Showing posts with label Drama. Show all posts
Showing posts with label Drama. Show all posts

Thursday, November 12, 2015

‘n Moderne Hamlet: ou wyn in nuwe vate




Michael Almereyda se Hamlet – met Ethan Hawke as Hamlet – is ‘n besondere interessante en relevante herbesoek van Shakespeare se klassieke drama. Die teks word verskuif na New York, meer spesifiek Manhatten met sy geel taxi’s en paranoiese gejaagdheid. Herkenbare bakens word ingespan om die storie te vertel, soos Times Square en die Guggenheim-museums met sy sirkels. Hier gil Ophelia haar waansin uit en die sirkels van die hel word geaktiveer.

Moderne tegnologie (selfone, TV-skerms, telefoonapparate, komputers en ‘n gedateerde faksmasjien) word ingespan om die storie te vertel. Die jong, wroegende Hamlet besoek ‘n DVD-winkel waar hy stapels en stapels films uitneem om iets te verstaan van sy Umwelt, teenoor die lesende Hamlet in die oorspronklike teks.

Hierdie film is alreeds in 2000 gemaak en analiseer die impak van modern tegnologie op ons lewens. Hamlet dwaal binne ‘n vlugkajuit en wonder oor die impak van sy dade, terwyl hy na ‘n film kyk.

Is dit toevallig dat die drama-binne-in-die-drama Mousetrap heet? James Dean, die silwerdoekheld soos Hamlet, bly tydloos aanwesig en glibber op ‘n TV-skerm.

Ophelia neem Polaroids wat sy weggooi, in plaas van blomme …

Die oorweldigende back-drop van die nooit-slapende New York was ‘n knap idee. Hierom is die jonge, tobbende Hamlet ‘n tegno-junkie. Die beroemde “to be or not to be”-monoloog word geparodieer deur ‘n Oosterse kommentator op ‘n TV-skerm wat beklemtoon dat ‘n mens se “being” altyd gedefinieer word deur ander mense. Met hierdie insetsel word daar verder gesuggereer dat ‘n mens se syn in die moderne wêreld verder bepaal word deur jou ekstensies in die tegno-wêreld.

Die jong Hamlet weifel tussen ‘n studie in die MBA-wêreld en filosofie. Hy keer terug uit die buiteland om te ontdek dat sy vader, die hoof van Denmark Korporasie, dood is en dat sy moeder (Diane Venora) getroud is met sy moordenaar, Claudius (Kyle MacLachlan). Die nuwe vader is ook nou in beheer van die maatskappy en die oorspronklike oedipale stryd word nou in moderne terme ook ‘n geldstryd.



Peter Bradshaw, ofskoon entoesiasties oor hierdie produksie, is wel skepties oor die voiceovers:

Moreover, Almereyda persistently makes the vulgar mistake of putting soliloquies onto a voiceover over a shot of the tight-lipped protagonist, as a kind of "thinks" bubble. It was the sort of thing Polanski did with his 1971 Macbeth: a disconcerting and unnecessary trick which you just don't need on film, and which lessens the visceral impact of speech.


Vir my is dit aanvaarbaar binne die styl-mélange van die produksie. Dit dwing die kyker om die monoloog van elke karakter weer aan te hoor. Met onderskrifte word dit ‘n besondere spannende spel tussen die Shakesperiaanse taal en die moderne vertolking van Hamlet met ‘n bokbaardjie, sonbril of ‘n tweegeveg wat gemoderniseer word met 'n elektroniese punteteller!

Daar is verder ‘n Elsinore hotel en ‘n laundromat waarin die vermoorde se klere gewas word. Is die laundromat nie immers binne die stadsbestaan die ruimte van sowel eensaamheid as ‘n soeke na kontak nie? Boonop is Sam Shepard, self ‘n gesiene dramaturg, die “ghost”!

Shephard se Buried Child (1979) is ‘n belangrike interteks, nes sy gekwelde lewe. Hierdie drama lewer kommentaar op die spanning in die nuklêere gesin. Hierdie pakkende aktiveer bloedskande op ‘n direkte wyse en aktiveer sowel Oedipus rex as Hamlet.


Hiermee wil die die filmmaker waarskynlik ‘n spanning uitwerk tussen Shakespeare en moderne dramas wat steeds bly teer op die Freudiaanse familieromanse wat terugkeer na Sofokles.

Met Liev Schreiber as Laertes beweeg hierdie kyker weg van die Mousetrap tot in Ray Connolly, ‘n reeks wat moderne kykers fassineer.

Die TV-leser, ten slotte, lewer kommentaar op ons samelewing in hierdie tye wat resoneer tot en met FMF#.

Is die moderne student nie ook in opstand teen die vaderfiguur (die regering) wat hom en haar versaak het nie?

The Mousetrap (Besoek 12 November 2015) is die kode met die leser wat moet speurwerk doen. Soos Agatha Christie se drama beskryf word as "the longest running play", is Hamlet presies ook dit.


© Joan Hambidge

Wednesday, September 30, 2015

Tsjechof In Kaapstad (Resensie: Die seemeeu)


Tsjechof In Kaapstad.‘Seemeeu’ bied ryke stof vir besinning

Resensent: Joan Hambidge


Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Klassieke tekste is klassiek omdat daar in so ’n teks ’n kern is wat die menslike lot getrou weergee.

Tsjechof, die Russiese dramaturg en kortverhaalskrywer (1860- 1904), het begryp dat die oorgang van een sisteem of lewenswyse na ’n ander onsekerhede oopmaak. Ons leef in die huidige Suid-Afrika eweneens in ’n tyd van oorgange en veranderinge.

Die agtergrond vir Tsjechof is Rusland. Is dit toevallig dat Arkadina reëls uit Hamlet voordra? ’n Teks waaroor psigoanaliste soos Freud en Ernest Jones lang analises geskryf het? Wat het Shakespeare te make met Tsjechof? Oor albei se tekste is die meeste rolprente klaarblyklik al gemaak. Tsjechof is deur Tennessee Williams en Raymond Carver tot storie verklaar. En sy invloed op die kortverhaal word eweneens sterk geregistreer.

’n Klassieke teks verduur teensange en parodieë wat binne ander kontekste die oorspronklike boodskap versterk. Christiaan Olwagen doen met Die seemeeu wat Pedro Almodóvar in All about my Mother (Todo sobre mi madre) gedoen het met A Streetcar Named Desire van Williams. Daar word in die teks gesoek na onbedoelde “openinge” of dalk ook na ’n rafel wat uithang sodat die weefwerk kan loskom.

Almodóvar fokus op genderspanninge wat ook deel was van Williams se lewe. Olwagen aktiveer vroulike histerie en neurose in sy weergawe van Die seemeeu. Hamlet se verhouding met sy moeder kom hier na vore nes Freud se werk oor die onderwerp.

Parodie is nie net opstuur nie; dit is eweneens ’n stylverskynsel wat die essensie van die oorspronklike teks herkontekstualiseer: onsekerheid, politieke onrus, die meedoënloosheid van tyd, die primordiale verhouding tussen moeder en seun.
Die teks waaier oop na ’n moderne konteks waarin die lyflike beklemtoon word. ’n Aktrise op ’n oefenfiets; ’n oorgewig akteur in ’n swembroek. (Lyflikheid sou vir Tsjechof tersaaklik wees; sy gesondheid was nie goed nie. En sy dood het eweneens al verskeie kreatiewe reaksie ontlok.)

Tsjechof die medikus het opgemerk die mediese beroep is sy eggenoot en skryfwerk die minnares – ’n komplekse siening oor die rol van skryf, wat dikwels vir hom gekoppel was aan ’n oorlewingstryd, ook in die finansiering van sy familie.

Boonop is hy modernisties in sy skryfwerk, soos Henrik Ibsen en August Strindberg s’n was. Sy tekste se strukture moet in hul eie terme verstaan en ontleed word.

Olwagen is in ’n post-post-moderne tydvak dan besig met ’n aweregse antwoord. Hugh Kenner verwys na hierdie ironie as ’n hangover van ons tyd.

Alles is reeds geskryf en juis om te fokus op die uitsigloosheid en noodlot word die Olwagen-teks ’n robuuste antwoord op die oorspronklike een.

In sy lewe het Tsjechof satires gepleeg en humoristiese stukke geskryf om aan die lewe te bly.

Hy sou in alle waarskynlikheid plesier gehad het aan die wyse waarop sy teks nuwe lewe kry met ’n balans tussen satire en erns. Misverstand, gefnuikte ambisie, melankolie, absurditeit, stiltes – die kenteken van alle groot dramas. En in Die seemeeu word dit tot ’n hoogtepunt gevoer. Met implisiete kommentaar op die skryfproses wat immer vir die skrywer binne ’n groter politieke konteks as ’n futiele, selfs nuttelose aksie ervaar word.

Wat bedui die seemeeu nie alles nie? Nina merk op dat sy aangetrokke is tot die meer asof sy ’n seemeeu is.

En wát dit alles simboliseer, sal van kyker tot kyker verskil. Nes die skote wat in die agtergrond opklink.

Hierdie teks neem jou terug na die betekenis van fin-de-siècle en waarom Anton Tsjechof, sensitiewe kunstenaar wat hy was, verstaan het dat simbole nie enkelduidig vaspenbaar is nie.

Saartjie Botha se vertaling is eweneens in die kol. Dit vra vir verdere besinning. Wat is uitgelaat en wat is saamgevoeg?

Bronne: Cornel West: Chekhov’s Legacy (2004); Janet Malcolm: Reading Chekhov – A Critical Journey. (2004).


Die seemeeu word van 19 tot 31 Oktober in die Baxter-teater in Rondebosch opgevoer. Bespreek by 021 685 7880.

Friday, August 7, 2015

Virginia: Wie is bang? Who's afraid?

 
I

Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Greta Pietersen & Wessel Pretorius.
Regisseur: Christiaan Olwagen. Vertaling: Saartjie Botha

Edward Albee se swart komedie Who’s afraid of Virginia Woolf? is bitterswart komedie. In Christiaan Olwagen se produksie – gebaseer op ‘n puik vertaling van Saartjie Botha –is die spieëlteks van kardinale belang. Albee / Mike Nichols se 1966 film staan teenoor Olwagen / Botha. Liz Taylor staan teenoor Sandra Prinsloo in ‘n kragtige vertolking van die grensoorskrydende Martha. Weyers teenoor Richard Burton; George Segal versus Wessel Pretorius; Sandy Dennis en Greta Pietersen.


Greta Pietersen & Wessel Pretorius, KKNK 2015

En Afrikaans teenoor Engels; New England teenoor (dalk) Kaapstad.

Die middeljarige egpaar se huweliksprobleme wat rondom ‘n leuen gekonstrueer is, word afgespeel teen die jong egpaar wie se huwelik eweneens op ‘n fantoom gebaseer is. Hierom is die jonger vrou naar. Sy kots die hele tyd waarskynlik om te bevestig dat sy wél regtig swanger was. (En weens die baie doppe wat sy drink.) In die pynlike onthulling is haar waarheid eweneens ‘n verloëning van dit wat vertroulik moes bly.

Omdat Martha oortree het deur die geheim met die gaste te deel, neem George wraak en verskillende speletjies word deel van hierdie proses. Woord en wederwoord. Wraak en weerwraak. In ‘n speletjie wat heet “Jag die gaste”. Die ander: ”Verneder die gaste”.

Die veen of moeras van ‘n huwelik word in drie bedrywe afgeskil met die onskuldige teenspelers wat meedoen aan die dronkmansgesprekke.

Alles speel af teen ‘n “goed-beter-beste-besete”-tempo. Die valse sekuriteit van die akademiese bestaan word ontmasker. Die ivy word van die muur afgeruk, by wyse van spreke.

Uiteindelik word die kind, daardie verbeelde kind van George en Martha doodgemaak.

En Sandra Prinsloo as die vervalle, histeriese, dronk Martha laat jou glo dat die ysblokkies in hul drankies hul eie trane is.

Alle waarhede is relatief, weet ons. Soms word daar geslaan en ‘n mens sou die teks ook as ‘n boksgeveg kon beskryf. Almal veg met mekaar. Albee en Olwagen.

Prinsloo en Weyers. Soms loop ‘n akteur buite die verhoog om of van agter in om te bevestig dat die reëls van die geveg oortree gaan word.

Alles word om twee asse gebou. George (Weyers) is historikus;  Nick (Pretorius) is bioloog. Die een is oud; die ander jonk. Geskiedenis teenoor wetenskap.

En die liedjie is ‘n mantra. Want daar moet leuens vertel word om die vrees te besweer.

Waarvoor is hierdie mense bang?

En waarom bly hierdie drama na soveel jare steeds relevant?  Is die drama – soos vele kritici al geskryf het – ‘n allegorie?

Wat is waar? Wat is wolhaar? Dit is uitstekende ensemble-spel en ‘n mens sal eenvoudig nooit weer Albee kan lees of die filmweergawe kan kyk sónder om Sandra Prinsloo se diepgrondige vertolking van ‘n alkoholiese, seksueel-gefrustreerde middeljarige vrou te onthou nie. Dieselfde geld Weyers as ‘n fyn sadis en ‘n doktrinêre afgeremde akademikus wat die rektor moet beledig. Uit weerwraak.

En die twee jong spelers hou die pas vol teen die twee gedugte figure wat al soveel keer mekaar se teenspelers was. Prinsloo is energiek, histeries – en vervalle. Nogal ‘n uitdaging om teen haar natuurlike skoonheid in ‘n ou vervalle “tramp” te speel.

Die agtergrond is vol subteks. Die bokkoppe. Trofees sonder enige simboliese waarde sou ‘n mens kon opmerk.

Christiaan Olwagen © Nasief Manie

Olwagen het die uitmuntende talent om ‘n ou afgeleefde stuk vol nuwe betekenis en implikasie te laai. Dikwels met ‘n enkele vinjet of toespeling (soos in sy Die seemeeu van Tsjekof). Ons wag nou op sy interpretasie van Tennessee Williams se A streetcar named desire.

Hy begryp die taal van neurose. Die bitter grein van verspeelde kanse. En met die vertaling van Saartjie Botha kan ‘n mens ‘n ver pad loop.

(Hierdie resensie het in Die Burger verskyn. 30.8.2015)

II

By ‘n tweede besoek aan hierdie produksie het ander aspekte van die produksie onder my aandag gekom. Die verwysing na Bette Davis, ‘n ikoniese filmkarakter en die sterk genderrolle wat in die dramateks deur Albee belig word.

Die jong vrou word gesien as iemand sónder heupe en Martha se drinkgewoontes kom eweneens onder die loep. Sy drink aanvanklik “vroulike” drankies, maar later word dit skoon alkohol. Vroue in hierdie stuk word as negatiewe figure uitgebeeld. Martha bely ook aan die twee jongelinge hoe sy “per ongeluk” vir George geslaan het in ‘n boksgeveg en hom verneder het voor sy kollegas. Boks is eweneens ‘n manlike sportsoort en ook hier betree Martha die terrein van die manlike orde en verneder sy haar eggenoot met wie sy getrou het. Sy het hom dus gekies; nie hy vir haar nie. Sy is eweneens die dogter van die rektor wat haar posisie verder versterk in ‘n verhouding wat rondom magsbasisse wentel.

George se mislukte roman  wat tydens die Walpurgisnacht-toneel onthul word, word vertel asof dit ‘n verhaal is wat met iemand anders gebeur het … Martha weer bring dit terug na hom: die sogenaamde ongeluk en dood van die moeder blyk op George se lewe gebaseer te wees. In weerwraak teiken hy Honey en konstrueer ‘n verhaal oor haar lewe, sy tweede roman wat hy skryf. Dit berus op die transgressiewe belydenis van Nick wat vertel dat haar vader ‘n prediker was en deur mense uit te buit, ryk geword het. Sy is dus die metaforiese goue gans wat eiers lê …

Honey is die muis wat opgeblaas het en die munte wat uit haar vader se buik val, is ‘n metaforiese voorstelling van wat George gehoor het.

Die spieëlteks is dus hier van belang. Belydenis word telkens ‘n verhaal of storie wat as wapen gebruik word om mekaar by te kom.

Van jag die gasvrou, jag die gaste tot verneder die gasheer word daar  volgehou met ‘n sadistiese spel. Hierom is daar bloed (nie water) onder die brug en die trofees van diere teen die mure is ‘n ikoniese voorstelling van hierdie psigiese jagproses wat regdeur die teks beweeg.

In die derde bedryf lewer Prinsloo ‘n kragtige solo-vertoning en ‘n pynlike monoloog. Sy dans met George se baadjie om haar en ‘n bottel in die hand. Ofskoon George haar voortdurend veminder en reduseer tot ‘n misoes, is sy verbind aan hom. Hier lewer die dramaturg genderkommentaar op vroue se afhanklikheid van mans wat hul domineer en verminder. Die sogenaamde “abusive relationship” en vroue se afhanklikheid van eggenotes ten spyte van onreg aan hul gedoen, word ontmasker. Teenoor Martha (Prinsloo) se monoloog word die liturgie deur George (Weyers) geparodieer om die “riool van ‘n huwelik” finaal as uitsigloos voor te stel.

Die kyrie eleison (God wees ons genadig) betekenis niks. Daar bestaan geen genade meer nie.

Daar is geen metafisiese hoop nie. Daar is geen redding of bestaan buite hierdie verhouding nie en die simboliese doodmaak van die kind, bring geen redding of verlossing nie. Hierom Martha se slotwoorde dat sy bang is …

Dit is ook relevant dat die dramateks beweeg van ‘n Saterdag na ‘n Sondag, tradisioneel ‘n religieuse dag binne die Christelike orde.

Vir George, die mede-professor en sy verwoeste vrou, Martha is ook hierdie simboliese dag leeg.


Niks is soos wat dit moet of behoort te wees nie: George is net ‘n mede-professor; sy vrou is kinderloos; die histeriese Honey het ‘n aborsie gehad; Nick is impotent wanneer hy met Martha verkeer …

Die laaste speletjie, “Om die kind groot te maak”, word eweneens vernietig deur George se brutale moord op hom.

‘n Mens word eweneens bewus van Freud se Totem en taboe (1918) wanneer jy na hierdie teks kyk. Indien die reëls van die samelewing oortree word, is daar bestraffing en die bokkoppe teen die mure dui op die drie figure wat deur George geteiken is.

En ‘n mens sou ook die teks kon lees as ‘n volgehoue spanning tussen Id, ego en superego. Dit word in die dramateks ook so voorgestel: daar is ‘n sitkamer, daar word opbeweeg na die slaapkamer en teen die muur is daar bokkoppe.

Die riool van die huwelik is die onbewuste van ‘n grimmige dramaturg wat skerp en fel kommentaar lewer op die huwelik, kinders, erflatings – en veral die wetenskap se onvermoë om ons uiteindelik uit ons ellende te verlos. Ons is uitgelewer aan ons herinneringe, falinge, drome …


Freud se lessenaar © Elena Colman

III

Agter hierdie produksie is daar Edward Albee se teks en die beroemde filmteks met Elizabeth Taylor en Richard Burton, 'n egpaar wat self 'n stormagtige huweliksverhouding beleef het.

Die filmproduksie van Mike Nicols is 'n sterk bekroonde teks wat in 2013 as argivale bewaringsteks vereer is deur die National Film Registry in die VSA.

Dit is indertyd vir 13 Academy Awards genomineer, ook in die kategorie vir beste film en vir beste regisseur.

Liz Taylor en Sandy Dennis het onderskeidelik as beste aktrise en beste ondersteundende aktrise met die louere weggeloop en ironies genoeg verloor dit teen A man for all seasons, wat vandag na 'n verkeerde keuse lyk.

Bette Davis en James Mason was aanvanklik die eerste keuse vir die rolle van Martha en George vir Jack Warner. Taylor het ongeveer 13 kg opgetel vir die rol as die histeriese, dronk Martha.

Gehore was met die Broadway-produksie geskok deur die vloekende taal en in die film is "God damm you" verander na "screw you".

Die dramateks het net vier karakters, terwyl die film 'n man en vrou van die roadhouse ook gebruik wanneer die karakters die huis verlaat en na buite beweeg.
Die film het meer as $10 miljoen in 1966 verdien en bly steeds 'n klassieke film. En dit word in die filmgeskiedenis beskou as die een van die min films waarin die volledige rolverdeling genomineer is vir Oscars.

Die film is eweneens geparodieer deur Mad en die Benny Hill-show, 'n teken van die enorme impak van die teks.

III


En wie is Edward Albee?

Awards
   1960: Drama Desk Award Vernon Rice Award: The Zoo Story
   1963: Tony Award for Best Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
   1967: Pulitzer Prize for Drama: A Delicate Balance
   1975: Pulitzer Prize for Drama: Seascape
   1994: Pulitzer Prize for Drama: Three Tall Women
   1996: National Medal of Arts
   2002: Drama Desk Award Outstanding New Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2002: Tony Award for Best Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2005: Special Tony Award for Lifetime Achievement
   2005: Academy of Achievement's Golden Plate Award
   2008: Drama Desk Award Special Award
   2011: Edward MacDowell Medal for Lifetime Achievement
   2011: Pioneer Award for Lifetime Achievement, Lambda Literary Foundation
   2015: America Award in Literature

Nominations
   1964: Tony Award for Best Play: The Ballad of the Sad Cafe
   1965: Tony Award for Best Author of a Play: Tiny Alice
   1965: Tony Award for Best Play: Tiny Alice
   1967: Tony Award for Best Play: A Delicate Balance
   1975: Drama Desk Award Outstanding New Play: Seascape
   1975: Tony Award for Best Play: Seascape
   1976: Drama Desk Award Outstanding Director of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
   1994: Drama Desk Award Outstanding Play: Three Tall Women
   2001: Pulitzer Prize for Drama: The Play About the Baby
   2003: Pulitzer Prize for Drama: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2005: Tony Award for Best Revival of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?

The Pulitzer Prize committee for the Best Play in 1963 recommended Who's Afraid of Virginia Woolf?, but the Pulitzer board, which has sole discretion in awarding the prize, rejected the recommendation, due to the play's perceived vulgarity, and no award was given that year.

Plays
   The Zoo Story (1958)
   The Death of Bessie Smith (1959)
   The Sandbox (1959)
   Fam and Yam (1959)
   The American Dream (1960)
   Who's Afraid of Virginia Woolf? (1961–1962)
   The Ballad of the Sad Cafe (1963) (adapted from the novella by Carson McCullers)
   Tiny Alice (1964)
   Malcolm (1965) (adapted from the novel by James Purdy)
   A Delicate Balance (1966)
   Breakfast at Tiffany's (adapted from the novel by Truman Capote) (1966)
   Everything in the Garden (1967)
   Box and Quotations from Chairman Mao Tse-Tung (1968)
   All Over (1971)
   Seascape (1974)
   Listening (1975)
   Counting the Ways (1976)
   The Lady From Dubuque (1977–1979)
   Lolita (adapted from the novel by Vladimir Nabokov) (1981)
   The Man Who Had Three Arms (1981)
   Finding the Sun (1983)
   Marriage Play (1986–1987)
   Three Tall Women (1990–1991)
   The Lorca Play (1992)
   Fragments (1993)
   The Play About the Baby (1996)
   Occupant (2001)
   The Goat or Who is Sylvia? (2002)
   Knock! Knock! Who's There!? (2003)
   Peter & Jerry retitled in 2009 as At Home at the Zoo (Act One: Homelife. Act Two: The Zoo Story) (2004)
   Me Myself and I (2007)
   At Home At The Zoo (2009)

Essays
   Stretching My Mind: Essays 1960–2005 (Avalon Publishing, 2005)

Bronne:
Who's Afraid of Virginia Woolf? (film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 4 Augustus 2015

Sigmund Freud. Totem and Taboo. Penguin, 1963.


© Joan Hambidge