Showing posts with label Gedig. Show all posts
Showing posts with label Gedig. Show all posts

Thursday, April 6, 2023

Gedig | Joan Hambidge - Don’t look now | 2023

Sielskerwe glo hierdie besoeke

van die dooies aan ons,

vertel ek vir my digtersvriend

 

vanoggend ná ‘n droom

oor geliefdes en dooies

roepend na ons.

 

Sedert die mees onlangse

vertrekkende roep ‘n swart kraai

voor my venster nie in Venesië nie.

 

Verbeelding of fausse reconnaissance?

Op die beginsel van cui prodest

is ons almal skuldig

 

aan verlange en fantasie

en weier ons om die dooies

‘n ruskans te gun.

 

Ek het die sleutel toegesluit

in die kluis waar jy rus,

Monsieur Joyeux,

 

sibariet, skeptikus, regsman:

met hierdie vers bewys

ek jou tog verkeerd oor

 

die Anderkant.


© Joan Hambidge 

Monday, October 24, 2022

Gedig | Joan Hambidge - Verjaarsdagvers vir Antjie

Vir Antjie Krog 

Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:

 

die wasmasjien dreun in die agtergrond 

soos ‘n trekker in die Vrystaat

deurmekaar geslinger; 

die koffiemasjien klik weer 

aan, onverwags, lesend (ek) aan 

“land van genade en verdriet”.

 

Siklies jou verse wat alles 

van vrouwees, nee menswees karteer.

Jy skryf omdat jy woedend is glo;

tog lees ek jou verse as oop en teer:

aards en sonder fieterjasies, soos jy.

 

Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger

nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting 

op julle familieplaas genaamd Middenspruit.

Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene

uit jou tuin aan vir my en ‘n doring

laat bloed onverpoosd spruit.

 

Hou jou wapens blink, leer jy ons.

Nes jou “classy” heldin Eybers,

ont-grens jy alles in jou unieke stem 

oor die intieme aard van die digkuns …

Jou grootste liefdesverhouding bly

met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos, 

matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.

 

“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.

Die ongehoorde soort word hoorbaar

verklank in jou eiesoortige, dwingende,

verslawende verse: van begin tot einde jý.

Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,

‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.  

 

Saturday, June 11, 2022

Gedig | Bitterbessie dagbreek vir oulaas | 2022

Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son

O aarde, die spieël het gebreek

tussen al die tekste oor onse Ingrid 

met soveel parodieë al besing.


Soek ek in Groot verseboek na haar,

loop maar in sirkels rond vervaard:

eggo’s en herkenning, selfs pryse

na haar vernoem, lê sy op bladsy


462 (Deel II) van haar beminde,

self al saliger, se bloemlesing verbind.

Nes Dirk-der-Duisende, koggelaar 

in sy Kuns-mis en Komas sowaar.


Wie se bitterbessie-pyn, wáár klink

die bitterbessie-stryd nou op: krink

‘n eggo, nog ‘n antwoord, voltrek 

‘n palinode: dié dennebos vertrek?


© Joan Hambidge

Tuesday, March 1, 2022

Gedig | Pensioenaris | 2022

Amptelik vandag ‘n pensioenaris gemaak

in ‘n bankstaat só aan my uitgemaak.

Nou mag ek om afslag aansoek doen:

korting, vermindering; se passer de …

Voetjie-vir-voetjie word jy pensioenaris

(gedagtig aan Elisabeth Eybers): my hare gris.

Maar oor een ding val daar nie te redeneer:

die woord vadsig in al haar geledinge sal jy leer.

Die bestudeerder van ‘n vreemde taal verken

lui, argeloos, traag, lusteloos volledig in die ken.

Maar so is dit nou: vandag offisieel ‘n pensioenaris:

retraitée soekend na woorde vir die nuwe IS.

 

© Joan Hambidge

Tuesday, December 28, 2021

Gedig | Joan Hambidge - Biskop Tutu (1931 – 2021) | 2021

Almal huldig jou tans om vrede,

vir die rol by die WVK as Dexter

in die oopmaak van ‘n wond.


Die insnyding word dehiscensie;

wondnate en suture oopgekrap

in ‘n land van skedelbene sinister.


Hoe jy telkemale versteld was,

selfs in trane uitbars oor dié stank,

dít onthou en registreer die optekenaars.


Dit is in jou verbintenis met die Dalai Lama

waar jou ware aard na vore kom:

die Weste versoen met die Ooste.


“Christus”, meen jy, “dié hoogtepunt

van God se openbaring aan ons” -

dalk nie die enigste weg en waarheid?


“Hoe kan ons namens God besluit?”,

sou jy later opmerk, want daar is ander

openbarings soos die epifanie, onverwags,


van onsigbare verbintenisse tussen ons,

die lewendes en die vertrekkendes

na daardie ruimte sónder letsel of wond.


© Joan Hambidge


Thursday, September 16, 2021

Gedig | Vertigo | 2021

Vertigo

Joan Hambidge 


Drome is ook metafore

soos Scottie 

deur ‘n opening

vol blomme in ‘n floristewinkel

Podesta Baldocchi kyk

op 224 Grant Avenue

na die geliefde

poserend as die verdwene een;


dan verander die staf in ‘n slang

toe ek nademaal

jou afskryf

in hierdie droom.


My hand nie melaats

toe ek ontdek

my vriende

hou ruggespraak

oor ons.


Nou val iemand na benede

uit ‘n klooster

soos ek toekyk

hoe al die vroue


één word: Carlotta Valdes, 

Madeleine Elster, Judy

in ‘n lang galery

van verraderlike impersonasies.


Scottie oorkom  

akrofobia

soos die digter

die hoogtevrese

van herkenning:

die digkuns 

se uitkenningsparade

troef soos ‘n Hitchcock.


Scottie tweekeer

verloën verlaat;

die digter meerduidig

verraai geostraseer.



Saturday, April 24, 2021

Gedig | Joan Hambidge - Swart April 2021 | 2021

 Swart April 2021

 

Is poësie nog moontlik

- vra Adorno -

na Auschwitz?

 

Die argiewe en dokumente

in my tuisbiblioteek

verklap 'n beheptheid

 

met woorde sinne

om sin te maak

van myself én ander se

 

woorde sonder omhaal

of afhaal "April

is the cruelest month"

 

onthou ek Eliot

se gevleuelde woorde

in 'n tyd toe vuur

 

'n biblioteek

ontbrand uitbrand afbrand

geen mense nou dood

 

net boeke opskryfsels

vertalings transkripsies

bleek bleker Bleek Lloyd

 

C. Louis Leipoldt

se al-die-veld-is-vrolik

in die leeskamer dalk uitgewis?


© Joan Hambidge 

Friday, February 19, 2021

Gedig | Die gedig as oorskiet | 2021

Vanoggend skarrel

ek in die kombuis 

warm oorskietkos op 

en dink aan Eybers wat skryf 

aan die digter van Gunsfontein: 

moeilik om poësie te skryf 

(v)oor panne en potte. 

 

Arthur Miller 

meen in 1935 was Amerika 

far beyond the reach of prayer  

                                                as a collapsed bridge. 

 

Watter brug had hy in gedagte? 

 

Nie die Brooklynbrug nie, 

die eerste staalkonstruksie 

voltooi in 1883 met 20 werkers 

wat sterf aan caisson-siekte. 

 

Daardie brug staangemaak 

in vele gedigte oorleef 

dekompressie en in my skryfsel 

dink ek aan hierdie harp en altaar 

soos Hart Crane dit besing. 

 

Daar is nog tyd en plek vir gebed en dig 

terwyl ek, met oorskietkos uitgeskep, 

aanpaksels van my pot wegskuur: 

 

oor daardie brug heen-en-weer gereis 

ooggetuie van 'n tyd voor-en-na  

9/11, hierdie pandemie tot 

'n vervloekte slot ópgehef. 


© Joan Hambidge

Tuesday, January 5, 2021

Gedig | Die man van God versus die hand van God | 2021


Pous Franciskus loof Diego Maradona 

as grootse digter van die sokkerveld. 


Triolet, distigon of villanelle?, sou u vra. 

Van flenterlappie-bal tot oor die wye veld. 

 

'n Weerlose, brose man, glo verslaaf 

aan dwelms en applous, as ek sou raai.. 

 

In watter vorm giet ons vir hom 'n lykdig? 

'n Reëlbreker selde tog gesalfde of heilige. 

 

A nee a. Die pous se woord is altyd wet. 

Chiasmus, apostroof of prolepsis vir fyn-fyn let. 


© Joan Hambidge

Thursday, December 24, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Bethlehem-ster | 2020

As die drie wyse manne vandag

uit die Ooste sou aankom,

sal hulle maskers dra;

 

nes Maria en Josef

in die stal aangetref

met die Jesus-kind.

 

Nie goud, wierook

of mirre sal hulle bring

hierdie keer nie.

 

Saam met geloof, hoop

en liefde waarskynlik

'n antidoot

 

téén die kroon van siektes

wat alle sekerhede

nou óntmasker.


Monday, December 14, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Google earth | 2020

 Google earth 

vir Luan 

 

'n Satelietfoto van Manhattan 

neem my virtueel 

na die Chrysler en Times Square, 

5th Avenue tot in Lexington. 

 

Dan glip ons na Santiago de Chili 

in 'n ommesientjie. 

Al die bakens word groter 

en sterker en beter 

voor die kamera se inzoom 

en met 'n rekenaar 

sien jy alles in regte tyd. 

 

Dan na Uskadar 

tot in Istanbul 

oor die Bosphorus 

met die aanskoulike Galata-brug 

waaroor ek eens gereis het. 

Die Goue Horing perfek 

uitgelê in 'n nuwe legkaart. 

 

Ek onthou hoe my oudste suster 

die stukke blou inpas 

van 'n hemelreikende Goue Horing. 

 

Nou in Covid-tyd 

word reis 'n herinnering 

'n virtuele direktief: 

 

'n puzzle  

met stukkies wat net-net 

nie pas nie; iets verklap van onvanpas. 

 

Dalk eerder uit-pas wees met die koördinate 

van 'n stad se satellietfoto? 

 

In hierdie distopia 

mis ek die geluide van voëls, 

'n dieretuin of park 

immer tekens van lewe in 'n stad. 

 

Pompeij is lankal reeds 'n monument. 



© Joan Hambidge

Saturday, October 10, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Wallace Stevens | 2020

 

Jou sonderlinge staproete vind ons 

deesdae op die internet asof  

'n weergawe van hoe jy

soggens van huis na werk en terug beweeg

het na 'n studeerkamer met uitgestalde woorde 

op die eikelessenaar tussen werkseise: 

Not Ideas about the Thing but the Thing Itself ...

In 'n kladboek staan daar neergekrabbel:

Poetry represents failure ...

My blouversameling met jou gedigte

dra my deur hierdie virale dae:

The cry is part. My solitaria

Are the meditations of a central mind.

I hear the motions of the spirit and the sound

Jou dae as versekeringsbaas in Hartford, Conn.

verklap dispute nes jou handtastelikhede

met Hemingway en Robert Frost.

Kennis van die afbeelding word nou

die nuwe-normaal, Mister Stevens.

Misverstand en misère met 'n vader,

vrou se apartleef én maagkanker,

maak Harmonium uiteindelik ongedaan.

'n Verering met 'n posseël in 2012

laat my wonder saam met Nick Cave  

hoe het jy verby hierdie troebelhede gekom

op jou verlate roetes op land en oor see:

And the waves, the waves were soldiers moving ...?


Monday, August 24, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Gisela Ullyatt (1977 - 2020) | 2020

 Gisela Ullyatt (1977 - 2020)


In jou eerste en laaste bundel myn

jy die vibrocrete dae van jou jeug.

 

Op 'n Saterdagmiddag ná jou vertrek

word die digkuns meer as die waarheid

 

van duiwe of sprokies se wonde en letsels:

"Ons harte is vol van gemors en verdriet".

 

Vir oulaas stuur ek 'n vers vir jou as redakteur

oor die laaste grenspos wat alle pyn óphef:

 

soos die afdruk van 'n bees in restaurant

om snitte konkreet voor te stel vir die besoeker

 

wat presies kan kies en weeg die rugstring

van die familieskap of die hart afwesig

 

vol verlore liefdes en verbintenisse

tot die dermkanaal elders opgestop

 

met 'n karmenaadjie vir die afwesige leser

wat wónder oor 'n lykdig as consolatio?

 

 

 

Monday, March 16, 2020

Gedig | Joan Hambidge - My dubbelbed (2020)

My dubbelbed

Hoe moeilik - nie waar nie -
om 'n dubbelbed reg te ruk
na 'n nag van drome en nagmerries.
Die dubbelbed bloot 'n benaming,
foutiewe beskrywing van die slaper,
enkel onder 'n duvet waar 'n gedig opgeskryf
in blou koki deur wind en wasmasjien verweer,
geduldig toesig hou oor ek en my en al die selwe:

Die Amasone

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

Nou is daar ellendes soos die korona-virus
en veral o waar o waar is die liefde
van voorverlede jaar? In watter herberg rus
daardie verdwene geliefde tans?
'n Nuwe vers vind nou 'n rusplek hier:

As

Soos die aarde om sy as draai,
so bly ons in die vergeetboek blaai:
indien ek jou nooit ontmoet het, was
al hierdie onthoue nooit 'n as.


© Joan Hambidge

Wednesday, January 1, 2020

Gedig | Aflegging (2020)

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig 
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep.

© Joan Hambidge

Sunday, December 29, 2019

Gedig | Biblioteek (Charl JF Cilliers) (2019)

Biblioteek

Charl JF Cilliers

Jy bemaak jou boekery volledig aan my,
digtersvriend, kenner van mono no aware
en digvorme soos die haikoe en kwatryn.
Spaanse woordeboeke bevolk jou ruimte
neffens bundels van Vernon Scannell.
Ek kies versigtig uit al jou kleinodes:
ontdek in 'n kas stapels van jou eie bundels,
nou ongepos en onversend vir lesers onbekend.
Maar ek sal immer jou ideale leser bly,
daardie een wat weet hoe drome verydeld
soos 'n ongeskryfde of halfklaar gedig bly talm
roepend roepend na voltooiing of vertaling.

© Joan Hambidge



Charl JF Cilliers (1941 - 2019)

Monday, December 2, 2019

Gedig | Joan Hambidge - Venesië

Stanza soos in kamer,
beduie jy uit die hoogte,
voorste taalkenner en meester
van sarkasme.
Op die San Marco
en digby Peggy Guggenheim se huis
– nou 'n kunsgalery –
beskut die sambreel my teen reën
en sneeu soos stippels uitroeptekens
uitsonderlike konfetti
vir 'n troue wat nooit sal plaasvind nie.
Op 'n vaporetta
vaar ek stoutmoedig weg weg weg van jou
en 'n paar jaar later
oorstroom die stad
soos my gemoed indertyd toe jy my versaak
het en herinneringe
soos palings bly glip
deur die hokke broeiend:
beelde vir hierdie gedig
se vele kamers
met jou hart vermoedelik
steeds op droogdok.

Wednesday, November 6, 2019

Gedig | God en die wêreldbeker (2019)


‘n bietjie literêre duimgooiery met TT Cloete

daar is meer poësie in die kortskoppie
as in die lang aangee en baie meer poësie
in die pypkan en verdediging
in die lang lynstane en vaste skrums
veral met die plettervatte en drieë
daar is baie meer liriek wanneer die rooswolke verdwyn
met Faf se springbroekie in die kleedkamer
die wêreldbeker is vir 'n digter gemaak

© Joan Hambidge



Sunday, September 29, 2019

Joan Hambidge | Onder nomadiese sterre (2019)

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere? 

So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was; 
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend, 
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg 
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.


© Joan Hambidge

Tuesday, April 23, 2019

Gedig | Joan Hambidge - Notre Dame (2019)



'n Teken, die sémeion epektaseós,
'n kruis onaantasbaar
vol genade, geloof, veral
álomteenwoordigheid.
Net voor Pase, in hierdie jaar 
toe dié katedraal, 'n heilige basilika,
onderneem in 1160, onverwags 
'n brandende aanslag beleef.
Die Franse rewolusie is oorleef
nes vele restorasies en besoeke
van toeristiese bespieders onbeskaaf.
Ten spyte van die tuimelende
flèche en houtwerk, is Hy hiér,
met al die ander vertrekkendes,
eens geliefdes, bekendes na aan ons
in herinnering en gemis durend.
God as contrefort?

Pase 2019