Showing posts with label Secker and Warburg. Show all posts
Showing posts with label Secker and Warburg. Show all posts

Friday, March 15, 2013

David Lodge - Thinks... (2001)



David Lodge. Thinks... Secker & Warburg, 2001. ISBN: 0 436 44502 6.

Resensent: Joan Hambidge

David Lodge is teoretikus en skrywer en waarskynlik een van die mees vernuftige satirici van die sogenaamde akademika. Sy Changing place was my eerste kennisname gelees tydens 'n buitelandse reis. Dit was Duitsland en hierom, ja hierom sal ek altyd met vrolikheid kyk na daardie humorlose land en wonder of ek ooit iets sou moes betaal vir die muurpapier wat my lag afgeskeur het!

Sy jongste roman heet Thinks..., 'n intelligente analise van kognitiewe denke (daardie soort denkrigting wat onder meer by Descartes begin het en nadink oor kwessies of rekenaars onder meer 'n denke apart van hul blikbrein bestaan het?)Die gegewe in hierdie roman is 'n resep vir 'n ramp (en humor): Helen Reed is 'n skrywer wat 'n pos aanvaar aan Gloucester Universiteit as hoof van kreatiewe skryfwerk. Haar man, Martin is pas oorlede, so sy is 'n treurende weduwee en haar roman 'n sukses.

Hier ontmoet sy die Messengers, en meer spesifiek, vir Ralph Messenger: vyftig jaar oud, super-seksueel ingestel, en hoof van Holt Belling Sentrum vir Kognitiewe Wetenskap, eweneens te Gloucester. Sy terrein is "artifisiële intelligensie" en soos die verhaal ontvou, besef die leser waarmee Lodge besig is.

Sy twee karakters is in wese besig met 'n soortgelyke proses: na 'n soektog en skepping van artifisiële werklikhede. Boonop word daar baie knap geëksperimenteer met die vertelstyl. Dit wissel van Henry James se "stream of consciousness" na derde en eerstepersoonvertellings.

So gelees word die roman ook 'n analise van presies welke probleme die moderne romanskrywer te kampe kry. Die roman word 'n "pretend-live" genoem: "And it is a bother. So much that in reality a simply 'given' has to be decided when you're writing fiction. Facts have to be represented by pseudo-facts, laboriously invented and painstakingly described. The reader must register and memorize these facts in order to follow your story, but they are flushed away almost as soon as the book is finished, to make room for another story. Before long nothing remains in the reader's memory but a name or two, a few vague impressions of people, an indistinct recollection of the plot, and a general sense of having been entertained..." (p. 84).

Lodge hou die verskillende drade van sy komplekse vertelling goed vas. Daar is verskeie kleiner drade wat vaskoek soos dat Mevrou Messenger insgelyks besig is met haar eie plesiere en dat die skrywer Helen Reed se oorlede eggenoot minder getrou was. Trouens, sy spesifieke aanleg in die bed vind sy terug in 'n jong student se kreatiewe porfolio!

Lodge gebruik benewens konvensionele vertelstrategieë ook e-pos, joernale en 'n soort direkpraat-op-rekenaar-tegniek om sy verhaal meer lewendig te maak. Die aflaai van kinderpornografie (wat tot die tragiese einde van 'n karakter lei) en die wederregtelike lees van 'n private joernaal, word ook ingespan om die vertelling sappiger te maak.

Daar is eweneens slim verwysings uit die media (soos die geval Bauby), hoe siektes die moderne mens steeds teister ten spyte van die gevorderde wetenskap en hoe ons emosies steeds primitief bly. Henry James se lang romans oor buite-egtelike verhoudings en die privaatheid van binnespraak word ook gebruik om die vertelling op te helder.

Die leser kan dit as 'n satiriese liefdesverhaal benader; of as 'n slim analise van die invloed wat rekenaars op ons denke en bestaan het. Op 'n ander vlak is dit ook 'n briljante studie van die narratologie.

Die titel aktiveer die fotoverhaal-tegniek waar karakters in wolkies dink en praat...

Dis 'n fantasties opwindende en briljante roman wat 'n leesplesier is. David Lodge se romans is nooit net 'n roman nie, omdat hy 'n mens ook iets leer van 'n bepaalde onderwerp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Thursday, February 28, 2013

Umberto Eco - The Mysterious Flame of Queen Loana (2005)



Umberto Eco. The Mysterious Flame of Queen Loana. An Illustrated Novel. Secker & Warburg, 2005. ISBN 0 436 20 589 0.

Resensent: Joan Hambidge

Waarskynlik het Umberto Eco nog nooit weer die impak van The name of the rose geëwenaar nie. Dit was ‘n roman wat die voorste semiotikus in Bologne oornag verander het in ‘n internasionale naam. ‘n Skrywer van letterkundige essays oor die tekensisteem en hoé alles begryp kan word in terme van komplekse tekens, skryf ‘n speurverhaal. Die roman is ook verfilm, minder suksesvol, en hierna het etlike ander romans gevolg, soos onder andere Foucault’s pendulum en Baudolino. En onlangs was daar die essays On Beauty.

As teoretikus het Eco die gesaghebbende The role of the reader gepubliseer en sy aanwysings oor “closed” en “open” tekste kan toegepas word op sy jongste briljante teks: The Mysterious Flame of Queen Loana wat hy beskryf as ‘n “illustrated novel”. Dit is vertaal deur Geoffrey Brock. 

Ene Yambo, ‘n sestigjarige antikwariese boekhandelaar in Milaan verloor sy geheue. Hy kan nie sy eie naam onthou nie, hy weet nie eers hoe dit voel om seks te hê nie en soos ‘n kind, staan hy verwonderd voor etlike menslike vervarings soos toilet toe gaan, die eet van perskes, die evaring van die natuur. Sy kinders se name is eweneens aan hom onbekend en ten einde sy verlede te probeer rekonstrueer, vertrek hy na ‘n familiehuis tussen Milaan en Turyn.

In die ou huis ontdek hy natuurlik boeke en die hele roman is ‘n “paper chase” deur bekende tekste soos Proust se Remembrance of things past, Tennessee Williams se A streetcar named desire, en vele ander boeke wat gelukkig vir die leser in ‘n uitgebreide bronnelys vermeld word. Daar is gedigte en afskrifte uit komiekstrokies. ‘n Pragtige teks is dan Mickey Muis wat met laterale denke oor ‘n boom  se leeftyd kan uitwerk ten einde ‘n skat op te spoor (p. 71). Dit is ‘n sentrale metafoor in hierdie roman wat handel oor rekonstruksie, afleiding, jukstaposisie en natuurlik: die soektog.

Letterkunde het dikwels te make met ‘n soektog, werklik of verbeeld, en in hierdie teks (waar Sherlock Holmes ook ‘n  buiging maak) is die soektog na die graal, ‘n desperate reis na die oorspronlike, eerste, onaantasbare liefde.  Dit is waarvoor “Queen Loana” staan. Deur die leeservaring word ‘n gelukkige jeug gerekonstrueer, boek wat stukkend gelees en weer aanmekaar-geplak is.

Die roman onthul veral hoé seksuele fantasie werk: Josephine Baker en die Koningin word in sy gemoed een. Eco skryf helder oor Mussolini, die oorlog en ‘n kind se sieninge van die implikasies van Fascisme. Daar is jeuggedigte van die verteller wat afgewissel word met gedigte van groot digters. Die verhaal van die Koningin Loana word beskryf as ‘n “ramshackle” verhaal (p. 251). Populistiese fiksie met sy maklike wendings oor die liefde en die Koningin wat in staat is om deur haar towerkragte haar dooie geliefde te kan terugbring, wil egter eerder met een van die moderne besoekers ‘n verhouding begin. Die vlam helaas word uitgewis en die leser, soos Eco ons leer in The role of the reader, moet dan ekstrapoleer oor die implikasies hiervan. Die verteller merk op: You read any old story as a child, and you cultivate it in your memory, transform it, exalt it, sometimes elevating the blandest thing to the status of myth”. Dit is die sentrale  punt waarom hierdie hele roman wentel.

Dit is ‘n uiters erudiete teks, soos die leser kan aflei, en een wat gemaklik en vlot lees, maar onder draai die duiwels rond. Sommige lesers mag voel dat dit verliteratuurd is en dat die leser letterlik van die een aanhaling of vinjet na die volgende beweeg. Vir die leser wat egter geduld aan die dag lê en bereid is om die speurwerk saam met die hoofkarakter te maak, is dit ‘n fassinerende en opwindende leeservaring. Dit is vir die teoretikus ‘n lonende ervaring om te sien hoé die skrywer en narratoloog-cum-semiotikus se sieninge bots èn aansluiting vind.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 27, 2013

J.M. Coetzee - Slow man (2005)



J.M. Coetzee. Slow man. Secker & Warburg, 2005. ISBN 0 436 20611 0.

Resensent: Joan Hambidge

Slow man is J.M. Coetzee se jongste roman. Coetzee, die tweede Nobelpryswenner in Suid-Afrika, het ookal tweekeer die gesogte Booker-prys verower. Sy roman Disgrace kan waarskynlik steeds as ‘n mylpaal binne die letterkunde gesien word. Coetzee se handtekening as skrywer die spaarse, minimalistiese styl en die ontginning dikwels van grensoorskrydende situasies.  Hierin munt hy uit wanneer hy situasies aan sy leser voorstel waar die óngewone belig word. ‘n Mens dink hier aan die vader se besoek aan sy seun in Master of Petersburg, Lurie se botsing met sy student se kêrel en die afskeidstoneel tussen seun en moeder in Elizabeth Costello.

Hierdie vinjette in sy skryfkuns, en daar is vele, is oomblikke wanneer die vertelling bykans ‘n gelade, poëtiese kwaliteit kry. Die romanskrywer is dan ook soos Bahktin tereg uitgewys het, ‘n skepper van ‘n polifoniese wêreld. Maar één van daardie stemme, veral as dit outentiek is soos die belerende, didaktiese Elizabeth Costello, word ‘n soort metakommentaar op die onderhawige roman en die romankuns in sy geheel.

Slow man is weer eens ‘n verhaal van ‘n mens in ‘n spanningstoestand. (Lurie, soos ons weet, word geskors na ‘n verhouding met ‘n student; in Age of iron word die armoede van ‘n plakkerskamp ‘n nuwe werklikheid vir ‘n Shakespeare-kenner). Paul Rayment se been word geamputeer tydens ‘n fietsongeluk. (Die kenner van die skrywer se nie-fiksionele werk oor fietsry, onthou reise deur die suide van Frankryk en word hier relevant.) Die ervaring op sy liggaam en gees word gekarteer voor die leser wat eers meemaak hoé hy ‘n pedantiese, vet verpleegster se attensies en verkleinering (in die letterlike sin van die woord) minag. Wanneer hy Marijana as oppaster huur, besef hy dat hulle albei ‘n Europese verlede deel. Sy kinderjare was in Frankryk, terwyl sy in Kroasië grootgeword het. (Wil die skrywer dalk hiermee ook ‘n implisiete politieke dimensie inwerk, wonder die leser?) Dan, hora est, verskyn Elizabeth Costello, ‘n karakter en sal ons sê, alter ego, op die toneel. (Wil die skrywer dan hiermee ook ‘n soort meta-fiksionele kwaliteit inwerk? Is dit ‘n kommentaar, dalk kritiek op die postmodernistiese werkswyse waar fiksionele karakters as’t ware ‘n lewe en dimensie van hul eie kry?)

Die leser weet dat hierdie soort truuk onder andere bekend is aan die werk van Julian Barnes wat in Flaubert’s parrot die verskillende aspekte van Flaubert se skryfkuns ondersoek en in sy jongste roman ook aan Arthur Conan Doyle se romankarakters ‘n bykans werklikheidsdimensie toedig.

Die skerpste bydrae van hierdie roman is die gesprekke tussen Costello en Paul Rayment waarin daar vele kodes oor die prikêre spanning tussen werklikheid en fiksie uitgewerk word. Die verhouding tussen Paul en Marijana en haar kinders word ook pynlik helder geskets en daar word snydende kommentaar gelewer op die struktuur van die ‘nuwe’ gesin. Die verhaal van die Jokićs, word geplaas teen die verhaal van‘n man wat met sy moeder trou (p. 66) en aktiveer die Oedipus-verhaal en in hul naam hoor ‘n mens Jokaste. Dus aan die basis van hierdie vertelling lê Koning Oedipus, verblinding en vadermoord en Freud se vele interpretasies van die kind se reaksie op sy ouers. Paul vertel ook aan Costello van sy passie vir ‘n jong assistent en hoe hul interpretasies van ‘n liefdesverhouding verskil het. Hoe een mens vir twee mense kan liefhê en wat gebeur, onvermydelik, wanneer die ontoelaatbare uitgespeel word.

Die hoofkarakter se passie is fotografie en hy verafsku alles wat tweedehands, vals of namaaksel is. Hierom kan hy nie prostese verduur nie. Dus, ook aweregse kommentaar op die skryfkuns dat dit oorspronklik moet wees, maar die (post)moderne skrywer is helaas oorbewus van die onmoontlike opgaaf. Die Freudiaanse stramien lê deur die teks en daar is duidelike verwysing na Freud se Grap-boek en hul verhouding tot die onbewuste (p. 259). (Is Coetzee dalk besig met swart-humor in hierdie roman, wonder hierdie leser? Besig met ‘n soort parodie van die skrywer wat besig moet wees met die hoër, intellektuele spel en eintlik gefassineer is in ‘n soort Balzaciaanse menslike komedie? So gelees, is die roman grimmige kommentaar op die outeur se verblyf in Australië en die nuwe eise wat sy posisie as hoogs-bekroonde aan hom stel. Die skerpsinnige leser sal die motto “Malleus maleficorum” ook so interpreteer.) En wanneer Freud geaktiveer word, is Shakespeare daar, soos Harold Bloom ons herinner: ons moet eerder ‘n Shakespeareaanse analise van Freud maak. Dus is die name van karakters, veral die kinders s’n eg uit Shakespeare wat ook ‘n ander verwysingsveld laat kantel.

Dis ‘n verhaal wat glad en vinnig verloop, maar die intertekste is veelvuldig. Dit is ‘n roman wat die leser terugdwing na Coetzee se meesterstuk, Elizabeth Costello en Disgrace, sodat die spel met eie romans ook ‘n andersoortige leeservaring oplewer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]