Showing posts with label Chili. Show all posts
Showing posts with label Chili. Show all posts

Saturday, April 16, 2016

Joan Hambidge - Wyn in ’n digtersland

Chileense wynlande, waar kos, wyn en digkuns se paaie kruis.

Chili se wyn is verruklik. In Santiago de Chile, in die dakswembad van die hotel The Singular, bely ’n Brit weer hoe gaande hy is oor pinotage wat hy in die Kaap ontdek het. En ja, hoe goed ons wyne is. Zandvliet Shiraz, Anura, Meerlust, ag te veel om op te noem, seg hy. En Raka!

Met my besoek aan Chili het ek die wyn uit die Matetic-streek ontdek. En die vreugdes van pisco ervaar, wat die hittige weer kon troef.

Die Rosaria-vallei, waar die Matetic-landgoed geleë is, beslaan sowat 16 000 ha.

’n Uur ná my aankoms in La Casona vertrek ons op ’n wynproe-ekspedisie. Wat ’n ervaring om die gids te hoor praat van organiese wyn en hoe hulle dit volgens die siklusse van die maan en die son maak. En allerlei kruie en doepas wat in die grond geberg word. Alles gebaseer op Rudolf Steiner se antroposofiese beginsels waarvan biodinamiese landbou bepaald ’n belangrike aspek is.

In dieselfde tyd lees ek ’n artikel oor die digkuns van TT Cloete en hoe alles in hierdie digter se digkuns saamhang.

Aan ons word verduidelik hoe alles op die plaas werk. Elke druif word deur die werkers met die hand gepluk. Hierna word wel van gesofistikeerde masjinerie gebruik gemaak om wyn te maak. Steiner het immers gepoog om ’n soort sintese tussen die natuur en die wetenskap te vind.

Om so ’n plaas te begin moet jy by die voorskrifte van die internasionale raad hou. Een seun het glo sy pa oorreed om hom met die finansiering te help toe hy nie sy graadstudie kon voltooi nie. Die suksesverhaal is nou bekend!

Die EQ-wyne (die EQ staan vir equilibrium) is uitstekend.

Die 2015-sauvignon blanc het ’n tropiese smaak, en die 2013-chardonnay is in Franse eik verouder; maar nie oordonderend nie. Baie subtiel neus jy die Franse afkoms.

Ek was nooit gaande oor pinot noir nie, maar hier sluk ek my woorde. Soos hulle indertyd gesing het: “Dis rond, dis vol, dis tralala!”

Die wyne hier in die San Antonia-vallei het al ’n hele paar pryse losgeslaan en staan hul plek vol in die wêreld onder die wyne van die 100 beste organiese plase.

In die Casablanca-vallei word uitmuntende wit wyne geproduseer.

Verder is die verskil in temperature verantwoordelik vir die uitstekende wyne. Die grond is granietagtig met ’n kleigrond-bolaag.

Ons sommelier, eintlik dégustateur de vins, weet waarvan hy praat. Hy knik instemmend dat ’n mens rooi wyn bepaald eers ’n bietjie moet afkoel om kamertemperatuur te bereik.

Die twee Amerikaners, uit Philadelphia saam met my, is kloekmoedig oor al die wyninligting.

“Praat jy Afrikaans?” vra hy. Ek is verbaas oor sy kennis van Afrikaans as ’n semi-Kreoolse taal.

“Praat jy Afrikaans?”

Ons gesels verder oor die Kroasiërs en die Italjaners wat hier in Chili die wynlandbou 
ontwikkel het.

Tale, soos wyne, leen ’n bietjie hier, steel ’n bietjie daar en kry uiteindelik ’n eie identiteit vanweë die grond, die temperatuur, die weer en die kundigheid (en liefde) van die wynmakers wat ’n passie hiervoor het.

Voor La Casona is ’n lieflike tuin wat amper in die vorm van ’n labirint is. Elke kamer het ’n wynnaam. Ek gaan tuis in Merlot. Die Yanks is in Pinot Noir.

Die kos is verruklik. Ek eet die eerste aand pylinkvis gestop met calamari. Die voorgereg is ’n bokmelk-omelet. En ’n gratis bottel syrah is deel van die emblemata van verrukking.

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy.

Die kelner lyk op ’n haar (of eerder kaalkop) nes Pablo Neruda. Ek is immers hier om die huise van Neruda, self ’n wynliefhebber, te besoek. Boonop is die kelner van Valparaíso. Elke smulgereg verduidelik hy met liefde en kundigheid.

Die oggend eet ek ’n groot hardgekookte eier vir ontbyt.

“Hierdie eiers smaak anders. Dis van ons werf, en hulle eet die beste oorskietkos. Wees gewaarsku: Dit is geweldig ryk.”

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy. Ek dink opeens aan TT Cloete wat soveel lieflike 
verse oor voëls geskryf het en mis hom opnuut geweldig. Hy wat ons herinner het daaraan dat Neruda geskryf het dat Chili deur ’n digter gemaak is.

God die digter

Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die
sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer
liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak

(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)

Buite die warm La Serena word die wynstokke met nette bedek om die suikerinhoud te beheer. Dit voel en lyk nes onse De Doorns. ’n Hitte wat alle pretensie uit jou brand.

Ons vertrek na die Aba pisquera op die gewone staptog deur die wynlande, die vate en ’n verduideliking van hoe pisco sedert 1921 in die Elqui-vallei vervaardig word.

In Vicuña drink ek mango-pisco. Smaak na teer, ek lus nog meer! ’n Klein veldmuis hardloop oor die koel teëls.

Hierdie mense bemark hul pisco’s in Kanada, die VSA, Switserland, Japan en China.


Ek hoor dat die distilleerproses ongeveer 12 tot 24 maande in koperpotte duur. En suiwer water help uiteindelik om die alkoholvlakke tot by 40% te kry! ’n Geduldige, langsame proses, nes die digkuns.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

© Joan Hambidge

Sunday, January 10, 2016

Joan Hambidge - Santiago de Chile [Gedig]


'n Foto, skryf jy iewers,

is 'n opslagkoeël: iets
wat tref en wond
in die loopgraaf
van herinnering.
Nommer DSCF0177
geliasseer in 'n reisverslag
Chili 2015-2016
(dus die oorgang van een jaar
na 'n ander verwonding) verklap
die boustyle van hierdie stad:
modern en ouderwets,
lig en somber. 'n Woonstelblok
vol afwesige bewoners, lamppale,
robot, 'n boom en lug voltooi
die komposisie. 'n Horlosie selfs
met twee tydsaanduidings:
ek onthou dit was so om en by
drie namiddag op pad terug
na my hotel The Singular op Merced 294.
Wat opval is die kruis
toé hiervan salig onbewus.
Genade, hoop, verlossing
op my pelgrimstog in Santiago
opgesom in dié foto:
'n vloekskoot.


© Joan Hambidge

Thursday, January 7, 2016

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XVIII)

Boegbeeld in Neruda se huis op Isla Negra

Deel XVIII

Verpakking van ‘n reis het ook te make met uitpak. Wat gepaardgaan met jet lag. Die liggaamlike skommeling om die tydsone van hier met daar te versoen. Middel van die nag wawydwakker. Met drome van wat agter jou lê. Seereise is minder steurend, omdat tyd beter sinchroniseer. Met vlieg is daar tyd wat gewen en verloor word. En ‘n selfoon en liggaam registreer dit.

Dus in die middel van die nag pak ek uit. Gooi klere in die wasmasjien en dink oor my reis. Hoe goed het alles ingepas in my twee reistasse. My Neruda-boeke, ‘n studie oor Cloete, reisplan (Viajes y Turismo), Storr se studie Solitude, ‘n simboolhandleiding, ‘n tydskrif oor T.T. Cloete, Spaanse grammatikaboek, DVD's (krimmies), paspoort, geelkaart, $'s, twee kredietkaarte, Mirakel en muse, Woord en wonder ...

Ek skryf ‘n rubriek Die Burger (5.1.2016):

Ten huise van die groot Chileense digter Neruda

Die Chilene het respek vir hul skrywers, skryf die digter Joan Hambidge ná haar onlangse besoek aan Chili waar sy die goed bewaarde museumhuise van Gabriela Mistral, Vicente Huidobro en Pablo Neruda besoek het.

Neruda se sitkamer by Isla Negra. In die huis het hy die Canto General 
geskryf – sy digterlike studie oor die Suid-Amerikaanse geskiedenis.

Die groot Chileense digter Pablo Neruda had drie huise: in Isla Negra, Valparaíso en La Chascona in Santiago.

Die huis in Isla Negra suid van die stad Valparaiso is ‘n belewenis en waarskynlik die beste museum. Neruda was ‘n versamelaar van botteltjies, vlinders, skulpe en selfs goggas, omdat hy geglo het dat die digter na die wêreld moet kyk soos ‘n kind: onbevange.

In hierdie huis staan sy studeertafel, wat hy glo saam met sy geliefde Matilde, uit die see gaan haal het toe ‘n skip gesink het. Neruda se liefde vir die see is alombekend en daarom is sy huise dan ook in die vorm van ‘n skip gebou. Die deure is nou; die trappe steil.

In hierdie huis staan ‘n aardbol en in sy studeerkamer foto’s van geliefde skrywers soos Walt Whitman en Baudelaire. Klippe is eweneens belangrik hier; ‘n vriendin, Marie Martner, het die sitkamer met ‘n klipmuur versier.

In die slaapkamer kyk die bed uit oor die see. Die agnostiese Neruda se liefde vir primitiewe objekte is opvallend. Onder ‘n tafel se glasblad sien ek ‘n tarotstel. Hy het telkemale in vreemde lande speelkaarte versamel.

In 1937 het Neruda uit Europa teruggekeer en na ‘n plek gesoek om sy Canto General te skryf, sy digterlike studie oor die geskiedenis van Suid-Amerika (waarvan die eerste publikasie deur Diego Riviera versier is). Die huis in Isla Negra was die ruimte waarin hy hierdie voortreflike werk voltooi het, na my mening een van die grootste prestasies in die wêreldletterkunde.

Die huis in Valparaíso heet La Sebastiana, vernoem na die argitek wat dit ontwerp het. Met klein gangetjies en steil trappe beweeg ‘n mens ook van kamer na kamer. Hoe het Neruda, ‘n groot man, dit bemeester? wonder ek.Hierdie huis staan op die Florida-heuwel en die argitek het nooit die voltooide huis gesien nie. Omdat die huis te groot was vir hom alleen het Neruda dit saam met sy twee vriende, Marie Martner en Francisco Velasco, gekoop.

Die woning is op 18 September 1961 ingehuldig. Die gedig “La Sebastiana” is vir hierdie gedenkwaardige geleentheid geskep.

Ook hier is ‘n kroeg in die huis en Neruda was glo ‘n uitstekende kok en gasheer wat nooit gaste in sy kombuis toegelaat het nie.

Dit is huise vol relieke, houtbeelde (selfs ‘n perd!), antieke boegbeelde, skulpe . . .

La Chascona (“wilde maanhare” – die liefdesnaam vir sy geliefde Matilde met haar boskasie) geleë in die Barrio Bellavista, Santiago, is ‘n museum met afbeeldings van objekte wat in die huis in Isla Negra te sien is.

Die pragtige tuin met die huis wat uit verskillende vlakke bestaan, herinner aan die argitektuur van die ander twee huise. Daar is gesogte kunswerke teen die mure en die liefde vir Chinese kuns is opmerklik.

Dit is bekend dat die politieke situasie ná die coup vir Neruda ‘n groot teleurstelling was. Party meen hy het aan ‘n gebroke hart gesterf. Ander meen hy is vergif; ander sê dit was kanker.

In 1992 is sy oorskot na sy geliefde Isla Negra geneem. Hier rus hy langs sy vrou, Matilda Urrutia, in die Tumba de Pablo y Matilde.

Die klou dui reeds die dier aan. Só verraai ‘n huis eweneens iets van die mens: ‘n Liefde vir die natuur, van klein objekte of kunswerkies op ‘n tarotstel, ‘n donkerpienk skulp, vertel vir ons Neruda kon so goed dig, omdat hy die ding-heid van iets kon raaksien, die konkrete, die kenteken van die groot digter.

En kunswerke uit vreemde omgewings (waar hy as diplomaat diens gedoen het) en ‘n groot aardbol bewys dat hy buite die grense van sy land kon dink en dig.

En die huise verklap dan ook sy liefde vir reis, hetsy na die Ooste of na Spanje of Frankryk. Die toegangsgeld gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n menseregte-organisasie.

‘Grootste digter in enige taal’

Pablo Neruda was die grootste digter van die 20ste eeu in énige taal, het die Colombiaanse skrywer Gabriel García Márquez een keer gesê.

Die naam Pablo Neruda was die skryfnaam van die Chileense digter, diplomaat en politikus Ricardo Eliécer Neftalí Reyes Basoalto (1904-1973). Twee jaar voor sy dood is hy as die president van die Chileense Kommunistiese Party aangewys.

Hy het egter sy nominasie teruggetrek en is net daarna as diplomaat in Parys aangestel.

Neruda, wat reeds op tienjarige ouderdom begin dig het, is in 1971 met die Nobelprys vir Letterkunde in Parys bekroon.

Sy bekendste werk is Veinte poemas de amor y una canción desesperada wat in Engels as Twenty Love Poems and a Song of Despair in 1924 wêreldwyd verskyn het.

Fernando Alegría skryf só oor Neruda in Modern Poetry Studies: “Wat ek wil benadruk was dat Neruda ‘n digter van die liefde was, en meer as enigeen ‘n kragtige, vreugdevolle oorwinnaar van die dood.”

Neruda het in verskillende style geskryf, van historiese epiese verhale, politieke manifeste, prosa en outobiografieë tot hartstogtelike liefdesgedigte.

*

In my tas is daar ook klippe: van Neruda se huise; Mistral se huis in Vecuňa en twee ronde, platklippe van die Andes ...

Klippe. My hele huis staan vol klippe: Nagasaki, Macchu Picchu, Istanboel ...

Onverganklike objekte. Bakens.

Anders as foto's. Of memento's.


Neruda in ‘n selfgesprek

In elke uithoek van Chili
gedigte soos saad gestrooi:
Oor eensaamheid en die corázon.
‘n Canto general, selfs die opstand
verwoord in Obras completas.
Daar by die vérre Atacama-woestyn
en in al die vulkane hoor ons nog:
poësie is ‘n okkupasie, ‘n hartstog.
Op ‘n jong leeftyd vind dit mý,
hierdie blommende copihues:
hoe kort die lewe; hoe durend
die uiting in só ‘n stil obiter dictum;
‘n rymverdoeseling, woordskuwend.

© Joan Hambidge