Showing posts with label 1998. Show all posts
Showing posts with label 1998. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Berna Ackerman - Liesbet Delport se oorlogboek (1998)



Berna Ackerman. Liesbet Delport se oorlogboek. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03702 9.

Resensent: Joan Hambidge

Een van die verruklikste sub-genres in die vertelkuns is die jong kind-as-waarnemer. 'n Mens dink hier aan die vroeë Truman Capote, Carson McCullers en natuurlik J.D. Salinger se onvergeetlike The catcher in the rye.

Liesbet Delport se oorlogboek, geskryf deur Berna Ackerman, vertel die verhaal van 'n jong kind se waarnemings tydens die Tweede Wêreldoorlog. Sy is 'n laerskoolkind, maar hou reeds 'n dagboek oor al háár gewaarwordinge, vrese en naïewe interpretasies. Die verhaal beklemtoon in welke mate vrees 'n mens se lewe kan verander. As 'n jong kind byvoorbeeld nou 'n dagboek sou hou, kan 'n mens waarskynlik oor 'n paar jaar die skokkende paranoïese kondisie van hierdie land na behore registreer.

Liesbet Delport se oorlogboek is 'n vaardige roman. Dit lewer verslag van 'n familie se reaksie op die oorlog, die onderlinge spannninge wat dit tot gevolg het en hoe mense se daaglikse lewens deur die oorlog geraak is. Die vader, 'n proefleser by Die Volksblad, verloor tydelik sy werk. 'n Huwelik moet op 'n kleiner skaal plaasvind.

Maar dit is veral Liesbet se emosies wat 'n mens interesseer. Dit is immers haar perspektief en in geleerde terme vind ons ook hier 'n verslag van oedipalisering. In hierdie kort bestek verander nie net haar liggaam nie, maar word sy gekonfronteer met die beperkinge van grootmense en die dood.

Die sensitiewe kind se emosies word baie raak beskryf. Soos by J.M. Coetzee se Boyhood het 'n mens natuurlik altyd twee vertellers in so 'n jeugdokument: die kind en daaroorheen die ouer, ontnugterde grootmens wat saampraat. (Miskien is die kind se waarnemings by Ackerman soms-soms net te gesofistikeerd - maar dit is 'n klein beswaar.)

Daar is werklik ongelooflik eerlike momente wat 'n mens bybly. Hiervan, meen ek, is die weergawe van Donnie se siekte en dood werklik uitstaande beskryf:

“Liesbet staan by die voetenent van die bed en kyk. Sy gesiggie is in haar rigting gedraai. Sy beweeg haar hand en probeer sy aandag trek, maar sy oë is glasig en dood soos haar poppe s'n. (p. 132). En later kyk die perseptiewe kind ook na hom in sy kissie: Sy ogies is toe en sy handjies rus oorkruis op sy borsie. Sy vel is wit soos die satynvoering van die kissie. Die baret met die groot tossel sit potsierlik skeef op die koppie. Die vreemdheid van die stil, beweginglose liggaampie laat Liesbet verskrik terugdeins” (p. 134).

Ook die ontwikkeling in die dagboek verdien vermelding. En daar is ander lieflike vinjette wat 'n mens altyd sal bybly: die ongedurige pa wat nie die kind se ontsteltenis by sy werk kan hanteer nie. En die jong kind wat die politieke spanning tussen haar pa en Jack kan aanvoel al kan sy nie presies die verloop van die oorlog begryp nie.

Die skryfster sinkopeer die historiese verloop goed met die persoonlike ontwikkeling van die kind. Dit is 'n boek wat 'n mens gerus kan saamlees met die kinderpsigoanalis, Alice Miller se The untouched key – Tracing Childhood Trauma in Creativity and Destructiveness (Virago, 1990).

In hierdie openbarende studie wys Miller daarop hoe traumatiese ervarings die kind se psige kan verander. Sy maak onder meer analises van Picasso en Hitler as voorbeelde van twee uiterste gevalle. Ook die psige van die skryfster sou 'n mens kon analiseer volgense etlike sleutels wat Miller verskaf in haar opwindende studie.

Liesbet Delport se oorlogboek is 'n hoogs leesbare roman. 'n Mens wonder of Berna Ackerman nie dalk iets oor die konsentrasiekampe vir ons wil skryf nie? Haar goeie insig in die geskiedenis en fyn waarneming van klein besonderhede behoort haar goed te pas te kom.

Die roman moes baie navorsing gekos het; 'n mens sien dit aan die subtiele draad wat regdeur die verhaal gevleg word. Maar die werklike fokus is die uitwerking van verwoesting op die psige van die mens. En hoe dit 'n litteken maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Vincent Oliphant - Die sagte vlees (1998)



Vincent Oliphant. Die sagte vlees. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03725 8.

Resensent: Joan Hambidge

Vincent Oliphant het in 1983 gedebuteer met 'n bundel Bloed vloei in stilte. Dit was 'n bundel wat destyds op my 'n indruk gelaat het vanweë die vermoë om die melancholiese toonaard vas te vang. En nou, vyftien jaar later in hierdie poëtiese droogte met die uitgewershuise as 'n afwysende Landbank, verskyn 'n tweede bundel: Die sagte vlees.

'n Goeie gedig, so meen die uwe, werk met die proses van gelyktydigheid. Dit het die vermoë om die idee waarmee die digter werk beeldend/ikonies voor te stel. Ook het 'n vaardige digter daarby 'n kapasiteit om of herhalend te werk; of die gedig vas te vang net voordat dit oor die rand stort. Hierom is die poësie van Elizabeth Bishop (“The art of losing isn't hard to master”) so oortuigend.

Die digter skryf oor 'n wye reeks onderwerpe: liefde, dood, smart, geboorte, politieke ongeregtigheid, herinnering. Oliphant is dus streng gesproke nie 'n “struggle”-digter nie. Daar is eerder 'n versugting dat ons mens en mede-mens vir mekaar moet wees. Hierom dan telkens 'n blik van begrip vir ander se leed; die wete dat jyself ook nie sonder skuld staan nie.

“die slag” (p. 15) werk met die traumatiese herinnering van 'n man wat in 'n rystoel vasgevang is. Sy herinnering word gelyk gestel met die nou en dit wat daardie oomblik – wat hy nooit sal vergeet nie – aktiveer. In “koerantberigte” (p. 14) word die weerloosheid van die mens verbeeld, en, dat ons net in deernis van ons eie pyn kan verlos word.

“by die geboorte van 'n dogter” (p. 10) beskryf die vader se matelose vreugde by die geboorte van 'n kind wat hóm bestendig.  In die bedrewe distigon “killing fields” (p. 28) word die waansin en paranoïa van hierdie land vasgevang. Trouens, bykans in elke politieke of sosiale gedig word die weemoed van die enkeling beskryf.

In die hartverskeurende “'n polisieman bieg” - wat bid om die amnestie van onthou - sien 'n mens werklik hoé diep hierdie digter se erbarming is; selfs vir die wreedaard.

die tong wat ek uitgesny het
het die name van geliefdes laat sing

die knieë wat ek verbrysel het
was die sitplek van 'n opgewonde kind

Die gedigte getuig van geweldige wysheid en insig in die menslike kondisie. Daar is werklik sprake van éénwording met die onderwerp - soos byvoorbeeld in die gedig “'n klein beriggie” (p. 34). 'n Man verloor alles: sy huis, sy status, sy vrou en in 'n koerantberiggie word die selfmoordpoging vermeld. Die digter egter, wil die ware feite onthul. Dat daar vir alles wat mense gebeur, 'n rede is. Dat die mens uiteindelik méér is as 'n statistiek of kil joernalistieke beriggewing.

'n Mens is deurentyd bewus van 'n gevoelige blik op alles. Die digter verhul homself snags tussen “gevoelige lakens” want hy weet dat elke dag nog 'n waarneming sal opeis.

Aan die debietkant: hier en daar is 'n gedig miskien nie onderwerp aan strenger vormtug nie en ek meen dat die digter se voorliefde vir die ouer woorde (soos “droesem”) miskien nadelig opklink?

Die bundel het my weer teruggeneem na Elizabeth Bishop se “One art” en die melancholiese toonaard van die bundel bly mens by.

Die bundeltitel aktiveer “wat sag is vergaan” (Goosen/De Lange) en Lucebert se bekende reël “Alles van waarde is weerloos”.

verliefdes

kyk hoe leun hulle teen mekaar
hulle glo hulle is raar
en besef nie dis 'n eeue-oue verhaal

daar is 'n sekerheid wat hulle uitstraal
asof 'n magiese krag hulle omgewe
'n mag wat vir alles sorg
wat hierdie liefde sal waarborg
vir die res van hulle lewe ongeag

hulle glo dit is 'n onbreekbare band wat hulle bind
en weet nie dis iets wat fyner is
en verwikkelder
as rag

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Wednesday, March 27, 2013

P.W. Buys - Van sigbare en onsigbare dinge (1998)



P.W. Buys. Van sigbare en onsigbare dinge. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03706 1.

Resensent: Joan Hambidge

In 1977 debuteer PW Buys met 'n bundel gedigte Pleroma en in 1987 verskyn sy tweede bundel Wit korbeel. Nou, geruime tyd later, verskyn sy derde bundel ter viering van sy 75e verjaarsdag en dit heet Van sigbare en onsigbare dinge.

'n Letterkunde het ook sy bestendige kleiner stemme nodig. Digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat 'n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van 'n digkuns. So 'n digter is PW Buys.

Hy is 'n hedendaagse Totius, 'n digter wie se gedigte my nog altyd om hul eenvoud dog vormvastheid geïmponeer het. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan èn metafisiese bestekopname. Totius, terloops behoef 'n hele herwaardering. Dit mag 'n klein tintinkietaal wees, maar op sy beste het dit 'n sterkte. Dink net aan 'n reël soos :”'n koue gril deurhuiwer my”.

Buys was op sy dag predikant en professor in die teologie. Tans is hy pastorale versorger van bejaardes, en natuurlik ook: digter.

Herfs

Ek het die najaar lief
al skryf hy elke maal
April en Mei subtiel en suggestief
in duister taal
veel ouer nog
as Sanskrit, spykerskrif of hiëroglief
dieselfde ou verhaal...
Die eerste week in Junie liasseer ek hom finaal
– 'n klaar vergeelde brief –
diep in die hart se klein argief. (p. 22)

Die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak, word deur hierdie digter begryp. Hierom dan die 'apologia pro domo' van R.M. Rilke: jy moet baie geleef, gesien, gereis het. Kortom, as belewenisse nie deel van jou geword het nie, kan jy nie dig nie.

In “Stylus Virum Arguit”(p. 27) skryf die teoloog aan 'n oud-student 'n brief oor hoe hy moet preek. Die styl verraai inderdaad die man, want hierdie brief van voorskrifte word ook 'n verhulde èn slim ars poetica!

Dit is 'n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is 'n skerp oog op die menslike lyding, oor siekte (die slopende ervaring van kanker), oud-word en dood.

Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op 'n tegniese vlak gesien word. Die rymbeheer en in 'n gedig soos in  “Die dowwe lamppit...”(p. 32) en ook die enumerasie van die gewone en sublieme. Trouens, Cloete se invloed is selfs merkbaar in Lina Spies se jongste bundel Die skaduwee van die son wanneer sy dig oor Jackie Onassis.

Buys se gedigte spreek 'n mens aan omdat daar niks vernaams of afwys--intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van 'n besliste na-dink oor kwessies soos vorm-tug. 'n Mens sien hier die hand van 'n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike soos in

Suikerbekkies

Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom.
onodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat 'n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!  (p. 17)

Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in jou lewe geskryf word. Dit is natuurlik nie altyd waar nie! 'n Mens dink hier aan Rimbaud, Verlaine; ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht. Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente, maar by 'n jong digters -- soos in die genoemde voorbeeld -- was daar alreeds sterk vormbeheer. 'n Mens het dit; of jy het dit nie.

Soms is die gedigte steurend en aangrypend (soos in die behandeling van kanker); ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig:

Naamloos

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.

Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.   (p. 43)

Daar is dan ook gedigte oor die natuur - soos die lieflike “Troupant” (p. 18) en “Knysnaloerie” (p. 19). Die digter skryf beeldend en deur middel van sy goed gekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak.

En van harte hoop ek daar's 'n lekker paartie daar in die aftree-oord!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Rayda Jacobs - The slave book - a novel (1998)



Rayda Jacobs. The slave book - a novel. Kwela, 1998. ISBN 0 7957 0078 4.

Resensent: Joan Hambidge

Rayda Jacobs se eerste boek was The middle children (1994). Haar tweede werk, 'n roman, Eyes of the sky (1996), is bekroon met die gesogte Herman Charles Bosman-prys vir Engelse letterkunde. Na 'n Kanadese verblyf van 27 jaar het die skryfster nou onlangs teruggekeer en The slave book het sopas by Kwela uitgewers verskyn.

The slave book word beskryf as 'n roman, ofskoon die gegewe sterk steun op die leser se historiese kennis van rassevooroordeel in hierdie land. In Februarie 1832 bie Andries de Villiers - alreeds 'n stoere naam - op Sanagora van Java, 'n slaaf.

De Villiers besef die slaaf is 'n moeilikheidmaker want om sy enkels is daar vars kettingmerke. Op die koop toe skaf hy ook sy stiefdogter met haar groen oë aan.

Die roman lewer kommentaar op die verskillende tradisies, kulture en gelowe van die tyd en die implisiete spanninge wat só 'n aankoop tot gevolg het.

Die roman getuig van deeglike historiese navorsing en die verskilende hoofstukke word ook voorafgegaan deur relevante momente uit die geskiedenis wat dan die fiktiewe gegewens besonder goed belig. Die uittreksels vorm dus dan die “backdrop” waarteen die daramtiese gegewe gestitueer word.

Slawe is verklaar tot die Ander; tot dit wat on-mens kan word in Lacan se terme. Daarom was dit vir die mense uit die laat negentiende eeu so 'n vanselfsprekende manier van optrede. Deur hierdie roman te skryf, gee Rayda Jacobs as't ware 'n stem aan die stilgemaaktes. Daar is selfs 'n brokkie waaruit sy uit 'n slaaf se afluistering aanhaal. Al word jy deur die wette stilgemaak, het jy steeds oë en ore, is die boodskap van hierdie roman.

“...he not having any slaves had not once inquired about it...my master replied that although he had not any slaves, he must nevertheless stand up for his country, further saying that he would shoot the first Commissioner, Englishman, or landdrost who should come to his place to make the slaves free...   (overheard by slave, name unknown, in 1830s) (p. 128).

Die roman begin nogal traag, maar dit kry hier teen 'n derde weg 'n absolute vaart. Die opstand van die slaaf - voorafgegaan deur 'n reeks vernederings, word goed vertel. Ook die etlike kultuur-historiese beskrywings maak die roman hoogs leesbaar. In welke mate slawe besittings was word onder meer geïllustreer deur 'n slavin se begeerte tot 'n aborsie wat ondermyn word. Sy bly die besitting van die boer en daarom is 'n ongebore kind ook syne.

'n Mens word onder meer presies vertel hoe die “azeemaat” funksioneer: die klein stukkie papier waarop 'n Arabiese inskripsie staan ten einde sigself te beskerm. Of die betekenis van 'n “ratiep” : 'n spirituele opvoering met messe en swaarde. Die boek maak 'n ryk skat oop vir die leser; veral ten opsigte van die Moeslim-kultuur.

Jacobs gebruik egter die historiese en kulturele verwysings sonder dat dit ooit verhaalgang belemmer. Dit is nog altyd een van my besware gewees teen byvoorbeeld die romans van Salman Rushdie: die leser moet eers soveel agtergrondskennis opdoen, alvorens die narrasie kan begin. En dan verloor 'n mens dan ook die draad.

The slave book is van 'n handige glossarium voorsien. Die slawegeskiedenis in Suid-Afrika is 'n baie interessante èn hoogs tersaaklike deel van ons belewenis. Die roman lewer kommentaar op waarom dit ons so lank geneem het om ons te bevry van slawerny. Ook wys dit op die belangrikste problematiek van hierdie land: dat verskillende kulture/gelowe langs mekaar bestaan sonder dat daar respek òf wedersydse kennis is van mekaar se manier-van-doen.

Dit is dan menslike drama geplaas teen die “back-drop” van die geskiedenis. Rayda Jacobs is 'n skrywer om dop te hou en dit is nog 'n roman waarmee Kwela uitgewers 'n belangrike bydrae maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]