Showing posts with label André le Roux. Show all posts
Showing posts with label André le Roux. Show all posts

Monday, February 4, 2013

André le Roux - Kom ons sit sommer by die tafel (2008)



André le Roux. Kom ons sit sommer by die tafelHuman & Rousseau, 2008. ISBN 978 0 7981 4924 2.

Resensent: Joan Hambidge

André le Roux se tekste was nog altyd in omstredenheid gedompel. As jong digter word hy deur die sensuurraad hok geslaan met Struisbaai-blues (1977), ‘n digbundel. Hierna volg ‘n novelle Te hel met ouma! (1980) en Sleep vir jou ‘n stoel nader (1987).

Deur grensverskuiwings. Deur tekste wat die werklikheid uitdaag, beskryf en aan ons terugkaats sodat die leser ongemaklik voel oor geweld, machismo en ongeregtigheid.
Dit is relevant dat op die oomblik wat Human & Rousseau André le Roux se kortverhaalbundel lanseer, daar terselfdertyd ‘n versameling van Koos Prinsloo se gedurfde verhale weer uitgegee word.

Le Roux en Prinsloo het die kortverhaal in Afrikaans op sy kop gekeer, soos Alexander Strachan in ‘n Wêreld sonder grense waarin die grensoorlog vanuit die perspektief van die jong soldaat beskou word.

Die tagtigerjare het kortprosas opgelewer wat dikwels digterlik in aanbod was. ‘n Soort heupvuur van verwonding én opstand.

Le Roux het met sy verhaalbundel Sleep vir jou ‘n stoel nader – wat in hierdie bundel weer opgeneem word – die sogenaamde new journalism in Afrikaans ontgin. As voormalige joernalis van Die Huisgenoot het hy verhale geskryf na aanleiding van werklike gebeure: ‘n opehartoperasie op ‘n kind, ‘n besoek aan ‘n lykshuis, die naglewe…

Die leser word op die voorblad meegedeel dat ons dokumentêre fiksie lees of realiteitsfiksie wat die skrywer toelaat om kommentaar te lewer deur waarneming. “I am a camera” van Christopher Isherwood word dus opnuut betrek en uit erkennings blyk dit dat ‘n teks “bygevoeg” is. As ‘n soort nagedagte, ‘n voetnoot, ‘n endnoot.

Dit word dan ‘n eiesoortige soort ego-dokument deur ‘n skrywer wat via nuusberigte die ongekaarte roetes van ‘n gemeenskap se onbewuste beskryf.

In hierdie ryk geskakeerde bundel ruk Le Roux jou oudergewoonte aan die keel met sy vonkprosa. Hy skryf ‘n eerste verhaal wat so minimalisties afgeweeg is rondom ‘n weduwee Celliers se eensaamheid en haar huishulp. In die tweede verhaal vind ons ‘n verhaal oor dieselfde Beauty: gebaseer op ‘n koerantberig uit Die Burger van 6 Januarie 2007. Welvaart teenoor armoede; madam teenoor bediende teenoor mekaar afgespeel en die leser voltrek die eintlike verhaal in haar gemoed.

“Deur ‘n loergaatjie” is ‘n gelade skokkende verhaal wat inspeel op die gegronde vrese van die daaglikse bestaan in Suid-Afrika: selfs die behulpsame nutsman moet wantrou word. Dit word gesinkopeer met dokumente soos ‘n doodsberig vir P.W. Botha, ‘n rasseklassifikasie en ‘n Akte van die Suid-Afrikaanse Weermag wat die leser laat intuimel in die niemandsland tussen die ellende van die ou Suid-Afrika en die nuwe Suid-Afrika.
Dit is ‘n ruimte van ontheemding, onsekerheid, geweld, brutaliteit en ‘n versugting na ‘n ruimte van rus. Al hierdie toestande verken die skrywer met sy priemende blik. Hy is ‘n Isherwood met ‘n videokamera wat onder alles ingaan en afneem. Die outeur gee vir ons die “dreigende oog van ‘n veiligheiskamera” (p. 87) wanneer ‘n onskuldige man daarvan verdink word dat hy ‘n selfoon opgetel het wat nie aan hom behoort nie.

In ‘n Kafkaeske toneel word die man uitgevra oor vreemde sms’e op sy foon en die einde, weet die leser, is gelade en sal vir ewig ‘n effek hê op die man se waarnemings. Inderdaad herhaal ‘n klein vinjet hom later in ‘n flardeverhaal.

Vele van die tekste speel met die outobiografiese gegewe, of dit, wat ons meen herkenbaar of realiteitsfiksie is. Wat is teks? Koerantberig, FAK-program, dokument, brief word alles verhaal. Tekste flits heen en weer: Ferdi Greyling se verhaal word al hoe hewiger…

Die invloede van Raymond Carver se ‘dirty realism’ is hier te lese en die verbluffende kortkuns van Dave Eggers wat soos Le Roux ‘n verhaal skryf geanker tussen gedig en kortverhaal. Bukowski praat saam en die ouer en nuwe bundels word ‘n tweeluik: een vorm van geweld word vervang deur ‘n nuwe aanslag. Die styl is gestroop; die effek afgeweeg bykans asof jy ‘n prosagedig lees. Waarom is daar soveel verlore kinders? Op die dag wat Khensani Mitileni se moordenaars gevonnis is, verskyn hierdie boek oor ‘n gemeenskap waar kinders geen beskutting het nie. Die bundel praat met Ingrid Jonker se “Die kind”, oor die ellende wat net nie wil endkry nie.

Dit is tekste van paranoïa.

‘n Allamagtige boek. Grensverskuiwend goed. Te hel met al die middelmatige prosa wat tans in Afrikaans verskyn!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

André le Roux - Op die vrou af 2 (2009)



André le Roux. Op die vrou af 2. Human & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5033 0.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs sit ek en ‘n mede-skrywer en gesels. Hy is enigsins geïrriteerd oor skrywers wat hulle met die politiek bemoei, resensies skryf of maklik-toeganklike rubrieke vir vrouetydskrifte pleeg. Hy is ‘n man van die Erns. Hy lees net Rilke en Neruda en beskou enigiets anders as ‘n verkwisting van tyd. Skrywers wat optree in Sewende Laan laat hom koud.

Hierdie leser is van mening dat skrywers dikwels inspirasie kry juis uit hierdie aweregse optredes. Die kritiese hand voed dikwels die kreatiewe een. Kyk maar na Le Roux se Huisgenoot-artikels wat later voortreflike skryfwerk geword het in Sleep vir jou ‘n stoel nader.

André le Roux kan skryf. Hy is die meester van die snelvuur-onderhoud en –rubriek. Hy maak korte mette van pretensie, voorgee of snert.

Sy leesgehoor hier is Sarie-lesers.

Ons sit met ‘n tweede versameling, dus is daar ‘n aanvraag.

Of dit nou gaan oor G-string wat uitsteek (wat nes weerlig is, want jy kyk nie na hom nie, maar sien dit) of alledaagse indrukke van die wel-en-wee van die Sarie-vrou.

So wat ek en daardie skrywersvriend uiteindelik dink van hierdie versameling gaan niemand skeel nie.

My vriend knor oor die inhoud.

Los André uit! Hierdie is die voorstudies en vingeroefeninge vir sy ernsige werk. Soos Kom ons sit sommer by die tafel.

Verstommend dat iemand wat “dirty realism” so knap beoefen sulke dun, niksseggende rubrieke kan lewer.

Jy mis alweer die punt!

Die stukke is so lig soos Kelloggs-graanvlokkies. Soms met ‘n stoute woordspel of toespeling (soos op-en-wakker vir jy weet wat). Maar in die geheel is dit ‘n filosofie van die middelklas met hul leë gesprekke en neuroses. Wat nadink oor ‘n vakansie sonder (of met) klere…Of wat in ‘n hyser mag gebeur met selfone se manewales.

Maar my magtig man: dis bedoel vir kykers van Sewende Laan, lesers van Sarie, aanhangers van Pedro Kruger (ja daardie een met die vreemde grynslag vir ‘n glimlag).

Agterop is daar ‘n ge-photoshop-foto van die outeur.

Dit verklap mos alles.

Nie bedoel vir die aanhangers van sy prosa of digkuns nie. Wat my laat wonder: wanneer publiseer hy weer ‘n op die man af-digbundel? Struisbaai-Blues het mos al in 1977 verskyn, nie waar nie?

En Te hel met Ouma! (1980) bly maar ‘n hoogtepunt.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]