundel buite die orde van die konvensionele bundel beweeg.

Die “nuutheid” is nie meer so nuut nie. ‘n Mens lees die boek dus nou ‘n paar jaar later – en sedert 1993 het daar vele nuwe stemme bygekom. gert vlok nel het wel ‘n nuwe aanslag gebring; dit is bepaald só, maar ‘n mens voel dat die belofte nog nie volvoer is nie.

Die eenvoudige praatvers bly die hartsnare roer soos die gedig “Rita” wat ‘n lewe het waarvan die hoop op uitkoms bly roep of die uitmuntende “dit maak nie saak wanneer nie” waarin ‘n verspeelde lewe raak beskryf word:

dit het alles te doen met skooljaarboeke en spoorwegdorpe
en ver droomuniversiteite en hartstog en jare en
lyding & leed. en sukses & seks. en wie wat in die lewe erf:
meneer Joubert het weggegaan en het gesterf (p. 35).

Nog steeds bly “die dag toe hulle vir Donkie Viviers” ‘n kragtoer met sy inspeel op Van Wyk Louw:

& die laat-middag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit (p. 38).

En natuurlik bly die volgende uit “die eienaardige verwikkeling op lemoen” onthoubaar:

godweet daar is baie digters in afrikaans Oupa
soveel metafore
(vir alles wat ongesê moes bly)
om te lewe (p. 41).

‘n Persoonlike gunsteling bly: “laaste herinnering aan Magdaleen” en die volgende reël som ‘n hele bedryf op:

toe die liefde nog nie intertekstueel was nie... (uit “hillside”).

Dit is aardse verse oor “hard-luck”-mense geskryf met oënskynlik geen kennis van die werkinge van die digkuns, maar die aantal self-refleksiewe verse en die verwysings na Louw en die funksie van ryme, bewys dat daar ‘n berekende spel met die leser gespeel word.

Dit is ‘n besonderse talent. ‘n Digter kan egter net ontwikkel wanneer daar gepubliseer word en hy/sy deur die groeiproses van publikasie, ontvangs en die toets van kritiese mening beweeg.

Anders bly jy vassteek by ‘n eerste. By die benaming kultusfiguur. En later word jy onthou om jou kultusstatus en nie om jou gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]