Showing posts with label 2010. Show all posts
Showing posts with label 2010. Show all posts

Wednesday, June 26, 2013

Orhan Pamuk - The museum of innocence (2010)



Orhan Pamuk. The museum of innocence. Faber & Faber, 2010. ISBN 9780571237029

Resensent: Joan Hambidge


Jy is die antropoloog van jou eie ervarings. Orhan Pamuk.

‘n Roman speel in op films, ‘n museum, die geskiedenis en lewer kommentaar op al die verskillende vlakke van die werklikheid. Boonop vertel die werklike skrywer vir ons in ‘n regte museum hoe alles inmekaar pas.

Dit gebeur in The museum of innocence van Orhan Pamuk, die Turkse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 2006. Die roman van 734 bladsye bevat ‘n naamsregister. Die leser kan dus elke karakter opsoek asof jy ‘n historiese dokument lees en boonop is daar ‘n werklike museum in Istanbul wat die komplekse verhouding tussen fiksie en werklikheid vérder uitbou. Die museum is in April 2012 geopen in die historiese Çukurcuma area.

Die roman handel op die eerste vlak oor onbeantwoorde liefde. Kemal (‘n ryk besigheidsman) se liefde of eerder dalk, obsessie met Füsun (uit ‘n meer beskeie familie) word in besonderheid vertel. Objekte (soos koeldrankbottels en sigaretstompies) word vinjette vir die ervaring van die geobsedeerde verteller wat vir ons meedeel presies hoeveel keer hy haar ouers se huis besoek het net sodat hy naby aan haar kan wees. Daar was 1,593 besoeke aan die Keskin-huishouding waar hy omstreeks seweuur opgedaag het en televisie met die gesin gekyk het. 4, 213 sigaretstompies van sy geliefde het hy bewaar.



En objekte word gegaps sodat hy iets van haar kon behou. Soos hondjies bo-op die televisie of ‘n botteltjie parfuum. Hiervoor vergoed hy later deur geld agter te laat.

Op ‘n dieper vlak word dit ‘n analise van die geskiedenis van Istanbul en soos die verteller ons dan inlig, beleef ons Istanbul as “mental map”. Geboue, bakens, restaurante, die Bosphorus, moskees is alles daar. Besoekers aan die stad herken die roetes wat gevolg word. Die geskiedenis van Turkye en die invloed van Atatürk word ontleed. Ons beleef die stormagtige noodtoestand van die sewentigerjare.

Die roman is eweneens ‘n analise van die liefde en hoé seksualiteit in hierdie tyd ervaar is. Die jong vrou wat voorhuwelikse seks toestaan, “verloor” iets. Hierom moet die man met haar trou of sy word as ‘n Westerse vrou gesien. Daar word kommentaar gelewer op skoonheidskompetisies waaraan jong Turkse meisies deelneem. ‘n Mens sou die hele roman ook kon lees as ‘n analise van die verskille tussen Westerse en Turkse siening van skoonheid. Hoe mense lyk, word in besonderheid beskryf.

Die verteller is aanvanklik verloof – Sibel verlaat hom en gaan studeer in Parys, omdat sy bewus is van sy verskeurdheid. Tant Nesibe, die liefdesobsessie, Füsun se moeder, vertel hoe haar dogter moes trou om van die klad (“stain”) van die verhouding met Kelam weg te kom (385).

Sy trou dan met Feridun ‘n jong man, onbewus van Kemal se liefdesobsessie, wat graag ‘n kunsfilm wil maak. Hy hoop dat ons ryk verteller hom sal borg. Daar word ook kommentaar gelewer op Turkse films en die impak daarvan op ‘n gemeenskap. Turkse films wat dikwels melodramaties is, word geanaliseer. Hoofstuk 59 wys weer op die sterk sensuurstelsel in hierdie gemeenskap waar die filmmaker se vryheid van spraak aan bande gelê was. Fotoboekies was eweneens in die sewentigerjare ‘n ruimte waar vroue buite die patriargale orde kon beweeg. 

Grace Kelly is ‘n ikoon in hierdie roman. Hulle kyk na haar films op TV na haar dood en Kemal analiseer hoe sy geliefde reageer op hierdie skoonheid. Hierdie kragtige toneel verduidelik die verskille tussen die Westerse en Turkse vrou. 

Die objek-van-begeerte – soos in Lolita van Nabokov – se lot word in jukstaposisie geplaas met ‘n voëltjie in ‘n kou in haar ouerhuis. 

Die filmverwysings word ‘n “counter-plot” wat die komplekse spanning tussen fiksie/werklikheid (die museum)/films vérder bevestig. Op die koop toe is daar werklike verwysings na ‘n Pamuk-familie by ‘n troue en ene Pamuk blyk uiteindelik die ouktoriële outeur te wees van hierdie verhaal. 


Orhan Pamuk buitekant sy museum (© Sedat Mehder / The Innocence of Objects deur Orhan Pamuk-Abrams)

Vir iemand wat al verskeie kere in Istanbul was, word die roman nog komplekser. Jy herken bakens en gewoontes. Die leser word getransporteer deur die komplekse lae van hierdie samelewing: Bizantium, Konstantinopel tot moderne Istanbul.

Diegene met ‘n eksemplaar van die boek, mag die museum gratis besoek. In ‘n stad wat al in 657 VC gestig is. Die komplekse geskiedenis van Istanbul word in The museum of innocence geberg.

En die leser word ook kyker wanneer jy na die BBC-program kyk oor die museum met Pamuk as begeleier.

Die roman dwing ons na verdere werklikhede.

In Istanbul is daar ook fronse dat hy tekste oorneem uit ander tekste – kennelik onkunde oor die postmodernistiese speletjies wat hy met die ingeligte leser speel waarvan die wérklike museum ‘n markante voorbeeld is.

As Skrywer is hy in 2005 krimineel aangekla oor sy siening van die vervolging van Armeniërs deur die Turke. Die klag is ‘n jaar later laat vaar, ofskoon hy steeds aangekla word van die feit dat hy “Turksheid” beledig het.

Dog ‘n skrywer wat soveel briljante boeke geskryf het om Turkye oop te maak op vele vlakke, kan nie van soiets beskuldig word nie. 

Boonop maak hy van die verhouding tussen fiksie en werklikheid iets nuuts: die roman is meer werklik as die gekonstrueerde museum. 

In 2012 vind ons ‘n boek oor die museum: The innocence of objects.





Neem 'n toer deur die museum:

The Museum of Innocence

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, BY geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Hennie Aucamp - Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2010)



Hennie Aucamp. Die huis van die digter en ander liefdesverhaleProtea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 339 3.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs verskyn daar ‘n gedig van Hennie Aucamp op Litnet wat “Metamorfoses” heet. Dit kritiseer die postmodernis as ‘n figuur wat ander se oeuvres plunder en die gedig eindig met ‘n guitige, stuitige, bitsige profetiese boodskap. Nou lê Aucamp se jongste verhalebundel voor my: Die huis van die digter en ander liefdesverhale en skielik besef ‘n mens hoe ‘n gedig, waarskynlik bedoel om ‘n mode of denkwyse aan die kaak te stel, op die skrywer sélf van toepassing gemaak kan word.

Aucamp het al belangrike werk gelewer. Sy beste verhale het hy reeds geskryf. Hulle staan in ‘n Bruidsbed vir Tant Nonnie (1970), in Dooierus (1976), in Enkelvlug (1978) en veral in Volmink (1981).

Wanneer ‘n mens hierdie jongste, nogal dunnerige Protea-boekie benader waarin die parapsigologie via Edgar Allan Poe en Eugène Marais sy beslag kry en die liefdesverhaal bekyk word, besef ‘n mens die verhale klink na self-parodieë. Trouens, op ‘n plek verwys ‘n karakter selfs na ‘n lewenswysheid van Aucamp se siening van die geëmanispieerde vrygesel (84).

Maar vir hierdie aarts-postmodernis is dit geen probleem dat ‘n skrywer so gaan kuier in sy eie lêplekke of as selfkoesterend mag oorkom nie. Dit moet net goed gedoen wees.
En dis hier selde die geval. Die boerewysheid, verhaal, die bo-natuurlike, die liefde (en dood) is al meer bedrewe deur Aucamp beskryf.

Hy word dus daardie rara avis wat teer op sy eie tekste. Tekste buig in op ouer verhale. In Waar die wolke middag maak”, verklap Aucamp iets van sy werkswyse en hoe hy telkens terugkeer na die plek van sy jeug. Con Viljee, daardie oorskatte boerefilosoof, pronk hier met die volgende: “'n Mens besit net wat jy vir altyd verloor het” (93).  En daar is ‘n dwarsklap na ‘n Broederbonder wat hom gedreig het, omdat hy geweier het om vir ‘n “wankelkandidaat” ‘n positiewe verslag te skryf. En daarna was daar klippe in die pad. Is dit nodig vir die vertelling, hierdie stukkie wraak?

Aucamp het bykans elke prosa-prys in Afrikaans ingeoes en deesdae skryf hy ook gedigte, behendig maar nie groot nie.

Hierdie jongste bundel het ek deurgelees en bly vra: where is the bloody horse?

Hoeveel van hierdie verhale sal werklik – binne die grootse In een kraal-versameling – die paal gehaal het?

Hoeveel van hierdie verhale sou in Die blote storie die kritiese oog van Aucamp deurstaan het?

Van die verhale vang ‘n ou-wêreld, selfs rassitiese bestaan op: daar is ‘n kleinooi (9),  kwêdien (28) – maar hiermee gee die vertelling die korrekte weergawe van presies hoe mense gedink het en sou ‘n vervalsing van die werklikheid wees om daardie “vraisemblance” (Barthes) nou aan te pas. “In rooi grond, tussen kanniedood en vuurklip” is ‘n antropologiese verslag wat iets vir ons van ‘n vergange wêreld weergee. “Die stolp” loop weer uit op ‘n voorspelbare slot – ‘n beswaar wat in die verlede nooit teen Aucamp ingebring kon word nie.

En die voorbladfoto is werklik nie goed nie.

Die goeie taalvermoë is steeds daar en verhale het oomblikke. Maar dan dink jy: dit is nie vintage-Aucamp nie. Oor die oujongnooi of lelike vrou (“Die stolp”) het Aucamp al beter geskryf (“Die hartseerwals” en “Vir vier stemme”); oor bittersoetliefdesonthou (“Kouekoors”) ad infinitum-keer beter en pakkender geskryf.

Van die ongesêde wat ‘n mens agter die oppervlak-vertelling moet dekodeer (á la Mark Shorer) is hier nie van veel sprake nie.

Behalwe miskien vir “Al kwyn die sonlig teen die hange”.

Daar is te veel water by die whisky.

Net die tyd sal oordeel hoeveel van hierdie vertellinge in hierdie bundel sal bly duur. Ek het weer na Elize Botha se versameling van Aucamp se werk, In een kraal (Tafelberg Uitgewers, 1979) gaan kyk my om self tot verantwoording te roep. Wat het geword van die “nugter argwaan”, soos Botha dit noem, wat Aucamp se sterkste verhale nog altyd begelei het?

En vir ‘n skrywer wat soveel keer bekroon is, kan hierdie bundel allermins goed gepraat word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Salman Rushdie - Luka and the fire of life (2010)



Salman Rushdie. Luka and the fire of lifeJonathan Cape, 2010. ISBN 978 0 224 09021 6.

Resensent: Joan Hambidge

Salman Rushdie sal waarskynlik altyd onthou word om die fatwa wat sy lewe in ‘n hel verander het en vir sy oneindige ego. By ‘n Booker-prys-toekenningsaand jare gelede was hy op die kortlys. Toe hy nie die prys wen nie, het hy sy stoel agteruit geskop en die saal brommend verlaat.

Maar daar is ‘n verdere komplikasie: ‘n skrywer van sy statuur, wat enorm belangrike werke gelewer het soos Midnight’s children, die omstrede The Satanic verses, en natuurlik The ground beneath her feet, sal altyd gemeet word aan sy beste. Immers het Midnight’s children die Booker of Booker’s verower: die beste roman vir die eerste vyfentwintig jaar. Sy jongste teks Luka and the fire of life word opgehemel deur resensente en die Guardian noem hom sommer “ons” allerbeste romanskrywer. Nie dat hy in Brittanje werklik meeding teen die grotes nie – die groot romanskrywers vertoef in die VSA: Roth, De Lillo, McCormac, Auster, en verder terug, Bellow…

Maar dit ‘n tersyde. Skrywers soos Rushdie bly goed selfs met kleiner tekste soos Luka and the fire of life. Dit is die verhaal van Luka, ‘n linkshandige kind, wat agtien jaar na sy ouer broer, gebore word. Sy vader is ‘n storieverteller en die jonge Luka het ‘n ryke verbeelding waarin hy telkens ander wêrelde voorstel en beleef. Hy het twee diere, ‘n beer wat Dog heet en ‘n hond, ‘n Labrador, met die naam Bear. Die Beer is ‘n wonderlike danser wat kan polka en wals en rhumba en so voort. Op ‘n dag besoek ‘n sirkus die dorp. Hierdie sirkus bekend vir hulle “Famous Incredible Fire Illusion” verniel hulle diere en hiervan hou Luka net mooi niks nie. Hy vervloek die sirkusbaas met die woorde dat hy hoop die diere sal nie langer na hom luister nie en dat die tent sal afbrand. Dit gebeur dan presies net so en die dorpinwoners dink dan dat Luka oor magiese kragte beskik.

Die sirkusbaas neem egter wraak op Luka se vader wat in ‘n diepe slaap verval en dan moet Luka deur middel van ‘n avontuur sy vader red. Op hierdie reis ontdek hy karakters uit sy vader se verhale

Luka se verbeelde bestaan aktiveer op verskillende vlakke die mag van stories en hoe ons deur middel van verhale ontkom van die ellendes van ‘n alledaagse en bedreigende bestaan.
Rushdie kan skryf. Hy is ‘n imposante meester van die vertelling wat in die werklikheid begin en dan in die fantasmagoriese dimensie letterlik begin dans. Sy taalgebruik is soepel en helder.

Die roman is geskryf vir sy tweede seun se twaalfde verjaarsdag, terwyl die voorganger Haroun and the sea of stories ‘n geskenk was vir sy oudste seun. Die roman speel kennelik in op jong kinders se liefdes vir playstation en die skep van verskillende identiteite.
Miskien het Salman Rushdie met hierdie verhaal, op ‘n tweede vlak, finaal ‘n antwoord gegee op die persoonlike ellende wat hy moes deurmaak: deur verhale, soos in die Duisend-en-een-Nagte, kan jy die dood afweer en terselfdertyd die vuur van die lewe beheer. Die roman vra eweneens vir ‘n saamlees met Alice in Wonderland.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Kahlil Gibran - Die profeet (2010)



Kahlil Gibran. Die profeet(Vertaal deur Louis Fourie). Adamastor, 2010. ISBN 978 7957 0317 1.

Resensent: Joan Hambidge

Die profeet van Kahlil Gibran (1883 – 1931) word beskou as een van die mees gelese boeke naas die werke van Shakespeare en Laotse. Gebore naby die berg Libanon het hy as jong kind na die VSA verhuis en in die kunste gestudeer. Hy is in New York oorlede, maar in sy vaderland begrawe.

Hierdie spanning tussen die land van herkoms en die nuwe wêreld, gee dan aanleiding tot ‘n nostalgiese dimensie in die digter. Die digkuns bevat vele voorbeelde van digters wat hierdie spanning in hul gemoed projekteer op hul verse en in Afrikaans is die latere werk van N.P. van Wyk Louw tekenend hiervan.

Louis Fourie se vertaling lees vlot en poëties. In ‘n ónoortuigende vertaling bly die leser dikwels bewus van sinne wat nie vloei nie, lomp grammatikale seggings, steurende ritme en ‘n teks wat nie werklik van een taal na ander getransponeer is nie.

Dit is nie die geval met hierdie teks nie. Die leser word ingetrek in die vloeiende gegewe. Die teks is ‘n meditasie oor die lewe en dood, die liefde in veral ‘n geestelike dimensie.
“Almustafa, die uitverkorene en die geliefde, wat soos ‘n daeraad vir sy dag was, het twaalf jaar lank in die stad van Orphalese op die skip gewag wat sou terugkeer om hom na die eiland van sy geboorte terug te voer.” So begin hierdie beroemde teks.

In hierdie teks word daar vrae gevra oor kwessies soos die liefde, oor kinders, oor gee, oor eet en drink, ensomeer.

En Primi Piatti, die restaurant, het die motto werk is liefde sigbaar gemaak, hier gekry!
Daar is onthoubare reëls soos: Mense van Orphalese, julle kan die tamboer omfloers en die snare van die lier laat skiet, maar wie van julle kan die lewerkie beveel om nie te sing nie?” (52).

En dan: En wat is die son vir hulle behalwe die bron van skaduwees?” (52).

‘n Ander een: Net soos die pit van die vrug moet breek sodat sy hart in die son kan staan, so moet julle pyn ken”(60).

Die lewe word as ‘n reis voorgestel, ‘n gegewe wat ons terugvind in vele tekste soos die tarot waaroor vele kenners al uitgebreid geskryf het. Hierdie lieflike boek het ek gelees saam met The soul of Rumi, vertaal deur Coleman Barks (HarperSanFrancico, 2002) en Olyfwoestyn (saamgestel en vertaal deur I.A. Ben Yosef en die digter, J. Steyn, Perskor 1997).

“One-handed basket weaving” oor die derwiesj wat wag op die peerboom wat sy pere moet afgooi en nie kan wag nie. En dan die lewenswysheid van Moehammed dat die mens soos ‘n veer is wat in woestynwind gewaai word…

Die profeet is ‘n boek vir lees en herlees. Boonop bevestig dit dat daar in die huis van die digkuns vele kamers is en hoe hierdie teks afwyk van ons tradisie is fassinerend.

“Want wanneer my vlerke voor die son uitgesprei het, was hulle skaduwee op die aarde ‘n seeskilpad” (104).

Adamastor het die boek besonder mooi uitgegee met ‘n los flap om die teks en die oorspronklike vertaling het reeds in 1955 verskyn. Hopelik sal Adamastor ook kans sien om M.M. Walters se reeks Poësie uit die verre lande (met o.a. Spaanse vertalings van Uys Krige) weer vir ons uit te gee?  


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Arja Salafranca - The thin line (2010)



Arja Salafranca. The thin lineModjadji Books, 2010. ISBN 9781920397081.

Resensent: Joan Hambidge

Arja Salafranca het reeds gedigte gepubliseer (A life stripped of Illusions en The fire in which we burn). Saam met Alan Finlay het sy ‘n bloemlesing saamgestel, glass jars among trees. Sy het al tweekeer die Sanlam-toekenning verwerf en is tans verbonde aan The Sunday Independent.

The thin line is ‘n versameling kortverhale wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie.
Die subtiele verbintenisse tussen mense word ondersoek soos vrouens wat saam koffiedrink, maar mekaar sonder woorde kritiseer, of, met giftige uitinge aanval; eks-geliefdes wat saamreis en in ‘n vreemde landskap ontdek die verhouding werk nie meer nie, en sal nooit weer werk nie; ‘n “verhouding” tussen twee mense wat liefdeloos is en tog uitloop op ‘n desperate seksuele verkenning; ‘n vrou wat haar manlike geliefde se eks-meisie seksueel begeer, najaag en ‘n slot wat uitloop op ellende; ‘n ondersoek na vetsug met ‘n jong meisie wat haarself letterlik doodeet as die sub-teks…

Daar is verhale oor die spanning tussen kulture: Joods versus Goyim en ‘n verhouding wat rondom hierdie verskille uitgespeel word. Daar is vrese oor moord en doodslag en die wete dat geweld alles tussen mense bepaal.

Dit is dan een van daardie boeke wat jy optel en letterlik nie kan neersit nie.

Die skrywer vertel jou geweldig baie van die menslike kondisie, van eensaamheid én die desperate soeke na vervulling in verhoudings, oor “body loneliness”, oor hoe die gemeenskap dikteer hoe ons moet liefhê en lyk.

Verskille tussen genders word ook sterk uitgebou. “At the table of the short story” lewer diepgaande verslag van hoe vroue verskil van mans met betrekking tot eet en liggaamlikheid. Dit is die soort verhaal wat Julia Kristeva se belangrikste teorieë oor die verhouding tussen die moeder en kind uitwys. In ‘n eweneens knap verhaal, “Ten minutes to hate”, word die impak van geweld op private verhoudings beskryf. En die sterk slot bewys dat Salafranca weet dat ‘n goeie kortverhaal op ‘n knalslot uitloop.

Daar is lewenwyshede, van mense wat ontmoet na jare en die verteller besef dat die vriendskapsontmoeting na jare in wese ‘n bestekopname is en dat bande nooit weer opgetel kan word nie (“Friends”); dit word eerder ‘n soektog na iets onbepaalds…

In “Ten minutes to hate” word ‘n verhouding onder spanning geplaas met ‘n aanval in ‘n teater. Dit word ‘n wrang kommentaar op hoe die politieke dimensie die private beïnvloed en karteer.

Indien iemand eendag hierdie teks sou optel, sou al die sosiale kodes, privaat én sosiaal, in hierdie aangrypende en goed geskrewe verhale afgelees kan word.

Die ideale leser is waarskynlik vrouelesers wat vasgevang is in die subtiele voorskrifte van vrouetydskrifte, maar tog krities daarop reageer.

Vir my was die groot bonus dat daar ‘n sterk bewussyn is van die struktuur van die kortverhaal en ‘n implisiete reaksie op die tradisie van die kortverhaal.

In “Solly Bernstein’s story” ondersoek sy ‘n verhouding wat teen die aard van ‘n karakter ingaan en hom broos en weerloos laat. ‘n Klein kragtoer. “Desire without borders”, ‘n selfrefleksiewe verhaal, getuig van soveel intelligensie oor die skryfproses wat ons sopas in die bundel meegemaak het.

The thin line aktiveer die broosheid van verbintenisse en hoe alles binne ‘n oogwenk kan verander. Dit verwys dan ook na liminaliteite, na grense.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Lina Spies - Tydelose gety (2010)



Lina Spies. Tydelose getyProtea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 383 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die jongste bundel van Lina Spies heet Tydelose gety: die tydeloos aktiveer tydelik én tydloos, die hier én die ewige. Hierdie spanning vind ons regdeur die digter se oeuvre en veral in die bundel Hiermaals word die gesprek tussen die lewe op aarde en die Ewige bestaan ‘n digterlike onderwerp.

Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog.

By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing.

‘n Vers soos “Vraag” (28) spreek Eybers se “Taalles” aan, terwyl die belewenis van die liggaam gelees kan word as ‘n implisiete antwoord op Krog se verse waar kragwoorde gedy. In “Leeftyd” (12) kom sy in opstand teen die siening dat liefdesverse nie behoort tot haar tyd nie. Sy verset haar teen die klaagliedere wat hierdie tydvak kenmerk.

Die digter kies dan beelde waarin sy haar lewensvreugde weergee, en hierom haar oorgee aan die “eb en vloed” wat in elke gety stu.

By Lina Spies is daar van meet af aan ‘n sivolle gesprek met ander digters. ‘n Mens dink aan haar Emily Dickinson herdigtings (Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson (1995) en in hierdie bundel vind ons eweneens vertalings, herdigtings en indigtings van bekende gedigte: Paul Celan se “Todesfuge” (“Fuga van die dood”), Pavel Friedmann se “Die skoenlapper” waarin Spies haar liriese kwaliteite ten toon stel.

Daar is beelddigte oor Nelson Mandela en Anne Frank.

Hierdie bundel wil sig teen die steoretipiese en die geykte van die lewe stel soos die digter dan ook skryf in die programgedig “Lectori Salutem” (11). Die liefdesverse is onthoubaar soos die gesprekke met twee groot digters, Elisabeth Eybers en Vasalis in die aangrypende vers “By wyse van vergelyking” wat inspeel op die voorblad van die bundel(23):

Vasalis het haar geliefde
met ‘n landskap vergelyk
waarin sy haar neer kon lê
en uit kon strek
maar toe besluit hy lyk
nog meer na die lug daarbo
waar ruimte is vir wolke.

Ek sou jou kon benoem
met dieselfde metafore
maar ek het jou lief
met my eie hart
en ek sien jou met my eie oë
en vir my lyk jy
die meeste op ‘n kroonden
met sy hoë stam
en sondeurstraalde kruin:
‘n boom waarna mens op moet kyk
en waarteen jy aan kan leun –
sonder vrae, sonder beloeftes, sonder vrees.

Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ‘n Vers soos “Gewoon” (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op.
Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ‘n herdigting Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers. In ‘n gedig word die band met Afrikaans besing (“Moedertaal”, 54) en verse vir Degenaar en Elisabeth Eybers, twee duidelike mentors vir Lina Spies. Ook Audrey Blignault word vereer.

Tipies Spies is daar verse met ‘n religieuse strekking (soos “Kategismus”, 67) en natuurlik: Anne Frank. 

Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel wat deur Protea Boekehuis uitgegee is.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]