Showing posts with label Picador. Show all posts
Showing posts with label Picador. Show all posts

Wednesday, January 25, 2023

Resensie | Julia May Jonas – Vladímír | Picador, 2022

Julia May Jonas – Vladímír
Picador, 2022

ISBN 978 1529 080 469


Resensent: Joan Hambidge

 

Binne die lang tradisie van die kampusroman, van Mary McCarthy se The Groves of Academe (1952) tot by Pnin (1957) Nabokof of David Lodge se satires, verskyn hierdie roman: Vladímír is Julia May Jones se debuut wat sterk inspeel op J.M. Coetzee se roman Disgrace (1999).

 

Twee eggenotes in ‘n Engelse departement in die VSA. Die vrou, ‘n skrywer getroud met John in ‘n sogenaamde “oop huwelik”. Hy word aangekla van seksuele misdrywe. Sy, op haar beurt, het haar oog op ‘n nuwe aankomeling, ‘n skrywer in die departement, ene Vladímír, getroud met ‘n vrou, ook ‘n skrywer. David, ‘n voormalige lover en kollega, is nou 50 pond oorgewig.

 

Die anonieme verteller (58 jaar oud) se lesbiese dogter Sidney en haar swart lewensmaat. Beide regsgeleerdes wat Papa bystaan in sy agonie. ‘n Seksuele interlude met ‘n man lei tot ‘n swangerskap wat nuwe intrige skep. 

 

Ons beleef die hele woke-kultuur en die grense van seksuele grense (en keuses) wat voortdurend skuif. Binariteite wat bevraagteken word en nuwe seksuele identiteite geskep. Boetes op kampus as jy rook in rookvrye sones. Orals polisie; véral intellektuele polisie.

 

Begeerte dryf hierdie verhaal. Daardie psigoanalitiese konsep wat die formasie van die ego bepaal en manipuleer.  Die verteller draai die sogenaamde male gaze op sy kop en ons sien hier ‘n vrou wat ‘n man tot objek verklaar (en selfs vasbind).

 

Is die vroue-professor se man werklik ‘n grensoorskrydende figuur? Of was die jong vroue medespelers?  Is die selfmoordpoging van Vladímír se vrou werklik relevant vir die departement?

 

Ons beleef die bedompige rugstekery van die akademie, die onverbloemde jaloesie en natuurlik: kompetisie.

 

Die roman staan iewers tussen ‘n akademiese krimie (die slot is gevaarlik onthutsend gedagtig aan Rebecca) en ‘n psigoanalitiese analise. Nabokof se beroemde Cornell-lesings word vermeld en daar is kopknikke na Jane Gallop se Feminist Accused of Sexual Harassment (Duke, 1997) met vele films oor begeerte: Godard, Truffaut en Misery met Kathy Bates (1990) en natuurlik die golden oldie: Rebecca van Hitchcock (1940). The Apartment (1960) – met Shirley Maclaine en Jack Lemmon – intimeer dat liefdesverhoudings onskuldig kan wees. Billy Wilder se Some Like Hot  (1959) word so ingedra …

 

Harold Bloom gooi ‘n draai (onthou hy is eweneens aangekla (diep sug) van ontoepaslike gedrag deur daardie humorlose feminis, Naomi Wolf) in hierdie roman.

 

Erich Segal (1937 –  2010) se Love Story is glo geskryf na die skrywer, ‘n dosent aan Yale Universiteit in klassieke tale, uitgedaag is om ‘n moderne tragedie te skryf wanneer ‘n mens aan ‘n gewilde kampusstorie dink. 

 

Dis ‘n genoeglike debuut en vir hierdie leser was die roman waar die begeertes tussen al die rolspelers (en die konflik) nog nie uitgespeel is nie, beter as die laaste gedeelte van die roman.

 

Spanninge tussen karakters wat werklike vuurwerke word, is dalk ‘n poging om closure te kry in die roman. Desnieteenstaande ‘n debuut vol belofte, ofskoon die slot te maklik afloop. Veral gedagtig aan die klassieke intertekste en slim toespelings.

 

Wel slim is die kommentaar op die jong kollega se roman wat van toepassing is op die roman wat ons lees (164). En Vladímír wat weer op sy beurt die gebeure kaap en in sy roman sit en wat die kritiek as “bleak” ervaar, terwyl vroulief, Cynthia die pryse inoes met ‘n meer toeganklike boek.

Die uwe sal weer Kate Chopin (1850 -1904) moet lees om die studente se kommentaar en kritiek te kan begryp oor die wese van ‘n sensitiewe, dog feministiese vrou.

 

Sou Vladímír se vrou werklik ‘n skryfklub begin het die met die anonieme verteller wat haar eie identiteit meedoënloos onder die loep neem, wonder hierdie leser. Ons vind hier van selfplesier tot -skending; van rook en drink; van ‘n analise van die post hoc-prudery wat vroue binne die akademie van agentskap ontneem (10).

 

Wat ‘n karakter dink van D.H. Lawrence se 1928 klassiek Lady Chatterley’s Lover is hier toepaslik: wanneer daar oorgegee word aan die hartstog, is dit alles verby. Sowel vir die karakters as vir die leser.

 

Lees en onhou gerus: Love means never having to say you’re sorry!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Thursday, March 28, 2013

Jackie Kay - Trumpet (1999)



Jackie Kay. Trumpet. Picador, 1999. ISBN: 0 330 33146 9.

Resensent: Joan Hambidge

Jackie Kay het al bekendheid verwerf vir haar digkuns soos The adoption papers en Other lovers. Met haar debuutroman Trumpet verower sy die gesogte Guardian Fiction Prize in 1989 en hierom dan die sagteband Picador publikasie na die MacMillan hardeband uitgawe.

Trumpet handel oor die modieuse konsep van gender-bending iets waaroor onder andere Foucault insiggewend geskryf het in die inleiding tot die dokument Herculin Barbin, oftewel die relaas van 'n hermafrodiet. Transvestisme, geslagsverandering of -verduistering is aan die orde van die dag en Marjorie Garber se insiggewende studie oor hierdie onderwerp Vested interests ondersoek die verskynsel vanaf Shakespeare tot moderne verskynsels. Ook Camille Paglia het belangrike werk gelewer op die gebied van geslagsdiskoers.

Ook films ondersoek dit met groot gusto: vanaf Some like it hot tot en met The crying game het hierdie tema enersyds humor en andersyds spanning by die kyker ontlok.

Trumpet vertel die verhaal van Joss Moody, 'n jazz trompetspeler wat voorgegee het om 'n man te wees. S/hy het selfs 'n vrou en aangenome kind gehad wat gedupe is deur die geslagsrol wat vertolk is. Die verhaal begin by die dood en onthulling van die ware feite. Verlede jaar was daar 'n storie in die Britse pers oor 'n pianis wat eweneens haar/sy vrou om die bos gelei het.

Hoe is dit moontlik? Speel die familie saam? Is die taboe oor homoseksualiteit steeds so groot dat 'n spel die enigste uitweg is? Of is daar werklike vergissing in die spel?

Jackie Kay hanteer al hierdie leservrae met geweldige deernis. Die sjarme van die roman is juis hierin opgesluit: dat die liefde uiteindelik tog alles kan oorwin. Ook die pynlike belydenis van die kind ontroer. En die lykbesorger se meditasies rondom die dood moes waarskynlik geweldige navorsing geverg het.

Dit is dan ook pseudo-historiografie en verskillende perspektiewe word op die verhaal gegee, selfs met 'n cv. Dit het egter 'n bietjie herhaling tot gevolg - 'n klein punt van kritiek.

Die roman het 'n poëtiese kwaliteit wat imponeer. Dis een van daardie romans wat 'n mens jy het self geskryf. Dit sit vol wysheid, onder meer die stelling van Oscar Wilde dat jou biografie nie deur dissipels geskryf word nie, maar deur die verraaier. En dat herinnering sekere insidente helderder maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Friday, March 15, 2013

Kent Haruf - Plainsong (2001) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Kent Haruf. Plainsong. Picador, 2001. ISBN 0 330 39314 6.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Dit is 'n verhaal wat afspeel in Colorado in die tagtigerjare. Victoria Roubideaux is swanger en haweloos. Sy kry herberg by twee skaam beesboere. Ook die onderwyser, Guthrie, se invloed word bespreek.

"Plainsong" word soos volg verduidelik:"unisonous vocal music used in the Christian church from the earliest time; any simple and unadorned melody or air".

Dit is ook so van hierdie roman: eenvoudig, onpretensieus en aangrypend. Die verhaal word direk vertel en daar is geen foefies nie. Ook is die perspektiefwisseling van karakter na karakter maak die verhaal boeiend.

Dit is die drama van gewone mense in 'n landskap wat hul emosies weerkaats.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Michael Ondaatje - Anil's ghost (2000) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Michael Ondaatje. Anil's ghost. Picador, 2000. ISBN 0 330 48077 4.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Michael Ondaatje se Anil's ghost is wat my betref die wenner.

Die verhaal speel af in Sri lanka. Anil Tissera, gebore te Sri Lanka, het haar opleiding in Engeland en die VSA ontvang. Sy is forensiese antropoloog en sy word deur 'n internasionale menseregte-organisasie gestuur om die moord deur georganiseerde skenders op die eiland te ondersoek. Die leser moet, soos sy, die kodes analiseer en die roman is 'n soort speurverhaal wat metafories gedronge vertel word.

Sy romans beweeg in konsentriese sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die feit dat hy - in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n assosiasie begin.

Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles vrywillig.

Die roman is meer as 'n konvensionele speurverhaal. Dit is ook 'n verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief, ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend verbeeld.

Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.

Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies word ook hier kreatief aangewend.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

Don de Lillo - Falling Man (2007)



Don de Lillo. Falling Man. Picador, 2007. ISBN 078 330 453172

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs het die groot literatuurkenner Harold Bloom vir Philip Roth, Thomas Pynchon, Cormac McCarthy en Don De Lillo as die grootste Amerikaanse romanskrywers uitgesonder.  Natuurlik léwend, want ‘n mens sou beslis Saul Bellow by hierdie lys moes voeg.

De Lillo is die skrywer van die briljante White noise en Underworld. In 2006 is laasgenoemde roman beskou as een van die beste romans van die afgelope vyf-en-twintig jaar deur die New York Times Book Review en in die jaar 2000 is dit bekroon met gesogte Howells Medalje van die Amerikaanse Akademie.

De Lillo se jongste roman, Falling Man, is ‘n pakkende roman en geen leser kan die toespelings mis nie. Dit is die vallende man uit die World Trade Center geval het en oor wie se identiteit daar deur vele skrywers en digters bespiegel is. Maar daar was glo ‘n persoon wat tien dae na die ineenstorting van die geboue onderstebo aan ‘n gebou gehang het en sodoende mense herinner het aan die tragiese gebeurde. (Lees hoe die skrywer feit en fiksie vervleg.)

Die agterblad beskryf hoe hierdie gebeurtenis ons emosionele landskap verander het. Ons geheue, ons ervaring van die wêreld sal waarskynlik nooit weer dieselfde kan wees nie en ‘n besoek aan die VSA kort ná 9.11 het die Amerikaners as paranoïes onbloot.

Daar word dikwels geglo dat ‘n gebeurde van hierdie impak nie dadelik onder woorde gebring kan word nie. En hoe verwoord ‘n mens soiets? D.M. Thomas gee Flying into love die sluipmoord op JFK uit verskillende perspektiewe weer, omdat dit onmoontlik is om net één weergawe op hierdie moord te gee. Verskillende storievertellers spekuleer, praat, onthou. (Oliver Stone se film JFK doen presies dieselfde in ‘n duidelik omlynde weergawe van vóór en daarna).

Om so ‘n sterk histories-gelade onderwerp aan te pak, is uiteraard gevaarlik. Trouens, die roman begin reg met die dramatiese gebeurde en ineenstorting. Hy plaas dit binne die menslike drama van Keith en sy voormalige eggenote, Lianne. In die hande van die sober prosaïs, De Lillo, wat uiters spaars met woorde omgaan. Die prosa het die hoë dramatiek van amperse digkuns en dit voel vir die leser asof die outeur hom op ‘n maniese wyse in daardie insident, daardie dag inskryf sodat hy vir ons presies wil weergee hoe dit alles gevoel het.

So beskryf hy ‘n hospitaaltoneel:

“Doctors in scrubs and paper masks checked his airway and took blood-pressure readings. They were interested in potentially fatal reactions to injury, hemorrage, dehydration. They looked for diminished blood flow to tissues. They studied the contusions on his body and peered into his eyes and ears...”(p. 15).

De Lillo gebruik ook Alzheimer-pasiënte as ‘n simbool: hulle moet opteken wat alles op daardie gebeur het . Ons verneem grieselige besonderhede van hoe ‘n menslike bom stukke in ander mense inskiet wat later uitsweer. Hier dink ‘n mens aan die impak van die atoombom en hoe Japannese se liggame jare later steeds swere dra.

Juis omdat die gegewe teen so ‘n frenetiese spoed gebeur, moet die prosaskrywer dit in ‘n amper staccato-agtige toon weergee. En hierin slaag De Lillo.

“All of life’s lost time is over now”, verneem ons later in die boek.

Die skrywer klim ook onder die vel an die vyand, die terroris. Hy gee die ánder kant weer van Hammad en Amir en waarom hierdie daad gepleeg is.

Die snelvuur van die vertelling vergestalt die emosionele pyn van die verteller en sy karakters. Die slot is onstellend: hier word die ongewone reggekry. Dit wat regdeur die roman in jukstaposisie geplaas word, naamlik die New Yorkers binne-in die gebou se ervaring van die aanval versus die selfmoord-agent se uitvoering daarvan. Dit is ‘n hewige einde. Waarskynlik grensoorskrydend, omdat mense se ervarings van angs uigespeel word – met ‘n hemp wat deur die lug draal.

Daardie vallende man en sy rol word ontleed in ‘n roman wat jy lees en moet neersit weens die hewige aanslag op jou gemoed.

Dit is ‘n roman wat waarskynlik net deur ‘n Amerikaanse romanskrywer so pakkend beskryf kon word. Dit vertel van die angs wat steeds voortduur en die merk wat dit op die Amerikaanse psige gelaat het. 

Dit vra om met Saul Bellow se Dangling Man gelees te word en die afwesigheid van God en die vrae rondom metafisika speel in op George Steiner se sieninge in The death of tragedy.

Foto: man wat val

Bo hemel en aarde
Vertikaal
hang hy gekruisig deur ’n fotograaf

die man:

Eers ’n naamlose uitroepteken
op die oordeelsdag
toe hy vlug
van die swael en vuur
weg
weg
na ’n bestaan buite tyd
(en pyn).

Vele vraagtekens volg:
wie was hierdie man?

Die misterie verbreek:
Ons verneem hy was ene Norberto Hernandez
van Puerto Rico. Dit was sy laaste
werksdag as bakker
en skinker van die lewe.

Maar eintlik was hy ’n engel
wat tydens hierdie Armageddon
die ondraaglike breekbaarheid van lewe
oorwin.

(Uit: Ruggespraak. Protea Boekehuis, 2002)


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]