Showing posts with label Sun Press. Show all posts
Showing posts with label Sun Press. Show all posts

Tuesday, October 25, 2016

Helize van Vuuren - A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature (2016)



Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature. SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint, 2016. ISBN 978-1-920689-89-6 | ISBN 978-1-920689-90-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

A Necklace of Springbok Ears is 'n belangwekkende studie geskryf deur Helize van Vuuren. Sy dra dit op aan Hennie Aucamp, Francois Pauw (vriend en mede-bergklimmer) en aan Barend J Toerien, ook kenner van hierdie tradisie. Al drie vriende wat oorlede is.

Die verhale, mites en digkuns van die /Xam en ander Boesmans word ondersoek en veral die ideologiese dimensies van die tekste word ontsluit.

Dis onmoontlik om op al die komplekse aspekte van hierdie studie klem te lê, maar waarskynlik is die belangrikste afdeling die Watson/Krog-debat.

Die verskillende hoofstukke word netjies saamgeweef soos 'n halssnoer van springbokoortjies. Trouens, elke hoofstuk speel in op die daaropvolgende. Wanneer ‘n mens onder andere die hoofstuk lees “Cultural appropriation: Antjie Krog, Stephen Watson, and Eugène Marais” besef jy hoe die kulturele tradisie geminag en ontken is deur Watson. Hy, op sy beurt, is weer indertyd met die publikasie van Return of the Moon beskuldig dat hy die gegewe gebruik het asof hy ‘n trofeejagter is. Hy het eweneens nou saamgewerk met Pippa Skotnes.

Kulturele transplantasie eerder as plagiaat was dit en sy wys op die verskillende figure wat al met hierdie tekste gewerk het.

En waar negatiewe aantygings gemaak word in hierdie verband wanneer tekste gebaseer is op mondelinge tekste, word die gegewe uiters kompleks, aldus van Vuuren (158).

Aanklagte – en sy betrek Tristia wat met verhulde tekste funksioneer – het myns insiens waarskynlik te make met ‘n tydsgees wat verander. (Post)moderne digters verskaf deesdae endnote vir lesers, vermeendelik om aanklagte te systap. Maar tereg is die debat tussen Krog/Watson eerder ‘n komplekse debat oor oraliteit wat be-skryf word.

Van Vuuren maak ‘n geldige punt in haar studie dat alle skrywers van hierdie oertekste meer erkenning moet gee aan die oorspronklike in hul teensange. En dat hulle name meer prominent op die voorblaaie van bundels of bloemlesings behoort te staan.

Hoewel sy uiters krities staan oor Watson se aanklagte en die “long, distasteful and unnecessary controversy”, maak sy ‘n geldige punt: “… it is also evident that the stature of an established poet is enhanced when drawing from this vital source. In the end material from oral traditions are invariably ‘tapped’ for their vitality by living writers. And the dead cannot speak …” (179).

Haar ekskursies deur al die tekste maak die tersaaklike punt dat hierdie tekste ‘n interdissiplinêre benadering opeis ten einde die oertekste ten volle te begryp (109). Gaan kyk onder andere hoe sy ‘n misinterpretasie van die “uintjie”-lied begrond en hoeveel digters in Afrikaans het al gedigte oor Boesmankuns geskryf: Ernst van Heerden, Boerneef, Barend J. Toerien, Lucas Malan, Johan van Wyk en Hennie Aucamp. (Die gedigte is uitstekend vertaal o.a. deur Douglas Reid Skinner wat die dit vir die buitelandse leser toeganklik maak.) Die uintjie-gegewe speel in op ‘n Toerien-gedig.

Die werk van die romanskrywer Piet van Rooyen word uitstekend onder die loep geneem weens sy besondere gesprek met die Boesmankultuur. Sy was tereg daarop dat kritici (onder andere met Gif) in gebreke gebly het om die identifisering met die Boesmankultuur raak te sien. Die verskillende karakters representeer verskillende fases van kulturele en tegnologiese ontwikkeling: die primitiewe teenoor die Westerse ontwikkeling; gewone, koloniale waarnemers wat geplaas word teen ‘n manlike protagonis wat identifiseer met die kultuur en ‘n “Boesman” word (147). Hierdie waardevolle ontleding is van nut vir die leser wat na dieper insigte soek.

Van Vuuren kan die opposisies – bykans soos ‘n moderne Vladimir Propp – uitwys, omdat sy die kodes ken. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n kursus oor die verskillende dierefigure in Marais se Dwaalstories aangebied rondom die bestaande Afrika-tarot.

Primordialiteit en sjamanisme is belangrike kwessies wat in hierdie kursus bespreek is.

Die generiese term “San” – wat politiek-korrektes gebruik – is ‘n negatiewe woord wat “vabond” of “tramp” beteken in Khoi. Die woord Boesman is tans meer aanvaarbaar en Robert J. Gordon en andere wil die begrip weer “rehabiliteer” (155).

Soos altyd die geval met hierdie soort studie is die bronnelys en endnote van onskatbare waarde vir die speurende leser. Byvoorbeeld, die herinnering aan Rialette Wiehahn se artikel oor al die verskillende interpretasies van Wilma Stockenström se “Die eland”. Verder is daar belangrike kodes wat elke navorser sal inspireer vir verdere leeswerk.

“Man as fire beast” is gebaseer op haar uitstekende D. J. Opperman-huldigingslesing ‘n paar jaar gelede te Stellenbosch. Opperman se “Vuurbees” word uitstekend gelees via onder andere Changeaux se jongste navorsing dat kreatiwiteit sterk interne reëls volg (186).

Op ‘n persoonlike vlak het hierdie leser die stuk oor die lewe en werk van G. R. von Wieligh ontroerend gevind. Die ou verroeste trommel as ‘n metafoor vir sy ellendes: huweliksprobleme, finansiële nood, swak sig, ‘n enkelkamer by sy broer in sy laaste jare …

Die sentrale elemente van sy lewe was: taal, die bestudering van verskillende kulture en reis (40). Die einde van sy loopbaan, in 1895, was in konflik gehul toe hy beskuldig was van sogenaamde wanadministrasie as landmeter. Maar daar kon ook politieke motiewe gewees het. Daar was aanvalle teen Kruger en sy manier van doen in die Transvaal. Van Vuuren plaas briewe van Von Wieligh, selfs ‘n telegram op 13 Oktober 1895 waar hy desperaat is vir werk.

Ongeveer 1898 nadat sy vrou en kinders hom versaak en na die Kaapkolonie vertrek het, verbrand al sy dokumente en daarmee is die soektog na die verlore /Xam-dagboeke verby.

Helize van Vuuren

A Necklace of Springbok Ears is ‘n boek geskryf deur ‘n kundige wat jarelange navorsing vir die leser saamsnoer. Helize van Vuuren het met hierdie boek ‘n kleim afgesteek. Niemand sal ooit weer kan skryf oor enige aspek van Boesman-letterkunde sonder ‘n verwysing na hierdie teks nie. Op dieselfde wyse as wat sy ‘n onbetwisbare outoriteit is oor Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

Agt hoofstukke wat ‘n mens op enige plek kan begin lees. Elke hoofstuk is inderdaad ‘n oortjie in die enkelsnoer soos die pragtige voorbladfoto - Percival R. Kirby se Bushmen ankle-rattles made from springbok ears - reeds aandui.

Dit is gepubliseer deur SUN MeDIA.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Friday, April 24, 2015

Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs (2015)


Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs. Sun Press, 2014. ISBN 978-1-920689-52-0

Resensent: Joan Hambidge

Gabriël Botma se boek is gegrond op sy doktorale proefskrif, maar word toeganklik aangebied vir sy lesers oor die kulturele stryde en skermutselinge by Die Burger waar hy as joernalis en kunsredakteur werksaam was. Sy boek is nie net ’n ontleding van een koerant se werksaamhede nie, maar ’n belangrike analise van die transformasie van die Afrikaanse dagblad en hoe joernaliste hulle moes verweer teen politieke eise.

As skrywer en resensent kan ek hierdie “underbelly” wat Botma vir ons opteken, beaam. Byvoorbeeld in die insigryke hoofstuk “The Ghost of W.E.G. Louw” bly die aanwesigheid van hierdie kunsredakteur ’n standaard waarna gestreef is etlike jare ná sy vertrek.

Botma bekyk die oorgang van een stelsel na ’n ander: die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika. Van apartheid na demokrasie; van sterk beheer tot groter deursigtigheid.

’n Mens lees hierdie boek soms met nostalgie en soms met verbystering. Jy onthou die werk van deurwinterde kunsredakteurs soos wyle Wilhelm Grütter en ’n man soos Johann Botha wat nie sou skroom om ’n resensie met vrae terug te stuur as hy van mening was dat jy “polities-korrek” wou wees nie. Jy onthou hoe nuanses verlore gegaan het met die Watervalberaad in 1989 en hoe André le Roux hom gedistansieer het van die ANC se boikot en hoe hy, volgens Botma, steeds ’n prys betaal vir hierdie ongewilde standpunt.

Die boek lees soos ’n roman. Daar is hofies wat jou letterlik van een stryd na die ander neem: van ’n joernalis wat gestriem word oor die Afrikaner se “kollektiewe skuld” tot die vraag in welke mate die kunsredaksie politieke kwessies aansny. Uiteraard gaan ’n teks die politiek van die dag aanspreek en hier is Antjie Krog, ’n gerekende skrywer, dan ook ’n persoon wat telkens ter sprake kom oor háár standpunte.

Die toeganklikheid beteken egter nie dat die skrywer nie kennis neem van belangrike teoretici en politici binne sy veld nie. Hy verwys na Edward Said en Albie Sachs. Hy betrek Habermas by implikasie. Hy noem redakteurs by name en daar is onderhoude gevoer met medewerkers wat op húl beurt persoonlike standpunte weergee. Hegemonie versus anti-hegemonie.

Dit is ’n boek wat in ons dae van ’n nuwe kulturele verset en opstand, soos die Rhodes-standbeeld se posisie aan die Universiteit van Kaapstad, ’n belangrike bydrae maak. Hy skryf oor die eis van die PAC indertyd om Jan van Riebeeck se standbeeld in die see te gooi (bl. 64). “Die plek en spelers sal voortdurend wissel / maar die spel word telkens in die tyd herhaal”, om Opperman aan te haal.

Hierdie studie is sober en boeiend. Dit is ’n tydsdokument wat in die aanslag nie nostalgies is nie, maar die leser soms laat verlang na ander dae wat duidelik nooit enkelvoudig was nie.

Vrees word aan die kaak gestel. Die spanning tussen Eurosentries en Afrosentries lyk vandag vreemd (bl. 75).

Die diskoers van krisis word ontleed in hierdie troebel tye en omdat Botma van vraelyste gebruik gemaak het, kan hy ’n respondent aanhaal én die tydvak kontekstualiseer.

Daar is vele tye wat ’n mens in die kantlyn ’n opmerking byskryf. Byvoorbeeld wys Botma tereg daarop hoé joernaliste by die kunsredaksie telkemale moes standpunt inneem teen politieke verwikkelinge omdat daar gevoel is “die kunste funksioneer apart van die politiek”. Hy wys ook op dapper joernaliste wat gevaarlike inligting “ingesmokkel” het en hoe die grootste gevaar van so ’n oorgangsperiode vrees is en hoe joernaliste onbewustelik selfsensuur begin toepas het.

Die belangrikheid van Afrikaans word eweneens aangespreek (bl. 127) en ook die standaard van die kunsredaksie. Gender-kwessies kom te berde (Anneke Keyter as die eerste vroulike redakteur, en lank daarna, Laetitia Pople), nes die impak van die postmodernisme met die afbreuk van die grense tussen hoë en lae kultuur. Belangrike tekste soos W.D. Beukes en J.C. Steyn se gesaghebbende Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 vorm deel van die bronnelys. Die boek is in Engels geskryf, waarskynlik om aan te sluit by ’n wêreldwye debat oor die rol van die kunsjoernalis en die hibridiese rol van hierdie persoon wat dikwels op soveel stoele tegelykertyd moet sit.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)

Saturday, February 7, 2015

Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2015)



Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, 2015. ISBN 978 1 920338 83 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen het ‘n belangrike studie oor die werk van Antjie Krog geskryf en sopas het daar by Sun Press ‘n uitgebreide studie verskyn oor die werk van Breyten Breytenbach, ‘n voorste digter. Breytenbach is ‘n verwikkelde figuur om aan te pak: hy is sowel openbare figuur as uiters private digter wat oor die dood en liefde dig; hy is skilder en woordkunstenaar; hy is dramaturg, romanskrywer, optekenaar, ‘n verkleurmannetjie …
Ook skryf hy onder verskillende name of konstruksies, onder andere Buiteblaf (die hond en voël is bekende  gestaltes in sy werk). Die titel van Viljoen se studie is ontleen aan die versamelbundel Die handvol vere (1995) en “die mond vol vuur” soos die vertalings van Afrikaanse digters na Engels wat verskyn onder die titel In a burning sea (Protea) aktiveer die enorme kreatiwiteit van hierdie digter. En dit verwys na die paradoks immer wat aanwesig is in sy digkuns.

As Zen-digter en beoefenaar van die Surrealisme tot die digter van die semiotiese ontginning van taaltekens soos (‘yk’) tot digter wat telkens beeldend terugkeer na ou nostalgiese temas. Dit is tereg ‘n monumentale oeuvre – soos Viljoen uitwys.

Viljoen bundel artikels wat oor ‘n lang tydperk verskyn het en so word hierdie teks dan ook ‘n argief van die ontwikkeling van die toepassing van letterkundige teorie hier te lande. Daar is tans byvoorbeeld ‘n groter klem op ‘n Afrika-bewussyn en in die hoofstuk “Die naam van die digter”, behandel sy die gebruik van eiename in sy poësie. Hier verwys sy dan na die tronkwerk en die verskillende personas waaragter die digter skuilgehou het. Dit gee haar dan die geleentheid om Derrida (en Culler) in te span oor die kwessie van vermenigvuldigende betekenisprosesse (5) en hoe die leser met elke lesing  ‘n ánder betekenis kan raaklees. 

In die afdeling “Die digter en sy vaders” behandel sy die kwessie van vaderfigure in sy digkuns. God-die-vader en digterlike vaders kom hier aan bod. As leser betrek sy ook die outobiografiese dimensie, weliswaar met omsigtigheid en dekorum, wanneer sy byvoorbeeld kyk na wie “oubaas “ kon wees in die gedig “’n brief vir hulle vakansie”(33). Henning Snyman se analise van hierdie gedig in Mirakel en muse bly voortreflik.

Vir my is die afdeling oor “Die digter in Afrika” opwindend, omdat ‘n mens hier ‘n nuwe blik op die digterskap vind. Een van BB se digtersname is immers Jan Afrika en sy werk by die Gorée-instituut in Senegal dui op ‘n Afrika-betrokkenheid. Die aansluiting met Afrika-opvattings oor voorvaders, die gebruik van die masker én die problematisering van grense tussen kunswerk en leser (‘n mens dink hier aan kuns as allemansbesit), bied ‘n nuwe leesstrategie vir die leser. Trouens, Breytenbach het nog altyd sy leser uitgedaag oor presies wát poësie is. Vanaf sy debuut tot sy laatwerk – ‘n mens dink hier aan Katalekte – is hy voortdurend besig om die betekenis en funksie van die digkuns op sy kop te keer. En al hierdie paradigmaverskuiwings vang Viljoen op.

In die afdeling “Intieme vreemdeling” betrek sy die tronkpoësie, waarskynlik van sy mees ingewikkelde gedigte en verse waarin die postmodernistiese problematisering van grense aangespreek word. In ‘n voetnoot op bladsy 86 – wat oorloop in 87 – maak sy vir die jong navorser ‘n nuwe terrein oop met betrekking tot die betekenis van sy oefenboeke vir hierdie bundels! In hierdie afdeling wys sy dan ook op die “gelyktydigheid” wat hy met die leser wil bereik: skrywer en leser moet in dieselfde ruimte byeen gebring word sodat kommunikasie kan plaasvind. En die tegelykertydsaspek is immers die raamwerk van die geslaagde gedig wanneer “innige oortuiging” in die leser se gemoed begin werk (93).

Ook die invloed van die parodie in sy werk word in ‘n afsonderlike hoofstuk onder die loep geneem en Viljoen het al by etlike geleenthede ‘n besondere oorsig gegee van gesprek, parodie en pastiche tussen jonger digters en ouer digters, eweneens goed geboekstaaf in Poskaarte.

Binne versus buite, hier en globaliteit, liminaliteite (grensruimtes), die digter as openbare figuur, digters in gesprek met BB, uitwissing en bestendigheid word eweneens bespreek.
Dit is baie belangrike studie vir veral dosente en vir alle liefhebbers van die digter se werk.
Dit is toeganklik geskryf met tersaaklike teorie as onderbou.  Die Lacan-verwysings, my spesialiteitsgebied, is wel te oppervlakkig vir my gevoel. Die konstruksie van die subjek sou hier met meer vrug ondersoek kon word.

Die boek bevat ‘n handige register vir die navorser en Sun Press is besig om hulsef te vestig as ‘n belangrike navorsingsuitgewery gedagtig ook aan Chris van der Merwe se Die houtbeen van St Sergius.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Saturday, February 2, 2013

Louise Viljoen - Ons ongehoorde soort (2009)



Louise Viljoen. Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie KrogSun Press , 2009. ISBN 978 1 920109 98 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen is ‘n gesaghebbende literator en veral haar werk oor Antjie Krog en Breyten Breytenbach kan as belangrike bydraes in ons literatuur beskou word. Ons ongehoorde soort is ‘n versameling van artikels wat in boekvorm verskyn by Sun Press. Op die buiteblad staan Lady Anne in ‘n koringveld: met ‘n das en baadjie aan. Die foto som haar ambivalente posisie as digter op. Mannin en boerdogter doer uit Kroonstad. Sy het immers op die skoolbanke al aandag getrek met haar grensoorskydende, eerlike, kompromislose verse. Die jong dogter wat na die onnie met haar seksuele ogies kyk, ‘n vers skryf vir haar ma en vanaf ouderdom agtien die Afrikaanse digkuns verryk én verruim het met haar lyflike en politieke gedigte.

Dikwels was daar omstredenheid oor haar politieke posisie (hieruit vloei Relaas van ‘n moord); ‘n ovulasie-kaart laat feministe proes en die ouerwordende grootmoeder
gebruik die p-woord en gooi haar pis in die blombedding.

Viljoen karteer die volledige Krog in hierdie ryk geskakeerde en uitgebreide studie wat veral op die digkuns fokus. As die leser nie vrede het met Krog se liggaamlike uittogte nie, verduidelik Viljoen vir ons presies hoe dit inmekaar steek: die groteske aldus Bakhtin en die abjekte volgens Kristeva gee vir ons sleutels. Veral twee strome word in haar werk deur Viljoen gekarteer: die stryd teen die Afrikanernasionalisme en die deelname aan die bevrydingstryd en dan die opstand teen die mangesentreerde samelewing waarbinne sy haar bevind. (Hierom dan ook die verse waar sy in opstand kom teen Opperman en die kanonisering van die Afrikaanse digkuns.) Juis deur die vroulike liggaam as grotesk voor te stel, soos in Verweerskrif gebeur, word die samelewing se siening van die vrou as afwykende geparodieer, argumenteer Viljoen (220). 
  
En dit is wat hierdie studie so leersaam en nuttig maak. Viljoen knoop al die drade saam en die Krog-leser (-liefhebber) kan dus deelneem aan ‘n gesprek oor hierdie komplekse digterskap.

In die nege afdelings word die vroulike tradisie; die geskiedenis, die teks as transparent; identiteit in ‘n postapartheid Suid-Afrika; die reisende digter; vertaling(s); die verhouding met die biologiese moeder onder die loep geneem.

‘n Boeiende, en waarskynlik onbekende bydrae van Viljoen, is die vergelyking van ‘n gedigsiklus van Leipoldt met ‘n siklus van Krog. Beide siklusse word teen ‘n prosateks van die outeur geplaas en die verskille word vir die leser oopgemaak. Die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe word ‘n ondersoek na mites en legendes. Dit weer heraktiveer Leipoldt se sieninge van sy reis deur ‘n eksotiese landskap.

Skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie – alles psigologiese merkers van die reisende digter, voer Viljoen aan in navolging van ander teoretici en sy kontekstualiseer haar sieninge. Oraliteit is eweneens ‘n belangrike aspek van Krog se digkuns, veral omdat sy bely in gedigte dat haar verse in klank(e) onstaan. Dit word eweneens deel van ‘n hibridiese werkswyse. Krog is immers die Dogter van Jefta, altyd buite die orde van haar samelewing én die nosie van aanvaarbaarheid. 

Viljoen verduidelik vir die leser die belangrikeid van ‘digter wordende’ in plaas van digter wees / is. Dit is hierdie proses, hierdie durende soeke na identiteit, wat die digkuns van Antjie Krog al vir soveel jare belangwekkend maak. Krog verskuif telkens veilige grense en Viljoen verwys na die hoofkarakter in J.M. Coetzee se Diary of a bad year (2007) se reaksie op ‘n Krog-voorlesing oor die radio! (203).

“A brave spirit”. Dis hoe ‘n mens hierdie digterskap kan opsom en danksy ‘n deeglike en sober leesverslag van Louise Viljoen word die belaglike aanvalle (soos die gebruik van vloekwoorde en “poetry”) op Krog se digterskap netjies onthoof.

Die studie is voorsien van ‘n nuttige indeks wat die speurtog vergemaklik. Dit is ‘n teks wat elke dosent behoort voor te skryf. Die studie is teoreties op datum en Sun Press verdien alle lof. Ongehoord dan in die sin van wat nog nie gehoor is nie, en waarvan nog nog nie kennis geneem is nie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 1, 2013

Gerrit Olivier - Aantekeninge by Koos Prinsloo (2008)



Gerrit Olivier. Aantekeninge by Koos Prinsloo. Sun Press: Rapid Access Publishers, 2008. ISBN 978 1 919985 31 2.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ons het lank gewag op Gerrit Olivier se Aantekeninge by Koos Prinsloo wat sopas by Sun uitgewers en meer spesifiek Rapid Access verskyn het. Olivier het bekendheid verwerf in die tagtigerjare as ‘n vlymbekkige en dikwels satiriese kritikus en hy het ‘n studie oor N.P. van Wyk Louw geskryf wat eweneens kritiek ontlok het. Hy is tans hoogleraar in die Afrikaans en Nederlands, maar die voormalige department bestaan egter nie meer nie. Tans is hy is hoof van die Wits School of Arts en hy was die afgelope paar jaar dekaan wat ongelukkig tot gevolg gehad het dat daar redelik min resensies en artikels van hom verskyn het.


II

Hy verduidelik in die nawoord dat hierdie sy Trauerarbeit oor Prinsloo is en hy erken sy skatpligtigheid aan ‘n hele boel mense. Op die agterblad word die boek aangeprys deur Edwin Cameron en Marlene van Niekerk wat Prinsloo sonder skroom beskou as die belangrikste skrywer oor die gay beleweningswêreld. (Vergeet ons tydelik van Hennie Aucamp en Johann de Lange?)

Die boek getuig van ‘n deeglike benadering tot Prinsloo se werk. ‘n Soort stiplees en verwysing na relevante bronne en tekste. Vir ‘n werklike ‘nuwe’ of selfs psigoanalitiese benadering moet die leser maar elders gaan aanklop. Hiervoor is Olivier se teoretiese kennis waarskynlik nie diepgaande genoeg nie. Wat die teks wel ‘n lonende leeservaring maak, is die deeglike kommentaar of aantekeninge by tekste. Ons lees onder andere in voetnote oor kwessies soos Prinsloo se betrokkenheid by die UP-tydskrif Vlieg en Hans Pienaar se reaksie nou op die registrateur se dreigement oor wat alles met hulle kon gebeur.

Olivier begin met die siening dat Prinsloo se tekste ‘n soort selfopenbaring en ‘n gevoel dat enige vorm van verswyging, onderdrukking of selfs fiksionalisering van die werklikheid ‘n vorm van magsmisbruik is. In dieselfde asem is hy dan krities op lesers soos Riana Scheepers wat karakters in boeke gelykstel aan lewendes buite die boeke.

Ek weet ek is nou besig om Olivier se komplekse argument en dans van die sewe sluiers hier ‘n bietjie te vereenvoudig, maar in die praktyk is dit waarop dit sou neerkom.

“Die paradoks is dat elke onthulling ook ‘n verhulling moet wees; dat dit onmoontlik is om agter ‘n teks ‘n ek in sy volle naaktheid sigbaar te maak. Die skrywer wat hom verset teen die moontlike valsheid van die literêre diskoerse en die strategieë van die glad gepoleerde verhaal kan nie buite die konvensie iets tot stand bring wat nie self óók konstruksie is nie. Dit impliseer dat selfs die ek-figure wat as outobiografies aangebied word, nooit sonder meer met die konkrete skrywer vereenselwig kan word nie” (p. 2). Ek verskil hier: ek dink Prinsloo se tekste kan as sowel outobiografies of ‘werklik’ gelees word as konstrukte. 

Sowel Olivier se benadering as Scheepers se lesing van sy tekste is geldig. Die gebruik onder andere van paspoortfoto’s of foto’s van herkenbare persone aktiveer ‘n werklikheidskode. Dit is dan ironies dat hy Linda Hutcheon aanhaal in The Politics of Postmodernism (1980) waar sy tog die kwessie van “doubleness” en “duplicity” beklemtoon (p. 59).

Dit is duidelik dat Olivier kritiekloos, selfs bewonderend voor Prinsloo staan.

Die studie se grootste waarde is opgesluit in die voetnote en onder andere die hele geskiedenis rondom die geknoei met die Rapport-prys word onthul. Beskuldigings dat ‘n pryskomitee saamgestel kan word om ‘n bepaalde skrywer te bevoordeel en ander kwessies word vreesloos deur Olivier onthul. Dit was hoe dit was en die klimaat waarbinne Prinsloo geskryf het met onder andere sy baas, ‘n koerantredakteur wat wou weet of hy ‘toestemming’ had om as gasredakteur vir Stet op te tree wat deur Taurus geborg is!

Dit word ‘n skokkende ontbloting van die benouende tyd waarbinne Afrikaanse skrywers geleef en geskryf het en hoé daar per memorandum of klein dreigement met ‘n persoon se gal gewerk is.

Oor die omstrede Slagplaas is daar al dikwels lank geredeneer. Ek is een van die resensente of kommentators wat nie in Olivier se oë genade vind nie. Ek was tewens nie verbaas dat Kerkorrel kwaad geword het vir Prinsloo nie en Olivier speel hier ‘n bietjie Skoolmeneer wanneer hy na letterkundiges se banale uitsprake oor die teks verwys asof net hy die korrekte antwoord het. Enige grensverskuiwende teks gaan uiteraard op verskillende vlakke reaksie ontlok. Trouens, ek het nie gedeel in die ikoonstatus wat Prinsloo in hierdie tyd geniet het nie en dat elke uitspraak wat hy gemaak het in sekere kringe vir soetkoek opgevreet is.

Ons wag al jare op hierdie studie.

Dit lewer ‘n belangrike bydrae wat die stiplees van tekste betref, die uitwys van ‘n geknoei agter die skerms en die byhaal van dokumente en bronne om die tekste te verhelder.

Vir ‘n diepsinnige teoretiese of vars psigoanalitiese blik – op ‘n komplekse skrywer en samelewing – sal die leser waarskynlik moet wag. Deleuze & Guattari of Alice Miller sou verheldering kon bring. Wanneer hy Barthes se jouissance aanhaal, is dit sonder genoegsame verheldering – die erotiese plesier soos wat Barthes dit beskryf in Le plaisir du texte is waarskynlik komplekser as wat Olivier hier laat blyk (p. 109). Dit gaan immers oor die leser se vermoë om vlakke in die teks raak te lees, botsings te verdiskonteer en dies meer.

Olivier se teks speel op twee vlakke af: ‘n skerpsinnige analise van die verhale en dan die voetnote waarin hy dikwels op ‘n minder vriendelike wyse ‘n stelling verkeerd bewys. 

Verder besluit hy wannneer ‘n biografiese gegewe binne-in die teks ‘toegelaat’ mag word, maar vind o.a. Scheepers se toespelings nie altyd korrek nie. Of hy haal ‘n sin uit ‘n rubriek – van myself oor ‘n paspoortfoto – buite konteks aan.

Johann de Lange had gelyk dat Prinsloo die dinamo was vir die skep van die energie waaruit die tekste geteer het. Waarom sou hierdie opmerking onvriendelik en onjuis wees (p. 208).

Gerrit Olivier staan te bewonderend en te na aan die figuur wat hy ondersoek. Hier is nie ‘n kille distansie van ‘n Edmund White aanwesig nie en plek-plek herinner die boek aan ‘n besitlike weduwee wat jaloers en eiendomlik die manuskripte bewaar.

McHale se siening van die dood as ‘n “ontologiese grens” is relevant vir hierdie begryp van Prinsloo se optrede: o.a. die skryf van ‘n woedende brief aan die uitgewer en die eis van ‘n voorskot al sou die manuskrip nie gepubliseer word nie (!) dui alreeds op iemand wie se houvas op die werklikheid waarskynlik begin gly het.

Olivier verwys na die terapie-sessie waar oordrag plaasgevind het. Dus klein oomblikke waarin daar flikkeringe of suggesties is van ‘n dieper kyk in Prinsloo se psige en die rede vir sy simboliese vadermoorde en aanvalle op toenmalige vriende en kennisse.


III

Die gebrek aan ‘n indeks het die leeswerk beslis nie vergemaklik nie.

Ofskoon daar baie belangrike inligting verskaf word, voel die leser na die voltooiing van die teks soos oor E. Lindenberg se lesing van “Groot Ode”. Is dit waarop ons so lank moes wag?

Langverwagte tekste wat dikwels met beloftes gepaard gaan van hier kom ‘n deurbrekende grens, is niks anders as “belofte maak skuld nie”.

Vir die skerpsinnige analises van tekste kan ‘n mens die hoed afhaal. Vir ‘n diepgrondige verduideliking van die komplekse persona van Prinsloo wat in sy eie terme gelees wou word en à la Barthes sy eie filosofie wou skep waarin hy tuis en veilig sou voel, is hierdie studie helaas nie.

Eerder as om die teenstrydighede uit te wys, word dit self ‘n teks vol kontradiksies, soos uitgewys.


Bronne:

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

Gilles, Deleuze & Félix Guattari: Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia. The Athlone Press, Londen. 1984. (1972).

Miller, Alice: The Drama of Being a Child – The Search for the True Self. Virago, Londen.  1987.


Nawoord:

Uit die resensie is dit duidelik dat die studie in gebreke bly om Prinsloo se opstand teen die vaders psigoanalities te verhelder. ‘n Woede teen die vader – vaderhaat – word telkemale op ander vaderfigure geprojekteer en hierdie konflik, een van ambivalensie teenoor vaderfigure, tref die leser aan in vele verhale. In die verhouding met die skrywer as mentor (Aucamp) en die uitgewer (‘n simboliese vader).

Oedipus het sy vader Laius per ongeluk doodgemaak. By Prinsloo is dit ‘n volgehoue, meedoënlose inbeweeg en dan afwysing van die vaderfiguur. ‘n Anti-Oedipus dus. ‘n Weiering om te oedipaliseer en die gesag van die vader/Vaders te aanvaar op alle vlakke: werklik en letterkundig.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]