Showing posts with label UKZN Press. Show all posts
Showing posts with label UKZN Press. Show all posts

Monday, August 3, 2015

Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - Anthea Garman (2015)


Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - 
Anthea Garman. UKZN Press, 2015. ISBN

Resensent: Joan Hambidge

Oor die rol wat Antjie Krog speel as openbare figuur skryf Anthea Garman uiters insigryk.

Sy wys op die buitelandse posisie, die bekronings, die pryse, die lof van J.M. Coetzee en haar komplekse rol.

Sy neem ook Edward Said se bekende uitspraak van “speaking truth to power” as ’n belangrike uitgangspunt om Krog se rol te definieer.

Later word dit gekwalifiseer as “speaking poetry to power”, soos Alette Schoon dit klinkend opsom.

Die studie val in sewe hoofstukke uiteen. Die hele kwessie van “self” en “Othering” en om in ’n era van pyn en onmenslikheid te leef, word deeglik bespreek.

Krog problematiseer die openbare en die persoonlike dimensies van haar lewe. Die een word toenemend vervleg met die ander en kan lankal nie meer onderskei word nie.

Garman se titel van haar studie Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere:
Speaking Poetry to Power wys 
op haar ontwikkeling as jong digter en die herrie wat dit veroorsaak het, tot haar rol as aktivis en openbare intellektueel.

Daar was eweneens ’n onverkwiklike insident oor wapens wat op haar voorstoep gevind is, wat sy verwerk het tot teks in Relaas van ’n moord.

Met Krog in ’n drama in Kroonstad, skuif sy Kaap toe en doen belangrike werk by Die Suid-Afrikaan.

Krog is ’n belangrike digter. Die volledige feministiese ontwaking kan in haar tekste raakgelees word en daar is ook falliese simbole (soos Marius Crous aandui) in haar poësie.

Sy skryf immers omdat sy woedend is. Sy is Lady Anne, maar ook Dogter van Jefta. Dot Serfontein se dogter, maar ook mens, digter, politieke aktivis in eie reg. Sy skryf faksie waarin feit en fiksie vermeng word: om ons anders te laat kyk na ons werklikheid.

Garman neem verskillende soorte intellektuele wat post-1994 na vore gekom het onder die loep: die revolusionêre intellektueel, organiese intellektueel, swart intellektuele, Afrika-intellektuele, en nog meer.

Watter soort intellektueel is Krog uiteindelik?

Vir my gevoel, ’n emosionele en revolusionêre een wat visseraal omgaan met die problematiek róndom haar. Dis hoekom haar gedigte jou aan die keel gryp.

Krog is sowel digter as politieke kommentator en aktivis. Haar werke soos Country of My Skull en Begging to Be Black is hibriede tekste. Tekste waarin die digter-aktivis háár sieninge wil sien gebeur. En sy is waarskynlik gefrustreerd dat die reënboog-fantasie nie gebeur het nie  . . .

Haar onlangse lesing by die Sunday Times-prystoekenning het Krog finaal as revolusionêre intellektueel gevestig.

In hierdie lesing het sy geëis dat mense hulself moet oopstel vir armoede. Armes moet in parke kan bly; ná universiteitsvoltooiing moet jy ’n jaar gratis in jou gemeenskap diens lewer; afgetredenes moet ook hulself diensbaar stel . . .

’n Gemeenskap sal huisvesting en kos verskaf. Die verdeling van rykdom is ’n utopiese droom, ’n onuitvoerbare sosialistiese droom, omdat armoede geromantiseer word.

Waarskynlik vind ons reeds dieselfde sentimente in haar onlangse bundel Mede-wete, onder meer in die gedig “Bediendepraatjies” waar die lewensverskille tussen wit en swart só groot geword het dat ons hele lewenstyl herdink moet word.

Die ekonoom Dawie Roodt het haar reeds gewys op die onmoontlikheid van so ’n droom. Vir my gevoel behels dit ’n romantisering van armoede sónder om die praktiese implikasies van misdaad en higiëniese standaarde te verreken.


Oorkant my is ’n park. Oorkant my moes die stadsraad juis stappe doen weens geweld en misdaad.

Dit is ’n studie waarin die etiese agentskap van die skrywer en aktivis Antjie Krog onder die loep geneem word. Die implikasies van wat sy wil met haar land en hoe dit ons almal raak, sorg vir debat. Almal knetter en kook.

Onthou net: Anna is bekend daarvoor dat sy enige openbare platform sal gebruik om haar segge te seg. Onthou tog wat sy alles gesê het toe sy die Hertzogprys gewen het vir Lady Anne.

Die boek van Garman sluit af met die omstrede Rhodes Must Fall-veldtog.

Die outeur erken sy werk reeds 11 jaar lank aan haar boek oor Krog. Sy wys tereg daarop dat ’n mens standpunt moet inneem en sy wys op haar studente in Grahamstad se reaksie op studente aan die UK se optrede. Het die Waarheids-en-Versoeningskommissie niks vermag nie? Hoekom is daar nog soveel woede?

Dit is ’n studie waar ek etlike opmerkings in die kantlyn geskryf het. Maar dit is wel ’n boek wat jou laat nadink oor waar ons nou is. Kan ’n mens nog ’n spreker namens ander wees? Of moet jy ook pyn en empatie verteenwoordig wanneer jy sulke stellings maak?

Daar is nie maklike oplossings nie. Wat wel waar is, is dat ons ongekende opstand by veral swart jong mense sien en dat ons almal (links en regs) nie werklik in staat is om die nuwe diskoers te begryp nie.

Terselfdertyd sien jy ook jonges wat net na hul selfone kyk en nie eens weet wat óm hulle gebeur nie.

En vir die redakteur: Op bladsy tien word Ernst van Heerden verkeerdelik as Etienne van Heerden gesien. En Celine moet sekerlik lees Cecile Cilliers?


Tuesday, March 26, 2013

Sandile Dikeni - Telegraph to the sky (2000)



Sandile Dikeni. Telegraph to the sky. University of Natal Press, 2000. ISBN: 978069 809785.  

Resensent: Joan Hambidge

Telegraph to the sky is Sandile Dikeni orale digter en rubriekskrywer se tweede versameling. Die huis der poësie het vele wonings. Tog is dit maar so dat die sogenaamde orale gedig nie lekker sy lê op papier kry nie.

Sandile het 'n geweldige aanhang. Hy dra sy gedigte mooi voor en iewers het iemand na hom verwys as die Lorca van Afrika. Nou ja, dis kennelik iemand wat nie Lorca ken nie of maar gaaf wou wees...

Nou eenaand dam 'n man my in 'n restaurant by. Hoekom word hierna ook as “gedigte” verwys? Dis skaars versies! Waarskynlik is dit nou maar eenmaal so dat wanneer 'n gedig meer op die tematiek as die tegniek let daar nie veel diepte is nie.

Die gedig van die onmiddellike segging word maar 'n papier wat waai oor die vlaktes. En van Kahalahari's wit papier is hier nie veel sprake in Telegraph to the sky nie.

Die gedigte lewer sosiale kommentaar, maar die tegnieke is bykans dieselfde. Daar is min verrassing of wending in die verse.

“and heaven comes smelling like
Chanel or banal” (p. 21)

“Goodbye England” lui as volg:

When they killed Sipho
Mrs Jones was furious

They killed him at four o' clock
in the afternoon
and she could taste his blood
in her afternoon tea

Waarskynlik 'n interessante idee van die vrou wat die dood van hierdie kind as ontydig ervaar binne haar sekure wêreld. Maar 'n goeie vers, nou ja, die is dit nie. En dit kan 'n mens van die meeste verse skryf: dis idees (dat swartmense sterf aan TB en die wit mens hom besig hou met “to be or not to be”), maar kopooprukkende verse op 'n tegniese vlak die meen ek van nee.

Politieke of ideologiese verse kan werk in die hand van 'n bekwame digter. Gaan kyk maar na Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie wat pas verskyn het.

Dit is 'n opvolg van Guava Juice (1992)wat glo die kritiek rasend had. Nou ja. Miskien is die titel al 'n onbewustelik ironiese aanwyser: dis vinnige boodskappies en nie diepsinnige gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Wednesday, March 6, 2013

Michael Chapman - Southern African Literatures (2003)



Michael Chapman. Southern African Literatures. University of KwaZulu-Natal Press, 2003. ISBN 1 86914 -28 1.

Resensent: Joan Hambidge

Teenoor die ouer literatuurgeskiedskrywing wat die bepaalde letterkunde se geskiedenis en polemieke en strominge weergee (soos Dekker en Kannemeyer in Afrikaans) staan Chapman se nuwe benadering: multi-kultureel. In plaas van ‘n letterkunde eerder dan Suider-Afrikaanse letterkunde. Alles goed en wel, maar wie is werklik genoegsaam ingelig om die verskillende SA letterkundes se ontstaan of tradisies na behore weer te gee?

Michael Chapman is in die verlede gestriem vir sy praktyk. Van ons voorste Afrikaanse teoretici het beswaar gemaak teen sy oorsigte. Trouens, sy onlangse versameling van SA-digters is eweneens aanvegbaar in sy groeperinge, opsommings en uitlatings. Digters wat vertaal of bekend is, geniet voorrang bo die minder bekendes.

In my bespreking gaan ek dus net let op dit waarvan ek iets weet, naamlik die Afrikaanse letterkunde. En nou is dit maar eenmaal so: as jy nie ‘n samesteller kan vertrou op die gebied bekend aan jou nie, hoe kan jy hom met ander oorsigte laat voortgaan? Is dit nie miskien raadsaam om verskillende kenners/outeurs aan te stel, in plaas daarvan om pa te staan vir een groot oorsig vol hiate?

Die volgende stellings/uitsprake vra om hersiening of is gewoon aanvegbaar:
*    die skamele bio oor Karel Schoeman
*    ditto, die skamele informasie oor Leroux;
*    ditto, die verkeerde informasie oor Eybers. Daar is ook etlike van haar gedigte
      deur die digter self vertaal;
*    Lady Anne is tog nie oorspronklik in Kaapstad uitgegee nie?;
*    N.P. van Wyk Louw se Opstelle oor ons ouer digters word ouer ‘over’;
*    die hele geslag ‘grensskrywers’ is ook nie hier te vinde nie.

Begin ‘n mens die studie met ‘n spreekwoordelike luiskammetjie benader, is daar nog meer groteske en in-die-oog-springende vergrype.  Ons lees byvoorbeeld dat Brink se ‘struggle’-tekste “are too easily swallowed into the text of an erotic escapade”(p. 405). Dit is nie waar van al die tekste van Brink in hierdie periode nie. Oor Schoeman word daar ook onbevredigend geargumenteer: van wanneer af is ‘n skrywer se biografiese of ander werk sommer ‘n sleutel tot sy romankuns? J.M. Coetzee se persoonlike lewe en ‘n verlies verduidelik sy ‘powerful meditation’ oor oudword en dood! Dit is werklik ‘n uiters simplistiese gelykstelling.

Hierdie studie word ‘n oefening in onbehaaglikheid. Die leser besef gaandeweg dat die samesteller te veel inligting wou uitstal sonder dat dit in diepte ondersoek is of werklik goed deurdink word. So gesien, word die hele boek ‘n ‘liquorice all sorts’.

“If the challenge is artistic, it is also of course societal” (p. 407) is die soort van veralgemenings wat op die leser losgelaat word.  Dit is waarskynlik een van die probleme wat onstaan wanneer ‘n skrywer alles binne ‘n keurslyf van vooropgestelde idees of veralgemenings wil laat inpas.

So word daar sommer gespring van Jeremy Cronin na Krog na Jeanne Goosen in een swiepslag wat enige subtiele verskil negeer. ‘n Mens kan net die kop skud oor sy arrogante uitspraak dat Lady Anne geen ‘anxiety of influence’ verraai en geen verwysing na die Dertigers, die modernisme, openbaar nie (p. 416) Òf hy verstaan Harold Bloom sleg (wat onder meer meen dat die verhulling of wegskryf van die interteks ook tersaaklik is) òf hy maak ‘n grap. En dis hierdie slordige soort teoretisering wat my die keel uithang: dis clap trap Marxisme, vrot dekonstruksie en halfgebakte paradigma-teorie waarteen ‘n mens moet vaslees.

My rooi pen het geloei asof dit ‘n werkstuk is van ‘n student wat niks regtig begryp nie en versoek sal word om die hele essay oor te skryf.  Hoe dan anders as ‘n mens feminisme (in plaas van feminismes) onder een noemer plaas met kinderliteratuur, en die sogenaamde ‘indigenised intellectual” (p. 417).

Hoe kan ek hierdie outeur vertrou met Xhosa of Afrika-letterkunde is die foute oor my letterkunde so potsierlik en blatant is? My kollega, kenner in Afrika-letterkunde, was eweneens gesteurd oor die foute, mistastinge en veralgemenings.

Michael Chapman is haas besig om sy reputasie as letterkundige ernstig aan te tas met hierdie ambisieuse, ondeurdagte oorsigte wat vir die leser van ‘n bepaalde letterkunde uiters problematies en kontensieus is. Die mini-kongres indertyd by Unisa waar bekende akademici Chapman gekritiseer het, het kennelik nie vrugte afgewerp nie. As hy navorsers aangestel het, moet hy hulle subiet in die pad steek.

As Komparatisme is die nuwe modeverskynsel is, dan moet dit met groter kundigheid benader word. Southern African Literatures ‘n bydrae of skande? Besluit self. Om die leser ook van die kwaadwillige persoonlike aanvalle in te lig en dat die vorige uitgawe die gesogte Bill Venter-toekenning verower het, kon my nie oortuig nie. ‘n Langer bespreking van hierdie studie sal elders verskyn.

Wanneer ‘n resensie ‘n fundamentele herskrywing word, is daar werklik ernstige fout te vind met ‘n boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 1, 2013

Lionel Abrahams - Chaos theory of the heart and other poems (2005) | Robert Greig - Rules of Cadence (2005)



Lionel Abrahams. Chaos theory of the heart and other poems. Jacana, 2005. ISBN 1 77009 097 5.


Robert Greig. Rules of Cadence. University of KwaZulu-Natal Press, 2005. ISBN 1 86914 075 3.

Resensent: Joan Hambidge 

Die ‘n bekende digter praat altyd van nalatige eerder as nágelate verse. Dit is volgens hom verse wat ná ‘n digter se dood verskyn, omdat die geliefdes die digter wil vereer. Dikwels is dit verse wat nog nie gereed was vir publikasie nie, of wat die digter self sou uitgegooi het. In die geval van Lionel Abrahams se Chaos theory of the heart and other poems verneem die leser dat ‘n hele afdeling, te wete afdeling vier na die digter se dood in hierdie versameling opgeneem is. En dit was my eerste kennismaking met die bundel, omdat ek altyd ‘n bundel van agter na voor lees; dan van die middel na agter. En uiteindelik chronologies. So kan jy dikwels die (onbewuste) simboliek van die bundel raaklees, of juis, ‘n steek wat die digter per ongeluk laat val het, optel.

Dus, my eerste indruk van hierdie bundel was nie baie positief nie, behalwe vir die baie sterk gedig, “Possible Post Script”, waar die slagoffers van ‘n bom die selfmoordbommer aanspreek:

We claim your gratitude, for we were there.

Die res van die gedigte in hierdie slotafdeling mis fokus en is kletserig.

Die bundel word verder gedra met (onder andere) akkolades van J.M. Coetzee en Nadine Gordimer wat meen :”We will never see his like again”. (Is dit terloops etiket om 'n bundel te loof as daar 'n vers aan jou opgedra word? Ek dink hier aan "Two oblique salutes to Nadine Gordimer")

Miskien had die digter goeie vriendskappe en was hy polities tersaaklik, maar sy gedigte is vir gevoel wydlopig en rommelrig. Dit mis die waansin van die digkuns. En met wydlopig bedoel ek nie lengte nie; Breytenbach, Ezra Pound en vele ander digters het lang verse gepleeg, maar nooit het die leser die gevoel dat die gedig koers verloor nie.

Die handvol kwatryne is beslis meer behaaglik as die uitgesponne, lang verse.  "A note in prosy verse" klink of die digter sy werkswyse probeer verdedig, ironies genoeg. "The customer is wrong again" het my geimponeer om die gesprek met die digkuns.

Rules of cadence van Robert Greig is 'n sterker bundel. Die digter is al bekroon met die gesogte Olive Schreiner-prys en sy gedigte getuig van vakmanskap. Dis net wát hy sê nie, maar ook hoé hy dit sê...

As bekende dramakritikus ontgin hy die wêreld van die teater. Die titel kom uit "Notes for a three-hour speech by Fortinbras" waar die digter kommentaar lewer op die huidige stand van sake:

We wil discover traditional tribal chants
for the people's poets to use when teaching
youth to adroitly unroll condoms
and corporate choirs to hymn the good.
Cadence, not words, will rule and be all.

In die afdeling “Biography of an ordinary man” staan daar werklik uitstekende verse soos “Visiting Mrs Leech” en “The abortion”.  Die sterkste afdeling heet “Cry-babies” waarin die digter daardie besondere eienskap van die digkuns presteer: om die stilte agter woorde op te vang soos in die lieflike “The Japanese wives”.  Ook oor die liefde, verbintenisse met ‘n kind en verbygenade dinge, word trefseker gedig. 

Die digter het dikwels ‘n vars blik op die lewe soos gesien kan word in “The undertaker’s wife” wat werk rondom die ironiese stelling (“business is dead”). Om so ‘n vrou te wees, stel eise waaraan sy nie kan voldoen nie. Háár siening van die lewe word in jukstaposisie geplaas met sy morbiede werk wat hom aantas en op haar ‘n impak het.

Die jaar het darem 'n nuwe I.L. de Villiers, Gilbert Gibson, Rustum Kozain, Arthur Attwell opgelewer, as 'n mens so vinnig nadink oor ónthoubare bundels. Rules of cadence bevat ‘n handvol verse wat ‘n mens raak en getuig van ‘n knap talent. “The affair”, wat handel oor ‘n werksverhouding, registreer die impak van iets wat as ‘n spel begin en uiteindelik abrup eindig. Menslike weerloosheid word in verskeie verse gekarteer:

Haiku

Each day we die from each other:
flesh falling from birds
lying in long rains.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]