David Lodge. Thinks...
Secker & Warburg, 2001. ISBN: 0 436 44502 6.
Resensent: Joan Hambidge
David Lodge is teoretikus en skrywer en waarskynlik een
van die mees vernuftige satirici van die sogenaamde akademika. Sy Changing
place was my eerste kennisname gelees tydens 'n buitelandse reis. Dit was
Duitsland en hierom, ja hierom sal ek altyd met vrolikheid kyk na daardie
humorlose land en wonder of ek ooit iets sou moes betaal vir die muurpapier wat
my lag afgeskeur het!
Sy jongste roman heet Thinks..., 'n intelligente analise
van kognitiewe denke (daardie soort denkrigting wat onder meer by Descartes
begin het en nadink oor kwessies of rekenaars onder meer 'n denke apart van hul
blikbrein bestaan het?)Die gegewe in hierdie roman is 'n resep vir 'n ramp (en
humor): Helen Reed is 'n skrywer wat 'n pos aanvaar aan Gloucester Universiteit
as hoof van kreatiewe skryfwerk. Haar man, Martin is pas oorlede, so sy is 'n
treurende weduwee en haar roman 'n sukses.
Hier ontmoet sy die Messengers, en meer spesifiek, vir
Ralph Messenger: vyftig jaar oud, super-seksueel ingestel, en hoof van Holt
Belling Sentrum vir Kognitiewe Wetenskap, eweneens te Gloucester. Sy terrein is
"artifisiële intelligensie" en soos die verhaal ontvou, besef die
leser waarmee Lodge besig is.
Sy twee karakters is in wese besig met 'n soortgelyke
proses: na 'n soektog en skepping van artifisiële werklikhede. Boonop word daar
baie knap geëksperimenteer met die vertelstyl. Dit wissel van Henry James se
"stream of consciousness" na derde en eerstepersoonvertellings.
So gelees word die roman ook 'n analise van presies welke
probleme die moderne romanskrywer te kampe kry. Die roman word 'n
"pretend-live" genoem: "And it is a bother. So much that in
reality a simply 'given' has to be decided when you're writing fiction. Facts
have to be represented by pseudo-facts, laboriously invented and painstakingly
described. The reader must register and memorize these facts in order to follow
your story, but they are flushed away almost as soon as the book is finished,
to make room for another story. Before long nothing remains in the reader's
memory but a name or two, a few vague impressions of people, an indistinct
recollection of the plot, and a general sense of having been
entertained..." (p. 84).
Lodge hou die verskillende drade van sy komplekse
vertelling goed vas. Daar is verskeie kleiner drade wat vaskoek soos dat Mevrou
Messenger insgelyks besig is met haar eie plesiere en dat die skrywer Helen
Reed se oorlede eggenoot minder getrou was. Trouens, sy spesifieke aanleg in
die bed vind sy terug in 'n jong student se kreatiewe porfolio!
Lodge gebruik benewens konvensionele vertelstrategieë ook
e-pos, joernale en 'n soort direkpraat-op-rekenaar-tegniek om sy verhaal meer
lewendig te maak. Die aflaai van kinderpornografie (wat tot die tragiese einde
van 'n karakter lei) en die wederregtelike lees van 'n private joernaal, word
ook ingespan om die vertelling sappiger te maak.
Daar is eweneens slim verwysings uit die media (soos die
geval Bauby), hoe siektes die moderne mens steeds teister ten spyte van die
gevorderde wetenskap en hoe ons emosies steeds primitief bly. Henry James se
lang romans oor buite-egtelike verhoudings en die privaatheid van binnespraak
word ook gebruik om die vertelling op te helder.
Die leser kan dit as 'n satiriese liefdesverhaal benader;
of as 'n slim analise van die invloed wat rekenaars op ons denke en bestaan
het. Op 'n ander vlak is dit ook 'n briljante studie van die narratologie.
Die titel aktiveer die fotoverhaal-tegniek waar karakters
in wolkies dink en praat...
Dis 'n fantasties opwindende en briljante roman wat 'n
leesplesier is. David Lodge se romans is nooit net 'n roman nie, omdat hy 'n
mens ook iets leer van 'n bepaalde onderwerp.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]