Showing posts with label Michael Chapman. Show all posts
Showing posts with label Michael Chapman. Show all posts

Sunday, March 10, 2013

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Poetry (2002)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Poetry. Ad Donker, 2002. ISBN 0 86852 224 4.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman is professor in Engels aan die Universiteit van Natal wat dikwels al die wind van voor gekry het oor sy omstrede uitlatinge oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Oor kanonisering  is hy al gestriem deur Johan van Wyk en Helize van Vuuren. Tog is die konsep van “Southern African Literatures” (waaroor hy ‘n boek laat verskyn het in 1996) nie ‘n verkeerde rigting nie, hoewel daar min, indien enige, litetarore bestaan wat al die verskillende tale en literature in ons Suiderland ken en kan behartig.

The New Century of South African Poetry probeer dan om die verskillende tale in hierdie land in digvorm te representeer. Die voertaal is natuurlik veral Engels. Hier en daar slaan ‘n swart taal en Afrikaans deur. ‘n Ysingwekkende werk. En ‘n bloemlesing wat by die titel al vra om polemiek, kanttekening, kritiek en vraag.

Die Afrikaanse letterkunde het onlangs die Brink en Komrij bloemlesings gesien. Eersgenoemde het redelik ‘stil’ en met ‘n akkoord verbygegaan, terwyl Komrij se samestelling met groot geraas begroet is. Wanneer ‘n samesteller afwyk van die bekende norme of opvattinge moet reaksie te wagte wees.

Die positiewe aspek van ‘n aweregse samestelling soos Chapman s’n wat as ‘n ‘post-apartheid’ en ‘nuwe millennium’ bloemelsing aangebied word, is dat dit vir die leser nuwe insette bring. Dieselfde geld ook Krog se vertaling en herdigting van swart digters in Met woorde soos met kerse: die leser word van die stilgemaakte stem bewus.

Bekende figure soos Roy Campbell, Van Wyk Louw,  Kunene, Douglas Livingstone, Mongane Wally Serote, Kelwyn Sole en Antjie Krog is hier, maar waar is Breytenbach?

Peter Blum is daar, Jan F. Celliers, Johann de Lange, Clinton V. du Plessis, Eybers, Us Krige, Langenhoven, Leipoldt, om ‘n paar name uit te sonder. Johann  de Lange is eintlik meer as een keer daar weens sy skitterende vertalings van ander digters wat opgeneem is.

Daar word ook handige en bondige notas geplaas. Dikwels van hulp, soms niksseggend. Soos onder meer oor Tatamkhula Afrika wat raakvat, maar waar ‘n hele boel digters onder een noemer ‘saamgegooi’ word soos De Lange saam met Ingrid de Kok en Metelerkamp, word die indelings gesog. Soos dat hulle almal aan universiteite verbonde is! En dis hierdie kwashaal oor die doek wat ‘n mens laat besef dat daar dikwels met veralgemenings gewerk word wat nie korrek is nie.

Boonop word daar ook ‘n hele spul gedigte opgeneem wat ook Guy Butler se idee van wat ‘n goeie vers is, dekonstrueer. Is dit werklik ‘gedigte’? Of is dit eerder opstanduitinge? Disparaat word dikwels eerder desperaat vir my smoel. Dieselfde geld dan ook vir die massiewe (soos Chapman dit noem) opgawe van Johan van Wyk e.a. in SA in Poësie/ SA in Poetry dat dit nie net historiese inligting of politieke cliché is wat in korter reëls opgebrek word nie. Nee, ‘n vers moet as’t ware die wêreld ‘re-make’. Gebeur dit orals?

Die veralgemenings oor Suid-Afrikaanse digkuns is eweneens problematies wanneer hy skryf: ”Whereas Eliot believed that modern poetry was bound to be difficult, poetry in South Africa achieves an immediacy of communication” (p. xviii). ‘n Fronsontlokkende uitspraak, veral omdat hy ‘n paar asemteugies voor dit oor Van Wyk Louw skrywe!

Hier meen hy: ”Van Wyk Louw’s massive image-structures cannot exclude the voice of the Afrikaner Calvinist disgusted at people’s eagerness to embrace crass bourgeois materialism”. Ek wonder wat dink die Louw-kenners hiervan? Die aweregse blik hou nie op wanneer hy skryf oor die invloed van jazz en die Beats op die digkuns nie.

Chapman gaan nie akkoord met Stephen Watson se siening dat Engels Suid-Afrikaanse digkuns gebuk gaan onder die juk van ‘n linguistiese dooierigheid nie. Maar is dit nie dalk so nie? Is dit nie dalk wel waar dat ‘n digter soos Isobel Dixon juis lewe geblaas het in hierdie digkuns nie, omdat ‘n mens ‘n Afrikaanse invloed kan voel nie?

Aan die positiewe kant word daar wel ‘n klomp interessante digters vir ons gegee. Maar daar word ook ‘n onnoembare aantal weggelaat. En wat sou ‘n kenner van ‘n Afrika-letterkunde dink?

Chapman besef die gebreke van sy allamagtige taak: daarom vra hy sy leser om die bloemlesing te lees saam met ander versamelings of antologieë. En ja, waarskynlik sou verskillende redakteurs een groot Bloemlesing met ‘n hoofletter moet saamstel. ‘n Bloemlesing met die oorspronklike vers neffens die vertaalde gedig.

Wat baie interessante en leersaam was – altans vir hierdie leser – is om begaafde vertalers soos Guy Butler, Johann de Lange en Rosa Keet in aksie te sien by ‘n Wilma Stockenström-vers. Miskien is ‘n digter tog nie altyd die beste vertaler van ‘n eie vers nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Wednesday, March 6, 2013

Michael Chapman - Southern African Literatures (2003)



Michael Chapman. Southern African Literatures. University of KwaZulu-Natal Press, 2003. ISBN 1 86914 -28 1.

Resensent: Joan Hambidge

Teenoor die ouer literatuurgeskiedskrywing wat die bepaalde letterkunde se geskiedenis en polemieke en strominge weergee (soos Dekker en Kannemeyer in Afrikaans) staan Chapman se nuwe benadering: multi-kultureel. In plaas van ‘n letterkunde eerder dan Suider-Afrikaanse letterkunde. Alles goed en wel, maar wie is werklik genoegsaam ingelig om die verskillende SA letterkundes se ontstaan of tradisies na behore weer te gee?

Michael Chapman is in die verlede gestriem vir sy praktyk. Van ons voorste Afrikaanse teoretici het beswaar gemaak teen sy oorsigte. Trouens, sy onlangse versameling van SA-digters is eweneens aanvegbaar in sy groeperinge, opsommings en uitlatings. Digters wat vertaal of bekend is, geniet voorrang bo die minder bekendes.

In my bespreking gaan ek dus net let op dit waarvan ek iets weet, naamlik die Afrikaanse letterkunde. En nou is dit maar eenmaal so: as jy nie ‘n samesteller kan vertrou op die gebied bekend aan jou nie, hoe kan jy hom met ander oorsigte laat voortgaan? Is dit nie miskien raadsaam om verskillende kenners/outeurs aan te stel, in plaas daarvan om pa te staan vir een groot oorsig vol hiate?

Die volgende stellings/uitsprake vra om hersiening of is gewoon aanvegbaar:
*    die skamele bio oor Karel Schoeman
*    ditto, die skamele informasie oor Leroux;
*    ditto, die verkeerde informasie oor Eybers. Daar is ook etlike van haar gedigte
      deur die digter self vertaal;
*    Lady Anne is tog nie oorspronklik in Kaapstad uitgegee nie?;
*    N.P. van Wyk Louw se Opstelle oor ons ouer digters word ouer ‘over’;
*    die hele geslag ‘grensskrywers’ is ook nie hier te vinde nie.

Begin ‘n mens die studie met ‘n spreekwoordelike luiskammetjie benader, is daar nog meer groteske en in-die-oog-springende vergrype.  Ons lees byvoorbeeld dat Brink se ‘struggle’-tekste “are too easily swallowed into the text of an erotic escapade”(p. 405). Dit is nie waar van al die tekste van Brink in hierdie periode nie. Oor Schoeman word daar ook onbevredigend geargumenteer: van wanneer af is ‘n skrywer se biografiese of ander werk sommer ‘n sleutel tot sy romankuns? J.M. Coetzee se persoonlike lewe en ‘n verlies verduidelik sy ‘powerful meditation’ oor oudword en dood! Dit is werklik ‘n uiters simplistiese gelykstelling.

Hierdie studie word ‘n oefening in onbehaaglikheid. Die leser besef gaandeweg dat die samesteller te veel inligting wou uitstal sonder dat dit in diepte ondersoek is of werklik goed deurdink word. So gesien, word die hele boek ‘n ‘liquorice all sorts’.

“If the challenge is artistic, it is also of course societal” (p. 407) is die soort van veralgemenings wat op die leser losgelaat word.  Dit is waarskynlik een van die probleme wat onstaan wanneer ‘n skrywer alles binne ‘n keurslyf van vooropgestelde idees of veralgemenings wil laat inpas.

So word daar sommer gespring van Jeremy Cronin na Krog na Jeanne Goosen in een swiepslag wat enige subtiele verskil negeer. ‘n Mens kan net die kop skud oor sy arrogante uitspraak dat Lady Anne geen ‘anxiety of influence’ verraai en geen verwysing na die Dertigers, die modernisme, openbaar nie (p. 416) Òf hy verstaan Harold Bloom sleg (wat onder meer meen dat die verhulling of wegskryf van die interteks ook tersaaklik is) òf hy maak ‘n grap. En dis hierdie slordige soort teoretisering wat my die keel uithang: dis clap trap Marxisme, vrot dekonstruksie en halfgebakte paradigma-teorie waarteen ‘n mens moet vaslees.

My rooi pen het geloei asof dit ‘n werkstuk is van ‘n student wat niks regtig begryp nie en versoek sal word om die hele essay oor te skryf.  Hoe dan anders as ‘n mens feminisme (in plaas van feminismes) onder een noemer plaas met kinderliteratuur, en die sogenaamde ‘indigenised intellectual” (p. 417).

Hoe kan ek hierdie outeur vertrou met Xhosa of Afrika-letterkunde is die foute oor my letterkunde so potsierlik en blatant is? My kollega, kenner in Afrika-letterkunde, was eweneens gesteurd oor die foute, mistastinge en veralgemenings.

Michael Chapman is haas besig om sy reputasie as letterkundige ernstig aan te tas met hierdie ambisieuse, ondeurdagte oorsigte wat vir die leser van ‘n bepaalde letterkunde uiters problematies en kontensieus is. Die mini-kongres indertyd by Unisa waar bekende akademici Chapman gekritiseer het, het kennelik nie vrugte afgewerp nie. As hy navorsers aangestel het, moet hy hulle subiet in die pad steek.

As Komparatisme is die nuwe modeverskynsel is, dan moet dit met groter kundigheid benader word. Southern African Literatures ‘n bydrae of skande? Besluit self. Om die leser ook van die kwaadwillige persoonlike aanvalle in te lig en dat die vorige uitgawe die gesogte Bill Venter-toekenning verower het, kon my nie oortuig nie. ‘n Langer bespreking van hierdie studie sal elders verskyn.

Wanneer ‘n resensie ‘n fundamentele herskrywing word, is daar werklik ernstige fout te vind met ‘n boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Short Stories (2004)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Short Stories. Ad Donker, 2004. ISBN 0 86852 227 9.

Resensent: Joan Hambidge

Die naam Michael Chapman is sinoniem met die versameling van ons verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes. Geen maklike opgaaf is dit nie en die skrywer het veral in sy literatuurhistoriese oorsigte al die wind van voor gekry oor feitefoute en slordige veralgemenings. Maar sy basiese uitgangspunt is loflik, naamlik om die diverse en komplekse storiekuns van ons land wat tydens apartheid/aparthaat/apartnyd in hokkies gehou is, saam te plaas. Die leser kry dus ‘n fantastiese versameling van Engelse en vertaalde Afrikaanse tekste. Ook ‘n swart teks word via Engels vir ons gegee soos o.a. //Kabbo se “A story is like the wind”.  En Antjie Krog wat ‘vertaal’ en ‘oorvertel’ na aanleiding van die WVK-getuienisse.

Anders as Abraham de Vries wat nie sy leser voorsien van ‘n nuttige inleiding nie, skryf Chapman ‘n lang voorwoord. Hy wil teen ‘groot tradisie’ saamstel en ook minder bekende name opneem. En soos ons gewoond is aan die inleidings, is omstredenheid dadelik daar: "The art of the short story is not an art of reputation. It is the art of the left hand”. As jy mooi luister, kan jy Tjekof hoor gil. Ons word geneem deur die orale en die latere skryftradisie in ‘n goed verantwoorde inleiding oor presies wat die kortverhaal is. Dit is ook goed dat hy verwys na Gordimer se verhaal wat die konvensie van lengte oortree.

Die kort en kragtige aard van die medium was veral tydens die ‘struggle’-jare ‘n handige manier om die komplekse rassestryd oor te dra. In hierdie verband is daar vele verhale wat uiters navrant opklink: “The WHITES ONLY bench” van Ivan Vladislavic is ‘n kragtoer in demitologisering en Peter Wilhelm se “Jazz” gee ‘n blik op ons troebel land.

‘n Goeie aantal Afrikaanse skrywers kry ook hier ‘n staanplek en binne die antologie kry verhale ‘n ander en ryker betekenis. Verhale speel op mekaar in en die sub-teks van reaksie op onregverdigheid en diskriminasie tref die leser.

Trouens, ‘n mens is opnuut bewus van die ongelooflike ellende wat ons moes verduur het, of dalk, steeds meemaak wanneer Krog in Ladybrand ‘n boer met sy vierwiel vra na die WVK en die SABC en sy met ‘n vernederende skelwoord afgejak word en tot die bewuswees kom dat niks stellig verander het nie.

Hoe sal die buiteleser, die nie-kenner, na hierdie verhale kyk? Watter prentjie sal dit aan hom/haar oordra? Chapman kies verhale wat in die algemeen stewig as verhale die toets slaag. Verhale wat in die New Yorker of TLS opgeneem sal word. Goddank het politiek korrekte opnames waarmee bloemlesings in die vorige bedeling geteister was, plek gemaak vir verhale wat ‘n boodskap oordra, maar steeds as storie slaag en oortuig. 

P.J. Haasbroek se “Departure” is ‘n verhaal wat ironies genoeg meer as ‘n grensoorlog-verhaal word. Dit word ‘n Danteske verhaal, ‘n vertrek na die hel wat hierdie skrywer nogmaals bestendig.

‘n Mens sou kon pieker oor verhale wat nie opgeneem word nie, maar dit bly immers die bloemleser se keuse en omdat ons ‘n goed verantwoorde inleiding vind, is weglatings minder steurend.

So gelees, gaan niks verlore nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Wednesday, February 13, 2013

Michael Chapman - Omnibus of a Century of South African Literature (2007)



Michael Chapman. Omnibus of a Century of South African LiteratureAd Donker, 2007. ISBN  978 0 86852 233 3.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman se omnibus wil ‘n samevoeging wees van Jean Marquard, Martin Trump en ‘n Chapman-2004 se keuse van kortverhale.

 Daar word ‘n groter leesgehoor hier ten doel gestel en in ‘n sydelingse huldeblyk, word hier gegee aan Jean Marquard, die bekende Johannesburgse antoloog wat ontydig heengegaan het in die vroeë tagtigerjare.

Hy noem die kortverhaal die mees “resilient”en “innovative form of literary expression” hier te lande.

Hy lewer ook implisiete kritiek op die feit dat haar boek nie genoegsaam in die tyd teruggegaan het nie, maar terselfdertyd erken hy dat ons nou, met ‘n beter insig, ander keuses kan uitvoer.

Onder andere word die postkoloniale bemoeienis tans meer genuanseerd aangepak en die soeke na verbintenisse oor taalgrense heen, is kenmerkend van moderne literatuurgeskiedskrywing; iets waarmee Chapman hom al lank besig hou.

Die Afrikaanse kortverhaalboek van Abraham H. de Vries is die pendant vir Marquard se versameling – ‘n teks wat in 2001 ‘n elfde druk beleef. Bepaald ‘n prestasie!

Die veranderende sosiale en politieke klimaat word dus beter verteenwoordig in Chapman se multi-talige, muli-kulturele en dikker omnibus. (Size does count.) Vir dieper beskouinge oor die kortverhaal en tendense, verwys hy die leser na sy en Marquard se uitgebreide  inleidings tot hul ander kortverhaalbundels. Ingeligtes sal uiteraard die kortkunskenners soos De Vries en Aucamp se studies betrek, en Elize Botha se voorwoord tot In een kraal weer lees.

Dit is ‘n dikke boek met stories van natuurlik klassieke beoefenaars soos Herman Charles Bosman, Bessie Head, Doris Lessing, Es’kia Mphahlele, Alan Paton, Richard Rive, Olive Schreiner, Pauline Smith, Ian Vladislavic en Peter Wilhelm is hier opgeneem.

Minder bekende swart  skrywers wat aan die meeste van ons wit lesers, nota bene, onbekend is, word verteenwoordig en natuurlik is bekendes uit Afrikaans soos Aucamp, Chris Barnard, Jan Rabie, Karel Schoeman Riana Scheepers en Eben Venter, o.a. geplaas.

Chapman is ‘n kanoniseerder en soos die meeste letterkundiges wat versamel en byeenbring, goed belese en ingelig oor die strominge, stroomversnellings en afgronde. Daar is al skerp kritiek uitgespreek op sy multikulturele literatuurgeskiedskrywing en die hiate wat dit vertoon. Trouens, dit is ‘n lewenstaak om één letterkunde en sy tradisie te beskryf; wat nog van ‘n land met elf amptelike landstale met verskillende swart letterkundes; boonop elkeen met partikuliere tradisies wat wissel van orale tot skrif (swart) of hier en buitelands (Engels). Dit is vanselfsprekend dat Chapman dan sy oordele moet baseer op ander se insigte en opsommings wanneer hy buite die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde beweeg. Net so moet ons dikwels ons beroep op kenners uit die swart letterkundes – soos Antjie Krog wat moes steun op gesprekke met Sizwe Satyo in haar vertalings van swart digters – of gaan kers op steek by komparatiste oor hoé ‘n mens vergelykend te werk gaan binne ‘n land waar mense uit verskillende kulture nie eens mekaar se name korrek kan uitspreek nie.

Die biografiese notas is uiters suinig: Schoeman word gesien as’n afgetrede bibliotekaris van ‘n navorsingsbiblioteek – as skrywer van biogafieë, romans en kortverhale. Inderdaad – maar as grootse en uiters produktiewe Afrikaanse romanskrywer, sou ‘n mens kon byvoeg.

Iets waaroor die leser van Afrikaanse tekse mag tob, is die vertalings. Hoe gaan lê P.J. Haasbroek byvoorbeeld in Engels?

En Aucamp se “The coat without end?”

Is dit so pakkend as die oorspronklike?

Die meeste van ons ken Russiese tekste uit D.M. Thomas-vertalings waaroor daar erge fronse is in Rusland.

Dan kry ‘n mens wel begenadigde vertalers soos Ian Ferguson of  Johann de Lange,
wat die oorspronklike psige van die teks begryp, vasvat en hul eie maak. 

Elke leser sal hieroor self moet oordeel – of die teks goed “gereis” het van een taal, konvensie na ‘n ander en of  hulle binne ‘n omnibus-verband (onbewustelik) ander verhoudinge mag aanknoop, goed of sleg.

Trouens, die verhale verlaat die knusse kánon waartoe hul behoort het en ding nou mee op gelyke, neutrale grond waar die skrywer gestroop is van die vooraf-kennis wat lesers beïnvloed, ten regte of onregte. Amper soos vee agter op ‘n lorrie op pad na die landbouskou, opgelaai by verskillende plase en plotte. Sterkman ding nou mee met Blommetjie.

Toe daar by Unisa ‘n mini-simposium gehou is oor literatuurgeskiedskrywing, was daar kritiek uit die ander letterkundes op Chapman se werkswyse. Ekself het in die verlede skerp kritiek uitgespreek, maar die belangrikste aspek van die omnibus is dat dit ‘n versamelbundel is met ‘n handvol verhale van gehalte vir die kortverhaalliefhebber.

Veral, meen ek, sal buitelandse lesers ‘n blik kry op die komplekse verhoudinge tussen mense met verskillende tale, kleur, gelowe…

Of die kortverhaal in Suid-Afrika die meeste innovasies al deurgemaak het, sal ook betwis kan word. Party sal meen die roman kom hierdie eer toe. Ander mag glo dit is die gedig.

Maar elke omnibus, antologie of bloemlesing wat die komplekse gemeenskap waarbinne ons leef, beskryf en opteken, verdien vermelding. Is dit werklik so dat mense nie meer kortverhaalbundels koop nie? Indien dit wel so mag wees, sal hierdie omnibus dan hopelik vir liefhebber van die kortverhaal ‘n goeie aankoop wees.

Hierdie boek hef dan die skeidslyne op, nie alleen tussen wit en swart nie, maar ook tussen verskillende letterkundes wat in Engels verteenwoordig word. Ons kry dus hier Marquard se oorspronklike werk plus al die veranderinge wat in ‘n post-apartheid-Suid-Afrika plaasgevind het soos onder andere globalisering en die impak daarvan op Suid-Afrikaanse letterkundige sisteme.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]