Showing posts with label Debbie Loots. Show all posts
Showing posts with label Debbie Loots. Show all posts

Tuesday, August 13, 2019

Resensie | Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes (2019)

Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes. Queillerie, 2019. ISBN: 9780795802034

Resensent: Joan Hambidge

Die voorblad van hierdie roman aktiveer die bekende kruik wat 'n mens op voorgraadse Sielkunde-handboeke sien: dit is sowel twee profiele as 'n kruik waarna jy kyk.

Hierdie roman het die derde prys verower in die Groot Romanwedstryd in 2018. 

Loots se debuutroman Split (2015) is bekroon met die ATKV-prys.

Die jongste boek handel oor verhoudings en eindes. Chris se lewe word bedreig deur 'n vrou met wie hy ‘n ligte aanraking gehad het. Sy pers hom af en ons word voorgestel aan verskillende karakters en ons weet wat die sielkundige van hulle dink.

Twee ekse. Een straight en een gay laat die poppe dans. Kentridge se poppespel is ook hier (107) en vrae word gevra oor hoe 'n mens nog oor intieme sake op 'n nuwe manier kan skryf?  Die internet se impak op intimiteit en joernalistiek kom eweneens aan bod.

Die roman analiseer die impak van menslike verhoudings en die ironie dat kortstondige aanrakings of dwase keuses jou lewe vir altyd kan bepaal. Is daar ooit closure?  

Was Willemien net dom of was dit hoe mense opgetree het? Dubbele foute, dus.

Erica Jong se Fear of flying (1973) speel ook in die agtergrond af met die soeke na die "zipless fuck" en 'n bespotting van psigoanalise en die raad wat sielkundiges vir pasiënte gee, terwyl hul eie lewens nie in beheer is nie.

Waar Jong se prosa opstuur en tuimel, is die aanslag hier "fiction domestique", soos die Franse dit tipeer. Hoe mense daagliks leef, dink, doen, kom aan bod.

Die dekor-verwysings gee dalk blyke van 'n leë bestaan. Die kunsverwysings is dalk 'n versugting na 'n beter bestaan waar jy kan ontkom van dwase besluite?

Frank Kermode die gesiene Britse teoretikus se A sense of an ending (1967) het by my opgekom by die lees van die roman, asook Susan Sontag se insigryke essay "At the same time: The novelist and moral reasoning" opgeneem in At the same time (2007). 

Sy beweer dat 'n roman grense skep en dat alles te make het met hierdie grense. Die einde, vir haar, is 'n punt van magiese kwaliteite en samehang. Uiteindelik sien ons hoe uiteenlopende sake saamhang.

Afhangend van waar 'n storie eindig, word die geluk bepaal, waarsku Orson Welles in 'n motto. Hier eindig dit nooit nie ... of dalk?

Oscar en Reeva se verhouding bewys dat 'n gelukkige einde nie vir hulle bestaan het nie.

Die intertekste na Woody Allen, die Coen-broers se Burn after reading en Hitchcock gee eweneens sleutels vir verdere ondersoek.

In die lang galery van vertellers – eat your heart out Faulkner – het Sam ‘n heerlik outentieke stem.

Daar is ook Willemien, Neil, Jenna, Dave, Sigourney, Connie, Priscilla, Simone, John, Bella (o.a.) met Mikey wat alles op sy kop keer.

Terloops, die weergawes van lesbiese seks is stereotiep. Die beskrywing van die abjekte en liggaamlikheid bedui op 'n bestaan wat nie plesierig is nie.

Die geweldstonele waar ‘n vrou ‘n man aanrand, gee 'n nuwe blik op hetero-verhoudings (265). 

Die slot hef die turbulensies op.

Die karakters praat outentiek (shrink, edge, cottage, girl...) en Kaapstad word goed beskryf. Boonop lyk Tafelberg soos 'n groot mynhoop op die Rand.

En die Ford Cortina kom staan mens voor die oog.

In Portrait of a lady – as ons die notas van James lees én Sontag se kommentaar daarop – is die einde anders wat die leser wou hê en dis juis wat die roman so kragtig maak.

Die hoofstuk-indelings (Die begin, die middel, die einde, ná die einde) gee blyke van ‘n ouktoriale vertelinstansie ('n soort poppemeester) wat die gegewe vertel en manipuleer. Kiss kiss, bang bang 'n film uit 2005 (van die regisseur Shane Black) analiseer verhoudings en hoé ‘n mens ‘n storie in film vertel. En dis juis hierdie dimensie van dieper meta-kommentaar wat die roman volgens hierdie leser sterker sou maak. 

Afhangende van hoe jý na die voorblad kyk, sal die roman met jou praat.

Sunday, September 27, 2015

‘n Nota by Debbie Loots se 'Split' (2015)


‘n Nota by Debbie Loots se Split

Queillerie, Kaapstad. 2015, ISBN 978 0 7958 0096 6plo

I
Nou onlangs lees ek toevallig ‘n Rooi Rose en ‘n voormalige redaktrise van ‘n vrouetydskrif begryp Simone de Beauvoir se dictum verkeerd. Sy approprieer “jy word nie ‘n vrou gebore nie, maar een gemaak” as ‘n positiewe stelling dat jy met lipstiek en wat nog verbeter kan word!

De Beauvoir het gemeen vroue is die “tweede seks”, dus onderdanig aan die manlike orde.

Op die voorblad van Debbie Loots se roman Split loof Marita van der Vyver dit as ‘n vars nuwe stem om oor opgewonde te raak. Op die agterblad staan Anchien Troskie se woorde: “Lekker gebeurtenisryk, met karakters wat in jou hart kruip – ek het heerlik gelees!”

Hierdie twee shouts (oftewel die blakertekste) laat ‘n mens nadink oor Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie (1992) wat destyds opslae gemaak het. Die sukses het uitgewershuis onverwags betrap het en die boek het met die volk gepraat. ‘n Seksuele rewolusie vir die Afrikaanse leser, gekonfronteer met lyflikheid – selfs vergelyk met Fear of flying (1972) van Erica Jong. Troskie is weer in die nuus - haar roman, Ek, Anna (2005) is verfilm en bekyk die grinterige arena van kindermolestering en agentskap. Die volwasse Anna praat uit en kom so tot heling.

Waar plaas dit Debbie Loots tussen hierdie twee skrywers, en meer spesifiek, vroueskrywers? Op die agterblad staan daar: “Terwyl verpleegster Vera se huwelik aan die verbrokkel is, knoop sy ‘n verhouding met haar buurman en lees verbode seks-boeke ...”  Noem die woord verbode en Afrikaanse lesers is daar. Sopas het die appèl teen die 18-perk op die film Ek, Anna geslaag. Griet skryf ‘n sprokie is indertyd juis bemark rondom die verbode vrugte en grensoorskrydende aard van die teks - wat vandag maar mak lyk, veral teen Jong se Fear of flying oor die zipless fuck, zipless soos in vryheid, vroulike orgasme en wat nog.

En wat lees sy?

Wat vroue in tekste lees, is ‘n kortpad om hul psiges te begryp. Dit het Nabokof vir ons uitgewys in sy beroemde Cornell-lesings gepubliseer in die tagtigerjare: beide Madame Bovary en Anna Karenina se lewenslot word bepaal deur die populistiese tekste wat hulle gelees het.

Op bladsy 43 verneem ons Vera lees Nancy Friday. Nie alleen lees sy dit nie, maar sy lees dit ook voor aan die minnaar: ”Simon se kop beweeg op en af met die deining van haar maag terwyl sy vir hom uit die Nancy Friday lees. Sy hand flap sy pap penis heen en weer. Hy luister, oë op die plafon. Hy geniet die stories, sy kan sien, en sy is bly toe hy harder aan sy penis begin trek”.

Die vrou is dus in beheer danksy die bevrydende teks wat haar fantasie weergee ...

II

Wat is die funksie van Nancy Friday in hierdie teks? Watter kortpad neem die outeur hier? Wat word ingesmokkel, by wyse van spreke?

Friday se My secret garden en Forbidden flowers (1975) gee die geheime fantasie-lewe van die vrou weer, een wat stilgemaak word deur die patriargie. In Loots se roman is swangerskap eweneens een van die temas wat ontgin word. Hiermee word die vrou verbind aan die man en is sy afhanklik van hom.

Swangerskap, aborsie, voorbehoedmiddels word deeglik onder die loep geneem, nes die sogenaamde “ongehude moederskap”.

My secret garden (1973) is ‘n teks met onderhoude waarin vroue hul seksuele fantasieë verklap. Hierdie teks het uiterse omstrede reaksies tot gevolg gehad. Friday is onder meer daarvan beskuldig dat sy sélf die fantasieë uitgedink het en binne sekere feministiese kringe is sy as on-feministies afgemaak. Vandag weet ons daar is nie iets soos die feminisme nie; eerder feminismes, te wete verskillende vergestaltings van vrou-wees. En dit is waarop Stanley Kubrik fokus in Eyes wide shut (1999): die fantasie van die vrou wat die man probeer troef.

Is dit tog nie ironies dat Tom Cruise en Nicole Kidman se huwelik na hierdie film verby is nie? Het dit iets te make gehad oor die betreding van die fantasie?

Een van haar tekste wat die blywende indruk op my jong gemoed gemaak het, is My mother, my self (1977) met die subtitel: The daughter’s search for identity.

Volgens Friday ontglip die jong vrou die mag van haar moeder vir ‘n kort periode: wanneer sy die huis verlaat na skool. Die oomblik wanneer sy trou en kinders kry, word sy al hoe méér soos haar moeder.

III
“Let us look at the web and not the spider,” het Nabokof opgemerk oor Dickens. Hoe tekste met mekaar in gesprek tree, bly ‘n fassinerende proses.

En dit is wat Roland Barthes die doxa van die teks genoem het. Al is die stories voorspelbaar en nie genoegsaam ontgin nie, is die ideologie van vroue se smagting na (seksuele) bevryding en agentskap presies dit wat hierdie leser in hierdie tekste vind; tekste wat vérby die middelmoot-dimensie beweeg.


En of vroue al meer bevryd geraak het, blyk nie die geval te wees nie. Dit bly dieselfde misverstande en gevegte binne die heteronormatiewe domein.


Dalk omdat die fantasieë verskil?

Lien se vertelling onder andere oor ‘n lesbiese tante met begrip, gee agentskap aan die jonger vrou.

‘n Mens sou ook die politieke dimensie van die roman kon ondersoek, maar die genderaspek het my geïnteresseer.


© Joan Hambidge