Showing posts with label Marius Crous. Show all posts
Showing posts with label Marius Crous. Show all posts

Wednesday, April 1, 2020

Resensie | Marius Crous - Tussenganger (2020)

Marius Crous - Tussenganger. Protea Boekhuis, 2020. ISBN 978-1-4853-1088-4

Resensent: Joan Hambidge

In begeleidende motto word C.A. Conrad aangehaal: Poetry is a blueprint of who we are at the time of writing it.

Die digkuns as bloudruk en afdruk word op verskillende maniere in hierdie bundel ondersoek. Hoe verwoord die digter die dood? Hoe neem 'n mens afskeid van 'n moeder of 'n geliefde? Hoe kan die woordelose taal van die musiek opgevang word in woorde? En kan gedigte troos? Hoe beskryf 'n mens grensoorskrydende betredings? 

Crous se bundels besoek - soos in die digkuns van Johann de Lange - die gevaarlike ruimtes van die manlike of queer-identiteit. Die kompromislose ondersoek van die ruimtes van die abjekte en cruising; die dood wat loer om elke draai, hetsy fisies of deur siekte is waaroor hierdie bundel handel, onder andere.

'n Tussenganger is 'n bemiddelaar, 'n middelman; dit aktiveer ook die woord tussenspraak. En die gedig speel immers in op die bekende idiome en woorde en draai dit metafories op sy kop. Hierom heet 'n bundel vol draadwerk: om ingewikkeld te wees, maar ook skérp verweef.

Hierdie bundel tree in gesprek met Marlene van Niekerk se Kaar wat woorde ontgin en Johann de Lange se Stil punt van die aarde.  Crous is egter 'n eiesoortige tussenganger en buikspreker.

Hierdie bundel neem 'n mens terug na Umberto Eco se Faith in fakes (Secker & Warburg, 1986) en hoe tradisies van die Middeleeue tot nou verander het. Eco wys op die aspek van "living textuality" en sinkretisme. 

Daar word gekyk na klassieke mitologie, Die Iliad, moderne mites en dis 'n meedoënlose ontginning van eensaamheid. Hekabe word aan die woord gestel soos Helena van Troje ("In drie weeklae vir Hektor").

Daar is verskillende registers in hierdie bundel. Ernstig en parodies. Pynlik en afwysend. Selfs Jimi Hendrix is hier.

In die lykdig vir Wisława Szymborska, die Poolse Nobelpryswenner, praat hy van haar tannie-perm en lornjet. En dan gaan die gedig oor in verdriet in sy smartlap:

die dood maak van almal digtendes 
broers en susters in die rym:
gaan jy my stem herken as ons mekaar 
raakloop in die hiernamaals
gaan jy my hand vashou
die tyd sal leer die tyd sal jou op jou knieë dwing
jou hart breek my hart breek (117)

Daar is eindelose humor in hierdie bundel. Soos die beelddig (amper 'n dansende villanelle) oor Jeff Koons:

“Koons really does think he’s Michelangelo 
and is not shy to say so”

uitgestalde oopgevlekte pornosmet
varkpienk geslagsgleuwe 
pastelpenis geskeurde kousband
kommin soos fake gras
die messias vir die massas gevoed op kitsch (99)

In "Las Meninas" van Diego Vélasquez word 'n dwerg aan die woord gestel. Foucault en Wittgenstein het insigryk oor hierdie betowerende skildery geskryf:

ek is ’n dwerg
kruip weg vir my oë
in die spieël

skuil teen die skilder
wat kom esel opsit

sy puntskoene op die tapyt
die prinses se hakies
die hofdames se sis

in ’n hopie onder die sofa
tot die poeslekkertjies
my kom uitsnuffel

saam met houtperde
soldaatlose harnasse 
prinsesse en dwerge
op te stel voor sy blik

soos voor ’n spieël  (89)

Daar word gedig oor die spirituele en heiliges. Oor die prolifieke Rubert von Dreutz tot Piers Gaveston. Die reisskrywer oor die Polinisiese wêreld is hier, Charles Warren Stoddard (1843–1909). Koimisis tot Suid-Amerikaanse heiliges tot Anatta, die Pali-begrip vir non-self of substansieloosheid. Selfs die Noord-Koreaanse Juche of die idee dat jy die skepper van jou eie lot is, word hier ondersoek. Pelgrimsruimtes - soos Kushinagar - gee dan uiteraard iets konkreets aan hierdie soeke na sin.

Oos-wes-tuis-bes? Helaas nie.

#FMF kom aan bod en hoe die wit-manlike akademikus maar eerder moet stilbly, oorlewing ontwille. En hoe studente agentskap gekry het sonder genoegsame kennis, word skerp ondersoek in hierdie gedig. 'n Sentrale vers waarin die spanning tussen liggaamlikheid en denke ondersoek word is Marina Abramović oor die Serbiese perfomance-kunstenaar:

sny diep in jou middelvinger in met ’n mes eet jou pyn
spoeg in jou eie naeltjie 
luister na jou hond se hartklop
meng borsmelk vars sperm 
drink in die nag terwyl die aarde bewe (92)

Haar tattoes is letsels; 'n belangstelling in verwonding en abjeksie is bekend aan Crous se werk.

ORLAN, die kunstenaar wat werk met liggaammodifikasie en plastiese sjirurgie bewys weer eens hoe die portretverse oor kunstenaar terselfdertyd gelees kan word as ars poëtiese verse.

Die vers dus as parallellogram.

Hier is baie oorgange. Hartverskeurend mooi oor die dood van die moeder wat antarabhāva,chūu (中有) en die bardo aktiveer: die staat tussen dood en hergeboorte.

Nibiru-kataklisme, androïedes (soos Pris Stratton) vra uiteraard vrae oor fantasie én hoeveel gelowe en oortuigings nie dalk werk soos fiksie nie.

Tussenganger is nie 'n maklike bundel nie. Daar is baie verwysings na kunstenaars en musiek; na verre plekke en ruimtes. Na hoé verskillende kulture eiesoortig met identiteitspolitiek werk. Die abjekte en gebruik van plat woorde wil die idee van poësie as 'n skoonheidstroos bevraagteken.

Lykdigte, portretverse, spirituele gedigte, reisverse, kunsteoretiese analises, ekfrastiese verse; dit staan alles hier met 'n verwysing na Kenneth Goldsmith: hoe word taal in 'n digitale era bestuur of beheer?

Van Karl Jenkins tot die Vistula. Van die Piz Palü tot die Bardo Thödol. Van 'n boerebegrafnis tot Andromache se geweeklaag. Malochio (die evil eye) wat waarsku. Is die gedig dan uiteindelik 'n nazar?

'n Mens mis 'n parodiese vers oor Florence Foster Jenkins, die vrou met die aaklige stem wat dag sy kon sing so onder die kritiese verse oor vreemde kunstenaars.

Mĕsičku na nebi hlubokém: Anna Neterebko of Renée Fleming se vertolking? Vir my laasgenoemde, maar dis waarheen 'n gedig jou neem.

Dit tree in verset teen die jongste modegier dat poësie toeganklik moet wees. Daar is immers plek vir verskillende stylsoorte.

Tussenganger is 'n uitdagende bundel vir naspeur en nadink. Jy moet lees met 'n vergrootglas of lornjet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Wednesday, January 25, 2017

Woord wek woord en wederwoord

So elke sewe jaar tref daar ‘n plaag onse letterkunde soos ‘n pes. In die jongste een handel dit oor Tom Gouws se resensie van Indeks en H.P. van Coller se reaksie hierop. Hy meen dat Gouws dit nie mog resenseer het nie, aangesien daar ‘n satiriese gedig oor hom opgeneem is. Die gedig is geskryf nadat hy Matriks op die Versindaba “bespreek” het (Versindaba» Blog Archive » Resensie/ Matriks (Joan Hambidge). Besoek 24 Januarie 2017)

Sopas het Marius Crous gereageer op Media24 met ‘n meewarige repliek op hierdie debakel ('nSkalpel vir die vernislaag | Netwerk24. Besoek 24 Januarie 2017).

‘n Skalpel vir die vernislaag heet dit. Dis nou dieselfde Crous wat gemeen het Ena Jansen se boek moes die UJ-prys vir Kreatiewe Skryfwerk gekry het en dat Kaar die bundel is waaraan alle bundels voortaan gemeet sal word.

Nou is die rol van die resensent (wat ook skrywer is) ‘n ingewikkelde een. Mag vyande mekaar resenseer of nie? Mag vriende resenseer of nie?

Johann de Lange reageer op die man af op Crous onderaan sy skrywe soos volg:
Oor een ding stem ons saam: dat die Afrikaanse letterkunde 'n klein, bedompige ou wêreldjie is, & literêre geheime oksimorons. Maar juis dáárom moet ek die bona fides van 'n boekeredakteur wat nié weet op watter vasteland ons boer nie bevraagteken. Hoe kan hulle nie van alles weet nie, hulle is dikwels die spilpunte van waar skindernuus versprei word. Hulle is, after all, joernaliste in die eerste plek. En dis ook nie asof dit net by ons die toedrag van sake is nie, dit is wêreldwyd dieselfde. Trouens, hoe groter die letterkundes, hoe venyniger is die skaduwêreld ágter die blad: alliansies, vetes etc. En 'n boekeredakteur wat sy of haar sout werd is, behoort daarvan kennis te neem, & binne daardie beperkings te probeer toesien dat 'n boek 'n regverdige kans kry. Hoe kleiner 'n letterkunde, helaas, hoe moeiliker raak dit om soiets te vermag, want die poel van resensente krimp by die dag in een van die grootste literêre droogtes wat ons in 'n lang tyd beleef het. Ek is seker as Marius Crous se boek by een van sy aartsvyande sou beland het & baie onregverdig resenseer is, of afgeskeep is & sommer vir 'n in-house joernalis gegee is om te resenseer, sy begrip nie so wyd soos die Heer se genade sou gewees het nie.
As aktiewe resensent vir dagblaaie en die bekende Sondagkoerant Rapport met werk vir FineMusicradio, is dit onvermydelik om nié iewers op ‘n toon te trap nie. Ek probeer om my werk met integriteit te doen, al moes ek al uiterse beledigings verduur van ‘n digter (en resensent) wat by Die Volksblad ‘n ander resensie eis; my slegsê dat ek niks weet nie en boonop kreatiewe skryfwerk doseer; my onherhaalbaar beledig en vergelyk met ‘n onvermeldbare iemand …

Johann de Lange is korrek. Ons bedryf beleef ‘n erge droogte en die meeste kundiges weier om deel te neem.

Ons bedryf is klein. En as jy elke keer wanneer jy ‘n resensie skryf, jouself moet sensureer oor die of daai se reaksie en Facebook-groeperinge, kan jy maar eerder laat staan om te skryf. Jy gaan op iemand se toon trap. Die skrywer of uitgewer of koerantleser of wieookal.

Die volgende is vir my belangrik:


  Ek resenseer nie studente wat in my program is nie en versoek studente ook om mekaar eerder nié te resenseer nie, omdat dit kan lyk na rugkrappery.


  Ek probeer om elke skrywer in sy genre in te skat. Ek lees nie Deon Meyer asof hy Kafka is nie.


  Ek lewer altyd my kopie betyds met die woordbeperking vereis.


  Wanneer ek dink ‘n skrywer se bundel is nie goed nie, probeer ek dit motiveer soos met Multivers van Hennie Smith wat ek via Archibald Macleish probeer lees.


  Ek skei die skrywer van die boek. Ek is nie persoonlik gaande oor Deon Maas nie, maar sy satires in Melk die heilige koeie werk as satires.

Daar mag nooit geëis word dat vyande mekaar nie mag resenseer nie. ‘n persoonlike aanval is in elk geval ‘n boemerang en gee vir die digter aan die ontvangkant ‘n idee vir ‘n counter-blast soos Marjorie Boulton dit noem.

‘n Resensent met ‘n resep (mooi broodjies word gebak en dan die venynige aanval of ideologiese lading wat op die bundel afgedruk word van buite af, soos die digter se religieuse houding of liefde vir katte) verswak net die resensie.

Dit is beter om op die temas van ‘n bundel te let en die struktuur van die roman as ‘n blote romanopsomming.

As daar geen kritiese en eerlike reaksie was nie, hoe sou ons dan ‘n literatuurgeskiedenis of ‘n Perspektief en Profiel kon skryf?

Tyd wys altyd dwalinge uit. 

Ek plaas altyd onder my resensies dat ek kreatiewe skryfwerk doseer. Ek is self digter en romanskrywer. My smaak en voorkeure is in die resensie gemotiveer.

As ek verskil van ‘n resensent of kollega soos byvoorbeeld met ‘n oorskatting van ‘n debuut (Boekresensie/ Multivers deurHennie Smith | LitNet. Besoek 24 Januarie 2017) lees ek weer die bundel. As my oordeel verkeerd was, sal ek dit toegee.

Ek resenseer al sedert 1980. Dit hou my op my tone en dwing my om te weet wat in my letterkunde gepubliseer word en hoe ons vergelyk met die buitelandse bedryf.

Ek probeer ook om ‘n boek te plaas teen internasionale strominge.

Fokus op boeke, tendense – te veel mense in ons bedryf lees net resensies. 

Hopelik wil meer akademici resenseer?

‘n Skrywer reageer nie op ‘n resensie nie. Maar hoe nou gemaak as jy midde-in ‘n gesprek is?

© Joan Hambidge