Showing posts with label Die sin van die hut. Show all posts
Showing posts with label Die sin van die hut. Show all posts

Monday, February 12, 2018

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934

Resensent: Joan Hambidge 

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

‘n Hut is ‘n skuilplek, ‘n outydse huis; meer spesifiek: iets van Afrika. En hier begin ons alreeds met die leesproses wat hierdie soort digkuns opeis: assosiasies, nadink, naspeur …

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof, is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Bachelard La Poétique de L’Espace( The Poetics of Space) uit 1958 en die filosoof F.J. Engelbrecht se studie oor die huis (die drempel) word dus geaktiveer. Hoe die huis ook iets verraai van die self. Die vensters, die deure, die kamers ...

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”.

Behalwe vir die sterk intertekstuale spel met ander digters, is daar eweneens self-verwysings wat aan bod kom.

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag. Dit verwys ook na die gedig getitel [14] wat in ‘n eerste weergawe so klink:

[14]

jou oë lê soos dooie vullens bokant
jou wange na ‘n uitbraak van perdesiekte
die wenkbroue daaroor die kleur van brommers
in die son. soos klippe in die veld
lê jou oë, en ‘n wind wat die aanheg
van gras tot skaduwee roer, waai deur jou mane.
jou oë dryf in die bloed onder jou voorkop
die wimpers geril tot inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes, die lyf
infekteer en stilletjies wegsluip voor die vlerkklap
van aasvoëls. ek neem jou besit soos ‘n slaak
van verligting, jou oë ‘n gestorwe graal:
jou keel is blinkvos
jou mond ‘n splinternuwe saal


Die leser herken die liedjie “Blink vos perd” wat verïroniseer word as ‘n (dooie) Pegasus, dalk, en ‘n spel met die sonnetvorm.

So klink ‘n ander gedig:

(drumpel)

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer

Hierdie soort gedig loop dan ook die gevaar om soms in vreemde assosiasies (dryfsand?) vas te val.

Soos:

Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.

Wanneer ‘n mens die gedig met die voorafgaande gedig lees, snap jy die angs van ‘n paranoïese spreker (dalk?) Of die veldslae van die liefde (dalk?) in “(dampskerm)” op bladsy 50.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible (skryflik, her-skryf) eerder as lisible (oop-lees) (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures.” Dieselfde geld hierdie bundel met sy tob en nadink oor taal, oor assosiasies met die taal en sy kultuurgoed.

Dit is ‘n bundel wat die bemoeienis met die digkuns as ‘n taal-konstruk vooropstel. Hermeneuties, slim, uitdagend – vir sommige is die hart van die poësie uitgeruk. Vir hierdie leser nié.

In die hut van die digkuns is daar immers baie wonings …

Emily D. was die groot beoefenaar van die parentese (dash); Wallace Stevens die maestro van die semantiese geheim.

Ons sal wel vra wat hierdie digter volgende gaan doen met sy taalspel.


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 26, 2017

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934
Resensent: Joan Hambidge

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

Deur die jare het ek telkens waarderend op Gibson se bundels gereageer. (Woorde Wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry-, 2015. Besoek 21 November 2017).

Die algemene  indruk wat sy bundels op hierdie leser maak, is een van ‘n toegewyde bemoeienis met die digkuns. Dit is gedigte wat heel dikwels handel oor die skryfproses, oor die soeke na betekenis, oor die hermeneutiek-van-skryf (en lees). Dit is daardie soort gedig, in Jonathan Culler se woorde in Structuralist Poetics, wat die verhouding tussen die paradigmatiese en sintagmatiese relasies uitdaag. Die leser weifel voortdurend tussen die korrekte lesing van ‘n gedig en al die moontlike implikasies wat ‘n gedig impliseer.

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof,  is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Vir Derrida werk woorde met uitgestelde betekenisse en die arbitrêrheid van betekenis word vooropgestel.

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”:
I placed a jar in Tennessee,
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.
 The wilderness rose up to it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.
 It took dominion every where.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.
Oor Stevens se modernistiese gedigte, het vele kritici al geskryf: die gedig wat inbuig, eintlik terugbuig op sigself en die wegbeweeg van die gedig wat op 'n een-tot-een-vlak iets oor die werklikheid moet sê.  Gibson vat dit verder in 'n postmodernistiese aanslag waar die gedig aanspraak maak op 'n veelheid van betekenisse. Sy gedigte is dan "groundless" en oneindig. Die gedigte is opsetlik gefragmenteerd en wil ook nie noodwendig iets sê oor die realiteit nie. "Dis al" word "Dis alles" ... (Postmodernism in poetry. Besoek 26 November 2017).

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag.

John Ashbery se "The burden of the park" word opgeroep:
Each is truly a unique piece, 
you said, or, perhaps, each 
is a truly unique piece. 
I sniff the difference. 
It’s like dust in an old house, 
or the water thereof. Then you come 
to an exciting part. 
The bandit affianced 
to the blind man’s daughter. The mangel-wurzels 
that come out of every door, salute the traveller 
and are gone. Or the more melting pace of strolling players, 
each with a collapsed sweetie on his arm, each 
tidy as one’s idea of everything under the sun is tidy.  (...)
 (Jacket 2 - John Ashbery poem/ The Burden of the Park. Besoek 26 November 2017).

So lui nog 'n vers van Gibson:
(drumpel) 

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer
Terwyl ek hierdie bespreking skryf, haal ek die battery van my selfoon uit om dit in 'n ander meganisme te laai. Ek sien die buik van my selfoon en die simkaart.

Hierdie gedigte wys hulle binnegoed vir jou en jy as leser moet self alles weer inmekaar pas en die selfoon aanskakel.

"I sniff the difference", in Ashbery se woorde.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible eerder as lisible (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures. He answers it through self-caricature, dramatizing himself as the most famous dramatic character of them all:
I am Hamlet the Dane, 
skull-handler, parablist, 
smeller of rot

in the state, infused 
with its poisons, 
pinioned by ghosts

and affections, 
murders and pieties, 
coming to consciousness 
by jumping in graves, 
dithering, blathering.
(Viking Dublin/ Trial Pieces - Seamus Heaney Poetry Analysis. Besoek 26 November 2017).

Iets van die kritiese besware neem ons ook van kennis in hierdie bundel. Maar dit is vir my 'n ryk, geskakeerde bundel.