Showing posts with label Clinton V. du Plessis. Show all posts
Showing posts with label Clinton V. du Plessis. Show all posts

Wednesday, November 6, 2019

Resensie | Clinton V. du Plessis – Verslag (2019)

Clinton V. du Plessis - Verslag. Roepman Uitgewers, 2019. ISBN 978 06208 3540 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Verslag is klaarblyklik die laaste digbundel van Clinton V. du Plessis wat reeds tien bundels gepubliseer het. Hierdie jongste bundel val in drie afdelings uit: Lewe, Werk en Dood.

Du Plessis is ‘n buitestaander. As bruin digter het hy hom deur die jare opsetlik eenkant gehou. Hy het onder andere geweier om gekanoniseer te word deur Brink in Groot verseboek

Luc Renders noem hom die "evangelis van die nihilisme." Dalk is hy eerder ‘n "buikspreker vir die stemloses?"

Op die voorblad van die jongste bundel is daar ‘n sleutelgat waardeur ons loer: Moslem-kodes, die sekelmaan, ‘n man met ‘n pet, draadrolle wat inbrekers moet keer, wasgoed wat wapper, o.a. Die treinspoor in die heelal wat in die slotafdeling verklaar word: die laaste vertrek. Op die agterblad is daar ‘n sleutel waarmee die leser by wyse van spreke die bundel moet oopsluit.

Die eerste afdeling ruk aan die hart met ‘n slim “Ode” wat praat met Jacques Brel se “Marieke”. Daar is dikwels verwysings na musiek in die bundel – Tom Waits, Bruce Springsteen, Joan Baez, John Lennon, o.a. – en gesprekke met mede-digters. 

In “Karretjie” (17) lees die weerlose mense die seisoene: die bloekom gee koelte en die doringboom vuur.

Die lotgevalle van gewone mense - daardie mense wat stemloos is  word hier stemhebbend gemaak. Taxibestuurders in Stellenbosch, selfmoordbommers wat tydelik op televisie aandag geniet en dan verdwyn, die ellendes van mense wat blootgestel word aan human trafficking of silikose, kom in die tweede afdeling aan bod. 

In die laaste afdeling vind ons lykdigte en klaagsange oor bekende figure – soos Dulcie September, Ryk Hattingh, Tom Gouws – en verse wat die impak van die dood op die digter se lewe registreer. In “Due diligence” (116) vra hy:

Is die dood krediet en die lewe die debiet?

Tereg heet 'n gedig "Oop eindes" (101) wat vrae vra oor verskillende weergawes van rou.

"Noodberig" (98) is 'n parodie van Oom Jan F se "Dis al":

Dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n Twitter-oomblik jou
verdrinkte lykie onthou
dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n nanosekonde rou.

Die digter is ‘n boekhouer wat hier beelde uit sy werk gebruik om die proses van skryf te verduidelik.  

In “Geswore waardasie” (87) word daar in gesprek getree met Lucebert se bekende stelling dat alles van waarde weerloos is. Die digter ontgin dan die wêreld van die eiendomsontwikkelaar en wat waardasie behels. Die ingeboude ironie is natuurlik dat die waardeerder werk met klousules en lêers. Die digter is egter besig met 'n andersoortige waardasieproses en risiko’s.

In "Bossies" (29) word TT Cloete aangespreek. In Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust, 2017) parodieer hy Cloete se "God die digter".

God: Die rekenmeester

daar is meer poësie in die balansstaat
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die neerpen van syfers
die optrek van 'n proefbalans
in die karma van debiet en krediet
in die aansuiwering van foute met joernale
in die syfervoer op sleutelbord is daar baie meer ritme
in die kwatryn van sekonde wat pas in minuut
wat pas in uur wat pas in dag
die heelal is deur 'n rekenmeester gemaak.

So klink Cloete se vers:


Chile is deur 'n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak


II
Daar is onthoubare verse soos:

Aksioom

Die liefde is soos soms algebra
oënskynlik bo jou vuurmaakplek
totdat jy die beginsels onder die knie kry

dan word dit ‘n opwindende soeke na
ontknopings, oplossings, ontdekkings
en telkens dié resultaat: ek + jy.

(118)

Eweneens vir die onthoulys:

“Due diligence”, “Oop eindes”, “Noodberig”, “Geswore waardasie”, “Binne”, “Selfmoordbommer”, “Salig”, “Sleur”, “Déjà vu”, ”Gebed”, “Bossies”, “God se aap” ,”Dop” .

Soms is die verse te uitgesponne – vir hierdie leser se smaak – en personifikasie in “Wending” is steurend.

Wending

Die jaar sit sy wolmus op
krap in die hangkaste rond
trek sy handskoene al in die herfs aan
en begin oor die komende winter tob.

(117)

Die digter het deur die jare sy man gestaan en sy bundels self gepubliseer. 

Daar is ‘n handvol sterk gedigte in hierdie bundel. Die boek word opgedra vir jou. Vir die leser dus.

Bestel van Roepman Uitgewers teen R200 by clintonvduplessis@gmail.com


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, August 2, 2014

Clinton V. du Plessis – Rangeer (2014)


Clinton V. du Plessis – Rangeer. Ama-Coloured Slowguns, 2014. ISBN 978 062055604 0
Resensent: Joan Hambidge

Clinton V. du Plessis hou hom buite die kanon. Hy het onder meer pertinent geweier om deel te wees van Groot verseboek en hiermee ’n literêr-politieke stelling gemaak. Een wat ’n mens kan begryp, maar tog is dit jammer dat die digter homself buite die bloemlesing hou. En die mag van bloemlesings is nou onlangs bewys met Die gewildste Afrikaanse gedigte: Afrikaanse lesers hou by bekende verse – dit wat reeds in die ou verseboeke staan.

Nou onlangs het Luc Renders, ’n gesiene Vlaamse kritikus, by die ALV-kongres gewys op die unieke posisie van Du Plessis binne die Afrikaanse letterkunde. Rangeer is ’n selfpublikasie, met ander woorde, dit is nie deel van die bemarkingsproses van hoofstroomuitgewers nie. Sulke digters kan dikwels buite in die koue bly. Of tog relevante kontrastemme wees. Bykans soos sommige filmmakers – ek dink hier aan Jim Jarmusch, wat waarskynlik sy beste werk as selfvervaardiger gelewer het.

Die voorblad is van twee treine (tussen stasies?) met ’n verweerde geboutjie in die agtergrond. Dit blyk die Hilton-spoorwegstasie in KwaZulu-Natal te wees. Op die agterblad word die bundel aangeprys deur Fanie Olivier, self ’n digter wat hom verkeerdelik buite die kanon bevind, weens ’n lang verblyf in Pole. Olivier word onderskat.

Du Plessis se sewende bundel word opgedra aan sy vader. In die tyd van stoom, steenkool, stasies en stories. Met ander woorde, daardie tyd vóór die internet, Facebook, sms’e – toe mense nog in lewende lywe kontak met mekaar gehad het.

Dit is gedigte van onvervuldheid en nostalgie, na ’n verlange om soos ’n losskakel “knap vir die kantlyn (te) kon skop” (21).

Die verse is grinterig en rou. Dikwels handel die gedigte oor ’n persoon wat terugkyk na die onregte van apartheid en die daarmee gepaardgaande ellendes. In “Surplus” (77) word die lotgevalle van die swart migrasiewerker ondersoek, met die leuens van vakbonde en mynbase wat net die helfte van ’n salaris inbetaal:

’n man sonder ’n werk
is ’n arend sonder ’n vlerk

hierdie keer is hy
deur die skerpkant van die lewe besny. (78)

Hierteenoor gaan “Heelal in my tuin” (79) oor die misterie in die eenvoud van die natuur:

Die tuinslak gaan, sonder verset, sy gang.

Die verse werk in die algemeen met ’n beeld-en-toepassing-konstruksie.

Sommige verse sou waarskynlik met ’n tweede en derde snoeiingsproses meer vaartbelyn kon wees. Maar ’n handvol verse, soos “Smeul” (wat volledig aangehaal word), vergoed hiervoor:

Smeul

Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed
niks minder, niks meer,
met elke spoorweghuis
kom die stoof, ’n Welcome Dover
swart, op vier pote, kom katstaan hy met
rug geboggel
die kaggel vol,
wyd was hy, met plek vir vier potte,
’n ketel vir koffie- en waswater,
’n oond vir bakbrood,
gemaak vir gesinne,
winters kon ons maklik vier-vyf
voor hom inskuif
op die lang bank,
dit was voor televisie
ek kon fabels in die vlamme lees
sien hoe die kole rooi gloei
om later tot as dood te bloei
soms het ek só gebrand om
weg en uit te kom,
baie kere was daar net brood
en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood
met uitgebraaide skaapvet
maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,
eendag het ma die grammofoon verkoop
met die hele hoop
plate waarna ek so graag geluister het,
dit het my hart gebreek,
fyn, soos antrasiet,
ek het maande lank daaroor getreur
eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:
hulle móés net oorleef,
soos daardie vasberade vuur, in die kaggel
elke uitputtende dag,
aanhou brand,
aanhou smeul,
vir ons.

Die digter ondervang waarskynlik baie van die struktuur-besware van ’n kritikus soos die uwe. Hy noem homself “die minor poet met geen major literary ambitions” (“Aan die gatkant van die maan”, 44).

Die skryfproses word deur die digter gesien as ’n dobbel met 26 letters (34) en die liefde word dikwels vanuit ’n siniese posisie besigtig.

Die digter het ook ’n sterk satiriese blik op die “nuwe tye” waarbinne ons leef, soos beskryf in “Durban” (36):

ons land is ’n bomgeskokte troepie
met post-traumatic stress disorder.

In “Spare parts”, ’n ars poëtiese vers, voel ’n mens dat die digter waarskynlik self die beperkinge van sy digterskap insien?

maar die digter bly die ewige appy
en die volmaakte vers luier onhoorbaar ver
bly buite bereik, soos die verruklike vy-ryp Miss November
teen die muur, op Pirelli-tyres se kaalbaskalender. (87)

’n Mens moet die spore in die bundel noukeurig volg. Treinspoor en die spore van herinnering word teenoor mekaar geplaas.

’n Hoogs vermaaklike vers is die satiriese gedig oor Antjie Krog se voorlesing op Stellenbosch en hoe haar gebruik van kragwoorde die toehoorders ontstig het. Krog die dramatiese performer word hier vanuit ’n buiteblik beskou en raak opgesom:

jy vergeet dat jy nog geraak en geroer kan word,
sy het unlady anne like, voortgefok
soos ’n (k)aktivis van formaat
voortgevers, die moer
op daardie kampus tot in sy fondamente geroer
met woorde, soos met kak,
die taalbulle ontstig, verloopte dogmas oopgebeitel:
kuns & kultuur
(…) (111)

“Nuwe alfabet” (128) praat terug met Antjie Krog en Dan Roodt se aftelverse, en die praatvers “Korporatiewe Joernaal(Inskrywings)” (134) gee ’n blik op die impak van kapitalisme op die psige – en eindig:

die hemel is ’n maatskappy sonder winsbejag.

En in “E-pos aan Ulrike Meinhof & Andreas Baader” (139) word hierdie twee figure ’n ikoon vir die spreker:

kapitaal is ’n belegger sonder ’n gewete
kom laat die bomme blom! (139)

Daar is ’n aweregse gesprek met Koos Kombuis wat heet: “(Nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)” (132) en op romantiese versugting dui:

& elke serious digter wil tussen alles net nog ’n laaste stunning
gedig skryf
wat sal bly voortbestaan lank na die onafwendbare aftakeling
van hierdie lyf.

Romantiek bruis onder nihilisties-siniese verse. Ingrid Jonker se “Die kind” word herdig in “Die taal” (119) en “’n Nag in die winter” (112) is ’n pastiche van “Winternag”.

Daar is eweneens ’n speelse aanslag:

Klein kwatryn

daddy is op cat
mammie dink sy is hopeloos te vet

sussie is op die pil
& boetie wys braaf op mxit sy tril. (122)

In “Oor gedigte” (120) word die invloed van die digkuns debunk en bevestig. Koos Kombuis en Bukowski is kennelik twee ghoeroes vir die digter (“Digter incorporated”, 105). Nes Bruce Springsteen. In die nawoord, “Gedigte, talk show hosts & reality shows”, karteer hy die digkuns vanuit die postmodernisme.

Soos dit ongelukkig dikwels gebeur in selfpublikasies, is daar ’n paar hinderlike foute wat uitgestryk kon gewees het:

Hempde in plaas van hemde (17)
’n spasie voor die komma (81)
Kulturatti in plaas van kulturati (115)
Brummer in plaas van Brümmer (131).

Wanneer die digter wél “windgat sy sê met ’n spin en dice (te) kan sê” (87), soos in ’n handvol verse hier bo uitgesonder, raak hy ’n mens. Party verse kon gebaat het by nog ’n afwerking of herdigting.


Eindnota


Kort biografie afgetrek van Versindaba

Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee.

Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland.

Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock, waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet.)