Showing posts with label Kobus Lombard. Show all posts
Showing posts with label Kobus Lombard. Show all posts

Tuesday, November 27, 2018

Resensie | Kobus Lombard – Tussen toeval en willekeur (2018)

Kobus Lombard - Tussen toeval en willekeurNaledi, 2018. ISBN: 978 1 928 426 34 9

Resensent: Joan Hambidge

Delikate digkuns. Dis die beste manier waarop ʼn mens die digkuns van Kobus Lombard kan tipeer en sy vyfde digbundel heet Tussen toeval en willekeur en hierdie titel resoneer met ʼn vorige bundel Tussen wysvinger en duim (2005). Hierdie jongste bundel is besonder mooi uitgegee deur Naledi.

Die digkuns hou sig immer besig met ʼn tussentoestand wat ervarings betref. Gedigte registreer ʼn indruk of inspirasie en word dan in woorde vertolk. Dikwels op ʼn ander manier as wat die digter dit dalk bedoel het.

Op die agterplat word daar tereg verwys na die binnewaartse reis van die digterlike proses en die soeke na grense wat die werklikheid omlyn. Lombard se werklikheid is Namibië. Die outeur van die shout beweer ook tereg dat die onsegbare dikwels tussen die woorde en die leë spasies skuil. Daar word verder ook gepraat van grense wat vervaag ... En die ritme word bepaal deur toeval en willekeur.

Nou wanneer ʼn mens hierdie bundel benader is dit eenvoudig so dat daar in ʼn klein gedig baie subteks of implikasie skuil. ʼn Gedig begin met stilte en word later in ʼn ander gedig “voltooi”. 

Duine

duine het nie agendas nie
dit kan nie laat kom
of vroeg vertrek
verkeerde besluite neem
en bekommerd wees nie
duine hoef nie voluit te leef
bang te wees vir die dood
of ʼn vers te skryf
voor dit sy gedagtes ontglip nie
duine is tot die laaste sandkorel
uitgesorteer

(50)

Uiteraard spreek hierdie gedigte tot my weens my besonderse ervaring van die Namibiese landskap én die woestyn. Lesers wat dit nie beleef het nie sal eweneens aanklank vind by hierdie bundel met sy gestroopte, pretensielose verse. 

Gobabeb sal altyd daar wees en die digter sal na hierdie ruimte terugkeer met ʼn jakkalsdraf of in die droë rivierloop te sit en tjank (51). In hierdie landskapsgedig word die menslike bestaan as onbenullig en efemeer gesien teenoor die natuur wat sal voortbestaan.  In die gedig “Skaduwee” (61) word die woordspel tussen aanval en invul goed ontgin:

bedags volg jy my getrou
teen hoogmiddag staan jy
wydsbeen bo-oor my
soos die skemer nader
loop jy verder voor my uit
en in die nag as die aarde
sy gesig wegdraai van die son
val jy my
onsigbaar in

En ʼn skaduwee is immers ʼn tussentoestand.

Die bundel verloop siklies. Dit karteer die lewensloop van ʼn mens wat leer praat en skryf en leer om die “swye te verbreek” - uiteindelik keer ons terug, volgens die slotvers na ʼn primordiale wêreld sonder taal.

Die ars poetica op bladsy vier ontgin die toeval en willekeur van die digproses wat met woorde en woordeboeke werk, maar uiteindelik gerig word deur “waarskynlikheid”. ʼn Mens sou ook kon beweer: blote geluk. Beide “Vrug” (8) en “Woordkapper” (9) bemoei sig met die digproses. In eersgenoemde gedig word die geleende suurstof van intertekstualiteit gekritiseer? In laasgenoemde vers is dit duidelik dat die digter soeke na sy eie “rooibruin pit”. Terwyl die eerste afdeling hoofsaaklik werk met die temas van die digkuns en inspirasie word daar in die tweede afdeling gekyk na geloof. Hier vind ons ʼn lieflike gesprek met Psalm 23 (“Goeie herder”, 15) en in “Oorplasingsnavraag” (21) wonder die digter oor hoe die hemel daar sal uitsien. Sy hemelse bestaan sal waarskynlik een wees met kameelbome en droë rivierlope met ʼn vraag of ons daar bedreig sal voel?

In die derde afdeling vind ons liefdesverse en reise na vreemde bestemmings. In “Lied sonder woorde” (27) word ons gemaan om te waak teen die lied (dus gedig) wat die liefde bloot wil lê. In die vierde afdeling is daar besinnings oor die ouderdom, die naderende dood – o.a. geskryf in die Okavango. Daar is ʼn siniese vers oor toeriste wat Afrika-objekte terugneem sonder om die historiese of kulturele konteks te begryp soos in die aangrypende “Gekerf” (33) waar die beeld terugverlang na sy plek van herkoms.

Die stilte van hierdie bestaan word binnegedring deur raserige toeriste, Facebook, ʼn GPS, TV kanale, selfone, en virtuele reise.

In die vyfde afdeling word daar teruggekeer na die wêreld van die Waarheid (45):

die waarheid flits
soos gemsbokhorings
teen ʼn duin

Hierom dan ook die ervaring van grensverskuiwings. In die slot en sesde afdeling vind ons lykdigte (o.a. een oor die digter se moeder, ʼn figuur na wie hy by herhaling terugkeer en ʼn gedig vir ʼn vriend, “Begrafnislys”, 59) en ʼn afskeid aan die aardse bestaan.

Dis ʼn bundel wat met elke herlees klein skuiwe maak. Soos ʼn duin wat stadig maar seker iets toewaai. Dit is ʼn bundel wat vra vir ʼn saamlees met Dolf van Niekerk se gedigte oor die Karoo: Karoosange (1975).

Sunday, April 26, 2015

Kobus Lombard - Skadu oor die sonwyser (2015)


Kobus Lombard - Skadu oor die sonwyser. Protea Boekhuis, 2015. ISBN 978-1-4853-0302-2

Resensent: Joan Hambidge

'n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote.

J. Hillis Miller

Hierdie Namibiese digter se vorige bundels heet: Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010). Die jongste bundel se titel is Skadu oor die sonwyser.

Die verhouding met die biologiese moeder en die aangenome moeder (en hiermee inbegrepe die verhouding tussen taal en die moederbuik), is al onder die loep geneem in sy vorige bundel. Lombard skryf aangrypende gedigte oor die dood soos hierdie klein vers opgeneem in Geknipte naelstring:

geen
boom
steek ’n gat
so grou
in die lug
soos ’n
sipres
oor
die
oop
graf
van
’n
kind (62)

’n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote, het J. Hillis Miller by geleentheid opgemerk. Gedigte het as’t ware ’n lewe van hul eie. Ook Neruda en Cussons beaam dit digterlik.

By Lombard is dit bepaald ook die geval. Bo­staande vers oor die dood van ’n kind neem ’n mens terug na Totius se lykdigte oor sý kinders. Die verhouding tussen moeder en kind – maar in hierdie bundel vanuit die perspektief van die kind – tree in gesprek met Rika Cilliers se kindergedigte. Totius praat eweneens saam in “Wag-’n-bietjie-bos” (27) en die hele tweede afdeling is ’n implisiete gesprek met die Totiaanse vergewe-en-vergeet-gedagte.

Die digter is ook landskapdigter, en die Namibiese landskap word in hierdie bundel beskryf. Daniel Hugo se bloemlesing Land van sonlig en van sterre (2004) is ’n belangrike skakel tot digters wat reeds oor hierdie besondere wêreld gedig het. Ook die skilders praat onbewustelik saam in die leeservaring. ’n Mens dink hier aan Adriaan van Zyl se besondere skilderye.

Die slotvers “Gobabis” (84) is ’n netjiese gedig:

die Swart-Nossob kronkel
soos ’n ou aar oor jou hand
die stof hang ’n kring
om die sweet van jou tiervelhoed
die vensters van jou oë is gebreek
jou mure skilfer soos oumensvel
die torings van jou kerke
steek gate in die reënlose lug
jou ongeskraapte strate
bedel soos loopneuskinders
tog ruik jy ná al die jare
steeds na vetkryt en na klei

Die datum (Januarie 2009) onderaan beklemtoon ’n herbesoek.

Veral oor hierdie landskap en sy mense lewer die digter tematies ’n bydrae. Die gesprek met die versaakte moeder word in hierdie bundel ’n betrokkenheid met die aarde aan wie ons ons beendere moet teruggee. En hieruit spruit die religieuse of metafisiese dimensie wat outentiek verwoord word.

Besonder aangrypend is die kinderblik (“Sondagskool”, 64) op die religieuse ervaring – en juis hierdeur kry die gedig ’n besondere wrang-ironiese bybetekenis. Dít wat die jong kind uit die Bybel leer, vertroos die ouer mens. “Kerkganger in Rundu” (63) se Bybel in sy hand lyk amper pienkrooi “soos die bloed van ’n geslagte lam” en die kleindorpse Koster – ’n vers wat weer Sheila Cussons oproep – kan vir ses dae lank rus. Die gebed is by Lombard ’n aanraking aan die soom van die kleed.

Die digkuns met sy spanninge en teleurstellings word ook verdig:

breek my kraal se drade
soos natgereënde wol (49)

Die pynlike spanninge rondom die afgetekende kind word in die derde afdeling beskryf met ál die onbeantwoorde vrae wat dit impliseer. Die alledaagse waarnemings en verliese word opgeteken en opgeskeur. Tog behou en stol die vers die ervaring. Herinneringe, nostalgie en musiekverwysings praat saam in hierdie aangrypende bundel waar die “ek” homself raam “tussen ander gesigte / iewers teen ’n off-white muur”.

Skadu oor ’n sonwyser is ’n delikate klein bundel; ’n optekening van ’n lewe en landskap, sober beskryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Friday, March 15, 2013

Kobus Lombard - Geknipte naelstring (2001)



Kobus Lombard. Geknipte naelstringProtea Boekehuis, 2001. ISBN 1 919825 35 5.

Resensent: Joan Hambidge

Moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Hopelik ook nie op sy bundel se titel nie, wil 'n mens byvoeg, want hierdie verskriklike titel kondig wel 'n paar mooi verse aan. Veral wanneer hierdie digter oor sy verlore jeug dig ('n aangenome kind as die verse 'waar' is) of verlies in die algemeen aanspreek, sien 'n mens dat hier 'n fyn en sensitiewe blik aanwesig is.

Soos die vers oor die dood van 'n kind:

  geen
  boom
steek 'n gat
  so grou
in die lug
  soos 'n
  sipres
   oor
   die
   oop
   graf
   van
   'n
  kind (p. 62)

Die leser bly deurentyd bewus van 'n mineurstem in hierdie bundel: 'n soekende mens wat dig oor sy familieverband, die verlange na 'n  geliefde of die metafisika. Wanneer die digter oor die skryfproses hom uitlaat, is die verse minder.

Die vers oor sy ma ("28 Oktober", p. 23) is skreiend eerlik. Die afgetekende kind se gesprek met die moeder en die "ongesegde" word hier knap verwoord. En dit is juis 'n gedig soos "Kinderdae" (p. 8) met sy trefseker woordgebruik wat die leser laat besef: dis jammer hier is so min verse. Miskien moes die digter langer gewag het sodat daar 'n lywiger bundel was? 

Dis delikate gedigte. Asof 'n mens luister na 'n kamerorkes. Belofte is hier bepaald.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Wednesday, January 30, 2013

Kobus Lombard - Vlerke vir ‘n Houteend (2010)



Kobus Lombard. Vlerke vir ‘n HouteendProtea Boekhuis, 2010. ISBN 978 1 86919 354 6.

Resensent: Joan Hambidge

In 2001 het hierdie digter gedebuteer met Geknipte naelstring en hierna het Tussen wysvinger en duim in 2005 gevolg. Die jongste bundel Vlerke vir my houteend het soos die vorige bundel eweneens by Protea Boekhuis verskyn. Die digter gebruik gestroopte, sober taal en veral die Namibiese landskap kom aan bod in hierdie digkuns. Gedigte oor die geloof is ‘n verdere tema en in die uitgewershuis se publikasieverslag word daar geskryf dat die digter in sy tweede bundel die liefde vir sy aanneemma verwoord en die moeder wat hy nooit geken het nie. Die derde bundel het hierdie leser begin lees sonder hierdie voorkennis en ek is van mening dat die leser nie nodig het om kennis te neem van hierdie outobiografiese gegewe nie.

Lombard skryf ‘n eenvoudige vers met min woorde, maar in die “eenvoud” is daar dikwels ‘n geladenheid opgesluit. Ek het die gewoonte om ‘n digbundel van agter na voor te lees en dan weer van voor na agter. Op hierdie manier kan jy dikwels die konstruksie van die bundel op sy kop draai of deur ónbedoelde motiewe of saamgroeperings breek. Die slotgedig in hierdie bundel is ‘n vers wat waarskynlik ‘n sleutel verskaf vir vele verse in die bundel. Dit heet “Ma se erflating” (78):

in jou vulpenadres
kan ek my ‘n kamer verbeel
in jou silwer poeierdosie
kan ek partikels
van jou lyf vermoed
selfs die brei in jou stem
is tegnologies bewaar

maar hoe streel ek
die swart van jou hare
agter die glans van ‘n foto (78)

En vele gedigte probeer hierdie toestand-van-die-onmoontlike besê. Die gedig bring dus ‘n soort versoening tussen die gevoel van verlies of nostalgie en die werklikheid. In die titelgedig word daar ‘n ars poëtika vir die leser gegee waar die idee van die houtkerwer se werk gelyk gestel word aan die digterlike proses (42). 

Vir my is die mooiste en aangrypendste verse in hierdie bundel gedigte wat handel oor die verhouding met die moeder, daardie primordiale verhouding wat ons almal se identiteit bepaal. In die psigoanalise word daar ook gekyk na die verhouding tussen digterlike taal en die moederbuik; ‘n mens dink hier veral aan die teorieë van Julia Kristeva. Wat dus ‘n vers oor die moeder is, kan ook gelees word as ‘n gedig oor die skryfproses en die onvermoë (waarmee vele digters worstel) om dit wat buite woorde lê, onder woorde te bring.
Daar is ‘n handvol gedigte in die bundel wat onthoubaar is, soos “Eenrigtingkaartjie” (67):

met die vertrek van my reisgenote
staan ek telkens voor die eenrigtingglas
van dié eenmanvertreksaal
geen oproep om aan boord te gaan
geen digitale flikker
oor die beplande tyd van aankoms –
die bestemming, so sê die reisbrosjure,
het strate van goud, engelekore
en ‘n stadspoort van opaal

dog vir hierdie enkelreis
bly ek tot die dood toe bang

Die moontlikhede van die skryfproses word ontgin: so byvoorbeeld in die gedig as ‘n “briefwisseling”verander die letterlike brief verander na e-pos, maar lewer ook kommentaar op die intieme aard van die skryfproses.

Vanaf die debuut tot nou, is daar groter selfvertroue by die digter opmerklik. Dit is ‘n beskeie bundel, maar in die eenvoud en suiwerheid aangrypend en belangrik.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]