Showing posts with label Brief. Show all posts
Showing posts with label Brief. Show all posts

Tuesday, May 3, 2016

Taaldispuut & Max du Preez [Brief]



Kaapstad, 03 Mei 2016 00:00, Die Burger

In twee onlangse reaksies op die taaldispuut aan die Universiteit Stellenbosch het ons die sobere, rustige reaksie van Ria Smuts, wat betoog vir die belang van moedertaalonderwys. Van al die reaksies is dit waarskynlik die beste: Uiteindelik het ’n kenner uit onderwysopleiding gereageer. Met kundigheid.

As jy jou eie taal onder die knie het, kan jy soveel beter ander tale leer.

Dan het ons Max du Preez. Ek wil dit duidelik stel dat Du Preez belangrike werk as politieke kommentator lewer. Maar wanneer dit oor taalsake gaan, is hy sy grammatika byster.

Om nou vir ons te kom vertel hoe Afrikaans en Engels in sy skryfwerk “werk”, hou gewoon nie steek nie. Wat weet hy van die universiteitswese en die krisisse wat tans beleef word?

Vir die duisendste keer: Ons praat van Afrikaans as wetenskapstaal, as taal waarin mense dink, artikels skryf, gedigte publiseer, tesisse begelei en klasgee. Nie 7de Laan of ander “touchy feely”-nonsens nie. Ons praat van ’n taal wat, soos Bahasa Malysia, sig gevestig het tot ’n taal waarin jy skryf en wetenskaplike analises kan maak, in so ’n mate dat taalwetenskaplikes in Afrikatale weet hulle kan by Afrikaans leer.

En oor identiteit en etnisiteit is ’n komplekse diskoers – gewis vir antropoloë se studie – nie vir Max en alleman nie.

En om Jan Smuts en Eugène Marais te gebruik omdat hulle Engels bo Afrikaans verkies het, is gewoon opportunisties. Albei het tye in die buiteland vertoef en komplekse sieninge oor taal en Afrikaners gehad. Marais het “Winternag” en Dwaalstories geskryf, twee bakens in Afrikaans.

Breyten Breytenbach praat Frans in Parys, maar hy bly in sy hartstaal dig.


© Joan Hambidge

Sunday, January 31, 2016

Joan Hambidge - Glory glory halleluja [Brief]

Ingrid Glorie

Glory glory halleluja

Daar woed tans 'n tsoenami op Facebook oor JB Roux se resensie van Chanette Paul se Offerlam wat verlede week in Rapport-Weekliks verskyn het. Die boekeredakteur van Beeld, Jo Prins het my vir 'n reaksie gevra wat ek so verwoord het:

“Dit is waarskynlik ook die reg van ’n skrywer om vriende en volgelinge op Vuisboek in te span om die resensent af te maak as nydig of oningelig.

“Indien die boek goed is, oorleef dit ’n swak/onkundige/oningeligte resensie. Wanneer die boek as negatief getakseer word, is die resensent onkundig. Andersom is die resensent briljant, lieflik, enig in sy/haar soort.

“Me. Paul is ’n gevestigde, populêre skrywer en haar reputasie behoort nie deur een resensie beskadig te word nie.

“Goeie publisiteit. Een resensie het nou kleintjies gekry.”  (Beeld, 27 deser).

Skaars was my reaksie daar, of Ingrid Glorie kritiseer (op Jo Prins se Beeld-facebookblad) my as sou ek JB Roux verdedig het met sy feitefoute en mistastinge oor die roman. 'n Mens sou kon vra of Me. Glorie my neutrale reaksie begryp het?

Ek het nie vir Roux opgekom of teen Chanette Paul gedraai nie. Ek het gewoon net gewys op die bedryf en hoe dit daar uitsien.

Kollega digter en vertaler Daniel Hugo het die volgende geskryf in dieselfde berig:

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lesers ‘gewaarsku’ word teen ’n boek wat op geen manier – polities, sek­sueel of godsdienstig – grensoorskrydend is nie.
“Dit klink of die resensent aan ’n soort grootheidswaan lei. Hy het in vorige resensies ook al bewys dat hy onbevoeg is om ’n boek regverdig te beoordeel.”

Selfs Crito het verwys na die "hovaardige resensie" van Roux (26 deser).

Ek staan dus by my oorspronklike stelling - 'n polemiek rondom 'n boek (die spreekwoordelike kleintjies) mag verkope stimuleer.

Dis al.

© Joan Hambidge


Sunday, November 30, 2014

Brief: Paul Fouché oor 'Ester' van Kerneels Breytenbach



Taffie Kikillus

Brief: Die Burger 24/11/2014

Op 22 deser skryf Paul Fouché oor Kerneels Breytenbach se roman Ester: "Taffie Kikillus was nie op die trein nie". Hy wys dan daarop dat "ware feite" sou die nagedagtenis van dié ou meester tot eer kon strek. Hy het dit verder oor die "werklikheidsillusie" wat ooglopend 'n steunpilaar van die roman blyk te wees.

Hy vind dit eweneens jammer dat Breytenbach blykbaar net vir Ollie Viljoen as enigste bron vertrou het.

Indien meneer Fouché die opskrif van die onderhoud met Elmari Rautenbach gelees het ("Spioenasie-intrige deels ware verhaal") sou hy alreeds kon besef het dat die roman met feite toor. In die roman word die hoofkarakter se identiteit eweneens vervals sodat 'n leser wat hierdie roman met 'n geskiedenishandboek oor D.F. Malan sou lees, die oorgang tussen feit en fiksie sou miskyk.

Daar is ander romans soos D.M. Thomas se Flying into Love (1992) oor die Kennedy's en The Public Burning (1977) van Robert Coover wat eweneens hierdie spel tussen fiksie en feit volhou. In Afrikaans het Stephanus Muller se Nagmusiek sopas verskyn: 'n biografiese roman oor Arnold van Wyk, wat eweneens die leser laat nadink oor wat waar en wat wolhaar is?

Ek ontken nié die briefskrywer se enorme historiese kennis nie; ek dink net romans werk met ánder beginsels, selfs al is daar sprake van sogenaamde "werklikheidsillusies" of "vraisemblance". Met ander woorde, jy moet die geskiedenis ken om dit nuut aan te pak: die waarheid gelieg.

Joan Hambidge

Saturday, September 27, 2014

Brief: Godsdiensonderrig in skole

Richard Dawkins

Geestelike waardes. Oor ons wêreld en waar ons vandaan kom
D. J. Smit

Die BurgerSaterdag 27 September 2014 

Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie, vra Joan Hambidge tereg. Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie, sê sy – en sou ewe goed vele ander kon byvoeg. Trouens, hoe verstaan ons die wysheid opgesluit in ons alledaagse tale en idiome, die grondslae van ons kulture en tradisies, die verwysings van eeue se kuns, musiek en letterkunde, dít wat ons beskou as deugde en waardes – sonder die Bybel? Dan praat ons nie eens van waardigheid en regte, vryheid en demokrasie, ekonomie en wetenskap nie. Hoe verrassend dié herinnering ook mag wees, hoe omstrede sulke aansprake, hoe aanstootlik dié gedagtes vir vele, slegs kollektiewe geheueverlies kan dié blywende erfenis ontken.

Iets soos The King James Bible and the World it Made herinner hieraan – en dié opstelle praat nie eens van die Bybel self nie, dog net van één vertaling. Wat nog te sê van die Bybel sélf – in sy vele vertalinge? Hoe het dié nie die wêrelde help skep wat ons (dalk onbewus) vandag bewoon nie? Dink maar aan die vieringe in Amerika ’n eeu gelede met die King James drie eeue oud. Aan Theodore Roosevelt wat “die groot wetenskaplike Huxley” aanhaal dat dit “die Magna Carta van armes en onderdruktes is, die mees demokratiese boek in die wêreld”. Aan Woodrow Wilson wat dit beskryf as “ongetwyfeld die boek wat demokrasie gemáák het en die bron was van alle vooruitgang”. Sekerlik was albei óórentoesiasties – dalk met een oog op die komende verkiesing. En tog was daar iets waars in wat hulle sê?

Só beskryf Lamin Sanneh (’n gevierde historikus van Gambië, tans van Yale) die invloed van inheemse vertalings in Afrika. In vele moedertale sou die Bybel die “katalisator van ingrypende kulturele verandering” word, sê hy, “die onverwagse maar kragtige wapen téén onderdrukking van plaaslike inisiatief en teen koloniale heerskappy”. Bybelse temas, sê hy, “sou nuwe paradigmas verskaf vir politieke aspirasie, opvoeding, burgerskap en menswaardigheid”. Ons vergeet alte maklik, sê hy, die “uitsonderlike opwinding” en “rewolusionêre invloed” van sulke vertalings. En die téénstand wat hulle daarom so dikwels sou ondervind – van kerk én staat, oraloor. Dink maar aan John Wyclif, die Oxfordse geleerde, wat meer as drie eeue vóór die King James al sý vertaling sou maak, ondanks verset? Veertig jaar ná sy dood opgegrawe, verbrand en sy as in die rivier gestrooi om fináál te verseker sy ketterse Bybelse gedagtes beïnvloed niemand meer nie?

Natúúrlik is al dié verhale pynlik ambigu. Dié invloed was nóóit net heilsaam nie – die boodskap het immers altyd sy woordvoerders. Die geskiedenis van dié uitleg was een van seën én vloek – tót nou. Talle sou bitter ly onder ánder met die Bybel in die hand en ly stééds so – slawe, vroue, vreemdes, kinders. Maar ook dié misbruik word nie vermy deur te wil vergeet nie. Want hoe gaan ons Breyten Breytenbach en Antjie Krog dan verstaan? Of onsself, ons wêreld – met sy genade én sy gruwels?

-----


Terry Eagleton

Brief: Joan Hambidge

Die Burger 16 September 2014

Die debat oor die afskaffing van godsdiens aan skole ten gunste van ‘n meer sekulêre of godsdiensvrye onderrig, maak mense tereg ontevrede. Ateïste – soos agnostici – het inderdaad ook regte. 

Geloof is immers soos ‘n politieke oortuiging dikwels uiters persoonlik en vriendskappe is al beeïndig oor verskille. 

Maar om godsdiens te verban, klink vir my oordrewe en onsinnig. Ons kalender het ‘n Christelike basis. Ons vier Kersfees en selfs in lande waar daar geen erkenning gegee word aan die Christendom nie, word die dag aangeteken. Hoe wenslik is dit om die Christelike etos te verwyder uit skole as daar byvoorbeeld gedigte of boeke voorgeskryf word wat ook oor hierdie kwessie handel? Hoe kan jy Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie Die Bybel ken nie? Dan praat ons nie eens van NP van Wyk Louw of Opperman nie … Daar is verder vele digters en skrywers – ook in ander tale – wat onbegrypbaar sou wees.

Terry Eagleton, die groot Britse Marxistiese kritikus is, het al vir Richard Dawkins gewys op denkfoute oor die geskiedenis van die kerkIn Eagleton se gevleuelde woorde:

“God is not a celestial super-object or divine UFO, about whose existence we must remain agnostic until all the evidence is in. Theologians do not believe that he is either inside or outside the universe, as Dawkins thinks they do.” 

Gaan lees gerus hierdie uitstaande resensie van The God delusion en Eagleton se argumente oor die komplekse geskiedenis van die kerk en teologie.

Ek doseer die Afrikaanse digkuns aan ‘n diverse sosiale gemeenskap en dit bly ‘n uitdaging om verskillende kulture te akkommodeer, eerder as om ‘n sienswyse te verban ter wille van ‘n neutrale, non-teïstiese oortuiging.

Joan Hambidge, Kaapstad