Showing posts with label TV. Show all posts
Showing posts with label TV. Show all posts

Wednesday, January 5, 2022

Rubriek – TV | The Golden Girls | 2022

Rose, Blanche, Sophia & Dorothy

I

Met die dood van Betty White, ‘n uitstaande aktrise, besoek ek weer The Golden Girls waar die bestes op Youtube versamel word. Hierdie reeks het beslis nie dateer nie en die skerp humor laat ‘n mens steeds bulderlag (23 Fan Favorite Golden Girls Scenes (Part 1)Besoek 5 Januarie 2022).


Die voortreflike ensemble-spel tussen Dorothy, Rose, Blanche en Sophia kan nie genoegsaam besing word nie. 

 

Rita Meade het reeds in September 2014 die belangrikste literêre verwysings uitgewys (Literary Moments of "The Golden Girls"/ A Complete List. Besoek 5 Januarie 2022).

 

Een van die sterkste aweregse huldeblyke is natuurlik na Tennessee Williams (waarop Meade ook wys): 



S5E3: “The Accurate Conception”


Picture it: Blanche’s daughter plans to get artificially inseminated and Blanche is not happy about it. 


Blanche: “You are a Devereaux. A Devereaux has never had to pay for it!”

Dorothy (to the doctor): “She’s always depended on the kindness of strangers.”


Dit is natuurlik die aangepaste woorde van Blanche Dubois wanneer sy na die gestig geneem word in A streetcar named desire.



S5E15: “Triple Play” 


Picture it: Rose and Miles get home from a date.


Miles: “We saw a marvelous production of The Glass Menagerie.”

Dorothy: “Oh, that is one of my favorite plays.”

Rose: “Frankly, I was a little disappointed.”

Miles: “Really?”

Rose: “Yeah, when you told me you were taking me to a revival of Tennessee Williams, I was expecting something more along the lines of a seance.”


Williams bekend om sy beskrywing van mense wat tússen waansin en normaliteit beweeg, is tersaaklik hier. Die feit dat daar ‘n grap van sy dramas gemaak word, wys op die belangrikheid van sy werk as dramaturg. Tydens ‘n TV-vasvra-wedstryd is Williams ook aanwesig.

 

In die loodsepisode word ons immers gewaarsku dat Blanche "more Southern than Blanche Dubois” is.

 

Mae West is ook hier: “Is that a pistol in your pocket or are you just glad to see me?”


Die grap word dan verletterlik: die man haal ‘n werklike pistool uit sy broek wat arme Blanche se sang-optrede verder belaglik maak. Burt Reynolds neem Sophia uit en vra, Wie van julle is die slet? Aldrie steek hulle hande op. Hulle is immers jaloers op Sophia se date.

 

Tydens ‘n hilariese beledigingstoneel tussen Blanche en Dorothy, versoek Sophia hulle om op te hou: Stop girls, before you say something you both regret.”

 

Wanneer Dorothy en Blanche mekaar beledig, beweer Blanche dat om mense name te noem uiters kinderagtig is. In “Count Bessie” is daar ‘n hoender wat klavier speel met sy snawel.

 

Daar is net te veel goue oomblikke om op te noem. Waarskynlik een van die bestes, is die kondoom-toneel waar Blanche, Dorothy en Rose op ‘n uitstappie gaan. Alles netjies klandestien totdat die verkoopsman oor die interkom uitblaker en vra wat die kondome se prys is aan die bestuurder. Of Dorothy wat mislei word deur ‘n man wat sy dink belangstel in haar; net om te ontdek sy gaan net sy kinders oppas. Sy staan dan op en blaker oor die interkom in die restaurant sy geheim uit. Hy is impotent.

 

Drie weduwees en ‘n geskeide vrou deel ‘n huis in Miami. Die eienaar is Blanche Devereaux. Dorothy se tagtig-jarige moeder, Sophia Petrillo, trek by hulle in nadat die aftree-oord waarin sy gebly het, afgebrand het. Die reeks is opgeneem voor ‘n lewende gehoor. (Skynbaar was daar spanning tussen Dorothy en Rose, omdat sy met die gehoor geflikflooi het.) Bykans elke denkbare sosiale probleem word aangespreek: Vigs, sosiale stande, prostitusie, lesbianisme en ander kwessies word by die kombuistafel bespreek. Rose se gebrek aan insig word dikwels geïllustreer met haar verhale wat niks met die situasie te make het nie, en Sophia maak dikwels bogstories op.

 

Dit is ‘n briljante reeks gepak met intertekste en toespelings op klassieke tekste.



II

Beatrice Arthur vertolk die rol van Dorothy Zbornak (née Petrillo), ‘n onderwyseres uit Brooklyn. Haar ouers is Sisiliaanse immigrante, Sophia and Salvadore (Sal) Petrillo. Sy raak op skool swanger en trou met Stanley Zbornak (Herb Edelman) wat dikwels kamee-vertonings maak. Stan los haar vir ‘n lugwaardin na 38 jaar se getroude lewe en in ‘n wonderlike episode ontmoet sy die nuwe vrou by die troue, wat nie besef dat Dorothy getroud was met Stan nie. Haar sarkasme, humeurigheid en “one liners” is besonders.


Betty White vertolk die rol van Rose Nylund (née Lindström), ‘n Noorweegse Amerikaner. Sy is uiters naïef en teenoor die bruuske, onaantreklike Dorothy, ‘n antagonis. Sy is van St. Olaf, Minnesota en getroud met Charlies. Sy het vyf kinders: Kirsten, Bridget, Gunilla, Adam and Charlie, Jr. Sy werk onder andere as ‘n trauma-begeleier. Later is sy ‘n assistente vir ‘n bestuurder in “consumer”-kwessies. 


Rue McClanahan as Blance Devereux (née Hollingsworth) werk in ‘n kunsmuseum. Sy is die ryk een in hierdie vriendskap. Sy het groot geword op ‘n landgoed in Atlanta, Geordia. Haar man was George, sy het ses kinders en is ‘n opperse mannejagter.


Estelle Getty vertolk die rol van Sophia Petrillo. Gebore in Sisilië, maar “vlug” na die VSA, omdat sy nie met Guido Spirelli wou trou nie. Sy trou met Sal en haar drie kinders is Dorothy, Gloria en Phil, ‘n “cross-dresser”. Haar humor is vinnig en op die punt af en sy blyk ‘n uitstekende kok te wees.



III

So agter al die grappies en opstuur, kom daar ernstige kwessies aan bod soos immigrant-wees teenoor burgerskap, ongehude moederskap, gereëlde huwelike, egskeidings, vrye seks, familie-spanninge, jaloesie, verraad, depressie, trauma.


Dorothy se broer as “cross-dresser” bring eweneens ‘n ander gender-kwessie na vore, ofskoon sy moeder dit kan hanteer.


Wat hierdie reeks voortreflik illustreer, is hoe wrééd humor kan wees. 


Ons lag is, soos Freud reeds uitgewys het, om ons opponente te kan beheer. Deur hulle te verklein(eer) of verminder. Dis die Freudian-punchline soos Jerry Aline Flieger immers argumenteer.


Die vraag natuurlik is: as hierdie reeks nou vir die eerste keer die lig moes sien, sou die politiek-korrektes en die woke-generasie dit kon duld? Dit het begin in 1985 en in 1992 klaar gemaak.


Maar humor is immers die lag met die traan, aldus wyle Fransie Malherbe.


Wys my waarvoor jy lag en ek sal presies weet wie jy is.

 

Bron:

Freud, Sigmund. 1916/ 1976. Jokes and their relation to the unconscious. The Pelican Freud Library volume 6. (Londen: Penguin). (vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).


© Joan Hambidge

Monday, May 2, 2016

Reekse: Fargo, Bedrag, The night manager






Wie sou ooit kon dink dat die kultusfilm Fargo in só ‘n inspirerende reeks met tien episodes omskep kon word? Nou lê die tweede reeks van 10 episodes op my en wag.

Soos die tas met geld uit te grawe word en weer begrawe word in die sneeu, het die serieskrywer verder beweeg met die plot.

Vir ‘n opsomming van die rolprent plot sien: Fargo (film) - Wikipedia, the free encyclopedia.

Hier volg my opsomming van die Wikipedia en soos ek die film onthou:

Die verhaal speel af in 1987, in Minneapolis, waar Jerry Lundegaard (Macy) bedrog pleeg met GMAC-lening waar hy fantoom-karre verkoop. 'n Werktuigkundige en oud-tronkvoël verwys hy hom na twee skobbejakke om hom uit die verkorsing te help. Hy reis na Fargo en huur twee booswigte om sy vrou te ontvoer. Sy skoonpa (en baas) moet die geldelike gelag betaal vir die ontvoering van sy dogter.

Lundegaard gee vir die twee boewe 'n nuwe motor en boonop beloof hy om die geld met hulle te deel ($80,000). Jean (die vrou) word ontvoer, hoewel sy haar teësit in tipiese Coen-humor. Sy word ontvoer na 'n wegsteekplek, buite Minneapolis, en hier loop sake lelik skeef wanneer 'n polisieman sien die skurke ry met 'n motor sonder nommerplate. Die polisieman word deur Grimsrud doodgeskiet en twee onskuldige ooggetuies word eweneens vermoor.

Marge Gunderson, die swanger polisievrou, kry snuf in die neus en klein bewysstukke van die vermoorde persoon neem haar terug na Lundegaard. Terwyl sy hier in Minneapolis is, sien sy Mike Yanagita, 'n skoolvriend, wat haar vertel sy vrou is oorlede. (Dit blyk later hy was nie met haar getroud nie en die vrou leef nog.)

Inmiddels is Lundegaard in 'n dieper gemors. As hy NIE die motors se volledige besonderhede verskaf aan die maatskappy nie, verloor hy alles. Verder belieg hy sy skoonpa en die boekhouer dat die boewe nou een miljoen eis. Ook die boef Showalter, bewus dat alles nou hande uitgeruk het, eis die volledige bedrag van $80,000  ...

Die koppige skoonpa besluit self om met die boewe te onderhandel. In die parkeerterrein weier hy om die geld te gee todat hy sy dogter teruggekry het; hy word egter doodgeskiet. Maar die ou skoonpa skiet die boef in sy kaak. Dié ontdek meer as die hoveelheid geld waarvoor hy gevra het. Hy verwyder $80,000 vir sy mede-ontvoerder, Grimsrud. Lundegaard daag te helaas te laat op.

By die koue hut in die berge ontdek hy dat Grimsrud ondertussen vir Jean, Lundegaard se vrou, vermoor het. Na 'n argument word Showalter ook vermoor.

Marge praat met 'n vriendin oor die foon en sy vind dat Yanagita haar belieg het. Trouens, hy is nie wie hy voorgee om te wees nie.

Sy keer terug na die motorhandelaar om hom verder uit te vra. Lundegaard slaan op vlug. Sy kry 'n wenk en ry na Moose Lake, herken die gesteelde kar en sien hoe Grimsrud sy mede-boef, Showalter se liggaam opkerf in 'n houtsnippermasjien ...

Marge skiet Gunderson in die been en arresteer hom. In Noord-Dakota vind hulle Lundegaard in 'n motel buite Bismarck. Hy probeer vlug deur die badkamervenster te spring ...

Die verhaal eindig met Marge en Norm wat kyk na 'n skildery wat gekies is vir 'n US-seël. Teen die geweld is hier huislike vrede en afwagting vir die baba wat oor twee maande gebore sal word.

*

Die Coen-broers se swart komedie word verder gevoer met Noah Hawley as die skrywer. Die eerste seisoen het Billy Bob Thornton, Allison Tolman, Colin Hanks en Martin Freeman in die rolverdeling. Dit speel af in 2006.

Die tweede seisoen word in 1979 gesitueer met Kirsten Dunst, Patrick Wilson, Jesse Plemons, Jean Smart en Ted Danson as die hoofakteurs.

Elke episode begin met die volgende teks:

This is a true story. The events depicted took place in Minnesota in [year]. At the request of the survivors, the names have been changed. Out of respect for the dead, the rest has been told exactly as it occurred.

Hiermee wil die vraisemblance of werklikheidsdimensie van die gegewe beklemtoon word.

Die reeks is goed, maar kom nooit werklik uit by die oorspronklike film se trefkrag nie. Die swanger Marge Gunderson (Francis McDormand) se vertolking kan nooit geëwenaar word nie. Ook Macy as die motorhandelaar, Jerry Lundegaard is enig in sy soort. Die Coen-broers se unieke hantering van swart humor, onverwagse skakels - soos die leuenagtige Yanagita wat meer te make het sake as wat ons dink – is 'n besondere vonds. En die opsny van liggame in 'n houtsnippermasjien sal hierdie kyker nooit vergeet nie.

Die aweregse humor van die Coen-broers word dus in die reeks gebruik. Die spottery met simboliek (veral uit die Ou-Testament) word in die eerste reeks met vrug gebruik. En die kyker kan vandag 'n reeks in een sitting kyk op 'n DVD-speler. Die reeks verander dan in 'n film met vele kinkels in die kabel.

Oop eindes is daar sodat die reeks nog 'n seisoen kan beleef.


Die uitstekende Deense reeks Bedrag (Follow the money) rondom wind-energie en bedrog, kom egter tot sluiting wanneer die booswig die maatskappy-hoof doodskiet. Onverwags. Vir nou is die reeks afgehandel.

En die einde striem.


In The night manager - gebaseer op John le Carré se uitstekende roman, is daar ook sluiting, oftewel closure.

Beide hierdie reeks, so weet die kyker, sny ook die werklikheid raak met maatskappy-bedrog en spioenasie-kwessies.

*

Wat gebeur met die reekskyker? Omdat die reeks afgelaai kan word, kyk jy nie net nommer 1 en wag tot 'n volgende uitsaaidatum nie. Jy kyk die hele reeks in een sitting; dikwels regdeur die nag, om dan met teleurstelling die einde te ervaar.

Wat is die ergste slot? Die gordyn wat sak oor die reeks (die dood van die booswig wat die hele drama laat voortstu) of die "oop einde" wat beteken nog 'n reeks sal aangebied word. Soos met Fargo se reeks II wat net te postmodernisties is en min om die lyf het. Ons kan nie bloed uit die klipreeks tap nie.

Die beste reeks eindig op die regte oomblik. Soos 'n partytjieganger wat die party verlaat net voordat alles uitrafel en slordig raak.

Die Coen-broers moes die tweede reeks gestop het.

"Same bag of tricks".

Umberto Eco se beroemde stelling in The role of the reader (1979) oor die "inferential walks" wat die leser (hier kyker) maak, bly 'n nuttige aanwysing. Ons kan soveel as 'n kyker uit die werklikheid trek, soveel plot-aberrasies hanteer wat inspeel op die oorspronklike film, dan is dit verby.

Moord. Speurder (Vrou, swanger). Tronkvoëls. Wedersydse verraad. Geld. Vlug. Polisie. Doodskote op teenspelers. Grimmige ontslae raak van ontvoerde vrou. Sub-plot: mal man wat deel is van die storie. Beskuldigde wat alles begin het, word gevang. Speurder en man wag op geboorte van kind ...

Ons moes nie wag op die geboorte van nuwe reekse nie!

Frank Kermode se "a sense of closure" dus in The sense of an ending (1967).


© Joan Hambidge