Showing posts with label Hans Pienaar. Show all posts
Showing posts with label Hans Pienaar. Show all posts

Sunday, March 27, 2022

Resensie | Hans Pienaar – Kaap | Protea Boekehuis, 2022


Hans Pienaar – Kaap. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 9781485313311 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hans Pienaar se roman word vir die leser soos volg verpak: ‘n fiksie in 33 perspektiewe en een waarskuwing. Op die voorblad is daar ‘n kunswerk van Gregg Price: Tafelberg en mannetjies wat op hul kop staan. ‘n Hart, die dood, ‘n aasvoël, o.a. 

 

En alles in hierdie roman word op sy kop gekeer. Die periteks waarsku jou …

 

So word die roman bemark:

Die hoofkarakter, Marnus, is ’n ondersoekende joernalis, ’n libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen wit mens struggle credentials het nie. In sy jeug het hy ’n beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon. Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ’n paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke. Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrouheid en ware liefde, met humor en hart.

Hierdie pakkende roman gee ‘n beeld van die struggle-jare (met die bekende verraad) en is ‘n metaroman. In die laaste afdeling “Kaap” word die leser opdrag gegee om eie eindes te prakseer. Die werklike skrywer Hans Pienaar en die vertellende instansie lewer kommentaar op die Kaap (en ‘n soort afstigting) en hoe die Corona-virus (en inperking) alles verander het.

 

Ook word daar vrae gevra (implisiet en eksplisiet) oor wat met boeke gebeur na publikasie: word dit verpulp of land dit dalk onder die gebreekte poot van lessenaar? (317) 

 

Die leser – altans hierdie leser – herken sekere bakens in Johannesburg en in Kaapstad. En mense, maar alles slim gefiksionaliseer in ‘n eiesoortige paper chase van ‘n Irma Stern-skildery (Two Arabs, wat vele kodes gee oor kultuur), Kurt Weill se Dreigroschenoper, kunsmatige intelligensie, die Hubble-teleskoop, en wat nog.

 

Telkemale word die roman-fabrikasie na die werklikheid gedwing: o.a. die insident rondom die Pierneef-skildery en ‘n diefstal van Stern se skildery wat weer ander intriges skep.

 

Alles wentel rondom verraad. Persoonlik en polities. Geliefdes wat mekaar in die rug steek. ‘n Vriend wat ‘n spioen is.

 

Kaap en kaping. Motorkapings. Verkragtings. Afdreigings. Skuilname (Antjie Somers).

 

“Between the violence of interpretation and the suicidal temptation of mimetism, the critical act follows an arduous course. It can’t go on, it will go on …”

 

Maurice Couturier en Régis Durand in hul studie oor Donald Barthelme sluit af met hierdie woorde.

 

Die leser vind ook die tegnieke van die postmoderne roman hier: trompe l’oeil, palimpses, die verdwene teks, sogenaamde linguistiese vandalisme (hier is verskeie eksperimente met taal en daar word selfs in Kaaps gepraat), parodie en satire, ‘n “irony’s edge” soos Linda Hutcheon dit noem, en uiteraard, ‘n uitstel van finale, sluitende interpretasies.

 

En dalk ‘n soort satiriese antwoord op die krimi wat tans binne die prosa soveel aandag trek? Daar is duidelike kodes na James Bond-verhale. 

 

Daar word besin oor skrywerskap en hoe joernalistiek verskil van kreatiewe skryf. Vraisemblance teenoor suspension of disbelief.

 

Soos ‘n Ingrid Winterbach-roman word jy gedwing om weer te lees en jy word nooit verveel nie. 


Met ‘n tweede lees, het ek die roman van agter na voor gelees. Die vertelperspektief is besonder boeiend: ‘n lamppaal en matras selfs word aan die woord gestel. En ‘n skildery. 

 

En die verhaal (in die afdeling Die verhaal, 157) lewer ook kommentaar. Met die skrywer wat die verhaal aan ‘n leiband hou.

 

Plaasmoorde teenoor liefdesdriehoeke; daggakoekies teenoor ‘n besoek aan ‘n hospies wat jou laat sidder; Odusseus en die Trojaanse oorlog, met ‘n oogknip na die werklike skrywer se politieke verslag uit die 80er jare saam met Hein Willemse: Die Trojaanse perd (1985).

 

Daar word ook vrae gevra oor Afrikaans en hoe lyk dit met Kaaps as ‘n onderrigtaal aan die Universiteit van Kaapstad?, wonder ‘n verteller. Bergies praat, soos diewe aan die woord gestel word.

 

Marnus en Wynand; Jelena en Amy en Evike. Wian, Rentia, en ander soos Matilda en Olivia se verhale word inmekaar geweef. Die skrywer klim onder die vel van sy vrouekarakters in en gee hul kwessies waarheidsgetrou weer.

 

Suid-Afrika met Hongarye van indertyd. Depressie afgewissel met humor: ‘n rubriek heet Tuisgeld. Ja, jy hoor ook in die roman vir Sonja Herholdt sing.

 

Dostojewski se Ivan Krilof; Bertrand Russell en Wittgenstein se beroemde debat oor die renoster met die opmerking dat ons lankal nie meer oksimorone is nie (126). En waarom word ons nou op hok gesit met clichés – dalk weens te veel inligting en “white noise”?

 

Kan die Kaap onafhanklik raak? Kan dit ‘n nuwe spioenasieverhaal word? Wel as ons Giorgio Agamben glo, is enigiets moontlik. (Is narsisme en spioenasie verbind?, 232) Smokkelhandel met kuns neem die leser op ‘n ander roete.

 

Het Marnus se uitdaging via Rentia (‘n “geheime agent vir ‘n uitgewer”, haha) om ‘n regte boek oor regte goed wat regtig gebeur toe waar geword? Bepaald. Kyk wie en wat jy herken. Of perdalks dink jy herken.

 

Die roman is ‘n ontmoeting tussen As I lay dying en Tristram Shandy.

 

Die waarskuwing? Jy kan die roman nie neersit nie … jy word gekaap.

 

Bronne:

 

Conradi, Peter. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).

Couturier, Maurice & Durand, Régis. 1982. Donald Barthelme. (Londen, Methuen).

Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. The Teaching of Twentieth- Century Art Forms. (Londen: Methuen).

 Hutcheon, Linda. 1994. Irony's Edge. The Theory and Politics of Irony. (Londen: Routledge).

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, January 17, 2019

Resensie | Hans Pienaar - Die Generaal (2018)

Hans Pienaar - Die Generaal. Tafelberg, 2018. ISBN: 978 0624 085812

Resensent: Joan Hambidge

I

Hans Pienaar is 'n bekende joernalis en onderskatte digter. Die taal van voëls het in 2002 verskyn. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Die Trojaanse Perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap 1985, saam met Hein Willemse, bly 'n belangwekkende teks. Dit het indertyd by Taurus verskyn.

Sy pas verskene roman Die Generaal is werklik 'n besondere toevoeging tot die grensliteratuur in Afrikaans waar skrywers soos Alexander Strachan ('n Wêreld sonder grense), Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, o.a. beduidende werk gelewer het.

Die roman het einde verlede jaar op my tafel beland en dit was aanvanklik nie die soort leesstof waarvoor hierdie leser met 'n reeds donker jaareinde en etlike slopende gebeure in Suid-Afrika wou of kon aandag gee nie.

Wat 'n verrassing was hierdie roman nie toe ek dit begin lees!

Dit is geskryf met 'n vaardige hand: gedistansieerd, in beheer, emosioneel sonder om sentimenteel te wees én boeiend.

Die Grensoorlog is ons Viëtnam-oorlog. Dit is so dat daar etlike briljante films gemaak is,  deur onder meer Francis Ford Coppola en Stanley Kubrick, wat vanuit verskillende perspektiewe probeer om die impak van die oorlog op die psiges van jong Amerikaners te begryp. 

Hieroor het ek uitgebreid geskryf in 'n digterlike verslag na 'n reis in hierdie landskap (Woorde Wat Weeg/ Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 17 Januarie 2019).

II

Die Oorlog het jong mense se lewens verwoes. Die sinneloosheid en futiliteit daarvan is al by herhaling uitgewys. Nou onlangs het Alexander Strachan ’n verslag oor die lewe van ’n  recce gepubliseer. Dit heet 1 Recce, die nag behoort aan ons en het ook by Tafelberg verskyn (1 Recce, die nag behoort aan ons/ ’n LitNet Akademies-resensie-essay | LitNetBesoek 17 Januarie 2019).

Dit sou inderdaad relevant wees om die verskillende kante van dieselfde munt te beskou: fiksie teenoor harde werklikheid met tekste wat albei by Tafelberg uitgewers verskyn het.

Pienaar bely dat aspekte van prosedures, regulasies en fasiliteite en operasies aangepas is ter wille van die verhaal. Maar terselfdertyd skryf hy dat dit op ware gebeure gegrond is. 

Daar is nog kodes dat die leser dit as fiksie moet benader. Die sub-titel lees: 'n roman.

Skrywers van romans bemark iets as 'n roman  en dis hoe ons dan hierdie teks moet benader. Dit vertel die verhaal van Johan, bloedjonk, kwalik negentien, wat gestuur word na die Zambesivallei om onreëlmatige praktyke rondom ontgroening te ondersoek. (Suspension of disbelief, natuurlik! Sou daardie butch mans hulle gesteur het aan enigiets grensoorskrydends?) Die konvensionele, godsdienstige Johan teenoor sy neef wat grense oorskry, lewer ook 'n belangrike opposisie; net soos hede teenoor verlede; reg teenoor verkeerd – met die skrywer wat as beleë mens met afstand na die gegewe kan kyk. Johan weet ook dis "ons storie" – sy verhaal is verweef met Ben s'n, omdat hy hom bewonder het. Sy neef was 'n klein god daar in die Militêre Akademie op Saldanha. Later Pretoria; die ou Rhodesië ...

Angola.

Predikant staan op die arme Johan se voorkop geskryf, pruil 'n tante...

Dit is die buitelyn van die verhaal. Maar onder draai die duiwels rond, want die leser word ingeslinger in die verteller se binnespraak. Ben, sy neef, wat 'n soort alter ego word, die seun van Die Generaal, rebels en gay. Deel I handel oor Ben en die ellendes van sy dood, terwyl Deel II sy ervarings met Annie weergee.

Dit is ’n boek oor inisiasie. Eers in die Weermag-wêreld en dan op 'n werklik liggaamlike ervaring.

Die verhaal wil ek nie verklap nie, want 'n mens lees dit met wydoopgesperde oë.

Dus 'n paar belangrike punte. Pienaar ontmasker maskuliniteite en hy wys op die weerloosheid van manne ágter uniforms.  

Trouens, in hierdie binnespraak word die leser bewus van rolle wat aan mans toegeken word en waaraan hulle nie kan ontkom nie.

Daar is slim intertekste: musiek van die tyd ("Pretty Belinda", die Moody Blues, die Beatles, Bob Dylan, o.a.), Sad Sack, Sartre, Wittgenstein se taalfilosofie (ons leef in borrels, 245), André P. Brink se Miskien nooit, om enkeles uit te wys.

Die verteller hoor verkeerdelik "Knights in white satin" in plaas van "Nights in white satin", want hy is immers 'n inconnu en die taalspel wys op die spanning in sy gemoed: die harde weermag teenoor die soeke na liefde en koestering.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat 'n mens nooit sal vergeet nie. Die verwildering in die oë van 'n vrou in die oerwoud in Chirundu.

Annie wat lyfstraf moes verduur van haar vader.

Dit is 'n tydsdokument. 'n Herinneringsroman. Miskien ook 'n afrekeningsroman?

Op 'n plek praat hy van 'n selfdebat – kenmerkend van die belydenisroman.

III

Philippe Lejeune se bekende artikel "The autobiographical contract" (opgeneem in Tzvetan Todorov se French Literary Theory Today - A Reader (Cambridge University Press, 1982) wys op die kompleksiteite róndom 'n roman wat speel met die kodes van die outobiografie.

Lejeune verwys tereg na die "ambiguous intermediate region" van 'n teks waar die skrywer nie dieselfde naam as die verteller het nie, maar waar die leser dink (vermoed en die kwytskelding dit suggereer) die teks is op 'n werklike ervaring gebaseer. Die littérature intime kan eweneens gebaseer wees op verskillende vorme: briewe, dagboeke, memoirs (204 - 206).

Hier kan 'n mens byvoeg: die werklike belewenisse word gefiksionaliseer. Dit word bemark as 'n roman en dis hoe ons dit moet benader.

En waarom hoor die verteller "Knights in white satin"? En waarom is die rol van Wittgenstein so belangrik? En verraad? En wat is die rol van die generaal se vrou?

En die slot sluit weer aan by die begin.  Dis 'n boek oor grense, letterlik en figuurlik.

Hans Pienaar se ervaring as joernalis het hom waarskynlik geweldig gehelp met die skryf van hierdie roman.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio

Tuesday, January 29, 2013

Hans Pienaar - Notas uit die empire (2010)



Hans Pienaar. Notas uit die empire. Alto-Mediam, 2010. ISBN 978 06 620 620 4509 0.

Resensent: Joan Hambidge

Notas uit die empire is Hans Pienaar se tweede digbundel. Hy is veral bekend as ‘n joernalis vir Business Day en die blog “Africa”. Die skrywer het Rapportprys vir Nie-fiksie verower vir sy Die derde oorlog teen Mapoch. In Nuwe stemme 2 (saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager) vind is ‘n handvol verse wat die belangrikste temas in sy digkuns aandui: die wrang blik op die geskiedenis vanuit ‘n joernalistieke perspektief; die gebruik van die parlando; die vermoë om onthoubare reëls te skep soos “die stad slaap soos ‘n Buick onder ‘n bokseil”; die bykans surrealistiese taalgebruik; die gevoel van vervreemding, en dies meer. In Nuwe stemme 2 staan die volgende knap gedig:

Pelgrimsrus

O die dood kom ook
stadig soos die melktrein aan
by elke stasie moet die stoker stook
die trein vir elke melkkan staan (76)

Nuwe stemme is ‘n belangrike debuut-plek vir jong digters en veral Nuwe stemme 4 het my nogal opgewonde gemaak oor die veelheid van talent wat hier aanwesig is. Maar daar was slypskole waar die digters onder die leiding van die samestellers geleer is oor versvorme en procédé. Hans Pienaar het ‘n ónbetwiste digterlike talent, maar vir my gevoel is sy gedigte soms te woordryk en tuimel die gedig dikwels verby die suggestie of die natuurlike slot. 

Die eerste gedeelte in Notas uit die empire heet “Lank leef”, en dis dan vir my die sterkste afdeling. Waar die gedigte teen foto’s geplaas word, soos in die tweede afdeling “Tweeduisend-en-vier”, is dit egter minder oortuigend. (Hier is die verse meer gestroop.) Die beelddig, dit wil sê, die gedig wat inspeel op ‘n bekende foto of skildery het ‘n galery van groot figure in Afrikaans opgelewer met Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie as ‘n kragtoer. Hierop volg daar ‘n reeks reaksies van digters op foto’s van Marilyn Monroe met T.T. Cloete as voorloper. Al die ander gedigte is palinodes of antwoorde op hierdie vers.

Die beelddig skep ‘n broeiende spanning tussen foto en gedig. Die een kan later nie meer onthou word sonder die ander een nie. Maar, die gedig moet steeds in eie reg sterk wees. Indien die foto langsaan pryk, word dit soos ‘n klankversterker. En die foto of skildery moet weer op sy beurt ‘n kunswerk in eie reg wees. Dit bewys Johann Johl se verse ook by uitstek. (Die promosie-pamflet skryf dat die plaas van foto’s en gedigte uniek is. Dit is al reeds gedoen.)

“Statig” (97), ‘n vers wat die sub-titel dra “Suid-Koreaanse parlement, Seoel”, klink so:

Vir ‘n wyle hier, voor die deure
van mag outomaties oopgaan,
kan jou herinneringe ‘n loop
neem oor lang dae toegesneeu,
en mymer oor komplotte. Hoe
hulle neig om te broei en voete
op matte laat aarsel terwyl in
agterplase bome statig vergaan.

Enkele van die gedigte wat inspeel op foto’s is wel knap, soos “Tier”, “Grond”, “Pilare”, “Papiervliegtuig”, “Dialoog” en “Kamele” met die rondeelagtige spel met rymwoorde. Die reisgedig stel die reisiger altyd bekend aan ‘n ander land, maar hierdie soort gedig word altyd ‘n ontdekkingsreis-na-die-self. Onvermydelik word die opposisies tussen hier en daar, toe en nou, kulturele bakens presies dit waarom hierdie soort gedig wentel. Die vraag is of hierdie reisgedigte die eiesoortige aard van ‘n stad opvang?

Die voorblad, deur die digter self, is treffend. Die parkeerterrein in Vrededorp wat ander “empires” oproep. Die titel is uiters ironies: die hawelose se “empire” (‘n wasgoeddraad en vullis)  word teen die agtergrond van die Statue of Liberty en ‘n Hollandse windmeul geplaas. Sowel die Statue of Liberty as die meul is versier met ‘n Heineken-blik wat weer die kwessie van kolonisering oproep. ‘n Mens sien Staten Island in die verbeelding…

Die bundel se sterkste vers is ongetwyfeld “Kraaie in die bome” in reaksie op 9.11 met sy sterk refrein en elegiese aanslag:

New York. New York.
Kraaie in die bome.
Harte treur oor New York.

Die taalspel op bladsy 32 is indrukwekkend en “Dit was toe nie” (37) getuig van vakmanskap.

Die gedig “Tromsolo” (120) uit ‘n reeks is eweneens sterk:

…Ek bly agter, soos ‘n wit jas
by die kroegdeur opgehang, uit gewoonte.
Ek dwaal deur leë strate, eindig waar ek was.

‘n Dief in my eie middernag, op my eie pas.

‘n Bundel dus met ‘n handvol goeie verse. ‘n Sterker redigeerder of keurder sou die bundel gesnoei het sodat net die béstes oorbly. Miskien moet ‘n volgende bundel aan Protea of Tafelberg voorgelê word vir die raadsamer keuringsproses. Die titel evokeer ook die komplekse kanoniseringsproses. Notas uit die kanon en oor die kanon. Dalk ook teen die kanon? Die programgedig is so gelees nie alleen ‘n komplekse siening van die geskiedenis nie, maar ‘n staning in eie reg. Die kolonie praat terug, besef ons.

Bestel van Posbus 291507
Melville, Johannesburg 2092
altomedia@mweb.co.za


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]