Showing posts with label Salman Rushdie. Show all posts
Showing posts with label Salman Rushdie. Show all posts

Tuesday, March 7, 2023

Resensie | Salman Rushdie – Victory City | 2023

Salman Rushdie – Victory City. Jonathan Cape, Londen: 2023. ISBN 978 1 787 3345 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Die omstrede Salman Rushdie is onlangs aangeval en met ‘n mes gesteek in die oog. Gelukkig verskyn daar ‘n  roman Victory City, ‘n komplekse en aangrypende roman van hierdie skrywer, wat al vele storms beleef het. The Satanic Verses het ‘n fatwa tot gevolg gehad en Rushdie moes skuil. Selfs ‘n vertaler van hierdie roman is om die lewe gebring. Dit het begin 1989 toe die Ayatollah Ruhollah Khomeini hom beskuldig het van blasfemiese uitsprake.


Oor hierdie kwessie is daar baie sieninge. Diegene wat meen dat hy onsensitief, selfs moedswillig,  was oor die Moslem-kultuur; ander wat beweer die spel tussen fiksie en werklikheid is nie genoegsaam verdiskonteer nie. Ook nie die magies-realistiese aspek en opsetlike verdraaiing van feite is in ag geneem nie.

 

Sekere boeke het wél ‘n politieke of sosiale impak en skrywers kan dit nie altyd voorspel of navigeer nie.

 

Verlede jaar in Chautauqua, New York word hy weer aangeval, wat beteken daar word steeds jag gemaak op hom. In alle waarskynlikheid deur mense wat nie eens die boek gelees het nie. Rushdie, 'n gebore Moslem, is nou egter ‘n uitgesproke ateïs. ‘n Man met verskillende “identiteite” en wat die moderne romankuns verryk het met sy verskillende stylsoorte.


Met sy jongste roman Victory City sien ons weer Rushdie op vol toere. Enorme taalbeheer, kennis van die geskiedenis en natuurlik, sy reeds bekende fantasie. Hierdie roman sou ‘n mens ten beste as historiografiese fiksie kan beskryf, in terme van Linda Hutcheon in A Poetics of Postmodernism (1988): ‘n vermenging van metafiksie (of selfbewuste vertelling) geplaas binne ‘n herkenbare historiese ruimte(s). Hutcheon se studie verwys na History, Theory, Fiction en J.M. Coetzee maak ook etlike spronge in sy roman The Master of Petersburg (1994) wat Dostojefksi as gegewe gebruik waarop die skrywer verder uitbrei en verander. Die dood van Dostojefski se stiefseun Pavel wat verander en aangepas word teenoor die lotgevalle van die werklike outeur.

 

En bekend aan historiografiese fiksie is dat die geskiedkundige dikwels frons oor die skrywer wat die gebeure aanpas en selfs opsetlik verdraai. Die leser moet die oomblikke of oorgange snap tussen werklike gebeure en fantasmagoriese inkleding. Die skrywer speel met die leser en Umberto Eco se Baudolino (2000) is so ‘n teks oor die Middeleeue. Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz (1998) verander die Anglo-Boereoorlog en historiese feite.

 

Daar is vier afdelings in Victory City: Birth; Excile; Glory; Fall. Haar laaste woorde word in ‘n gedig weergegee op die ouderdom van 247 jaar.

 

Die storie handel oor Pampa Kampana, digter, profeet en moeder van die Ryk van Bisnaga, wie se lewe met vuur begin. Sy lewe om 247 jaar oud te word en berg ongeveer 24 000 van haar gedigte wat later ontdek word. Gedigte oor die geskiedenis van die stad en die Ryk. Op negejarige ouderdom sien sy hoe soldate hul stad vernietig en sy word deur ‘n godin met bo-natuurlike kragte vereer.

 

Met die soldate se beleg sterf al die vroue aan selfverbranding.

 

Maar dis ook die verhaal van Hakka en Bukka, konings van Vijayanagar.

 

Hulle ontmoet Pampa Kampana en sy gee aan hul opdrag om die sade wat hulle as ‘n geskenk gebring het, te saai sodat daar ‘n gelukkige stad kan ontstaan met vryhede op alle vlakke waar vroue veilig sal wees. Die feministiese aspek is opvallend. Soveel manlike skrywers gee tans uiting aan vroue se lot en maak hulle stemhebbend.

 

Die veertiende-eeuse ryk word deur Rushdie herbesoek in ’n vertelling wat tussen werklikheid en mite beweeg. Twee vertellers. Pienk apies en slange en ongediertes bevolk hierdie boek. Daar is ‘n bronnelys wat die speurende leser kan gebruik om vas te stel wat hy verander en behou het. City of Victory deur Ratnakar Sadasyula, ‘n amateur-geskiedkundige, is tersaaklik.

 

Hierdie roman moet saamgelees word met The Peacock Throne (1984) van Sujit Saraf en Vikram Seth se An Equal Music (1999), treffende boeke wat al die fasette van ‘n meervlakkige gemeenskap aanspreek. Dit is ‘n teks wat verder resoneer met V.S. Naipaul se Bend in the River (1979) en Arundhati Roy se The God of Small Things (1996).

 

Die lewe en romans van Rushdie – wat buite Indië leef – neem ‘n mens immer terug na E.M. Forster se A Passage to India (1924). ‘n Buiteblik teenoor diegene wat van binne skryf oor ‘n meervoudige gemeenskap.

 

Op 14 jarige ouderdom gaan Salman Rushdie na Rugby waar hy skoolgaan. Hierom is sy Engels absoluut uitstekend.

 

Hy woon eers in Londen en nou in New York.

 

Die impak van die Iranese doodsvonnis kan geen leser van hierdie teks miskyk nie. Met ‘n reis deur Indië was hierdie leser voortdurend bewus van subtiliteite wat jy as Westerling nie begryp nie. Boonop is die outeur Indies-Brits-Amerikaans met ‘n hibridiese identiteit. Só word hy op die internet beskryf:

Sir Ahmed Salman Rushdie (Hindi: अहमद सलमान रुशदी (Devanagari), lanati احمد سلمان رشدی (Nastaʿlīq); born 19 Juin 1947) is a Breetish Indie novelist an essayist. 

‘n Mens benader hierdie roman as buiteleser: die wêreld wat hy skep in fiksie met al die verwysings vra vir dieper lees en bestudering.

 

Nietemin, ‘n hoogs tersaaklike roman van ‘n skrywer wat bewonder word nie alleen om sy fantasmagoriese verbeelding nie, maar veral om sy vermoë om te oorleef.

 

‘n Skrywer wat magies-realistiese tekste lewer en ook postmodernistiese romans met verskillende narratiewe wat mekaar ondermyn en weerspreek. Hierdie een behoort tot die sub-genre van historiografiese fiksie.

 

Die slotwoorde van die gedig van Pampa is belangrik:

All that remains is this city of words. Words are the only victors (338).

Al is Rushdie blind in sy regteroog, kyk hy diep in die lotgevalle van die mensdom in.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, March 26, 2013

Salman Rushdie - The ground beneath her feet (1999)



Salman Rushdie. The ground beneath her feet. Jonathan Cape, 1999. ISBN 0-340-73897-9.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die verhaal van Vina Apsara, 'n geliefde sangeres wat verdwyn in 'n aardbewing. Haar minnaar, Ormus Cama se soektog (op verskeie vlakke) word ook in The ground beneath her feet verbeeld. Dit word hulle storie, maar die gegewe speel ook in op die verhaal van Orpheus en sy Eurydice se verbintenis wat verby die kenbare lewe strek.

Hulle verhaal word nie direk bely nie, maar vertel deur die wyse fotograaf Rai, 'n jeugvriend van Ormus. Die roman wil dan ook in sy wye doekaanslag kommentaar lewer op die verskillende “waarhede” wat ons lewe tans beheer: mitologie, die verbintenis tussen die Ooste en Weste, populêre en hoë kultuur, modernisme en postmodernisme, leuen en waarheid, en les bes, fiksie en werklikheid. Soos die flaptekskrywer tereg opmerk:”In short a tale of love, death and rock'n'roll”.

Rushdie is waarskynlik die één skrywer op aarde wat 'n groot prys moes betaal toe die Ajatolla nie wou glo dat daar 'n verskil tussen feit en fiksie is nie! Hy is voëlvry verklaar en 'n mens kan dan ook nie anders as om hierdie roman te lees as 'n indirekte kommentaar op 'n úiters onaangename periode in sy lewe nie.

The Satanic verses sal waarskynlik altyd die roman bly waarteen hy gemeet sou word, maar The ground beneath her feet word nie om dowe neute nie opgehemel deur 'n ánder voorste kommentator van al die verskillende strominge in ons (post)moderne wêreld, te wete Don DeLillo. Hy noem Rushdie tereg die meester van metamorfose en hierdie roman wys dat die skrywer juis deur middel van fiksie die fatwah kon oorleef.

Die roman lewer kommentaar op die verband tussen mag en liefde en dat 'n mens eers by die verlies daarvan kan bepaal hoé 'n belangrike uitwerking dit op jou lewe had. Rushdie hou 'n baie goeie vertelpas vol. 'n Mens word nooit verveel nie (soos dit dan dikwels die geval is in lang romans). Hy kies dan ook hoofstuk-titels om so à la die negentiende eeuse ouktoriële roman die verhaal kripties op te som en onderbreek.

Toni Morrison verwys na die betowerende invloed wat die taal op die leser het en Rushdie skryf 'n baie poëtiese Engels wat deurgaans met Indiese sleng versier word.

Die tyd in afsondering het kennelik die skrywer baie bewus gemaak van al die strominge wat dreig om ons almal te oorweldig. Ook lewer die roman kommentaar op die funksie van geloof, die mistieke of epifaniese ervaring wat 'n gewone ervaring kan ómtower.

Die hele gegewe is baie sterk ingegee deur die spiritualiteit kenmerkend aan die einde van die millennium en Rushdie, soos DeLillo, se romans is vlymskerp analises van sowel van die modes van ons tyd as die stand van die romankuns as sodanig.

In hierdie verband is uitsprake soos op bladsy 154: ”We leave home not only to make room for ourselves but to avoid the sight of our elders running out of steam (...) Life's bruises demythologise us all. The earth gapes. It can wait. There's plenty of time” of “If friendship is a fuel, the supply of it is not endless” (bladsy 490) waarskynlik  van Rushdie sélf wat die vertelling binnetree soos 'n Thackary of 'n Dickens wat bekend was vir hul wyshede oor die wêreld waarin hul geleef het.

Behalwe vir die kommentaar op musiek, word die vertelling waargeneem deur 'n fotograaf. So word die roman dan ook tersaaklik vir ons begrip van die elektroniese en fotografiese blik wat tans die woord bedreig. En al hierdie media kan, soos die slot benadruk, 'n mens verewig.

In die afdeling “Vina Divina” erken die verteller dat sy geen Callas of Sutherland was nie. Maar haar geheul met die pers - die feit dat sy die private openbaar kon maak - het van haar tot 'n ster verhef en so is lae kultuur verhef tot die hoë! En met haar tragiese dood is sy dan tot Godin verklaar; nes 'n Marilyn Monroe. Rushdie via sy verteller lewer felle kommentaar op skep van gode en in welke mate die populêre kultuur vergelykbaar is met die mitologie.

Ook het die dood van Prinses Diana en die media-histerie wat dit to gevolg gehad het Rushdie se waarnemings beïnvloed. Vina het kennelik ook iets van Madonna.

Dit is 'n lánge kluif van 'n boek, maar 'n wonderbaarlike leeservaring van 575 bladsye, en besonder keurig uitgegee deur Jonathan Cape. Die roman bewys ten slotte dat die suksesvolle romanskrywer ook 'n knap teoretikus is. Dit kon 'n mens al seker van Flaubert gesê het met sy wyse woorde dat die romanskrywer soos God orals aanwesig moet wees in sy skepping, maar nêrens sigbaar nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Salman Rushdie - Step across this line. Collected non-fiction 1992-2002 (2002)



Salman Rushdie. Step across this line. Collected non-fiction 1992-2002. Jonathan Cape, 2002. ISBN: 0 224 06160 7.

Resensent: Joan Hambidge

Van die kleurryke Salman Rushdie, wie se Midnight’s children genomineer is as die Booker van die Booker, oftewel die mees uistaande roman van die eerste vyf-en-twintig jaar van die prys se bestaan, verskyn Step across this line, ‘n bundel essays. Rushdie se allemintige ego (hy het immers eenkeer die stoel agteruit geskop toe hy nie die Booker ontvang het nie) en die fatwa op sy lewe, omdat hy die Ajatolla onrustig gemaak het met sy uitsprake oor Moslems en Allah, kom ook hier aan bod.

Die versameling essays is soos Montaigne dit oorspronklik gedefinieer het as ‘n teks wat persoonlik in aanbod is en ‘n wat ‘n bepaalde punt of lewenswaarheid aan die leser wil oordra. Nie noodwendig moreel-didakties nie, maar ‘n lewenswaarheid of insig. En dit is hierdie essays bepaald. ‘n Bonte en briljante versameling oor uiteenlopende onderwerpe soos sy liefde vir sokker en die kultuur van hierdie spel, die dood van Lady Diana, ‘n persoonlike huldeblyk aan Angela Carter, ‘n kritiese blik op J.M. Coetzee se Disgrace, oor die fotografie van Avedon en hoe ‘n persona gekonstrueer word, oor sy eerste leeservaringe en die invloed van The Wizard of Oz op sy skryfwerk….    

Uitstaande en insigryk is sy essay oor die dood van Lady Di: hy vergelyk dit met Ballard en Cronenberg se filmweergawe van Crash. Op ‘n merkwaardige wyse is haar dood geseksualiseer deur die kamera, die objek (en ook geliefde) waarvan sy juis probeer wegvlug het.  Die ster en die motor. En die verdoemende ongeluk word so voortreflik semioties geanaliseer in hierdie essay. (“She died in a sublimated sexual assault”.)

Sy analise van sokker en die kultuur rondom hierdie sport, verdien ook vermelding. Geen wonder Vargas Llosa se mond het oopgehang nie. Nie al die essays het my interesseer nie. Die analises van Amerikaanse politieke figure is dikwels vir die nie-belangstellende te kripties.  Sy bestes is natuurlik letterkundige en media-kwessies:  ‘n kort blik op Arthur Miller; oor invloed en die gevare van die skrywer wat praat oor sy invloede; die omdigting van ‘n roman tot film en die probleme wat dit skep vir die skrywer; wat die titel Reservoir Dogs beteken en hoe dit in inspeel op Louis Malle se onvermoë om sy eie films se titels uit te spreek.

In “Heavy Threads” word ‘n blik gee op dit wat agter die skerms aangaan met beroemdes.  Sy ontmoeting met U2 en die skrywer wat ‘n alternatiewe beroep as akteur in sy jeug beoefen het, is werklik onthullend. Ons onthou ook die kameerolletjie in Bridget Joness’s Diary.   

En as ‘n mens dink die aanval op sy persoon het nie ‘n letsel gelaat nie, is jy uiters naief. Die hele verdelging van The Satanic Verses word met eerlike besonderhede geskryf. Onder meer ‘n besoek aan Indië wat gejukstaponeer word met die Hansie Cronje-insident en die besoek van Bill Clinton, wys van watter kaliber hierdie skrywer se waarnemingsvermoë is. Hoe sou hy ooit kon weet dat ‘n studiekursus aan Cambridge oor die Profeet se besoeking en die sataniese verse hom in soveel moeilikheid sou laat beland! Hy is opreg ontsteld oor die Japannese vertaler wat doodgemaak is deur die boek wat deur min teëstanders gelees is, maar met groot drif verguis is. Sy seun met sy meer moderne lewenshouding help die skrywer om na sy geliefde land te kyk.

Dit is ‘n skrywer se kladboek. Dit sal nie almal behaag nie. Dit is subjektief, dwars, intelligent, belese, tendensieus en uiteindelik omstrede. Maar veral goed geskryf soos wat ‘n mens van hierdie imposante skrywer sou verwag. Dit is boonop ‘n plesier om te lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Salman Rushdie - Luka and the fire of life (2010)



Salman Rushdie. Luka and the fire of lifeJonathan Cape, 2010. ISBN 978 0 224 09021 6.

Resensent: Joan Hambidge

Salman Rushdie sal waarskynlik altyd onthou word om die fatwa wat sy lewe in ‘n hel verander het en vir sy oneindige ego. By ‘n Booker-prys-toekenningsaand jare gelede was hy op die kortlys. Toe hy nie die prys wen nie, het hy sy stoel agteruit geskop en die saal brommend verlaat.

Maar daar is ‘n verdere komplikasie: ‘n skrywer van sy statuur, wat enorm belangrike werke gelewer het soos Midnight’s children, die omstrede The Satanic verses, en natuurlik The ground beneath her feet, sal altyd gemeet word aan sy beste. Immers het Midnight’s children die Booker of Booker’s verower: die beste roman vir die eerste vyfentwintig jaar. Sy jongste teks Luka and the fire of life word opgehemel deur resensente en die Guardian noem hom sommer “ons” allerbeste romanskrywer. Nie dat hy in Brittanje werklik meeding teen die grotes nie – die groot romanskrywers vertoef in die VSA: Roth, De Lillo, McCormac, Auster, en verder terug, Bellow…

Maar dit ‘n tersyde. Skrywers soos Rushdie bly goed selfs met kleiner tekste soos Luka and the fire of life. Dit is die verhaal van Luka, ‘n linkshandige kind, wat agtien jaar na sy ouer broer, gebore word. Sy vader is ‘n storieverteller en die jonge Luka het ‘n ryke verbeelding waarin hy telkens ander wêrelde voorstel en beleef. Hy het twee diere, ‘n beer wat Dog heet en ‘n hond, ‘n Labrador, met die naam Bear. Die Beer is ‘n wonderlike danser wat kan polka en wals en rhumba en so voort. Op ‘n dag besoek ‘n sirkus die dorp. Hierdie sirkus bekend vir hulle “Famous Incredible Fire Illusion” verniel hulle diere en hiervan hou Luka net mooi niks nie. Hy vervloek die sirkusbaas met die woorde dat hy hoop die diere sal nie langer na hom luister nie en dat die tent sal afbrand. Dit gebeur dan presies net so en die dorpinwoners dink dan dat Luka oor magiese kragte beskik.

Die sirkusbaas neem egter wraak op Luka se vader wat in ‘n diepe slaap verval en dan moet Luka deur middel van ‘n avontuur sy vader red. Op hierdie reis ontdek hy karakters uit sy vader se verhale

Luka se verbeelde bestaan aktiveer op verskillende vlakke die mag van stories en hoe ons deur middel van verhale ontkom van die ellendes van ‘n alledaagse en bedreigende bestaan.
Rushdie kan skryf. Hy is ‘n imposante meester van die vertelling wat in die werklikheid begin en dan in die fantasmagoriese dimensie letterlik begin dans. Sy taalgebruik is soepel en helder.

Die roman is geskryf vir sy tweede seun se twaalfde verjaarsdag, terwyl die voorganger Haroun and the sea of stories ‘n geskenk was vir sy oudste seun. Die roman speel kennelik in op jong kinders se liefdes vir playstation en die skep van verskillende identiteite.
Miskien het Salman Rushdie met hierdie verhaal, op ‘n tweede vlak, finaal ‘n antwoord gegee op die persoonlike ellende wat hy moes deurmaak: deur verhale, soos in die Duisend-en-een-Nagte, kan jy die dood afweer en terselfdertyd die vuur van die lewe beheer. Die roman vra eweneens vir ‘n saamlees met Alice in Wonderland.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]