Showing posts with label Azille Coetzee. Show all posts
Showing posts with label Azille Coetzee. Show all posts

Sunday, October 24, 2021

Resensie | Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar | 2021

Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8235 5

Resensent: Joan Hambidge



Drie jong vroue: Lien, Katryn en Charlotte. ‘n Vriendskap tussen drie uiteenlopende vroue en die impak van Lien se bruilof op hul lewens word ondersoek. ‘n Troue in die Karoo. Die ander vriendinne is strooimeisies.

 

Inderdaad ‘n moderne Jane Austen-verhaal waar die spanning tussen Lien en Katryn opvlam.

 

Iets soos ‘n herinnering aan Sliding doors met Gwyneth Paltrow in die hoofrol in Peter Howitt se 1998 film met die vraag wat-as en wat miskien ook Krzysztof Kieślowski's se 1987 film Blind Chance oproep.

 

Ons lees ook in die roman van ‘n reeks kamera-reg oomblikke wat naatloos opmekaar volg met toneelstukke en opvoerings (60)

 

By Jane Austen is daar ‘n dans en alles beweeg vorentoe; hier is daar ‘n troue en alles draai vorentoe en agtertoe. Bruidstydskrifte word van jongsaf bestudeer; naels is gemanikuur. Konflik broei.

 

Hierdie roman – drieledig opgebou – werk met hede, verlede en toekoms en soos in die Lacaniaanse teorie rondom begeerte, werk alles in sirkels. Die knope in die psige waaraan ons verbind bly. Jungiaans gelees, kan dit argetipies benader word. Die drie vroue is waarskynlik ook verskillende aspekte van die vertellende instansie: die onvoorspelbare teenoor die intuïtiewe en die rasionele dimensie. Eros / pathos / logos.

 

Wanneer Katryn terug is in die Kaap, speel sy in ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Tsjekof se Drie susters. Charlotte gee vir haar ‘n rok present en Katryn hou nie van die rok wat sy in die toneelstuk moet dra nie. Maar het sy werklik ‘n trourok nodig vir hierdie produksie en waarom kry sy Lien se rok?

 

Met die aftrek Kaap toe, laat Katryn klere agter vir Lerato, haar buurvrou en joga-guru. Klere, soos ons weet uit Alison Lurie se 1981 studie, The language of clothes (Heinemann, Londen) gee bepalende sleutels tot karakters in ‘n roman en hul binnespraak. Marjorie Garber se Bisexualities (2000) is eweneens handig.

 

Wat mense eet, drink en dra is deel van die leefwyse en verduidelik optredes. Kulinêre eetgewoontes en die sogenaamde gustatory is ook hier as ‘n kode.

 

Die steelfoto by die troue word ‘n ikoniese voorstelling van rykdom en kommentaar op die eet van vleis en middelklaswaardes wat ondersoek word (101). Afrikaner-mitologie (gelaai met ironie, want die dag toe Tiaan gebore is, het vyf van die skape gelam met ‘n koperkapel in Ouma Esther se wasbak, 30) teenoor patriargale geweld (aangekondig met die dood van ‘n jakkals). Hierteenoor die vader wat ‘n gesin uitwis en die underbelly van die idilliese plaasbestaan impliseer altyd armoede en uitbuiting van ander. 

 

Die wit apartheidsbestaan word skerp geteken: vibracrete, snorre, perms …

 

Honde speel ‘n belangrike rol en die boerboel as kunsobjek is mitologies gelade (en gevaarlik). Cerberus (driekoppig) word so geaktiveer, daardie bewaker van Hades wat verhoed dat die dooies kan ontsnap. (Wat is dood? Manlike oorheersing? Die verlede?)

 

Regina die huishulp sien alles afspeel.

 

Agter die storie skuil baie feministiese vraagstukke oor aborsie, moederskap, woman-identified-woman en of ‘n vrou werklik bevryd kan wees in ‘n patriargale gemeenskap. Eetstoornisse en perfekte lywe. Prokureur, kunstenaar teenoor aktrise. The Bacherolette is hier as ‘n vingerwysing aanwesig. Jenna se kameerol verklap iets verders.

 

Daar word eweneens kommentaar gelewer op Instagram, narcisme, selfbeheptheid en hoe die private openbaar geword het. Veral Katryn se karakter verteenwoordig hierdie dimensie. Sy word immers die verwyt gemaak dat ander mense net bykarakters is in haar storie.

 

‘n TV-reeks met die titel Siembamba is ‘n verdere ingebedde ironie. Feministiese wit vroue teenoor vermoorde swart vroue sonder agentskap. Die mans soos Tiaan en Hendrik is gedugte teenspelers. ‘n Manlike professor word die objek van die jong vrou se begeerte. Daar blyk twee soorte mans te wees: dié wat gedigte stuur en die manne wat dit nie doen nie. Binariteite word deurgaans bevraagteken.

 

Die roman ondersoek die subtiele verhoudings tussen vroue wat alreeds in Afrikaans uitsonderlik deur Rita Gillfillan beskryf is in veral Die vrank smaak van frambose in 1993.


Dit is ‘n vlot vertelling met baie implikasie oor hoe jong mense leef. Kundalini en chakras netjies ingebed in ‘n roman oor indiwiduasie. Hierom eindig die slot met ‘n ring wat oorhandig word. ‘n Ring met ‘n gevaarlike geskiedenis.

 

En ook ‘n teks oor die implikasie van Begeerte (en die oneindige sirkulasie daarvan) wat deur die media geskep word en wat ons (dalk) manipuleer? Die vreemde droom op bladsy 137 illustreer dit.

 

Met In my vel (2019) het Azille Coetzee ‘n beduidende memoir gelewer (Youtube | Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee. Besoek 24 Oktober 2021).


Hierdie kaleidoskopiese roman bevestig haar talent met kommentaar op Eva wat sowel Cixous as Gallop se studies na vore bring. Die Uitgange teenoor die dogter se seduksie.


Luami Calitz se voorblad Witches is treffend en openbarend.

 

 

Bronne:

 

Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen. 1982.

 

Cixous, Hélène: Die Unendliche Zirkulation des Begehrens. Merve Verlag, Berlyn. 1977.

 

Cixous, Hélène: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989. 

 

                               Sorties. opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory - A Reader. Longman, New York, 1988.

 

Gallop, Jane: Feminist accused of sexual harassment. Duke University Press, Durham. 1997.

                         

                        The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

 

                        "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and humour section - NEMLA-kongres, Hartford, Connecticut. Maart 1979. 

 

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

 

                        Vested interests - cross-dressing & cultural anxiety. Routledge, Londen. 1992.

 

Sunday, July 28, 2019

Resensie | Azille Coetzee – In my vel (‘n reis) (2019)

Azille Coetzee: In my vel (‘n reis). Tafelberg, 2019. ISBN: 978 0 624 087 29 8

Resensent: Joan Hambidge

In my vel se sub-titel lui: 'n reis.

En dit is sowel 'n letterlike reisverslag as 'n emosionele kartering van die verskille tussen Suid-Afrika en Holland deur die oë van 'n wit, intelligente jong vrou wat aan die Vrije Universiteit 'n PhD skryf. Sy het 'n visum vir 22 maande.

Lanklaas het ek 'n boek gelees wat soveel belangrike sake op so 'n toeganklike en eerlike wyse aanspreek. Gender, identiteit, ras - daardie drie belangrike aspekte wat die self bepaal, word hier ondersoek.

In Nederland waar alles werk en waar mense hulle vererg omdat jy indruk in 'n ry of jou voete op die tremsitplek sit, word geplaas teen Suid-Afrika waar groot politieke issues en sosiale onrus aan die orde van die dag is. Hier word jy betig met 'n "Doe even normaal".

Omdat ek nie die leser van sy of haar leesplesier wil ontneem nie, gaan ek net enkele aspekte toelig. Die skrywer het haar vinger op die pols oor die hele kwessie van postkolonialiteit en Afropolitanisme.

In die dekoloniseringdebat vloei alles inmekaar met die verwerping van maklike binariteite.

Die Nederlanders voel anders oor genadedood as ons en telkens word die leser bewus van die skrywer se skuldgevoelens. (Dis immers deel van ons Calvinistiese bestaan. Es ist in der Luft. Niemand ontkom dit nie.)

Antjie Krog se Begging to be black kom aan bod by 'n besprekingsgroep. En ja, velkleur is ons probleem. 'n Mens dink ook aan die digter se Kleur kom nie alleen nie.

Ons is in hierdie land kleurbesete, want dit is die shorthand wat soveel verskille insluit en stereotipes opsluit.

Oor rassisme skryf sy insigryk. En Trevor Noah se respons vanuit die buiteland op ons bestraffing van rassiste is eweneens belangrik.

Want dan kan ons tog voel: ons is nie almal so nie ...

Vreemd dat 'n feminis eers laat in haar lewe Thelma and Louise sien?

Dis 'n verhaal van terugkeer na haar moederland eerder as ontvlug in die ordelike Nederland.

Die verslag oor haar liefdeslewe karteer haar as eerlik. Die verhouding met 'n ouer man loop dood. Sy keer terug en werk 'n ou verhouding weer uit. Die beskrywing van partytjies en die verskille tussen hier en daar, is eweneens tersaaklik. Ook die vryheid rondom liggaamlikheid en seksuele voorkeure van vriende.

Dwelms daar, drank, dans, galerye en die simboliek van hoekom jy fietsry in Holland, word onder die loep geneem. Via Judith Butler (gender), Biko en Mbembe (ras), Virginia Woolf  en J.M. Coetzee (skryf) , om enkele name uit te sonder, neem sy haar posisie in.

Lê die Afrikanerplaas werklik buite geskiedenis en tyd?, soos J.M. Coetzee skryf. Ek dink nie so nie.

Dit word verkeerd bewys deur die groot plaasromans in Afrikaans. En sommer ook in sy eie tekste.

Daar is 'n kopknik na Laura Windvogel. Oor taalsake veral Christo van Rensburg.

Oor taalverskille lag 'n mens lekker en hoe ons mekaar heerlik verkeerd verstaan.

Bekakt is aanstellerig. As jy iemand daar wil uitskel, is kankerhoer 'n mooi een!

Soos Rian Malan en Jonny Steinberg keer sy terug. Gewond maar onoorwonne.

Sy bedank haar feministiese mentors Amanda en Louise. Ons neem aan dit is Amanda Gouws?

Lees hierdie gevoelige en belangrike verslag van 'n postdoktorale navorser aan Stellenbosch.

Hoewel die wêreld plat geword het in ons tegnologiese epog ( in haar woorde) en ons vinniger kontak het, bly ons verskille staan.

Daar is poëtiese oomblikke (soos op bladsy 79) wanneer sy oor haar taal praat.

Suid-Afrikaners is tegendraads, lewe buite boksies en ons is kompleks, vol paradokse en pluraliteit (141). En sy vang dit so goed op.

Hierom spook ons met identiteitsverwarring en onsekerheid.

Net soos sy weet dat sekere verliese onverwerkbaar is.

Die boek word bemark as nie-fiksie. Dit is iewers tussen 'n outobiografie, verslag en reisbeskrywing.

Soos haar sieninge alle binariteite ontglip, kan 'n mens ook nie die teks finaal vaspen nie. Dalk iets soos "Creative Non Fiction".

Die boek word voorsien van 'n bibliografie.

Filosofiese kwessies word toeganklik en helder verwoord.