Louis Esterhuizen. Opslagsomer.
Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 4138 7.
Resensent: Joan
Hambidge
In hierdie bundel skryf Louis Esterhuizen meer
toeganklike belydenisverse as in sy vorige verse wat swaargedra het aan die
kriptiek. Dit is 'n bundel wat hoofsaaklik handel oor die verbygegane
verhouding en die viering van 'n nuwe, bykans onverwagse liefde.
Dit is dus 'n bundel waarin die Janusgesig van die liefde
weergegee word: die verlies en die wins daarvan. Enersyds word die ou geliefde
se gesig gesien as 'n spieël waarin hy homself kon sien; andersyds is die nuwe
geliefde 'n totale ekstase van liggaam en gees.
Om oor die liefde te dig, en meer spesifiek die lyflike
liefde, hou altyd die gevaar van banalisering in. Dit was onder meer die
kritiek wat ingebring is teen Johann de Lange se Nagsweet. Daar is dus 'n paar verse wat vir hierdie leser as te
intiem oorgekom het. Nie intiem in die morele sin nie, maar intiem in die sin
dat dit nog te na aan die ervaring staan en nie werklik beeldend verwoord is
nie.
Hierdie leser was blosend by die te intieme
"Aardbewerkings" (p. 58) en "Feesmaal" (p. 56. Hierdie en
'n paar ander is waarskynlik net vir die geliefde se oog bedoel?
Uitstaande gedigte is:
"Berusting" (p. 13)
"Ontruiming" (p. 16)
"By die wegdraai" (p. 19)
"Party vroue is klein, 'n houthuisie"(p. 34)
"Die opmaak van 'n bed" (p. 37)
'Verlange is eintlik maar net 'n eenkantkas" (p. 40)
"Verlange is maar net 'n eenkantkas" (p. 40) is
een van die uitstaande verse in hierdie bundel.
Die bundel kan ook as 'n oorgangsbundel gesien word. Daar
is vele verse wat 'n individuasieproses aandui. Waarskynlik hierom die gelate
"Somtotaal" (p. 81). Die ouer geliefde is aantrekliker juis omdat sy
deur pynlike ervarings beweeg het.
Dit moet miskien vermeld word dat die digbundel waarskynlik
die aakligste ontwerp – gepleeg deur Annelize van Rooyen – het wat ons in jare
moes aanskou het.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]