Showing posts with label Profiel. Show all posts
Showing posts with label Profiel. Show all posts

Saturday, January 1, 2022

Profiel | Roberto Bolaño (1953 – 2003) | 2022


I

 

Roberto Bolaño gebore in 1953 en oorlede in 2003 is veral bekend vir sy prosa. In hierdie dae lees ek weer die verbluffende 2666, 'n teks wat die grense van die romankuns uitdaag. 'n Paragraaf is 'n vloedgolf van één sin. Karakters verdwyn en kom weer later terug in die storie ...

 

Gebore in Chili, gevlug na Mexiko en Spanje was hy iets van 'n misterieuse figuur. Verslaaf aan dwelms en wagtend op 'n leweroorplanting sterf hy.

 

Daar word vertel dat hy die romans geskryf het om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. In Spanje was hy 'n bokser, skottelgoedwasser, vullisverwyderaar, sekureiteitsbeampte en as kind glo disleksies. Geboelie op skool en dus ‘n outsider.

 

Sy pa was 'n bokser en trokdrywer; sy ma onderwyseres. Daar was boeke in die huis, maar nie eintlik hoë letterkunde nie.

 

In sy lewe het hy die Chileense letterkundige sisteem as snobisties en afwysend ervaar en veral die hooghartige Isabel Allende, geteiken met argwaan. Volgens Ariel Dorfman het hierdie outsiderskap aan hom 'n enorme vryheid gegee. Iets wat 'n mens dan in sy tekste opvang. Teen die grein en modes van sy tyd, skryf hy asof hy eintlik met homself praat. Hy meng genres en breek konvensies af. In ‘n roekelose, asemsnakkende styl wat absolute bewondering afdwing.

 

2666 verwys (waarskynlik) na die Bybelse Eksodus en die vlug uit Egipte 2 666 jaar nadat God die aarde geskape het. Ander kritici meen weer dis al die bladsye wat hy nagelaat het.

Hierdie roman beslaan vyf afdelings. Die eerste afdeling handel oor die kritici en vier Europese geleerdes, die Fransman, Jean-Claude Pelletier, die Italianer, Piero Morini, die Spanjaard, Manuel Espinoza en Liz Norton, ‘n jong Engelse akademikus op wie die mans verlief is.

 

Hoe elkeen van hulle na haar smag, word uistonderlik kragtig beskryf.

 

Hulle ondersoekveld is die misterieuse Duitse skrywer (met ‘n Italiaanse naam), Benno von Archimboldi. Mevrou Bubis, sy uitgewer vertolk ‘n belangrike rol, nes Rodolfo Alatorre, wat beweer hulle was bevriend. Die soektog na die skrywer lewer aanvanklik niks op nie

Uiteraard omdat identiteite nie “waar” is nie. Mevrou Bubis blyk Barones von Zumpe te wees, net soos wat die identiteit van die skrywer later onthul word. Maar ek wil nie nou ‘n spoiler pleeg nie! Wat ‘n verbeelding.

 

 

II

 

Ek wil egter op sy digkuns die aandag vestig. Dit is altyd 'n wonderlike ervaring om 'n nuwe digter te ontdek en ek is kortweg gaande oor sy poësie.

In 1975 begin hy 'n digkuns-beweging, die sogenaamde Infrarealismo in Mexiko saam met Mario Santiago Papasquiaro, José Vicente Anaya, Rubén Medina en José Rosas Ribeyro.

Hulle motto was: “Blaas die breins uit van die kulturele establishment.”

 

Hierdie beweging was o.a. krities oor die werk van die Mexikaan, Octavia Paz en daar word vertel dat hulle een keer selfs koffie oor hom uitgesmyt het in die openbaar. Paz het vir hom alles verteenwoordig wat hy in die letterkundige establishment verfoei het. 

 

Self portrait at twenty years

 

I set off, I took up the march and never knew

where it might take me. I went full of fear,

my stomach dropped, my head was buzzing:

I think it was the icy wind of the dead.

I don't know. I set off, I thought it was a shame

to leave so soon, but at the same time

I heard that mysterious and convincing call.

You either listen or you don't, and I listened

and almost burst out crying: a terrible sound,

born on the air and in the sea.

A sword and shield. And then,

despite the fear, I set off, I put my cheek

against death's cheek.

And it was impossible to close my eyes and miss seeing

that strange spectacle, slow and strange,

though fixed in such a swift reality:

thousands of guys like me, baby-faced

or bearded, but Latin American, all of us,

brushing cheeks with death.

 

Vertaler: Laura Healy

 

 

Dirty, poorly dressed

 

On the dogs’ path, my soul came upon

my heart. Shattered, but alive,

dirty, poorly dressed, and filled with love.

On the dogs’ path, there where no one wants to go.

A path that only poets travel

when they have nothing left to do.

But I still had so many things to do!

And nevertheless, there I was: sentencing myself to death

by red ants and also

by black ants, traveling through the empty villages:

fear that grew

until it touched the stars.

A Chilean educated in Mexico can withstand everything,

I thought, but it wasn’t true.

At night, my heart cried. The river of being, chanted

some feverish lips I later discovered to be my own,

the river of being, the river of being, the ecstasy

that folds itself into the bank of these abandoned villages.

Mathematicians and theologians, diviners

and bandits emerged

like aquatic realities in the midst of a metallic reality.

Only fever and poetry provoke visions.

Only love and memory.

Not these paths or these plains.

Not these labyrinths.

Until at last my soul came upon my heart.

It was sick, it’s true, but it was alive.

 

‘n Mens vind iets van die Beat-generasie in sy gedigte: die swerwer, die junkie, die bum, die visionêr …

 

Hy is Kerouac versnit met Ginsberg en Borges.

 

Net koors en poësie roep visioene op…

 

Die skrywer is oorlede in 2003 in Katalonië, maar hy het ‘n énorme letterkundige testament nagelaat. The Savage Detectives is eweneens ‘n belangrike teks.



Roberto Bolaño | Getty Images


© Joan Hambidge



 

Thursday, January 28, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel VII) | 2021

Deel VII

 

I

 

Waarom kon Tennessee Williams nie 'n openlike gay-karakter skep nie? In Cat on a Hot Tin Roof is dit tog duidelik dat Brick, 'n eertyds voetbalheld, gay is en betrokke was by sy vriend, Skipper. Hierom is sy vrou Margaret verbitterd oor hul sekslose huwelik. Sy weet immers hoekom hy nie by haar slaap nie,  en Big Daddy is in volledige ontkenning dat hy sterwend is aan kanker. Hy word egter met die feite gekonfronteer. (Nogal ironies dat Big Daddy rondgeruk word en die waarheid vertel word.)

 

Die filmweergawe van 1958 is gesensureer en Paul Newman was erg ontsteld oor hierdie toedrag van sake. Newman - teenoor Elizabeth Taylor - se vertolkings is genuanseerd. Hollywood was egter baas. Opvallend dat Newman as regisseur optree vir The glass menagerie met sy werklike vrou en 'n jong John Malkovich.

 

En Blanche Dubois se jong lover was gay. Maar ook dit is in die Elia Kazan-weergawe van A streetcar named desire liggies hanteer.

 

 

II

 

Newman tree dan later sterk na vore in die Coen-broers (uitgespreek Cohen) se hilariese send-up The Hudsucker Proxy van 1994, wat  'n kultusfilm geword het. Dalk lê die antwoord in Playing the game: the Homosexual Novel in America van Roger Austen (1935-1984). Ofskoon Austen se studie in 1977 verskyn het, bly dit steeds relevant vir die belangrike sosiale analises wat gemaak word.

 

Hierdie studie is indertyd aanbeveel deur Hennie Aucamp. Nie alleen was Aucamp 'n verstommende kortverhaalskrywer nie, maar eweneens teoretikus van gay-sensibiliteite. Johann de Lange se keuse uit sy verhale Die laaste wals (2017) gee 'n belangrike verslag van die die ontwikkeling van die gay-sensibiliteit binne die Afrikaanse kortverhaal; later verder ontwikkel deur Koos Prinsloo en De Lange self, o.a.

 

Waar ons by Williams repressie en skuld ervaar, is daar by Aucamp 'n vreeslose óópskryf van gay-wees, uiteraard verder geneem deur jonger skrywers.

 

 

III

 

Austen wys op Williams se invloed op die romankuns. Hy wys op Williams se invloed op City of night en Williams "whose rhythmic qualities of distracted digressions and breathless exclamations are echoed in some of the gay characters' speeches" (Austen: 1977, 206).

 

Dit is daardie versoening tussen digter en dramaturg wat Williams se tekste so besonders maak.

 

Dieselfde geld Aucamp se tekste. "Vir vier stemme" [1] (oorspronklik uit Volmink van 1986) smeek om 'n verhoog- of filmteks.


Die verhaal verskyn ook in Wisselstroomdie eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

 

 

IV

 

Die mores van die tyd het Williams ingeperk. Maar die briljante Pedro Almodóvar haal Williams letterlik uit die kas met sy weergawe van A streetcar named desire in Albout my mother.

 

 

Endnoot:

 

1. "Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

 

Die verhaal het vier onderskrifte:

 

'n Grap is 'n grap;

Aan alles moet 'n einde kom;

En hadde de liefde I;

En hadde de liefde II.

 

Volgens 'n persoonlike mededeling aan my, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

 

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

 

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n geboortevlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word dit aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word, kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

 

Hambidge, Joan: 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: 'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerkUniversiteit van Kaapstad, PhD (71 - 78).

 

© Joan Hambidge

 

Wednesday, January 27, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel VI) | 2021

Deel VI

Portret, Tennessee Williams, deur Jared French

I

 

Die vroue van Tennessee Williams is vroue in eie reg. Sterk en eerlik beskryf.

 

By Williams is daar geen misogonisme te bespeur nie. In 'n vorige inskrywing is daar uitgewys dat dit onmoontlik is om 'n onbevange of "skoon" lesing van 'n film te maak. Akteurs beweeg van verskillende films en weens sosiale media (onderhoude) word 'n rol bepaal deur buite-inligting.

 

In die film-kommentaar op Dr Zhivago, David Lean se briljante epiese film van 1965 (gebaseer op Boris Pasternak se roman), maak Rod Steiger as Komarovsky die volgende belangrike stelling in die dokumentêr, wat as 'n ekstra te siene is: toneelspel is soos terapie. Hy verwys ook na Freud en wáárom Lara nie kan wegkom van hierdie man, haar moeder se minnaar, wat haar emosioneel en seksueel verrinneweer het nie. Steiger wys egter daarop dat hy haar ook lewenswaarhede leer: bly weg van die naïewe, emosionele Pasha.

 

As dit van toneelspel gesê kan word, is dit waarskynlik tersaaklik vir die dramas van Tennessee Williams. Hy keer telkens terug - in verskillende gedaantes - na sy ouerhuis met 'n afwesige vader, 'n manipulerende moeder én geknakte suster.

 

In The glass menagerie (1944) kyk Tom terug na sy Freudiaanse familieromanse net soos Williams telkemale in al sy dramas iewers blyke gee van hierdie disfunksionele ruimte wat hom gemaak het as skrywer, maar verwond het as mensBattle of angels (1940) is 'n titel van een drama, en Something Cloudy, Something Clear (1981) is 'n memorie-stuk oor sy herinneringe aan die veertigerjare.



II

 

My mentor, wyle professor HJ Snyman, skrywer van Mirakel en muse, het by herhaling opgemerk dat Williams, nie Arthur Miller of Eugene O'Neill nie, die grootste dramaturg uit die Amerikaanse tydvak is.

 

Destyds kon ek dit nie begryp nie, maar met elke herbesoek - soos die jare aanstap - van Williams is Long day's journey into night  (O'Neill) en Death of a salesman (Miller) uitstekende dramas - maar die werklike meervlakkige insig in die menslike psige teen die agtergrond van die politieke en sosiale werklikheid, kon Williams met een sin ontsluit. Hierom is elke woord belangrik. As die gehoor lag en die dialoog versmoor, herhaal jy dit, want dit is 'n belangrike opmerking wat later gaan reverbereer in 'n slot of aksie. Aldus Christian Slater in gesprek met Jessica Lange en Natasha Richardson oor Williams (Interpreting Tennessee Williams (Working In The Theatre #331) - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).



III

 

Williams se karakters is mense. Ambivalent soos Lara wat aangetrokke voel tot haar ouer minnaar en hom wil doodskiet en later teenoor Zhivago bely sy wens sy het hom nooit ontmoet nie.

 

Daar bestaan terloops 'n weergawe van A streetcar named desire (1951) waar Blanche wegloop met Stanley. 'n Moontlikheid ja, want sy voel aangetrokke tot hierdie laerklas brutale man wat haar uiteindelik verkrag.

 

Williams kon egter nooit 'n werklik openlike gay karakter skep in sy dramas nie.


Wel is daar toespelings op lesbiese vrouens: Night of the iguana (1961) waar die onderwyseres kennelik 'n oog het op die jonger meisie vir wie sy oppasser speel.

 

In 1979 word Williams vereer in die American Theater Hall of Fame. En vandag nog word hy opgevoer in veral Londen en New York.

 

Spieëls loop regdeur al die films, en die invloed van Williams op die Coen-broers se Barton Fink(1991) is onmiskenbaar daar. Die twyfelende skrywer wat New York verlaat en in Hollywood beland, en die soektog na die ware suidelike skrywer.


© Joan Hambidge


 

Friday, January 22, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel V) | 2021

Deel V

 

I

 

The glass menagerie met Katherine Hepburn is 'n kragtoer. Teenoor Sam Waterston as Tom, Joanna Miles as Laura en Jim word gespeel deur Michael Moriarty met Anthony Harvey as regisseur. Al vier hierdie spelers is genomineer vir Emmy's, maar die wenners was Miles en Moriarty.

 

Dit is egter ensemble-spel uit die boonste rakke. Elke akteur is ragfyn verbind aan die ander. Die moeder wat dink haar dogter sal geluk vind as sy trou, ofskoon sy self in 'n ongelukkige huwelik vasgevang was. En Tom is die dromer en digter, wat wil ontvlug. Enersyds voel hy skuldig oor die lot van sy suster, die brose Laura; andersyds wil hy sy eie lewe lei buite die verstikkende opset van sy dominerende ma wat hom steeds kritiseer oor sy tafelmaniere en hoe hy sit wanneer hy skryf.

 

Tom kan nooit ontsnap nie. Hy is, soos sy suster Laura, geskend deur sy moeder en in sy weergawe van sy familie-verbintenisse beklemtoon dit. 

 

 

II

 

The Roman spring of Mrs Stone is 'n Britse film gebaseer (1961) op Williams se novelle met die gelyknamige titel. Vivien Leigh teenoor Warren Beatty met Lotte Lenya as die manipulerende vrou in José Quintero se film is vintage-Tennessee Williams. 'n Middeljarige Amerikaanse aktrise (Vivien Leigh) se ryk man sterf op hul vlug na Rome. Sy besef dat sy uitgebrand is aktrise en sien hierdie reis as 'n ontvlugting.

 

Haar laaste rol as Rosalind in As you like it was 'n klaaglike mislukking, omdat sy te oud is om die rol te vertolk.

 

In die dokumentêr, wat die film begelei, word die hele aspek van kuns-wat-lewe-versus lewe-wat-kuns-naboots behandel. Vivien Leigh beleef 'n pynlike egskeiding van haar werklike man, Lawrence Olivier en Warren Beatty, die gigolo, was toe 'n sukkelende akteur.

 

In 'n konfrontasie tussen Contessa Magda Terribili-Gonzales (Lotte Lenya) wys Mrs. Stone (Leigh) haar tereg daarop dat Amerikaners nie so sentimenteel is as wat hulle in films uitgebeeld word nie.

 

Die Contessa is 'n emosieswendelaar en gebruik Paulo (Beattie) vir haar eie doeleindes. Laat Paulo dink dat Mrs Stone nie haar eensaamheid kan hanteer nie en sý, op haar beurt, glo dat hy haar werklik liefhet. Dit is egter 'n verhouding van mishandeling waarin Paulo vir haar sê dat jy net iemand seermaak wat jy liefhet.

 

Die film ondersoek die impak van roem op 'n mens se lewe. Mrs Stone dra 'n sonbril, die paparazzi agtervolg haar en neem foto's van haar in 'n nagklub met die jong gigolo wat ook ambisies het om akteur te word, nes die manlike karakter in Sweet bird of youth.

 

Hoe die verveelde rykes mekaar beskinder en alles van mekaar weet, is 'n verdere tema in die film. Meg, 'n politieke joernalis uit New York,  maan haar vriendin om Rome te verlaat. 

 

Paulo probeer haar intimideer met 'n verhaal oor 'n ryk vrou wat vermoor is op die Franse Rivieradeur 'n optelman. Hierop reageer sy met die volgende woorde:

 

“All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience.”

 

Sy luister nie, gooi haar sleutel na 'n onbekende man op straat nadat Paulo haar verlaat het en die kyker vermoed 'n tragiese einde. Of dalk nie. Miskien word hy haar versorger.

 

Dis 'n oop slot met die kamera wat alles uitdoof en jy as kyker moet self besluit.

 

 

III

 

Die film werk met die motief van swaels wat aankom en wanneer die winter aanbreek, weer vertrek. Paulo meen ons is almal "drifters", nomades, soos die sterre ...

 

Mrs Jones skop 'n voëlhok om in 'n agterstraat waar sy haar sonbril verloor. 'n Duidelike waarskuwing van wat gaan kom. Die Contessa betig Paulo dat hy besig is om nie vordering te maak met die verleidingspel nie waarvoor sy vergoeding vra.

 

"You are feathering your nest."

 

 'n Ander belangrike motief is Karen Stone se vuis waarop Paulo haar attent maak. Is sy bang om vrygewig te wees en haar oor te gee aan die lewe.

 

Paulo sonbaai en bely:"I don't like the cold sun." Met hierdie opmerking word sy hele sibaritiese lewensbeskouing opgesom.

 

 

IV

 

Ook hierdie film word deur kritici beskou as 'n representasie van Williams se eie eensaamheid en vrees vir kritiese mislukking.  

 

Is Mrs Stone eintlik maar Williams self, 'n gay-man, uitgelewer aan cruising en die manipulasie van jong narsiste? Ja en nee.

 

Uiteraard lees kritici sy komplekse lewe in wanneer films geanaliseer word. Tog is die vertolking van Vivien Leigh as Blanche en Mrs Jones 'n unieke vroulike vertolking van 'n vrou wat sélf in haar eie lewe op 'n afgrond gestaan het. Dit is bekend dat Leigh die rol van Blanche so goed kon vertolk weens haar eie stryd teen bipolariteit. En belangrik tog om (by nabaat) te weet dat sy die vervreemde, dobberende, eensame Mrs Stone só oortuigend kon vertolk, omdat sy in hierdie stadium besig was met 'n pynlike egskeiding van die groot akteur Lawrence Olivier.

 

Vivien Leigh het telkemale opgemerk dat die rol van Blanche haar lewe verander het.

 

https://www.harpersbazaar.com/celebrity/latest/a12809242/vivien-leigh-laurence-olivier-relationship/  Besoek 21 Januarie 2021

 

En Lotte Lenya is natuurlik Mevrou Kurt Weill en in From Russia with love speel sy die giftige agent wat die jong geheime agent moet oplei; met lesbiese ondertone. Uiteindelik word James Bond gered deur 'n vrou teen die giftige skopper, Rosa Kleb. Die James Bond is vervaardig in 1963 en teer duidelik op haar persona in hierdie film as 'n gewetenlose vrou en 'n akteur met 'n aksent. In 1956 het sy Mack the Knife met Louis Armstrong gesing.

 

Vir haar rol as die Contessa het sy die Golden Globe gewen as beste ondersteunende aktrise. Sy word eweneens beskryf as diseuse en hierdie Weens gebore aktrise kan jy nooit miskyk nie. 

 

Dit is uiteraard onmoontlik om "skoon" lesing van Tennessee Williams te maak, omdat daar soveel interpretasies en sieninge is oor sy karakters en dramas. Maar selfs al weet jy niks van hom nie, bly elke film en dramateks belangrik.

 

En hoe Tennessee Williams vroue beskryf - bepaald met insig en simpatie - sal verder ontleed word.

 

In navolging van Stanley Fish se studie Is there a text in this class? mag 'n mens vra: is daar 'n film sonder 'n interteks of buiteteks?

 

 

© Joan Hambidge

 

Wednesday, January 20, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel IV) | 2021

Deel IV

 

I

 

The glass menagerie (1944) is die drama wat Tennessee Williams gevestig het as besondere en gevierde dramaturg. So begin Tom, die verteller, se monoloog:

 

"Yes, I have tricks in my pocket, I have things up my sleeve. But I am the opposite of a stage magician. He gives you an illusion that has the appearance of truth. I give you truth in the pleasant disguise of illusion."

 

'n Broer, 'n suster, 'n ma - en 'n afwesige vader. En 'n "gentleman caller". In St. Louis in die 1930's.

 

Dit word tipeer as 'n "memory play" - Tom vertel die storie vir die gehoor soos wat dit gebeur het.

 

Laura, die suster, loop mank en is sielkundig versteurd. Sy het haar van die buite-lewe geïsoleer en haar versameling glasfiguurtjies aktiveer die titel. Die moeder, Amanda Wingfield, is wrewelig oor die opset waarin sy die kinders moet versorg, omdat die vader hulle versaak het. Ons sien hom nooit nie; maar in sy afwesigheid is hy sterk aanwesig.

 

Tom werk in 'n skoenfabriek en voel verantwoordelik vir sy familie, dog is terselfdertyd onrustig omdat hy nie kan ontsnap nie. Hy gaan dikwels fliek toe om te probeer wegkom weens die verdrukkende omstandighede tuis. Hy aspireer om digter te word, maar sukkel om te skryf.

 

Die vader, Mr. Winfield, werk vir 'n telefoonmaatskappy en in die gevleuelde woorde "fell in love with long-distance".

 

Dan is daar Jim O'Connor, 'n eens suksesvolle atleet en akteur tydens hul skooljare aan Soldan High. Hy werk by dieselfde fabriek as Tom en hoop om sy indertydse sukses weer te herwin.

 

Alles word vertel vanuit Tom se herinnering en is dus sý perspektief, word die gehoor telkens gemaan.

 

Die dramatiese oomblik is  die besoek van die "gentleman caller", Jim, wat deur Tom genooi word. Laura berei 'n ete voor en wanneer Jim opdaag, is sy eers in die kamer, omdat sy vreesbevange is. Sy en Jim is aanvanklik na ete alleen. Hulle dans en hy breek per ongeluk 'n glas-eenhoring (unicorn). Daar is nie ligte nie, omdat Tom nie die rekening betaal het nie;  'n vooruitwysing dat hy sy familie gaan verlaat.

 

Wanneer Laura ontdek dat Jim verloof is, raak sy woedend vir Tom. Tom dink egter - soos die gehoor - dat Jim dit versin het, omdat hy besef het wat in die mou gevoer word.

 

Die drama eindig wanneer Tom vertrek met die bekende woorde:

 

Blow out your candles, Laura ...

 

 

II

 

Sally Field, Jessica Lange, Amanda Plummer, Natasha Richarsdson ... en ja, Katherine Hepburn en selfs Joanne Woodward het al uitstaande vertolkings gegee van hierdie tydlose drama. In 2017 is dit op Westend opgevoer.

 

Die drama speel in op Williams se jeugjare en sy deernis met sy geskonde suster en 'n lobotomie wat op haar gedoen is tydens sy afwesigheid. Vir sommige kritici is Rose (Laura) dalk Williams self, maar in hierdie drama kan 'n mens die spanninge inlees van 'n kreatiewe persoon wat sy jeuglike omstandighede met skuldgevoelens versaak het. Regdeur sy lewe het hy sy suster finansieel en emosioneel ondersteun.

 

In Suddenly, last summer wys hy hoe families lobotomies misbruik het uit selfsug.

 

Uiteraard werk alle skrywers met 'n outobiografiese impuls, maar min skrywers kon sy persoonlike drama só manjifiek telkemale her-besoek soos Williams.

 

Hier is 'n 1987-produksie met John Malkovich en Joanne Woordward. Met Paul Newman as die regisseur in 'n besondere weergawe (The Glass Menagerie | 1987 | John Molvokovich. Besoek 18 Januarie 2021).


In die komende dae gaan ek na Katherine Hepburn se vertolking kyk teenoor Sam Waterston as Tom. Joanna Miles is Laura en Jim word gespeel deur Michael Moriarty met Anthony Harvey as regisseur. Al vier akteurs in hierdie 1973-produksie is vir Emmy's genomineer met Miles en Moriarty as wenners. 

 

 

III 

 

Williams se lewe en drama het hierdie kreatiewe reaksie tot gevolg:

 

Blow out your candles, Laura

 

In die Hotel Elysée, speels verander

na die Hotel-Easy-Lay, tob jy

 

oor jou lewe: jou suster, Rose veral

tot die dood toe beskerm toe ander

 

haar uitlag oor onsigbare krankemente;

jou moeder dominerend en jou pa

 

'n nurkse bliksem wat jou nie kon verduur

oor jou dromende en brose aard.

 

Die waarheid toegedraai in draag-

like illusies, skryf jy veel-veel later.

 

Vriende versaak jou toe sukses kantel

en die papier in jou tikmasjien vashaak.

 

Blanche of Laura? Na wié het jy geroep

toe jy verstik het aan 'n bottel se prop?

 

Of moes jy swaar sluk aan jou eie dictum:

die goedertierenheid van vreemdes?

 

 

© Joan Hambidge

Saturday, January 16, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel III) | 2021

Deel III

 

I

 

In 'n dokumentêr oor die lewe van Tennessee Williams wat heet Wounded genius kry die kyker 'n binneblik op hierdie komplekse man (Besoek 14 Januarie 2021).

 

Die moeilike jeugjare met 'n afwesige en nydige vader en dominerende moeder word beskou. En hoe die geestesongesteldheid van sy suster Rose in The glass menagerie (1944) die onderwerp van die drama is. Sy hele lewe lank vrees hy sélf kranksinnigheid.

 

Maar die grootste ellende was waarskynlikheid dat hy as besonder jong dramaturg op ouderdom 33 die aandag trek en in die spervuur beland van kritici wat elke keer nog 'n hoogtepunt verwag. Dwelm- en alkoholverslawing eis die tol en hy sterf waarskynlik aan verstikking. 'n Medisynebotteltjie het in sy keel vasgesit, ofskoon sy broer glo dat hy vermoor is.

 

Williams is 'n skrywer uit die suide van Amerika en saam met Eugene O'Neill en Arthur Miller word hy beskou as die grootste dramaturg van die twintigste eeu.

 

Gebore as Thomas Lanier Williams III (Maart 26, 1911 – Februarie 25, 1983), maar later verander hy sy naam  na Tennessee om die suidelike invloed te erken.

 

Hy skryf ook elke dag op sy tikmasjien en ten spyte van 'n liefdesverhouding wat hom aanvanklik in beheer hou, speel die traumatiese jeug en bestaan van onsekerheid in op sy psigiese welstand. St. Louis, Missouri word 'n onbestendige tuiste waar sy vader werk by 'n skoenfabriek. Die vader, 'n alkoholis, is negatief oor sy seun wat volgens hom nie manklik genoeg is nie. Boonop ly hy aan difteria wat hom vir meer as 'n jaar huisgebonde hou.

 

Hy studeer aan die Universiteite van Missouri in die Joernalistiek, maar eindig sy studies weens verveling. Daar word ook beweer dat sy vader sy studies beeïndig het en hom gedwing het om in 'n skoenfabriek te gaan werk. Sy brose suster en sy lewe as 'n werker in 'n fabriek vind neerslag in sy dramas.

 

Williams skryf ook gedigte en essays en was werksaam as teksskrywer in die filmbedryf vir Metro-Goldwyn-Mayer wat hom skielik ryk maak.

 

Hierna vertrek hy New York toe waar sy dramas sukses behaal op Broadway en tussen 1948 en 1959 is daar sewe van sy dramas te siene. Teen 1959 het hy twee Pulitzer-pryse verower; 3 New YorkDrama Critics' Circle-toekennings; 3 Donaldson-toekennings en 'n Tony.

 

II

 

John Lahr se biografie oor Williams Mad pilgrimage of the flesh (Bloomsbury, 2014) wys daarop dat hy cruising gebruik het om te ontsnap van die benepe wêreld van sy jeug. Hy was ook 'n histeriese persoonlikheid wat in 'n soort “Faustian bargain” met homself geleef het. Skryf (en later verslawing) word dan 'n spel met die spel.

 

“There was a theatre in himself”, meen Lahr. Alles wat hy as kind beleef het, sou hy later uitspeel in sy tekste.

 

As mens was sy verhoudings ingewikkeld. Lahr beskryf hom as 'n emosionele terroris wat sy kreatiwiteit voorop gestel het (Theater Talk/ Tennessee Williams/ Mad Pilgrimage of The Flesh - Bing video. Besoek 14 Januarie 2021).

 

Sy tekste handel oor eensaamheid, verlies ten spyte van mense wat om jou mag bestaan.

 

“Happiness”, het Williams glo op 'n keer gesê, “is insensitivity.”

 

Sy tekste het 'n bepaalde ritme, omdat hy ook digter was. Die kyker besef dit is net 'n bedrewe digter wat só 'n ou digter kan voorstel in The night of the iguana.

 

En in 'n onderhoud met akteurs wat sy karakters al vertolk het, wys Jessica Lang op die musikaliteit van sy dialoog.

 

Jy moet elke woord reg verstaan. Elke punt, komma beteken iets. En Mevrou Sam Shepard verduidelik hoe dit verskil van 'n Shepard-drama (Interpreting Tennessee Williams (Working In The Theatre #331) - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).

 

James Grissom is eweneens relevant oor Williams en praat oor sy boek Follies of God: TennesseeWilliams and the women of the fog (Penguin, 2016) en hoe hy Williams ervaar het.

 

Die speelse verwysings en die vroue wat hy al vanaf sy jeug in drome gesien het, word bespreek in hierdie onderhoud.

 

Veral Williams se neuroses aan die einde toe hy nie meer kon skep nie, word bespreek. Ook goeie vriende het hom begin vermy weens sy gekerm oor sy onvermoë om te skryf (Theater Talk/ James Grissom on Tennessee Williams - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).


Hoe het Williams nou weer opgemerk teenoor Tom in The glass menagerie?

 

“I give you truth in the pleasant disguise of illusion.”

 

Elke oggend het hy 'n wit papier in sy tikmasjien as “pale judgment” gesien.

 

En hier is 'n paar wonderlike juwele van Tennessee Williams:

  

”If I got rid of my demons, I’d lose my angels.” 

 

*

 

“Nobody sees anybody truly but all through the flaws of their own egos. That is the way we all see... each other in life. Vanity, fear, desire, competition – all such distortions within our own egos – condition our vision of those in relation to us. Add to those distortions to our own egos the corresponding distortions in the egos of others, and you see how cloudy the glass must become through which we look at each other. That's how it is in all living relationships except when there is that rare case of two people who love intensely enough to burn through all those layers of opacity and see each other's naked hearts.” 

 

*

 

“I don't want realism. I want magic! Yes, yes, magic! I try to give that to people. I misrepresent things to them. I don't tell the truth, I tell what ought to be the truth. And if that's sinful, then let me be damned for it!” (uit: A streetcar named desire) (Tennessee Williams Quotes (Author of A Streetcar Named Desire. Besoek 16 Januarie 2021)


Die komplekse verhouding tussen lewe en dramatekste sal verder ondersoek word.

 

 

© Joan Hambidge

 

Monday, January 11, 2021

Profiel | Tennessee Williams (Deel II) | 2021

Deel II

I

 

In die kort dokumentêr aan die einde van Sweet bird of youth (1964), Richard Brooks se uiters suksesvolle film, word die kyker daarop attent gemaak dat Paul Newman met hierdie film sy kompetisie met Brando kon afskud. Hier kom hy tot sy reg as die emosieswendelaar met drome om 'n Hollywood-ster te word. 

 

Al die karakters verteenwoordig aspekte van Tennessee Williams se karakter: die versugting na roem en veral die vrees vir mislukking, meen 'n kritikus. (Die youtube-onderhoude het hierdie kyker eers na die films gekyk. Williams ondermyn sy posisie as uitstaande dramaturg met teatrale opmerkings. Dalk maar senuwees ...)

 

Wat wel tersaaklik is vir ons is dat die teaterproduksie gesensureer is in die film: die kastrasie in die slot word bloot 'n neus wat gebreek word. (Ofskoon die kyker dit simbolies kan vertolk) en die aborsie-toneel word in die teaterproduksie duideliker uitgespeel. Dus twee "reggemaakte diere", soos wat Boss Finley waarsku, verlaat die dorp en vind geluk. Die film is skitterproduksie met veral Geraldine Page as die histrioniese aktrise, Alexandra Del Lago en Heavenly (vertolk deur Shirley Knight) kom in opstand teen die vaderfiguur, die brutale en ambisieuse Tom Boss Finley, wat almal probeer beheer. Die jong lover, Chance Wayne (Paul Newman), kry 'n kaartjie uit die dorp en die dogter word op 'n Europese reis gestuur.

 

Later gebruik hy sy seun om Alexandra Del Lago te intimideer om die hotel te verlaat, omdat hy weet sy is daar saam met Chance.

 

 

II

 

Die film gee 'n siniese interpretasie van Hollywood en kitsroem wat ooreenstem met poitieke oppurtunisme. Die film verwys na die begin van die Koreaanse oorlog en Truman se optrede. Nou onlangs het ek weer The killing fields gesien ...

 

"Vandag is jy 'n niemand; more is jy 'n iemand. Dink groot", blaf Boss Finley. 

 

Sy minnares, Miss Lucy, word aangerand wanneer sy hom beswadder as 'n swak minnaar. Haar vinger word toegeklap in 'n duur paaseier. Sy noem hom Daddy-Doll.

 

"I like you. You are a nice monster", bely Chance sy "liefde" aan Alexandra. Verhoudings word gebruik om iewers te kom of te manipuleer en werklike liefde is verloeder deur generiese siekte. Verder manipuleer Chance die ouer aktrise. Hy pers haar selfs af met 'n bandopnemer waarin sy haar verslawing aan dwelms bely.

 

Hollywood - wat gesien word as iets waarna jy behoort te streef as akteur - is eweneens 'n skynwêreld; sinies beskryf as Successville.

 

Jy het geen plek om af te tree as ou aktrise nie, meen Alexandra. Almal vergeet van jou en jou voorland is om ander op te lei of skinderkolomme te bedryf.

 

Later beskryf Heavenly Hollywood as 'n "phony dream" en 'n "wooden horse" op 'n mallemeule.

 

 

III

 

Hier is eweneens spieëls aanwesig. Die kamera is die grootste een van almal en die close up is jou vyand. Chance dwing Alexandra om te sien hoe oud sy is deur in die spieël te kyk.

 

 

IV

 

Die dialoog is puik.

 

"You are having a wake, not a ball."

"I am not part of your luggage."

"Each of us have our own private hell to go to."

"You are a floppola."

"Failure is a highly contagious disease."

 

 

V

 

Die politiek, Hollywood en die kerk word gebruik as magsbasisse waarteen die karakters hul behoeftes, begeertes en verydelde drome uitspeel. Chance neem blomme vir sy afgestorwe moeder reg voor die kerk. En by die paasdiens ontdek Chance die volle waarheid oor sy geliefde en wat hy haar aangedoen het. Nie toevallig nie meegedeel deur die naam-van-die-vader, Boss Finley.  Hy moet uiteindelik die gevolge dra vir sy dogter se onvrugbaarheid en die omkopery van die dokter, ene Scudder aan wie hy ook sy dogter wil afsmeer.

 

Die aktrise word egter opgebel. Ten spyte van haar onsekerheid en paranoia meen haar agent die film is puik en sy word teruggelok Hollywood toe. Met Lucy aan haar sy wat deel was van die kampanje om haar eks-mnnaar, Boss Finley as 'n verneuker aan die kaak te stel. Hy staar vervolging in die gesig.

 

'n Samespel tussen die verbeelde, simboliese en Reële ordes. Lacan het by geleentheid geskryf:

 

"Die opgestelde misterie van die Heilige Drie-Eenheid gee 'n beeld van wat in ons bestaan; dit illustreer ten beste paranoïese kennis ..." (Turkle, 236).

 

En veral die ou aktrise is erg paranoïes - háár kerk is Hollywood waar sy aanbid en gestraf word en telkemale weer terugkeer vir vergifnis.

 

 

VI

 

"Mense skram weg van die waarheid," bely Tennessee Williams in 'n onderhoud. In sy films ontmasker hy leuens, illusies en waansin. En soos Chance bely, staan hy altyd buite aanvaarding. Die name is eweneens belangike kodes: Chance, Heavenly, Boss Finley, Miss Lucy , dr Scudder ...

 

Die titel is ironies. Sweet bird of youth en hoe jeug (en aanloklikheid) soos sukses. Vervlietend. Tydelik. En iets wat jy net begryp wanneer dit verlore is.

 

 

© Joan Hambidge

  

Bronne:

 

  https://www.youtube.com/watch?v=FScWlr5qZUY Besoek 10 Januarie 2020

 

  https://www.youtube.com/watch?v=oXhvmBE-2jI    Besoek 10 Januarie 2020

 

Turkle, Sherry. 1978. Psychoanalytic politics. Freud's French revolution. Londen: Burnett Books.