Showing posts with label Marlene van Niekerk. Show all posts
Showing posts with label Marlene van Niekerk. Show all posts

Thursday, February 8, 2018

Resensie | Marlene van Niekerk - Gesant van die mispels & In die stille agterkamer (2018)

Marlene van Niekerk - Gesant Van Die Mispels: Gedigte by skilderye van Adriaen Coorte (ca. 1659–1707). Human & Rousseau, 2017. ISBN 978-0-7981-7655-2
Marlene van Niekerk - In die stille agterkamer : Gedigte by skilderye van Jan Mankes (1889-1920). Human & Rousseau, 2017. ISBN 978-0-17981- 7654-5
Resensent: Joan Hambidge

I
Die beelddig of ekfrastiese vers het ‘n lang tradisie in Afrikaans met uitsonderlike digters soos Sheila Cussons en Johan van Wyk, beide skilders, wat hierdie digsoort op ‘n unieke en verrassende wyse ontgin het. Hierdie soort gedig maak aanspraak op sowel ‘n kennis van die skildery of kunswerk om die digter se reaksie daarop te begryp. Een skildery kan ‘n magdom reaksies ontlok. Ons dink hier aan D.J. Opperman se gedig oor Van Gogh of die genoemde Cussons se vers oor Jackson Pollock. Die digter Johann de Lange het ‘n belangrike indeks vir die speurende leser opgestel (Kaapse Paragrawe | Ekfrasis, oftewel 'Die Beeldgedig inAfrikaans'. Besoek 1 Februarie 2018).

Tussen skildery en gedig gebeur iets magistraals. Die digter sien iets raak en maak die kyker daarop attent (soos in Johann de Lange se “Olympia”-gedig, gebaseer op Manet, met 'n seksuele innuendo.

By Marlene van Niekerk se twee bundels Gesant van die mispels en In die stille agterkamer is daar afdrukke van die skilderye, Van Niekerk se gedigte, en Nederlandse vertaling van die verse deur Henda Strydom. Gesant van die mispels handel oor die lewe van Adriaen Coorte (ca. 1659-1707) en In die stille agterkamer oor die minder bekende Nederlandse skilder Jan Mankes (1889-1920).

Waar die meeste beeldverse in Afrikaans handel oor bekende kunswerke, is die meeste van hierdie werke waarop gereageer word onbekend vir die gemiddelde leser. Vir die kunsliefhebber, weliswaar al ‘n bekende avontuur.


II

Die leser beweeg dus van skildery na gedig na vertaling.


Musee des Beaux Arts
W. H. Auden

About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position: how it takes place
While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;
How, when the aged are reverently, passionately waiting
For the miraculous birth, there always must be
Children who did not specially want it to happen, skating
On a pond at the edge of the wood:
They never forgot
That even the dreadful martyrdom must run its course
Anyhow in a corner, some untidy spot
Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse
Scratches its innocent behind on a tree.

In Breughel's Icarus, for instance: how everything turns away
Quite leisurely from the disaster; the ploughman may
Have heard the splash, the forsaken cry,
But for him it was not an important failure; the sun shone
As it had to on the white legs disappearing into the green
Water, and the expensive delicate ship that must have seen
Something amazing, a boy falling out of the sky,
Had somewhere to get to and sailed calmly on.


William Carlos Williams het eweneens oor hierdie skildery geskryf:

Landscape with the Fall of Icarus
William Carlos Williams

According to Brueghel
when Icarus fell
it was spring

a farmer was ploughing
his field
the whole pageantry

of the year was
awake tingling
with itself

sweating in the sun
that melted
the wings' wax

unsignificantly
off the coast
there was

a splash quite unnoticed
this was
Icarus drowning

Hier is 'n besondere indeks van Engelse gedigte (The Poet Speaks of Art. Besoek 4 Februarie 2018).

Die ekfrastiese gedig is waarskynlik die mees eksteme vorm van intertekstualiteit: die leser moet die skildery beskou as skildery; dan volg die interpretasie van die digter – en dan die leser wat sy of haar interpretasie gee en dit dan "toets" op die gedig.

Johan van Wyk in Heldedade kom dikwels nie voor nie (Perskor, 1978) neem die leser na 'n besondere en aweregse interpretasies van 'n skildery. "The Parable of the Blind" van William Carlos Williams bly 'n ongelooflike gedig:

The Parable of the Blind
William Carlos Williams

This horrible but superb painting
the parable of the blind
without a red

in the composition shows a group
of beggars leading
each other diagonally downward

across the canvas
from one side
to stumble finally into a bog

where the picture
and the composition ends back
of which no seeing man

is represented the unshaven
features of the des-
titute with their few

pitiful possessions a basin
to wash in a peasant
cottage is seen and a church spire

the faces are raised
as toward the light
there is no detail extraneous

to the composition one
follows the others stick in
hand triumphant to disaster

Inderdaad: this horrible, but superb painting ...


III

Groot uil © Jan Mankes

Hierdie twee bundels van Marlene van Niekerk neem hierdie leser na John Berger se Ways of Seeing (Penguin, 1972). In hierdie studie wys hy op die versweë ideologieë in groot kunswerke. Van Niekerk se keuse aktiveer alreeds 'n gesprek: kunstenaars wat buite die kanon val, kom hier aan bod.

In sy beroemde essay "The Distribution of Discourse" opgeneem in On Difficulty and other Essays (Oxford University Press, 1972) bekyk George Steiner die kwessie van die selfgesprek. So beskou, is hierdie kunswerke uitnemende voorbeelde van die helende stiltes van die self. Hy verwys ook na die proses van dédoublement.

Vir Steiner kan die volledige taalproduksie verdeel word tussen hoorbaar / onhoorbaar; stemloos / stemhebbend (1972, 91).

Die artikel is beskikbaar op die internet (George Steiner - On Difficulty & Other Essays(Oxford, 1978) | Maryanne Moll - Academia.edu. Besoek 8 Februarie 2018).

Valéry se neologisme esthésique verwys nie net na mooi-heid of skoonheid nie, maar ook na die konkrete en die sensuele soos Pierre Guiraud tereg aantoon in sy studie Semiology (Routledge & Kegan Paul, 1975, 66).

Behalwe dus vir die stemlose wat stemhebbend gemaak word in ‘n ander medium en in twee tale, vind ons ook hier dat die gedigte as estetiese objekte uitgestal word. En elke leser, in navolging van Mukaŕovský skep immers sy eie “estetiese objek” wanneer hy / sy die “artefak” lees.

Twee skilders: Adriaen Coorte (1659 – 1707) en Jan Mankes (1889 – 1920) word onder die loep geneem. Letterkundige lesers sal uiteraard anders lees as kunskenners en ‘n mens sien dan ook uit na die resepsie van kunshistorici op hierdie bundels.

Stillewe met aarbeie © Adriaen Coorte

Van Niekerk gebruik minder-bekende woorde. In die programgedig in Gesant van die mispels word die “opulente ongetraaktheid” beskryf; die on-gewone hoek kom aan bod en die “oopsplinter” (11) van ‘n skoenlapper …

Sy dwing die leser om na die besonderheid van elke skildery te kyk. Jy is as leser in terme van Culler besig met ‘n proses van “framing the sign”.

Hierom dalk is dit gepas dat daar byna niks bekend is van Coorte se lewe; dit gee vrye teuels aan die verbeelding van die digter wat terug beweeg na die tweede helfte van die Goue Eeu. Die gedig word ook skerp sosiale kommentaar op sy tydgenote met hul “selfbewondering” en narcisme. En dat hierdie kuns nooit verlore sal gaan nie.

In ‘n sentrale gedig op bladsy 27 word die “gerugte / van skermutselinge om die Spaanse troon” geaktiveer. Hierdie gedig word ‘n belangrike kommentaar op betrokkenheid en wat van kunstenaars verwag word. Hierdie gedig beweeg uit die raam van die tyd en word ʼn obiter dictum vir die debatte al oor hierdie onderwerp gevoer: van Sklovskij tot ons “cultural desk” en skuldgevoelens by onbetrokkenes wat nie “gerekruteer” is nie.

Van Niekerk skryf dat Coorte daarin slaag om “deur koel, presiese en niksverklappende vakmanskap die geheimsinnige outonomie van gewone dinge sigbaar te maak” (59)

Daar is telkens ‘n lys van skilderye en ‘n nawoord wat die leser deur hierdie leesavontuur rig.

Judaspennings in 'n Japannese vaas © Jan Mankes

Jan Mankes is bekend, aldus die nawoord, vir sy intieme, realistiese skilderye – opmerklik vir die verstilde, soms stralende kwaliteit (62).

Reaksie, ekspressie, instrumentalisering en retoriek, is van die intellektuele vrae wat opkom by die digter Van Niekerk – en dus ook by die leser.

Hierdie skilder neem die digter terug na haar eie lewe: as sy ooit weer ‘n eenling-kraai sien, sal sy soos die kraai probeer kyk … (terug by John Berger, dus).

“Alles wat jy skilder is ‘n talisman” (35), dig sy in die besonderse gedig oor die oliefles op die voorblad afgebeeld.

Daar is uiteraard toespelings op bekende gedigte: die dooie vleer, ‘n Ikarus, praat met Auden; die kerkuil met Totius se “Die wêreld is ons woning nie”; die valkenier met Yeats …

Die bundels is pragtig uitgegee op glanspapier met kleurafdrukke van die oorspronklike skilderye.

Hoe belangrik dat hierdie werke aan die vergetelheid ontruk is.


III

Hier onder volg 'n gedig van Van Niekerk:

Aspersies © Adriaen Coorte

Die spruite, bymekaar-
geskud en met ’n donker
twyg gebind, rangskik jy
eenkant op die steen met vlak
daaronder naam en agter-
naam in ’n oopgebuigde
lemniskaat, die krul
van die oneindigheid geprent
vlak langs die reguit kraak.
Jy watertand die ganse
dag na sout, botter, groente-
murg, maar skil of skilder
niks, tot waak bereid
en slapeloos – die elpelote
in die maanlig bespook jou
met hul Eurydice-agtigheid.
As jy eindelik jou kwaspunt
doop en oor die maalstok
in die donker mik, splyt
jy met ivore tinte
die somber ondergrond.
Soos die wande van ’n sarko-
faag val die hele hede los
om ligte lede oop. Jy verlaat
jou delikaat en duidelik
oorstelp op tien aspersies
en twee woorde –

Adriaen Coorte

*

De spruiten, bij elkaar
geraapt en met een donkere
twijg gebonden, rangschik jij
terzijde op het blad, met pal
eronder naam en achter-
naam in een uitgebogen
lemniscaat, de zwier van het
oneindige geprent vlak naast
de rechte naad.
Jij watertandt de ganse dag
naar zout, boter, groente-
merg, maar schilt of schildert
niets, slapeloos houd je
de wacht – de elpenloten
in hun clair-obscur beletten
jou het kijken als Eurydice
in het schimmenrijk.
Als je eindelijk de kwast-
punt doopt en langs
de maalstok in het donker
richt, splijt je met ivoren
tinten de sombere onder-
grond. Gelijk de wanden
van een sarcofaag valt heel
het heden om de lichte
leden open. Je verlaat je,
delicaat en duidelijk over-
stelpt, op tien asperges
en twee woorden –

Adriaen Coorte.
(Vertaal deur Henda Strydom) 


Friday, March 1, 2013

Marlene van Niekerk - Agaat (2004)



Marlene van Niekerk. AgaatTafelberg Uitgewers, 2004. ISBN 0 -624-04206-5.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is groot gewag gemaak van Marlene van Niekerk se Agaat. Die publisiteitsmasjinerie presenteer hierdie lywige roman as wêreldletterkunde. In die skrywer se insigryke resensies blyk onder meer haar kennis van tekste soos van skrywers W.G. Sebald en J.M. Coetzee met hul vermenging van geskiedenis en fiksie. Die roman is besonder ambisieus in opset: Karel Schoeman se Hierdie lewe word ‘n opsetlike of opvallende interteks en die verskillende dimensies van vertel word spieëls van een opset na ‘n ander. ‘n Meta-gegewe dus, maar meer nog: ‘n weefwerk soos die motto’s uit ou kultuurtekste ons wil rig. 

‘n Vroueskrywer wat inbeweeg in die ruimte van die oermanlike domein, te wete die plaasroman. Dit is in die eerste en laaste instansie ‘n roman oor identiteit, ras en klas. Iemand wat praat deur ‘n ander: herinnering, dagboeke met die bekende gegewe van die stemlose, bruin Agaat, wat interpreteer namens die bedleênde, sterwende matriarg wat ook in die tweedepersoon na haarself verwys. Patriargie of androsentriese outoriteit word ondermyn deur vroulike bewussyn of interpretasie. Ook die ‘bediende’, of Ander, wat konvensioneel stemloos is, word nou stem gegee. 

In sy wydopgesette aanbod is hierdie roman indrukwekkend. Dit is ‘n ‘wye en droewe land’ wat geskilder word, maar met ‘n intiem-vroulike aanbod as gegewe. Die leser word deurgaans herinner dat sy besig is om ‘n letterkundige roman te lees en dit is ‘n grootse opset wat voor ons ontvou. Met al die drade wat so ‘n imposante weefwerk impliseer. Om te praat namens ander of die aanwending van die alter ego of buikspreker is bekende tegnieke van die belydenisroman. Verskillende ‘ekke’: die seun, die moeder (toe en nou), die bediende. Agter dit alles staan die ouktoriale instansie wat kommentaar lewer op menslike verhoudings in ‘n gekwelde land waar (eiendoms)besit enorme implikasies het. Ons leef en lees téén die agtergrond van verdrukking, hersonering en ‘n nuwe grypsug. Ingebed teen die geskiedenis kry die roman ook ‘n groter reikwydte.

Daar is enorme navorsing gedoen oor onder meer: beeste se siektes, hekelwerk en die alledaagse bestaan op ‘n plaas. Ek verbeel my dat vir die eerste keer is sedert C.M. van den Heever dat ons werklik kan sién en ervaar wat dit behels om te boer en dit is ironies dat ‘n vroueskrywer hierdie domein óópskryf. Die geboorte van ‘n kind word in grieselige besonderhede geteken en ingevoerde beeste word danksy Agaat se reddingspoging van ‘n vrekte gered – maar met die ironie dat Jak, die ou patriarg weier om háár erkenning te gee.

‘n Ontmaagdingstoneel, seksuele opwinding, bedlêendheid, ensomeer, word pakkend en konkreet aan die leser voorgestel. Deurgaans hoor die leser die poëtiese stem van die implisiete outeur wat met nostalgie en deernis ‘n wêreld skets waarin, ek meen, die hele patriargale en rasse-domein van hierdie land selde só skrynend onder die loep geneem is. Die hele santekraam van hallelujaliedere, boereverwysings, skunnighede, bygelowe (die bloed in Milla, die hoofkarakter se mond) beeld ‘n wêreld  sonder huiwering òf vrees uit.

Die verhouding en wisselwerking tussen Milla en Agaat is die spil waarom hierdie vertelling draai. In weefterme is Jakkie, Jak en al die ander figure omboorsels. Vir my gevoel is die politieke ‘oplossing’ wat onder meer aan die seun se optrede gegee word vir hierdie leser die catch-22 van ‘n gevoel dat dit in wese die roman se drakrag verswak. Maar dit word ook die uitkoms van die roman: daar moet ‘n storie vertel word en die implikasies van die verbintenis tussen Milla en Agaat moet uitgewerk word. Die poëtiese, bykans inkantatiewe gesprekke tussen hulle mesmeriseer die leser in só ‘n mate dat die realiteitsoplossings waarna die skrywer moes soek, die impak verminder. Maar dis ‘n persoonlike kanttekening want die leser se “suspension of disbelief” word nogal beproef: sou Agaat werklik al hierdie woorde, liedjies, toespelings ken? Maar in die roman is die verklaring ingebed: sy is ‘gered’ deur Milla en hierom word sy Milla se alter ego, deur haar opgevoed en nie om dowe neute nie, is sy ook haar skadukant. Die verwysings na vlinder en vlermuis (met Milla wat bloed proe) artikuleer ook hierdie Jungiaanse opposisie in die roman. 

Agaat, die goeie se slotmonoloog vra vir ‘n saamlees met Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves: ‘n primordiale verkenning van vrouwees in beduidende argtetipes. Die beskrywing van hoé Milla vir die jong Agaat ontdek, is waarskynlik een van die menslikste en ontroerendste passasies wat ek ken. Emosionele en psigiese pyn word  meedoënloos onthul: hoe MooiJak sy vrou afknou, hoe sy op haar beurt hierop reageer. 

Die boek is in ‘n sirkelgang geskryf met ‘n aanhoudende terugbeweeg na die kern van alle verhoudings waarin manipulasie en wreedheid die dinamika word. Hierom die verwysing na spieëls met Agaat en (Ka)Milla wat mekaar se psiges voortdurend opvang en hul ellende en insigte na die leser terugkaats. C.M. van den Heever se Laat vrugte word ook geresoneer in die verhouding tussen vader en seun. En die beskrywing van ‘n lugmag-okkasie word oortuigend gedoen, met die vader wat telkemale sy teleurstelling oor sy seun uithaal op sy vrou en haar huishulp.

Daar is glo gemeen dat die skrywer moes snoei aan herhalende, selfkoesterende passasies; ek verskil hiervan, want die roman trek jou in en ‘toor’ jou. Estés se verklarings van die cantadora of storieverteller, kan egter hier handig gebruik word. Party lesers meen die opset is te groot vir ‘n jong skrywer, maar vir my gevoel is dit dalk nie ‘n Sebald of ‘n Schoeman nie, maar nietemin ‘n enorme prestasie. Die hulde rondom Triomf het hierdie leser nie gedeel nie, maar Agaat is ‘n belangrike bydrae tot en grensverskuiwing binne die Afrikaanse prosa. Veral om die deeglike ontginning van die plaasroman, boonop deur ‘n vrou.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Friday, February 8, 2013

Marlene van Niekerk & Adriaan van Zyl - Memorandum (2006)



Marlene van Niekerk / Adriaan van Zyl. Memorandum: ‘n Verhaal met skilderye. Human & Rousseau, 2006. ISBN 9780798147309.


Kanttekeninge deur Joan Hambidge  - Februarie 2007

I

Etienne Britz illustreer in sy uitvoerige analise van Marlene van Niekerk / Adriaan van Zyl se Memorandum ("Memorandum: 'n verhaal met skilderye. 'n Handleiding vir Insig se boekklub") dat geen leser ooit hierdie teks finaal sal kan deurgrond nie. Sy bespreking – wat resensies van ander kritici bevat, onderhoude en ‘n skrywersoorsig – is te lese op Insig se webruimte (www.insig.com – afgetrek 19 Februarie 2007) en is ‘n besonder verrykende leeservaring. Dis ‘n multitekstuele lesing van ‘n teks wat met voetnote, skilderye, fabrikasies, drome, versugtinge ‘n memorandum aan die leser voorhou. En ‘n memorandum intimeer alreeds iets wat na iets anders verwys; ‘n teks wat ‘n kort opsomming wil wees vir ‘n uitvoering van ‘n plig. Waarskynlik kan dit ook as ‘n soort aanmaning gelees word.

My eerste lees van die boek was een van weerstand. Van gewoon ‘n te pynlike inlees van die dood, ‘n ervaring van iets wat te naby is; of dalk nou te ver is. ‘n Gevoel dat die leser se “suspension of disbelief “ tot die uiterste beproef word. Hoe is dit moontlik dat die fiktiewe Wiid – selfs met die hulp van ‘n bibliotekaris (Dante en Vergilius deur die hel) kon uitkom op sulke gesofistikeerde bronne? En skroei die werklike outeurstem van Marlene van Niekerk nie te veel deur nie?

As ons Wayne C. Booth se Rhetoric of fiction (University of Chicago Press, Chicago. 1961) optel en nalees oor die sogenaamde “implied author”, is die gevoel dat die leser nie genoegsame bewys kry van afstand tussen werklike skrywer en implisiete skrywer nie.

Maar, die kodewoord is memorandum. Die beoogde roman wat die leser wil lees, staan nie hier nie. Dit is iets wat voltrek word in die subtiele interspel tussen skilderye en woordteks. In die leser se gemoed.


II.

En hoe lyk die “storie” wat hierdie leser konstrueer? Elke leser se storie sal daar anders uitsien. In die triadiese relasie van Britz/Van Niekerk/Van Zyl, is aldrie mense aan my bekend. Eersgenoemde het aan my ‘n opwindende Honneurskursus in die narratologie aangebied in my Honneursjaar aan die US (1978) en my bekend gestel aan letterkundige teorie en grensoorskrydende romans. Van Niekerk was ‘n tydgenoot en Van Zyl ‘n vriend.

‘n Objektiewe lesing sou dus nie moontlik wees nie. (Die leser word gelei na die aanhangsel waarin ‘n “In memoriam”  (wat Oktober 2006 op Litnet verskyn het) en ‘n resensie van Agaat (wat September in Die Volksblad verskyn het) om die erkennings te boekstaaf. Met Etienne Britz het ek gereeld onderonsies in Die Burger: speels, tergend, watookal.

Ek het Adriaan gereeld in die hospitaal, en later ook tuis, besoek na ‘n stilte in ons vriendskap.

‘n Memorandum is altyd swart-op-wit (skriftelik) met ‘n duidelike boodskap wat gerig word aan ‘n persoon/persone en onderteken word deur ‘n ander persoon.

My bespreking of kanttekeninge moet dan as sodanig gelees word: ‘n boodskap aan die Afrikaanse leser, onderteken deur die kritiese leser.

Die kritiese leser weet by voorbaat dat hierdie boek, wat onder andere deur Insig en Die Burger as ‘n boekklub-roman uitgesonder word, ‘n belangrike teks is. Dit word in aanskoulike hardeband-formaat gepubliseer, ten spyte van die ewige gemor dat die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde gelui het. (Of wil die boek dalk ironiese en onbewustelike kommentaar lewer op die toestand van die bedryf? Wat voortdurend enersyds alarmisties is oor die “toekoms van die Afrikaanse letterkunde”, maar andersyds sig aanbied in nuwe hoogtepunte, nuwe stemme, nuwe gebeurtenisse? Daar verskyn die afgelope tyd belangrike romans van Etienne van Heerden, Eben Venter, Ingrid Winterbach, in alfabetiese volgorde, wat die mismoedigheid dekonstrueer.) Julia Kristeva se Strangers to ourselves (Colombia University Press, New York. 1991) aktiveer belangrike posisies rondom vervreemding.  In hierdie filosofiese studie aktiveer sy buitestaanderskap wat o.a. inspeel op haar “roman” wat sy saam met haar eggenoot, die filosoof Philippe Sollers geskryf het: H.

Marlene van Niekerk is nie alleen skrywer nie, sy is ook filosoof. En hierdie teks is ‘n diskoers-analise van die twee pole waarmee almal worstel: die lewe, en die dood. Om te skryf of te skilder, is eweneens om ‘n fase, ‘n tydperk, ‘n verhouding, ‘n waarneming dood te verklaar. Trouens, Adriaan van Zyl se “unheimliche” wete van sy voortydige dood kan afgelees word in sy skilderye oor begraafplase. Wanneer die kyker nou hierdie skilderye “lees”, kom daar ander betekenisse na vore. Staan die boodskap van voorwete afgegrif op die geskonde plastiekblomme. Kort voor sy dood skryf ek hierdie mislukte vers:

Adriaan van Zyl: “Hospital - Arrival”
Oil on Board 54 X 40 cm

Groen hospitaallakens
op ‘n effens ópgeligte
bed
met een uitgeswenkte
wiel
‘n foon
blomme
kondig
afwagting
aan.

‘n Sak na regs
wys
jy’s
uiteindelik
tóg hier:

in ‘n stillewe
van onsekerheid.

Die res
(tussen aankoms
en vertrek):
‘n woordelose hospitaaldrama
in die aangrensende
voorstellings.

Ofskoon die gedig nie werk as gedig nie, verwys dit na die “aangrensende voorstellings” – die gesprek tussen skilderye, die “onderhoud” tussen Marlene van Niekerk en Van Zyl – en die uiteindelike resepsie van verskillende kritiese lesers oor die belangrikheid van hierdie teks.


III.

Daar is reeds deur vele kykers/lesers gewys op die afwesigheid van mense in hierdie skilderye. Net die sak in die bogenoemde skildery, dui op die aanwesigheid van die mens. Britz analiseer die troosteloosheid van die hospitaalruimte.

Hospitale word tradisioneel nie geassosieer met dit waaroor ‘n skilder opgewonde sou raak nie. Rembrandt het egter sy besondere talent gekoppel aan ‘n lykskouing. Hy bring ‘n lyk na ons – dit word die fokus van sy figure se beraadslaging en dit dwing ons om te wonder oor waarom die lyk die sentrum word van sy skildery?

Britz wys op die hoekigheid van alles in die skilderye en juis hierom, meen hy in sy lang Insig-bespreking, val die ronde vorme die leser juis op!

Die bed se wieletjies, die oorhoofse operasielamp se vier oë, die ronde medisinale band, ensomeer.

Etienne Britz maak hier ‘n uiters belangrike punt: in my mislukte gedig – geskryf twee weke voor die kunstenaar se dood en aan hom gegee toe hy tuis was by sy suster – fokus (onbewustelik) op die uitgeswenkte wiel: op die naderende vertrek....

So beskou is die reistas ‘n ironiese objek – want hier gaan uiteindelik gereis word na ‘n ander ruimte. Diptiek word triptiek.

Marlene van Niekerk – Adriaan van Zyl laat die leser inbeweeg op ‘n derde vlak: die triptiek.


IV.

Die kritiese leser sou Lacan kon betrek in die ewige verhouding tussen die semiotiese en die simboliese, met die Rëele wat hier ‘n die Orde van die Dood èn die Talmende, Nie-Klaar-Geskryfde Teks impliseer.

Indien ‘n mens die teks van agter na voor benader, word jy eerste met ‘n lys van skilderye gekonfronteer, dan die Addendum 3, te wete die memorandum / brief aan die Superindendent van Openbare Biblioteke – onderteken deur Wiid.

Dit is ‘n klagte.

Oor biblioteke, maar oor iets meer. (Nou onthou ek opeens Britz se ontroerende lesing oor Klaaglied om Agnes.)

Met die verwysing na die Grot van Alibaba, word die Arabiese Nagte as die belangrikste interteks ingewerk: Sheherezade se vertellinge wat die dood moet uithou, misluk egter hier. Adriaan van Zyl se dood kon nie uitgestel of verhoed word nie.

Die brief is ‘n jukstaposisie van toe en nou: hoe ‘n biblioteek (a, ‘n boek!) behoort te wees en wat ons aantref. Ons beweeg in sirkels, ons is in ‘n labirint. In die kamer was ‘n kas, in die kas was ‘n laai, in die laai was ‘n brief, in die brief staan daar:

SUSPENSION OF DISBELIEF!

V.

‘n Mens word oorrompel deur die verwysings en verswygings van die roman-in-wording, die boek wat jy konstrueer-al-lesende, sodat jy glo Wiid kon al hierdie verwysings so netjies integreer en saampers.

Artis bene moriendi.

‘n Paar keer staan ek op om Foucault weer te beskou en na Mies van der Rohe se werk te kyk.

En besef: elke kanttekening of kritiese kommentaar word netjies ondervang deur hierdie boek wat jou neem na Marlene van Niekerk se werkswinkel, haar sieninge van die lewe/dood, haar gevoel oor die romankuns, die plek van die digkuns, musiek en sy subverteer (sy is ook satirikus) die siening dat ‘n roman ‘n begin/middel of einde behoort te hê.

(Georges Perec se Life a user’s manual het in 1978 in Frankryk verskyn toe ek begin lees het aan ander belangrike tekste.  En een van ons ander groot skrywers, Ingrid Winterbach het hierdie toom aan my bekendgestel. Ek het die Engelse vertaling van David Bellos, 1987, uitgegee deur Collins Harvill pas tien jaar terug begin verteer.)


VI.

Addendum I is wat Barthes sou noem die vraisemblance van die teks: ‘n noukeurige bestekopname van Wiid se opname. Barthes skryf in Roland Barthes (1975/1978 uitgegee in Londen deur The MacMillan Press) oor sy obsessiewe maak van lysies. ‘n Beheer oor die lewe? Skryf, al is dit ‘n wasgoedlys of dan hier, postoperatiewe sorg, ‘n wyse waarop beheer geneem word.

Post-dood-depressie.

Kritiese lees by nabaat. Kanttekening. Skribbel in die kantlyn. En marge.

In hierdie trajekte word die wisselvalligheid van siekte en herstel opgeteken – in metikuleuse besonderheid. Hier vind die leser dan kodes wat op die skilderye geprojekteer kan word.

Naarheid-braking-vrees.


VII.

Die laaste skildery van Van Zyl heet “Die wagkamer”, die tussentoestand tussen hel en hemel: die purgatoria.

Vlugvertraging

Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?

Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die aanvang.

Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."

Dus: geen vlugvertraging, geen vers.


(Uit: Lykdigte, Tafelberg: 2000).

Ek het my resensie geskryf van Agaat net voor Lisbé Smuts se dood en by haar troue lank oor Agaat gepraat met Adriaan se suster, Louise Viljoen.


VIII.

Daar is ander skrywers wat nog betrek moet word: W.G. Sebald, o.a., ook bekend vir sy gebruik van twee mediums, te wete die foto-teks en verhaalteks in ‘n roman. Van Niekerk illustreer dat die George Steiner-siening van die dood van tragedie en romanteoretici se gevoel van die “death of the novel” weer tot lewe gebring kan word. Soos die dood ‘n vertek na ‘n ander dimensie is, blyk die roman nou eweneens op reis te wees in die onvermoeide versoening van die Lewe, die Dood, herinneringe, filosofie, kosmaak-rubrieke, Argitektuur, en wat nog.

Hiermee skaar die roman sig by die lang lys van intellektuele en akademiese romans soos gekarteer in Elaine Showalter se Faculty Towers wat in 2005 by Oxford University Press verskyn het. En natuurlik lui die sub-titel: “The Academic Novel and Its Discontents”. Natuurlik speel sy in op Faulty Towers en al die ander Ontenvredenhede waarvan ons op ‘n daaglikse basis kennis neem. Oor die Nuwe Suid-Afrika en die Toekoms van Afrikaans.
“Hebban olla vogala...”

Die verwysings na voëls en musiek moet ook diepgaande ontleed word. Bach veral. Keith Jarrett.

Die woord mosaïek duik nie verniet op nie.

“Die hele wêreld is die mens se nes, die aanbou hou nooit op nie” (p. 94) is van toepassing op die leesaksie: dit kan nie ophou nie. X en Y. Twee figure, in plaas van die enkelfiguur wat in die belydenisroman aangespreek word. Die verhaal van Wiid, “stadsverfraaier” va Parow, bonop afgetredene en kankerlyer, wat gelei word deur die biblotekaris, Buytendagh, eintlik Superintendent, dus baas van die Biblioteek. En die biblioteek as metafoor vir kennis is bekend aan Derrida, die filosoof van die aanhangsel. Hy is sy dubbel (“mon semblable, mon frère, mon lecteur”). Teenoor die losse assosiasies van X en Y, is daar die orde van die bibliotekaris.

Etienne Leroux maak sy buiging in die glasie Welgevonden (p. 78).

En Jeanne Goosen op p. 76: Ons is nie almal so nie!


IX                                      

Memorandum is ‘n akademiese roman en vele lesers sal waarskynlik voel dat die aanslag soms bó die fiktiewe karakter se vuurmaakplek is. As jy egter die roman lees as jou persoonlike interaksie daarmee, dan werk dit. Benader dit as ‘n konvensionele boek en die perd gaan jou afgooi.  Dis ‘n boek van die “Sehnsucht”.

En veral ‘n boek van die wiskunde, van ‘n “battery van metafore” (p. 72).

Soms vang slim haar baas, maar onthou: jy moet eintlik jou eie roman skryf!

En hierdie reaksie mag: die leser word immers direk aangespreek op bladsy 48: 

Die leser kan hom op hierdie stadium wel afvra wat die sin is van so ‘n moeisame – en laat daar geen twyfel oor wees nie, soms lukrake – rekonstruksie van ‘n gesprek tussen twee oorstuurde pasiënte” (p. 48).

Goethe, terloops, word flou vertaal: “Über alle Gipfeln ist Ruh” (p. 47).

Sloptopmerking: ‘n fassinerende leeservaring met vele verwysings, spel, filosofie wat jou noop om jou eie verhaal saam te stel. Of die Oubaas wel al hierdie dinge só kon verwoord, bly die miljoen-dollar-vraag.


Aanhangsel: 

1. Huldeblyk vir Adriaan van Zyl wat oorspronklik op Litnet verskyn het, kan hier gelees word: Huldeblyk: Adriaan van Zyl (1957-2006).

2. My resensie van Agaat deur Marlene van Niekerk wat aanvanklik in Die Volksblad verskyn het, kan hier gelees word.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]