Showing posts with label 2021. Show all posts
Showing posts with label 2021. Show all posts

Sunday, March 6, 2022

Resensie | De Waal Venter – Vrugbeginsel | Naledi, 2021

De Waal Venter – VrugbeginselNaledi, 2021. ISBN: 9781928530855 

De Waal Venter se werk as vertaler van Pablo Neruda, Octavio Paz en Tomas Tranströmer het die Afrikaanse letterkunde verryk. Hy is tereg bekroon met ‘n Akademie-prys vir sy vertalings van Neruda in 2020 wat heet Vandag is boordensvol (2017).

 

Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. 

 

Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ‘n komplekse een.

 

Die vorige bundel se titel Oop sirkel (2017) vra vir ‘n voltooiing deur die leser.

 

In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant.

 

So open die bundel se programvers:

 

Verwagting

 

Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.

 

*

 

Ongesien in die donker

het selle meioties van mekaar geskei;

een van hulle gaan ’n mens help maak.

 

*

 

Vroeër vanoggend 

het dit alles gebeur,

en dit is nog aan die gang.

Gebeure drom saam

voor die toe deure

van die komende sekondes. (9)

 

“Haikoe” (11) som dan ook die skryfproses op van hierdie digter:

 

Oop hand kelkblare

hou die vrug se beginsel –

vrug met blom in hom.

 

“Die druiwekorrel wat regtig bestaan” (17) aktiveer die gesprek met Zeno. Hierdie bundel sit vol paradokse, soos ons lees in die gedig oor Galileo Galilei en die “eppur si muove” (19) wat eindig met die akkedis wat haar pensie skuif oor die warm klip:

 

Dalk praat sy gesellig

met die swanger aarde

en eet die planeet se wiskunde

soos muggies.

 

Wiskunde en filosofie; dialektiek en paradokse. “’n Onbevredigende romanse” bekyk die rekenkunde van verwerping én die ingeboude pyn van verhoudings (20).

 

In “Haarfyn uitgelê” (25) besin die digter oor fyn onsigbare drade tussen mense sedert die Grieke in die agora en die hede waar die heelal erge vergifting en ekologiese probleme moet trotseer.


Dit word dan uiteindelik alles rommel deur die eeue (27).

 

Dante, Fernando Pessoa en Tranströmer is in die tweede afdeling beduidende gespreksgenote. “Bure in die antroposeen” (48) speel in op Toon van den Heever, Marais en Van Wyk Louw en hoe hierdie digters verwonderd sou wees oor hoe die wêreld verander het. Die Internet, is nou ‘n elektroniese koningin.

 

“Toepaslike soekwoord” (50) wys op die spreker se soeke na vervulling. Maar die soekwoord bly helaas uit. Die digter sal ‘n woord vir sy melancholie moet vind.

 

Geur is dan in ‘n volgende gedig die verganklikste van alles, maar word die langste onthou. In die derde afdeling vind ons aweregse humor soos “Ons weet nie”:

 

Niemand weet

presies wat die sintaksis is

wat bome gebruik wanneer hulle gesels

net voor ‘n storm … (59).

 

Die digter met al die slim verwysings verwys na sy welverdiende graad in onkunde (60).

 

Jammer dat Krige se naam ‘n kleinletter het op bladsy 70.

 

In die slotafdeling spreek die digter sy muse aan en dit word dan ‘n toespeling op Pessoa wat verskillende personas geskep het. Hier is daar ene Yanni Euterpe. “Weemoed is delikaat soos die begin van ‘n droom”, lees ons op bladsy 91. Die verwysings na die tamatie en ui speel in op Neruda se bekende verse oor groentes.

 

Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. “Die labirint van eensaamheid” is immers een van Paz se bekendste verse.

 

So vertaal hy Paz:

 

Twee lywe (Dos cuerpos)

Octavio Paz 

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee golwe

en die nag is ’n oseaan.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee klippe

en die nag is ’n woestyn.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer wortels

vervleg in die nag.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer messe

en die nag is weerlig.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is twee sterre wat val

in ’n leë hemelruim.

 

Uit: Libertad bajo palabra, 1949

(Octavio Paz | Drie gedigte in-Afrikaans vertaal deur De Waal Venter. Besoek 22 Februarie 2022)

 

Die stylgrepe vind die leser terug by Venter: die hier-en-nou en ‘n aweregse blik op die werklikheid met ‘n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie.

 

Die verwysing na Uys Krige, daardie manjifieke vertaler, gee baie sleutels vir die leser. Soos Lorca se oënskynlik eenvoudige verse …

 

Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, February 4, 2022

Filmrubriek | The power of the dog | 2021

The Power of the Dog, ‘n Jane Campion-film, word bemark as ‘n Western-psigologiese drama. En dis presies wat hierdie pakkende film behels. 

Die film oes lof in oorsee en na haar ongelooflike rolprent The Piano (1993) sit sy nie ‘n voet verkeerd nie. Gebrek aan kommunikasie, stilte – met hierdie teks, vertolk deur Harvey Keitel (as George Baines) en Holly Hunter (as Ada McGrath), het Campion ‘n standaard geskep vir talle filmmakers na haar. 

 

The Power of the Dog ontgin ook onvervuldheid en stiltes. Die hele kwessie van homoseksualiteit in ‘n gerepresseerde samelewing kom hier aan bod. In hierdie opsig behandel dit dieselfde kwessies as wat Hennie Aucamp in “Vir vier stemme” (Volmink, 1981) ontgin via die boeregrap. Roger Austen in sy studie Playing the Game wys daarop dat die gay-persoon in konvensionele tekste geoffer word en doodgemaak word deur die omstandighede wat nie gay-identiteit aanvaar nie. 

 

Die titel verwys na Psalm 22:20, NIV: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

Peter, die jong seun van Rose, word deur Phil gespot, omdat hy verwyfd is en lispel. Dit is ook Peter wat die beeld van die hond in die berg raaksien en hiermee sy eie krag ontgin. Hy neem later wraak op Phil wat hom afgeknou het en verneder het voor ander.

Phil se broer, George, trou met Rose, tot die saggryn van Phil. Dis egter die seun Peter wat later onthul dat sy vader selfmoord gepleeg het. Phil boelie die jong Peter, wat egter nie heeltemal onskuldig is nie. Hy loer Phil af wanneer hy kaal swem en ontdek ook sy weggesteekte porno. Ons sien hoe hy ‘n hasie in sy kamer dissekteer; tot sy moeder se ontsteltenis. Sy wend haar na alkohol.

 

Phil is hatig en verminderend oor haar, en woedend wanneer sy die beesvelle aan Indiane verkoop. 

Phil is intelligent & in die klassieke tale opgelei aan Yale, maar is vuil en slordig. Hy weier ook om te bad wanneer daar besoekers oorgenooi is vir ete. George nooi sy ouers en die goewerneur en sy vrou om Rose te ontmoet.

 

So intimiderend is Phil dat Rose nie kan klavierspeel nie. Haar tong is uitgesny, soos Holly Hunter s’n. Die klavier is hier ‘n simbool van kultuur, wat afgewissel word met Phil se naakswemtonele en sy masturbasie met ‘n sakdoek van Bronco, sy oorlede vriend en mentor, wie se saal ‘n totemplek inneem in die stal.

 

Hy laat Peter ook daarop sit; ‘n prospeksie van dit wat kom. Die moeder is bewus van die verleiding van haar seun. Sy probeer selfs keer dat hy weggaan met Phil.

 

Phil maak ‘n lasso vir Peter, ‘n soort toenadering en seksuele simbool, uit repe vel van die dooie koei waarop Peter afgekom het tydens ‘n solo verkenningstog. Die koei is waarskynlik dood as gevolg van ‘n antraks-infeksie. Peter het handskoene aangetrek voor hy ‘n stuk van die koei se vel afgesny het. (Hierdie toneel moet in jukstaposisie geplaas word met die handskoene wat die moeder in ruil ontvang van die Indiaan se kind as geskenk en betaling en waarmee sy selfs slaap.)

Wanneer Peter en Phil ‘n hasie doodmaak, beseer Phil homself macho sonder handskoene. Hierdie oop wond op sy hand veroorsaak dat hy infeksie kry wanneer hy – omdat Rose die sy velle aan die rondreisende Indiane weggegee het – van die besmette vel gebruik om vir Peter die lasso te vleg. Hy bely ook sy gevoelens oor Bronco vir Peter. Peter op sy beurt, bely dat hy sy vader – wat homself gehang het – moes lossny.

 

Phil word egter siek weens die besmette vel en hy sterf. Voor sy dood probeer hy die lasso vir Peter gee, maar in sy deliriese, koorsige toestand kan hy hom nie opspoor nie.

 

Dit is beduidend dat die jong Peter nie na die begrafnis gaan nie en dan die Bybelteks lees wat die titel aktiveer: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

‘n Vorm van boetedoening?

 

Hy plaas die lasso (steeds met handskoene aan) onder sy bed waar dit uit die oog is – soos Phil se seksualiteit? Hy kyk deur die venster en sien sy moeder en stiefvader: glimlaggend en gelukkig. Sober & “gesond”.

 

Die “bose” homoseksualiteit is besweer. Die onderliggende boodskap van die film is ontstellend; homoseks word bestraf.

In die hande van ‘n mindere regisseur sou dit nie oortuig nie, maar Jane Campion vang die tydsgees (onthou dis Montana, 1925) goed vas. Nes Aucamp se “Vir vier stemme” eweneens die tragiek van ‘n gemeenskap se vooroordele ontgin en wat lei tot die selfdood van Freddy. 

 

By Aucamp word dieselfde verhaal vanuit vier perspektiewe vertel: 'n Grap is 'n grap; Aan alles moet 'n einde kom; En hadde de liefde I; En hadde de liefde II; by Campion is daar afdelings wat wys op ‘n gedistansieerde, amper romanagtige vertelling wat in hoofstukke afspeel.

 

Beide tekste gebruik die Bybel met skuld en boetedoening. Beide tekste is briljant. Campion het die draaiboek geskryf wat gebaseer is op Thomas Savage se gelyknamige roman wat in 1967 verskyn het.

 

Teenoor die klavierspel is daar die klank van ‘n banjo. Phil wat steeds musiek kan maak; Rose wat nie meer kan speel nie.

 

Die landskap is hier sterk aanwesig as ‘n krag. 

 

Bronne:

 

Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Tersaaklike rolverdeling:

 

Benedict Cumberbatch as Phil Burbank

Kirsten Dunst as Rose Gordon

Jesse Plemons as George Burbank

Kodi Smit-McPhee as Peter Gordon

 


 © Joan Hambidge 


Tuesday, December 28, 2021

Gedig | Joan Hambidge - Biskop Tutu (1931 – 2021) | 2021

Almal huldig jou tans om vrede,

vir die rol by die WVK as Dexter

in die oopmaak van ‘n wond.


Die insnyding word dehiscensie;

wondnate en suture oopgekrap

in ‘n land van skedelbene sinister.


Hoe jy telkemale versteld was,

selfs in trane uitbars oor dié stank,

dít onthou en registreer die optekenaars.


Dit is in jou verbintenis met die Dalai Lama

waar jou ware aard na vore kom:

die Weste versoen met die Ooste.


“Christus”, meen jy, “dié hoogtepunt

van God se openbaring aan ons” -

dalk nie die enigste weg en waarheid?


“Hoe kan ons namens God besluit?”,

sou jy later opmerk, want daar is ander

openbarings soos die epifanie, onverwags,


van onsigbare verbintenisse tussen ons,

die lewendes en die vertrekkendes

na daardie ruimte sónder letsel of wond.


© Joan Hambidge


Tuesday, December 14, 2021

Resensies | Wilna Adriaanse – Vlug | Tafelberg, 2021

Wilna Adriaanse – Vlug. Tafelberg, 2021. ISBN: 9780624092605

Resensent: Joan Hambidge

 

Die speurverhaal het enorm belangrike vroueskrywers opgelewer soos Agatha Christie, P.D. James, Patricia Cornwall, Ruth Rendell, o.a. Ook hier te lande het vroue al hoe dringender begin stem dik maak in hierdie oorspronklike manlike ruimte. Christie het twee bekende speurders geskep: Hercules Poirot en Miss Marple as ‘n antwoord op Edgar Allan Poe dalk? Wanneer jy Christie stip lees, is dit opvallend hoe sy werk met die identiteit van dubbelspel. ‘n Voorgee wat ontmasker word.


Mense wat dikwels wegvlug van ‘n verlede …

 

Wilna Adriaanse het ‘n roman geskryf met die titel Dubbelspel. Tydens die lees van haar jongste roman Vlug kyk ek na die Deense reeks, The Killing met ‘n vrou as speurder. Sarah Lund (vertolk deur Sofie Gråbøl) ondersoek die dood van die jong vrou. Daar is vele red herrings en die kyker word op verskeie dwaalspore gelei. Hierdie uitsteltegniek maak van die reeks iets uitsonderliks en jy word voortdurend ge-dupe. Musiek word eweneens ingespan in hierdie series van  Søren Sveistrup wat in 2007 begin het, om die spanning te verhoog.

 

In Murder by death word die kyker deur ‘n slim regisseur aan die neus rondgelei. Dit gaan hier om al die vals leidrade en dan ten slotte ironiese kommentaar oor inligting wat nooit van die begin af aangebied is nie. Bekende figure tree hier op soos Colombo en Truman Capote is op sy stukke in hierdie Neil Simon - Robert Moore-produksie (1976).

 

Speurverhale in boekvorm het nie musiek wat help om sub-teks te skep nie. Dus: die skrywer moet ander tegnieke inspan.

 

Adriaanse skep spanning met Milla Roux, ‘n veearts wat werk by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Sy vlug letterlik van haar verlede waar haar man en kind doodgeskiet is in ‘n mislukte motorkaping. Die twee wêrelde (hede teenoor verlede) en die nuwe geweld wat sy ervaar met ‘n oorlog en opstand van rebelle, maak haar psigies weerloos. Die gewonde Milla vlug met dokter Graham Saunders en drie sjimpansee-wesies.

 

Inderdaad: diereregte, motorkapings, Kongo (DRC), Dokters sonder Grense, verledes waarvan gevlug moet word, skep hier intrige en intense spanning. Ons beweeg vorentoe, maar terselfdertyd, as lesende speurders, ook agtertoe om leidrade op te tel. In hierdie tyd kyk hierdie leser na die Crime & Mystery-kanaal met ‘n program oor ‘n vrou wie se sjimpansee haar beste vriendin takel en bykans doodmaak. Sy doen ‘n ooginfeksie op, word blind en na sjirurgiese konstruksie word sy ‘n aktivis teen die aanneem van sjimpansees. Haar vriendin, die “moeder”, van die dier sterf egter. Dit wys hoe relevant en eietyds Adriaanse se roman is.

 

En een van Adriaanse se spanning-kurwes is dat sy die werklikheid en wetenskap aanwend om die verhaal en plot te dryf. Haar karakterisering is eweneens geloofbaar.

 

Milla is menslik. Sy is geen papiermens nie. Haar emosies is eg en die trauma word oortuigend vertel. Haar teenspeler of antagonis, het eweneens ‘n verlede en ofskoon hy haar “redder” blyk te wees, het hierdie vroulike hoofkarakter agentskap. Sy dikteer byvoorbeeld dat sy meer van hom verlang.

 

Graham Saunders wat behoort aan die organisasie Dokters sonder Grense, is meer as die dokter of dr Marius Hugo in ‘n populêre liefdesverhaal. Adriaanse skep ‘n balans tussen die kodes van die liefdesverhaal en die speurverhaal; sonder dat eersgenoemde steurend inwerk op die leser wat spanning ervaar en hoop hulle sal oorleef.

 

Die roman is besonder helder en konkreet geskryf: ‘n mens beleef die werklikheid en die landskap. Jy kan die impak van sowel die psigiese as fisiese pyn voel. Aftakeling word eerlik weergegee en verflenterde klere werp lig op ‘n psige wat uitmekaar val. Uitstekende besonderhede oor kos en motors en septisemie.

 

Adriaanse se roman beweeg buite die grense van die konvensionele speur- en spanningsverhaal, omdat dit kommentaar lewer op oorlog, diereregte en ons bestaan in Afrika, wat vanuit ‘n vliegtuig na ‘n groen smarag lyk.

 

Die impak van trauma word eweneens goed beskryf, met al die wisselende emosies so bekend aan diegene, wat al die impak van hierdie lyding moes ervaar.

 

Van trauma (en die nagevolge) kan jy helaas nooit weg-vlug nie. Dit bepaal wie jy is. Alice in Wonderland is ‘n ingebedde kode. En ‘n slim toespeling op die sogenaamde AIWS-sindroom (Alice in Wonderland-sindroom), ‘n neurologiese toestand met visuele verwringings, ‘n tyddistorsie en vreemde liggaamservaring, neem die roman na ‘n ander vlak.

 

Met hierdie kennis, weet jy dat Wilna Adriaanse begryp hoe om die letterkundige speurder op nog ‘n roete te neem. Net soos Agatha Christie, die meester, se verhale dit ook by uitstek kon doen. En steeds doen.

 

In “The purloined letter”, waaroor Lacan en Derrida uitgebreid geskryf het, staan die gesteelde brief reg voor jou en hierom kan jy dit nie sien nie. By vroue-speurverhaalskrywers word leidrade meestal weggesteek.

 

Die motto “Diaspora Blues” van Ijeoma Umebinyuo raam hierdie roman goed.

 

 

Diaspora Blues 

Ijeoma Umebinyuo

 

So,

here you are

too foreign for home

too foreign for here.

never enough for both.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Resensie | Nachoem M. Wijnberg – Liedjes/Liedjies | Imprimatur, 2021

Nachoem M. Wijnberg – Liedjes / Liedjies (Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-95640-6 

Resensent: Joan Hambidge

 

Uit die hoek van jou oog. Aweregs. Onverwags. So kan ‘n mens hierdie pakkende bundel van Nachoem M. Wijnberg beskryf. Liedjies heet dit en gepubliseer deur Imprimatur wat naam maak as ‘n belangrike uitgewershuis.

 

Die digter is bekroon met VSB Prys (2009) en die gesogte P.C. Hooft in 2018. Hy het al opgetree by Poetry International en sy werk is gewild in Nederland.

 

Die digkuns het immers begin by die lied of gesang en die leser besef dat die digter met hierdie aspek werk.

 

Liedjie 

 

Die laaste keer toe ek met jou praat,

was ek skaars aan die woord; 

die laaste keer dat ek gepraat het, 

maak nou maar ’n liedjie daarvan. 

 

Ek het gesê ek kan nie sing nie, 

maar kan jy dan sing, 

het ek daardie laaste keer gevra, 

ek het jou nooit hoor sing nie. 

 

Die gedigte werk met teenoorgesteldes en paradokse:

 

In die lig kry ek nie wat ek in die donker wou hê nie, 

 

in die donker nie wat ek in die lig wou hê nie. 

 

Hierdie bundel wat oënskynlik “oop” en toeganklik geskryf is, bevat egter sterk Jungiaanse argetipes. Donker teenoor lig; onthou teenoor nou – die ewige jin/jang van ons bestaan.

 

So lui ‘n strofe:

 

Asof diepte nie nodig is nie, 

donkergroen struike, 

’n goue voël wat verbyloop, 

die dae en nagte ’n deel van mekaar. (165)

 

Die hele bundel werk met hierdie opposisies om in Jungiaanse terme tot individuasie of heelheid te kom. Leegheid teenoor volheid. Links teenoor regs. Traag teenoor vinnig. 

 

Hierdie bundel maak ons bewus van Jung se uitspraak in On the nature of the psyche:

We must get at the Eastern values from within and not from without, seeking them in ourselves, in the unconscious.  We shall then discover how great is our fear of the unconscious and how formidable are our resistances.  Because of these resistances we doubt… the self-liberating power of the introverted mind.

Simbole word geaktiveer met verwysings na Leviatan, Egipte en Moses. Jacques Brel hier aktiveer ouderdom, verganklikheid en weerloosheid.

 

Die herinnering aan die jeug en wat die digters van sy ouers ontvang het, lewer bewys van hierdie proses. Alles wat hy sien is soos ‘n herinnerde gedig (167).

 

Die digkuns suiwer die digter, maak hom as’t ware van binne af skoon; trouens, dit stroop die digter tot essensie (169). Die gedigte word nie gemaak nie; hulle kom na hom, die digter (157). Gedigte word herskryf en die reëls van die prosodie is bekend aan hom: begin word einde; einde word begin (127).

 

Imprimatur gee vir ons die oorspronklike vers en die vertaling, behendig gedoen deur Daniel Hugo.


Die maklike vers is immers die moeilikste een om te skryf.

 

Bronne:

Cirlot, J.E. 1971.  A Dictionary of Symbols. (Londen: Penguin).

Jung. C.G. 1960 On the nature of the psyche. (Princeton: Princeton University Press). 

Stevens, Anthony. 1998.  Ariadne’s Clue:  A Guide to the Symbols of Humankind.  (Princeton: Princeton University Press).

 

Hier is van die bundels wat die digter al gepubliseer het:

 

De simulatie van de schepping, Holland, Haarlem, 1989
De voorstelling in de nachtclub, Holland, Haarlem, 1990
De expeditie naar Cathay, Holland, Haarlem, 1991
Langzaam en zacht, Holland, Haarlem, 1993
Is het dan goed, De Bezige Bij, Amsterdam, 1994
Geschenken, De Bezige Bij, Amsterdam, 1996
Alvast, De Bezige Bij, Amsterdam, 1998
Vogels, Contact, Amsterdam, 2001
Uit 7 (a selection from Wijnberg’s first seven collections), Contact, Amsterdam, 2003.
Eerst dit dan dat, Contact, Amsterdam, 2004
Liedjes, Contact, Amsterdam, 2006
Uit tien (a selection from ten collections), Contact, Amsterdam, 2008
Het leven van, Contact, Amsterdam, 2008
Divan van Ghalib, Atlas Contact, Amsterdam, 2009
Als ik als eerste aankom, Atlas Contact, Amsterdam, 2011
Nog een grap, Atlas contact, Amsterdam, 2013
Van groot belang, Atlas Contact, Amsterdam, 2015
Uit tien, Atlas Contact, Amsterdam, 2016
Voor jou, van jou, Atlas Contact, Amsterdam, 2017

So klink die digter in Engels:

 

Song

 

The last time I spoke to you, 
I hardly got a word in; 
the last time I spoke, 
make a song of that. 

I said I couldn’t sing, 
can you sing, 
I asked the last time I spoke to you, 
I’ve never heard you sing.
 

(Song (poem) - Nachoem M. Wijnberg - Netherlands, Poetry InternationalVertaal deur David Colmer, 2007. Besoek 4 Desember 2021)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, December 7, 2021

Resensie | Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan | Protea, 2021

Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan. Protea, 2021. ISBN 978-1-4853-1294-9

Resensent; Joan Hambidge

 

Om jou hart op jou leerbaadjie te dra

 

Smits debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was. Vir haar debuut is sy tereg bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

 

Die beste manier om haar tweede verruklike bundel te beskryf wat heet mag die diep slaap jou dan is waarskynlik die konsep asindeton. Dit is ‘n tegniese begrip waar verbintenisse tussen reëls doelbewus uitgelaat of herhaal word. Die neweskikkende sin (versreël) ontbreek of bots met die hoofsin (versreël). In Afrikaans het die digter Gilbert Gibson al groot hoogtes met hierdie tegniek bereik. Soms vind ons dit ook by T.T. Cloete waar die eindrym terugkeer na die binnerym. e.e. cummings is die meester hiervan.

 

[i carry your heart with me(i carry it in]

i carry your heart with me(i carry it in

my heart)i am never without it(anywhere

i go you go,my dear;and whatever is done

by only me is your doing,my darling)

                                                      i fear

no fate(for you are my fate,my sweet)i want

no world(for beautiful you are my world,my true)

and it’s you are whatever a moon has always meant

and whatever a sun will always sing is you

 

here is the deepest secret nobody knows

(here is the root of the root and the bud of the bud

and the sky of the sky of a tree called life;which grows

higher than soul can hope or mind can hide)

and this is the wonder that's keeping the stars apart

 

i carry your heart(i carry it in my heart)

 

e.e. cummings

 

Die ritme van die vers word só opgeskerp en verhewig met hierdie tegniek. Ons lees:

 

die mense slaap soos gefrommelde banknote in sagte beddens 

die skoolgange is leeg soos dowwe pyn 

op die rugbyveld loop die eerste lig soos ’n vlak rivier 

van verlate datums lughawens op die lang toegesneeude pad van die telefoonlyn

 

Die digter gee ingebedde kodes waarmee die leser die verskillende tekste kan oopmaak. Byvoorbeeld: die verwysing na Willem de Kooning (1904 – 1997) se ingewikkelde konstellasies (26), die Nederlands-Amerikaanse skilder, maak die teks vir die leser oop. Hierdie skilder is gebore in Rotterdam, maar word later ‘n Amerikaanse burger. De Kooning se werk is abstrak, maar hy behoort tot “action painting” en die New York-skool saam met ikoniese kunstenaars, soos Jackson Pollock en Mark Rothko, om twee figure uit te sonder. Smits se gedigte herinner aan hierdie Abstrakte Ekspressionisme: verse vervreem, assosiasies loop onder jou finale interpretasie uit en die verskillende gedigte vorm uiteindelik een groot legkaart. Die retrospektief in die MoMa (2011 – 2012) wys op die meesterlike beheer en tegniek van De Kooning met die opsetlike verwringing van die herkenbare werklikheid. Die retrospektief het ek meegemaak in NY, ‘n uitsonderlike hoogtepunt in my lewe.

 

De Kooning beweeg, soos Hilda Smits, tussen twee kulture en hierdie gevoel van ontreddering en vervreemding vind die leser terug in haar gedigte. Mense lyk soos cardboard pop-ups en hierom is daar treinstasies en telefoonlyne dikwels aanwesig om kontak met die werklikheid te maak. Die leser beweeg tussen droom (fantasie) met ‘n surrealistiese werklikheid.

 

Die digter self verwys na die “gebroke legkaarte” met die inspeel op gebreek / gebroke.

 

Van Gogh is eweneens ‘n ander sleutel vir die leser in ‘n bundel wat werk met representasie. Die skilderye van Van Gogh is sleutels vir eensaamheid en pyn.

 

Haar ekfrastiese verse (gedigte wat skilderye interpreteer) is uitsonderlik soos “Washington Square, winter, André Kertész”, “Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz”,”Twee vroue omring deur voëls, Joan Miró”, “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee” , ”Pienk engele, De Kooning”, om ‘n paar uit te sonder.

 

Veral Paul Klee se visse gee iets weer van die bundel se fantasie... Vreemde landskappe ondersteun die gevoel van diskonneksie:

 

na ’n land waar vreemde tale in monde poel soos geheime water

 

jou hande wat blindelings soos vreemdelinge aan ander behoort.

(52)

 

Ook die gebruik van ‘n kleiner font binne-in ‘n groter font (bekend aan e.e. cummings se digkuns) dwing die leser terug na die gedig se ikonisiteit en die gebruik van die ____ in gedigte  wys op dit wat nie geuiter kan word nie (14). Hierde tegnieke neem die leser uiteraard na Derrida se dekonstruksie en die sogenaamde sous rature (under erasure)-tegniek. Om iets uit te wis, maar dit ook te behou.

 

Die finale betekenis(se) word uitgestel en daar is eweneens implisiete politieke gedigte in hierdie bundel. Die bundel is inderdaad magies met ‘n bewussynstroom en vreemde assosiasies. Bykans asof ons in haar droomlandskap toegelaat word.

 

Die verlies aan die vader (pynlik onthou die spreker die graf) en die verlede in Potchefstroom (kleiner geskryf) bly draal in die gemoed.

 

Daar is verruklike beelde in hierdie bundel soos “die maan is ’n koper tweesent”, “en agter jou die swart bome soos grafte van ink” en “’n eerste gedagte jy was toe al bloekombome // & al die lug daar om soos ’n valskerm”.

 

Die bundel gee nie sy geheime dadelik prys nie. 

 

Dit is poësie wat ontroer en kwel. Lank na die lees van ‘n gedig bly jy nadink oor die implikasies van ‘n vers. Mag die diep slaap jou (dan ) na herinneringe neem van ‘n verbygegane tyd geberg in die digterlike gemoed. Daar waar die swart bome soos grafte van ink … (met peanut butter & stroop en kasterolie).

 

En kyk watter Oosterse stad word in ‘n gedig verskuil! (21)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Saturday, November 27, 2021

Resensie | Jaco Alant – Is mos oos | Protea, 2021

Jaco Alant - Is mos oos. Protea. 2021. ISBN: 978-1-4853-1279-6 (gedrukte boek) ISBN: 978-1-4853-1280-2 (e-boek)

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie roman word trefseker as volg bemark:

 

’n Afgelegde professor in Durban, KwaZulu-Natal, dink terug en probeer sin maak van sy verlede. Hy leef met ’n vrou in sy herinnering – Mied. Deur die oënskynlike diefstal van sy geel Volkswagen Kewer met sy hond Os-Moses agterin, ontmoet hy ’n Afrikaanssprekende Zoeloe-meisie, Mandie. Hy word Mandie, haar ma, Nxasana, en ’n gestremde kind na wie Ma Nxasana omsien, Gumanam, se vertroueling. Intussen word hy lastig geval met oproepe van ene John wat ’n MA wil doen oor ekoliteratuur en mineurskrywers. Is mos oos is ’n surrealistiese, byna absurde roman; ’n verhaal van verandering wat ontvou in die spel van name en die vervloeiing van uiterstes: hede/verlede, man/vrou, leuen/waarheid, lewe/dood.

 

‘n Roman wat grense verskuif in Gilles Deleuze en Felix Guattari se terme van sogenaamde mineurletterkunde: “Dis waar die mineurskrywer so belangrik is,” sê John ongestoord. Onsigbare skrywer. Sigbaarste geskrif. Sonderlingste taal.  (229)

 

In hierdie pakkende roman word die moderne Universiteit via ‘n onbetroubare vertellende akademikus vir ons onthul. Is die motor met die hond werklik gesteel of beweeg ons in hierdie roman dalk in ‘n teks wat geskryf word deur ‘n skrywende instansie? Wat is waar? Wat is wolhaar?

 

Ons word immers gewaarsku:

“Nee,” sê die kolonel, “niks se ge-miskien nie.” Daar’s ’n wonderlike Afrikaanse woord, sê hy, net so goed soos kammakastig. En dis die woord “onbenullig”. Dis nie net nul nie, dis nullig. Maar nee, dis nie net nullig nie, dis benullig. Maar nee, dis meer as – minder as – benullig, dis verdomp fokken – jammer – onbenullig! On-be-nul-lig! Dis soos nul kwadraat, nul tot die mag wat ook al! Hy sê: “Ek het nog nooit só daaraan gedink nie.”

En later:

Wat is ’n geskrif, dan – soos jy sê – maar ’n geskrif sonder ’n leser, sonder selfs ’n bedoelde leser? Dis ’n non-teks, my liewe John,” beantwoord hy sy eie vraag, “’n ongeskrewe geskrif. Soos Breyten Breytenbach sou sê: ’n ongedanste dans. Niks! Nee, minder as niks, dis soos niks uitgehol, uitgehol van binne! Des te minder kan dit literêr wees.” Sê hy sou dit sterker kon stel, dié “niks”, maar hy weet John verafsku vulgariteit en sou dit allermins van hom verwag. (192)

Ook die abjekte vind hier ‘n plek. Ontoepaslike beskrywings van ‘n hond se anatomie, besoeke aan ‘n lykshuis en ‘n meedoënlose oopskryf van die seksdaad, maak die teks een wat uitwaaier na Loslyf en belangrike tekste oor die seksuele. Toilette en “splatter reduction” word slim beskryf (106). Lykshuise en reuke waaier oop voor die leser (soos op bladsy 117). Reuke, geure, die abjekte en stank doem voor die leser op.

 

Osmose word opgevang in die hond se naam en die titel. ‘n Osmose tussen fantasie en werklikheid; droom en skryf. 

 

Die roman is soos ‘n heksagonale postmoderne rooibaksteengebou (om die verteller aan te haal) met analises van politiek-korrekthede (Mied / Meid) en ‘n teks op ‘n rekenaar wat dit alles verklap.

 

Gumanam is Hindi vir naamloos.

 

Hierdie skrywer speel ‘n spel met name, konvensies, ‘n stad (Durban) se liminaliteite en die leser word ingeboender in ‘n teks wat dalk (?) ‘n kreatiewe reaksie is van ‘n man wat sukkel met ‘n moeilike student wat wil skryf oor ekoliteratuur en mineurskrywers, die polisie, ‘n kolonel en ‘n hond in ‘n Volkswagen. En met Mandie en Nxasana, swart mense saam met die brak is dit ‘n bonte spul.

 

Is die Volla werklik gesteel? Wil die teks ‘n parodiese reaksie wees op tydgenootlike Franse skrywers? Houellebecq se flirtasie met die abjekte en die politiek?

 

Onderlangs is die verwysings na Jean Genet, Deleuze & Guattari, ekotone, liminaliteite opvallend. Veral Luis Buňuel se Belle de Jour, daardie film uit 1967 met Catherine Deneuve, word in die herinnering geroep. Fantasie en werklikheid word só slim verweef dat jy as kyker nie altyd seker is wat het werklik gebeur nie. Nes by die meester Luis Buňuel.

 

‘n Resensent het die slot in die roman as vreemd ervaar; tog nie, as jy moderne Franse tekste ken of Dan Roodt se Sonneskyn en Chevrolet (Taurus, 1980) gelees het nie ('n Lyflike roman met vreemde droomlogika. Besoek 27 November 2021).


Hierdie roman wil ont-masker, onrustig maak, politieke kommentaar lewer (kenmerkend van mineurletterkunde). Die ingebedde kodes en verwysings na Franse tekste, wil ‘n antwoord wees (dalk?) op die Afrikaanse letterkunde waar alles alte dikwels te helder vorentoe beweeg.

 

Alant is immers ‘n professor in Franse letterkunde, nie waar nie, wat ‘n roman in Afrikaans publiseer? Sy Afrikaans is soepel en vlot.

 

Inderdaad: onsigbare skrywer (verteller); sigbaarste geskrif.

 

So begin hy:

Hy het baie aande wakker geword en dan kon hy nie weer slaap nie. Dan het hy aan idees gelê en dink, briljante idees, maar hy het hulle nie neergeskryf nie. Daar was nooit ’n notaboekie op sy bedkassie nie en sy selfoon was af. Hy het gedink wat die moeite werd is om te skryf, sal mens tog onthou. Geen aantekeninge nodig nie. Of miskien was hy net te lui. Toe ontdek hy, eendag, dat hy niks het om te skryf nie, behalwe dit wat iemand anders gedink het. Die man wat hy was maar nie wou wees nie, en ’n vrou, van wie hy hom net-net kon onthou, maar nie genoeg nie. En ’n hond. Is mos so. Hy het nooit geskryf nie …

Lees hierdie roman. Ek het dit in twee dae met vreugde gelees. Hier gaan jy Oos, nie Wes nie, soos in die bekende popliedjie.

 

Is-mos-so? Is-mos-Oos? Osmose?

 

Bibliografie

 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 1986. (1975 Fr.) Kafka: Toward a Minor Literature. Vertaal deur Dana Polan. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 2003. (1987 Fr.) A Thousand Plateaus. Capitalism and Schizophrenia. Vertaal deur Brian Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

 

Friday, November 19, 2021

Resensie | Dolf van Niekerk – Splintertyd | Imprimatur, 2021

Dolf van Niekerk – Splintertyd. Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-94670-4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Dolf van Niekerk se bundel Splintertyd (Imprimatur) is ‘n belangrike bundel in hierdie tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, ‘n volledige nuwe bestaan, wat in Maart verlede jaar aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geeïs. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook ‘n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

 

Van Niekerk is ‘n gerekende prosateur en digter. Van sy bundels is Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

 

Die digter is ook ‘n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot:

 

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was. 

 

(Portrette in my gang, 2015)

 

en in die lewe en die dood

is elkeen uiteindelik alleen

 

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), ‘n gunstelingbundel vir hierdie leser:

 

“Skaduwoord” is ‘n sentrale vers:

 

Skaduwoord 

 

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses 

van toegeneentheid tot plante, 

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart. 

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was; 

dors na ’n bries van liefde 

met die laaste onsekerheid 

voor ewigheid. (25)

 

Die dood is ‘n “inwonende aanwesigheid”, skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

 

Middernagreën

 

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmaker, ’n drupspoor op my huis se dak in tye van ’n ou normaal, se glo ’n Hoër Hand bepaal die reën.  (31)

 

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek:

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde, ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat. Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy in variante van lewensagterdog, ondergrawing en verdagmaking – tas die siel aan en verban die wese na ewige kwarantyn binne die self. (40)

 

II

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer ‘n gesprek oor nostalgie, ‘n begrip wat ‘n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na ‘n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

 

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia's power—for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized through memory and desire. (Linda Hutcheon & Mario J. Valdés | Irony, Nostalgia, and the Postmodern: A Dialogue | University of TorontoBesoek 21 Oktober 2021)

 

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel ‘n terugkyk as pyn; ‘n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, ‘n bundel met gestroopte verse.

 

Dié nag het nie ure nie

 

Dié nag het nie ure nie, elke uur is nag; oorlewing wankel op die grens van lig en duisternis; uitweg neig na nag terwyl ’n kakofonie suising in die brein begelei van êrens na nêrens, nêrens na êrens waar nag en dag gebore word. (50)

 

In koorsdrome word daar verlang na die Karoo in vele pynlike nagkonserte. Ons onthou:

 

my windharp

sing

in ballingskap

wat sing

my windharp

aan die wilgertak

waar nooit

karoowind waai

 

(Bleek planeet, 2013)

 

Dit is ook ‘n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad – met die handskrif van die digter – is tekenend hiervan. Hierom word alles ‘n “dubbeldag” in ‘n pynlike binnereis.

 

Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

 

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

 

Ek vors bestaan en wese na

 

Ek vors bestaan en wese na, die wese van wees in die labirint van ewige dinge; of alles oplaas saamvloei in Is en Is deel is van syn, sinoniem vir die Romein se sistere, omvorm tot eksisteer; staan tussen nou en ewigheid, ’n pendulum in tyd van kosmiese wordingsdrif. (12-13)

 

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat véral vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in ‘n proses van self-kanonisering.

III

Imprimatur onder die leiding van Martjie Bosman het ‘n belangrike bundel gelewer in hierdie vreemde tyd. Die uitleg en ontwerp van Annemart Swanepoel verdien vermelding.

 

Toeganklik, aangrypend en ‘n belangrike baken in die digter se oeuvre.

 

All nostalgia, then, would be what Davis (25) calls "interpreted nostalgia" wherein an analysis of an experience, however brief or mistaken, comes to be fused with that primary experience and thus alters it, aldus Hutcheon in voetnoot 17. 

 

Dit het my ook teruggeneem na Legkaart van 'n jong lewe (2019), sy herinneringsboek, en my opnuut bewus gemaak hoe digters terugkeer na dieselfde temas en dieper kyk. Die ewige spel tussen onthou en nou …

 

Die digter het nie geswyg nie en hy struikel beslis nie oor sy woorde nie …

 

‘n Klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het.

 

Bestel by:

Snymanweg 46, Brummeria, Pretoria, 0184 www.imprimatur.co.za

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)