Showing posts with label Paul Thomas Anderson. Show all posts
Showing posts with label Paul Thomas Anderson. Show all posts

Tuesday, January 3, 2017

Paul Thomas Anderson, in drie sleutels

I

Hard Eight is hierdie briljante filmmaker se eerste film en is in 1996 vrygestel. Dit word beskryf as neo-noir met Philip Baker Hall, John C. Reilly, Gwyneth Paltrow en Samuel L. Jackson, en kamee-optredes van  Robert Ridgely, Philip Seymour Hoffman en Melora Walters. Dit is gebaseer op 'n kortfilm: Cigarettes & Coffee (1993).

Hall, Reilly, Ridgely, Hoffman en Walters verskyn ook in latere films van Paul Thomas Anderson.

Die filmstruktuur is 'n sirkelgang. Die begrafnismusiek waarmee die film begin, lui die sentrale tematiek van die dood in.

Dit begin en eindig by 'n diner (Jack's Coffee Shop). 'n Jong man, John (John C. Reilly) sit voor die diner. Hy vertel aan ’n ouer man Sydney dat hy nie geld het om sy moeder te begrawe nie. Sydney (Philip Baker Hall)  neem hom na Las Vegas en wys hom hoe om geld te maak. Die dobbelverhaal is aanvanklik suksesvol.

Dan spring die verhaal na twee jaar later. Die plek: Reno.

John raak bevriend met Jimmy ('n grensoorskrydende sekureiteitsman) en Clementine (Paltrow), 'n kelnerin en prostituut; aanvanklik is net Sydney bewus hiervan.

'n Tweede reddingspoging vind plaas wanneer Sydney haar en John in die slaapkamer langs syne plaas sodat hulle betrokke kan raak by mekaar.

Gwyneth Paltrow, as Clementine

Een nag ontvang Sydney 'n oproep van John en Clementine. 'n Sekstransaksie het skeefgeloop en hul hou 'n ernstig-beseerde man gevange wat nie $300 vir seks wil betaal nie. Hulle het ook die man se vrou gebel en is onseker of sy die polisie gebel het. Hulle vertel Sydney dat hulle ook intussen getroud geraak het. Sydney raai hulle aan om na die Niagara valle te gaan vir hul wittebrood.

Na hul vertrek, verwyder Sydney enige bewysstukke.  Dit was Jimmy se rewolwer en hy vertel dat die man die volgende dag by die casino opgedaag het en nie die polisie gebel het nie.

Jimmy (Samuel L. Jackson) en John (John C. Reilly)

Jimmy (Samuel L. Jackson) konfronteer Sydney en dreig hom in die onverwagse slotwending. Die kyker het eerder verwag dat die polisie sou opdaag oor die sekstransaksie in die motel.

Indien Sydney hom nie $10 000 gee nie, sal hy John vertel dat Sydney sy vader doodgemaak het. Sydney gee hom $6 000. Hy gaan later na Jimmy se huis en vermoor hom. Die film eindig weer in die diner en ons sien hoe Sydney die bloed op sy hempsmou bedek.

II
Daar is briljante dialoog. “You know, the first thing they should have taught you at hooker school is to get the money upfront”, sê Sydney aan Clementine, 'n ironiese naam.

Die titel van die film slaan op geluk. “When good luck is a good shot, you have to hedge your bets.” Dit is die film se blakerteks met twee dobbelsteentjies van vier elk, die moeilikste kombinasie om te kry. (Urban Dictionary/Hard Eight. Besoek 1 Januarie 2017)

Waarom help Sydney vir John? Waarom is hy die mentor? Uit 'n skuldgevoel? Die kyker moet self hierdie vrae beantwoord.

Ons is soos Sydney wat na die video kyk van hul troue, en gelaat word met baie vrae ...

III

In sy kultusfilm Inherent Vice (2014), gebaseer op 'n Thomas Pynchon-roman, maak Pynchon ook 'n buiging in die film.  Dit gee nogals 'n speurtog af tussen al die lelike mans om Pynchon te eien in hierdie aweregse send-up van polisiefilms wat beskryf word as 'n crime-comedy.

Daar is waansinnige ekspedisies en ondersoeke met “Doc” Sportello waarin waarneming deur dwelms vertroebel word. Joaquin Phoenix, Josh Brolin en Katherine Waterston lewer uitstekende spel, soos Owen Williams. Om die ingewikkelde roman van 384 bladsye te verfilm, is lofwaardig. Sortilège in die roman, word die voice over in die film.

Die LAPD en FBI word gesatiriseer in hierdie over the top-film. Hierteenoor is Hard Eight sober, gedistansieerd.

In sy epiese There Will be Blood, 2007 (met Daniel Day-Lewis en Paul Dano) is 'n mens deurgaans bewus van die stadige skote van die kamera. Die spanning tussen godsdiens en geldsug word briljant vertel.

Dit begin in Nieu-Mexiko in 1898 en die stadige filmskote wat die harde, ongerepte natuur vasvang is uitstekend. In dramatiese tonele - soos ontploffings - bly die kyker bewus dat hierdie filmmaker in beheer is van die epiese gang.

Teenoor Eli, die religieuse fanatikus wat glo die ongelukke gebeur, omdat die olie-soektog nie geseën is nie, staan Daniel, die harde, ongenaakbare avonturier.

Daniel Plainview (Daniel Day-Lewis) en Eli Sunday (Paul Dano)

Daniel se soeke na olie en die ontdekking daarvan, kleur sy waarneming. Hy neem selfs 'n kind aan om as 'n gesinsman bekend te staan. Tydens 'n ongeluk, word sy seun doof en in 'n ontstellende toneel, stuur hy die kind na 'n skool vir dowes. Hy lieg en bedrieg om iewers te kom en wanneer ene Henry opdaag en hom voordoen as broer, word die film se boodskap duidelik.

Eli Sunday (Paul Dano)

Die lekeprediker wat voorgee hy kan genees en die “broer” wat die werklike broer se dagboek gesteel het, is die dryfkrag van die film. Hy vermoor die “broer”. In 'n ander wrede toneel dryf hy die spot met sy dowe seun en vertel hom dat hy nie sy kind is nie - waarop W.H. bely dat hy bly is hy is nie sy pa nie. In die dramatiese slot is daar 'n konfrontasie tussen hom en Eli, die lekeprediker.  Hy vermoor hom - en die oop einde suggereer dat Daniel Plainview “finished” is, soos hy sê.

Paul Thomas Anderson

Drie uiteenlopende films in verskillende sleutels vertel. Dit wil gedoen wees.

© Joan Hambidge


Monday, December 19, 2016

Joan Hambidge - Paul Thomas Anderson

I
‘n Goeie filmmaker is soos ‘n goeie romanskrywer. Wanneer een film jou bekoor of aangryp, wil jy meer van die kunstenaar se werk sien.

Of, sy of haar werk hérbesoek.

Wanneer ‘n mens letterlik elke dag ‘n film kyk en gesteld is op goeie en belangrike films, word jy gedwing om films weer te besoek. Met wonderlike, inspirerende gevolge. So het ek sopas weer gekyk na Anderson se Boogie Nights (1997) en The Master (2012).

Boogie Nights is ‘n kragtoer. Dit is bykans asof ‘n mens ‘n opera aanskou, meer spesifiek ‘n porno-opera. Die klankbaan is verruklik: down memory lane!

Mark Wahlberg, Julianne Moore, Burt Reynolds, Don Cheadle, John C. Reilly, William H. Macy en Heather Graham is hier te siene, saam met Philip Seymour Hoffman as die patetiese gay Scotty.

Eddie Adams (Wahlberg) is ‘n “high scool drop out”. Sy ma noem hom dom en jaag hom weg. Hy werk as ‘n wasser in die Reseda nagklub van Maurice Rodriguez. Hier ontmoet hy Jack Horner (Reynolds). Hy word “ontdek” deur Horner as ‘n porno-ster weens sy behaaglike hingsel en sy filmnaam is Dirk Diggler. Hy een Reed Rotschild (Reilly) maak aksie-porno. Alles speel af teen die agtergrond van die 70’s se disko-musiek.

‘n Plesierige aksiebelaaide film waarin seks en uitbundigheid oënskynlik besing word. Totdat Little Bill sy vrou en haar minnaar doodskiet, homself ook uithaal op ‘n nuwejaarsparty waar die 70’s oorgaan na die tagtigs.

Nou begin alles afdraande loop. Dirk Diggler weens sy kokaïne-oordaad kan nie meer ‘n ereksie bereik nie en sy sterrol word oorgeneem deur ‘n nuweling: Johnny Doe. Colonel word in hegtenis geneem weens sy kinderporno-films. En Amber Waves (Julianne Moore) verloor ‘n regstryd oor mede-toesig oor haar seun weens haar donker bestaan. In ‘n toneel buite die hof, is dit Moore op haar beste wanneer sy verdriet vertolk.

Boonop raak Jack besorg oor die vervelige tekste waarmee hy opgeskeep sit, neem Rollergirl en sy fillmakers in sy limousine op soek na idees. Hier loop hulle ‘n ou skoolmaat van Rollergirl op die lyf en wanneer hy haar beledig, word hy ernstig aangerand. Dirk Diggler en Reed se poging om musieksterre te word, misluk. Prostitusie word hul voorland en Dirk word eweneens wreed aangerand een aand deur “bunny chasers”. Buck Swope trou met Jessie St. Vincent en weens sy porno-verlede weier die bank ‘n lening sodat hy ‘n stereo-winkel kan oop maak. Hy beleef  ‘n dramatiese aand wanneer hy midde-in ‘n rooftog by ‘n doughnut-winkel gesteelde geld kan neem, omdat almal rondom hom doodgeskiet is, so reg uit ‘n Tarantino-scene. Of eerder, Tarantino het hier geleen. Dirk en Reed raak by verdere moleste betrokke wanneer hulle bakpoeier as kokaïene verkwansel aan Rahad Jackson. In 1984 word Buck en Jessie se kind gebore, Rollergirl gaan terug skool toe en Dirk en Amber (haar “baby boy”), beoog weer om saam films te maak.

II
Mark Wahlberg se Calvin Klein deurbraak

Die film is ‘n langer weergawe van Anderson se “mockumentary”, The Dirk Diggler Story (1988). Anderson speel ook in op Marky Mark se 13 duim, sy lewe as trashy figuur wat tronk toe gestuur is weens aanranding en rassitiese uitsprake en wat deur Calvin Klein en Annie Leibovitz ikoniese status verkry het. Nes sy filmkarakter had hy ook ‘n musiekloopbaan.

Hierna het hy in 2012 ook ‘n ongevraagde opmerking gemaak oor 9/11 en wat sou gebeur het as hy op daardie vlug was: “If I was on that plane with my kids, it wouldn’t have went down like it did”, en “There would have been a lot of blood in that first-class cabin and then me saying, ‘OK, we’re going to land somewhere safely, don’t worry’”. Wahlberg issued a public apology after family members of those killed on the flight expressed outrage about his statements”. Verder het hy in 1991 een van Madonna se meelopers beledig en selfs vir Guy Oseary op die neus gemoker. (Four Best Madonna Feuds – Ever! | OC Weekly. Besoek 18 Desember 2016)

III
Anderson se grootste talent – behalwe vir sy goeie draaiboeke en filmografie – is hoe hy speel met sy akteurs se personas. Dieselfde geld The Master, ‘n briljante analise van Scientology en hoe die impak van die Tweede Wêreld-oorlog op die Amerikaanse psige.

Joaquin Phoenix en Philip Seymour

Joaquin Phoenix en Philip Seymour Hoffman word teenoor mekaar geplaas.

Phoenix was toegelaat om te improviseer en hy het gewig verloor vir hierdie rol. Hierteenoor is Seymour Hoffman se spel meer beheersd. In onderhoude het Phoenix bely dat hy soos Daniel Day Lewis “in karakter” gebly het vir drie maande.

Verskeie filmkritici het daarop gewys dat ‘n mens uit die opposisie tussen hierdie twee fenomenale akteurs verskillende spelwyses kan raaksien.

Joaquin Phoenix, Philip Seymour Hoffman, & Paul Thomas Anderson

En Anderson ontgin sy akteurs se personas. Hy laat hul lewens “inbuig” op die karakters wat hulle vertolk. Hoe imposant bly Seymour Hoffman nie en sy voortydige dood bly die kyker deurgaans by.

Roland Barthes se effet de réel, oftewel, die effek van die werklikheid op ‘n teks is hier relevant. Opgeneem in The Rustle of Language van 1968 (Blackwell, Oxford).

Paul Thomas Anderson, skugter voor die kamera

Paul Thomas Anderson ontgin wat grensoorskryding of transgressie behels en hoe dit die kyker steur. Maar hy is nie ‘n immorele filmmaker nie. Hy lewer sterk sosiale kommentaar in sy films. (The Master (2012 film) – Wikipedia. Besoek 18 Desember 2016)

© Joan Hambidge