James Matthews. Flames
& Flowers. Realities, 2000. ISBN: 0 620 2689 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Diegene wat al vir James Matthews meegemaak het, sal
weet: hierdie is 'n "performance" digter uit die boonste rakke. Hy
weet hoe om met sy gehoor te speel. daar is ironie en 'n sardoniese aanbod.
Pass me a meatball, Jones bewys dit.
Die jongste bundel met die mooi titel, Flames & Flowers, is ook 'n
versameling van opstandverse. Hier word die net wyer gegooi as net die
Suid-Afrikaanse situasie en daar word onder meer verwys na die geval, Leonard
Peltier ('n gedig wat eers in 2000 geskryf word).
Die aanklag is teen die lot van die verdrukte mens (hier
'n 'native american') wat die (Suid)-Afrikaanse leser teen die agtergrond van
ons politieke verlede lees.
Matthews se humor skroei alreeds deur op die agterblad
wanneer hy beweer: "I wrote. It was not prose. Critics hyena-howled. It
was not poetry, they exclaimed. I never said it was. I was writing expressions
of feeling." Tog is daar by die nuutste bundel 'n wegwyser
"poetry" wat hierdie uitspraak (of verdediging) ongeldig maak.
Hy wil egter as opstandskrywer gelees word:"I would
find it extremely difficult writing poems of love or praise of nature. Neither
would I produce lines so finely polished or use metaphors and metre - art for
art's sake. I would feel like a pimp using words as decorations for my whoring...I
am not a poet neither am I a writer in the academic sense".
Die tegnieke van die orale gedig word hier ingespan:
herhaling; die aanspreek van die gehoor; woede/opstand; en 'n aanspraak op 'n
menslike begrip wat iewers moet bestaan...
James Matthews se poësie het meer om die lyf as die
gewone praatverse. Hy gee ook aandag aan beelde en die gedigte word gekenmerk
deur 'n soort self-ironie en bewustelike ondermyning van digvorme soos die ode.
as my mind is cleared of passages
of despair
my fear-filled fancies transformed into
poetical phrases
as i perceive my garden a'swirl with
butterflies frollicking
on its wings inscribed illuminated odes
to love
passages of song i need to learn
to serenade my release from melancholy
(p. 64)
Dikwels word bekende digterlike simbole (soos die roos)
nuut aangewend en van romantiese lading ontkrag. Hierom dan ook die belydenis
dat sy liefdesgedigte geaborteer word.
Dis nie Lorca of Neruda nie, maar beslis sterker as die
meeste guava juice-opstandverse hier te lande. Dit wys ook hoe maklik die wonde
van apartheid nog bloei. En hier is ook bewys dat die digter hom sal laat
voorsê dat alles nou reg is nie!
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]