Showing posts with label Resensie. Show all posts
Showing posts with label Resensie. Show all posts

Monday, November 25, 2024

Resensie | Eunice Basson – ’n Ander wêreld | Protea Boekhuis, 2024

Eunice Basson – ’n Ander wêreld, Protea Boekhuis 2024. ISBN: 978-1-4853-1580-3

Resensent: Joan Hambidge

 

Die digter as argivaris

 

I

Die digkuns, soos die skilderkuns skep, ‘n ander of verbeelde wêreld. Die kunstenaar in ’n gedig of skildery probeer iets vasvang van die wêreld van die jeug of dit wat eens was. ‘n Skildery en gedig laat jou anders kyk na die wêreld. Oscar Wilde het opgemerk in 1891 in The Decay of Lying:

 

“Sunsets are quite old-fashioned. They belong to the time when Turner was the last note in art. To admire them is a distinct sign of provincialism of temperament. Upon the other hand they go on.”

 

Eunice Basson, ook kunskenner, verwys in haar bundel na die “gearseerde vistas van ’n geleefde lewe”, oftewel die aanbring van min of meer parallelle lyne. 'n Tekentegniek wat gebruik word om sowel skakering as tekstuur te skep. Dit staan opgeteken in “Einder” vir John Clarke (1946–2021) op bladsy 28. Donker en skadu’s loop reg deur die bundel waar sy kyk na familie- en ander verbintenisse tussen mense en landskappe.

 

Die sirkelgang is opvallend in hierdie bundel se afdelings: landskap, stillewe, homo homini lupus est en botsels. Met bome wat mense altyd oorleef. (‘n Digbundel gee wel iets terug aan die boom, by wyse van skrywe.)

 

Die slotvers “Op slot” gee soveel sleutels vir die ontsluiting van hierdie bundel:

Hier leef sy al vir baie jare: 

 

’n sakwurm toegespin aan haar eie tak. (68)

 

Die binnewerking van klikkende slotte (en sleutels) en die verweer teenoor die bedreigings van buite. 

Hierdie bundel ondersoek die kruisings tussen mense: swerwers en dié wat boemel.

 

Motte, uile, geitjies, rotte is eweneens van die besoekers wat sy beskou. Motte lyk soos vlaggies wat aan die gordyne hang.

 

Preller se catalogue raisonné oor die Mapoggervroue gee haar besondere werkswyse weer. Van boek en herinnering tot gedig:

 

Menige skilder uit die stad is deur dié kantige

skouspel bekoor voor die natrek 

van ’n ander soort raam oor die ganse land 


(“Anderkant Wonderboompoort”, 25)

 

Dit word eweneens ‘n kunsbesinning.

 

II

Vir hierdie leser is die sterkste gedigte waar die familie in oënskou geneem word soos in die klein geskiedenis opgeteken in “Legkaart” (35) met verbleikte lanferlinte wat die dood van kinders na vore bring. Helaas eers wanneer sy gereed is om daaroor te praat op haar eie sterfbed. Die fokalisator in hierdie gedig maak die stemlose moeder dus stemhebbend. Ook die vader word lewe gegee wanneer sy plante natgooi en onthou dan die pa wat lood oor die roes soldeer in die gedig “Waterdraer” (36).

 

Dit word egter meer as ‘n gedig oor potplante natgooi. Die digter-as-spreker erken haar skatpligtigheid aan die vader vir die lewenswyshede uit sy hand ontvang.

 

Wie kyk? Wie praat? Verskillende stemme word saamgesnoer in die digterblik.

 

Die bundel werk dikwels met rituele en alchemistiese prosesse. “’n Ander wêreld” is ‘n sentrale vers: die moeder se vaas is nou die spreker s’n; nes die doepa-resepte wat die moeder gebruik het om die krismisrose te laat gedy. En die krismisrose blom veral in haar gedig waar toeka se tyd teen nou geplaas word. Só gelees is die verse nostalgies, maar nie sentimenteel nie. Die emosies is verwerk, maar dwingend. “Niemand meer om te vra nie” (38) wys op die verdriet van só ‘n terugkeer in die tyd: dit is vir altyd afgehandel en “lê al jare lank onder beton gekompakteer”; buite bereik van, met ook die digter as die argeoloog …

 

Die dood van ‘n broer word met intense deernis beskryf in “’n Ander soort dood” (43). Die swart enkelma en almal wat buite die orde van die aanvaarbare leef, kry in hierdie bundel ‘n stem.

 

In “Pentekening” word die Griekse digter George Seferis opgeroep danksy ‘n vertaling van Dian Joubert. ‘n Stuk ironie hier: hy was werksaam in Pretoria as diplomaat.

 

III

“Dulce et decorum est pro patria mori” speel in op Horatius en natuurlik Wilfred Owen se klassieke EWO 1 vers “Dulce et Decorum Est”, postuum gepubliseer in 1920. “It is sweet and fitting to die for one’s country.” Dit is ‘n anti-oorlog gedig en uiteraard verpak met ironie. 

 

So praat Basson met die klassieke vers:

 

“Dulce et decorum est pro patria mori”

Gedagtig aan die gedig van Wilfred Owen (1893–1918) 

Vir Piet Liebenberg (1961–1982)

 

Tuis het ’n generaal op ’n ou tafeltennisblad

’n slagveld in die kleine met kontoere en koppies 

van gips gebou en vir struikgewas droë seewier 

groen gekleur.

(…)  op bladsy 57

 

Daar is ook verwysings na Gazala in ‘n ander oorlog en al die oorloë wat ons tans beleef.

 

Plaasmoorde, verbranding en doodmaak vir moetie en die ellendes van ons tyd word ondersoek. Die wreedhede van oorlog word beskryf o.a. in “Die Anatomieles van dr Al-Tubaigy Gedagtig aan Jamal Khashoggi (1958–2018)” (60) met ironiese toespelings op Rembrandt se skildery uit 1632 wat heet The Anatomy Lesson of Dr. Nicolaes Tulp.

 

IV

Irvin D. Yalom, die Amerikaanse psigiater (indertyd verbonde aan Stanford) merk in Love’s Executioner and Other Tales Of Psychotherapy (1989) tereg op: “One of the great paradoxes of life is that self-awareness breeds anxiety”.

 

Lykdigte, portretverse, memorie verse, kunsbesinnings, politieke gedigte en feministiese perspektiewe vind ons hier. Homo homini lupus aktiveer die spreuk: Homo homini lupus est:

 

Die wreedheid van mens tot mens.

 

Hier word die angs, verdriet én melancholie netjies versteek in ‘n goed afgewerkte bundel wat die speurende leser sal bekoor.


Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot aan die UK. Haar bundel Asindeton verskyn in November by Protea.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Thursday, September 12, 2024

Resensie | Willemien du Preez – Plaas se prys | Protea, 2022

Willemien du Preez - Plaas se prys. Protea, 2022. ISBN 9781485313694, R320.00 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek het reeds in 2022 verskyn, maar sopas op my lessenaar beland. Te midde van soveel plaasromans geskryf deur mans, en ‘n mens dink nou onwilekeurig aan die Die Onsigbare van PJO Jonker wat by Tafelberg verskyn het, is Plaas se prys nie ‘n konvensionele roman nie. Eerder ‘n vroulike aanvulling as memoir.

 

Dii is dan ‘n soort dagboek van ‘n vrou wat die anderkant (donkerkant) van die idille beleef. Daardie ideale ruimte waarna gestreef word en gaan kyk maar na die sinonieme wat hierdie woord het:


• arkadies

• herderlik

• ideaal

• landelik

• ongerep

• onskuldig

• pastoraal

• poëties

• romanties

• rustig

• skilderagtig

• vredig

 

(Besoek 8 September 2024)

 

Die harde werklikheid tref die verteller en haar eggenoot, Liefie. Pas is die koopkontrak geteken of die ellende tref hulle. Van ‘n eiendomsagent wat hulle nie die volle waarheid vertel het nie tot stof wat oor alles draal. Werkers wat die huis moet renoveer (en allemintige kortpaaie neem) tot die dorp wat hulle as “inkommers” beskou.

 

Die leser sien alles voor die oog afspeel. Die werkers se swaar, droewige bestaan. Beskuldigings van diefstal uit die huis, wat ‘n vergissing blyk te wees tot werklike diefstal. Vriende wat onttrek en belangstelling verloor tot kinders wat raadop raak.

 

Die boek raak aan die ewige stryde in hierdie land: ras, klas en gender. En skuld.

 

Van gesondwees tot ‘n stent in die hart.

 

Die hele kwessie van die inkommer is tersaaklik, omdat inkommers altyd die bestaande orde versteur.

 

Of die gemeenskap wat reeds daar is, dwing om hul lewens weer te beskou weens die aanwesigheid van die nuwelinge.


Twee wêrelde beleef ons hier: dit wat hulle graag sou wou beleef en die harde werklikheid van ellendes. Werkers wat wil weet of hulle casual of permanent is. Die stof wat asma tot gevolg het en die hond wat koerantpapier met uitskot vreet. Liefie wat later uit sy gatsak boer en die verteller wat dink: Umsonst.

 

M.E.R. se waarnemings van Swellendam indertyd met die ryk grond wat groente en vrugte gebaar het, teenoor hierdie ruimte.  En arm mense kon eet en lewe in die indertydse Swellendam (141).

 

Ons lees oor dopluise en bolwurms. En blaaspootjie. Met die verhaal wat die verteller oorrompel (135). Deur alles neer- en op te skryf, besef sy hoe erg alles is.

 

Daar is verwysings na Monet en Colette, die Bybel en Halleluja-liedere. En Chess.

 

Van die sterkste beskrywings is oor die ellende soos wanneer die vloedwater hulle tref met ‘n dooie bees in die koringland (132).

 

Uitskotnartjies teenoor vrugte wat uitgevoer word. Die werkers wat leef met min, maar teenstand gelate aanvaar en van voor af begin.

 

Die begraafplaas wat eweneens klasseverskille aandui: nederige houtkruise met die name van die dooies met die hand geskryf. Hierteenoor ‘n Murano-glasbakkie op haar koffietafel.

 

Daar is verwysings na Mandela en politieke kommentaar. Ook daardie droom van heling en genesing en aanvaarding is tans net ‘n illusie, vér in die verskiet.

 

Ons is ons stories. Die stories wat ons vertel en die stories wat ander oor ons vertel. En hoe imkommers deel word van die gemeenskap se stories, word belig.

 

Blokkiesraaisels word ingevul. RSG en Die Burger is hier.

 

Dit lees vlot en is helder en eerlik vertel. Met ‘n motto van Sigrid Undset, veral bekend vir Kristin Lavransdatter. Undset (1882 – 1949), gebore in Denemarke, het grootgeword in Noorweë en is bekend as ‘n Noorweegse skrywer, het die Nobelprys vir letterkunde in 1928 verower. Die roman bekyk alles uit die perspektief van ‘n vrou in 3 volumes.  Sy moes ook vlug uit haar land na die VSA weens die Nazi-besetting.

 

So lui die motto:

Feelings of longing seemed to burst from her heart; they ran in all directions, like streams of blood, seeking out paths to all the places in the wide landscape where she had lived, to all her sons roaming through the world, to all her dead lying under the earth.

Die tydsaanduiding in hierdie teks maak hiervan ‘n joernaal of dagboek.

 

Dit is soos Lanie van Reenen se Net Mooi Fine (Penguin 2019) en C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het, ‘n memoir.

 

Die leser word in ‘n intieme vertelling ingenooi. Deur die oog van vroue met ‘n skerp waarnemingsvermoë. En sonder skroom die mes inlê.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

 

Tuesday, September 3, 2024

Resensie | PJO Jonker - Die Onsigbare | Tafelberg, 2024

PJO Jonker - Die Onsigbare. Tafelberg, 2024. ISBN: 9780624095422 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bewonderenswaardige én pakkende debuut van PJO Jonker heet Die Onsigbare. Dit tree in gesprek met die plaasroman wat ‘n lang tradisie in Afrikaans beleef het. Van Bart Nel deur J. van Melle in 1936 tot huidige skrywers wat die plaas as ‘n nuwe ruimte besoek. Eben Venter en S.J. Naudé onder meer.

 

Die spinkaanplaag aktiveer eweneens Die spinkaan beampte van Sluis deur Jochem van Bruggen in 1933.

 

Hierdie roman trek ‘n streep deur die idilliese plaasbestaan. Daar is geweld en troosteloosheid. Verraad. Aanvanklike begrip tussen boere en werkers wat later verloeder. Dit is die verhaal van ene Jada, spraakstramme, wat op die plaas woon: Erfdeel. Sy ouers is oorlede en die bruin Anys is sy bondgenoot. Deur haar kry hy ‘n blik op ‘n lewe wat met stryd gepaardgaan.

 

Die besoek aan die stad (ironies genoeg wanneer hy as boer van die jaar ‘n lesing moet lewer), keer sy bestaan ónderstebo wanneer hy slaags raak met ‘n meisie-van-die-nag, wat hy later probeer red. Sy soektog terug na die stad loop op niks goeds af nie. Sy motor word gesteel en hy staan in die beskuldigdebank.

 

‘n Mens hoor en ruik die stad en plaaslewe wat opklink soos in Totius se beroemde Trekkerswee (1916) waar die vader die dogter probeer terugvind. Die vele Bybelse verwysings laai die verhaal met simboliek. ‘n Bybelse verwysing na Jesaja 49:15 help die hoofkarakter soek na die verlore en geskonde vrou.

 

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, ek sal jou nie vergeet nie.

 

II

Die verteller laat ons die plaas sien én veral: beleef. Dit is kennelik geskryf deur iemand met ‘n eerstehandse ervaring van hoe ‘n plaas se werkinge daar uitsien.

 

Maar dis meer as ‘n plaasroman wat afspeel in die Karoo. Dit is geskryf en verpak met vele simbole (soos die wildekat en jakkalse). Die siellose bestaan van werkers geplaas teenoor die inkommer, ‘n jong dominee, deur die gemeenskap met agterdog bejeën teenoor ‘n bankbestuurder en die media wat jag maak op Jada. 

 

Dit is ‘n roman met vele Jungiaanse verwysings.

 

Jada Olivier, van die Karooplaas Erfdeel, maak die plaashek oop van sy onbewuste en word gekonfronteer met sy eie skadukant.

 

Die roman begin met Jada wat droom hy val en eindig met ‘n soort hallusinasie dat hy haar, die verlore vrou, weer sien. Die roman ondersoek verder stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die plaasmense in die Karoo dit noem. Maar dit word ‘n simbool van die onsigbare én die ewige soeke na metafisika; na dit wat sin maak. Hierom dan die vele Bybelse verwysings.

 

Daar is verskeie sleutels in die roman wat die leser daarop attent maak dat ons hier te make het met ‘n onbetroubare karakter, ‘n outsider; een wat sy houvas op die werklikheid verloor het. ‘n Liminale proses word weergegee: tussen die harde werklikheid en drome. Daar is ook politieke kommentaar (soos die stryd teen die kommunisme, die Kubane en sonde) teenoor die gebaande weë van treine en die soektog na sin en samehang. Die hoofkarakter self is bekommerd oor sy septiese siel en gee hom oor aan fantasieë en drome. Die nuwe dominee is ‘n teenspeler en is selfversekerd. Hierteenoor ervaar ons die bruinmense se sosiale ongeregtigheid wat tot uiting kom by hul kerkdienste. Drank en verkragting kom aan bod op sowel die plaas as in die stad.

 

Bossieplaas word aangekoop, danksy ‘n goeie wolinkomste en uit Duiwelskamp neem die hoofkarakter mense in diens. Hier ervaar die leser al die ellendes van ‘n uitsiglose bestaan. Hulle leef buitekant die dorp.

 

Boereverenigings en die Jongboer van die Jaar-kompetisie is verdere sosiale merkers.

 

Struise verander in huise en die Born Free Medicinal Herbs gee agentskap aan die werkers.


Rooikatte en jakkalse word simbole van bedreiging. En die jakkalse aktiveer die Bybel.

 

En dan: die werklike verandering of wending wanneer Jada die stad besoek en Lydia ontmoet. Met ‘n droom op bladsy 140, wat net onheil voorspel. Met verwysings later na Wolraad Woltemade en Petrus. Die simbole-netwerk word behendig en ragfyn hanteer. Anys versoek dat haar hemelloon nie weggevat moet word nie (185) en tussendeur is daar bekende liedere oor die Jesus-figuur:

 

Hou maar moed

As die duiwel woed

Daar’s krag in Jesus bloed

En die duiwel weet dit goed 

(184)

 

Daar is verwysings na die lydensweg en die kruisiging; na Abraham, na Habakuk én die bloedspoor van werklike jag en die bloedspoor van Jesus.

 

Tyd in die roman word eweneens goed gestruktureer. Anys dra nie ‘n horlosie nie, maar sy weet présies hoe laat dit is. 

 

Met elke herlees besef die leser dat die tyd van die onbewuste sy eie merkers het en telkemale na vore kom op tye wat verbind is aan traumatiese ervarings in die verlede.

 

Daar is weerverslae, lyste vir die veiling van die plaas wanneer Jada se skuld te groot raak. Sy onderhandelinge met die Sjinese was helaas ‘n bedrogspul. Die skrywer se vermoë om gedistansieerd en bykans digterlik te skryf, verdien vermelding.

 

Van die sterkste beskrywings in hierdie roman handel oor die “nomads van die nights” én die ellendes wat Jada in die stad meemaak: diefstal en aanklagte. En ‘n besoek aan ‘n lykshuis was vir hierdie leser ongelooflik ontstellend. 

 

Die glasstukkies op die teer is ‘n beeld van sy beheer wat weg is. Met die gemeenskap wat alles in die pers verneem en ‘n oordeel uitspreek.

 

Die waarheid sny soos ‘n slagmes twee kante toe, lees ons. Dieselfde geld hierdie roman: plaasroman, maar ook ‘n verslag van ‘n pynlike reis ín die self ín. 

 

Die reis na Hong Kong tot in Shenzen waar hy Zhang Yin hom sal ontmoet, word beeldend beskryf. (Dus word die boek ‘n soort reisroman ook.)

 

Ons sien gedeeltes uit ‘n dagboek (geskryf met ‘n potlood) teenoor ‘n kontrak geteken met ‘n Mont Blanc-pen. Dan helaas die harde werklikheid van die prokureur: die geld is nie inbetaal nie.

 

III

Ten slotte:

 

Vir hierdie leser is hierdie boek véral ‘n Jungiaanse peregrinasieroman met die individuasie van die hoofkarakter. (Jada in die Hebreeus beteken wys.)

 

“Hy plant die kiepersolwortel langs die veepos. In geloof. Vaste vertroue op dit wat ons hoop. Bewys van dinge wat ons nie sien nie.” (301)

 

Hierdie boek moet elke leser, wat in hierdie land woon en nadink oor grondbesit, erfreg en ongeregtigheid, beslis lees. Dis meesleurend en ontstellend.  Dalk ‘n siniese antwoord op Boer soek ‘n vrou?

 

Daar is een taaipou wat met die volgende uitgawe reggestel kan word: bie in plaas van baie (343).

 

Die nuwe stem bekoor. Dis vars. Dis nuut. Komplekse idees wat konkreet verbeeld word.


Met ‘n sterk hand geskryf.


PJO Jonker © Jaco Marais

Monday, September 2, 2024

Resensie | Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers) | Naledi, 2024



Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers), Naledi, 2024. Sagteband, 123 pp, R260. ISBN 978-1-991256-88-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Louise Cilliers se voortreflike vertaling van Ithaka in 2023 is wyd geloof. Hierdie werk van Konstantinos P. Kavafis heet Van Alexandrië na Ithaka.

 

Haar jongste vertaling is Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas (1859 – 1943). Palamas is tweekeer benoem vir die Nobelprys vir letterkunde. Palamas moes ook die ellende van die Duitse besetting van Griekeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hy is verder benoem as ‘n Griekse Nasionale digter. In sy werk vind ons verwysings na die geskiedenis, Hellenisme, en die ervarings van alledaagse mense.

 

Palamas is ‘n moderne Griekse digter wat dig oor die wedervaringe van die Sigeuners buite die mure van Konstantinopel vóór die val in 1453. ‘n Spreker word aan die woord gestel waarin die liriese, epiese en die visionêre aspekte één word.  Hier word die sogenaamde gypsies se lewens weergegee.

 

II

Hierdie leser is nie Grieks magtig nie, maar ek het na die Engelse vertalings gekyk om haar vertaalproses te probeer begryp.

 

Cilliers se vertalings wérk in Afrikaans. (‘n Swak vertaling kan jy soos ‘n home perm herken.)

“in die somber skemer van die sipresse” is daar alliterasie. Hierdie vertaler is uiters klankgevoelig.

 

Daar is vele juwele wat hierdie leser aangestip het:

die roosknop is ‘n orakel,

die sipresboom ‘n Sibille! (111)

 

*

 

Die son sak,

die son wat met skitterende baan elke kus belig het,

is aan die verdwyn.

Jy gaan onder, O son,

vir jou sal geen nuwe dag meer aanbreek nie. (91)

 

III

Daar is ook gedigte opgeneem van hedendaagse sigeuners in die addendum. Die gedigte van Raine Geoghegan is hartverskeurend oor die ellendes van hul bestaan. Wat inspeel op die bestaan van alle haweloses en migrante op aarde:

 

Ons sal tee of whisky drink, van die ou liedjies sing.

Die volgende dag word die wa en besittings verbrand.  (122)

 

Die onstabiliteit van taal (en plundering van woorde) word eweneens ondersoek.

 

Musiek is hul enigste taal.

 

Gaan kyk gerus op die Versindaba na Luan Staphorst se vertaling van Olga Kirsch se “Nevertheless” wat hy puik vertaal as “Nietemin”, ‘n lang epiese vers wat aan uitgewekenes eweneens ‘n stem gee.

 

In hierdie boek is daar ‘n handige bronnelys soos Frederic Will se vertaling van Palamas wat in 1964 verskyn het.  Die voetnote is op sigself insigryk vir die leser soos presies wat Hellenisme beteken. ‘n Idealisering van die Griekse beskawing, o.a. Griekse vuur was ‘n vlam-werpende wapen wat veral tydens seegevegte gebruik is. Die voetnote is uiters verhelderend.

 

‘n Loflike, fantastiese boek, nogmaals uit die hand van ‘n bekroonde vertaler, wat op alle vlakke jou lewe verryk.

 

Tereg het sy indertyd die vertaalprys saam met E.L. de Kock ontvang het vir die vertaling van Aristoteles se Poëtika.

 

In Lawrence Venuti se terme het sy Kostis Palamas huis toe gebring.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, July 17, 2024

Resensie | Ingrid Winterbach – On rus op Steynshoop | Human & Rousseau, 2024

Ingrid Winterbach - Onrus op SteynshoopHuman & Rousseau, 2024. Sagteband, R 350, 296 bladsye. ISBN 9780798184724

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

So word Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach roman bemark:

Die teenwoordigheid van die Chinese in Steynshoop het die dorp die afgelope paar jaar ingrypend verander.
Benna Potgieter, wonderkind in sy prille jeug, is sedert sy pa se dood 'n haarkapper in sy ma se salon. Sy lewe neem 'n drastiese wending wanneer die skilder Fonny, sy groot verlore liefde, onverwags na die dorp terugkeer. Ook Jonah Voorsanger, met sy af-toon en sy intellectual poster boy-voorkoms, maak weer uit die bloute sy raaiselagtige opwagting.
Benna se kuier by sy vriend Sarel in Ladybrand sorg vir nog 'n onaangename verrassing, en die onverwagse besoek van sy broer, Petie - vol spyt en bitter verwyte - is genoeg om Benna lelik van stryk te bring.
Sy vriendskap met Chaoxing Yang bring Benna weer terug tot sy ander groot liefde, comics.

Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig - 'n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.

 

II

 

Winterbach se aweregse humor en die samesnoering van oënskynlik teenstrydige elemente is haar kenteken. Disparate elemente soos ‘n Afrikaanse dorpie waar Chinese die oorhand het, boerename, die gebruik van ou woorde met ‘n vertellerstem, wat tussen parenteses die ironie van alles beklemtoon, is hier van die belangrikste temas én tegnieke van die roman.


Die leser lag en word terselfdertyd bewus van ‘n kil blik op ‘n vreemde en terselfdertyd bekende samelewing. Die ouer garde wat rassistiese, oftewel pejoratiewe terme gebruik, teenoor die jongeres wat wil wegvlug uit verdrukkende ellendes.


Die werklike skrywer gee vir die leser sleutels na bekende skilderye en selfs na Jacques Lacan. Jonah was te jonk om by Lacan te kon aanklop as vertroueling en doodsbegeleier (99). Was hy ‘n doodsdoulah of nie?


Uiteraard tersaaklik: hoe leuens en verdigsels die onderbou is van die teks. 


Hierdie komplekse en aangrypende roman beweeg in ‘n sirkelgang. ‘n Mens kan die roman “oopmaak” op verskillende plekke soos vir hierdie leser. ‘n Soort story board skryf. (Onder die invloed van Hitchcock en Francis Ford Coppola wat verduidelik hoe hy die Godfather-reeks gemaak het na aanleiding van Mario Puzo se roman. Met asteriske waar hy wil verfilm.)


1 ‘n Toon wat verloor is in die dismemberment-ritueel aktiveer die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir Lacan 'n algebraïese teken.


Le semblable ("counterpart") verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. Oor Jacques Lacan het ek uitgebreid geskryf in my studie oor gender.

(Hambidge, 2000: 214 – 217).

 

‘n Lacaniaanse lesing sou ‘n leser ver neem in hierdie roman: die wet van die Vader (375) en gedurigdeur die kwessie van die patriargie (262). (Vaders wat vermoor is, soos Fonny se pa.)


Benna lees eweneens ‘n biografie oor Lacan.


Benna werk in sy ma se salon. Daardie ruimte van bavardier (tjettereer) en empty speech in Lacan se terme.

Hier is dan parlêtres (pratende objekte) wat telkemale op ‘n eie missie is. Alles word tussen karakters netjies verbind.


2 die hele kwessie van hemel, hel en verlossing loop regdeur die roman. Met ‘n kruid (dwelm) wat bliss teweegbring.  Lacan se jouissance wat sowel pyn as plesier aktiveer.


3 Daar is raspejoratiewe in karakters se mond wat die teks outentiek maak: dis hoe mense in daardie wêreld praat (en dink). 


4 Die landskap wissel tussen Steynshoop (ironies want hier is geen hoop nie), met die loci wat verskuif na Stellenbosch, Bethuli, Ladybrand, Musina, Ficksburg, Clocolan …


5 Dostojefski teenoor Amy Winehouse. Yolandi Visser teenoor die Generaal Piet Joubert-gastehuis.


Behalwe Lacan, lees Benna ook Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas …


Soekie verwys o.a. ook na Žižek …


Die skrywer Bolaňo wat te ingewikkeld is vir sy comic strips.


Benna en Sarel kyk na Béla Tarr, die meester van die stadige en werklike verbeelding in films,  se The Turin Horse.


Vlermuise versus bloeiende neuse. Regste en verbeelde reise.


Die mandorla of lig wat om die heiliges hang soos in Christusbeelde maar ook in Boeddhistiese kuns.


6 Die verhaal vertel veral die stryd tussen broers (een dood, een dolend) met Benna wat in sy ma se haarkapper werk. Die skilder Fonny, wat vir verskillende wendinge sorg, is die een aan wie hy sy hart ophang. Sy verhouding met sy moeder en sy wederstrewige broer Petie, word uitstekend beskryf nes die verlies aan die vader en die jong gestorwe broertjie. (En Hantie wat Sarel probeer normaliseer.)


Is dit waar dat trauma ‘n mens se genetiese samestelling verander?


Maar dit is veral die verhouding met Jonah Voorsanger, met sy af toon, wat vir ‘n verdere motoriese moment in die roman sorg. (Insiggewend is sy totemdier!)


En Marietjie se toetredes. Belangrike swart rolspelers soos Tebatso wat verduidelik hoe die Chinese “inkom”. Mevrou Gigaba ‘n trofeevrou. Of die arme Odelia.


Die man met die bioniese hand en uiteindelik in ‘n sampioenbegrafnispak (in die saprofitiese onderwêreld) en sy impak op sowel Fonny as Benna (294). 


Hoe versuurde vriendskappe nooit hul impak verloor nie, word hier ondersoek. Net soos die dooies weens ons skuld of aandadigheid aan hul besluite, steeds ‘n impak het op besluite.


7 Naamgewing is belangrik in hierdie roman: Benna (Benjamin), Petie (Petrus) wat o.a. die Bybel aktiveer (Die boek Elia is hier, 256) teenoor die tarot en verskeie Oosterse sisteme (soos die I Ching) wat die leser weer na ‘n Jungiaanse lesing van die teks kon neem. Ook Jonah wat ons ken as Jona in die walvis, die seun uit Amittai.


Harold Bloom het hierdie Bybelboek as sy gunsteling uitgesonder:

 https://www.nybooks.com/online/2011/07/28/harold-bloom-jonah-my-favorite-book-bible/

Besoek 17 Julie 2024


Jung se alchemistiese studies is hier tersaaklik. (Met die markplein hier as ‘n soort mandala?)


In die hoofstuk "The Philosopher's Stone In Alchemy: The Androgyne Imprisoned in Matter" verwys June Singer veral na Jung se alchemistiese studies. Die alchemisme bring 'n versoening tussen die spirituele en die materiële, dit wil sê, 'n versoening van die moontlike en onmoontlike. Gnostisisme is die mater alchimica

Die nous (spirituele) het afgekom in die vorm van 'n duif of slang en word opgevang in die physis (Singer, 1977: 136).


Want die lewe is net ‘n illusie, ‘n Boeddhistiese siening is ‘n helder ontdekking (265).


Die tarot word eweneens goed ingebed. Daar is ‘n casino in die dorp (die dobbelwiel in die tarot) en in die minor arcana swaarde.


Die sogenaamde minor arcana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in 'n speelpak); Munte(Diamante); Stokke (klawers) en Koppies (Harte).


8 Humor en ‘n sin vir die absurde vier hoogty. Chakalaka denDie Mielieblaar, en wait for it: Boerebonders. Die stadsruimte heet die Skwêr! Prullaria …


Wat oor vroue wat hulle hare kleur opgemerk word, is eweneens skreeusnaaks.


Die funksie van kuns word gedekonstrueer in waarskynlik een van die snaaksste passasies nog gelees in ‘n Afrikaanse roman wanneer ekskrement in can-fruit-bottels omgebliksem word. En die reuk, nie die polisie nie, veroorsaak dat alles tot stilstand kom tussen die Hells Angels en kunstenaars (221 - 220). Ek wil nie die leeservaring vir die leser bederf nie, maar dit is waarskynlik een van die sterkste oomblik in die roman wat 

kunspretensie uitmekaar uit bliksem.


9 Alles natuurlik gekomplementeer deur die die obsessie met komiekstrips. Manga. En Bitterkomix.


En komiekstrips word hier weergegee van die kind wat eers “onskuldige” komieks soos Archie en Popeye lees en dan tekste met sterk sosiale kommentaar. Te veel om hier op te noem, o.a. Pat Aulisio se Survive 30 Million:

https://retrofit.storenvy.com/collections/29642-all-products/products/24567888-survive-300-million-1-by-pat-aulisio  17 Julie 2024


Ai Weiwei is ook hier.


In 2009 het Shathley Abrahams ‘n doktorale studie voltooi oor komiekstrips by UCT: Older than language.

Met verdere toespelings op die Baiyue en hul betekenis. Etniese groepe in die Suide van China en Noordelike Viëtnam.  Een eeu voor Christus en een Eeu na Christus. Veral hul tattoes en swaarde is relevant vir hierdie teks.

https://en.wikipedia.org/wiki/Baiyue  17 Julie 2024 

 

Benna is immers bevriend met Chaoxing (‘n naam wat Expecting Fortune beteken) en sy verhouding met sy vader word ‘n navrante spieël van afwesige vaders in alle kulture. En daar is Sarel, die wiskunde whizz-kid, Benna se skoolmaat in Ficksburg (en sy latere waansin) teenoor ene Gertruida, die kenner van die I-Ching. En navorsing oor die Brakpan Strangler. 


Die Spirituele reis van Katerina de Sanguin na Tibet …


Heiliges en hoere. Dieresimbole soos in Suid-Amerika word eweneens geaktiveer. In Peru, byvoorbeeld is slange en voëls heilige simbole in antieke tye. Ook die Vicuňa aldaar as simbool.


Totemdiere. Sjamane. Ayahuasca-seremonies. 


Die betekenis van kos. Soos die sojaboonwrongel.


‘n Insigryke beskrywing van Mao.


En die betekenis van Chinese kuns( 283): o.a. met die landskap van emosie en die veelvuldigheid van die wêreld.


10 Die roman lewer sterk sosiale en politieke kommentaar met die inkommers, die Chinese wat ‘n hele dorp se infrastruktuur verander. Dit veroorsaak uiteraard spanning tussen die Chinese en swart inwoners. Die konflik tussen Oosterse en Westerse kulture word verder gekompliseer met verwysings na swart kulture.

Die sogenaamde “baasskap” van ‘n dorp word op sy kop gekeer met ‘n duidelike aansluiting by die ervaring van hoe alles tans in beweging of flux is, hier en elders.


Ons siele is dalk ingeplug in die media? (77)


Dieselfde geld die leesstrategie vir en tot hierdie roman. Nes jy dink jy het die sleutel gevind, dan word die mat onder jou uitgeruk.


11 Dalk alles te make met die vertellende instansie wat tussen parenteses kommentaar lewer op karakters se denke en optredes.


In Drie-en-vyftig word die ouktoriale verteller Jy.


Is dit die verteller wat intree en beheer erken van alles wat gebeur?


Soos in ‘n droom wat beskryf word. (Een-en-vyftig).


12 En dan die verskillende taalregisters verdien eweneens vermelding. Van Standaard-Afrikaans tot komiektaal wat spaars is. Selfs intermittante kekkels (35) in ‘n filosofiese bydrae: Die kritikale snieker”.

Van blote storievertel tot lesings o.a. oor Lucian Freud en Francis Bacon. Die ekologie van magsverhoudings, lees ons.  


13 En die fungus as metafoor? O.a. Ophio-cordyceps-fungus wat ‘n hele mierkolonie kan laat intuimel, is hier uiters relevant: die sogenaamde zombiemierfungus (288). 


Hierdie insekte wat met hierdie fungi besmet is, word as begraafplase tipeer.


Wat ons dan terugneem na  die teoretikus J. Hillis Miller se seminale teks “The Critic as Host” in Deconstruction & Criticism.


En hier is ‘n toepassing op J.M. Coetzee vanuit hierdie hoek:

https://manifold.umn.edu/read/cc-frame-007-essay-01/section/e724b462-90a8-42cd-9195-0d6cf26131cd  Besoek 14 Julie 2024

 

Ten slotte:

Vir my is die blik (die oog) in hierdie teks relevant. 


Die Lacanian 'gaze', die blik, die oog, kan verder as uitgangspunt geneem word, omdat dit meesterskap / beheersing / oorwinning insluit met verskillende karakters wat buikspreek vir die verteller  wat juis hierdie oorheersing dekonstrueer of bevraagteken.


Dis ‘n fassinerende roman wat verskillende disparate modi saamplaas en telkemale die leser verbyster met ‘n nuwe aanslag. Die vrae oor die verteller word “opgelos” in die slot: Benna werk aan ‘n roman in sy swart A-4 hardebandboek.


‘n Roman wat soveel wêrelde saamsnoer en oopbreek. Veral die landskap van die psige word besonder kompleks verbeeld.


Joan Hambidge

Julie 2024

 

Bronne:

 

Abrahams, Shatley. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. UCT, PhD. (Studieleier Joan Hambidge).

Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT, PhD. (Studieleier H.J. Snyman).

Hillis, Miller J. 1980.  Deconstruction & Criticism. Londen: Routledge.

Lacan, Jacques1966/1977. ÉcritsLonden: Tavistock. Vertaal deur Alan Sheridan.

                                     1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Londen: Penguin. Vertaal deur Alan Sheridan.

Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

Singer, June. 1977. Androgyny - towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FMR)