Wessel Pretorius. Jy
kan skoenlappers sien aankom. Bent Uitgewers, 2001. ISBN: 0 9584283 1 X.
Resensent: Joan Hambidge
'n Digter moet op die regte tyd publiseer en die digkuns
van Wessel Pretorius het baie goed gewerk in die sewentigerjare. Dit was die
tydperk van die amorfe vers en van die digter se beste werk het behoue gebly in
Poskaarte (Foster & Viljoen).
Die digter het in 1970 gedebuteer met Maat van die onbekende; hierop volg Woorde vir 'n windharp (1974); Nuwe wêreld (1974); Laatnagvrese en ander verse (1979); Ruimte-ark-kolonie (1980); Katarak
(1989) en nou onlangs, Die seep kraak in
die gastekamer
(1999).
Die sogenaamde praatvers is eie aan Wessel Pretorius se
digkuns. Dis 'n loslittige vers wat dikwels met assosiasies, los verbintenisse
en aweregse beelde werk. Die innerlike samehang van die meer konvensionele vers
werk dus op 'n sekondêre vlak eerder as op die primêre vlak soos by die streng
vormbeheerde gedig. Pretorius het pragtige verse gelewer en op sy beste is hy
die skepper van onthoubare verse soos "want elke digter" en
interessante spotverse oor die rol van die aangesprokene("vir die
waarskynlike leser, en mag jy 'n meisie wees:") in sy gedigte. Hy was dus
'n postmodernis lank voordat dit mode was!
Soos met die vorige bundel, is die jongste ook uitgegee
by 'n alternatiewe uitgewer, naamlik Bent uitgewers. 'n Mens is dankbaar vir
die harde werk van hierdie uitgewers en bewus van die opoffering en finansiële
waagstuk wat aangegaan is. Dit verskoon egter nie die slordige en oorhaastige
redigeringswerk wat 'n mens nie net voor die deur van die digter kan plaas nie.
En wanneer 'n resensent haar hieroor uitlaat, is die
vloedgolf van reaksie dat die opoffering en lyding van die digter ook verreken
moet word. Of 'n digter boervrou, tango-danseres of selfuitgewer speel:
uiteindelik is dit net die gedig-op-papier wat tel en ander buite-verskonings
mag nie die oordeel versag nie.
Dit is nie 'n uitstaande bundel nie en Pretorius herhaal
hier sy ou tegnieke. Daar het geen vernuwing of iets nuuts bygekom nie.
Die gedigte oor die vader bly vassteek in die anekdotiese
en word nooit pakkend nie. Ook die vers
oor ontslape mede-digters word niks meer as 'n "onthou jy" nie.
Dikwels is die idee daar, maar dit het nog nie 'n gedig geword nie.
'n Werklike goeie vers is "Verbode
plesier".
Waarskynlik bewys die bundel dat 'n stylaanslag maar 'n
rakleeftyd het. Net 'n klein uitgewer sou kans sien vir hierdie bundel.
Bent Uitgewers Posbus 11112 Queenswood 0121.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]