Showing posts with label Zebra Press. Show all posts
Showing posts with label Zebra Press. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Ken Barris - Evolution - a novel (1998)



Ken Barris. Evolution - a novel. Zebra Press, 1998. ISBN 1 86872 248 1.

Resensent: Joan Hambidge

Ken Barris se The jailer's book (1997) het verlede jaar tereg die M-N-boekeprys in die Engelse kategorie verower. Vir sy kortverhaalbundel Small change (1988) het hy die Vita-toekenning otvang en as digter die Ingrid Jonker-prys vir An advertisement for air (1993).

Sy jongste roman Evolution - a novel. In die kolofon word vermeld dat Dineke Volschenk die redakteur was van hierdie roman. Sy het al uitstekende werk gedoen veral met André Letoit se romans.

Evolution is 'n interessante roman. Dit werk teen die agtergrond van die leser se kennis van evolusie en : die roman is ook 'n proses van evolusie wat 'n mens meemaak. Jessica Kruger besluit om te skryf oor oupa, Eugene se geheime liefdesverhouding met die “bediende” Jolene Galant. Eugene is 'n dosent aan onderwyskollege in Franschoek.

Die tyd is 1937 en dit aktiveer Afrikaner-Nasionalisme, die Tweede Wêreldoorlog en Afrikaner-mores op sy  ergste. Eugene is nie alleen besig om die kerk en die gemeenskap se religieuse waardes te “ondermyn” nie, maar hy is ook besig om 'n verhouding, en daar is vir hom werklik liefde op die spel, met die bruinvrou, Jolene te hê.

Ook sy vrou Anfra word helder geteken as 'n gerepresseerde Afrikaner-nooi. Die eerste seksuele ervaring met haar warmbloedige eggenoot is 'n teken van Barris se vermoë om suggestief te kan skryf(p. 87).

Ons het in wese drie verhale in hierdie roman wat evoluerend op mekaar inwerk. Die kleindogter Jessica se verhaal (1996). Sy het 'n verhouding met 'n swart man, te wete Teboso Ngqayimbana (haar antropologie dosent). Die ontmoeting tussen hom en haar ouers, 'n klassieke “guess who's coming to dinner” aktiveer 'n steeds voortslepende konserwatisme in hierdie land.

Jessica het 'n ander blik op sake. En dit maak haar dan opgewasse vir die skryftaak en navorsing oor die familiegeheim, te wete die oupa se liefdesvergryp. Op 'n slim manier aktiveer Barris dan ook die historiografie en in welke mate moderne geskiedskrywing sterk oraal gebaseer is en werk met her-skrywing. In die derde en laaste afdeling besoek sy die ou vrou, Jolene en háár perspektief op die gebeurde is weer anders as wat Eugene dit ervaar het of Jessica dit wil neerskryf.

Tussendeur is daar ook die leser wat al-lesende meemaak aan hierdie proses van evolusie. Nie alleenlik is die geskiedenis en sieninge oor evolusie wat verander het nie, maar ook die leser se vashouplek op die storie wat voor hom/haar gekonstrueer word.

Die oupa word ter take geneem deur sy kollege wat hom tug oor sy moderne sieninge. Die leser van nou weet egter dat dit juis die kennis van evolusie is op alle vlakke wat tot gevolg het dat 'n mens hierdie spronge in tyd kan saam-lees. Elke stuk vertelling  verïroniseer of relativeer 'n vorige stuk “geskiedenis”. Elke mens onthou of wil onthou soos wat sy/haar ideologie dikteer.

En die outeur?  Ek meen dat hierdie roman vernuftige kommentaar lewer op die ewolusie-proses in die roman. In die laat-neëntiende eeuse roman is die skrywer aanwesig deur opsommende hoofstuk-titels, klein kommentare. In die laat twintigste-eeuse roman is die skrywer afwesig. Die leser word die skrywer wat die roman moet voltooi of “invul”.

Barris speel vernuftig met die tradisie van die roman. Die romanskrywer is nie meer soos Flaubert soos God orals aanwesig nie. Die moderne roman maak van die leser 'n medespeler en 'n klein godjie.

Moet egter nie bevrees wees nie. Dit is nie 'n geleerde roman wat die leser sal afskrik of vervreem nie. dit bly steeds 'n roman oor die menslike kondisie en daardie ewige emosie, naamlik die liefde, wat betekenis gee aan alles.

Vir my kry die roman werklik vaart vanaf die tweede afdeling. Die eerste gedeelte klink die karakters nog te veel na romankarakters wat “praat” asof hulle in 'n roman is.

Ken Barris is 'n romanskrywer om dop te hou. Hy skryf vir die intelligente én gewone leser. En dit is waarskynlik die werklike kuns van 'n goeie romanskrywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 28, 2013

Al Lovejoy - Acid Alex (2005)



Al Lovejoy. Acid Alex. Zebra Press, 2005. ISBN 177007 0931.

Resensent: Joan Hambidge

Toe ek jonk was, het die Beat-skrywers my gefassineer. Jack Kerouac se On the road was een van my gunstelingtekste en ook ‘n film oor die Beats se doen en late het my bewondering verder aangevlam. Die lewe wat gelyk is aan die kuns, en andersom. Die lewe wat uitspoel in tekste – dikwels sonder redigering – in ellelange outobiografiese seggings en vertwyfelinge. Die Beats was puik. Hul verslawings aan drugs en seks natuurlik óórbekend. Tog is dit so dat die belangrikste tekste wat gelewer is, voldoen het aan die eise van redigering, terugsnoeiing en orde. Hierom lees ons steeds Allen Ginsberg se grootse “Howl” en miskien tog wel On the road.

Koos Kombuis het die voorwoord tot Acid Alex gerskryf. Koos K. is ‘n  fyn parodiese digter en romanskrywer. Sy Somer II speel klaar met die tradisie van die ou(er) Afrikaanse roman en dit is bekend uit sy rubrieke en letterkundige tekste dat hy kritiek het op die “tradisie” Hy ag o.a. hierdie roman baie hoog en noem dit ‘n boek wat Suid-Afrikaanse letterkunde op sy kop gaan draai. ‘n Letterkundige “turn-on” en ‘n “trip” is verdere beelde wat hy gebruik.
My lewensfilosofie is dat ‘n boek soveel reklame moet kry as moontlik, maar dat ‘n kritiese leser wel die reg het om dan te verskil van die ophemeling. En ongelukkig veroorsaak ‘n óór-positiewe bemarking van ‘n boek dikwels weerstand of kritiek by lesers.

Al Lovejoy was ‘n dwelmsmokkelaar. Ons lees hier ‘n verslag van ‘n “hard luck-story” van weeshuis tot verbeteringskool tot by Pretoria Sentraal. Tot in Angola tydens die bosoorlog en ‘n draai word in Stellenbosch gegooi tydens die Voëlvry-konsert, smokkeltruuks in België wat dan lei tot sy lewenslange tronkstraf (aldus die agterplat).

‘n Jean Genet-bestaan dus. Maar Lovejoy – wat ‘n ironiese naam! – is nie heeltemal Genet nie. Want daar was nou ‘n skrywer wat kon toor met die oortreding met die gemeenskap se wette en voorskrifte en steeds (of juis?) ongelooflike kuns lewer.

 Koos Kombuis skryf in sy inleiding dat alles waar is in die boek en dus hierom by wyse van spreke goed! Die waarheidsdenkfout is dikwels ‘n fout wat lesers maak om ‘n boek gelyk te stel aan die werklikheid. Dit moet ook oortuig vir die leser wat nie daar was nie!

Die voorblad deur Joe Dog (Anton Kannemeyer) van Bitterkomix-faam verraai al reeds die kodes van hierdie roman en hoe dit benader wil word. Dit begin met ‘n Bybelvers en reeds met die intrapslag vind ons ‘n profane verwysing. Met die verteller wat homself posisioneer as ‘n leuenaar (“Liar, liar, pants on fire”) ten einde die subjektiewe en fiksionele aspek van die roman te beklemtoon. Platwoorde en paranoia is in hierdie vertelling aan die orde van die dag, want die verteller is immers “on the road”.  (Vir non-zef-leser is daar ‘n glossarium agterin wat my baie plesier verskaf het!) 

Die roman begin met ‘n Bybelvers en sluit af met ‘n verwysing na die Bybel wanneer die verteller, ‘n weeskind, verwys na Christus se liefde vir kinders. Hy noem sy eie vertelling ‘n gelykenis. En hierdie roman kan genoem word die “Gelykenis van die verskoppeling”.

Ondertussen verneem ons dat die roman ook verfilm gaan word. In sy sub-genre, soos Trainspotting, ‘n kultusboek. Dit sal nie in almal se smaak val nie. Party lesers sal dit skokkend en kru vind en gesofistikeerde lesers sal mag voel dat die teks ‘n sterker redigerende hand nodig het.

As dokument is dit egter ‘n belangrike teks. Dit behoef ‘n saamlees met ‘n ander belangrike, skokkende en grensoorskrydende roman in Afrikaans: Miskruier van Jaco Botha waarin dwelms ook ‘n rol speel. In die woorde van die karakter:”Hoezit my china! Ek’s ‘n weeshuislaaitie en ‘n vuilgatbeker wat hou van tappies. Ek suip en sukkel, maar hierdie storie is sterkbene.”

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Sunday, February 3, 2013

Karina Magdalena Szczurek (Red.) - Touch. Stories of Contact by South African Writers (2009)



Karina Magdalena Szczurek (Red.). Touch. Stories of Contact by South African WritersZebra press, 2009. ISBN 978 1 77022 0461.

Resensent: Joan Hambidge 

Waarom moet ‘n mens die versameling kortverhale Touch van Karina Magdalena Szczurek aanskaf? Aanraking, en die afwesigheid daarvan, bepaal ons lot. Vir my was dit ‘n besondere leeservaring, omdat dit die belangrikste aspekte van die kortverhaal bevestig. Daar is onder andere verhale met ‘n verrassende slot of wending:

André Brink se “Surprise visit” is ‘n gedronge verhaal waarin die konfrontasie met die moeder in ‘n siekeboeg komplekse herinneringe aktiveer. Die misverstand rondom die herkenning van die moeder, ‘n verhaal gelade met oedipale spanninge, bring interessante perspektiewe na vore. Dit is vintage-Brink met fyn toespelings vir verdere naspeur en herlees. Met die wete van die slot lees jy ook Emma van der Vliet se “Threesome” anders, omdat sy jou verwagting ten slotte ondermyn. Die driemanskap is nie die seksuele een nie, maar die vrou se ervaring van die durende aanraking, naamlik die ervaring van moederskap.

Damon Galgut se “The Crossing” ondersoek die impak van die toevallige ontmoeting of aanraking. ‘n Vrou op haar wittebrood het ‘n gesprek met ‘n vreemdeling. In die terloopsheid van hierdie aanraking word die spanninge in haar huwelik uitgespeel: wou die man haar dalk besteel? En wat sou gebeur het as sy wél die oorvaart meegemaak het? Tentatiewe ontmoetings, huidige en afgelope verhoudings word saamgebring in haar gemoed. Die aksie, of die afwesigheid daarvan, verander haar lewe. Die vreemdeling het verdrink. Sy gaan hom nooit weer sien nie en in hierdie Katherine Mansfield-verhaal word die leser voorgestel aan die binnespraak van ‘n karakter. (Dit is ook belangrik dat mans met groot gevoeligheid in hierdie versameling skryf oor intiem-vroulike emosies.) Imraan Coovadia  se “File under: Touch (Avoidance of, Writers); Love (Avoidance of, Writers). (1000 Words)” is ‘n metarefleksiewe verhaal waarin die struktuur van die opdragverhaal onder die loep geneem word met die Duisend-en-Een-Nagte as ‘n sub-teks. Die verwisselbaarheid van karakters en hul universaliteit is hier ter sprake, soos in Maureen Isaacson se verhaal waarin Tolstoi se Anna Karenina ‘n interteks en romantiese toespeling is.

Nooit sal reis weer meegemaak word sonder die herinnering aan Ivan Vladislavic se “Lullaby” nie! Wat ‘n verhaal! Die atmosfeer wat in hierdie verhaal opgeroep word, en die uitbeelding van ruimte is so pakkend, dat die verhaal met sy onafwendbare slot, ‘n mens se kop laat draai. Die dood van ‘n toeris tydens ‘n reisbesoek en die impak hiervan op sy ervaring van ‘n vakansie en die terugreis, aktiveer die boodskap van weerloosheid. ‘n Moeder se wiegelied vir haar baba, kry ‘n groter, dwingende impak vir al die reisigers op die vlug wat slaap onder hul babakombersies. Willemien Brümmer se verhaal, “A cat of many tales”, skep besondere atmosfeer; ‘n inbeweeg in die “unheimliche”, nes die verhaal van Alistair Morgan:”Living Arrangements”. Hierdie verhaal lewer fel politieke kommentaar op ons huidige situasie en die kwessie van haweloosheid.

Fokalisasie en perspektief kom knap aan bod in Michiel Heyns se “Long perspectives” waarin die hede en verlede gesinkopeer word. Die verhaal speel af in ‘n skoolbadkamer en rondom ‘n seksuele aanraking met ‘n skolier kry die hoofkarakter perspektief op homself en ‘n jeug-maat, nou die onderwyser in die skool. Twee wêrelde, twee perspektiewe wat beklemtoon word deur die hoofkarakter se bril vol vingerafdrukke. (Waarom die voetnoot dat die omstrede gegewe fiktief is? Dis tog onnodig!)

Vanselfsprekend het elke kortverhaalskrywer sy / haar eie styl, maar in die algemeen is die kort en kragtige segging, amper poëtiese aanslag, van hierdie sub-genre algemeen bekend.
Die tema in hierdie versameling handel oor aanraking in al sy vorme. Die kort, kragtige impak van die kortverhaal waarin ‘n situasie of ‘n konflik uitgebeeld word, is algemeen bekend. Dit is ‘n sterk versameling en die meeste verhale tref jou so sekuur dat jy ‘n blaaskans moet neem om eers ‘n verhaal of vinjet te verteer. Goeie kortverhale werk soos gedigte: jy lees ‘n tweede, derde keer om ‘n beeld se effek te verstaan: soos Mary Watson of Susan Mann by uitnemendheid doen.

Al die verhale is nuut, behalwe vir die bydrae van Nadine Gordimer, ‘n wonderbaarlike verhaal waarin jy as leser uiteindelik moet besluit of die man werklik ontrou was. Ons weet egter dat net die vermoede die vrou se verhouding met hom verander het.

Interessant hoe mans oor (hul) moeders skryf (Brink, Johnny Steinberg) en ‘n klein kragtoer is “Your stop” van Byron Loker.

Bekendes en bekroondes, minder bekend en debutante lewer boeiend verslag oor menswees: letterlike, simboliese of metafisiese aanraking.  Hoekom is daar net twee Afrikaanse skrywers in vertaling?

Die opbrengs van die versameling gaan na die Treatment Action Campaign vir die stryd teen Vigs.

Bronne:
Cleanth Brooks, e.a.: An approach to literature. Prentice Hall, New Jersey. 1975.

Raymond Carver: Principles of a story. Oorspronklik in die New York Times Book Review, 1981.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, January 29, 2013

Steve Hofmeyr - Vier briewe vir Jan Ellis (2010)



Steve Hofmeyr. Vier briewe vir Jan Ellis. Zebra Press, 2010. ISBN 978 1 77022 081 2.

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Steve Hofmeyr en jy het menings, positief en negatief oor die sanger, gewilde verhoogkunstenaar wat Neil Diamond beter sing as Neil Diamond.

Die mense van my asem was ‘n topverkoper in 2008. Steve blog en spoeg. Hy baklei en stry. Hy word kwaad vir die media, maar hy kan ook nie sonder die media bestaan nie. Al is daar ‘n storm in ‘n teekoppie.

Hy is waarskynlik die beste voorbeeld dat ‘n media-konstruksie ‘n lewe van sy eie kan kry. Steve moet sing. Wanneer hy hom oor aktuele sake uitlaat, is hy dikwels buite sy diepte en stoei hy bó sy gewig. Sy onlangse uitsprake by die begrafnis van Eugene Terre’blance het eweneens fronse ontlok, nes sy opmerkings oor swartmense.

Vier briewe vir Jan Ellis is sy debuut as novelle. Die verhaal begin met die weggee van die geheim soos Nabokof se Laughter in the dark waar die leser reeds met die eerste twee paragrawe die rampspoedige einde van Albinus beleef. Maar daar is “profit and pleasure in the telling”, skryf Nabokof verder en dit is hoekom die leser dan lees oor die hoekoms en waaroms van die hoofkarakter se ellende. (Ek gebruik net die tegniek van Nabokof as ‘n voorbeeld en intimeer nie dat hierdie skrywers in dieselfde liga is nie.)

Die verhaal word dan vertel in die taal van die eenvoudige spreker (“Ek was my ma se enigste kind maar sy het my geslat vir die ander vier wat sy wou gehad het”, 15). Die probleem met só ‘n skryfwyse is dat dit dikwels ‘n leesversperring word en dat die leser die nabootsing van so ‘n verteller se stem as hinderlik en vals ervaar. Gaan kyk maar net na Marlene van Niekerk se flou-makou-gedigte op die Versindaba se webruimte geskryf in ‘n Adam Small-styl.

Die gegewe van die posman wat veertig jaar later vier briewe moet aflewer, krap sake deurmekaar. Die vierde brief is hartverskeurend in die ontboeseming en die soeke na die “verlêkind” en “closure”. Ook die derde brief gaan om vergifnis (“vergifnis sonder gif is mos maar vernis”, 97) oftewel die bitter gif van “regrets”. Die derde brief gaan om nood en word gerig aan “Vereerde Meneer Councillor Kees Wolfaard”. Aldrie hierdie briewe word ikonies voorgestel in eenvoudige handskrifte, terwyl die eerste brief in tikskrif is, onderteken deur die triomfantelike “Councillor Jake Fryer”.

Tussendeur word daar vertel. En die leser moet invul en uitvee. En in die laaste brief weet die leser met sekerheid hoekom Klein Jan van Groot Jan soveel pyn ervaar het.

Die novelle is pakkend geskryf en besonder mooi uitgegee met afskrifte van ‘n resep, ‘n psalm, ‘n staatsdokument en ‘n LP, onder andere, wat die verhaal dan ‘n bepaalde historiese aanslag gee.

Dit is ‘n teks wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en kommentaar lewer op die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer word. Is jy ‘n psigopaat omdat ander jou verdink? Word jy die rol wat mense aan jou toeken? En hoe bewys jy uiteindelik jou skuld / onskuld in ‘n samelewing wat al reeds besluit het jy is “skuldig”?

Net vir laasgenoemde aspek is die teks al die moeite werd om te lees. Vir die Steve Hofmeyr-bewonderaarsklub sal die boek soos manna uit die hemel wees en waarskynlik alle boekverkope rekords oortref.

Ernstige literatore hoef nie diep te sug nie. Die boek het beslis meriete. Ek het die teks driekeer gelees en elke keer op ander nuanses en versweë implikasies afgekom.

Dit is ‘n teks wat meer as een lees behoef. En die weggee van geheime op die agterblad is net ‘n truuk.Die geheim lê opgesluit in die laaste brief. Die brief van Maddy M. Louw wat sy ontvang van die posman wat die brief aflewer, te laat. En vir straf moes hy briewe aflewer…

Steve Hofmeyr se prosa is sterker as sy digkuns.

Dis inderdaad ‘n boek van patos. Van hartseer en verdriet wat die persoonlike ellende laat saampraat met die politiek van hierdie land.

Wit versus gekleurd. Normaal en buite die orde.

Naskrif as ‘n belangrike wetenswaardigheid:

Jan Ellis na wie die hoofkarakter vernoem is, word beskou as een van die grootste Springbokke van alle tye. Sy flankmaat was Piet Greyling. Hy het 38 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy is ‘n rooikop met sproete en ‘n nagereg is na hom vernoem.
Daar is ook ‘n akteur Jan Ellis. Maar hierdie teks speel in op die rugbylegende (92).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Monday, January 21, 2013

Steve Hofmeyr - Kapabel (2012)




Steve Hofmeyr. Kapabel. Zebra Press, 2012. ISBN 978 1 77 0 22 418 6

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is ‘n sanger, meningsvormer, publieke figuur, akteur en omstrede minnaar. Hy beskryf homself tereg as ‘n lewensvraat. Gevolglik kan mense hóm dikwels nie met rus laat wanneer sy tekste beoordeel word nie. Vier briewe vir Jan Ellis was ‘n uiters behendige teks en ‘n literator behoort dus Kapabel eweneens met ‘n “skoon gemoed” te benader. Wel, ten minste probeer. Maar hoe ‘n mens dit gaan regkry, is beslis nie ‘n maklike taak nie. Mense van my asem, die outobiografiese topverkoper van 2008, bly opduik. Druk gerus die delete-knoppie oor die politiek.

Kapabel vertel van ‘n lewenswyse van white trash. Van iemand wat die wêreld van Gunston Toasted en kroeggevegte wil verlaat om iets beters te word. Danie Fourie word Desmond Faure en in hierdie naamsverandering lê die moeilikheid. Die boek behels 164 bladsye wat jou dwing om uit te vind: gaan hy wegkom? Sal sy bullebakkery hom uiteindelik in die tronk laat beland? Hoe nou gemaak met iemand wie se bankrekening spring van R2 750 na vyftigmiljoen skille en ‘n propperse emosieswendelaar is wat ou tannies op ‘n toerbus belieg met sy hard luck stories? Jy ken, hê? Daar met weeklikse oempabaloelie-kompetisies (52) met ‘n karakter wat slim raak. Met ‘n hart in ‘n tuimeldroër (135).

Daar is plat woorde, ja, maar dit pas in die mond van die verteller en sy tjoms.
Die roman behels ‘n roman-binne-in-‘n-roman wat die skrywende verteller behendig saamstel. Op bladsy 117 verneem die leser dat jy dan die storie “tot dusver” meegemaak het wat verbrand is, omdat dit te veel “evidence” is. Dit resoneer met die moeder se geloof in haar kind wat ‘n werk-in-wording is, ‘n kapabelkind. Italo Calvino se If on a winter’s night a traveller gebruik die truuk van jy is, liewe leser, besig met die “verkeerde roman”; so begin asseblief maar weer. Die punt is: jy het reeds beginne gelees en doelbewus word jou gedagtes gekleur deur dit wat sogenaamd ontersake is. Dis natuurlik alles net ‘n fiksionele truuk.

Steve Hofmeyr se karakter is die meester van die “suspense of disbelief”. Jy glo in sy maneuvers en kapasiteit om op sy voete te dink en elke “hendikep” te troef. Van die tronk (wat besonder goed beskryf word) tot sy leuens by Jazz Naidoo Transport & Travel. Hy is ‘n besonderse liegfabriek, wat nie alleen bus dryf (nie bestuur nie!) nie, maar ook sy leser se saamspeelvermoë insleep. Die einde is dalk te dik vir ‘n riksdaalder. Maar weer eens: al die leuens, speletjies, bedrog word netjies opgesluit in die slot.

Soos dit dan gesteld is met alle karakters in die letterkunde wat ‘n ander identiteit of naam oorneem, is hulle in ‘n plek van liminaliteit. Hulle beweeg tussen grense en word getransformeer. (Die karakter self meen hy is in ‘n Twilight Zone). Hofmeyr kan vertel. Die pas van die roman is vinnig en by tye is daar tonele wat skreeusnaaks is. ‘n Mens dink onder andere aan die rooftoneel in die poskantoor waar die moeder toevallig haar seun sien. En dan moet hy bieg!

Die leser kan gerus sy of haar vooroordele opsy skuif. Steve Hofmeyr se stories is outentiek en hy begryp iets van die lot van ‘n verskoppeling wat uit die benoude bestaan van armoede en ellende wil vlug. En dan sy hand oorspeel. Die karakters word helder en goed beskryf. Gesiene romanskrywers kan gerus gaan kyk hoe hy karakters laat praat! Ook van ruimte weet hy veel: jy sien Kaapstad, Kraaifontein en Krugersdorp voor die geestesoog. Dis nie ‘n groot roman nie, maar ‘n goed beplande, outentieke, en goed geskryfde “page turner”. Musiek bekend aan mense in daardie ruimtes help ook vertel. Wanneer laas het jy Pussycat geluister?

En een wat beslis goed gaan verkoop, resensies ten spyt. Maar komaan wees regverdig: ‘n skrywer se boeke is nie ‘n getuigskrif nie, omdat daar baie prosesse plaasvind tussen die (werklike) hy en die (fiksionaliserende) hy.

Kapabel soos in bekwaan en nugter. Deon Meyer het Steve Hofmeyr ‘n maestro genoem na aanleiding van Die verste uur.

“Jy’s gehendikep en fok jou dood”, sou ‘n mens van toepassing kan maak op die literator en leser wat nie die sjarme van hierdie boek kan raaksien nie. Moenie snobisties wees nie. Hierdie man kan skryf al is soms ‘n bietjie hitsig en vinnig met die vuiste soos Norman Mailer. Maar wag, hier oortree ek my eie reël: los die persona uit en geniet die boek.

Dit is in ‘n mooi hardeband-formaat uitgegee.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]